Quantcast
Channel: Skrywersonderhoude - LitNet
Viewing all 800 articles
Browse latest View live

Nuwe stemme 6 – 6 vrae vir Elna van Niekerk

$
0
0

Nuwe stemme 6 het pas by Tafelberg verskyn. Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé is die samestellers van dié bundel, ’n versameling van die beste verse van Afrikaans se opkomende digters.

Liné Enslin gesels met die gepubliseerde digters. Lees hier die ander onderhoude.


 

Elna van Niekerk

 

1. Beskryf jouself in ses woorde.

Sjoe, dis moeilik – ’n sin met ses woorde of ses karaktertrekke?

Regverdig, besluiteloos, introvert, geduldig, nuuskierig, eiewys (my man het die laaste een aangebied).

2. Noem ses dinge waarsonder jy nie kan leef nie.

  1. Tyd in die veld (verkieslik alleen).
  2. My man en kinders.
  3. My vriendinne en my suster – het ’n paar vriendinne wat van meer as vier dekades kom.
  4. Die internet en selfoon – toegang tot inligting, kommunikasie en dis sommer ook ’n notaboek.
  5. Boeke in ’n stapeltjie langs my bed.
  6. Musiek.

(Daar is nog baie dinge.)

3. Wat is die vreemdste plek of medium waarop of waarmee jy al ooit ’n gedig geskryf het?

Ek het al ’n konsep met lipstiffie geskryf agter op ’n stukkie rommelpapier. Ook al in die grond geskryf en dan met die selfoon afgeneem.

4. Hoe lyk jou werkruimte?

Ek sal liewer nie ’n foto stuur nie, want my werkruimte is (op die oog af) chaoties. My laptop is eintlik my kantoor. Ek kan enige plek sit en werk.

5. Wie is jou gunstelingskrywer of -digter?

Dit verander van tyd tot tyd. Ek lees baie digbundels en merk die gedigte waarvan ek hou, onderstreep die frases in die gedig wat my tref, kom dan daarna terug om weer te lees.

Ek kom gereeld terug na Wilna Stockenström en Antjie Krog. Ek lees graag Pablo Neruda hardop wanneer ek alleen is.

6. Vertel asseblief bietjie meer omtrent een van jou gedigte wat in Nuwe stemme 6 opgeneem is.

Soms loop ek lank met ’n idee rond en skryf baie bladsye voordat iets uiteindelik in ’n gedig vorm aanneem. Ander gedigte gebeur vinnig (alhoewel mens tog daarna nog slyp).

Die gedig “smokescreen”: ek het in die Marico-bosveld gesit en skryf een baie koue wintersnag. Die krag was af (soos baie keer daar gebeur). Daar is een van daardie klein swart antrasietstofies, maar ek het hout gebruik om dit aan die gang te kry en die hele vertrek was vol rook – ook my klere. Papiere en papiere vol geskryf (die vorige eienaar het ’n groot pak van daardie outydse drukkerspapier met die gaatjies aan die kant daar gelos). Van die klaargeskryfde goeters frommel ek dan op en gooi in die stofie.

Ek het net skielik die beeld gesien van hoe ek die volgende oggend die as-laaitjie ooptrek en dan sal al daardie woorde in die as lê, maar net vir ’n oomblik, voordat dit inmekaar sal val.

Luister hier na opnames van Elna se gedigte.

The post <i>Nuwe stemme 6</i> – 6 vrae vir Elna van Niekerk appeared first on LitNet.


Nuwe stemme 6 – 6 vrae vir Elodi Troskie

$
0
0

Nuwe stemme 6 het pas by Tafelberg verskyn. Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé is die samestellers van dié bundel, ’n versameling van die beste verse van Afrikaans se opkomende digters.

Liné Enslin gesels met die gepubliseerde digters. Lees hier die ander onderhoude.


 

Elodi Troskie

 

1. Beskryf jouself in ses woorde.

Ek benodig meer as ses woorde.

2. Noem ses dinge waarsonder jy nie kan leef nie.

Buffelsbaai. Sondae. Geel truie. Instagram-stories oor katte. Koffiewinkels. Reën.

(In ’n perfekte wêreld is elke dag Sondag in ’n koffiewinkel in Buffelsbaai terwyl dit reën en ek ’n geel trui aan het terwyl ek na foto’s van vreemdelinge se katte kyk.)

3. Wat is die vreemdste plek of medium waarop of waarmee jy al ooit ’n gedig geskryf het?

Ek het eenkeer ’n gedig agterop die boekmerk in my biblioteekboek geskryf. Ek het vergeet om dit uit te neem, en ek kan nie onthou watter boek dit was nie, en ek weet ook nie meer wat ek geskryf het nie. So êrens in Stellenbosch se biblioteek het ek ’n anonieme gedig begrawe.

4. Hoe lyk jou werkruimte?

Donker en deurmekaar. Donker, omdat ek gewoonlik eers saans aan die werk begin kom. En deurmekaar, omdat ek daarvan hou om boeke en papiere en skryfgoed om my te sien rondlê. Enigiets wat die illusie van produktiwiteit skep. Partykeer is daar wyn. Meestal tee. Altyd plante en ’n playlist met die naam “Middagslapie”.

5. Wie is jou gunstelingskrywer of -digter?

Baie voorspelbaar, maar my gunsteling is altyd wat ek mees onlangs gelees het. So vandag is dit Rupi Kaur. Môre is dit waarskynlik Antjie Krog omdat ek Change of Tongue vir ’n Engelse klas moet lees. (Hoewel sy in elk geval ’n deurlopende queen in my lewe is.)

6. Vertel asseblief bietjie meer omtrent een van jou gedigte wat in Nuwe stemme 6 opgeneem is.

Ek vertel sommer van die eerste een, “Groot Verseboek”. Ek het altyd na my ouers se grootwordstories geluister. Ek wou graag daaroor skryf en het probeer om die twee narratiewe inmekaar te vleg.

My pa is ’n paar jaar gelede oorlede en ná sy dood het ek ’n kopie van Groot verseboek in ’n boekrak by die huis gevind. Na ek dit vir twee, drie jaar gelees het, het ek die (baie verweerde) omslag afgehaal en my pa se naam in die binneblad gevind. Dit was baie spesiaal en het my nog nader aan hom laat voel om iets met hom te deel wat nou so ’n groot deel van mý lewe is.

In die gedig wou ek ook wys hoe gedigte (en kuns oor die algemeen) nie net vir ’n uitgesoekte groep mense beskore is nie. Dit behoort aan almal.

Luister hier na opnames van Elodi se gedigte.

The post <i>Nuwe stemme 6</i> – 6 vrae vir Elodi Troskie appeared first on LitNet.

Nuwe stemme 6 – 6 vrae vir Franco Colin

$
0
0

Nuwe stemme 6 het pas by Tafelberg verskyn. Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé is die samestellers van dié bundel, ’n versameling van die beste verse van Afrikaans se opkomende digters.

Liné Enslin gesels met die gepubliseerde digters. Lees hier die ander onderhoude.


 

Franco Colin

 

1. Beskryf jouself in ses woorde.

Woordvraat, passievol, psigiaterkapater, ongeduldig, soms onverdraagsaam.

2. Noem ses dinge waarsonder jy nie kan leef nie

Eggenoot, vriende, woorde, laptop / iPad (internet), poësie en beeldende kuns.

3. Wat is die vreemdste plek of medium waarop of waarmee jy al ooit ’n gedig geskryf het?

Een keer op ’n servet maar sonder mondkolle – verder allervervelig: ek skryf op my i-pad of rekenaar / in vliegtuie en lughawens / studeerkamer

4. Hoe lyk jou werkruimte?

5. Wie is jou gunstelingskrywer of -digter?

Julle gaan wragtag nie van my verwag om net een te kies nie! Johan de Lange, Loftus Marais, Wilma Stockenström, Bibi Slippers.

6. Vertel asseblief bietjie meer omtrent een van jou gedigte wat in Nuwe stemme 6 opgeneem is.

Ek het na Brian Cox se program op BBC gekyk genaamd Human universe. In ’n toneel staan hy met ’n stuk vulkaniese glas / obsidiaan en vertel van die ontstaan van menslike bewussyn wat kon insien dat ’n pylpunt in die glas opgesluit is. Ek was reeds aan die dink oor ’n ekfrastiese gedig oor ’n kunswerk van Jean Michel Basquiat. Die beskrywing van Brian Cox oor die samekoms van sterstof om die menslike brein te vorm, en dat daar dan die kreatiwiteit uit voortspruit, was die inspirasie vir die gedig “Kopkring”.

Kyk hier na video's waarin Franco van sy gedigte voorlees.

The post <i>Nuwe stemme 6</i> – 6 vrae vir Franco Colin appeared first on LitNet.

Nuwe stemme 6 – 6 vrae vir Hannes Visser

$
0
0

Nuwe stemme 6 het pas by Tafelberg verskyn. Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé is die samestellers van dié bundel, ’n versameling van die beste verse van Afrikaans se opkomende digters.

Liné Enslin gesels met die gepubliseerde digters. Lees hier die ander onderhoude.


 

Hannes Visser

 

1.Beskryf jouself in ses woorde.

Vreemd, opstandig, gatkrapperig-dwars, optimisties, lojaal.

2. Noem ses dinge waarsonder jy nie kan leef nie.

My gesin, boeke, koffie, rooiwyn, kuns, interessante mense.

3. Wat is die vreemdste plek of medium waarop of waarmee jy al ooit ’n gedig geskryf het?

Met ’n soldeerbout op ’n stukkie tamatiekasplank in st 7 vir die meisie wat my my eerste ordentlike soen gegee het. “Your lips are sweet. You are sweeter. I think I love you.”

4. Hoe lyk jou werkruimte?

’n Vertrek in ons huis wat net myne is.

5. Wie is jou gunstelingskrywer of -digter?

Digter: Kahil Gibran. Skrywer: Milan Kundera.

6. Vertel asseblief bietjie meer omtrent een van jou gedigte wat in Nuwe stemme 6 opgeneem is.

Die sewe gedigte is deel van ’n bundel wat ek pas voltooi het vir voorlegging. Al die gedigte speel af in 1967, die jaar toe my pa dood is. Die sentrale gedig is “Woensdag 19 Julie”, wat gaan oor die nag toe my pa dood is.

Foto van Hannes Visser: Marlene Malan

Kyk hier na video's waarin Hannes van sy gedigte voorlees.

The post <i>Nuwe stemme 6</i> – 6 vrae vir Hannes Visser appeared first on LitNet.

Nuwe stemme 6 – 6 vrae vir Ingrid Penzhorn

$
0
0

Nuwe stemme 6 het pas by Tafelberg verskyn. Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé is die samestellers van dié bundel, ’n versameling van die beste verse van Afrikaans se opkomende digters.

Liné Enslin gesels met die gepubliseerde digters. Lees hier die ander onderhoude.


 

Ingrid Penzhorn

 

1. Beskryf jouself in ses woorde.

Nuuskierig, rustig, onrustig, bewus, onbewus, gaaf.

2. Noem ses dinge waarsonder jy nie kan leef nie.

My mense (hulle is meer as ses).

3. Wat is die vreemdste plek of medium waarop of waarmee jy al ooit ’n gedig geskryf het?

In ’n lykshuis, op die agterblad van ’n doodsertifikateboek.

4. Hoe lyk jou werkruimte?

Ek het rooimiere, so ek skuif rond – studeerkamer, koffiewinkels, kantoor, sitkamervloer ...

5. Wie is jou gunstelingskrywer of -digter?

John Irving. Danie Marais.

6. Vertel asseblief bietjie meer omtrent een van jou gedigte wat in Nuwe stemme 6 opgeneem is.

“Kougom gekou” het op ’n bus in Londen gebeur. Die taxibestuurder langs ons het nes my pa gelyk. Dit was baie vreemd. Ek kon nie ophou kyk nie. Toe vat dit my terug na my kinderdae.

Luister hier na opnames van Ingrid se gedigte.

The post <i>Nuwe stemme 6</i> – 6 vrae vir Ingrid Penzhorn appeared first on LitNet.

Nuwe stemme 6 – 6 vrae vir Jaco van der Merwe

$
0
0

Nuwe stemme 6 het pas by Tafelberg verskyn. Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé is die samestellers van dié bundel, ’n versameling van die beste verse van Afrikaans se opkomende digters.

Liné Enslin gesels met die gepubliseerde digters. Lees hier die ander onderhoude.


 

Jaco van der Merwe

 

1. Beskryf jouself in ses woorde.

Taalmengerig. Krieketliefhebbend. Ontnugter. Kakaanjaend. Foundfootagefilmmaking. Wiseassish.

2. Noem ses dinge waarsonder jy nie kan leef nie.

Vegvissies, Christa, toetskrieket, woordgrappies, Peach-en-Louis, synthesisers.

3. Wat is die vreemdste plek of medium waarop of waarmee jy al ooit ’n gedig geskryf het?

Ek het eenkeer in ’n tent by Splashy Fen ’n gedig in totale donker geskryf, seker so 4 vm – my selfoon was pap, ek het my journal en ’n pen uit my rugsak losgekrap, geblaai tot naby aan die agterkant (waar ek gehoop het daar ’n paar leë bladsye was), en ’n bladsy vol “digkuns” geskryf sonder om enigiets te kan sien.

4. Hoe lyk jou werkruimte?

5. Wie is jou gunstelingskrywer of -digter?

Om net een te noem is onmoontlik. Mense wat ’n seminale invloed op my eie skryfwerk gehad het, sluit Saul Williams, Mos Def & Talib Kweli (Black Star), Charles Simic en Toast Coetzer in.

6. Vertel asseblief bietjie meer omtrent een van jou gedigte wat in Nuwe stemme 6 opgeneem is.

Ek dink die hele projek waarmee ek en Wikus de Wet besig is, is dalk ’n meer interessante ding om te beskryf as net een van die gedigte. Ek geniet en verken al vir jare die verhoudings tussen woorde en beelde, so ek was moer opgewonde toe Wikus vir my sy foto’s wys en voorstel dat ons saam ’n projek moet aanpak. Dit ontwikkel nou in ’n reeks fotogedigte (ek skryf prosagedigte as reaksies op Wikus se foto’s) wat ons uiteindelik wil publiseer in ’n boek (werkstitel: Wat binne is). Wikus se foto’s breek my, hulle is meer poëties as my woorde wat my betref, en die werke wat nou so tussen ons ontstaan is vir ons al twee opwindend en kragtig.

Foto van Jaco van der Merwe: Bernard Brand

Kyk hier na ’n video waarin Jaco een van sy gedigte voorlees.

The post <i>Nuwe stemme 6</i> – 6 vrae vir Jaco van der Merwe appeared first on LitNet.

Nuwe stemme 6 – 6 vrae vir Johan Jack Smith

$
0
0

Nuwe stemme 6 het pas by Tafelberg verskyn. Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé is die samestellers van dié bundel, ’n versameling van die beste verse van Afrikaans se opkomende digters.

Liné Enslin gesels met die gepubliseerde digters. Lees hier die ander onderhoude.


 

Johan Jack Smith

 

1. Beskryf jouself in ses woorde.

Besig. Donker. Rustig. Aweregs. Nugter. Hoopvol.

2. Noem ses dinge waarsonder jy nie kan leef nie.

My verloofde. My seuntjie. Nostalgie. Koffie. Nikotien. Uitdagings.

3. Wat is die vreemdste plek of medium waarop of waarmee jy al ooit ’n gedig geskryf het?

My ID book.

4. Hoe lyk jou werkruimte?

Langs ’n houtvuur, sittend op ’n tuinstoel, whiskey en selfoon met Evernote oop in die hand.

5. Wie is jou gunstelingskrywer of -digter?

Ek ken nie regtig digters nie. Bruce Springsteen as liriekskrywer. Is hy naby genoeg aan ’n digter? Ek hoor wel ek sal aanklank vind by Allen Ginsberg.

6. Vertel asseblief bietjie meer omtrent een van jou gedigte wat in Nuwe stemme 6 opgeneem is.

“Intermission” lê my naby aan die hart. Hier was hierdie inryteater naby ons huis in Virginia waar ek grootgeword het. Dit was magical oomblikke. Die afwagting voor die film, kinders in slaapklere, die reuk van springmielies, die plakkate teen die mure van films wat nog moet wys. Toe die myndorpe begin swaarkry het, het die teater toegemaak. Ek het jare later daar gaan ry met my fiets, toe ek seker so 13 jaar oud was. Die paaltjies het steeds gestaan, asook die geboutjie waar die projektorkamer was. Daar het selfs dele van ’n rolprentfilm gelê. Dit het my baie melancholies laat voel – hoe dinge verander – en hoe herinneringe verander in melancholie.

Kyk hier na ’n video waarin Johan een van sy gedigte voorlees.

The post <i>Nuwe stemme 6</i> – 6 vrae vir Johan Jack Smith appeared first on LitNet.

Nuwe stemme 6 – 6 vrae vir Marcel Spaumer

$
0
0

Nuwe stemme 6 het pas by Tafelberg verskyn. Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé is die samestellers van dié bundel, ’n versameling van die beste verse van Afrikaans se opkomende digters.

Liné Enslin gesels met die gepubliseerde digters. Lees hier die ander onderhoude.


 

Marcel Spaumer

 

1. Beskryf jouself in ses woorde.

Introspektief, ekspressief, sensitief, impulsief, melankolies, nuuskierig.

2. Noem ses dinge waarsonder jy nie kan leef nie.

Genade, liefde, my broer, musiek, letterkunde, YouTube.

3. Wat is die vreemdste plek of medium waarop of waarmee jy al ooit ’n gedig geskryf het?

Op ’n Pizza Perfect-servet met ’n loperige bloupen.

4. Hoe lyk jou werkruimte?

Ek het nie ’n vaste ruimte waar ek skryf nie – ek hou daarvan om op nuwe plekke te gaan sit en skryf (stil koffiewinkels, interessante restaurante wat swak belig is, die strand).

5. Wie is jou gunstelingskrywer of -digter?

Hilda Smits; Ingrid Winterbach

6. Vertel asseblief bietjie meer omtrent een van jou gedigte wat in Nuwe stemme 6 opgeneem is.

“Gaga het ’n song in 10 min geskryf” kom al ’n lang pad. Ek het dit as universiteitstudent geskryf in ’n stadium toe ek omring was deur die suksesse en talente van ander jongmense (asook die skrywers en digters aan wie ons blootgestel is gedurende ons studies) en dit het my gepla hoe maklik dinge vir ander mense net gebeur. Ek wou die volgende groot gedig, of drama, of roman skryf, maar dit gebeur nie net nie. Die gedig is ook ’n soort uitspraak teen die onregverdigheid van die lewe: slegte goed gebeur te maklik, terwyl iets wat goed kan wees, nie so maklik gebeur nie.

Kyk hier na video's waarin Marcel van sy gedigte voorlees.

The post <i>Nuwe stemme 6</i> – 6 vrae vir Marcel Spaumer appeared first on LitNet.


Nuwe stemme 6 – 6 vrae vir Marthé McLoud

$
0
0

Nuwe stemme 6 het pas by Tafelberg verskyn. Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé is die samestellers van dié bundel, ’n versameling van die beste verse van Afrikaans se opkomende digters.

Liné Enslin gesels met die gepubliseerde digters. Lees hier die ander onderhoude.


 

Marthé McLoud

 

1. Beskryf jouself in ses woorde.

Humoristies
Melancholies
Kreatief
Hiperaktief
’n Realis
Sentimenteel.

2. Noem ses dinge waarsonder jy nie kan leef nie.

Pen en papier
Boeke
Stilte
Vakansies (reis)
Koffie
Me-time.

3. Wat is die vreemdste plek of medium waarop of waarmee jy al ooit ’n gedig geskryf het?

Op ’n olifant se rug in Kambodja.

4. Hoe lyk jou werkruimte?

5. Wie is jou gunstelingskrywer of -digter?

Leonard Nolens, ’n Vlaamse digter. Ek het met sy gedigte kennis gemaak deur die vertaling daarvan in Afrikaans deur Daniel Hugo. Nolens maak gebruik van wonderlike beelde en het dikwels ’n aweregse blik op die ruimte waarbinne hy beweeg. Sy gedigte is kort en toeganklik, maar met diepte. Dit bly jou lank by.

6. Vertel asseblief bietjie meer omtrent een van jou gedigte wat in Nuwe stemme 6 opgeneem is.

Ek is altyd bly as ’n gedig ook universeel gelees word, want dan toon dit dat jy daarin geslaag het om iets te sê. In “Terugblik” kan die spreker ook as die moederfiguur gesien word. Die persoonlike storie agter die gedig spruit egter uit skuldgevoelens oor ’n verhouding wat op skool van my kant af beëindig is. As ’n mens as volwassene na die gebeure terugkyk, sien jy baie emosie raak. Die persoon aan wie ek die gedig rig, het ’n paar maande voordat ek die verhouding beëindig het, sy beste vriend in ’n motorfietsongeluk verloor en met die beëindiging van die verhouding het ek hom aan ’n verdere verlies blootgestel, wat hy moeilik verwerk het. Die gedig is ’n poging om na al die jare sin uit die gebeure te maak.

Luister hier na ’n opname waarin Marthé haar gedig "Biologieklas" voorlees.

The post <i>Nuwe stemme 6</i> – 6 vrae vir Marthé McLoud appeared first on LitNet.

Nuwe stemme 6 – 6 vrae vir Naudé Kritzinger

$
0
0

Nuwe stemme 6 het pas by Tafelberg verskyn. Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé is die samestellers van dié bundel, ’n versameling van die beste verse van Afrikaans se opkomende digters.

Liné Enslin gesels met die gepubliseerde digters. Lees hier die ander onderhoude.


 

Naudé Kritzinger

 

1. Beskryf jouself in ses woorde.

Een komma sewe vyf meter lank.

2. Noem ses dinge waarsonder jy nie kan leef nie.

Vrou, kinders, koffie, kos, misterie en klank.

3. Wat is die vreemdste plek of medium waarop of waarmee jy al ooit ’n gedig geskryf het?

Ek’s nie juis ’n extreme poet wat gedigte skryf terwyl ek by ’n vliegtuig uitspring nie. Ek het darem al ’n paar gedigte in die mik van ’n boom sit en skryf. Ek onthou ’n spesifieke maroelaboom – die vrugte in die warm son was besonder inspirerend.

4. Hoe lyk jou werkruimte?

’n Boekrak met teologieserige boeke in. Op die vloer is daar ’n oop paadjie tussen al die musieklêers, kategesemateriaal en ’n ou swemhandoek met 101 dalmations op (oh man!). Kom ons praat nie oor my lessenaar nie. Gelukkig is die hele woonbuurt ook my werkruimte: soveel huise, soveel mense, soveel stories en klanke. What a beautiful noise!

5. Wie is jou gunstelingskrywer of -digter?

As ek iemand móét kies, dan kies ek oorle oom Leonard Cohen, selfs bo die Nobelpryswenner Bob Dylan. Sy skryfwerk is wat my betref ’n spasie waar al die dinge wat ek geniet, saamkom: misterie, sinisme, die estetiese, klank en ritme, godsdiens, seksualiteit – en dit alles met woordekonomie en ’n waardering vir die lewe. Dit help natuurlik dat dit alles musiek word met ’n stem wat uit die aarde kom. Party van hierdie elemente kom natuurlik ook goed na vore in sekere Afrikaanse digters, soos Koos du Plessis, MM Walters, en Van Wyk Louw.

6. Vertel asseblief bietjie meer omtrent een van jou gedigte wat in Nuwe stemme 6 opgeneem is.

“Holberg” is miskien my gunstelinggedig van die ses wat ingesluit is, omdat dit so ’n anderwêreldse en mistiese atmosfeer daaraan het. Stephen King skryf êrens hoe lekker hy voel oor die eerste sin van The Gunslinger: “The man in black fled across the desert, and the gunslinger followed.” Ek het dieselfde gevoel met “Holberg” se begin: “Die oues sê die aarde is/ ’n kremetart en oud.” Ek onthou ek het dit net na Paasfees geskryf, met die interpretasie van sommige Christene in my agterkop waar Jesus na die doderyk neergedaal het en siele daar bevry het. Op die ou einde kon hierdie Christelike elemente nie lekker met die Afrika-mistiek gel nie en het die gedig sy eie gang dikteer. Die laaste strofe het ontstaan nadat eers Charl-Pierre Naudé my in die redigeringsproses uitgedaag het toe hy sê dat iets nog kort.

Kyk hier na ’n video waarin Naudé sy gedig "Holberg" voorlees.

The post <i>Nuwe stemme 6</i> – 6 vrae vir Naudé Kritzinger appeared first on LitNet.

Nuwe stemme 6 – 6 vrae vir Remona Voges

$
0
0

Nuwe stemme 6 het pas by Tafelberg verskyn. Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé is die samestellers van dié bundel, ’n versameling van die beste verse van Afrikaans se opkomende digters.

Liné Enslin gesels met die gepubliseerde digters. Lees hier die ander onderhoude.


 

Remona Voges

 

1. Beskryf jouself in ses woorde.

Absolute grapjas. Ongeduldig, maar sonder drama.

2. Noem ses dinge waarsonder jy nie kan leef nie.

Christiaan
Boeke
Humor
Camel Silver
Electric swing
Tamaties.

3. Wat is die vreemdste plek of medium waarop of waarmee jy al ooit ’n gedig geskryf het?

In ’n hospitaal in die suide van Nederland.

4. Hoe lyk jou werkruimte?

Ongoddelik deurmekaar / absolute chaos!

5. Wie is jou gunstelingskrywer of -digter?

Antjie Krog.

6. Vertel asseblief bietjie meer omtrent een van jou gedigte wat in Nuwe stemme 6 opgeneem is.

Een van hulle is geskryf toe ek vir ’n maand lank in isolasie geplaas is, in ’n hospitaal in Nederland.

Luister hier na opnames waarin Remona van haar gedigte voorlees.

The post <i>Nuwe stemme 6</i> – 6 vrae vir Remona Voges appeared first on LitNet.

Nuwe stemme 6 – 6 vrae vir Ryan Pedro

$
0
0

Nuwe stemme 6 het pas by Tafelberg verskyn. Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé is die samestellers van dié bundel, ’n versameling van die beste verse van Afrikaans se opkomende digters.

Liné Enslin gesels met die gepubliseerde digters. Lees hier die ander onderhoude.


 

Ryan Pedro

 

1. Beskryf jouself in ses woorde.

Nuuskierig. Meestal agterdogtig. Altyd honger. Boekwurm.

2. Noem ses dinge waarsonder jy nie kan leef nie.

Goeie oorfone; my kamera; Charles Bukowski se Love is a Dog from Hell; Miles Davis se A Silent Way; ’n haardroër; die internet.

3. Wat is die vreemdste plek of medium waarop of waarmee jy al ooit ’n gedig geskryf het?

Op een van daai pamfletjies wat hulle by begrafnisse uitdeel. Het dit ’n naam? Met die foto op en so.

4. Hoe lyk jou werkruimte?

Deurmekaar.

5. Wie is jou gunstelingskrywer of -digter?

Ek kan nie kies nie. Ek is nou egter op ’n Kamau Brathwaite-bender. Volgende week is dit iemand anders. Ek kan nie kies of commit tot een nie. Daar’s te veel cool shit daar buite.

6. Vertel asseblief bietjie meer omtrent een van jou gedigte wat in Nuwe stemme 6 opgeneem is.

“by die barbershop” het ek vir my pa geskryf. Eintlik ook vir myself. It’s about belonging, not belonging and longing – dis die beste manier hoe ek dit kan beskryf. Dis ’n poem wat my elke keer as ek dit lees konfronteer met vrae wat ek sukkel om goed te beantwoord. Dan ruk ek my op en skryf maar nog ’n poem. Al my stuff in NS6 bevat elemente hiervan. En hulle almal voel vir my unresolved in that sense – hoe skryf jy jouself anyway into social, political en literary spaces waarin jy alien voel?

Kyk hier na video's waarin Ryan van sy gedigte voorlees.

The post <i>Nuwe stemme 6</i> – 6 vrae vir Ryan Pedro appeared first on LitNet.

Nuwe stemme 6 – 6 vrae vir Trudie Coetzee

$
0
0

Nuwe stemme 6 het pas by Tafelberg verskyn. Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé is die samestellers van dié bundel, ’n versameling van die beste verse van Afrikaans se opkomende digters.

Liné Enslin gesels met die gepubliseerde digters. Lees hier die ander onderhoude.


 

Trudie Coetzee

 

1. Beskryf jouself in ses woorde.

Ars poetica in ’n rooi kimono.

2. Noem ses dinge waarsonder jy nie kan leef nie.

Koffie, gedigte, sigarette, geel, katte, kaas.

3. Wat is die vreemdste plek of medium waarop of waarmee jy al ooit ’n gedig geskryf het?

’n Vuil servet – partykeer moet ’n mens die naaste ding gryp wat jy tot jou beskikking het.

4. Hoe lyk jou werkruimte?

Ek het nie ’n vaste werksruimte nie, maar ek skryf (en lees) meestal op my bed. Enige ruimte met koffie en vars lug is vir my ’n werksruimte. My gunstelingplek om te skryf is Paternoster.

5. Wie is jou gunstelingskrywer of -digter?

Loftus Marais en Danie Marais.

6. Vertel asseblief bietjie meer omtrent een van jou gedigte wat in Nuwe stemme 6 opgeneem is.

My gunstelinggedig is “Ek is”, omdat dit my persoonlikheid op papier is. Ek het inspirasie vir die gedig van Antjie Krog se “Ek staan op ’n moerse rots langs die see by Paternoster” gekry, omdat ek self op Paternoster se strand doenig was. Die woorde het baie maklik gevloei en die see was ’n groot inspirasie. “Die digter as dagbreek” het ek ook daar geskryf.

Kyk hier na ’n video waarin Trudie een van haar gedigte voorlees.

The post <i>Nuwe stemme 6</i> – 6 vrae vir Trudie Coetzee appeared first on LitNet.

Die boosaardige broers Botha: ’n onderhoud met Adeline Radloff

$
0
0

Die boosaardige broers Botha
Adeline Radloff
Tafelberg
ISBN: 9780624081883

Skrywers oor hul nuwe boeke: Adeline Radloff gesels met Naomi Meyer oor Radloff se Die boosaardige broers Botha

Waar het jy die idee(s) vir hierdie boek gekry?

Ek lees graag saans vir my kinders voor, maar stories vir kinders kan soms nogal vervelig (vir ouers) raak. Ek wou ’n kinderboek skryf met ’n bietjie “byt”: iets wat kinders op een vlak kan geniet en grootmense op ’n ander. Die boek dryf dus sagkens die spot met ’n paar eg Suid-Afrikaanse stereotipes wat elke Afrikaanse ouer sal erken (en hopelik sal laat glimlag).

Vertel my iets van die storie, asseblief.

Die Botha-broers is drie stereotiepe “tawwe” plattelanders: bosveldmanne wat weet hoe om te skiet, te dop en te baklei. Weens ’n dubbele tragedie moet hulle egter ’n hoogs begaafde stadskindjie grootmaak wat gemakliker voel met sy neus in ’n boek as met ’n geweer in sy hand. Die aanpassing is moeilik vir al die broers, veral toe die seuntjie boonop by die skool geboelie word.

Boosaardigheid en broers gaan dalk nie op die oog af saam nie, of hoe? Of is rusie en familie eintlik die heel beste pasmaats?

Rusie in familie is onvermydelik, maar as dié konflik uit liefde spruit, kan mens dit altyd oplos. So kom die drie oudste Botha-broers eers “boosaardig” voor – regte rowwe, growwe, onbeskofte, onbeskaafde wilde boere – maar uiteindelik blyk dit dat daar soveel meer as net dít onder die oppervlak skuil.

Gaan dit hier oor die boosaardigheid, of oor die broers? Of dalk oor die boelies - of oor Bulelani?

Uiteindelik gaan dit vir my oor die maniere waarop ons mekaar miskyk deur ons blind te staar teen stereotipes. Brom, Buskruit en Breker Botha moet leer dat Bulelani nie “verkeerd” is net omdat hy anders is as hulle nie. En Bulelani moet presies dieselfde les leer. Die boeliekwessie word op ’n baie lighartige manier hanteer – ’n tipe wensdenkery wat nie veronderstel is om ernstig opgeneem te word nie. (Asseblief tog!)

Vir watter ouderdomme lesers het jy hierdie boek geskryf?

Ek sou sê dis eintlik vir kinders so tussen vyf en tien jaar. Maar dis spesifiek ook geskryf vir ouers wat graag voorlees, so daar is alliterasie vir lekker hardop lees en ’n paar grappies wat kinders miskien sal mis.

Jy het 'n paar jaar gelede die Sanlamprys vir Jeuglektuur gewen, en toe 'n jeugboek saam met jou suster (Lili Radloff) geskryf. Waarom skryf jy jeugboeke?

My eerste boek, Sidekick, het die goue medalje in die Sanlamprys vir Jeuglektuur gewen en my tweede boek, Chain reaction, die silwermedalje. Die boek wat ek saam met Lili geskryf het, was (baie definitief!) op grootmense gemik. Ek geniet beide genres, en sal nie een bo die ander wil verkies nie.

Jy het al 'n magdom beroepe beoefen; wil jy iets hieroor sê? Wat was jou gunstelinge?

Nee genade, ek skaam my eintlik vir al my gerondvallery in die lewe. Die slegste werk wat ek nog ooit moes doen, was toe ek my moes voordoen as ’n “beauty consultant” in Harrrods en peperduur velprodukte aan mense moes afsmeer. (Terloops, dis alles blote oëverblindery, maak nie saak hóé duur daai glasbotteltjie is nie – tot vandag toe gebruik ek net goedkoop Clicks-produkte.) Die lekkerste was toe ek moes help ontbyt maak in ’n Edinburgh-hotel (brood rooster, botter krul, koffie maal ...) en elke dag ’n ete gekry het wat deur ’n Michellin-stersjef voorberei is.

Het jou verskillende terreine van lewenservaring jou idees gegee vir jou boeke (en vir nog boeke)? Of waar kom jou inspirasie vandaan?

Ek het geen idee waarom nie, maar my kop wemel nog altyd van al die stories wat ek wil vertel. Die stories borrel sommer so van orals uit. Ek sê altyd ek is eerder ’n gebore storieverteller as ’n gebore skrywer – as ek net nie so met die geskrewe woord moes worstel nie, sou ek elke dag ’n nuwe storie wou vertel.

Wat lees jy?

Ek lees alles. Letterlik alles: niefiksie, literêre romans, speurverhale, “classics”, liefdesverhale, digbundels, jeugverhale, kinderboeke, fantasie, selfhelp, resepteboeke, woordeboeke ...

Skryf jy aan nog iets?

Ek is juis nou besig om Die Skandalige Susters Smit klaar te maak. 🙂

The post <em>Die boosaardige broers Botha</em>: ’n onderhoud met Adeline Radloff appeared first on LitNet.

Boereverneukers: ’n onderhoud met Izak du Plessis

$
0
0

Boereverneukers: Afrikaanse swendelaars, swierbolle en swerkaters
Izak du Plessis
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776092185

Die wêreld is propvol swendelaars, swierbolle en swerkaters wat so slinks is dat hulle die melk uit jou koffie kan steel sonder dat jy dit agterkom. Dikwels is hulle so vernuftig en sjarmant dat mens byna nie anders kan as om hulle op ’n vreemde manier te bewonder nie. Selfs Afrikanerhelde soos Paul Kruger val in daardie kategorie. Izak du Plessis vertel aan Jean Oosthuizen hoe hy te werk gegaan het om van die bekendste Afrikaanse boereverneukers se verhale saam te vat in sy boek Boereverneukers wat onlangs deur Penguin Random House uitgegee is.

Jou boek Boereverneukers het heelwat publisiteit gekry sedert die verskyning daarvan. Daar is selfs ’n herdruk op pad kort nadat dit verskyn het. Waaraan skryf jy dit toe en het jy verwag die boek sou soveel belangstelling uitlok?

Ons het gehoop die boek kry soveel belangstelling, maar as mens in die bedryf is, verwag jy maar ’n hou teen die kop. Jy kry altyd minder as wat jy verwag en meer as waarvoor jy hoop. Ek dink goeie bemarking, lekker blootstelling en mense se nuuskierigheid oor misdaad het die knoop deurgehaak.

Hoe het jy te werk gegaan om die boek te skryf en die mense te kies waaroor jy geskryf het?

Ek het die term Boereverneukers gegoogle, niks gekry nie en toe con men probeer. Derduisende resultate gekry. Afrikaanse con men het Adriaan Nieuwoudt en Gervan Lubbe opgelewer. Toe lees ek iets van Scotty Smith raak wat die sommetjie se antwoordnet bietjie wyer gemaak het, en toe peul Arno Smith, Ruitertjie Ruiters, Cecil Barnard, André Esterhuizen en die res uit om uiteindelik die prentjie voller te maak. Die kriterium was dat dit lekker stories moet wees. Ek het byvoorbeeld nie Krion en Sharemax gekies nie, omdat dit ’n slagting was sonder die siel van iets soos die kubuskultuur of Scotty Smith se storie.

Jy gaan haal die swerkaters ver terug in die verlede tot by Paul Kruger, wat vir baie mense steeds ’n held is. Was Scotty Smith en Paul Kruger die vroegste boereverneukers wat jy kon opspoor oor wie daar geskryf is?

Nee, daar was iemand soos Piet Retief wat maar ’n opperste skelm was volgens sommige rekords. En dan was daar tientalle ander wat ewe interessant ’n boek oor hierdie onderwerp kan vul.

Afrikaners hou oor die algemeen nie daarvan om te hoor hulle helde het ook maar voete van klei nie. Was daar nie mense wat vies was omdat jy oom Paul ingesluit het by die swerkaters en swierbolle nie?

Ek het nog niks gehoor nie. Maar die boek is nou maar eers twee maande op die rakke. Dalk kom dit nog. Maar hulle kan maar vies wees, daar is genoeg gedokumenteer om te bewys die oubaas was ’n opportunis, ’n slinkse politikus, ’n swerkater van die eerste water en ’n oneerlike president.

Jy dra die boek op aan al die joernaliste van Suid-Afrika en spesifiek aan Elsabé Brits van Die Burger. Hoekom?

Die boek bestaan omdat joernaliste bestaan. Hulle is die mense wat die stories vertel in koerante, op radio en op TV. Maar moenie nie ’n fout maak nie – soms (en selfs baie gereeld) is joernaliste ook verkeerd. Dit maak egter nie die stories ongedaan nie. En uit elke storie waarin foute gemaak is, leer ’n mens vir die volgende keer. Soos in die geval van Gervan Lubbe. Elsabé Brits se skerp sin vir joernalistiek het net weer bewys hoe belangrik dit is dat joernaliste nooit houtgerus moet raak in hulle werk nie. Hulle onsinverklikkers moet heeltyd gekalibreer wees.

Die subtitel van jou boek is Afrikaanse swendelaars, swierbolle en swerkaters. Is daar enige spesifieke rede waarom jy op Afrikaanse swerkaters gefokus het?

My uitgewer, Melt Myburgh, is eintlik die een wat met die idee vorendag gekom het. Hy glo al lank dat dié tipe stories die verbeelding sal aangryp. En hy was reg. Die boek vaar baie goed. Ons herdruk nou, soos jy reeds genoem het, en Kersfees lê nog voor. Die boek se titel, inhoud en mooi rooi voorkoms maak daarvan ’n lieflike Kersgeskenk.

Jy het met van die swerkaters wat nie van die aardbol verdwyn het nie, kontak gemaak, soos die Kubuskoning Adriaan Nieuwoudt, maar hy wou nie ’n onderhoud toestaan nie. Het jy enige reaksie van sy kant gekry na die verskyning van jou boek?

Ja, ek en Adriaan gesels nog soms. Hy dink so elke kort-kort aan ’n onreg wat die regering van destyds hom aangedoen het, wat hy dan met my deel. Pleks hy nou maar voor die verskyning van die boek met my gepraat het.

Het jy enige een van ander karakters wat nog leef en op vrye voet is, in die hande probeer kry of van hulle naasbestaandes self ontmoet tydens die navorsing van jou boek?

Ja, ek het met Jacky Haynes, eksvrou van die vermiste Ralph Haynes kontak gemaak. Ek sien haar en Ralph se jare lange vriend Dawie Lotter nog gereeld, omdat ek besig is met ’n boek oor Ralph se lewe. Maar die ander karakters is of dood of net onmoontlik om in die hande te kry. Ek weet die swendeldokter André Esterhuizen is deesdae uit die tronk en hy bedryf êrens ’n besigheid.

Van sommige swerkaters oor wie jy skryf hou mens meer van as ander. Party was nogal heel sjarmant. Mens kan selfs nie anders as om party van hulle nogal effens te bewonder vir hulle vindingrykheid nie. Watter een van die klomp het jóú die meeste “beïndruk”, as ek dié woord mag gebruik?

Ek hou nog steeds die meeste van Ralph Haynes. Iets aan sy flambojante leefstyl, menswees en nalatenskap gryp my aan. Nie noodwendig positief nie – ek is maar net gefassineer met hoe die mens dit kon regkry om bekendes soos Steve Hofmeyr, Joost van der Westhuizen, Andries Botha en Nick du Rand te bekoor en om sy pinkie te draai. En dan was hy so gevaarlik. Hy is ’n veroordeelde moordenaar en hoewel daar nie bewyse is nie, word hy ook met ander mense se dood verbind. Ek dink ek sou bang wees vir Ralph Haynes. Maar mense wat hom geken het, sê hy kon jou begogel met sy sjarme.

Dan was daar onder andere die swendeldokter André Esterhuizen wat verantwoordelik was vir die dood van ’n hele paar kinders en in 1999 op parool vrygelaat is. By my het hy, anders as in sommige ander gevalle, geen simpatie gewek nie. Watter een se verhaal het jou die meeste gegrief?

As ’n mens oor persoonlikheid praat, dan dink ek Pierre Basson is die een wat my die meeste grief. Hy was glo ’n aaklige mens en sy verhaal getuig daarvan. Esterhuizen self se vermetelheid slaan ’n mens se asem weg: ’n pediater, brigadier, valskerminstrukteur en duikinstrukteur sonder enige kwalifikasies ... dit wil gedoen wees.

Daar is seker nog ’n hele aantal swerkaters wat nie jou boek gehaal het nie. Kan ons dalk ’n opvolg verwag?

Ek weet nie of ’n boek soos hierdie dieselfde energie kan losmaak in ’n opvolg nie, maar dit is Penguin Random House se besluit. Tot dan werk ek eers aan Mafiabaas (die werktitel van die boek oor Ralph Haynes).

Foto van Izak du Plessis: Naomi Bruwer

The post <i>Boereverneukers</i>: ’n onderhoud met Izak du Plessis appeared first on LitNet.


Hartlam, kortverhale oor die liefde: ’n onderhoud met Deborah Steinmair en Gerda Taljaard

$
0
0

Hartlam, kortverhale oor die liefde
Samestellers: Deborah Steinmair en Gerda Taljaard

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624082736

Skrywers oor hul nuwe boeke: Naomi Meyer gesels met Deborah Steinmair en Gerda Taljaard oor ’n onlangse bundel wat hul saamgestel het, Hartlam, kortverhale oor die liefde.

Deborah en Gerda, baie geluk met dié bundel. Handel die bundel se stories oor romantiese liefde?

Deborah: Oor liefde in al haar gedaantes en daarom terloops ook oor romantiese liefde, maar ek en Gerda het albei ’n voorliefde vir die gekantelde perspektief.

Gerda: Daar is ’n hele aantal verhale wat wel gaan oor romantiese liefde, maar beslis nie almal nie, want romantiese liefde is maar net een manier waarop die mens kan liefhê. Die liefde is sekerlik die mees genuanseerde menslike emosie, en liefde lê soms baie naby aan haat, juis omdat die mense wat jou die liefste het, jou die seerste kan maak. Lesers gaan dus die liefde in al sy vele gedaantes hier aantref: onvoorwaardelike liefde, gewelddadige liefde, erotiese liefde, obsessiewe liefde, onbeantwoorde liefde, liefde tot die dood toe ...

Op die omslagfoto loer ’n oog deur ’n sleutelgat. Wat sien sy? Loer sy af? (Wag, is dit ’n vrou?)

Deborah: Goeie vraag. Die woord maskara is immers afgelei van masker. Wie dit ook al is, hy/sy kry niks. Hoewel hy/sy nie alleen agter die deur staan nie, glo my.

Gerda: Die persoon wat deur die sleutelgat loer, sien die vele gesigte van die liefde, en ja, nie al dié gesigte is ewe mooi nie, want hoe maklik verander romantiese liefde in obsessie of jaloesie? Die afloerder is inderdaad nie noodwendig ’n vrou nie, want in hierdie versameling stories is daar ook ’n man of twee wat maskara dra ...

“Liefde verdra als, maar het tande.” Die stories van jul keuse is edgy, en dit kan verwond. Ander vertroetel en is teer. Praat met my oor die 42 verhale en dimensies van liefde in hierdie bundel.

Deborah: Hollywood se “meet cutes” met ’n klein misverstand en uiteindelike gelukkige einde is gelyk aan vervelige kortverhale. Selfs Huisgenoot se liefdesverhale is deesdae edgy, donkerder en onverwags. Daar wou-wou effens van ’n patroon ontstaan: daar was soveel inskrywings oor latere liefde, liefde in Huis Herfsblaar. Die liefde ken geen perk, maat, geslag of ouderdom nie. Ons het probeer om te sorg vir lekker variasie in die verhale.

Gerda: Dit was Deborah wat met dié treffende uitdrukking (met sy wrang kinkel) vorendag gekom het: “Liefde verdra alles, maar het tande” – want dis dikwels daai groot liefde waarvoor jy so hard baklei het wat omdraai om jou aan die agterent (of hakskeen?) te kom byt.

Op ’n stadium het Deborah dié baie raak opsomming oor die 42 verhale gemaak:

’n Ma pak klippe vir haar gay dogter; hasie-pantoffels word vol modder soos jy weghardloop van die prentjie van Oupa wat vir Marta voor die opwasbak bevroetel; obsessionele liefde gedy in ’n gestig; ’n lyflike vervoering laat hom opeens dink aan iemand anders se mond; ’n ma gooi haar ooilam vir die wolf; ’n vrou dink terug aan haar eerste liefde; ’n sosiologie-professor fikseer premenopousaal op die gomgat Boela Potgieter; Destiny September is vasberade om ’n ryk uitlander raak te drink by die hotel; Kosie se ma hou sy bebloede lyfie in die ambulans vas; ’n engel met Vigs saai verwoesting; Leendert van Zyl kweek ’n fratspampoen; ’n pocket rocket laat ’n ouer vrou hoog bo Kaapstad vlieg elke keer as hy haar beklouter; Habakuk Dorsveld is vasberade om gay te word; Madama Bibiana Wolnik kon Duits praat soos ’n Berlyner en het ’n bietjie soos Marlene Dietrich gelyk; Raaia Erasmus is ’n supernova-maanblink-hoer; ’n klein, swart nommertjie word aangeskaf vir die Valentynsbal; by die agterdeur blom die wit koningin van die nag in die donker; ’n middeljarige digter-akademikus raak verstrengel by ’n konyntjiekoker; Sara word oorrompel deur die swartgallige, getroude Russiese tromboonspeler ...

Wie is die skrywers wie se stories jul gekies het? Dalk kan jul ’n paar name uitsonder wat vir julle uitgestaan het.

Deborah: Gerda het ’n meer georganiseerde donker kop en kan die skrywers opnoem. ’n Mens wil kwalik iemand uitsonder – die skrywers voel al amper soos ’n mens se kinders. Ek hou van Nini Bennet, Emma Bekker, Henning Pieterse en Keina Swart s’n. Onder andere.

Gerda: Ons het hier ’n heerlike konglomeraat van uiteenlopende skrywers wat gewoonlik heeltemal uiteenlopende genres skryf: liefdesverhaal-ghoeroes soos Helene de Kock en Erika Murray Theron; gruwelverhaalskrywers soos Martin Steyn en Jaco Jacobs; speurverhaalskrywers soos Kerneels Breytenbach en Deborah Steinmair; gesoute joernaliste soos Keina Swart en Jan Beyers; digters soos Emma Bekker en Ilse van Staden; akademici soos Henning Pieterse en Heilna du Plooy. Die resultaat? Telkens ’n unieke blik op die liefde ...

Watter temas word aangeroer? Het sekere hiervan julle verbaas? Het die uitnodiging om verhale dit dalk uitgestippel dat jul nie op soek is na konvensionele liefdesverhale nie (wat dit ook al beteken)?

Deborah: Ons het dit so probeer uitstippel, ja. En ons is steeds verbaas oor wat in mense se koppe en lewens aangaan. Aangenaam verbaas.

Gerda: Ek en Deborah het in ons uitnodiging aan skrywers gevra vir “intelligente liefdesverhale wat oorspronklik en enduit boeiend is” en wat al die manifestasies van die liefde omvat. Die verhale wat ons ontvang het, was allesbehalwe konvensioneel – party van die verhale speel in psigiatriese hospitale af, ander eindig in moord, sommige gee jou hoendervel (en nie op ’n lekker manier nie!) en ’n paar gee jou ’n gevoel wat iewers huiwer tussen wanhoop en genoegdoening ...

Julle albei skryf ook – vertel my asseblief oor jul stories in die bundel. Wat het jul geïnspireer of die snellers gebied tot jul eie verhale in die bundel?

Deborah: Myne is suiwer fiksie en meer wil ek nie sê nie.

Gerda: My verhaal handel oor moederliefde, wat selfs die dood nie kan stuit nie. Ek het nie my eie kinders nie, maar ek kan my goed voorstel watter onvernietigbare band daar tussen ouer en kind moet wees. Ek vermoed Guillermo del Toro se film Mama was die sneller vir my storie. Soos met byna al my ander skryfwerk, gaan die leser ’n lekker koue rilling (of drie) kry!

Vertel my of jul keuses van verhale ooreengestem het (en wie’t gewen)?

Deborah: Ek en Gerda stem min of meer altyd saam, daarom werk ons so lekker saam. Ons het ’n soortgelyke manier van kyk. Soms wen sy, soms ek. Maar ons is lakonies-inskiklik en vertrou mekaar se oordeel. En die eerste deel van die vraag: die samelewing is gebreinspoel deur chickflicks en Mills & Boon, Romanza et al. Wat mense konvensioneel as liefde beskou, is eintlik maar daardie malse eerste fase van verliefdheid, soos ’n koors of ’n kopverkoue, met fladderings in die buik. Dis maar ’n klein deeltjie van liefde. Hunkering is natuurlik eindeloos verwoordbaar. Soos Rodriguez sing: “The sweetest kiss I ever knew is the one I never tasted.” En obsessie maak spannende leesstof.

Gerda: Ek en Deborah het gelukkig nogal dieselfde idees oor wat werk en wat nie, dis dié dat ons so lekker saamwerk.

Oor die invalshoeke en eerste-/derdepersoonvertellers – iets wat jul opgeval het in die stories? Waarmee is jul ingelok in die verhale?

Deborah: Vir my altyd die eerste sin of paragraaf. Sit ek regop en spits my ore? Wil ek weet waarom?

Gerda: Daar is al oneindig baie oor die liefde geskryf, maar dis verhale wat op oorspronklike wyse hiermee omgaan, met ongewone invalshoeke, unieke intriges en geloofwaardige karakters wat die oog vang – bejaardes wat weer hunker na seks; ’n basterbrakkie wat ’n gemolesteerde kind se enigste troos is; ’n man wat sy vrou selfs ná haar dood met fynproeweretes bederf; lewelose objekte (soos fietse) wat meer oor die liefde verklap as die verliefdes self ...

Was daar ’n spesifieke keuse ten opsigte van volgorde van verhale?

Deborah: Gerda het meer voetwerk of boude-op-die-stoel-werk ingesit as ek.

Gerda: Vir my was dit belangrik om bekende skrywers se verhale af te wissel met dié van nuwe skrywers, eerstepersoonsverteller-stories met derdepersoonsverteller-stories, en aweregse verhale met meer “outydse” liefdesverhale.

En dan: die liefde se tande. Dis eintlik baie realisties, of hoe, dat die liefde so lyk? Baie ander van die liefdesverhale in bundels met gelukkige eindes is dalk juis nie die realistiese soort nie. Dis toe nie julle wat die liefde op sy kop gekeer het nie; julle het stories geskryf wat die liefde beskryf soos dit is – bloed, derms en woede. Bestaan die liefde op sjokoladebokse en op poskaarte uit Parys?

Deborah: Hollywood en Bollywood en Kavalier-films en wie ook al het die liefde verdun tot spookasem. Sjokoladeboksliefde bestaan miskien wel – ek wil niks afskiet nie – maar is dit die stories wat ons wil lees? Is langdurige, rimpellose geluk vervelig? Miskien smag ons almal daarna, maar ons lees graag oor die bloed en derms – ander mense s’n.

Gerda: Danksy die media het die samelewing ’n totaal verdraaide siening oor wat liefde (en verhoudings) is. Liefde mag dalk vir ’n rukkie eufories wees, maar verhoudings is harde werk en gaan hoofsaaklik oor kompromieë, om mekaar tegemoet te kom. Daar is nie iets soos perfekte verhoudings en ideale liefde met ’n gelukkige einde nie, en dit is waaroor dié verhale hier gaan.

Tradisionele liefdesverhale dien as ontvlugting – om vir ’n paar bladsye lank saam met die personasies beeldskoon en op eksotiese plekke te wees. Sulke liefdesverhale het natuurlik hulle plek, maar die verhale in Hartlam het nie daardie lagie vernis nie. Hier is outentieke karakters met plooie en hangborste, met sielkundige en finansiële probleme, met pa’s in die tronk en afknouerige susters. Natuurlik het die meeste van ons al daai tjoklitboksoomblik beleef, maar wat uiteindelik oorbly, is letsels, verlange en teleurstelling. Maar gelukkig ook onvoorwaardelike liefde wat irriterende gewoontes en knoffelasems miskyk.

The post <i>Hartlam, kortverhale oor die liefde</i>: ’n onderhoud met Deborah Steinmair en Gerda Taljaard appeared first on LitNet.

Shéri Brynard, nes ek is: 'n onderhoud met Shéri

$
0
0

Foto van Shéri Brynard: www.sheribrynard.co.za

Shéri, nes ek is
Shéri Brynard
ISBN: 9780796320308
NB-Uitgewers

Shéri Brynard is die enigste persoon met Downsindroom in die wêreld wat ’n tersiêre diploma het. Sy werk voltyds as ’n assistent by Lettie Fouché-skool vir kinders met gestremdhede. Sy gesels met Naomi Meyer oor haar boek Shéri, nes ek is.

Susette en Shéri Brynard voor die Taj Mahal

Shéri, baie geluk met jou boek! Vertel my asseblief iets van jou?

Ek is ’n doodgewone mens met ’n ekstra chromosoom, wat my fisiek en intellektueel bietjie stadiger maak. Maar dis al wat ek ken, so ek is eintlik heeltemal oukei om ek te wees. Ek kla net partykeer wanneer my ma so vinnig loop – dit lyk altyd of sy vir my wegloop.

Ek kan ook nie lank staan nie, sukkel met skoene en ek is maar lomp. Die mense by die gym probeer my daarmee help. Eintlik vat ek langer met alles wat ek doen, maar ons almal het mos maar dinge wat ons anders sal wil hê in ons lewens.

Wat doen jy elke dag? Vertel my ook ’n klein bietjie van jou kinder- en skooldae.

Sjoe, dit sal my ’n paar dae vat om hierdie vraag te beantwoord. My dae is baie vol, nes die meeste mense s’n, en om van my kinderdae te vertel sal lank neem.

My ma het ons altyd geleer toe ons nog nie in die skool was nie en dit was vir ons heerlik, want ons het baie gespeel tussenin en baie gelag. Marisa is 21 maande jonger as ek en sy het my gou verbygegaan, maar dit was vir my lekker om by haar te leer. Lank voor ons skool toe is, kon ons lees en skryf. Die somme was net vir my baie moeilik, maar my ma en ouma het my aanhou leer. Ons het baie gaan stap met ons poppe in stootkarretjies en baie gesing en sing-sing geleer ook. My pa kon ghitaar speel en dan het ons almal saam gesing – dis net ek en my ma wat nie so baie mooi kan sing nie, maar sing het ons gesing.

My kinderdae was baie lekker. My sussies het my geterg, met my gespeel en my gehelp met dinge. Ek het hulle ook nie gelos nie. Ons huis het baie gelag. Ons lag nou nog saam oor ons foute en huil saam wanneer een ’n hartseer beleef. My vriendinne speel ook ’n baie belangrike rol in my lewe. Die meeste is getroud en het kinders en ek is net so lief vir hulle. Ons het toe ons klein was, baie met die bure se seuntjies gespeel. Marnus, Wessel en Rikus Sonnekus was soos ons boeties. Ons is nou nog vriende. Daar was ’n hekkie tussen ons huise en hulle was so half deel van ons gesin.

Ek werk elke oggend by Lettie Fouché-skool, wat leerders met spesiale behoeftes help. Wanneer die onderwyseresse daar is, help ek hulle, en wanneer hulle siek is of ander werk het, staan ek in vir hulle. Hulle sê vir my watter werk ek moet doen en dan doen ek dit wat hulle sê met die leerders. Ek is baie lief vir die kinders en help hulle om nie sommer moed op te gee nie. Gister het ek met ’n dogtertjie gesels wat sê daar is kinders wat haar spot omdat hulle sê sy is dom. Ek het haar gevra of sy dink sy is dom en sy het gesê nee. Ek het haar vertel die kinders het my ook soms gespot en wat ander mense sê maak nie dat ons is soos hulle sê nie. Sy sal nou altyd met my kom praat wanneer sy hartseer voel oor wat mense sê. Dis vir my lekker om iets vir ander soos ek te beteken.

Na skool oefen ek by ’n gimnasium, gaan ek na ekstra Engelse klasse toe en ek neem nog drama ook. Ek gaan praat byna elke week by plekke, wat my ook baie besig hou.

Ané van den Berg en Shéri Brynard by die Vrystaatse Kunstefees 2017 en 'n plakkaat van die toneelstuk oor Downsindroom

Ek wil jou iets vra waaroor jy in die boek skryf. Maar terwyl ek jou boek gelees het, het ek gedink ek kan dit nie eens hoor in wat jy vertel nie. Hoe voel dit om Downsindroom te hê?

Ek wil nou half lag. Hoe voel dit om nié Downsindroom te hê nie? Mens dink nie daaroor nie. Ek is te besig om nog te dink aan dinge waaraan ek niks kan doen nie.

Dit voel vir my normaal om ek te wees – dis al wat ek ken. Ek weet ek sukkel bietjie meer om by te hou en ek is ’n bietjie meer afhanklik en ek lyk so ’n bietjie anders as gewone mense, maar tog weet ek dat eenders en anders baie na aan mekaar is.

Dit is waaroor my toneelstuk in Julie op die kunstefees gegaan het. Selfs mense wat sogenaamd normaal is, is almal anders. My ma sê altyd ons pas nie almal in dieselfde boksie nie en dis oukei. Moenie mense veroordeel wat nie soos jy is nie.

Hoekom het jy hierdie boek geskryf?

Ek wou aan mense verduidelik hoe my pad geloop het, omdat die Here my baie geseën het. My boek gaan nie net oor Downsindroom nie, dit gaan oor ’n pad van leer en verander en hard werk om iets te bereik. Dit gaan oor om nie vir jouself jammer te kry nie. Dit gaan daaroor dat mens nooit moed moet opgee nie. Dit gaan oor drome wat elkeen moet hê, al moet jy harder as ander werk en meer bid om die drome waar te maak.

Is mense vriendelik met jou?

Geen mens was nog ooit lelik met my nie, behalwe toe die seuns op skool my gespot het. Party mense het my aangekyk toe ek kleiner was en dan het my ma my geleer dat ek moet glimlag en groet. My ma sê altyd mense is vriendeliker met my as ek met hulle.

Ek kan nie anders nie, ek is baie gereserveer. Miskien is dit omdat my ma ons grootgemaak dat ons nie moet probeer om al die aandag te kry nie. Ons is nie meer of minder spesiaal as ander mense nie.

Wat maak jou bly?

Wanneer ek drama doen, is ek op my gelukkigste. Ek neem al meer as 20 jaar lank dramaklasse. Of dit op die verhoog of televisie is of net repeteer, dis vir my heerlik. Ek word iemand anders en dan kan ek sê en doen wat ek nie sal as ek ek is nie. Ek geniet dit om my woorde te leer en dit reg te kry om saam met wonderlike mense toneel te speel. Dis die heel lekkerste ding in my lewe.

Shéri saam met haar stiefpa, Sam du Plessis, en haar twee sussies Suzette en Marisa en ook Josua, Marisa se seuntjie

Wat maak jou hartseer?

Wanneer mense lelik is met ander mense.

Ek het in jou boek gelees hoe trots dit jou maak as jy iets self doen – soos op reis is en heeltemal onafhanklik is. Vertel my van jou lekkerste reis. En die snaaksste ding wat al gebeur het op so ’n reis. Of dalk iets wat jou bang gemaak het?

Dis die lekkerste wanneer my ma by die huis bly en ek alleen vlieg na plekke in Suid-Afrika toe. Dis lekker omdat ek presies weet wat om te doen. Selfs wanneer die vliegtuie vertraag is, het ek geleer om dit te hanteer. Eers was dit vir my baie sleg, want ek hou daarvan om my lewe te beplan.

Oorsee is die lekkerste dat ek en my ma soos vriende is. Ons koffie by Starbucks is ons geselstyd. Ons toer deur Israel was die hoogtepunt van al ons reise, alhoewel Indië en die Taj Mahal ook wonderlik was. My twee besoeke aan die Verenigde Nasies se kantore in New York en Genève vas vir seker ook vir my ongelooflike hoogtepunte, veral omdat ek vir die lede van die Verenigde Nasies kon vra om meer te doen vir gestremde mense in veral die armer lande.

Vertel my van jou gesin en jou vriende.

My sussie Marisa bly in Londen saam met haar man en twee kinders, Josua (3) en Mia Shéri (7 maande). Ons het soos ’n tweeling grootgeword. My sussie het haar dogtertjie na my ook vernoem. Hoe cool is dit nou?

My klein sussie, Suzette, en Jaco bly in Johannesburg en sy terg my altyd. Sy is baie soos my pa. Sy lag altyd en huil net so maklik.

Ek het ’n vriendin Sumarie wat getroud is, met ’n dogtertjie. Ek het vir die baba kleertjies oorsee gekoop. My ander twee vriendinne is Riana en Lanel. Hulle maak altyd tyd vir my.

  • Foto's verskaf

The post <em>Shéri Brynard, nes ek is</em>: 'n onderhoud met Shéri appeared first on LitNet.

Tussen vriende: ’n onderhoud met Derick van der Walt

$
0
0

Tussen vriende
Derick van der Walt
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801419

Skrywers oor hul nuwe boeke: Derick van der Walt gesels met Naomi Meyer oor Tussen vriende.

Derick, baie geluk met jou boek Tussen vriende. Kan jy kortliks vertel waaroor die storie gaan?

Drie getroude paartjies in hulle vyftigerjare is al jare lank vriende. Elkeen het sy eie ding wat pla, tipies van die uitdagings wat hulle in dié tydperk van jou lewe kom aanmeld.

Dis natuurlik meer as een storie; dis ’n hele vriendekring se (uiteenlopende en tog ineenverweefde) verhale. Vertel my asseblief van jou karakters in die boek.

 Adriaan is met Ingrid getroud. Hy is ’n tandarts, maar wonder of hy ooit die regte loopbaankeuse gemaak het. Dan is daar sy familieplaas wat verkoop gaan word. Ingrid voel weer ’n knop in haar bors. Gaan dit soos die vorige keer net ’n vals alarm wees?

Cassie en Phoebie het ’n vreemde seun wat in ’n bedenklike nagklub in die agterstrate van Johannesburg sing. Cassie is ’n sakeman en Phoebie ’n tuisteskepper met ’n slegte verhouding met haar ma.

Will het ’n verhouding agter Soekie se rug met ’n bloedjong meisie by die werk waaroor hy wroeg en skuldig voel en angsaanvalle kry. Soekie ontdek die verhouding geleidelik en vermoed dat sy deur al Elisabeth Kübler-Ross se fases sal moet gaan om by aanvaarding uit te kom, maar sy is nie seker nie.

Gaan Will se verhouding die vriendekring ontspoor?

Om oor ’n man en ’n vrou te skryf, meestal in die intieme derde persoon: hoe hanteer mens dit as skrywer? Want dis ’n boek met, durf ek sê (durf ek? – ek dink ek vra jou ook hieroor), vroulike temas. Jy skryf oor romantiese verhoudings, man-vrou-verhoudings en gesinne. Hoe dink jy jou ook in die vel van jou vroulike karakters in?

Ek dink nie dat ’n mens mans en vroue (en hulle temas!) meer in ouderwetse kassies kan plaas nie. Baie van die temas in die boek is juis deur my mansvriende geïnspireer. Op die ou end is ons maar almal net doodgewone mense en die sake wat in Tussen vriende aan bod kom, is juis dinge waaroor mans ook dink en praat, glo my maar. (Vroue sal waarskynlik verras wees waaroor ons praat wanneer ons bier drink.)

Behalwe mans en vroue se anatomiese verskille dink ek hulle is wat die sake van die hart betref, nie regtig soos Venus en Mars geskei soos wat algemeen beweer word nie. Ons mans is net so bekommerd oor ons kinders en ons ouers wat oud word soos oor die wel en wee van die Blou Bulle en die effektebeurs. En ja, ons praat baie oor alles. Hoekom ken julle ons so sleg?

Ek kom uit ’n familie van formidabele vroue en ek het formidabele vriendinne (en ja, mans kan dié soort no strings attached-verhoudinge met vriendinne hê, al sê die ou siniese en vroom garde nou ook wat). En ek het vroulike kollegas wat jy ook nou nie juis as fraaie poppies kan afmaak nie. Hulle maak ’n indruk op my.

Die soms problematiese verhoudings tussen ma’s en dogters byvoorbeeld is vir my báie bekend.

Temas hier aangeraak: ontrouheid, kanker, groter kinders, wat nog? En is dit doelbewus, die temas? Wat was eerste, hoender, eier, karakter, storiegegewe of temas? Wat kom eerste vir jou as jy skryf?

Toe ek destyds Daan Dreyer se blou geranium geskryf het, was ek verras hoe lekker dit was om oor ’n karakter van my ouderdom te skryf en ek het geweet ek gaan dit weer doen.

Ek dink die temas was hier eerste voordat ek aan die karakters gedink het, maar dit het waarskynlik hand aan hand gegaan. Ek kan nie meer presies onthou nie.

Ek wou in die boek oor die sake skryf waaroor ek en my vriende deesdae praat en wat ons lewe geword het: kinders wat die nes verlaat, maar nog nie heeltemal op eie bene kan staan nie; kinders wat soms vreemde keuses maak wat jy moet respekteer, want dit is ná alles hulle lewe; die agteruitgang van die lyf; en veral die issues met ouers wat oud en siek word en die besluite oor ouetehuise en versorging; en so aan.

Ek beplan nooit vooruit wanneer ek ’n boek skryf nie, maar het gewoonlik ’n tema in gedagte en die karakters kom taamlik gou. Ek weet dadelik min of meer hoe die storie gaan eindig. Ek skryf die einde dikwels eerste, hoewel ek natuurlik later baie daaraan skaaf. Oor hoe ek daar gaan kom, het ek gewoonlik nie ’n koekie se clue nie. Maar dis die lekker van skryf vir my, dat dit ’n heerlike avontuur is.

Ek duik in ’n storie in sonder om te weet waar ek gaan uitkom. Dis ’n baie deurmekaar organiese proses wat ek baie geniet, maar wat my ook baie jittery maak. Dit verras my elke keer as daar ’n boek heelhuids anderkant uitkom. Maar dit is blerrie bitter en harde werk, jy wil nie weet nie. ’n Mens is so blootgestel as die boek verskyn het. Enigiemand kan met groot, plat voete op jou hart trap.

Ek het gedink, terwyl ek die boek lees, dat die mark vir vyftigers dalk effens afgeskeep word – vir mense in hul vyftigs wat in algemene gesinsituasies leef, bedoel ek. Daar is liefdesverhale tussen jonger karakters. Of hoe ervaar jy dit? Of skryf jy nie vir “’n gaping in die mark” nie?

Ek het nog nooit ’n boek geskryf met ’n spesifieke leser of marksegment in gedagte nie. Dis waarom ek nog nooit gedink het my jeugverhale is uitsluitlik jeugverhale nie.

Ek het nie geweet daar is ’n gaping in die mark nie, maar ek en my bankbestuurder is baie bly om daarvan te hoor en sien reikhalsend uit.

Ek het die vraag aangedurf, die wie-mag-wie-se-storie-skryf-vraag, toe ek jou gevra het oor ’n man wat so in die ervaringswêreld van ’n vrou (ook) inklim om vroulike en manlike karakters te beskryf. (’n Paar jaar gelede het David Nicholls dit gedoen met One day.) En jy doen dit met warmte en empatie. Hoe kry jy dit reg om jou karakters verskillend van mekaar te laat klink? Enige tegnieke, of doelbewuste dinge wat jy in die skryfproses inbring?

Ek dink nie in die eerste plek aan my karakters se ouderdom of geslag nie, maar aan hulle as mense. Wie is hulle as hulle alleen is en wat is hulle goetertjies en dingetjies?

Daarom is ek ewe gemaklik om oor vroulike en manlike karakters te skryf (soos baie ander skrywers) en bedink ek nie verskillende tegnieke vir elk nie. Ek bedink in elk geval geen tegniek van enige aard as dit by skryf kom nie.

Ek glo dat jy jou karakters goed moet ken en weet hoe elkeen se kop werk. Dan is dit maklik om hulle as eiesoortig te skryf sonder dat jy daarop moet konsentreer om hulle deur middel van ’n kunsmatige tegniek individue te maak.

Soos reeds gesê, ek het geen stelsel nie. My instink het tot dusver vir my die wa deur die drif getrek en my gebrek aan ’n stelsel van die een of ander aard pla my nie meer soos tydens my eerste pogings nie.

Jy is meestal bekend vir die skryf van jeugverhale. Wil jy dalk uitbrei op hoe dit vir jou verskil van die skryf van boeke vir volwassenes?

Ek het nog nooit gedink dat ek spesifiek jeugboeke skryf nie. Volwasseneboekklubs wat my jeugboeke lees nooi my dikwels om met hulle te kom gesels. Ek verpes die rigiede klassifikasie van jeugboeke in ouderdomsgroepe. Lesers werk nie so nie, boeke ook nie. En as jy ’n matriekmeisie as hoofkarakter geskryf het, beteken dit ook nie jy het ’n boek net vir jongelinge geskryf nie.

Marita van der Vyver het die spyker onlangs op die kop geslaan toe sy gesê het dat ’n goeie jeugboek nie ouderdom ken nie.

Dus nee, ek skryf maar altyd dieselfde, ongeag die ouderdom van die karakters en die lesers, aan wie ek glad nie dink nie.

Wat lees jy?

Enigiets, veral koerante oor ’n naweek as ek vir ’n verandering nie werk het om te doen nie. Die politiek lê my baie na aan die hart. Maar ek volg die Afrikaanse letterkunde ook taamlik noukeurig.

My groot gunstelinge is Etienne van Heerden (sjoe, vir Die swye van Mario Salviati), Eben Venter (sjoe, vir die kordate Santa Gamka met die mooiste eerste sin ooit) en Ingrid Winterbach. Hulle hou my baie nederig.

Winterbach se Die aanspraak van lewende wesens is waarskynlik my gunsteling Afrikaanse boek van alle tye.

Wat skryf jy op die oomblik?

Dit gaan simpel klink, en as iemand anders dit vir my sou vertel het, sou ek beslis my oë gerol het. Ek het verlede jaar een nag ’n storie gedroom oor ’n Afrikaanse gesin wat ’n skrikwekkende ervaring in ’n vreemde land beleef het. Nee, ek weet nie waar daai droom en die vreemde land vandaan gekom het nie, en Chardonnay was nie eers naby ter sprake nie. Ek werk nou so aan en af tussen die vele day job-dinge daaraan. Dalk is ek heldersiende of het buitensporige vermoëns en hoop en ek bepeins dikwels die droom. My drie seuns sê: Nee wat, Pa, jy is maar net effens af. Nou ja toe. Ek vertrou my drie seuns.

Maar ek dink dit is oukei om effens af te wees.

The post <i>Tussen vriende</i>: ’n onderhoud met Derick van der Walt appeared first on LitNet.

Koms van die motman: ’n onderhoud met Chris Karsten

$
0
0

Koms van die motman
Chris Karsten

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798176224

Skrywers oor hul nuwe boeke: Chris Karsten gesels met Naomi Meyer oor sy boek Koms van die motman.

Chris, baie geluk met Koms van die motman! Ek wil jou boek beskryf as ’n letterkundige spanningsroman, want jy trek die leser binne met ’n interessante karakterstudie van een van die prominente karakters in die boek voordat die cliffhanger aan die einde van ’n vroeë hoofstuk aankondig wat die leser benoud gaan maak. Wat is vir jou die belangrikste in die storie: karakter of plot? Of iets anders?

In die krimigenre gaan alles (ten minste soos ek dit sien en ek en my karakters dit uitleef) oor goed en kwaad, waarheid en onwaarheid, held en skurk, karakter en plot. Al hierdie elemente is vir my onskeibaar soos pap en melk. Ek hou veral van karakters (slegtes én goeies) wat nie heeltemal heel is nie en die storie dryf met optredes wat konflik skep. En sulke botsende gedrag, gemotiveer deur innerlike en/of uiterlike wroegings, lê tog in die hart van elke spanningsverhaal.

Kan jy die storie van Koms van die motman kortliks opsom? Of vertel watter raaisel(s) opgelos moet word?

In hierdie sesde boek waarin speurder Ella Neser verskyn, het sy geen moord om op te los nie. Toe sy in matriek was, is haar polisieman-pa so ernstig in ’n skietery gewond dat hy sedertdien in ’n koma is. Koms van die motman handel oor Ella se speurtog na die waarheid oor wat presies destyds gebeur het. En tipies van haar aard is sy bereid om selfs haar loopbaan en die mense naaste aan haar op te offer in haar koppige soeke.

Wat was die sneller van hierdie verhaal vir jou? Jy kan ’n paar dinge noem wat geïnspireer het as jy wil.

Die leser ontmoet Ella en haar komateuse pa die eerste keer in Abel se ontwaking, en daarna word in al vyf opvolgende Ella-boeke na hom verwys, soms net sydelings, soms in meer besonderhede. Sy is haar ouers se enigste kind en in die reeks boeke word dit mettertyd duidelik dat sy van kleins af baie geheg aan haar pa was: hy was haar held en sy wou in sy spore polisie toe gaan. Sy skietery het ’n traumatiese uitwerking op haar jong gemoed gehad, soos dit vir enige kind sal wees. Ek het gedink dit word tyd om die “ware” storie van die skietery te vertel, veral omdat daardie verlede nou haar toekoms kan beïnvloed.

Soos jy gesê het, is hierdie jou sesde Ella Neser-verhaal. Dink jy dat die leser die ander boeke in die reeks moes gelees het om agtergrond van die storie te hê? Vertel asseblief kortliks iets van die ander boeke in die reeks.

Ella se eerste “trilogie” – Abel se ontwaking, Abel se lot en Die afreis van Abel Lotz – handel oor haar oplossing van ’n reeks moorde wat deur die grillerige Abel gepleeg word. In die tweede trilogie – Die verdwyning van Billy Katz, Die dood van ’n goeie vrou en Koms van die motman – is die stories losstaande van mekaar, hoewel sekere herhalende karakters voorkom. In elke boek word kortliks ’n agtergrond ingeweef sodat dit nie vir die toevallige leser nodig is om enige van die vorige boeke te lees om deel te voel van Ella en haar soms vreemde wêreld nie.

Vertel my asseblief ook van Ella Neser – die motman is in haar verlede, of hoe? Wat kan jy nog van haar vertel? Jy het nou al baie tyd saam met haar spandeer, hierdie karakter. Hou jy altyd van haar en die besluite wat sy neem? Of is dit nie juis ter sake nie?

In die reeks het Ella emosioneel gegroei van ’n jong, onervare en naïewe moordspeurder wat by die diep kant ingegooi word, tot ’n vrou wat in hierdie genadelose manswêreld van moord en roof haar voete vind. Intussen verduur sy al 11 jaar die pyn van die emosionele wond wat sy opgedoen het toe haar pa geskiet is. Dit kan ook ’n rede wees vir haar aanvanklike onsekerhede en waarom sy so sukkel om ’n hegte en blywende vriendskap met ’n man te kweek. Ella word dus elke dag geteister deur die gewone emosies en twyfelinge wat vir die meeste van ons so bekend is – al raak sy soms oorhoeks en algaande meer hardegat in die pogings om haarself te laat geld.

(a) Hoe doen jy jou ander navorsing, soos die geskiedkundige agtergrond? (b) Is daar baie feite in jou stories, of is die boeke fiksie – en die storie dus waar die klem lê?

Navorsing is vir my noodsaaklik, selfs in hierdie genre wat as blote afleiding en vermaak gesien word (in soverre fiktiewe moord vermaaklik kan wees). Krimistories speel af in ’n wêreld van skynwaarhede van gevestigde forensiese en polisietradisies en -protokol, waarsonder jou storie sy geloofwaardig sal verloor. Ek kombineer dus my fiksie met sekere feitelike en selfs historiese gegewens, soos veral hier in Koms van die motman. Maar die feite bly net in ’n ondersteunende rol en sal nooit die storie oorneem nie. Byvoorbeeld: wanneer ek op ’n antagonis besluit wat in my storie spesifieke sosiopatiese of psigopatiese karaktertrekke moet openbaar, gaan soek ek in die kriminologie na so ’n werklike misdadiger wie se afwykende gedrag ek vir my skurk kan afkyk. Vir Abel Lotz het ek byvoorbeeld die psigiatriese verslae van die Amerikaanse moordenaar Ed Gein in die 1950’s bestudeer. Hy is die “inspirasie” vir baie gruwelboeke (soos Hannibal Lecter in The silence of the lambs) en gruwelflieks (soos Hitchcock se Psycho).

(a) Jy skryf nie altyd spanningsverhale nie, maar wanneer jy dit wel doen: Waarom doen jy dit? Wat is vir jou lekker en wat is uitdagend van spanningsverhale skryf?

(b) Wat is anders vir jou wanneer jy ’n verhaal skryf wat nie verpak word as ’n spanningsverhaal nie? Hoe verskil die skryfproses, indien hoegenaamd?

Ek het my fiksieskrywery met twee jeugboeke begin, maar toe het my joernalistieke loopbaan al meer tyd en energie geverg, sodat ek langer as tien jaar later eers weer my hand aan my persoonlike skrywery kon waag. Die joernalistiek was ’n goeie leerskool vir die niefiksieboeke wat ek toe aangepak het. Maar die hunkering was groot om op my verbeelding pleks van feitelike gebeure staat te maak en om weg te kom van werklike mense en hulle gedrag aan wie jy niks kan verander nie; ek wou my eie karakters skep en hulle fiktiewe stories vertel. My eerste roman was Frats, losweg gegrond op die lewe en dood van Saartjie Baartman. Dit het die ATKV-prosaprys gewen en my latere skryfloopbaan opnuut op koers gesit. Fiksie het my ook uiteindelik verlos van die boeie van die joernalistiek en niefiksie, in die sin dat ek vry was om enige van my karakters as’t ware ’n snor te gee of die snor af te skeer, sou ek wou. Soos Capote gesê het oor In cold blood, sy sogenaamde niefiksieroman waarin hy gebind was om hom by feitelike gegewens en werklike mense en hulle voorkoms te hou.

Wat lees jy (op die oomblik), of noem ’n paar van jou gunstelingboeke en skrywers?

Ek het die gewoonte om meer as een boek op ’n slag te lees. Tans lê langs my bed Jesmyn Ward se hartroerende Sing, unburied, sing, en langs my leesstoel is Everything that rises must converge, ’n bundel kortverhale van Flannery O’Connor. Ek lees wyd en hou daarvan om nuwe skrywers te ontdek en oues te herontdek. Ek het nie spesifieke gunstelinge nie, net ou staatmakers so uiteenlopend soos Hemingway, Graham Greene, Thomas Harris, John Irving, Khaled Hosseini, Philip Roth, Stephen King, Elmore Leonard, Richard Russo, Dashiell Hammett, Raymond Chandler, Don LeLillo en Louis L’Amour.

Waaraan skryf jy volgende?

Ek het min bygelowe, behalwe dié een wat iemand anders ’n slag min of meer só bewoord het: om te praat oor ’n skryfprojek waarmee ek besig is, is om ’n gat in my kop oop te maak waaruit alle wonderlike nuwe gedagtes uitlek en verlore gaan.

The post <i>Koms van die motman</i>: ’n onderhoud met Chris Karsten appeared first on LitNet.

Hierdie huis: Herman Lategan gesels met Kleinboer

$
0
0

Hierdie huis
Kleinboer

Uitgewer: Uitgewer
ISBN: 9781415207321

Kleinboer se laaste boek in sy trilogie, Hierdie huis, het eersteklas resensies ontvang, en tereg. Herman Lategan gesels met hom oor nagblomme, papsakke, houtbaadjies (doodskiste) en sandkomberse (die sand op ’n graf).

Jou boek is outofiksie, waar waarheid en verbeelding heerlik saam samba en ’n sensuele dans word. Soos onder andere Hennie Aucamp is jy gereeld ’n flâneur wat honger en nuuskierig wandel deur neonbeligte stede van die nag. Wat is daardie hunkering wat ’n mens van kroeg tot kroeg en lyf tot lyf dryf?

Ek het nie "early affirmation" gehad nie. Ek het tienerromanse misgeloop, al was ek as skoolseun heimlik op minstens drie meisies verlief en het ek Jan van Elfen se Wat elke seun moet weet gelees. Ek het die hunkering in my binnekamer bewaar, so daar was ’n groot onvervuldheid wat tot uitbarsting moes kom. Toe word ek later ’n rondloper, of soos jy dit meer beskaafd stel, ’n flâneur. ’n Rondloper oorwin nie, hy neem in, maar dis oukei. Ek het die underbelly verken.

Ek het my eerste seks eers op ouderdom 27 gehad, in soel New Orleans, Amerika. In my eerste boek, Kontrei, was ek te skaam om die 27 jaar plus sowat sewe maande te erken, toe stel ek dit meer kripties: my eerste seks 10 000 dae plus nog 100 dae ná my geboorte. Ek moes dit in die buiteland doen om weg te kom van die lang Calvinistiese skaduwee. Ek was ’n veer wat ondertoe gedruk en daar gehou is vir jare; die spanning het vreeslik geword en moes losgelaat word. My eie Orkaan Katrina het die dyk eindelik gebreek.

Ek is aan die introverterige kant. Is rondfok net my manier van uitreik na die mensdom? vra ek in Kontrei, en ek herhaal dieselfde frase later in Hierdie huis.

Ek sou vreeslik min mense ontmoet het as ek nie die underbelly verken het nie. Nou, ná drie boeke, het my lewetjie weer klein geword. Daar is die roetine van huis, werk, huis, werk. Die flâneur in my is aan bande gelê, ek is getrou aan my nuwe(rige) vrou, ek oefen op ’n stilstaande trapfiets in die slaapkamer, voel nie wind deur my hare nie, en die buurt se uitgelate brakke hol nie saam nie. My grootste ontvlugting is ’n zolletjie soms by die braaivleisvuur – dan reis ek met die petrol genaamd paranoia, maar skud dit later af en raak gehipnotiseer deur die laatnagkole. Totdat my vrou my kom inroep huis toe – sy sê die Jack Russell op my skoot en die panga wat langs my lê is nie genoeg beskerming teen betreders nie, en ek sit boonop en visvang in die seilstoel.

Herman Lategan (foto: Philip de Vos)

Op Facebook skryf jy: “I’m always wanted dread and alive by the evil forces ... (Luister na Peter Tosh se lied hier). En hulle het my gekry. Ek moet einde Januarie my werk as taalversorger verlaat oor my profiel (man, wit, bo 60) nie meer by hierdie maatskappy pas nie. Ek verstaan dit, regtig! Maar is daar iewers ’n plekkie vir my in Johannesburg as vryskut-proefleser of sub, in Afrikaans of Engels? Asseblief. Intussen hou ek aan Lotto speel.” Behalwe die verlies van geliefdes, het jy al voorheen sulke teleurstellings gehad en hoe het jy hulle verwerk?

Ja, daar was ’n verskriklike insident. Ek het dit al vir heelwat mense vertel, maar nog nooit neergeskryf nie (en laat skryf nie meer ruimte vir kleur en geur as vertel nie?).

In September 1983 kom ek terug ná ’n maand in Amerika. Ek was feitlik platsak, al was die rand destyds wragtig sterker as die dollar. Ek het nog ’n paar dae verlof gehad voor ek moes teruggaan na my werk by SA Brouerye in Isando (nie as proeër van bier nie – vervelige adminwerk, helaas). Ek het destyds in Sunnyside, Pretoria, gebly. Ek loop toe een oggend in die middestad en ’n ou keer my voor. Naïewe ek laat my in ’n stegie in lei, en daar sit mans op hulle hurke en kaart speel. Ek word oortuig hoe maklik dit is om te raai watter een van drie kaarte onder die deler se hand versteek is nadat hy vinnige bewegings gemaak het en die geld wat ek sou neersit te verdubbel, en ek loop en onttrek die laaste R600 uit my bankrekening (duisende rande in vandag se geld!). Terug in die stegie staan ek kordaat met die geld in my vuis. Ek sit R20 op die grond en met my voet wys ek daar, daar is die kaart onder die deler se regterhand. Maar skielik word ek van agter gegryp en al die geld word gewelddadig van my afgeneem en die tsotsi's hardloop weg. Gelukkig is ek nie met ’n mes gesteek nie. Wat dit verskriklik maak, is dat die skielike aksie veroorsaak het dat adrenalien my bloedstroom binneskiet. Soos ek worstel om my van die knellende arms om my te bevry, kak ek toe oorvloediglik en onwillekeurig in my broek (die stank het my dalk van ’n lem gered). Ek was ’n hele ent van my woonstel in Sunnyside. Ek was geklee in slegs ’n T-hemp, swart PT-kortbroek en sandale. Ek loop toe ongemaklik, my onderbroek swaar gelaai met die angsdrol, my bene styf-styf soos ’n ou wat pas die Comrades-marathon voltooi het. Ek haal ’n bus maar gaan staan doer in die hoekie, weg van die ander passasiers. Om te gaan sit, sou dinge net vreeslik vererger en morsiger gemaak het. By die Sunnypark-woonstelle sorg ek dat ek alleen in die hysbak is, boontoe na die 21ste vloer, en die reiniging kan begin.

Ek moes toe geld by my pa leen om my deur te sien tot betaaldag, die enigste keer ooit. Iemand het eenkeer geskryf dat mens ná enige ramp op die uitkyk moet wees vir "the seed of equivalent benefit". Nou ja, ek verseker jou dat tsotsi's wat op straat kaart speel of mens mooi dinge belowe, my nooit weer gevang het nie.

Daar is mense wat nog nie die boek gelees het nie, so ek moet doekvoet (saggies en versigtig) oor die storielyn seil – ’n mens wil nie te veel verklap nie. Maar van die roerendste tonele is waar daar sterftes is. Die verhaal vat jou hier, dan daar, en alles is lekker jollie (op die oppervlak), en skielik slaan die woorde en tonele jou wind uit. Dit bring my by die swart hond en ennui. So tussendeur al die katelkaskenades en nagvlinders is daar ’n ysige mineurtoon. Het jy altyd hierdie hartseer in jou gedra, al van kleintyd af?

Dis ’n moeilike vraag, Herman. Ek sal antwoord deur ’n fragment uit Hierdie huis aan te haal wat Ingrid Winterbach se frase "donker vermoede soos ’n skaduwolk oor my gemoed" bevat, en ten spyte van my mineurtoon, hopelik ook humor:

Breinspoeling in my kleintyd het the fear of God in my gesit, veral dié vier frases: strafkampe in die uitgestrekte, yskoue Siberië; laster teen die Heilige Gees; die gruwel van voorhuwelikse seks; en Christus se dreigende wederkoms met die hel se vlamme wat wag vir lasteraars, rondfokkers en ander sondaars.

In Ingrid Winterbach se Die boek van toeval en toeverlaat word beskryf hoe ’n meisie se vertroebelde jeug ingelei word deur die roep van ’n pou op ’n Vrystaatse plaas en die afsterwe van ’n swanger swart jong vrou. My vertroebelde jeug is ingelei in die Van der Horst-koshuis op Wolmaransstad in 1968, toe ek 12 was. My pa is vanaf Kemptonpark na plat Wolmaransstad verplaas vir die laaste ses maande van daai jaar om daar wiskunde te gee. Ek en my tweelingbroer was in standerd 5 (deesdae graad 7), maar is in die hoërskoolkoshuis slaapplek gegee terwyl ons ouers in ’n kamer in die onderwyserskwartiere gebly het. In die koshuis is ek en my broer vir die eerste keer oor seks ingelig danksy wêreldwyse hoërskoolseuns. Die donker vermoede soos ’n skaduwolk oor my gemoed het my een naweek getref toe al die koshuisseuns weg was na hulle ouerhuise. Dit was laatwinter en ’n mistroostige Wes-Transvaalse wind het gewaai. Ek was alleen op die trappe wat na die tweede verdieping van die koshuis lei. Ek het daar gestaan en deur ’n groot venster op ’n binnehof afgekyk. Daar was nie ’n siel in sig nie. My tweelingbroer was dalk in die badkamer of by ons ouers in hulle kamer. Ek en hy het reeds begin katkiseer. Ek het gestaan en dink aan die hardeband-katkisasieboek met die growwe grys omslag en die ewigheidsleringe en verdoemenisse wat daarin gepredik word. Die wind het meteens ’n klomp droë blare op die sementblad van die verlate binnehof saamgekolk en ek is oorweldig deur gevoelens van verlange, verlies en eensaamheid en ’n nuwe wete dat die lewe nie so maklik en sorgvry gaan wees as wat dit tot dusver gelyk het nie. Vir die res van my jeugjare, en eintlik nog tot diep in my twintigs, sou ek soms verskrik in die donker nag regop sit uit ’n nagmerrie of gewek word deur ’n donderslag en bevrees dink dat die Oordeel op ons is en dat ek geweeg en te lig bevind gaan word en in die ewige hellevuur gaan brand.

Vandag op die toilet het ek vaagweg die hoekhuis in Wolmaransstad onthou waar ek en my broer klavierlesse by ’n middeljarige vrou gekry het. Dis meer as 40 jaar gelede. Ek het die klavierjuffrou se gesig vergeet, maar ek onthou die erf se ruie, hoewel steeds geordende tuin met baie blomme en berankte grensdrade en ’n raserige hekkie. Ek het eenkeer ná ’n klavierles ’n moerse opelyfbehoefte gehad, maar was te skaam om die juffrou te vra of ek haar toilet kan gebruik. Die Van der Horst-koshuis was sowat ’n kilometer weg, en ek het myself met ’n skuifeldraffie vol lyding daar gekry, by die naaste toilet ingebars en gekak soos Peter Illich Tsjaikowski teen die einde met cholera.

Jy hou van lysies maak. Orden dit die chaos, gee dit ’n gevoel van in beheer wees, of is dit maar net gewone dwangneurose?

Kleinboer

All of the above. My vroegste kennismaking met lysies was die gebruikte koeverte waarop my neurotiese ma haar inkopielyste neergeskryf het, asook die disse wat sy elke dag tuis wou berei. Sy het potlood gebruik, ek gebruik pen. Lysies is maar daar om mens se geheue te help. Soms dink ek terwyl ek bestuur aan drie dinge, dan kom ek by my bestemming aan en onthou net een of twee – baie frustrerend. Dalk moet ek belê in ’n stemopnemertjie wat ek in my kar kan gebruik. Maar dit gaan heelwat kere die skelwoord "doos!" opvang – kruiende bestuurders en dié wat die verkeersreëls oortree, koer my moer werklik erg.

Dis onmoontlik om proviand te gaan koop sonder ’n lys so lank soos jou arm. Anders kom jy tuis en vind jy het die bliksemse suiker vergeet, dan moet jy jou koffie bitter drink. Ek skryf nie net dinge neer wat ek moet koop of doen nie, maar ook sinnetjies wat ek in ’n boek kan gebruik, soos "Die uitwerk van nuwe lotery-nommers het geen einde, en om ’n grasperk te sny is ’n vermoeiing van die vlees."

Wanneer ek ’n item op ’n lysie afgehandel het, krap ek dit dood. Hier lê ’n stapel ou lysies in my skryfkamer, want al die items is nog nie doodgetrek nie. Eendag wil ek ’n groot bonfire met hulle maak sodat al die ongedane dinge kan wegbrand.

Ek hou van romans wat nie net blokke teks bevat nie, maar hier en daar ’n lysie het. Voorbeelde is Jonathan Franzen se The corrections en Ryk Hattingh se Witskrif.

Die titel van Loftus Marais se MA-verhandeling was: “Die huis as betekenisvolle ruimte in enkele Afrikaanse gedigte, met spesifieke verwysing na die bewoningsfilosofieë van Heidegger, Bolnow en Bachelard”. In sy algemene inleiding skryf hy: “Ruimte in die poësie is veel meer as agtergrond of inkleding. Dit is dikwels ’n integrale deel van liriese uitbeelding. Soms is ’n spesifieke ruimte ook die fokus van poëtiese ondersoek. Die huis is ’n ruimte wat as onderwerp uitgebreid in die poësie verken word. As intieme domein wat die ganse lewens van individue bevat, word dit beklee met ’n sekere intensiteit wat dit bo ander ruimtes laat uitstaan. Die mens se vertroude en voortdurende omgang met die huisruimte maak dus daarvan ’n gelade domein wat by nadere ondersoek die leser bewus maak van verskeie waarhede oor die menslike bestaanswyse.” Dit laat my dink aan jou huis. Is dit ook ’n “gelade domein” en watter rol speel daardie “ruimte” in jou boek?

Selfs ’n rondloper het ’n sterk drang om telkens na sy huis, sy vertroude ruimte, terug te keer. Dis seker in ons DNS vasgelê oor derduisende jare. Kyk maar na die voëlformasies in die lug kort voor sononder. Ek keer terug na my huis waar die hond se stert van blydskap waai en selfs die goudvissies name het. Ja, in my boek is die huis beslis ’n "gelade domein". Die woord "huis" kan teruggelei word na die Griekse keuthos: verborge diepte. Hier word baklei, liefde gemaak, vuur gestook, kos gekook, gedroom.

Die hoofkarakter in die boek verlaat telkens die huis om werk toe te gaan, en van daar doen hy saans soms ’n kroeg of bordeel aan. Maar dan is daar die drang om hoof op eie kussing te gaan neerlê. Ook Lungi verlaat die huis so te sê daagliks – sjebiens is magnete wat haar aantrek. Maar die groter magneet, eie huis, seëvier laataand. Daar is wel op ’n kol ’n krisis in die boek wanneer sy vir drie dae glad nie huis toe kom nie, maar dis uitsonderlik.

Ek het my eie huis later as die meeste mense bekom – ek was reeds 34 toe ek die woonstellewe gegroet het. Ek het dadelik ’n lysie gemaak van dinge wat reggemaak moet word, maar sommige daarvan, soos die hangende geute met hulle gate, lyk ná twee en ’n halwe dekades steeds dieselfde, of erger. Tog het die stoep, badkamer en kombuis nou netjiese teëlvloere, maar onhandige ek moes nutsmanne inkry daarvoor – my neus is altyd in ’n boek en my ore naby ’n CD-speler.

As ek my hele lewe nog net in woonstelle gebly het, sou die boeke wat ek voortgebring het, baie anders gelyk het, of ek sou dalk niks gepubliseer het nie. ’n Huis is geanker in die aarde, jy voel jou wortels, jy het materiaal om oor te skryf.

In die boek is dié versugting: "Ek wou al dikwels wegkom van hierdie huis met sy kakkerlakke, lekkende dak en rotte." Ek speel toe met die titel Hierdie huis met sy kakkerlakke, maar my vriend Jean Meiring beveel aan ek verkort dit, en hy was reg.

Andries Visagie skryf oor Kontrei en sê daar is ’n spanning tussen Eros en Thanatos. “[D]it wil sê die uitgelate en vitale bevestiging van seksuele genot teenoor die somberder representasie van seksualiteit in die verlengde van dood en gevaar, op verskillende maniere aanwesig in die seksuele outobiografie.” Stem jy saam en is dit ook in Hierdie huis aanwesig?

Ek stem saam met Visagie se stelling. Iewers het Breyten dié refrein in ’n gedig: "ek ’n bietjie dood". My interpretasie is dat hy na die orgasme verwys.

In my boek besoek die hoofkarakter ’n bordeel, daar is ’n sessie op die bed en dan: "Agterna hardloop ek uitgelate en kaal die entjie in die gang af van Andile se kamer na die kommunale badkamer om te gaan was, en sy volg laggend met ’n pienk handdoek om haar en liggroen seep in haar hand." Ja, dis ’n uitgelate, vitale bevestiging. Maar elders in die boek breek die kondoom in ’n bordeel, dan ry die hoofkarakter bevrees na ’n hospitaal en vra die dokter om ARV's voor te skryf. "Ek sluk die pille met water af. Go, boytjies, go! Hardloop deur my slagare en are soos PacMannetjies en maak die vyand vrek! Of duik soos kamikaze-krygertjies op die virusfokkertjies neer, asseblief! Ek onthou ’n teksversie uit Deuteronómium: So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei."

Ek huldig ook die teorie dat ’n man tydelik doof word naby fyndraai. Dis omdat Moeder Natuur hom geprogrammeer het om sy saad ten alle koste in die vrou te skiet om die spesie se voortbestaan te verseker. Moeder Natuur wil nie hê hy moet sy voël uitpluk en die kosbare saad op die grond mors nie, en daarom maak sy hom doof vir naderende gevaar. Die senuwee-eindpunte in die voortplantingsorgane gaan so op in die heerlikheid van die orgasme dat alle ander sintuie so te sê uitgedoof word. Dis hoekom ’n krakende matras naby die einde van ’n pomp mens veel minder steur as aan die begin, al kraak die matras nog erger teen die einde. Die mannetjie is weerloos, die wêreld buite sy eie lyf en dié van die wyfie vervaag. Hy maak selfs onwillekeurig meestal sy oë toe wanneer hy kom. (Hy kan wel die stroom probeer teëgaan. In Dan Roodt se Kommas uit ’n boomzol is daar ’n afdeling met die titel “Ek het gedurende geslagsomgang my oë oopgehou”.)

Hierdie is nie kritiek nie, dis net ter agtergrond. Andries Visagie skryf ook (oor Kontrei): “Daar is egter diegene wat bedenkinge het oor die geslaagdheid van ’n identiteitsoeke wat histories gestigmatiseerde praktyke soos die seksuele uitbuiting van prostitute en die erotiese objektivering van die swart vroulike liggaam deur wit mans as vertrekpunt neem. Hoewel Rebekah Kendal (2006) verwag dat Kontrei ’n seminale werk van die postapartheid literatuur in Suid-Afrika sal wees, is sy nietemin krities oor die verteller se erotisering van die swart vroulike liggaam en sy skryf: ‘His attempts at redefining himself by inscribing himself in and on the bodies of black women is ultimately futile ...” Wat is jou siening hiervan?

Ek het vroeër in dié onderhoud gesê ek was ’n seksueel onderdrukte. Ek was ’n verstopte vulkaantjie. My seksuele voorkeur vir swart vroue is meer ’n persoonlike as ’n politieke ding. Sommige van my beste vriende is wit vroue, ek kan met hulle oor poësie en rockmusiek gesels, maar ek is aangetrokke tot die kurwes van ’n swart lyf. Om die oorsprong daarvan vas te pen is onmoontlik, maar dalk het vroeë imprinting daarmee te make. Miskien het ’n huishulp my as kleuter eroties meer geroer as my ma. Ek het geril wanneer ek as tiener per ongeluk my ma se bleekwit bobeen gesien het – dit was vir my onbehoorlik. My ma het vir my in die kategorie van maagdelike Moeder Maria geval. Wellus is vir my gekoppel aan swart, nie wit nie. Ek verkies uitstulpende boude bo ’n plat gat, Brenda Fassie bo Juanita du Plessis. Daar was wel later wit vroue wat vir my eroties was, byvoorbeeld die punksanger Nina Hagen.

My seksuele ontwaking was ’n rebellie teen die onderdrukking van kerk, skool, ouerhuis en samelewing (ek moet byvoeg dat ek myself nie as ’n willose slagoffer ag nie – ek het my láát onderdruk). In my laat 20's en selfs 30's was my middelvinger soos ’n ereksie. Ek bely ek is nie ’n rolmodel vir ’n geestesgesonde in Sielkunde 101 nie. "I have a few of my own fault lines running under my life," sing Tom Petty. (Beuselagtige Thomas. Hy is onlangs oorlede; ek luister tans oor en oor na sy album van twee jaar gelede, Hypnotic Eye.)

Dat ek met swart vroue "reggekom" het ... wel, dis maar hoe die kokende magma die paadjie uit die verstopte vulkaantjie na bo gebreek het om spuitende lawa te word. Ek het wel lekker letterkundige speletjies met oorskrydende seks tussen wit en swart gehad, veral oordat so min ander mense daaroor geskryf het. Hierdie "asprisse" gediggie het LitNet destyds gehaal, maar gelukkig nie een van my boeke nie:

die Here het my benagsaam hier
aan die suidpunt van donker Afrika geplaas
om swart vroue te kersten
ek bedoel kers
ek bedoel waks
ek bedoel wiks
ek bedoel brand
wit soos ’n uitlaatpyp.

Was dit alles futiel? Ek het met honderde jong vroue seks gehad. Heelwat van hulle is seker nou al dood (hulle het gevaarlik naby aan dodelike virusse geleef), en die oorlewendes is nou al te oud om vroue van die nag te wees. Sal daar dalk nou net een van hulle met haar rug teen ’n landelike kleimuur in die son sit en my vlugtig onthou? My gesig, iets wat ek gesê het, my vals naam? (Ek het vroue in kroeë vertel ek is Jimmy want ek was bang hulle spreek Fanie as Fannie uit.) Bruin Lizzy van Bonteheuwel in die Kaap wat in haar bordeelkamer vir my sê: "Ek sê vir my ouma ek is nie ’n hoer nie, maar ek doen ’n hoer se werk.” Onthou sy dit? Ek onthou dit oor ek dit neergeskryf het, en dis vir my nie futiel nie. Die hoere het soveel op my “geskryf” as ek op hulle.

Heeltemal op ’n ander noot: Verbeel ek my of het jy my eenkeer vertel jy het die psigiater en digter Casper Schmidt geken? Indien so, vertel meer.

Ek het Casper nie geken nie, maar besit wel ’n bundel van hom, Terra incognita (1974). By ’n samekoms van digters en aspirantdigters aan huis van Johann Lodewyk Marais in Pretoria in 1983 het ek vertel van my voorgenome reis na Amerika. Ek noem toe dat ek gelees het Casper woon in New York, dalk moet ek hom probeer besoek. Toe sê Johann de Lange, wat ek net daai een keer ontmoet het, met ’n grinnik ek moet pasop vir Casper. Ek het eers later, toe ek uitvind Casper was gay, besef waarop Johann gesinspeel het. En nee, ek het hom toe nie in New York probeer opspoor nie.

Uit Terra incognita – ek hou hiervan:

Twee voete het voor my deur getalm
om vieruur en kwart voor vyf: voëls
in die bome en mis oor die stad.

En elders:

Jy is ’n walgingwekkende alp tussen mindere pieke.

En:

iewers loop in jou tenger gees
ertsriwwe van christus en toorkuns,
soepel liedere van jou mees mistiese
onbleikbare ervaring, en die bose –
ironiese kragte
waaroor jy herhaaldelik panies bieg.

En:

’n maskerbal van die lewe, ’n rare fees,
’n private heelal onkeerbaar op reis.

En:

Nou swel die bekken tot iets verskrikliker as ’n hekseteks.

En:

Hoe lank sal die dromerige winterbome die grys tinktinkies verwerp?

Wat is jou mooiste herinneringe aan jou kinderjare?

Ek was ses of sewe jaar oud toe ek deur ’n onbeboude erf gestap het onderweg huis toe ná skool. Ek het ’n stowwerige kruik in die bosse gesien en opgetel. ’n Lieflike wit kruik waarop blompatrone geverf was. Ek was in erg my noppies daarmee en het dit tuis vir my ma as ’n geskenk gegee. Sy spoel dit toe onder ’n kraan skoon en tap water daarin, maar ag, toe spuit water deur ’n gaatjie soos ’n engeltjie wat piepie. My pa het so lekker gelag dat die gaatjie vir my nie eens ’n teleurstelling was nie. Ek kan nie onthou of my ma die kruik dadelik weggegooi het nie – ek hoop nie so nie.

En dan is daar die minirok en bene van juffrou Gerber, ons blonde kunsonderwyseres in standerd 6. Van die seuns het bespiegel of hulle skelmpies spieëltjies bo-op hulle skoene moet plak sodat hulle die juffrou beter kan beskou wanneer sy tussen die skoolbanke deur loop.

Vir diegene wat nog nie die boek gelees het nie: die Lotto is ’n leitmotief regdeur die boek. Kan jy verduidelik hoe dit werk, hoe dit tot die narratief bydrae?

My salaris is kleinerig, en groot erfgeld is my nie beskore nie. Ek het nie die ballas om ’n bank te gaan beroof nie. Nie dat ek stinkryk wil wees nie, maar ek wil darem my kleinkind se skoolfgelde aanhou betaal, sterk jeans vir my vrou aanskaf, goeie wyn kan koop en lekker vleis braai tot aan die einde van my dae, en ’n goeie dokter kan bekostig wat nie skaam is om morfien voor te skryf nie. Nou vat ek maar ’n kans met die lotery, kyk ek of die geluksgodin na hierdie ou mensie wil afbuig. Maar ek is realisties: "Mens staan ’n groter kans om deur ’n vallende klip uit die hemel getref of deur die weerlig raakgeslaan te word as om die boerpot te wen." En: "Statisties is dit waarskynliker om deur ’n krokodil gevreet te word as om al ses nommers reg te kry, het ek in ’n koerant gelees. Ja, mens se kans is vrekklein, maar as jy nie speel nie is jou kans nul, so ek hou maar aan."

Ook uit my boek: "In 2000, toe Lotto hier ingestel is, het ek (dadelik ywerig) 49 stukkies karton uitgeknip en ’n getal op elk geskryf, 1 tot 49. Toe gooi ek die genommerde meneertjies in ’n koekblik en maak die deksel toe. In die tuin het ek die blik in die lug gegooi sodat die kartonnetjies geskommel kon word, die blik gevang, dit weer en weer boontoe getol en gevang vir deeglike vermenging. In die huis het ek my oë toegemaak, met die blik oop, voel-voel willekeurig ses stukkies karton uitgehaal en die getalle in die kolom van ’n vormpie ingevul: 4, 12, 13, 34, 41, 46."

Maar toe soek ek ’n meer poëtiese manier, ’n minder kliniese metode, om Lotto-nommers uit te werk, en ek betrek die alfabet. Ek het ’n obsessie met die alfabet en met getalle. In my boek probeer ek aandui dat letters en syfers as simbole ineengevleg is. Ek skryf: "Handelaars het lank gelede hulle voorraad getel en woorde gemaak. Die woord taal kan teruggelei word na die Ou-Hoogduitse Zala, wat getal beteken het, ook optel. ... En die Ou-Saksiese tellian het tel, opsom, meedeel beteken, en later tale (verhaal) geword."

My Lotto-metode is te ingewikkeld om hier te verduidelik (ek doen dit wel geduldig in die boek – selfs mense met slegs graad 2-rekenkunde agter hulle naam behoort dit te snap), maar basies gebruik ek A = 1, B = 2, C = 3 ... Z = 26. Ek maak sinne en voer hulle in ’n formule in om by Lotto-reeksies van ses nommers elk uit te kom.

My Lotto-spelery, elke Woensdag en Saterdag, is ’n leitmotief, ja. Die lewe is mos ’n siklus ... braai elke Saterdag, opkyk na die volmaan elke 28 dae, daagliks jou Viagra sluk en vir die vlaghysing wag (nee, ek speel sommer ... slegs twee maal ’n week).

Uitskietgebeurtenisse fassineer my, dinge wat selde gebeur maar ’n groot impak het. Die Springbokke wat die All Blacks in Nieu-Seeland troef ... ’n tsotsi wat ’n oumatjie wil beroof, mes dreigend in die lug, maar dan word hy voor haar oë deur ’n weerligstraal doodgeslaan, haar klere net effens geskroei maar sy is ongeskonde en haar beursie steeds veilig in haar bra ... en iemand wat die Lotto wen na talle futiele probeerslae. Hierdie ou kleinboertjie wat die massiewe boerpot in sy hande hou en skaterend straataf hardloop. Soos Bob Dylan sing: "He won the war after losing every battle."

’n Vervelige vraag, maar interessant vir my: Hoe het jy die sprong van die IT-bedryf na sub en taalversorger by koerante gemaak?

Ek dink nou aan ons wat as seuns in die winter tydens pouse by die skool in die son gesit het. Een seun het voor ’n ander een gaan staan en hom in skadu gelaat. Toe sê die een wat nou koud kry sonder die sonlig op hom verontwaardig: "Is jou pa ’n glasmaker?" Jammer ek verduidelik die punchline, maar die grappie is dalk obskuur: "Skyn die son deur jou?"

Wel, my pa was nie ’n glasmaker nie, maar ’n wiskunde-onderwyser. Onder sy invloed gaan studeer ek toe wiskunde en rekenaarwetenskap op universiteit. Die liefde vir getalle was nie genoeg om my loopbaan in IT interessant te maak nie. Ek het wel 23 jaar lank in die bedryf uitgehou, maar geleidelik al hoe meer ontgogel geraak. Ek het baie letterkunde gelees en met skrywers gekorrespondeer, byvoorbeeld Koos Kombuis en Johan van Wyk.

My laaste werk in IT was by Hewlett-Packard. Aan die einde van die maand moes al die werknemers om vyfuur van hulle rekenaars afteken vir die sogenaamde month-end run. My kollega het op die konsole in die beheerkamer getik "Please log off immediately, month-end run due to start now." Of eerder, só het dit by sy vingers uitgekom: "Plaes log of imedaitely, month-ed run du to stat new."

Toe gaan hierdie liggie vir my op: ten spyte van my kollega se brabbelsin, het die werknemers almal verstaan wat hy bedoel. Maar ek besef toe ek wil in ’n omgewing werk waar taal eksák gebruik word, waar die regte keuse van woorde en korrekte spelling sáákmaak. Ek het toe as ’n sub by ’n tydskrif begin werk, teen ’n heelwat laer salaris as wat ek in IT verdien het, maar met meer vervulling. Ek het oplaas iets gedoen waarmee ek góéd was! En later na ’n koerant geskuif. My verbeelding kom daar tereg, byvoorbeeld met die uitdink van opskrifte.

Baie van ons plaaslike boeke se buiteblaaie is visueel aaklig. Kitsch, sentimenteel, gerig op wié? wonder ’n mens. Sneeublindes sonder enige visuele geletterdheid? Maar jou buiteblad is ’n treffende kunswerk deur Anton Kannemeyer. Vertel meer daaroor.

Dit was Fourie Botha by Umuzi se slim idee om Kannemeyer te betrek met Werfsonde, en nou ook met Hierdie huis. Ek het ’n foto van my huis gestuur en Anton het die huis treffend op die voorgrond geplaas met die stedelike betonoerwoud agter, en die Hillbrow-toring as ’n falliese ding, as mens dit so wil sien. Ek het egter gevra Anton moet ’n groen grasperkie en ’n boom of wat byvoeg – hoe sal ’n kleinboer dan op slegs ’n sementblad kan oorleef? – en hy het dit gedoen. Ek was baie tevrede, alhoewel die daggaplantjie waarvoor ek gevra het, toe nie in my erf ingeteken is nie.

As Kannemeyer die storie se gevoelswêreld met sy voorblad vasvang, wat sal die agtergrondmusiek vir hierdie boek wees?

"Liefde reg deur die jaar" van Gé Korsten. Nee, eerder "Isolation" van Joy Division, met hierdie lirieke:

If you could just see the beauty,
These things I could never describe,
These pleasures a wayward distraction,
This is my one lucky prize.

Maar ten spyte van my isolasie met tye is daar tog ook samesyn en ’n verlange om die lewe met ander te deel. Laat my toe om uit Kontrei aan te haal – dis ’n stukkie oor die tipe musiek wat my roer:

Toe die ergste hael verby was, het ek in die tuin uitgehardloop en my hande vol haelkorrels geskep en dit binnetoe gedra. “What are you doing?” het Jomo gevra. “Kom kyk.” Ek gooi die hael in ’n glas en skink ’n fris whisky daaroor. Joe Cocker is in die CD-speler. Hy word veral onthou vir die oorgawe, deurmekaar hare, toe oë en spastiese arms waarmee hy in 1969 die Beatles se "With a Little Help from my Friends" in ’n verbleikte, hippierige T-hemp by die Woodstock-fees gesing het. Daarna het Joe baie ander musiek gemaak, niks waaroor mens eintlik opgewonde kon raak nie. Mad Dogs and Englishmen was nie ’n slegte album nie. Toe kom hy in 1989 vorendag met One Night of Sin. Vergeet die res van die songs op die album, speel net die eerste een, "When the Night Comes". Dit het alles: stuwende ritme, ’n kitaarsolo met koorsblare, goeie lirieke, Joe se stem, en die rouste oerkreet in rockmusiek.

… when the night comes
I want to be the one
you run to, I want to be
the one you come to … aaaaaaaaaaaaarrrrrggggghhhh!!!!

Hierdie is nie ’n vraag nie, sommer ’n opmerking. Die mooi name vir papsakke wat jy noem het my opgeval: Lekker Lê, Dis Duidelik, Rooi Harte, en so aan. Jy speel lekker met woorde regdeur die boek. Dit maak die boek besonders, dit wys ons hoe idiomaties en kleurvol Afrikaans eintlik is.

Ek bewonder Engels vir haar funksionaliteit, groot woordeskat en ekonomie, maar ek sal moeilik ’n boek daarin kan skryf, veral ook oor dit nie my moedertaal is nie. In Hierdie huis haal ek hierdie frase uit ’n 1966-woordeboek aan: "Die hel is uitgestraat met predikante se kopbene."

En dié fragment uit my boek sal ook iets verloor in vertaling, dis net so Afrikááns:

"Die maatskappy waar my tweelingbroer werk het ’n sensorprogram geïnstalleer. Nou word e-posse wat skurwe woorde bevat nie meer afgelewer nie. Maar ons flous die fokken vrome Big Brother. Ons skryf kuk in plaas van kak, fock pleks van fok, pous in plaas van poes. Ek het al aan hom geskryf van die lieflikste pous wat ek in ’n bordeel gesien het. Big Brother is so preuts dat selfs e-posse wat die woordjie dobbel bevat, geblok word. Ek en my broer omseil dit deur dowwel te gebruik. Hy raak so gewoond aan ons geheime woorde dat hy hulle soms in die aand in teksboodskappe vanaf sy foon aan my gebruik wanneer niemand ons sensor nie. 'Ek gaan nou dowwel!' het hy eenkeer geteks, maar dit was net dronkpraatjies. Hy het gaan slaap en nie casino toe gery nie en die volgende oggend laat weet hy het ’n pouslike babelas."

Ek het al vir iemand gesê die mooiste reëls in my boeke is nie my eie nie maar die poëtiese stukkies wat ek uit die Bybel se 1933-vertaling uitgesoek het, byvoorbeeld Psalms se "Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval."

Dan is daar heelwat uit Spreuke:

’n Deur draai rond op sy skarniere, so die luiaard op sy bed.

In die skemer, in die aand van die dag, in die middel van die nag en die donker. En kyk, daar kom ’n vrou hom tegemoet, soos ’n hoer aangetrek en listig van hart – sy is onrustig en losbandig, haar voete kan nie in haar huis bly nie – nou buitekant, dan weer op die pleine, en sy staan by elke hoek en loer.

Ek het my bed met dekens opgemaak, met bont spreie van Egiptiese linne; ek het my bed besprinkel met mirre, alewee en kaneel – kom, laat ons dronk word van liefde tot die môre toe, laat ons mekaar vrolik maak in welluste.

Al stamp jy die sot in ’n stampblok tussen graankorrels met ’n stamper, sal sy sotheid nie van hom wyk nie.

Die wyn is ’n bespotter en sterk drank ’n lawaaimaker.

Die Nuwe Testament is minder poëties, maar iewers is daar ’n groot waarheid: "Die tong is ’n klein vlammetjie wat ’n groot hoop hout aan die brand kan steek." Een ou skewe woordjie, een skinderpraatjie kan ’n moerse domino-effek hê!

Baie dankie, Fanie. Wil jy enigiets byvoeg?

Herman, jy het alles gedek! Sommige van jou vrae was turksvye wat my laat sweet het, maar dit was nodig. Baie dankie!

Lees ook:

The post <em>Hierdie huis</em>: Herman Lategan gesels met Kleinboer appeared first on LitNet.

Viewing all 800 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>