Quantcast
Channel: Skrywersonderhoude - LitNet
Viewing all 800 articles
Browse latest View live

Vlerke vir almal deur Marion Erskine: ’n onderhoud

$
0
0

Vlerke vir almal
Marion Erskine
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798174510

Marion Erskine se jeugroman, Vlerke vir almal, handel oor ’n tienerseun, Dewald, se konfrontasie met ’n bullebak wat sy lewe moeilik maak. Dié roman se vlerke het vinnig wyd gesprei, en lesers regoor die land hang behoorlik aan Erskine se lippe en slurp sy Vlerke-verhaal gulsig op.

Ná ’n suksesvolle boekbekendstellingstoer, gesels Marion Erskine met Daleen Venter onder andere oor die inspirasie agter Vlerke vir almal en die gewilde Facebook-groep, die Lekkerlees Boekrak.

Kan jy vir die LitNet-lesers ’n bietjie agtergrondinligting oor die verhaal en die karakters gee? Wat was jou inspirasie? Hoe het dit gebeur dat jy hierdie verhaal neergepen het?

In 2011 het ek op ’n video afgekom van Amanda Todd, ’n vyftienjarige Kanadese meisie wat haar storie oor bullebakkery op plakkate vertel. Sy vertel hoe een dom besluit haar lewe verwoes het. Amanda het die video opgelaai en daarna haar eie lewe geneem. Dit het my só ontstel. Waar was haar ouers? Waar was haar vriende? Het sy ooit vriende gehad? Waarom was selfdood haar enigste opsie? Hoe alleen moet iemand wees voor so ’n besluit? Amanda het by my gespook en ek het geweet dat ek ’n storie moes skryf om jongmense en veral ouers en onderwysers te waarsku oor die evolusie van boelies. ’n Boelie is nou nie net meer ’n groot seunskind wat jou agter die rugbyveld bykom nie. Dit is nou ’n klein, maer outjie wat agter sy selfoon skuil en grootbek is. My siel het eers tot rus gekom nadat ek met Hoofstuk 1 begin het.

Skrywers kan jou vertel dat karakters soms in hulle harte bly voordat hulle ’n boekhuis kry. Nicola in Vlerke vir Almal was so ’n karakter. Ek was my lewe lank lief vir haar en het gewag vir die perfekte storie vir haar. Met die boekbeplanning het ek geweet dat lesers, net soos ek, vir haar sou lief raak. Sy is die persoon wat gaan maak dat mense luister en dink voordat hulle praat. Sy en haar skoenlapper-simbool het reeds sedert Mei baie mense se lewens geraak.

Hierdie roman verskil nogal van jou vorige chicklit-pennevrug, Donatello en Volksie. Hoekom het jy op hierdie genre-skuif besluit?

Humor is een van die moeilikste dinge om te skryf en skrywers regoor die wêreld sal saamstem. Dis definitief makliker om iemand te laat huil as om hulle te laat lag. Met Donatello en Volksie wou ek lesers ’n bietjie laat ontspan en wegkom van al die swaar temas en seerkry daarbuite. Ongelukkig is daar soms ook ’n idee daarbuite dat mense wat lig skryf, maklik skryf. Dit is definitief nie die geval nie. Ek sal graag weer in die toekoms ’n humoristiese boek wil skryf. Ek verstaan dat lesers graag hulle skrywers by ’n bepaalde genre wil hê, maar ek het heeltemal te veel genres en stories in my kop om by een tipe te hou vir nou. Ek wil vir lesers wys ek kan verskillende temas en genres aanpak. Iets wat jy wel in al my boeke gaan optel, is dat ek jou dwing tot introspeksie en dat jy gaan vóél en nie net lees nie.

Jy raak belangrike temas, soos boelies en seksualiteit, in Vlerke vir almal aan. Hoekom juis hierdie temas? Het jy uit eie ervaring geput vir Dewald se verhaal?

Wanneer tieners begin sin maak van die lewe, begin hulle ook besef dat hulle aangetrokke is tot ’n sekere geslag. Gelukkig is dié tieners wat outomaties net aangetrokke voel tot die teenoorgestelde geslag. Ongelukkig vir diegene wat besef dat hulle hulself moet forseer om te hou van iets wat die samelewing voorskryf. In die boek probeer ek regtig net ’n boodskap oorbring: Op watter dag en datum besluit jy jy is straight? Gebeur dit oornag? Wanneer dink jy besluit ’n gay tiener om ’n lewe te kies waar hulle deur geliefdes, die kerk en die gemeenskap verwerp word? Ek probeer ook stereotipes breek dat gay seuns net van skaak en musiek hou en dat elke lesbiese vrou butch is. ’n Lesbiese vriendin van my het eendag iets baie hartseer met my gedeel:  “Marion, dis asof die samelewing gay mans begin aanvaar, al is dit vir humor in ’n fliek nou en dan. Maar wat van lesbiërs?”

Boelies kom al van Adam en Eva se tyd, of hoe? Was die slang nie maar ’n boelie nie? Het Eva maar nie vir Adam geboelie om te byt ook nie? Bullebakkery het nou net ’n nuwe platform gekry – sosiale media. Dis so maklik om nou op ’n tamatiekissie te klim en jou opinie vanuit die veiligheid van jou huis te gee. En dis nóg makliker om so ’n kuberboelie se kommentaar te like en saam te lag wanneer daar nie vir jóú gelag word nie. My ma het my egter een ding geleer: ’n Grap is ’n grap wanneer albei partye lag.

Dewald is vir my ’n inspirasie. Ek is self op skool geboelie en ek wens soms ek het sy guts gehad om daardie tyd teen hulle op te staan. Dewald is alles behalwe die perfekte tiener. Hy het ook maar sy probleme en maak ook soms foute, en ek dink die leser sal maklik met hom kan identifiseer en van hom hou.

Jy het waarskynlik al die Netflix-reeks 13 Reasons Why onder oë gekry. Wat is jou gevoel oor die temas in hierdie reeks en hoe sluit dit by jou eie roman aan?

In hierdie industrie gebeur dinge maar stadig. Vlerke vir almal was al reeds in 2014 klaar geskryf. Toe was daar nog nie ’n teken van die 13 Reasons Why Netflix-reeks nie. Die dag toe ek hoor die reeks en die boek kom albei rondom dieselfde tyd uit, het my hart amper gaan staan. Ek wou nie hê mense moes dink die reeks het my inspireer nie om die storie te vertel nie. Ek’t onmiddellik Hannah se storie begin kyk en was só dankbaar om te leer dat ek en die oorspronklike skrywer dieselfde droom gehad het om hierdie ernstige tema by mense uit te bring. Die twee komplimenteer mekaar meer as wat hulle dinge gemeen het. Kyk dit gerus indien jy dit nog nie gesien het nie. Elkeen van ons het die krag om wind onder iemand se vlerke te wees of om hul drome en vlerke te kraak. Ons moet mooi dink voordat ons praat.

Jy is nie net ’n bedrewe skrywer wat nie skroom om sensitiewe onderwerpe aan te raak nie, maar jy is ook die stigter en hoofseun van die Facebook-groep, die Lekkerlees Boekrak. Hoekom het jy besluit om hierdie groep te stig?

Ek het Lekkerlees Boekrak in 2007 gestig terwyl ek in Taiwan gebly het. Ek het half begin voel ek weet nie meer wat in Afrikaans aangaan nie en ek het nie geweet watter nuwe boeke beskikbaar was nie. Boonop het ek gevoel die gemiddelde Afrikaner weet net van ’n paar van die skrywers en ek het hier en daar ’n stukkie goud raakgevat. Gou het ’n paar lede (of Rakkers soos ons hulle noem) aangesluit en skielik het my horisonne verbreed in veral genres wat ek nie geken het nie. My volgende projek was om met skrywers kontak te maak en te vra dat hulle met hul lesers moet begin praat. Vandag is meer as 90% van Afrikaans se top skrywers op die Rak. As ’n nuwe lid op die groep vra in watter volgorde hulle Chanette Paul se Gys-reeks moet lees, antwoord Chanette sommer dadelik terug. Dís heerlik om te sien. Nou kan lesers en skrywers met mekaar gesels en die lesers waardeer dit ongelooflik baie. Al die groot boekwinkels en al die uitgewers is daar. Hulle kry hulle marknavorsing sommer so uit die perd se bek.

Hoekom dink jy het ledetal van hierdie groep oor die afgelope paar jaar só drasties gegroei? Is daar nog genoeg ywerige lesers daar buite wat kan sorg dat die boekbedryf floreer?

Daar is talle ywerige lesers oor. Iets wat gereeld genoem word, is die prys van boeke. Die middelklas kan nie meer drie tot vyf boeke ’n maand bekostig nie. Ek dink die rede waarom die Rak só floreer is omdat mense eerlike opinies by lesers kan kry en dan ’n slim besluit kan maak oor watter boeke hulle moet koop. Dalk koop hulle net 12 boeke ’n jaar, maar al 12 gaan goeie boeke wees. Ek’t ’n paar mense op die Rak wat dieselfde smaak as ek het, so wanneer hulle ’n nuwe skrywer ontdek, hou ek gewoonlik ook daarvan.

Daar was seker menigte Lekkerlees Boekrak-vriende wat na jou boekbekendstellings in Suid-Afrika gestroom het, of hoe? Vertel ons gerus hoe jou boektoer afgeloop het.

Ek bly al hierdie jaar vir 16 jaar oorsee. Ek het soveel maats in die boekbedryf gemaak, maar nog nooit eers 10 van hulle in lewende lywe ontmoet nie. Dus was hierdie toer in Suid-Afrika een groot hoogtepunt van my lewe. Martelize Brink van RSG het vir my gekook. Fanie Viljoen het my na sy stilwordplekkie in Bloemfontein gevat. Ek en Irma Venter het in ’n kerkkombuis ’n drukkie gedeel. Trisa Hugo het my haar see in Kleinmond gewys. Ek en Kristel Loots het grappe vertel oor koek in haar eie kombuis. Ek’t blad geskud met Rudie van Rensburg en al die engele by NB-Uitgewers wat al vir jare die wind onder my vlerke was. Die lys is lank en almal was ’n hoogtepunt.

Die Vlerke-skrywerstoer was ’n reuse-sukses. Ek het TV- en radio-onderhoude gehad, koerantmense ontmoet vir koffie en almal was só vriendelik. Een van my hoogtepunte was die skoolbesoeke. Ek het met tieners gaan gesels oor die metamorfose in hulle eie lewens en almal kon daarmee identifiseer. My eie alma mater, Hoërskool Westonaria, het my hoofseun vir die dag gemaak toe ek die skool besoek het. Ek het een boodskap vir die leerders gehad: “Moenie omdat jy uit ’n klein myndorpie kom, toelaat dat mense vir jou sê jy mag nie groot droom nie. Leef jou drome. Doen wat jy nog altyd wou doen.”

In Vlerke vir Almal gebruik Dewald en sy vriende ’n skoenlapper-simbool om boelies te beveg en dié ding versprei oor die hele wêreld. Mense van alle lande, gelowe, politieke oortuigings en seksuele oriëntasies kom saam vir een doel:  Almal verdien om te mag vlieg.

Marion en die meisies van St Michaels in Bloemfontein

August Schmiedeskamp is ’n besonderse jong man met serebrale verlamming en hy wou ook deel wees van die video-projek wat ek begin het.

Marion saam met August Schmiedeskamp

Ek het die geleentheid gehad om vir August by ’n Boek-en-koek-geleentheid in Pretoria te ontmoet en dit was regtig ’n hoogtepunt. Julle kan die video hier sien:

Ek het ook die goeie nuus gekry dat Vicky Davids Vlerke volgende jaar verhoog toe neem by die Woordfees 2018. Dis ’n reuse-eer dat toptalent in hierdie storie glo. Resensies is positief. Lesers hou van die storie en almal voel geraak deur die video. Ek dink die rede hiervoor is dat almal van ons al ’n gebreekte vlerk gehad het en almal van ons droom daarvan om te vlieg.

Kan Marion Erskine-aanhangers uitsien na ’n nuwe boek wat binnekort uit jou skrywerspen vloei? En kan ons nog ’n opwindende genre-skuif verwag?

Ek werk aan ’n interessante onderwerp en ek hoop die storie sal die lig kan sien. Op die oomblik is dit nog ’n groot geheim. Daar sal altyd iets opwindends uit my pen kom, anders het ek geen rede oor om te skryf nie.

Lees ook:

Vlerke vir almal deur Marion Erskine: ’n resensie

Dewald Koen
Resensies

"Vlerke vir almal is een van daardie jeugromans wat nie slegs deur tieners gelees moet (en sal) word nie. Almal moet dit lees. Veral ouers van tieners, en onderwysers, móét hierdie roman lees."

The post Vlerke vir almal deur Marion Erskine: ’n onderhoud appeared first on LitNet.


Superma (en ander mites), ’n onderhoud

$
0
0

Superma (en ander mites)
Chantelle de Wet 
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799367454

Skrywers oor hul nuwe boeke: Chantelle de Wet gesels met Naomi Meyer oor Chantelle se boek Superma (en ander mites)

Chantelle, geluk met Superma (en ander mites)! Jou boek skop af met ’n staaltjie waarmee die meeste ouers kan identifiseer: hoe vroeë ouerskap iemand wat eens pragtig en skoon was, transformeer tot iets verskrikliks. Voordat ek kinders van my eie gehad het, onthou ek met afgryse ’n motor en ’n sitkamer van vriende van ons wat twee peuters gehad het. Wie is hierdie mense? het ek gedink. En met verligting teruggekeer na my eie sorgvrye lewe. Voordat ons egter oor jou boek begin praat, kom ons stap net gou ’n entjie terug, die verlede in. Wie was jy voordat jy kinders gehad het?

Ek was onafhanklik, selfsugtig, georganiseerd, impulsief en vry om te doen wat ek wil, wanneer ek wil en saam met wie ek wil. Vandag is ek steeds al hierdie dinge, maar my kinders het sinvolle grense aan my loskoppie gegee. Ek moet hulle eerstens altyd in ag neem, want hulle is my verantwoordelikheid en plesier. Dan moet ek ook dink aan hoe my aksies as hul voorbeeld gaan tel en waarvoor hul my eendag gaan onthou. As ek terugkyk na my DVK (dae voor kinders), verlang ek soms na die skoon sitkamer en selfsug, tog is ek nou ryker as ooit vantevore. 

“Elke mens word as die perfekte ouer gebore ... en dan het jy kinders.” Ek het elke woord van jou boek met ’n glimlag gelees omdat ek soveel daarmee geïdentifiseer het. Waarom het jy hierdie boek geskryf?

Superma het begin as ’n klein projekkie wat ek sommer vir my skoonsus wou gee toe sy swanger geraak het: "Wat jy moet weet voor jy kinders het, maar wat niemand die guts het om vir jou te sê nie." Toe dink ek dat ek dit eendag vir my eie dogter ook wil gee, want niemand was regtig, egtig eerlik met my oor swangerskap of ouerskap nie. Eindelik het ek sommer in 'n mal oomblik die idee gepos aan die eerste uitgewer wat Google vir my gegee het. Dit was 'n heerlike reis vol lag en plesier.

Dis bevrydend om jou hoofstuk oor swangerskap te lees. Dis beter geskryf as What to expect when you’re expecting, want dis meer wáár. Ervaar jy ook hoe maklik dit is om met wildvreemde vroue oor die mees intieme dinge te gesels, soos die bevalling, as julle albei uitvind julle het jong kinders? Hoe ervaar jy in die algemeen mede-ouers? Het ouerskap jou vriendskappe beïnvloed met ou vriendinne wat óf nie kinders het nie óf self nou ook kinders het?

Nog nooit het ek soveel van snytjies, stekies, seks (voor, tydens en na die bevalling), anale komplikasies, vrees vir urinering en vreeslike besonderhede oor sake van die onderlyf aangehoor as tydens gesprekke oor swangerskap nie. Vrouens sal nie saampraat as hulle nie reeds deur die trauma en openbaring en wonderwerk gewoel het nie. Kinders het vir 'n geruime tyd ons vriendskapskringe oorheers, maar soos ons gemaklik raak in ons ouerskaprolle, begin dinge weer normaliseer. Ons praat weer oor politiek, kosmaak, die ekonomie en hoe ons die aarde kan red. Dikwels het ons gesprekke die doel om 'n beter plek vir einste kinders te los. Die kinderlose vriende (op wie ek dikwels jaloers is), kyk maar met afsku na die gemors wat ons probeer inkleur. Maar as al die kinders gebad, gevoer en gebed is, is die meeste van ons vriende dit eens: mens is nooit reg vir kinders nie; jy moet doen waarmee jy gemaklik is en wat vir jou werk, en alhoewel mens luister na raad, het jy die reg om kinders (as jy hulle wil hê) op jou eie manier, met lekkerkry, klaar en groot te kry. 

Wat is die ware waarheid van ouerskap?

As die antwoord beskikbaar was, is ek seker niemand het ooit kinders gehad nie. 🙂 Niks kan mens waarlik voorberei op die koms van 'n klein mensie in jou lewe nie. Alles is vreemd, al ken jy die boek se antwoorde. Geen huil klink soos die huil wat in die boeke beskryf word nie. En dit word glad nie makliker nie. Jou kinders is 'n deel van jou hart wat buite jou lyf rondloop en soos jou hart sy eie kop begin volg, raak die proses van ouerskap intens, kompleks en allermins verklaarbaar. Daar is dus nie regtig 'n waarheid nie, net jou eie, unieke, realiteit. 

Wanneer het jy tyd gekry om die boek te skryf?

Die eerste woorde het vorm aangeneem terwyl ek in die nag sit en borsvoed het. Dis neergepen soos ek pampoen fyngedruk en wasgoed gevou het. 'n Ma leer vinnig om dinge met een hand te doen en hierdie boek was geen uitsondering nie. 

“Kinders word gebore om ons in die verleentheid te stel.” Wie het ooit gedink dat ’n mens se kind soveel in die openbaar te sê het? Ek wil jou oor persoonlike voorbeelde uitvra, maar dalk wil mens eerder nie daaroor praat nie. As jy wil, kan jy voorbeelde noem. As jy egter nie wil nie, dan: gepraat van waaroor mens nie wil praat nie – hoekom dink jy vind sommige ouers dit moeilik om te praat oor hoe moeilik ouerskap kan wees? 

Lehja was omtrent so twee en 'n half toe sy in Woolworths se gangetjie staan, na die gewigtige tannie agter ons kyk en vingerwysend vertel: "Kyk Mamma, vet tannie. Mamma, hoekom is die tannie so vet? Mamma, sy het GROOOOOT tieties." Ek wou hê die aarde moet my insluk, maar Woolworths se toue laat nie toe vir 'n ontsnap nie. Haar jonger boetie Petrus het heel onlangs in besonderhede aan ons gaste vertel: "My ma wou nie eers gehad het julle moes kom kuier nie, want sy dink Tannie praat te veel en Oom drink meer." Nodeloos om te sê het hulle hulself vinnig verskoon. My arsenaal van sulke oomblikke is groot ... Dis jammer dat nuwe mammas en pappas dink hulle moet perfek wees. Ek hoor min tot geen klagtes nie, maar die waarheid is dat ons almal eintlik soms oorweldig voel deur die gebeurtenis van ouerskap. Ek het egter ondervind dat hoe meer ek praat oor my feilbare idees en verwronge konsepte van ouerskap, hoe meer het mense daarmee begin identifiseer en het ek wonderlike ware vriende gemaak. 

Mans hanteer vaderskap verskillend. Vrouens hanteer moederskap natuurlik ook verskillend. En dis nogal moeilik om met die een wat jy liefhet te gesels oor hoe anders alles is as wat jy gedink het dit sou wees. Of hoe? Waar begin die konflik en aanpassing in ’n verhouding, dink jy, of wat veroorsaak dalk die meeste kopseer in verhoudingskwessies wanneer dit by kinders kom?

Ek dink ouers praat nie genoeg met mekaar nie. Kinders voel onsekerheid aan, soos 'n hond wat vleis ruik, en slaan munt daaruit. Kinders is slim wesentjies wat vroeg-vroeg leer manipuleer. Ek en my man is 'n span. Die primêre span. Ons besluit oor die reëls, roetine en wat vir ons belangrik is. Dan hou ons daarby, maak nie saak wat kollegas, oumas, vriende of die dominee sê nie. Ons is aanpasbaar en probeer om nie oor alles streng te wees nie. Kinders het tog ook vryheid nodig, maar die grense moet stadig en stelselmatig wyer gestel word. My kinders kan hulself aantrek, hul eie kos inskep en hul kamers is hul eie verantwoordelikheid en voorreg. Ek is baie streng oor tande borsel, goeie maniere en slaaptyd. Ons eet aan tafel, maar hou ook piekniek op die mat voor die TV. Ons gaan spring soms sesuur in die oggend in die swembad, slaap soms tot elfuur in die oggend, maar ons gun mekaar altyd privaatheid, en suiker na vieruur in die middae is uit. Balans. Soos alles in die lewe is dit maar hoe ek ouerskap ook aanpak. Ek dink man en vrou stry dikwels oor hulle nie dieselfde doel het nie. Praat met mekaar ... nie net oor kinders nie, maar ook oor drome, seks en onsekerhede. Staan saam en wees die span sáám met die kinders, nie teen hulle nie. 

“Jy werk net met veranderlikes.” In hierdie hoofstuk noem jy treffende voorbeelde, alles wat jy nie kon voorspel nie en toe so uitgewerk het. Hoewel besonderhede verskil, is dit iets wat alle ouers beleef. Is jou boek geskryf vir mense wat nog nie kinders gehad het nie, of mense wat reeds kinders het? Wie is jou ideale leser?

Ideale leser? Sjoe, ek dink dis iemand wat nie foute raaksien nie! 🙂 Enigeen met 'n sin vir humor sal die boek kan lees (hoop ek). Ouers identifiseer daarmee, enkellopendes lag vir die ouers, en swanger mammas voel beter oor hul onsekerhede. Ek het oudstudente wat die boek lees en nog nie eers aan kinders dink nie. Mense uit België, Engeland en Australië laat weet my sommer via Facebook dat hulle lekker gelag het ... en dit is eintlik al wat ek gepoog het: om midde die krisisse van ouerskap so ’n glimlag te laat deurskemer. 

Die spel sonder reëls. Sonder gelyke speelvlak. Wat is hierdie spel se uitkoms, wonder ek (mede-ouer). Weet jy? Hoe oud is jou kinders nou?

Lehja is 7 en Petrus is 5. Ek weet steeds nie veel van ouerskap af nie en leer maar daagliks by hulle. Ek dink die spel se uitkoms is eintlik eenvoudig: om gelukkige grootmense die wêreld in te stuur. Op hierdie reis kom ek agter dat die woord "gelukkig" nie maklik gedefinieer word nie, want vir party is geluk finansiële welstand, vir iemand anders gesondheid en vir nog een vryheid. Ons skep ons eie definisie, skaaf gereeld daaraan, en ons maak seker ons wens nie die tyd om nie. Ons geniet elke fase en geit en gril en gedoente wat ons twee mensies in ons lewens toevoeg. 

Ek het jou nou-nou gevra oor wie jy was. Vertel my wie jy nou is – jou werk (buiten kinders), jou genietinge, watter boeke jy lees (as daar tyd is), of wat jy doen (wanneer daar tyd is). Hierdie vraag, besef ek, is onmoontlik om te beantwoord sonder om die kinders in ag te neem, maar probeer dit doen – hierdie vraag handel net oor jou. En oor wie jy nou is.

Ek is ... tevrede, gelukkig, opgewonde, geseënd. Ek lees alles wat ek in die hande kry: van die papboks se agterkant tot boeke wat Kindle daagliks gratis weggee. Ek is mal oor Afrikaanse boeke, die goeies en die slegtes. Dis my gunsteling-tydverdryf en almal in die huis is bewus van my woordverslawing. Ek gee tans wiskunde in Abu Dhabi in die Emirate, speel Lego oor naweke, handel my M-graad af, was wasgoed, skryf die webjoernaal “Slaai sonder blare”, probeer my varkies op hok hou, poog om 'n goeie mens vir myself te wees, en tussendeur moet ek myself motiveer om eendag so ’n paar kilo's af te skud (ek het nou lank genoeg swangerskapvet die skuld gegee). Ek is nie vreeslik lief vir die televisie nie, maar my rekenaar is my anker. Ek skryf graag en werk aan 'n paar Engelse projekte. Ek hou daarvan om besig te wees en ja, soms kyk ek terug na die week wat verby is en dan wonder ek waar ek alles ingepas het. Dan sug ek diep, tel my dankbaardinge en slaap ek tevrede. 

The post Superma (en ander mites), ’n onderhoud appeared first on LitNet.

Die Bergengel: 'n Onderhoud met Carina Stander

$
0
0

Die Bergengel
Carina Stander
Protea Boekhuis
ISBN: 9781485307501

Skrywers oor hul nuwe boeke. Carina Stander gesels met Naomi Meyer oor Carina se Die Bergengel.

Carina, Die Bergengel is in my hand en voordat ek dit oopmaak, kyk ek eerste na die omslag. Vertel my hiervan.

Dankie vir die kans om oor die boek te gesels, Naomi. Die inkskets op die omslag is my eie. In die gees van gelykenis het ek gespeel met versteekte beelde, van prente binne 'n prent, soos wat die verhaal ook stories binne 'n storie bevat. Soos dikwels in my kuns en skryfkuns is hier 'n proses van wording of metamorfose: die berge word vlerke en die doringrankers word walvisse. Daar is ook 'n klok en olifantslurp versteek. Links klim die protagonis Eron Verberger teen 'n ranker op; regs is die antagonis Velvel Azazel op stelte. Die twee nessies met eiers word (wanneer jy die boek onderstebo draai) die enorme oë van 'n man, terwyl die B van Bergengel 'n neus vorm. Dié oë behoort aan Gibor, die alomteenwoordige vader in Eron se lewe. Die aanhaling op die voorplat lui: “Om 'n Bergengel te wees, is om alleen deur die ondergrondse gange van 'n kapel te stap terwyl daar gesing word – jy hoor nie net die musiek en die stemme nie, jy hoor ook hoe dit eggo in die toekoms.” Die letterwerk is gedoen deur die talentvolle grafiese ontwerper van Protea Boekhuis. Ek was skoon slapeloos van opgewondenheid toe ek die onverwagse nuus kry dat die titel in middernagblou metaalfoelie is. Ek dink die uitgewer het die boek lieflik uitgegee.

Binne-in die boek is daar ‘n kaart en dit roep dadelik beelde by my op van tekste soos die Bybel en Lord of the Rings. Ek sien ook die enigste herkenbare vastelandverwysing is “na Afrika”. Brei asseblief hierop uit.

Omdat Die Bergengel ook 'n reisverhaal is, was dit noodsaaklik om die geografiese ruimte van die land Gabriëllië te karteer en breedvoerig te beskryf. Dit word so gestel: "Daardie jare was die uitgestrekte Gabriëllië (’n land so groot dat dit ’n stapper in die fleur van sy lewe ’n geskatte 276 dae sou neem om die roete van die weskus na die ooskus te voet af te lê en 389 dae van noord na suid) in twaalf regione verdeel. Elke regio was onder die beheer van ’n onafhanklike Regiohoof met gelyke mag en het bestaan uit stede en dorpies met unieke boustyle, landbougebiede en bergstreke wat ekologies veel van mekaar verskil. Die magtige Reënrivier het deur ’n kwart van die regione gevloei." Ensovoorts. Gabriëllië is 'n groot, alleenstaande vasteland omring deur oseane. Ek betrek talle geografiese besonderhede vir elke regio – weerstelsels, plantegroei, dierelewe, landvorme en ander natuurverskynsels. Rondom die Tzurregio waarvan Eron Verberger afkomstig is, het ek noukeurige besonderhede gegee oor die algemeen fisieke voorkoms van die bewoners, verklarings van hulle vanne en ’n uitleg rondom klankverskuiwings in die taal Tzurien. In teenstelling met die tradisionele fantasieverhaal, word die leser gelei om Gabriëllië as ’n werklike land te aanvaar, soos Tolkien se Westland in The Lord of the Rings. Afrika bestaan aanvanklik slegs in die volksmitologie van Gabriëllië. 'n Gesprek tussen Eron en sy oom Ruach verloop so:

“Afrika? Daardie verbeeldingsdorpie in Die avonture van Koeb Snawel?”

“Afrika, die metaalrykste vasteland op aarde. Duisende seemyle hiervandaan.”

Eers dán word dit vir Eron duidelik dat Afrika 'n reële ruimte is. Wat meer is, Afrika word voorgehou as die plek van redding. As ek mag verklap: die laaste boek in die trilogie, Die Waterplek, speel grotendeels in Afrika af.

"Elke dag om skemertyd het hulle die muil buite sig van verbygangers uitgespan."

Gepraat van kaarte, the lay of the land, kom ons beskou die landskap en aard van hierdie genre. Is daar so iets – so ‘n genre? Het jy iets splinternuuts in Afrikaans geskep, dalk: fiksie, mite, mistiese komponente? Prop vir my jou boek in ‘n soort boksie, of verskillende boksies, as dit kan?

Die Bergengel is die eerste boek in 'n trilogie. Dit speel in op die tradisie van antieke Joodse geskrifte soos Die Boek van Enog, Kahlil Gibran se The Prophet en bekende Bybelverhale en sprokies. Maar Die Bergengel is nié 'n volwasse sprokie of fabel nie. En al is fantasie 'n genre waarvan ek hou, is dit hoegenaamd nie 'n Narnia of Lord of the Rings met trolle, reuse, elwe en eenhorings nie; ook nie 'n Star Wars met 'n Yoda nie. Anders as met die fantasiegenre, is ál die karakters in Die Bergengel werklike mense, en bykans alle gebeure fisies verantwoordbaar. Parallelle kan getrek word met die bekende werklikheid (stoomtreine, walvisstasies, bronsgietery) en die karakters se strewe waarby die gewone leser kan aanklank vind, veral die herstel van die pa-seun-verhouding en die strewe na 'n skeppingsdoel. Dit is 'n soort coming of age-verhaal, maar in wese is dit nie 'n jeugboek nie. Soos by The Alchemist van Paulo Coelho is hier 'n seun op reis en trekke van magiese realisme. Magiese realisme veronderstel 'n realistiese uitbeelding van die werklike wêreld met 'n onverwagse verskyning van die magiese of bonatuurlike. Dit is daardie buitengewone oomblik in 'n doodgewone toneel wanneer die alledaagse heilig word en die heilige alledaags.

Ek wou met die skryf van Die Bergengel 'n gelykenis skep. 'n Allegorie. Die mooiste woordverklarings wat ek vir allegorie kon vind, is dat dit 'n uitgebreide metafoor is. Waarvan is Die Bergengel 'n uitgebreide metafoor? Van 'n groeiende gees. Van 'n mens se reis na jou binnelandskap – met berge en vlerke vir skuiling.

“Dit was in die dae van die laaste rondreisende klokgieters dat Gibor en Alida Verberger vir oulaas saam op ‘n klokreis vertrek het. Waar geen treinspoor al aangelê is nie, waar lokomotiewe nog nie tonnels deur die berge oopgefluit het of rokerige longe oor die valleie en weivelde uitgehoes het nie, het die Verbergers trosse klokke gesmous aan mense wat in afsondering leef. Die ambag van onafhanklike klokgieter was vinnig aan die kwyn en een ná die ander het die stede in Gabriëllië standhoudende gieterye opgerig, sodat die meeste klokgieters hulle noodgedwonge op ander metaalwerk moes toespits.” Jou eerste sinne trek mens in saam met daardie lokomotief wat die tonnel binnegaan; mens ry saam en verder en dieper binnetoe. Hoe het jou storie ontspring, waar en hoe ... kan jy agterna daaroor praat?

Op 2 Januarie 2002 het ek vir die eerste keer die Skotse Hooglande binnegery, waar ek vir ses maande sou woon en werk. Daardie dag, in die middel van 'n verlate sneeulandskap, het die titel asof vanuit die niet by my opgekom. Ek het stilgehou, my skryfgoed uitgehaal en geskryf: Die Bergengel. Ek het dadelik geweet dat dit 'n reismistiek gaan word, 'n roman met 'n seun as hoofkarakter. Dit was 'n fabelagtige halfjaar – ek het gewoon in 'n twee honderd jaar oue kothuis aan die rand van 'n woud, gewerk in 'n ou katedraal wat in 'n kunsgalery omskep is en vir 'n beeldhouer in sy Middeleeuse-kasteel-ateljee. As deel van die herdenking van die Highland Clearances is die beeldhouer deur die regering aangestel om 'n lewensgrootte-bronsbeeld te maak. In sy kunsateljee het ek kennis geneem van die Skotse geskiedskrywer Alexander Mackenzie se boek The history of the Highland Clearances (1881). In die 19de eeu is tot 2 000 Skotse gesinne per dag dakloos gelaat, volledige dorpe is afgebrand, derduisende Skotte is gedwing om te emigreer. Daar was 'n geskatte 100 000 Skotte in Kanada. Die stryd teen oorheersing het byna 'n eeu geduur. 'n Spesifieke vertelling in die boek het my aan die hart gegryp: die verhaal van 'n bejaarde vrou wat in Gallies vanuit haar brandende huis geroep het: "Oh Dhia, Dhia! Teine, teine!" Vertaal as: “O God, God! Vuur, vuur!” Die beeld van 'n sterwende vrou wat in haar bykans uitgestorwe moedertaal vanuit 'n vuur roep, was vir my hartverskeurend, natuurlik ook omdat dit die Verskroeideaardebeleid van Brit teenoor Boer eggo. Die Highland Clearances het my denkbeeld geword agter die Vuurstorms van Gabriëllië, wat in Die Bergengel ook bekend staan as die Skoonbrand. Gruwels word gepleeg in die naam van ekonomiese en industriële vooruitgang, álles ten koste van onafhanklikheid en met 'n gepaardgaarde verlies van geliefde grond, streeksidentiteit en taal. Hoe kan die Vuurstorm beveg word? Ek het lank hieroor gewonder. Die inspirasie vir die Revolusie teen Vuurstorms het eers veel later by my opgekom by die lees van Christus se Bergpredikasie in Mattheus 5. Dit het my op die spoor gebring van Leo Tolstoi se filosofiese verhandeling The Kingdom of God is within you (1894). Dit was in Rusland verban, maar het die weg gevind na Mahatma Gandhi en gelei tot die niegewelddadige weerstandsbeweging satyagraha wat ek hoe later, hoe sterker in die trilogie betrek.      

Ek het deur die jare baie nagedink en opgelees oor die universele aard van boosheid en broosheid in die mens se strewe na vrede en vryheid. Gevolglik bevat die boek ook kritiek oor die uitwissing van die natuur (hoofsaaklik die uitkap van woude en walvisjagtery) as uitvloeisels van hebsug. Daar word veral in die opvolgboeke uitgebrei oor die opkoms van ekonomiese monopolieë en 'n wêreldmoondheid.

"Stil het hy aangestap in 'n tonnel van herinnering."

Ek wil jou oor die storie vra, maar ek wil ook nog iets vra oor die proses. Spreek die musiek van woorde tot jou? Of woorde as kunswerke? Ek dink net hoe visueel jy is, maar ook hoe klankryk jou woorde. Jy het geblinddoek geskryf. Hoe en hoekom en wanneer?

Nadat ek ongeveer 15 vakkundige boeke van hoek tot kant deurgelees het (oor alles van klokgietery, walvishandel, kulkuns, ondergrondse stoomtreine, Steam Punk, tsoenami’s en navigasie tot oorloë en verskeie ontledings van die Saligsprekinge), het dit gevoel asof my brein in die pad van my verbeelding begin staan. Ek wou terugkeer na die plek waar stories vandaan kom, na die rivier onder die rivier. Ek wou die verhaal weer in my gedagtes síén. Daarom het ek musiek opgesit, myself geblinddoek en die tonele beskryf wat soos 'n fliek voor my geestesoog afspeel. Ek het musiek gekies wat atmosferies of inhoudelik pas by die spesifieke skryfstuk, sodat die musiek byna gedien het as 'n klankbaan vir die "fliek" in my kop. Dikwels was dit Rachamaninov of Erik Satie. Ek het die Poolse lamentasie Symphony of sorrowful songs van Górecki by herhaling geluister terwyl ek 'n sekere weemoedige toneel in die regio van Waknia beskryf. Beethoven se Maanligsonate was agtergrondmusiek vir 'n nagtoneel in Eziovlei. Die klankbaan van The Piano het my verplaas na die inkomende gety van die see op die Eiland van Ure. Ajub Ogaba se lied uit The Constant Gardener het my na 'n waterpad getransponeer. Pan's Labyrinth se onheilspellende wiegelied het gespeel terwyl ek geskryf het aan Barbel – 'n gruwelike draaipunt in die boek. In feestelike luim het ek geluister na Amélie se klankbaan en tydens die skryf van natuurtonele na Ludovico Einaudi se klavierstukke. Elke halfuur of so het ek gou gekyk of my vingers nog op die regte toetse is. Natuurlik het daar nog baie dae en nagte van herskrywery gevolg, maar van die belangrikste oomblikke in die boek het geblinddoek gebeur.

Jy vra wanneer? Deur die jare, tussen die skryf van my twee digbundels, vorige roman en joernalistiek deur, het ek konstant en getrou aan Die Bergengel geskryf. My seuns was nog klein tydens die grootste tydperk wat ek aan die boek spandeer het en heeldag tuis by my, daarom het ek meestal saans van agt tot elf geskryf wanneer almal slaap of tussen drie- en sesuur soggens.

Jy is digter, jy is kunstenaar, jy het al baie gereis. Vertel my van jou invloede en inspirasies.

Wat die digkuns betref: 'n digter bly 'n digter, of jy gedigte skryf of nie. Die digterlike sintuig bepaal jou volkome belewenis van die lewe, dit stuur jou oog in 'n sekere rigting. Daarom sypel die digkuns oral in – of jy nou tuin maak, pannekoek bak, in die see swem of saam met vriende wyn drink op 'n stoep. Om te dig is nie 'n beroep nie, dis 'n bestaanswyse.

Ek sal my nooit kan losbreek van die metaforiese taal en beelding wat die digkuns bied nie. Ek is voortdurend op soek na 'n moontlike wêreld, 'n nuwe beelding, 'n metafoor. 'n Metafoor bring kategorieë byeen wat voorheen vreemd was vir mekaar – een voorwerp neem 'n ander se eienskappe oor, al lyk dit asof hulle nie saamhoort nie. Metaforiese taal is daarom ook draers van hoop, omdat dit moontlikhede in realiteit ondersoek wat voorheen onmoontlik gelyk het. Dalk is dit waarom ek so gaande is oor die definisie van 'n allegorie as 'n uitgebreide metafoor. Dit beteken immers dat Die Bergengel een hengse lang gedig is, dan nie?

In Roland Barthes se Mythologies (1957) is 'n hoofstuk "The writer on holiday". Dit laat my glimlag, want inderdaad is die skrywer op vakansie 'n mite! Skrywers en kunstenaars is ewige waarnemers. Ons aas die heeltyd met ons ore en oë. Ek het besluit om dié "kwaal" in te span en die afgelope 13 jaar meer as 200 reisartikels vir verskeie publikasies geskryf. Die grootste vonk vir die ontstaan van Die Bergengel is dus ’n magdom dagboekinskrywings (wat later artikels geword het) tydens my reise in en op die woestynberge, sneeuberge, eilandberge, bergstede, bergwoude en vulkaniese berge van twee dosyn lande. Die foto's wat ek tydens dié reise geneem het, het ek gebruik as visuele verwysings vir my kunsuitstalling-boekbekendstelling van Die Bergengel wat in Mei by die Tina Skukan-galery in Pretoria geopen het. Soos met my vorige boeke het ek weer 33 kunswerke gemaak wat my skryfwerk visueel verbeeld, inksketse van die tonele en karakters wat al sedert 2002 in my kop ronddool. Intussen het die Breytenbach Sentrum in Wellington gevra of ek op 16 September by die Tuin van Digters-fees die kunsuitstalling-boekgesprek oor Die Bergengel sal herhaal. Daarna sien ek baie uit!

'n Ander groot vonk vir die ontstaan van die verhaal is die geestelike. Ek het die Bybel asook oergeskrifte soos Die Boek van Enog as interteks gebruik. Enog was die sewende generasie ná Adam; hy was Noag se oupagrootjie; en hy het heelwat oor engele geskryf. Ek is ook gefassineer deur natuurmistici soos die Heilige Francis van Assisi en Elia wat deur die kraaie gevoer is. Die spirituele onderstroom vloei in vele vertakkings regdeur Die Bergengel.

"Woorde soos water"

Vertel my van ander karakters in hierdie verhaal – hulle wat jou inspireer en hulle wat jy nie in die oë wil kyk nie, maar in wie se velle jy klim (of is daar nie sulkes nie?).

Lesers ontmoet die protagonis Eron Verberger met sy geboorte. Aan die einde van Die Bergengel is hy 16 jaar oud. Hy gaan op ’n lang fisiese reis wat ’n weerspieëling is van sy geestelike ontwikkeling. Hindernisse dwing hom om nuwe rigtings in te slaan, wat weer lei tot die ontdekking van ongekende talente. Deur die loop van die verhaal word hy by herhaling uitgedaag om sy skaduself in die gesig te staar. Hy kan soms oorversigtig en apaties wees en ander kere weer te vrypostig. Maar Eron is slim, sterk en sensitief, reisvaardig en aanpasbaar, en hy het meegevoel met mens en dier, daarom hou die leser van hom. Aan die einde van die laaste boek in die trilogie, Die Waterplek, is hy 21 jaar oud. Die leser volg Eron dus vanaf sy geboorte tot mondigwording, waarin hy ontwikkel van 'n doodgewone seun tot 'n werklik buitengewone jong man.

Eron se ouers berei hom voor vir die heldereis, asook sy twee ooms. Eron se bondgenote deur die verloop van die trilogie is die Onwaarskynlike Agt, oftewel die Geseëndes, wat gebaseer is op die Saligsprekinge. Die Geseëndes is mense met ’n swakheid wat hulle weerhou van voorspoed, maar elke Geseënde dra 'n onvervulde belofte vir 'n beter lewe, wat Eron geleidelik help bewaarheid. (Dink byvoorbeeld aan: "Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.") Die Geseëndes het die gawe van ontsluiering, die vermoë om die pad vorentoe bekend te maak – en Eron leer by elkeen van hulle iets kosbaars wat hy deel maak van sy karakter.

Daar is vroulike en manlike morwe in die verhaal wat van voorkoms en bui verander en die waarheid verdoesel. Eron (en die leser) wonder: Is hulle lojaal of nie, vriende of vyande? Velvel Azazel is die oppermorf van almal! Hy is die antagonis, maar lyk nie totaal boos nie. Hy het heelwat wat mens kan bewonder: sjarme, intelligensie en oëverblindery. Hy is 'n puik nabootser met 'n gawe om lyftaal te lees. Velvel is invloedryk en gewild as kulkunstenaar, vuurblaser en stelstapper. Hy staan bekend onder verskeie name waarmee hy sy psigotiese persoonlikheid verberg. Gaandeweg versprei hy sy magsdronk invloed en wys sy ware kleure. Wat hom vreemd genoeg juis kwesbaar (en dus oorwinbaar) maak, is sy selfbeheptheid.

Vertel my of jy van die begin af geweet het dit gaan ‘n trilogie wees. En kan jy tot aan die einde sien?

Ek het die verhaallyn tot aan die einde toe uitgewerk, maar eers so twee jaar gelede besef dat dit 'n trilogie gaan word. Dis ook hoe ek Die Bergengel verlede jaar aan die uitgewer voorgelê het, as die eerste boek in 'n trilogie. Voordat ek die addendum tot my kontrak geteken het, het ek 'n verhaalbeplanning van 20 bladsye aan my boekeredakteur, Amelia de Vaal, gelewer. Amelia is 'n voortreflike redakteur – sy het van die eerste oomblik af begryp wat ek probeer vermag en my gehelp om die engel uit die klip te bevry. Die samewerking met haar is vir my 'n reusagtige seën. Sy het byvoorbeeld dadelik verstaan hoe ek Dante se Heilige Komedie as interteks wil aanwend vir al drie boeke: Inferno vir Die Bergengel, Purgatorio vir Die Wonderwese en Paradiso vir Die Waterplek. Alhoewel ek 'n duidelike roete in my kop het van waarheen die verhaal op pad is, weet ek ook dat karakters 'n wil van hul eie het. Ek is oop vir oortuiging! As alles volgens plan verloop, verskyn die drie boeke 18 maande uit mekaar en is Die Wonderwese dus teen November 2018 op die rakke.

Wil jy ‘n kunswerk stuur wat ons saam met hierdie vrae mag publiseer, dalk iets wat jou antwoorde toelig?

Ek het inksketse vir jou gestuur wat deel was van Die Bergengel-solokunsuitstalling. Die titel van elke skets is 'n aanhaling uit die boek. Dis 'n visueelmaking van die verhaal. Woorde word beelde. Verbeelde woorde.

"Die ontdekking dat trane gebore uit liefde 'n gebed kan wees. 'n Gebed met die krag om 'n oseaan oor sy walle te stoot."

Is jou mense wat jy liefhet, in jou stories, of is hulle elders terwyl jy skryf en in jou storie(s) is?

Ek het ruim geput uit my ervarings van veral beeldhoukuns en reis, maar die karakters in Die Bergengel is almal maaksels van my verbeelding. Ek ken net mooi géén werklike mens wat my herinner aan een van die boekkarakters nie – en hoe bevrydend! Omdat die verhaal nie outobiografies nie, kon ek die karakters rondslinger en ophemel soos die lus my lei. Omdat dit nie mý lewensstorie nie, het ek ironies genoeg 'n groter vrymoedigheid as ooit tevore ervaar om getrou te wees aan my eie skryfstem.

Daar’s ‘n “bergduiwel” in die woordeboek (‘n soort akkedis J), maar nie ‘n “bergengel” nie. Toe skep jy self een? Of was die bergengel nog heeltyd daar en toe gee jy dit (haar/hom) net ‘n naam?

Gits, ek het nie eers geweet van 'n bergduiwel nie! “Bergengel” is 'n eie skepping, ja. In my voorwoord tot die boek het ek in suiwer Akademikaans die woord "bergengel" foneties geskryf en 'n verklarende handleiding, leksikon en ander kamma-kamma bronne gelys in die ondersoek na die wortelwoord. Dit gee my ongelooflike plesier om te hoor hoeveel lesers 'n woordeboek nader gesleep het! Vir die voorwoord van Die Wonderwese voer ek dieselfde truuk uit van kamstige woordverklaringe en bronverwysings en ek sal die speelse klein tradisie voortsit in Die Waterplek.

Hoe lyk die bergengel? Vertel my van hom. Of haar? Het die wese ‘n geslag?

n Bergengel is 'n persoon wat oor besonderse sienkrag beskik, ietwat soos die Jedi van Star Wars. 'n Bergengel-bewind duur 20 jaar. Die taak van die Bergengel is om Vuurstorms te keer, te keer dat die bekende wêreld die Grystyd binnegaan. Dus, om landsvrede te bewaar.

Bergengele van uiteenlopende karakter, manlik en vroulik, het die ronde in Gabriëllië gedoen, altyd onder die vaandel van gewone werkers, sodat geen mens hulle kon herken nie. Die rede hiervoor was tweeledig: enersyds moes die verborge identiteit hulle teen gevare van buite beskerm, want Bergengele is dikwels gevrees en gehaat as ontbloters van geheimenisse, ook die geheime van ’n gemeenskap wat dit nie wou aanhoor nie; andersyds moes die naamloosheid hulle teen hulself beskerm. Trouens, die grootste gevaar vir enige Bergengel was om vergoddelik te word; hierom was dit van uiterste belang dat hulle name nooit bekend gemaak mag word nie. Ja, selfs nie eers ná hul dood nie.

Vir 'n Bergengel is daar altyd die wisseling tussen binne en buite: óf hy is 'n alleenloper wat tevrede is met sy eie geselskap, maar deur meegevoel gedryf word na die trop, óf hy is 'n kuddewese wat moet leer om gelukkig te wees as 'n eenkantling.

Die Hebreeuse woord vir “profeet”, nabi', kan herlei word na die werkwoord naba', wat beteken: "to bubble up, boil forth, hence, to pour forth words like those who speak with fervour of mind or under divine inspirations, as prophets and poets". In 2005 het ek my meestersgraadverhandeling aan die Universiteit van Kaapstad voltooi oor die digter as profeet in die Afrikaanse digkuns. Ek het veral gefokus op rolle wat verskeie Afrikaanse digters deur middel van hul digkuns vertolk en hoe dit ooreenstem met die amp van die oudprofete. Al dié rolle van die digterprofeet ek het aan Bergengele toegedig: hulle is almal Toringwagte, Konfronteerders, Voorlopers, Tussengangers en Scribas. Maar daar is 'n belangrike verskil: 'n Bergengel tree altyd anoniem op. Soos daar geskryf staan: "Die boodskap is belangriker as die Bergengel, net soos wat ’n profesie groter is as ’n profeet en ’n gedig langer leef as ’n digter.”

  • Kunswerke: Carina Stander

The post Die Bergengel: 'n Onderhoud met Carina Stander appeared first on LitNet.

Die derde spoel deur SJ Naudé: 'n Onderhoud

$
0
0

Die derde spoel
SJ Naudé

Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415207475

Skrywers oor hul nuwe boeke: SJ Naudé gesels met Naomi Meyer oor Die derde spoel.

Waar begin 'n storie? Prakties: die skryf van hierdie boek is deur die beurs van Jan Rabie en Marjorie Wallace befonds. Wil jy iets hieroor sê of deel, iets tegnies en prakties en hoe dit in die praktyk gewerk het?

Hallo Naomi. Goed om met jou te praat. Ek kan met redelike sekerheid sê dat die boek sy oorsprong gehad het in ’n gesprek wat ek ’n paar jaar gelede met 'n Londense dosent in filmteorie gevoer het. Dit was ’n gesprek oor spookfilms – verlore films, gewoonlik uit die ‘20’s of ‘30’s, waarvan net fragmente, erg beskadigde afdrukke/negatiewe of stilfoto’s oorbly. Of soms net promosieplakkate of beskrywings. In daardie tyd is films gesien as vlietende vermaak, en nie die moeite werd om te bewaar nie. Nou is daar filmargiewe en lyste van sulke films, en mense wat hul daarop toespits om dit te probeer vind. Nou en dan kom daar wel ’n afdruk van ’n film wat as verlore geag was aan die lig in ’n ou stoorkamer of solder. My protagonis is obsessief op soek na ’n spookfilm (weliswaar 'n fiktiewe een) in Londen en Berlyn, ’n soektog wat hom in die gevaar in en deur Oos-Duitse doolhowe lei.

Die ruim Jan Rabie en Marjorie-Wallace-beurs is aan die begin van 2014 aan my toegeken deur die UWK. Daarsonder weet ek nie of ek sommer ’n roman sou aangepak het wat soveel navorsing verg nie. Papier is natuurlik geduldig, en my projekbeskrywing vir die beursaansoek was ambisieus. Enkele dinge verander soos mens aan die roman skryf, maar eintlik het ek verbasend naby aan my plan gebly. Die beurs het my in staat gestel om navorsing in Londen en Berlyn te onderneem. En vir twee jaar voltyds te skryf.

Meer figuurlik, oor waar ‘n storie begin: Die derde spoel, as roman, het sy begin/oorsprong in 'n wêreldstad, en simbolies is die wêreldkaart op (hoofkarakter) Etienne afgedruk. Praat met my oor ruimte in die boek.

Die boek speel hoofsaaklik in Londen en Berlyn af, met kort gedeeltes in Suid-Afrika (Pretoria en KwaZulu-Natal) en ’n soort koda in Buenos Aires. In Londen bly die hoofkarakter Etienne en sy vriende in sogenaamde squats – onwettig-bewoonde huise in Thatcher-era-Brittanje. Hulle is kunstenaars en postpunk-musikante (en party van hulle is eintlik maar net slackers, leeglêers). In Duitsland bly Etienne aanvanklik in Oos-Berlyn en later in Wes-Berlyn, en sluit hy as tromspeler by ’n industrial band aan. Die roman is onder andere gemoeid met die letsels wat hierdie stede nog van die groot 20ste-eeuse traumas oorhou, die soort traumas wat ons eie tydvak gevorm (of misvorm) het. Dit is onbestendige, ontstemmende ruimtes hierdie – stede waar herinneringe aan verwoesting en menslike brutaliteit in die weefsel van die geboue bly talm.

En toe ontsluit Aodhan, die man wie se bloed koud klop, in wie daar sade van drogplante ontkiem, 'n nuwe spesie in 'n nuwe stad. Film. Dis by hom dat Etienne film ontdek, en dis vir hom wat Aodhan teken terwyl Etienne die film kyk. Wie sien wie in hierdie boek? Is film ook mag? En: kan visuele film emosionele emosie vasvang? Ek dink aan die sosiale media en hoeveel krag daar in visuele beelde is, soos Instagram. Wil jy iets sê oor die visuele elemente in die boek?

Etienne gaan filmskool toe in Londen, nadat hy sy geboortestad Pretoria verlaat het om diensplig te ontsnap. Hy word opgelei in die praktiese aspekte van films maak (kamerawerk, redigering, ens) en werk ook aan studentefilmprojekte. Hy besef weldra hy het nie juis veel talent vir films maak nie. Hy kom op die spoor van die verlore film en begin ’n obsessiewe soektog daarna, soos hier bo vermeld. Die boek is onder andere gemoeid met die sortering van beelde wat deur ’n kameralens gesien word, asook die terugvind van filmbeelde wat in die newels van die tyd verdwyn het. (Ek verneem van heelparty lesers dat hulle ook die aanslag van die roman self filmmatig vind.)

Axel, Etienne se minnaar, is ’n visuele kunstenaar. Hy hou hom meestal met installasies besig, met konseptuele kuns. Sy materiale is gevarieerd (byvoorbeeld Victoriaanse foto's, die pels van bedreigde spesies, dooie duiwe, semen, vars-uitgeslagte haasharte). Een maal in die boek maak hy ook ’n skildery.

Foto van SJ Naudé: Joanne Olivier

Etienne en Axel verteenwoordig lande. Hier is 'n parallel: "Etienne kyk om hom. Die studente is bedeesd. Hulle vra niks, luister in stilte, knik hul koppe. Hy dink aan die moerigheid, angs en anargie van sy Londense medestudente, aan hul uitdagende vrae en besware. Hul eiegeregtigheid, hul selfvertroue. Hul weerloosheid. Hul deurmekaar hare, hul punkerige uitrustings. Dit voel of hy terug is in Suid-Afrika. Al die selfvertroeteling en skouerkloppery. Al die verbode gedagtes wat binne skedels skuil." Praat met my oor die raakpunte in die boek tussen Suid-Afrika en Duitsland.

Etienne bevind hom tussen verskeie onderdrukkende politieke bestelle. Hy het apartheid-era-Suid-Afrika verlaat en bevind hom, soos genoem, aanvanklik in Thatcher se konserwatiewe Brittanje en dan in Oos-Duitsland. En dan is daar die newe-intrige wat in vroeë Nazi-Duitsland afspeel. In die (boek se) hede is dit die tyd van die Koue Oorlog en plofbare geopolitiek. Ek dink nie daar is presiese parallelle te trek tussen apartheid-era-Suid-Afrika en Nazi-era Duitsland of kommunistiese Oos-Duitsland nie. Daar is raakpunte, ja, maar die boek wil nie valse of maklike kongruensies poneer nie.

Wat vir my interessanter was as om sulke vergelykings te maak, was die feit dat die laat ‘80’s juis ’n tyd was toe dit gelyk het of die wêreld nog ingrypend kon verander, asof groot magsverskuiwinge nog moontlik was. Daar wás ook kort ná hierdie era groot veranderinge – apartheid het tot 'n einde gekom, die Berlynse Muur het geval, Thatcher (en later haar Konserwatiewe Party) is eindelik uitgestem. Dit is wel ironies dat die manier waarop mag in die Westerse wêreld werk, sedertdien so vasgelê geraak het dat mens my Londense karakters se vae “revolusionêre” idees as naïef ervaar, as “quaint”. Ja, hierdie jongmense is dalk nie effektiewe aktiviste of besonder goed ingelig nie, en hul idees oor radikale vryheid was seker selfs in 1986 nie juis realisties nie, maar die punt is: utopiese verwagtinge was toe nog moontlik; mens kon tog nog ander soorte gemeenskappe verbeel, waar radikale vryheid aan die orde van die dag sou wees. Vroeg in die 21ste eeu is mens minder optimisties. En nie net omdat outoritêre politiek weer, merkwaardig genoeg, sy kop uitsteek in die era van Trump en Brexit nie, maar veral ook omdat ons verdoof word deur ’n alles-koöpterende verbruikerskultuur en ‘n toenemend radikale vorm van kapitalisme (ten spyte van al die voorspellinge van die einde daarvan). Die idee van queerness, in die sin van ’n bepaalde soort opposisionele ingesteldheid eerder as net seksuele oriëntasie, het begin vervaag. En stede soos Londen en Berlyn is vandag geheel ander plekke as die stede van my boek. Sentraal-Londen is grootliks ’n superryk, gesteriliseerde plek waar daar nie nou veel ruimte sou wees vir Etienne en sy soort, of hul benadering tot die stad nie. Selfs Berlyn word in die 21ste eeu ’n pastiche van haarself, ’n stad wat haar 1980’s self nou daagliks opvoer vir jong Britse en Amerikaanse toeriste.

Interessant, Etienne se ervaringe in Oos- versus Wes-Duitsland. Wil jy iets van hierdie kontras binne dieselfde land bespreek?

Etienne het die seldsame voorreg om vryelik tussen Oos- en Wes-Berlyn te beweeg, soos die rotte en kakkerlakke. Hy word uiteraard gekonfronteer deur die disoriënterende kontraste telkens wanneer hy van die een halwe stad na die ander beweeg. Hy bevind hom elke nou en dan op die rande, waar die stede in mekaar inbloei. Friedrichstrasse byvoorbeeld, die stasie waar die meeste mense die grens sou oorsteek, is ’n komplekse tussenplek waar Oos- en Wes-Duitsland se onderskeie bo- en ondergrondse treinstelsels en tonnels soos in ‘n termietnes bymekaarkom, en ingepas moet word sonder dat mens iewers kan deurgaan van een na die ander. En dan is daar die spookstasies. In die S-Bahn-treinstelsel het van die Westerse treine onderdeur dele van Oos-Berlyn gery. Daar was ou stasies wat bogronds gesluit was aan die Oos-Berlynse kant. Die Wes-Duitse treine sou spoed verminder en teen ’n slakkepas deur sulke spookstasies ry, waar daar dan Oos-Duitse wagte op die leë, skemer perronne sou staan, gereed met hul gewere indien iemand dalk sou probeer afklim of, meer waarskynlik, ’n Oos-Duitser dalk ’n Wes-Duitse trein sou probeer bestyg.

Vertel my van jou eie filmagtergrond, indien enige? Of het jy navorsing agterna gedoen oor iets wat jou, as skrywer, nog altyd prikkel?

Ek is lankal geïnteresseerd in filmkuns, maar het nog nooit ’n film gemaak of probeer maak nie. Ek sou graag wou; toe ek in New York by Columbia Law School studeer het, het ek my voorgeneem ek sou ná my regstudies by ’n filmskool inskryf. Dit het helaas nie gebeur nie – mens begin werk by ’n groot korporatiewe regsfirma en voor jy weet is jy ingesuig in ’n heeltemal ander soort lewe. Ek skram wel ook weg van die logistieke kompleksiteit van die filmmaakproses en die feit dat markkragte grootliks bepaal watter soort films gefinansier en gemaak kan word. Dis sekerlik ’n glibberige taak. Ek dink die maak van films het ten minste ewe veel met onderhandeling en die bestuur en sjarmering van mense te make, en met die opbou van ’n netwerk verbintenisse, as met visuele insig. Om nie te praat van die tegniese vaardighede wat vereis word nie. Dis darem maar veel veiliger om as romanskrywer agter ’n rekenaarskerm te sit en jou films te verbéél as om inderdaad ’n film gemáák te probeer kry. Dit gee jou vrye teuels om films te bedink sonder om die kommersiële lewensvatbaarheid daarvan te oorweeg of die praktiese kompleksiteite in ag te neem.

Jou werk in die buiteland ... waar het jy al orals gebly en gereis?

Ek het in die vroeë ‘90’s in Engeland studeer, in Cambridge, en toe in die middel-‘90’s in die VSA, in New York, in albei gevalle nagraads in die regte. Ek het toe in New York gekwalifiseer as regspraktisyn en eers daar en toe later in Londen gewerk en gebly. As regspraktisyn het ek dikwels gereis vir werk, maar dit tel nie regtig nie – mens sien nie veel meer as konferensiekamers, hotelinterieurs en verbysnellende stadslandskappe deur taxivensters op sulke reise nie. Ek het darem my vakansietye meestal op die Europese vasteland spandeer. Ek het veral dikwels by vriende in Berlyn gekom tydens my Londense jare. Dit voel, om die waarheid te sê, asof ek in daardie stad ook gebly het, hoewel dit eintlik nie so is nie.

Wat lees jy? (Of: jou beste vyf boeke)

Ek het minder gelees die afgelope jaar of wat as wat ek wou; die produksiewerk aan die Afrikaanse en Engelse weergawes van my roman, wat gelyktydig gepubliseer is, was nogal tydrowend. Die mees onlangse boeke wat ek gelees het, was The vegetarian deur die Koreaanse skrywer Han Kang (ek kan dit helaas nie aanbeveel nie), All that man is van David Szalay, I am Pandarus deur Michiel Heyns en What belongs to you deur Garth Greenwell.

Noem 'n paar films wat indruk gemaak het? 

Die meeste daarvan word in die roman genoem. Etienne se smaak wat betref films stem (gelukkig!) meer met myne ooreen as sy lewensverhaal.

Wat is die sin van die lewe?

As mens dít bondig sou kon saamvat, sou dit onnodig wees om romans te skryf.

 

The post Die derde spoel deur SJ Naudé: 'n Onderhoud appeared first on LitNet.

A Time Traveller's Guide to South Africa in 2030 deur Frans Cronje: ’n onderhoud

$
0
0

A Time Traveller's Guide to South Africa in 2030
Frans Cronje

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624080589

Skrywers oor hul nuwe boeke: Frans Cronje gesels met Naomi Meyer oor sy boek A Time Traveller's Guide to South Africa in 2030.

Hallo Frans, vertel my asseblief wat die toekoms inhou. Ons almal wil weet. Weet jy? Of wat weet jy en hoe stel jy vas wat jy weet? (Anders gestel: dalk kan jy ook iets van jou agtergrond vertel?)

Ek is ’n scenariobeplanner en werk vir Suid-Afrika se voorste beleidsdinktenk, die IRV. Ons gebruik scenario’s om ons kennis van die toekoms so goed te maak soos dié van die verlede. Die IRV doen ’n groot hoeveelheid maatskaplike en ekonomiese ontleding om tendense te identifiseer wat ons samelewing aandryf. Ons versamel ook baie politieke en beleidsinligting. Ons verenig die tendense met die beleidsinligting om ’n beskouing te ontwikkel oor wat in die land gebeur, waarom dit gebeur en wat volgende sal gebeur. Ons is daartoe in staat om 3, 6, 12, 24, 60, en 120 beskouings te toets oor wat om van Suid-Afrika te verwag. Indien ons ons werk behoorlik gedoen het, behoort jy te weet wat in die politiek van die land en die ekonomie sal verander, waarom dit sal verander, wat die implikasie van die verandering vir jou sal wees – en naastenby wanneer dié verwagte verandering sal plaasvind.

Ons weet almal hoe een faktor ’n impak op baie dinge het. Gestel ’n kollega verlaat ’n kantoor, of ’n nuwe klasmaat kom by in ’n skoolklas. Die hele dinamika verander. Dis baie simplisties gestel, maar so is dit sekerlik ook in ’n regering, of hoe? Maar is die land dalk te veel ingestel op Zuma en op hom as president? Of, as mens dink wat Hermann Giliomee onlangs in sy onderhoud met Willemien Brümmer gesê het: moet nooit vir Zuma onderskat nie. Wat is jou gevoel?

Hermann Giliomee is heeltemal reg om te waarsku dat Jacob Zuma nie onderskat moet word nie. Ons het onlangs sewe modelle vir kliënte saamgestel oor hoe die ANC se interne leierskapstryd sal ontwikkel. Zuma het in vyf van die modelle gewen. Hy is ’n uiters gesofistikeerde strateeg en ’n meedoënlose en bekwame opponent. Die media-indruk van Zuma as ’n ploeterende idioot is heeltemal verkeerd. Hy speel op ’n baie hoë vlak skaak en, soos sy vriend Vladimir Putin in Rusland, drink hy nie. Hy het Thabo Mbeki en die grootste deel van Suid-Afrika se sakegemeenskap uitoorlê. In sy dae as hoof van ANC-intelligensie het niemand wat teen Zuma ’n kans gewaag het, ooit gewen nie. Hy kan verslaan word en die kanse teen hom was nog nooit beter nie. Dat hy hoegenaamd onder die huidige druk oorleef, is bewys van sy strategiese vernuf. Ons adviseer kliënte steeds om strategieë te handhaaf vir ingeval die Zuma-kamp nog lank na die einde van die jaar oorleef.

Steeds betreffende die regering: jou boek skryf oor die belang van die regering, maar ook die belang van gemeenskappe, selfs waar die regering nie goeie besluite neem nie. Maar dis moeilik om vanuit mens se eie wêreldbeskouing ’n land te bedink waar die regering nie regeer en beskik oor infrastruktuur, opvoeding, ekonomie en so aan nie. Dink jy egter dis ’n soort oplossing: om te fokus op wat elke individu self kan doen, eerder as om na die regering te kyk vir leiding?

Jy beskryf nou die verbrokkeling-scenario uit die boek. Daar is ’n globale tendens waar nasionale regerings minder belangrik raak, soos ook nasionale grense. Brexit in Europa en die Trump-oorwinning in Amerika toon die mate waarin mense vertroue in gevestigde sentraleregeringsowerhede verloor het. Ons het dieselfde ding gesien met die verbrokkeling van dele van die Sowjetunie na die Koue Oorlog. Moderne kommunikasietegnologie versnel hierdie globale tendensfragmentering. Kubergeldeenhede sal dit selfs vinniger verhaas. Ons is besig om ’n wêreld te betree waar die dinge wat regerings gewoonlik gedoen het, deur individue en gemeenskappe oorgeneem word. Suid-Afrika is, weens sy politieke verdeeldhede en vermoë om tegnologiese vernuwing te absorbeer, aan die spits van hierdie tendens. Ons kan heeltemal voorsien dat Suid-Afrikaners hulle binne nog ’n dekade of wat in lewende enklawes sal bevind wat de facto-minilande is waar plaaslike gemeenskappe in toenemende mate beheer oor funksies sal uitoefen wat strek van onderwys, gesondheidsorg en sekuriteitsdienste tot vullisverwydering, kragvoorsiening en finansiële transaksies.

In hierdie land is daar jare lank geveg vir elke burger se demokratiese reg om te stem. En dis tog waarop ’n demokrasie berus, of hoe? Vryheid van ’n onafhanklike land, met die regering wat regeer omdat hy deur sy burgers aangewys is om dit te doen terwyl hulle voortgaan met hul alledaagse lewe en brood en botter. Of hoe sien jy ’n funksionerende demokrasie?

Wel, ons demokrasie funksioneer nie baie doeltreffend nie. Die aantal gewelddadige teenregeringsbetogings het oor ’n dekade verdubbel. Meer mense verkies om nie te stem nie as diegene wat vir die ANC stem. Ons het gesien dat vertroue in die regering sedert 2007 met die helfte verminder het. Korrupsie is aan die orde van die dag en die media, burgerlike samelewing en howe is nie so gesond en kragtig as wat baie Suid-Afrikaners verkies om te glo nie. Ons dink nie dit is vergesog dat Suid-Afrika in ’n meer outoritêre toekoms sal verval nie, waar burgerlike en politieke regte ondermyn, joernaliste geteister en aangehou, howe geïgnoreer, en die Grondwet, eiendomsregte en regsoewereiniteit grootliks van hul krag beroof sal word.

Dink jy dat soos wat nuwe beroepe ontstaan en vorige beroepe wegval of vervaag met nuwe tegnologiese uitvindings (telefoonhokkies versus selfone; slakpos versus e-pos, byvoorbeeld), nuwe regeringsmodelle in die toekoms wag? Ook in hierdie land?

Ons weet nie wat die beroepe van die toekoms sal wees nie, omdat die meeste van hierdie beroepe en bedrywe nog nie bedink is nie. Tegnologiese vernuwing, van robotte en nanotegnologie tot kommunikasievordering, kubergeldeenhede en kunsmatige intelligensie, kan die wêreld oor die volgende 20 jaar vinniger verander as wat dit oor die afgelope 100 jaar verander het. Selfbesturende motors kan binne ’n dekade algemeen wees op ons paaie. Vliegtuie wat self vlieg of wat deur androïedvlieëniers geloods word is reeds tegnologies moontlik, hoewel lugdienspassasiers dit nog nie genoeg vertrou vir die beheer van kommersiële straalvliegtuie nie. Ons is naby die punt waar jou selfoon jou sal kan vertel dat jy op die punt is om ’n hartaanval te kry en liewer moet sit – en dat dit reeds die paramedici ontbied het. Wanneer ’n mens na die pas van globale tegnologiese vordering kyk, is dit selfs meer onaanvaarbaar dat Suid-Afrika sulke swak onderwysresultate lewer, veral met betrekking tot wiskunde. Dit is net so waansinnig om Suid-Afrikaanse politici te sien kibbel oor wie die grond of die myne behoort te besit wanneer die toekoms van welvaartskepping lê by wat in mense se koppe aangaan.

Is dit herhalings van die geskiedenis? Die outydse denkstroom van die geskiedenis wat homself herhaal – is dit op hierdie land van toepassing?

In ’n sekere mate. Ons voer wel in die boek die argument aan dat alle vorige tydperke van baie swak ekonomiese groei tot beduidende politieke herskikkings aanleiding gegee het. Dit was waar vir die dekade na die Boereoorlog en die jare na die Tweede Wêreldoorlog. Aan die einde van die 1980’s was Suid-Afrikaners 20% armer as aan die begin van dié dekade en dit het bygedra tot die 1994 politieke oorgang. Ons gaan nou ’n tydvak tegemoet wat net so moeilik en gevaarlik is as dié van die 1980’s, en ek twyfel nie daaraan dat die volgende dekade nog ’n fundamentele politieke en ekonomiese herskikking vir Suid-Afrika sal meebring nie.

Vertel my hoe jy die ekonomie sien – en die toekoms daarvan?

Die korttermyn ekonomiese toekoms sal baie moeilik wees. Verwag lae groeivlakke met die voortdurende risiko van resessie. Verwag dat per capita-BBP-syfers sal daal en dat belasting wat geïn word, ’n onderverwesenliking van SAID-teikens sal wees. Die regering se geld sal opraak en hulle sal pensioenfondse probeer plunder of voorgeskrewe beleggings instel om kop bo water te hou. Bestedingsbesnoeiings sal nodig word, maar sal polities baie ongewild wees. Suid-Afrika is op die oomblik in groot ekonomiese gevaar.

Die ekonomiese toekoms op baie langer termyn kan baie beter wees indien die regering strukturele hervormings kan instel om baie hoër vlakke van kapitaal- en vaste belegging na die land te trek. Vastebeleggingvlakke staan tans op slegs 20% van BBP. Dit behoort nader aan 30% te wees. Maar Suid-Afrika sal nie sulke belegging trek indien die regeringsbeleid byvoorbeeld vyandig teenoor eiendomsregte bly, of onduidelik, soos in die huidige geval van mynbou nie.

Ons dink daar is ekonomiese hervormers in die regering. Heelparty hiervan is in die ANC en hulle besef dat steun vir hul party sal afneem namate per capita-BBP daal. Die vraag is egter nog of dié hervormers in die ANC se interne magstryd die oorhand kan kry – en ons sal nie voor die middel van 2019 ’n duidelike antwoord op dié vraag hê nie.

Wat van vryheid in die algemeen: vryheid van spraak, vryheid binne die media, vryheid om te stem en jou sê te sê? Hou dit alles met mekaar verband?

Party van my kollegas verskil daaroor, maar ek dink dat Suid-Afrika noodwendig ’n meer outoritêre samelewing sal word. Daar is opvallende nadelige aspekte daaraan verbonde, maar ook, soos ons in die boek verduidelik, een voordeel, omdat dit ’n toekomstige regering sal toelaat om die baie ongewilde strukturele ekonomiese hervormings (byvoorbeeld die deregulering van die arbeidsmark) af te dwing wat nodig sal wees om vlakke van plaaslike ekonomiese mededingendheid te verhoog en nuwe beleggingsinvloei te trek.

Ek weet dat dit in party dele van die regering en die ANC ’n gewilde sienswyse is. Ons skets ’n scenario daaromheen in wat ons die opkoms van die regsgesindes noem. Hier pas Suid-Afrika party van die lesse van die Asian Tiger-ekonomieë toe om baie hoë vlakke van ekonomiese groei en werkskepping teen die middel van die 2020’s te bereik. In daardie toekoms is Suid-Afrika ’n minder vrye samelewing, maar baie stabiel en sal hulle mettertyd redelik welgesteld raak.

Dink jy ons land se omstandighede is baie anders as baie ander ontwikkelende lande s’n, en is dit dalk nog te vroeg om nou al, enkele jare na demokrasie, ’n voorspelling van die toekoms te waag? Watter ander lande kan naastenby met iets van die Suid-Afrikaanse omstandighede vergelyk word en hoe het hul verlede en toekoms gelyk?

Ons is op die oomblik uniek omdat ons een van die ekonomieë met die stadigste groei in Afrika is, en een van die opkomende markte in die wêreld met die grootste ekonomiese onderprestasie. Ons arbeidsmarkabsorpsiekoers (die persentasie mense van werkende ouderdom wat werk) is net 40%, terwyl die meeste opkomende markte nader aan 70% staan. Tog is die lewenstandaard in Suid-Afrika, weens aggressiewe welvaartherverspreidingskemas en baie suksesvolle diensleweringspogings na 1994, baie hoër as wat dit in 1994 was. Dink net daaraan dat daar vir elke plakkershut wat na 1994 gebou is, 10 formele huise in die land gebou is.

Dié sonderlinge kombinasie van stygende lewenstandaard en baie lae vlakke van ekonomiese insluiting maak ons uniek en gee aanleiding tot die meeste van ons huidige politieke probleme.

Ons toon wel aan dat indien toekomstige regerings leer uit die historiese foute wat deur ander opkomende markte gemaak is en party van hul suksesse begin nadoen, Suid-Afrika ook groeikoerse kan bereik wat vergelyk met wat in die 1970’s en 1980’s in Suid-Korea behaal is of wat tans in Rwanda en Mauritius plaasvind.

Hier is die belangrikste vraag – sal jy waag om dit te beantwoord? Wat wag op ons in Suid-Afrika?

Die volgende 2–3 jaar sal inderdaad polities sowel as ekonomies baie moeilik wees. Daaraan moet geensins getwyfel word nie. ’n Mens sal baie goeie inligting nodig hê, sowel as die vermoë om jou keuses en die besluite wat jy moet neem, baie duidelik te verstaan ten einde veilig rondom die krisisse wat voorlê te navigeer. Teen die vroeë 2020’s raak dit egter moontlik dat Suid-Afrika hom met ’n reformistiese regering mag bevind wat baie hard probeer om die huidige ekonomiese en politieke skade te herstel en die land te herbou. Indien dit nie gebeur nie, is dit onvermydelik dat Suid-Afrika selfs dieper in ons verbrokkelingscenario inbeweeg. Dan sal ons ’n land van enklawes word wat deur middel van netwerke met mekaar en met die res van die wêreld verbind is. Skynbaar teen verwagtinge in sal jy dan, indien jy die enklaweverskynsel goed verstaan en jouself, jou besigheid en jou familie dienooreenkomstig posisioneer, goed genoeg verskans wees om ’n baie hoë lewenstandaard in ’n toekomstige Suid-Afrika te handhaaf.

The post A Time Traveller's Guide to South Africa in 2030 deur Frans Cronje: ’n onderhoud appeared first on LitNet.

’n Wolf in skaapsklere: ’n Onderhoud met Kobus Galloway

$
0
0

’n Wolf in skaapsklere
Kobus Galloway
Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781776092154

Kobus, vertel my asseblief van ’n Wolf in skaapsklere? Watse soort boek is dit?

Dit is ’n papierboek, maar die buiteblad is bietjie dikker. O, ekskuus, jy bedoel watse tipe boek is dit? ’n Wolf in skaapsklere is ’n opvoedkundige Afrikaanse boek wat idiome uitbeeld deur middel van illustrasies en dit pret maak vir mense om te leer.

Vir wie is hierdie boek geskryf – vir kinders of vir grootmense? Vir onderwysers?

Ek dink die boek is vir enige van die drie. Kinders kan self idiome leer, ouers kan dit vir hulle kinders lees of vir hulself. En natuurlik is dit ook lekker opvoedkundig, so onderwysers kan dit as ’n hulpbron gebruik en vir kinders dit bietjie lekkerder maak om idiome te leer.

Dink jy idiome is belangrik? En dink jy idiome is aan die uitsterf – of is nuwe idiome dalk vlak onder ons neuse aan die ontwikkel? (Terloops: wanneer beskou jy ‘n frase of uitdrukking as ‘n idioom? Waar kry mens nog deesdae ‘n soort kanon van idiome wat definitief as sodanig geag word?)

Ek dink wel dat idiome belangrik is. Idiome is lekker ’n manier om iets uit te beeld en Afrikaans lekker te laat klink. Al manier waarop idiome sal uitsterf, is as die Afrikaanse taal uitsterf, want dis deel van die taal. Ek glo uitdrukkings en idiome is baie dieselfde en party idiome kan uitdrukkings wees, en ook anders om.

Prent: YouTube

Jy is ’n grafiese kunstenaar. Maar mense praat van jou woordspeling en van jou bewustheid van dubbelsinnighede. Wat was eerste vir jou: woorde of grafiese kuns?

Ek teken al van ’n sesjarige ouderdom, so ek glo my liefde vir die kunste was voor my liefde vir woordspeling daar. Maar hulle gaan nou hand aan hand met Idees vol Vrees en ook in my nuwe boek, Wolf in skaapsklere en ander Afrikaanse idiome.

Is alle kuns mooi?

Is alle kuns kuns? Wat is kuns?

Is woorde dikwels vir jou snaaks, en hoekom dink jy is dit so?

Woorde op hul eie is nie noodwendig vir my snaaks nie, maar sodra mens ’n prentjie daarby kan voeg, kan mens dit snaaks maak. Want dan kan die kyker ’n konnotasie skep tussen die fisiese en die letterlike uitbeelding.

Prent: YouTube

Maar soms – dikwels, meestal? – is daar nie ‘n beeld wat gekoppel kan word aan ‘n woord, of ‘n woord aan ’n beeld nie. Of hoe? Wat dink jy en stem jy saam? 

Ek het nog nie Beeld gelees nie, ons kry net Die Burger hier onder in die Wes-Kaap. Afrikaans groei elke dag; daar is ook nuwe uitdrukkings en idiome wat geskep word deur die jonger mense van vandag wat nie in die idioomboeke van die 1980’s en ‘90's is nie. Byvoorbeeld "ek gaan ’n voëltjiebad vat". Iemand wat net gou vinnig gaan afspoel en nie lank bad of stort en was nie.

Terwyl ek jou nou vra oor of hierdie boek vir volwassenes of vir kinders is, hier’s ’n vraag waaroor opkomende kunstenaars dalk wonder: Is daar werk vir grafiese kunstenaars in hierdie land? En, anders gestel: Hoe skep mens werk vir jouself as grafiese kunstenaar? En: beskou jy jouself as grafiese kunstenaar, of as iets anders?

Goeie vraag – daar is so baie grafiese kunstenaars in die land. Party goed en party nie so goed nie, maar op die ou einde is dit jou werk wat die praatwerk doen, en deur kliënte en kennisse en vertroue op te bou in die bedryf en ’n naam vir jouself te maak. Niemand gaan ’n oornagsukses word nie. Dis maar soos enige ander bedryf. Wat maak jou ’n goeie dokter of mechanic of bouer? 

Ek beskou myself nie net as ’n grafiese kunstenaar nie, maar liewers ’n kreatiewe persoon, want ek is nie nét ’n grafiese ontwerper nie.

Watter ander projekte voer jy in die mou?

Behalwe grafiese ontwerp, het my maatskappy ’n advertensiebeen wat unieke spotprente vir besighede teken wat handel oor hulle produk of diens, en dit word dan opgelaai en geadverteer op Idees vol Vrees se sosialemediabladsye. Dit word dan gesien deur duisende mense ipv net ’n paar wat byvoorbeeld ’n koerant sou optel. 

Ek het dan ook my aanlyn winkel oorgebou – dit word binnekort bekendgestel – en daar verkoop ons allerhande humoristiese goedjies – kyk www.komedie.co.za.

En dan doen ek sosialemediabemarking vir besighede, omdat ek self al ’n gekombineerde aanhangerbasis van 650 000 mense opgebou het vir myself. So ek moet iets reg doen! 🙂

Verder het ek nog ’n paar fantastiese planne en geheime, maar ek het ’n nuwe baba op pad, so ek sal dit aanpak eers as die klong bietjie groter is.

The post ’n Wolf in skaapsklere: ’n Onderhoud met Kobus Galloway appeared first on LitNet.

Accident by Dawn Garisch: an interview

$
0
0

Accident
Dawn Garisch

Publisher: Modjaji Books 
ISBN: 9781928215332

Authors on their new books: Dawn Garisch chats to Naomi Meyer about Garisch's novel, Accident.

Hi Dawn, thanks for the opportunity to talk to you. Please tell me a bit about yourself.

​I have been drawn to the arts, especially reading and writing, for as long as I remember, but my family decided that I should study to become a doctor. ​I didn't object, as medicine was interesting, and it is a valuable occupation. However, I am fortunate to have been born into a time when the discipline of medical humanities has come into existence – how the arts and the social sciences can intersect with the health sciences to make medical practice more humane and more effective. This split in myself and in our society around art and science informs my life, my writing and my work. I am currently self-employed as a medical doctor, a writer in many categories, and a teacher of writing and creative method. Recently, I have raised funds to start an NPO called Life Righting Collective, to assist people from all walks of life to write their stories to help us understand ourselves and each other. We will be bringing out an anthology of life writing next year.

Is your book, Accident, autobiographical? If so, in which respects?

​I think effective fiction writing stems from some personal disturbance ​that the author extrapolates into another very different imaginative scenario. This means that the emotional experience of the writing feels authentic, and that the author can explore her dilemmas outside the confines of her own life. So, yes, I am a part-time general practitioner, and yes, I would have loved to have been an artist (although not as extreme as Max), and yes, I have two sons, who have, at times, done things and made choices that have bee​n extremely worrying to me. But Carol is not like me, Max is not like either of my sons, and what happens in their relationship has nothing to do with me. And I have never had a relationship with someone like Neil or Jack!

Your book, Accident, is about the relationship between a mother and her grown-up son. And the accident the title refers to, is about the young man in the story who set himself alight. Was this an accident?

​No, Max sets himself on fire as a performance piece. The title refers to several accidents in the novel, from the circumstances of Max's conception, to his friend's death, to Carol's midlife crisis, where she feels that she has not been an active agent, but that she has lived in response to accidents that have shaped her life. It also refers to our perception that many illnesses that befall us are accidental, instead of noticing that how we behave towards the homes of our bodies, each other and the earth​ is making us ill.

We need to talk about Kevin ... I mean, Max. You also wrote a short story called “What to do about Ricky”. Is this story also on somebody’s son? Is this complex relationship between a parent and a grown child something you like exploring?

​Ricky would definitely have been somebody's son, but the story is about a woman who doesn't know what to do about know how to get out of a dead-end relationship​ with a married man called Ricky (with a twist in the end). Actually, four of my novels – Stoning the tree, Babyshoes, Trespass and Once, two islands – all have a thread running through about parenting.

Or do we need to talk about Max’s mother? Tell me about her.

​Carol is like me, in that she is frustrated by the limitations of medicine – ​how to change people's awareness of how self-destructive we are towards our own bodies and the earth. I am interested in the recent findings in neuroscience, that facts rarely change behaviour, because we make decisions from an image or narrative that is not readily accessible to the conscious mind. Max is an artist, and knows how powerful images can be to make people pay attention, and to encourage them to reconsider the way they do things. Carol, of course, cannot initially see what her son is trying to achieve through his art form, and is concerned about his mental health and what she has done to cause his extreme behaviour.

Do you think that there are all kinds of guilt issues in any parental-child relationship? But is it not the case that no parent is perfect, that all parents will damage their children in some way? And that children should take responsibilty for their own actions, as well?

​I think it's impossible to get parenting right. Mostly, we are either too much or too little. Carol is treading that tightrope. As a parent of a baby, you are entirely responsible for its well-being, and as the child grows into an adult, the trick is to know when to hold on and when to let go, as an incremental dance. Ultimately, a young person must take full responsibility for his own life, of course, but there is a transition phase that is very tricky in human beings, in late adolescence and early twenties, when the frontal lobes are not fully engaged to help an individual make good choices – resulting in those which are not necessarily safe ones or ones that a parent would approve of.​

Then, by accident, something happens not to the son, but to the mother. What can you tell our readers about this, without giving too much away?

​Carol is so involved in her son's story, she is not paying attention to her own. It's usually easier to see what is problematic in someone else's lifestyle, and more difficult to see one's own issues clearly.​ Yet, her issues help her find her way back to herself and her son, and to engage with the meaning of his work.

Accident is also about art, art happenings, performance art – art happening by accident, if you will. What kind of art do you like? Visual, theatre, music?

​I respond to all forms of art. I feel as though I was born into an interdisciplinary zone, where artistic practice in general attracts my attention. Journalists report back on everyday happenings, while artists report back on the zeitgeist – the nature and fashion of the times we are living in. They reflect on our cultural, political, spiritual and psychological practices, and, in doing so, help us reflect on them, too. As for theatre, I have recently completed two plays: a one-woman show, which is an adaptation of Trespass, the novel that came out in 2009, and which will be on at the AFDA Theatre in Observatory in September; and a two-hander called “To get to the moon”, which is about a couple who lose a child (there it is again!).

What are you reading at the moment?

The third reel by SJ Naudé – we are on the same panel together at the Open Book Festival. A wonderful writer.​

Are you busy writing something else at present?

​I am writing another play, this time about mothers and daughters – biological and symbolic.

 

The post Accident by Dawn Garisch: an interview appeared first on LitNet.

Die groot drie: ’n onderhoud met François Verster

$
0
0

Die groot drie
François Verster
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776090181

François Verster vertel vir Naomi Meyer van sy boek Die groot drie, wat pas benoem is vir die kykNET Rapport-boekprys se niefiksieafdeling.

François, Die groot drie is pas benoem op die kortlys van niefiksieboeke vir die kykNET Rapport-boekprys. Baie geluk! Wie is hierdie groot drie na wie die titel verwys?

Dankie Naomi. Dis DC Boonzaier, TO Honiball en Fred Mouton. Hulle is die enigste voltydse spotprenttekenaars wat Die Burger sedert sy ontstaan in diens gehad het. Daar was soms, baie selde, persone wat uitgehelp het as iemand siek was, soos Jacques van Wyk, Maree Mouton en Johan Stapelberg, maar Boonzaier, Honiball en Fred Mouton het elkeen minstens 30 jaar lank gereeld spotprente geteken.

Jy is die argivaris van Naspers, en ek neem aan dat die geskiedenis jou interesseer. Waarom het hierdie drie spotprentkunstenaars jou genoeg aangegryp om navorsing oor hulle te doen?

Inderdaad, dalk selfs in oordaad: ek het kwalifikasies in algemene geskiedenis (honneurs), ekonomiese geskiedenis (MA), kultuurgeskiedenis (DPhil) en mediageskiedenis (MA), en was ook geskiedenisonderwyser, dus is my belangstelling in geskiedenis onteenseglik daar. Ek dink ek het van kleins af van ’n goeie storie gehou en geskiedenis op skool is die een vak wat immers hieraan voldoen. Verder is beide Boonzaier en Fred Mouton verlangs familie, dus het ek altyd by my ouers van hulle gehoor. Ek en my broer teken en skilder ook van jongs af, en ons ouers is ook kunstig, so dis dalk maar in die bloed. Ek self het ook illustrasies vir ’n paar boeke gedoen en almal sê altyd Fred se invloed is nogal merkbaar – ek beskou dit as ’n groot kompliment! Ek het ook van so lank ek kan onthou strokiesboeke gelees en Honiball se Adoons-hulle was ’n gunsteling. Toe ek in 2007 vir Naspers kom werk het, het ek reeds besef dat dit uitsonderlik is dat ’n koerant in 100 jaar net drie spotprenttekenaars gehad het, en van daar dan later die boek. Ek hoop om in 2018 met ’n boek oor Boonzaier se lewe te begin.

Handel die boek net oor hierdie spotprentkunstenaars? Of handel dit ook oor die geskiedenis van die Afrikaanse pers?

Dit handel hoofsaaklik oor die werk van die spotprenttekenaars, maar daar is ’n gedeelte oor Die Burger se ontstaansgeskiedenis en oor die land se geskiedenis ter wille van konteks. Die leser moet ’n gevoel van die verskillende historiese tydperke kry en bewus wees van tydsgees.

Die onverwagsheid van humor, die kommentaar wat dit uitspreek, die gevaar van satire. Wat het jy tydens jou navorsing uitgevind omtrent hierdie drie kunstenaars – en wat het jy vasgestel omtrent die nasie wat vir hulle lag (of wat vir hulle kwaad word)?

Humor en satire werk natuurlik die beste as die leser die boodskap snap en die uitgebeelde persone herken, so hoe beter die lesers ingelig is, hoe groter is die spotprent se trefkrag. Sedert die Anglo-Boereoorlog (veral) het die Afrikaanse burgers verpolitiseer, en toe Die Burger op die toneel kom (juis as hulle mondstuk), was geletterdheid redelik laag, maar hulle kon die spotprente verstaan, want hulle was bekend met die politiek en die rolspelers. Die gevaar van satire is net dat jy nie die mán te veel moet speel nie, eerder die bal – val die onreg aan wat gepleeg word, nie alewig die persoon wat dit pleeg nie, anders kan die simpatie na die oortreder verskuif. Geen volk hou daarvan om tereggewys te word nie; almal wil glo hulle is die goeie ouens en die slagoffers – Suid-Afrikaners is geneig tot ’n slagoffermentaliteit – so dis beter as ons eie spotprenttekenaars ons herinner aan ons vooroordele. Daarom is dit goed dat die politieke-spotprent-toneel nie meer die alleenspeelplek van wittes is nie. Honiball was bekend as die persoon wat Afrikaners vir hulself leer lag het, dog deur die gebruik van bobbejaankarakters wat enige kultuur kan verteenwoordig.

Kan jy een spotprent van elkeen van hierdie kunstenaars uitsonder wat vir jou uitstaan as die mees treffende?

Sjoe, hulle het elkeen duisende prente geteken. Hoewel al drie uitstekende politieke prente geteken het (Fred steeds), het Boonzaier dalk tog die skerpste penprikke gemaak – hy was die politieke dier, die aktivis, van die drie, en Honiball was ’n goeie strokiesverhaalskepper, vol kaperjolle en humor, en Fred die beste "all-rounder" van die drie wat estetika, boodskapoordrag en goedige humor by tye betref.

Drie prente, werklik redelik arbitrêr gekies, want daar is net te veel:

Honiball het hier vir Jan Smuts as ’n liegbek uitgebeeld, want hy plaas hom in die geselskap van Oom Kaspaas, ’n eie skepping en destyds baie bekende Afrikaanse grootliegkarakter – so beweer Honiball dan dat jy nie vir Smuts ernstig kan opneem nie.

Fred Mouton gebruik die metafoor van "uit die kas kom" hier treffend: hy gooi dit egter netjies om, sodat die kerk uit die kas moet kom, nie die gay lidmate nie. ’n Treffende aanklag teen ’n magtige instansie, maar steeds vol deernis.

Boonzaier se grootste skepping, die fiktiewe Hoggenheimer, wat hy talle male gebruik het om kapitalisme aan te val. Hoggenheimer was so bekend dat hy selfs in woordeboeke opgeneem is. Sy neus en sigaar kon net om ’n hoek uitsteek, dan weet die lesers wie dit is. Hier beeld Boonzaier hom as ’n standbeeld vir kapitalisme uit.

 

The post Die groot drie: ’n onderhoud met François Verster appeared first on LitNet.


Verskroeide aarde: ’n onderhoud met Fransjohan Pretorius

$
0
0

Verskroeide aarde
Fransjohan Pretorius
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624079668

Skrywers oor hul nuwe boeke: Fransjohan Pretorius oor Verskroeide aarde

Hallo Fransjohan. ’n Nuwe uitgawe van die koffietafelboek Verskroeide aarde het onlangs by Tafelberg verskyn. Dit is nou 115 jaar na die einde van die Anglo-Boereoorlog (ABO). Ondervind jy, wanneer jy met mense op straat gesels, dat daar steeds ’n behoefte is aan die lees omtrent en sien van foto’s rondom hierdie oorlog?

Die belangstelling by veral Afrikaners – maar waarskynlik nie alle Afrikaanssprekendes nie – so lank ná die oorlog en reeds 15 jaar ná afloop van die herdenking daarvan, bly verstommend groot. Ek kry ook dikwels navrae van Engelssprekende Suid-Afrikaners of buitelanders wie se oupas of oupagrootjies aan Boerekant geveg het. Foto’s trek altyd die aandag, en in hierdie hersiene uitgawe is daar 160 van die 260 foto’s en illustrasies wat nie in die eerste uitgawe van 2001 verskyn het nie. Meer as 50 hiervan is in kleur. En die gehalte van die foto’s is merkwaardig goed.

Daar was al baie oorloë in die geskiedenis. Waarom is die Anglo-Boereoorlog ’n oorlog in hierdie land wat net nie uit die psige van Suid-Afrikaners verdwyn nie?

Ek moet beklemtoon dat dit veral Afrikaners is wat hierdie gevoel ervaar. Rondom die 100-jarige herdenking van die Groot Trek in 1938 het Afrikanerleiers en -woordsmede die lyding en die heroïese van die Anglo-Boereoorlog gaan haal om Afrikanernasionalisme te bevorder. Hulle taak was maklik, want die skreiende feite van die oorlog het vanself gespreek. Hulle het die Boere net nog groter en dapperder as die lewe voorgestel en die konsentrasiekampe ten onregte as moordkampe bestempel (dit was ten minste nie die Britte se bedoeling nie). Om nasionalisme te bevorder het jy ’n vyand nodig, en die Brit was daardie maklike objek. Daarna het Afrikaners in die Nuwe Suid-Afrika pak gekry met die onthullings voor die Waarheid-en-Versoeningskommissie, en toe die herdenking van die oorlog kort daarna kom, het Afrikaners skielik besef: haai, maar ons het ook gely, neem kennis julle! Moet egter nie die groot impak van skitterende historiese romans en kortverhale oor die oorlog uit die oog verloor nie – met natuurlik PG du Plessis se Fees van die ongenooides wat uittroon.

Laat ek dan dalk eerder vra: as jy nie saamstem daarmee dat Suid-Afrikaners hierdie oorlog genoeg bestudeer nie (byvoorbeeld in skole se leerplanne), waarom beskou jy dit as ’n oorlog met verreikende gevolge in hierdie land? Jy kan enige faktore bespreek: praktiese dinge soos die grootte van die bevolking, die onderdrukking van een groep wat dalk tot onderdrukking van ’n ander groep kon bydra, nasionalisme, algemene uitstyg bo omstandighede ten spyte van verlies.

Die Afrikaner het verarm uit die Anglo-Boereoorlog getree en soos wat hy geleidelik op politieke, finansiële en kulturele gebied herstel het, het hy hom voorgeneem om nooit weer deur ander oorheers te word nie. Die sentiment wat hy uit hierdie stryd met hom saamgeneem het, was ’n groeiende en aggressiewe nasionalisme. Op ’n indirekte manier was apartheid uiteindelik die gevolg daarvan. Nasionalisme is uitsluitend, en dit laat jou jou oë sluit vir die lot en lyding van ander. Swart mense weer het gevoel die Britse regering het hulle met die Vrede van Vereeniging in die steek gelaat – en die meeste swart mense het die Britse oorlogspoging gesteun omdat hulle gereken het dat ’n beter bedeling op hulle sou wag ná ’n Britse oorwinning. Daarin is hulle ontnugter, want lone op die myne was minder as voor die oorlog, en die gekwalifiseerde (gedeeltelike) stemreg van die Kaapkolonie waarvolgens ’n paar duisend swart mans stemreg gehad het, is nie na die voormalige republieke uitgebrei nie – ook nie met die toekenning van verantwoordelike bestuur in 1906 en 1907 nie, en ook nie met Uniewording in 1910 nie. Die gevolg: die swart struggle het momentum gekry met die stigting van die South African Native National Congress in 1912, wat in 1923 die naam African National Congress gekry het.

Verskroeide aarde is ’n emotiewe titel, omdat dit nie net ’n beleid wat in die oorlog aangewend is, uitstip nie, maar ook mense se verbintenis met grond en die verlies hiervan aandui. Wil jy dalk uitbrei op hierdie gebeurtenis(se) en die nalatenskap daarvan op die gemoedere van Suid-Afrikaners?

Baie goed raakgesien, Naomi! Vanaf die oomblik dat daardie Britse patrollie by ’n Boerewoning opgedaag het, die inwoners bars behandel het, die opstal en buitegeboue afgebrand, die skape en beeste in ’n kraal gejaag en doodgeskiet of lewend verbrand het, die oeste op die lande afgebrand het, en die inwoners ongenaakbaar aangejaag het konsentrasiekamp toe, het die gebeure in die slagoffers se gemoed geskroei. Toe kom die verskriklike lyding en sterftes in die konsentrasiekampe, waar ’n kwart van die inwoners gesterf het vanweë die Britte se skokkend vrot administrasie en gebrek aan sorg. Baie van ons kan getuig hoe ’n ouma wat in so ’n kamp was, eers teen die jare sestig van die vorige eeu bereid was om daaroor te begin praat. Dit was posttraumatiese stres op sy ergste, ’n term wat hulle nie eens geken het nie. Ek besit ’n bord wat bykans ongeskonde gekom het uit die afgebrande opstal van my oorgrootjies, Dirk en Elizabeth van Rooyen van Roodebloem, noord van Harrismith. Die bord het fyn-fyn krakies in, met swart roet daarin gebrand as herinnering. Eerlikwaar, ek kyk as historikus sonder emosie daarna, maar ek begryp daardie trauma. En onthou, swart mense het dieselfde ervarings gehad, want die Britte het hulle as voedselverskaffers van die Boere óók in konsentrasiekampe gedompel, waar die versorging eweneens skokkend sleg was.

’n Onlangse besoek aan die Vrouemonument in Bloemfontein het my die geleentheid gebied om die Sol Plaatje-saal te besoek. Wil jy dalk iets vertel van hoe hierdie nuwe uitgawe van Verskroeide aarde die impak van die ABO (of die Suid-Afrikaanse Oorlog, soos dit ook soms genoem word) op die hele Suid-Afrikaanse bevolking toelig?

Twee van die hoofstukke gaan oor die swart ervaring tydens die oorlog, en meer spesifiek in die konsentrasiekampe, en ’n derde hoofstuk oor die argeologiese opspoor van ’n swart konsentrasiekamp. Stowell Kessler is sedert die eerste uitgawe oorlede, maar ek kon sy voltooide doktorale proefskrif wat deur die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein uitgegee is, benut om belangrike toevoegings tot sy hoofstuk in Verskroeide aarde te maak. Aangrypende foto’s oor swart, bruin en Indiërbetrokkenheid is opgediep en verhoog die indrukwekkende voorkoms van die boek. In die jongste tyd is gewag gemaak van swart meisies wat saam met wit gesinne in die wit kampe opgeneem is, en ’n paar van die foto’s in die hersiene uitgawe getuig daarvan. Soos die Oorlogsmuseum tereg bevestig: hierdie was almal se oorlog. In hierdie sin wás dit ’n Suid-Afrikaanse Oorlog, hoewel ek normaalweg die benaming Anglo-Boereoorlog gebruik, omdat die amptelike diplomatieke en politieke stryd tussen Brittanje en die Boere was – met ultimatum en vredesluiting en al.

Daar is in my skooldae graag aangevoer dat die ontdekking van diamante, goud en mineraalrykdomme ’n groot rol gespeel het in die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog. Maar dan was daar ook sleutelfigure wat op sekere tydstippe in hul eie lewens ’n visie gehad het oor die uitbou van hul eie koninkryke – mense soos Cecil John Rhodes. As mens dink aan vandag se protesaksies en sleutelfigure wat hier rolle speel, kan mens nie anders nie as om raak te sien hoe sekere dinge eenvoudig saamwerk om ’n perfekte storm te bewerkstellig. Stem jy saam? Wil jy dalk iets vertel van hoe jy dink die Anglo-Boereoorlog ontstaan het, wat alles bygedra het tot die uitbreek daarvan?

Ja, ek wonder hoeveel LitNet-lesers onthou nog so ’n kartonboksie wat ons as kinders ’n kaleidoskoop genoem het en waarin jy gekyk het om mooi gekleurde patrone te sien? As jy die fokus gedraai het, het nuwe patrone gevorm. So amper gebeur die geskiedenis – dinge werk saam om ’n nuwe beeld en gebeure te vorm. Haal goud uit die prentjie, en hier was geen Anglo-Boereoorlog nie. Die ontdekking van ryk goudriwwe aan die Witwatersrand in 1886 het plotseling ’n sukkelende Zuid-Afrikaansche Republiek potensieel die magtigste politieke en finansiële staat in suider-Afrika gemaak, en die oorheersende posisie van die Kaapkolonie (en dus Brittanje) bedreig. Voeg daarby dat Brittanje, Frankryk en Duitsland besig was om Afrika onder hulle te verdeel, en bring ambisieuse karakters soos Cecil John Rhodes en veral Alfred Milner in die prentjie – Milner wat homself as ’n “British race patriot” bestempel het – en jy het ’n resep vir aggressie en oorlog. Mag was reg, en niks wat Paul Kruger kon doen, sou die oorlog kon verhoed het nie.

Emily Hobhouse is by die Vrouemonument begrawe, saam met drie ander leiers in die Afrikaanse gemeenskap. Dit moes seker aardskuddend gewees het dat ’n Engelse persoon daar begrawe is destyds toe die Vrouemonument opgerig is. Was Emily Hobhouse vir die Boere ’n simbool van “nie alle Britte is so sleg nie”, of op watter manier kan jy die komplekse dankbaarheid en heldeverering wat teenoor haar bestaan het toe sy daar begrawe is, beskryf?

Ons moenie vergeet dat Emily Hobhouse die skokkende lyding in die wit konsentrasiekampe aan die groot klok in Brittanje gaan hang het nie. Dit was ’n geweldige verleentheid vir die Konserwatiewe Britse regering, want niemand daar het eens geweet van die bestaan van die kampe nie. Toe die Liberale Party Emily se saak opneem, was die regering genoodsaak om op te tree. Hulle het ’n Dameskomitee onder Millicent Fawcett na Suid-Afrika gestuur, wie se bevindings en aanbevelings ten opsigte van verbetering van die situasie ooreengestem het met Emily s’n. Haar opheffingswerk ná die oorlog (weefskole, ploegspanne) het dit vir Afrikanerleiers maklik gemaak om van haar ’n heldin in die opbloei van Afrikanernasionalisme te maak. Ek dink nie die gedagte van “nie alle Britte is so sleg nie” het ’n rol gespeel nie. Sy is as “een van ons” beskou.

Daar is sommige van ons wat lewe wat voorouers geken het wat nog by die Anglo-Boereoorlog betrokke was. Dink jy dat as hierdie geslag mense sterf, daar ook warm belange en betrokkenheid by hierdie oorlog sal afsterf?

Kultuurleiers het ’n manier om sentimente oor die verlede wakker te hou, maar toegegee, daar is talle jong Afrikaners wat geen erg het aan die lyding en sterftes in die konsentrasiekampe nie. Ek dink ons almal se ervaring is egter dat soos ons ouer word, die geskiedenis vir ons belangriker word. Ek weet dat baie Afrikaanse ouers vir hul kinders van die Anglo-Boereoorlog en die konsentrasiekampe vertel en wil vertel. Hulle het egter nie altyd die feite tot hul beskikking nie, en dalk is Verskroeide aarde ’n bietjie van ’n hulp. Laat ons egter geen illusies koester nie – geskiedenis is soos om ’n klip in ’n plaasdam te gooi. Vir ’n tyd lank is daar rimpelings op die wateroppervlak, maar daardie rimpelings verdwyn ook later.

Na al die baie boeke wat jy rondom die Anglo-Boereoorlog geskryf het: wat staan vir jou uit van hierdie oorlog spesifiek, as jy iets moet uitsonder?

Die feit dat die oorlog deur ménse ervaar is – gewone mense, helde en lafaards, met ambisies en vrese, en talente en swakhede. Net wanneer ek dink ek verstaan hierdie oorlog, word ek getref deur die nuanses daarvan. Niks daarvan is net reg of verkeerd nie, net swart of wit nie, net goed of sleg nie. Christiaan de Wet het wondere verrig op die slagveld, maar soms ook lekker drooggemaak. So ook Koos de la Rey, of Louis Botha. Om nie eens van die Britse generaals te praat nie. Dit was ’n uiters komplekse oorlog met vele skakerings van menswees.

Wat kan vandag se mense uit die Anglo-Boeroorlog leer? Of is dit nodig om iets hieruit te leer met die oog op die toekoms? Kan mens nie bloot die geskiedenis en die feite leer om die impak op wie ons vandag is, te verstaan nie? Of wat is jou gevoel hieromtrent?

Kennis van die Anglo-Boereoorlog sal ons beslis help om die ontwikkeling van die geskiedenis en ook ons eie tydvak beter te verstaan. Vir my as Afrikaner is die grootste les uit die oorlog dat die deursnee-Afrikaner vandag in ’n baie beter posisie verkeer as 115 jaar gelede, of tydens die Groot Trek. Alles is ver van pluis af in die land, soos die verskrikking van plaasmoorde getuig, maar oor die algemeen was die Boere en Voortrekkers baie meer in die duister oor ’n onsekere toekoms as ons. En as ek paternalisties mag wees: ons landgenote kan ook maar afkyk hoe Afrikanerorganisasies ná die Anglo-Boereoorlog en daarna hul mense laat opstaan het uit die ellende – die Helpmekaarbeweging, die Reddingsdaadbond, Sanlam, Volkskas. ’n Gelyk pad was dit egter nie.

The post Verskroeide aarde: ’n onderhoud met Fransjohan Pretorius appeared first on LitNet.

Al wat ek weet: ’n onderhoud met Marita van der Vyver

$
0
0

Al wat ek weet
Marita van der Vyver

Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799378856

Marita van der Vyver vertel vir Naomi Meyer van haar boek Al wat ek weet, wat pas in die 2017 kykNET-Rapport Boekpryse se filmkategorie benoem is.

Marita, baie geluk met jou benoeming op die kortlys van die kykNET Rapport-boekpryse. Al wat ek weet is ’n kragtige titel. Het jy van die begin af geweet dit gaan hierdie boek se titel wees? En wat Gabriel sou weet?

Dankie. By sommige van my boeke is die titel daar voordat ek die eerste sin skryf, en by ander kom die titel eers lank nadat die laaste sin geskryf is. Al wat ek weet val in die tweede kategorie. My voorlopige titels was variasies van Wegkyk en stilbly of Anderpad kyk of so iets. Eers nadat die manuskrip gekies is as een van die wenners in Lapa se kompetisie, het die redakteur, Miemie du Plessis, gevra waarom ek nie die titel van die eerste hoofstuk (en een van Gabriel se eerste slam-rympies) as titel vir die hele boek gebruik nie. En toe is dit so vanselfsprekend dat ek nie kon glo ek het nie vroeër daaraan gedink nie. Maar miskien moes ek juis eers die hele storie skryf om agter te kom wát Gabriel weet? En ek hoop elke leser sal ’n eie antwoord op die vraag vind. 

’n Boek oor verlies en aandadigheid, of een oor musiek en die liefde? Kan mens hierdie temas van mekaar skei? Hoe sou jy die boek opsom?

Dit het begin by aandadigheid. Dis waarom ek aanvanklik ’n titel in gedagte gehad het wat skuld suggereer. Stilbly oor onreg is ook ’n manier van saamstem en skuldig wees aan die onreg. Maar die verlies en die liefde, en veral die reddende krag van woorde en taal – eerder as musiek – het amper onmiddellik deel van die storie geword. 

Wat was die sneller vir hierdie verhaal? En wat het jou geïnspireer om hierdie storie te skryf?

Ek is op ’n dag in my motor deur ’n onbeskofte fietsryer sleggesê – darem nie so vieslik beledig soos Gabriel se ma in die storie nie – terwyl my liewe saggeaarde man langs my niks gesê het om my te “verdedig” nie. Hy het my net probeer keer om nie die fietsryer verder uit te tart nie, want hy kon sien die man was irrasioneel en moontlik gewelddadig. My onmiddellike reaksie was om vies te wees vir my man – en dit het my aan die dink gesit. Ek sou tog nie wou hê Alain moet uitspring en in ’n fisieke geveg betrokke raak nie! Ek háát fisieke geweld. Dus was hy waarskynlik reg om my net te probeer kalmeer sodat ons kon wegkom. Maar sê nou een van ons kinders het agter in die kar gesit? Watse boodskap sou ’n kind oor so ’n voorval kry? En toe hardloop my skrywersverbeelding met my weg en ek dink: sê nou maar ek was só ontsteld omdat my man my nie verdedig het nie dat ek ’n ongeluk gemaak het ... En dis hoe Gabriel se storie begin het. Hy het die seun geword wat agter in die kar sit. 

Vertel my van Gabriel. En van Sasha. Of van Gabriel se pa.

Ek was aanvanklik nie seker of ek die storie uit Gabriel se oogpunt of uit sy pa se oogpunt moes skryf nie. In die weergawe wat vir Lapa se kompetisie ingeskryf is, was daar stukke wat uit die pa se oogpunt geskryf is. Toe sê Miemie vir my: “Laat vaar die pa, Marita. Tieners gee nie om wat pa's en ma's dink nie. Hulle wil hulle eie stories lees.” Ek het dit natuurlik reeds geweet, omdat ek al ander tienerboeke geskryf het, maar ek moes dit net weer ’n keer hoor. Toe skrap ek al die dele wat uit die pa se oogpunt geskryf is – maar toe word sommige van daardie dele ’n soort proeflopie vir my volgende volwassene-roman, Misverstand, waarin daar ook ’n pa en seun is wat ’n moeilike verhouding het. Miskien gaan niks verlore nie? Of hoe het Hennie Aucamp dit nou weer gestel?

Hoe het jy navorsing gedoen oor rap-musiek? En hoe verskil rap-musiek in Frankryk van dié in Suid-Afrika?

Dit was nie nodig om navorsing te doen nie, want ek is jare lank in my eie huis met rap-musiek gebombardeer! Veral een van ons drie seuns (Hugo) het niks anders geluister nie – en noudat hy 25 is, luister hy steeds meestal rap. Maar ek het begin luister omdat ek nie net blindelings wou veroordeel sonder dat ek weet wat ek veroordeel nie – en toe word dit vir die seuns ’n uitdaging om vir my te wys dat gangsta rap wat vol vloekwoorde en seksisme is, nie die enigste soort rap is nie, en toe kom ek van rap by slam uit en by spoken word poetry en ’n hele nuwe wêreld word vir my oopgemaak. Ek het heelwat navorsing oor praatpoësie op die internet gedoen, omdat dit nog so ’n nuwe ding in Suid-Afrika is, maar in Amerikaanse hoërskole word daar al lank slam-kompetisies gehou. Dit sal vir my fantasties wees as hierdie boek kan help om ook in Suid-Afrikaanse skole so ’n tradisie te begin.

Hierdie boek is ’n jeugboek. Dink jy ’n storie kies ’n ouderdomsgroep? Of dalk vra ek: Voel en beleef mens nog so intens as mens ’n grootmens is as wanneer mens jonger is?

Aangesien ek vir verskeie ouderdomme én in verskillende genres skryf, glo ek die storie kies die ouderdom en die genre. Maar ek dink tog tieners het ’n emosionele intensiteit wat die meeste volwassenes iewers langs die pad verloor. En as jy vir tieners wil skryf, is die grootste uitdaging miskien om hierdie emosionele intensiteit te bly voel.

Skryf ’n jeugboek vinniger en makliker as ’n boek vir volwassenes?

In my geval is dit moontlik vinniger bloot omdat my jeugboeke gewoonlik dunner is as my volwassene-boeke. Maar dis beslis nie makliker om ’n goeie jeugboek te skryf as om ’n goeie volwassene-boek te skryf nie. Ek dink die rede waarom soveel literatore steeds jeugboeke onderskat, is dat hulle ongelukkig steeds onder die wanindruk verkeer dat dit “makliker” skryfwerk is.

Die feit dat jy self ’n tiener in jou huis het, en ’n seun wat nou al die huis verlaat het: help dit om vir hierdie ouderdomsgroepe te skryf? Of skryf ’n skrywer met ’n stem wat nie regtig bedoel is vir werklike familielede nie, maar eerder omdat die skrywer ’n skrywer is met ’n eie stem?

Ek was in ’n taamlik uitsonderlike posisie om die afgelope twee dekades altyd ’n tiener in die huis te hê. Vir die meeste ouers is die tienerjare mos maar ’n aaklige tydperk wat binne ’n paar jaar verbygaan, maar omdat ek hierdie laslapgesin van “jou, my en ons kinders” het, en omdat daar ’n gaping van 14 jaar tussen die oudste en die jongste kind is, het ek die tienerjare veel langer as ander ouers belewe. As skrywer het dit my ongetwyfeld gehelp om die wêreld van die tiener lewendig en aktueel te hou. Trouens, noudat ons laatlamdogter 17 is en amper op pad universiteit toe, weet ek nie of ek nog kans gaan sien om jeugboeke te skryf wat in hedendaagse tieners se heelal afspeel nie. Ons sal maar moet sien ...

Wat lees jy op die oomblik?

Fred Khumalo se aangrypende Dancing the death drill. Ek probeer hier in Frankryk tred hou met Suid-Afrikaanse romans – nie net Afrikaanse romans nie. Een van die kragtigste romans wat ek die laaste ruk gelees het, was Kopana Matlwa se Period pain.

En waaraan skryf jy op die oomblik, as jy iets daaroor wil verklap?

Ek werk aan ’n draaiboek vir wat hopelik ’n internasionale rolprent gaan word – met die medewerking van Deon Meyer, wat ’n paar jaar gelede ook my arm gedraai het om die draaiboek van my roman Dis koue kos, skat self aan te durf. Daarna het ek meegewerk aan een of twee ander draaiboeke wat op my romans gegrond is, maar hierdie keer is die uitdaging groter, omdat dit ’n nuwe storie is wat van voor af uitgedink moet word – en dis boonop in Engels! Soos my man altyd sê, waarom die maklike uitweg kies as daar ’n moeilike manier is om ’n ding te doen?

Foto van Marita van der Vyver: Naomi Bruwer

The post Al wat ek weet: ’n onderhoud met Marita van der Vyver appeared first on LitNet.

On record: ’n onderhoud met Schalk van der Merwe

$
0
0

On Record - Popular Afrikaans Music & Society, 1900–2017
Schalk van der Merwe
Uitgewer: African SUN MeDIA

ISBN: 9781928357117

Schalk van der Merwe gesels met Naomi Meyer oor sy niefiksieboek On record wat pas by African SUN MeDIA verskyn het.

Schalk, mense sal jou dalk reeds ken weens ’n program wat jy ’n ruk gelede op RSG aangebied het. Wil jy iets hiervan vertel?

Die program was ’n uitvloeisel van my navorsing en was ’n poging om dit op ’n toeganklike wyse aan die publiek bekend te stel. Ek was nogals verras oor hoe positief dit ontvang is.

Jou navorsing op die terrein van Afrikaanse musiek het ook aanleiding gegee tot die publikasie van jou boek On record. Waar het jou belangstelling in musiek begin?

Dit kom al van kindsbeen af. Ek het op vroeë ouderdom klavier begin speel en daarna kitaar en uiteindelik op baskitaar geëindig. Ek het as werkende musikant al oor die jare baie vrae gehad rondom die aard van die Afrikaanse musiekbedryf en die betekenis daarvan in mense se lewens. Ek het eers in 2008 begin dink in die rigting van akademiese navorsing oor Afrikaanse musiek nadat ek ’n boek Composing apartheid geresenseer het. Dit het my laat besef dat ek my musiekloopbaan in ’n meer akademiese konteks kan inspan.

Jou navorsing handel oor veel meer as net musiek. Dit handel oor die geskiedenis van Afrikaanse musiektydperke (jy baken dit af as die begin in 1900 en die einde van die studie in 2017). En jou agtergrond as dosent in die geskiedenis by die US sluit hierby aan. Waarom hierdie tydperk, en wat staan vir jou uit juis in die geskiedenis van die Afrikaanssprekende en die geskiedenis van die Afrikaanse mense sedert 1900 tot nou?

Die eerste klankopnames van musiek met ’n Afrikaanse konneksie is in 1900 gemaak, so dit was ’n logiese beginpunt. En aangesien daar altyd dinge aan die gebeur is in die musiekbedryf, het dit sin gemaak om maar die fokus tot so onlangs as moontlik te hou. Daar is natuurlik vele temas wat in 117 jaar opduik. Ek dink die belangrikste storie is een van normale mense se doen en late tydens fases van ingrypende sosiale veranderinge. Natuurlik het apartheid ’n rol gespeel, asook die kulturele skeiding van wit, bruin en swart Afrikaanssprekendes. In die postapartheid konteks is die Afrikaanse kultuurbedryf ’n geweldig interessante wese om te bestudeer en iets wat ’n groot impak het op kwessies van taal en identiteit.

Afrikaans dra swaar aan bagasie, juis weens geskiedkundige faktore. Hoe, dink jy, het die geskiedenis van hierdie land sy musiek beïnvloed? Of dalk is dit ’n veels wye vraag – dalk is dit die kern van jou studie?

Musiek (en natuurlik ander vorme van kuns) is iets wat die samelewing weerspieël. Selfs ’n popliedjie met oppervlakkige lirieke is ook op ’n manier betekenisvol. Wat die invloed van Suid-Afrika se geskiedenis op Afrikaanse musiek betref: ja, dit is grootliks die kern. Sensuur, politiek, sosiale druk, apartheid, rassespanning, diensplig, rebellie, Afrikanernasionalisme – dit is alles faktore wat ingespeel het op Afrikaanse (en natuurlik ook Suid-Afrikaanse) musiek. Dis bietjie moeilik om dit alles hier kortweg saam te vat!

Vertel asseblief iets van elkeen van die tydperke van die sewe afdelings waarmee jy jou boek afbaken: die studie skop af in die hart van die Anglo-Boereoorlog, en loop dan tot vandag. (Terloops, ek vra jou as geskiedkundige: Hoekom die studie juis hier afskop, by die ABO / Suid-Afrikaanse oorlog? Is dit dalk die kern en oorsprong van Afrikanernasionalisme?)

Die eerste “fase” kyk na die eerste opnames van die volksliedere van die destydse Boererepublieke. Dit was bloot die eerste opnames met ’n Afrikaanse konneksie en is gemaak deur Europese sangers tydens die ABO en was ’n vae teken van Europese simpatie met die Boere. Kort daarna, in 1906, sien mens die eerste opnames in Afrikaans self, deur Afrikaanssprekendes, in Londen. Die eerste deel van die boek bekyk hierdie vroeë figure en hoe hulle opnames en profiele gestrook het met ’n ontluikende Afrikaneridentiteit. Ek kyk ook na vroeë radio-uitsendings.

Dan kyk ek in die tweede deel na die 1930’s en ’n “nuwe” vorm van Afrikanernasionalisme en die spanning tussen organisasies soos die FAK en boeremusiek. Dit is ’n baie interessante, dog “digte” dekade in veral Afrikanergeskiedenis en die musiek van die tyd weerspieël baie heterogene elemente.

Deel drie behandel die invloed van die Tweede Wêreldoorlog op die plaaslike musiekbedryf en uitsaaiwese, asook die jare kort na die oorlog, wat die beginfase van apartheid insluit en die sosiale gevolge daarvan, insluitend hoe dit musiekuitvoering edm beïnvloed het.

Dan kyk ek na die invloed van rockmusiek vanaf die middel-1950’s, asook vroeë musikale voorbeelde van verset teen die dominante narratief van Afrikanernasionalisme in Afrikaanse musiek tydens die hoogtepunt van apartheid. Ek spandeer ook tyd aan Musiek-en-Liriek, en die daaropvolgende jare van musiekontwikkeling. Dan ook Voëlvry en die spanning tussen alternatiewe Afrikaanse musikante en die hoofstroom van die tyd. Dan, laastens, kyk ek na die postapartheid era en goed soos die insulariteit van die hoofstroom, nostalgie, alternatiewe Afrikaanse musiek, ens. Ek wil nou nie als hier verklap nie...

Lewer jou boek waarde-oordele oor die Afrikaanse musiekbedryf – soos dat dit sentimenteel is, of teruggryp na nostalgiese verledes, of dat dit net spookasem is wat bang is om sosiale kommentaar te lewer? Of hoe het jy jou studie benader?

Ek noem in die inleiding dat een van die hoofmotiverings vir die boek was dat ek wou uitvind hoekom slegte Afrikaanse musiek so goed vaar. Dit is miskien nie die beste vertrekpunt vir iets wat veronderstel is om ’n objektiewe studie te wees nie. Ek het natuurlik agtergekom dat dit ’n baie ingewikkelde vraag is, en dat daar redes is vir sentimentaliteit, oppervlakkigheid, of bloot ’n neiging weg van sosiale kommentaar. Uiteindelik was dit juis hierdie tipe liedjies wat my die meeste geïnteresseer het, aangesien dit op sigself betekenisvol is. Die boek poog om hierdie goed in konteks te plaas.

En wat het jy, deur middel van die bestudering van die geskiedenis en hulle musiek, van ’n nasie geleer? Of dalk net: waargeneem?

Afrikaners – en ek gebruik die woord hier om te verwys na wit Afrikaanssprekendes, wetende dat dit ’n term met bagasie is – is nie ’n homogene groep nie en het baie uiteenlopende lewensbeskouings wat nie soseer te doen het met opvoedingsvlak, klas, geloof, ens nie. Dan is daar ’n lang geskiedenis van uitsluiting van bruin en swart Afrikaanse musikante as dit kom by die opneem van Afrikaanse musiek, ten spyte van groter getalle moedertaalsprekers. Die feit dat die Afrikaanse musiekbedryf, soos enige ander bedryf, winsgedrewe is, beteken dat Afrikaanse musiek onder ’n spesifieke groep Afrikaanssprekendes bemark word – dit maak ekonomiese sin, maar tog veroorsaak dit spanning.

Is Afrikaanse musiek alleen op ’n eiland? Indien wel, is dit volhoubaar? Gaan die dam toeslik? Indien nie, hoe beleef jy dit? Enige waarnemings of kommentaar hierop?

Daar is baie interessante goed wat besig is om te gebeur in Afrikaanse musiek. Die invloed van die digitale era, met “downloads” en “streaming”-platforms, is beduidend en sommige kunstenaars benut dit baie goed, terwyl ander meer tradisionele media verkies. Laasgenoemde is op lang termyn dalk nie volhoubaar nie. Ek is wel opgewonde oor Afrikaanse musiek – daar is baie musiek daar buite waarvan ek regtig hou en wat relevant is vandag. Maar daar is ook snert, net soos in enige ander musiekbedryf op die planeet.

Jy weet natuurlik baie van musiek, omdat jy self musiek maak. Vertel asseblief van die musiekinstrumente wat jy bespeel en in watter groepe of bands jy self optree?

Ek is nou al sewe jaar lank Karen Zoid se baskitaarspeler. Verder het ek my eie band, Bed on Bricks, en speel ook gereeld blues saam met Gerald Clark. Oor die jare heen het ek al saam met vreeslik baie kunstenaars gespeel – dis iets waarvoor ek baie dankbaar is. Ek maak ook klankbane so nou en dan, en dan speel ek ander instrumente, soos kitaar en klavier ens. En ek het nogals baie “shaker” gespeel in ons onlangse vertonings by die KKNK toe Zoid en die Gereformeerde Blues Band saamgespeel het!

Na watter musiek luister jy graag?

Ek dink ek het nogals ’n wye musieksmaak. Ek is mal oor Wes-Afrikaanse musiek van kunstenaars soos Bombino, Toumani Diabaté en Bassekou Kouyate. Dan hou ek van klassieke rock soos Led Zeppelin. Ek hou van punk en ook klassieke musiek. Ek is mal oor plaaslike musiek, van maskanda tot boeremusiek. Omdat ek betekenis vind in selfs die oppervlakkigste popmusiek (al is dit bloot vanuit ’n antropologiese perspektief), kan ek nogals baie hanteer, al hou ek nie daarvan nie!

The post On record: ’n onderhoud met Schalk van der Merwe appeared first on LitNet.

Video: Groen soos die hemel daarbo deur Eben Venter word bekendgestel

Die laksman se dogter: ’n onderhoud met Gerda Taljaard

$
0
0

Die laksman se dogter
Gerda Taljaard

Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781485903666

Skrywers oor hul nuwe boeke: Gerda Taljaard gesels met Naomi Meyer oor Die laksman se dogter.

Hallo Gerda, geluk met die verskyning van Die laksman se dogter. Die boek bekyk die lewe met ’n unieke en baie besonderse blik. Die titel dui vir my dadelik op ’n ouer-kind-verhouding. En om laksman te wees, is ’n komplekse beroep. Vertel asseblief vir my jou gedagtes oor die titel van die boek? En: bestaan daar ’n vroulike vorm van die beroep van die laksman?

Baie dankie vir die gelukwensing!

Die titel dui inderdaad op ’n ouer-kind-verhouding, spesifiek die verhouding tussen die hoofkarakter Rosaria en haar pa. Haar pa was, as tronkdokter, ’n tipe laksman, want een van sy pligte was om die terdoodveroordeeldes voor die teregstelling te meet en te weeg sodat die korrekte galgtou gebruik kon word, maar hy moes ook ná die tyd die doodsertifikate uitreik en wanneer iemand nie heeltemal dood was nie, moes die pa ’n “genadeskoot” toedien. Oor hierdie dinge bieg hy by sy dogter Rosaria, want sy is sy witbroodjie en vertroueling. Hierna verander hulle verhouding egter, omdat Rosaria die doodstraf (en die hele apartheidstelsel waarvan haar pa deel is) begin bevraagteken.

Die titel verwys ook na die regte laksman, oom Karel de Swardt, en sy gestremde dogter Hestertjie wat oor bonatuurlike gawes beskik en ’n deurslaggewende rol in beide Rosaria en haar dogter Annalisa se lewe speel.

Uiteindelik word Rosaria self ’n soort laksman wanneer sy haar terminaal siek ma uit die lewe help en toe sy oorweeg om haar dwelmverslaafde kind se lewe te neem.

Die vroulike vorm van laksman? Vrouebeul? (Lekker lag ek nou!)

Kan jy die basiese storie van Die laksman se dogter in ’n paar sinne vertel?

Wanneer Rosaria Roux se vervreemde rockmusikant-dogter Annalisa onder raaiselagtige omstandighede sterf, stroom die herinneringe terug na haar. Rosaria onthou Annalisa se geboorte, kindertyd en allesoorheersende dwelmverslawing. Rosaria onthou ook haar eie jeug, hoe sy as kind deur haar twee ouer susters afgeknou is. Sy besef haar aandeel in haar dogter se middelafhanklikheid, sowel as in haar mislukte huwelik. Met die verskyning van haar kleinkind (Annalisa se kind van wie Rosaria nooit geweet het nie), is dit asof Rosaria (as ouma) ’n tweede kans kry op ouerskap én huweliksgeluk.

Daar is al gesê: ’n lyk op die eerste bladsy is ’n goeie tegniek. Maar ook: laat die leser gou omgee vir die een wat dood is. In hierdie boek is daar twee lyke binne die eerste sin of twee – en dis die hoofkarakter se heel naaste bloedfamilie. Begin by Rosaria se dogter, asseblief. Wie was sy?

As aweregse digter-musikant is Rosaria se dogter Annalisa ’n kultusfiguur wat sterf soos sy geleef het – morsig en op die randjie van die afgrond. Nes haar ouers teen die apartheidsregering in opstand gekom het, kom Annalisa deur middel van haar protesverse en -optogte in opstand teen die huidige bestel: die korrupsie, die onderdrukking van armes en minderheidsgroepe.

Dan is daar ook Rosaria se pa. Wil jy van hom vertel?

Hy was, soos reeds gemeld, ’n tronkdokter wat soms die “addisionele plig” van “laksman” vervul het. Hy het gevoel hy is “geroepe” om dit te doen, want net soveel as wat hy in die “weë van die Here” én die wetenskap geglo het, het hy geglo in die weë van die staat. Hy is van mening dat daar groot fout is met ’n samelewing wat die doodstraf afskaf maar aborsie wettig. Watter daad is meer barbaars, vra hy: om ongebore kinders dood te maak of ’n moordenaar te laat lewe? En is dit werklik meer menslik om ’n moordenaar lewenslank op te sluit as om hom tereg te stel?

Wanneer ’n veroordeelde onskuldig gehang word, voel Rosaria se pa dat dit God se wil was en wanneer hy self koelbloedig in sy huis vermoor word, wonder Rosaria of hy ook sou dink dit is God se wil.

Skuld. Dis ’n draad wat deur die verhaal loop, en nie noodwendig ’n goue draad nie. ’n Pikswart, donker draad. Was Rosaria ’n goeie ma? Daar bestaan nie regtig meer ’n beroep soos ’n laksman nie. Was daar al ooit iets soos ’n goeie ma?

Skuld en skulderkenning is beslis ’n deurlopende tema. In die eerste plek voel Rosaria skuldig omdat haar pa haar met sy grootste geheim vertrou het en dan skend sy hierdie vertroue deurdat sy daarna nie meer dieselfde oor hom voel nie – sy sien hom in ’n ander (donkerder) lig. Sy voel ook skuldig oor haar dogter: watter rol het sy as ma in Annalisa se verslawing gespeel? Was sy op ’n manier verantwoordelik daarvoor? Daarom, wanneer haar “swak” ouerskap in die media uitgeblaker word, probeer sy dit nie ontken nie; inteendeel, sy wil hê dat elke besonderheid van haar “sonde” tot op die been oopgevlek word. Sy sê: “Laat ek elke steek daarvan voel, tot ek gelouter word [...] Laat ek deur die vagevuur gesuiwer word.”

Uiteindelik vra ook Annalisa, so op haar eie manier, om verskoning vir wat sy haar ouers aangedoen het.

Of daar al ooit iets was soos ’n goeie ma? Party ma’s is sekerlik beter of slegter as ander, maar die feit bly staan dat elke kind sy/haar ouers vir iets blameer, maak nie saak hoe hard die ouers probeer om alles reg te doen nie. Dis egter menslik om foute te maak, en ’n ma is ook maar net ’n mens.

Die een wat deur ’n laksman doodgemaak word, het nie ’n sê daarin nie. Stem jy saam? Of het die een wat doodgemaak sal word, ’n aandadigheid in die feit dat hy of sy sal sterf?

Die kwessie wat in die roman ontstaan, is: Kan doodgoeie, “normale” mense onder sekere omstandighede tot moord gedryf word? Is dit onder sekere omstandighede geregverdig? Moet sekere misdadigers liewer permanent uit die samelewing verwyder word – nie net deur middel van lewenslange tronkstraf nie, maar deur teregstelling? En wanneer iemand wíl sterf? Byvoorbeeld ’n persoon wat terminaal siek is soos Rosaria se ma, of soos Annalisa wat kyk hoe haar ma haar met ’n oordosis heroïen inspuit en wíl doodgaan. Het ons die reg om oor lewe en dood te besluit? Is dit ooit geregverdig? Daar is geen maklike of regte antwoord hierop nie.

Nog dinge wat taamlik gereeld in die storie opduik: ’n droom. ’n Graad 8-klas. ’n Onverwagse klein kindjie! ’n Spuitnaald. ’n Huis. Dwelms. En die dood. Kies asseblief een of meer van die onderwerpe en brei daarop uit.

Die verhaal begin met ’n huis en eindig met ’n huis – die huis waar Rosaria gebore is en waar haar pa vermoor is. Volgens die Jungiaanse sielkunde simboliseer die huis die mens se psige, veral wanneer daar oor ’n huis gedroom word. Die huis waar Rosaria grootgeword het, word letterlik verpletter deur ’n plataanboom en daarna droom sy herhaaldelik oor hierdie insident elke keer wanneer sy iets traumaties beleef: kort voor haar ma se dood, toe sy haar werk by Wits verloor het, met haar egskeiding, toe haar dogter se dwelmsmous ’n mes teen haar keel gedruk het, en veral toe haar pa vermoor is. Die huis wat veronderstel is om ’n veilige plek van geborgenheid te wees, word ’n slagveld as gevolg van haar susters se afknouery, en later te wyte aan haar dogter se dwelmverslawing. Van daar die klassifisering van Die laksman se dogter as “domestic noir” of ’n psigologiese riller.

En praat met my oor al die voëls in die boek. Stel jy belang in werklike voëls? Want elkeen van die voëls wat jy kies, is gelaai met simboliek (uil, laksman, janfiskaal). (Is dit maar net die aard van voëls, en ons sien dit nie raak nie?)

My wederhelf Rodger is ’n ywerige voëlkyker met elke moontlike voëlboek op sy boekrak. Aanvanklik het ek dié tydverdryf vervelig gevind, maar hy het my uiteindelik aangesteek met sy entoesiasme. Nou raak ek ook opgewonde oor ’n vleiloerie of katlagter se besoek aan ons tuin.

Die voëls in die boek is gewis sterk simbolies. ’n Fiskaallaksman is tegelyk wreed én versorgend. Hulle sal ander voëls se neste plunder en hulle kuikens lewend opvreet, maar aan die ander kant is hulle baie goeie, versorgende ouers. Dit is hierdie teenstrydigheid wat in byna al die karakters in die roman teenwoordig is. Rosaria se pa is tegelyk ’n moordenaar en ’n versorger. Rosaria is beide liefdevol én wreed.

Wanneer Rosaria se ma sterf, vlieg ’n duif uit haar pa se hande en by die venster uit – simbolies van haar siel wat vrygelaat word. Annalisa beskryf haar ma as die “beskermheilige van uile en ander gevleueldes”. Die uil as simbool van wysheid, maar ook van die dood.

Hoekom het jy hierdie boek geskryf? Was daar iets spesifieks wat jou inspireer het, of die sneller vir die verhaal was?

Verslawing en ’n genetiese geneigdheid tot verslawing het my nog altyd gefassineer, waarskynlik omdat ’n hele paar van my familielede al middelafhanklik en/of alkoholiste was. Dalk was die skryf van hierdie roman ’n vorm van skriptoterapie. ’n Vriendin van ons het ook haar storie oor haar dogter se verslawing met my gedeel. Ek wou mense bewus maak van die vernietigende effek van verslawing.

Wat lees jy op die oomblik? Of noem ’n paar gunstelingboeke. En werk jy aan iets anders? Wat is die aard hiervan? Jy is so veelsydig – gedigte, kortverhale, samestelling van bundels, of iets anders?

Op die oomblik lees ek Lorrie Moore en Anne Enright se kortverhale. My geliefkoosde boeke van alle tye is Margaret Atwood se Alias Grace, Ingrid Winterbach se Niggie, Anna M Louw se Vos en Ian McEwan se The kindness of strangers en The cement garden. Die motto vir Die laksman se dogter kom uit laasgenoemde boek.

’n Nuwe roman oor vier susters tydens die 1940’s broei in my kop, maar op hierdie stadium is dit nog net ’n konsep. Dit sal waarskynlik jare neem voor dit op papier verskyn.

Ek verneem pas dat Kelder ’n film gaan wees! Dié boek van jou het in 2012 verskyn – hoe het dit gekom dat daar nou belangstelling is om dit te verfilm? Wat kan jy hiervan verklap?

Toe die boek verskyn het, het ’n paar Tukkiesstudente my gekontak en gevra of hulle ’n verhoogstuk van Kelder kan maak. Ek het my toestemming gegee, maar uiteindelik het niks daarvan gekom nie. Hulle het wel my debuutroman ’n Engel in die hoenderhok tot ’n drama verwerk en dit opgevoer. ’n Jaar of wat later het een van hulle, Emile Hager, my gebel en gevra of die filmregte van Kelder beskikbaar is. Emile is die draaiboekskrywer van Knysna, sowel as ’n akteur daarin. Nog twee jaar het verloop, toe bel Emile my weer en sê hy het aansoek gedoen vir befondsing by die Nasionale Film- en Videostigting en dat dit toegestaan is! Teen Desember sal die draaiboek gereed wees en volgende jaar word dit verfilm.

  • Foto van Gerda Taljaard: Joanne Olivier

The post Die laksman se dogter: ’n onderhoud met Gerda Taljaard appeared first on LitNet.

Op die vingerpunte van die heelal: ’n onderhoud met René Bohnen

$
0
0

Op die vingerpunte van die heelal
René Bohnen
Naledi

René Bohnen beantwoord Naomi Meyer se vrae oor René se bundel Op die vingerpunte van die heelal.

René, baie geluk met die verskyning van jou derde digbundel, Op die vingerpunte van die heelal. Vertel my asseblief iets van die titel.

‘n Geskenk uit die onbewuste of die nag, is die titel vir my kosbaar en iets waarvoor ek dankbaar is. Dit is die eerste keer dat ek nie hard moes werk om aan ‘n bundeltitel te dink nie. Dit gee vir my ‘n spesifieke gevoel van onsekerheid weer – ek skryf in ‘n gedig “gereed om te vlieg, reg om te val” – maar dit bring ook die mistieke element in waarvan ek hou. Dat daar altyd iets bly wat onverklaarbaar is, ten spyte van algoritmes en wiskundige formules, is vir my lieflik en ‘n onuitputlike bron van verwondering. Kleuters tel op hulle vingers of vingerpunte en ‘n mens ken iets op die punte van jou vingers. Blindes lees met hulle vingerpunte en die mens het tien vingers. Ek is dankbaar dat die titel my spel met syfers, biomimese en die goue ratio kon versoen met ‘n spirituele aanvoeling in ‘n verwarrende wêreld.

In hierdie heelal lees mens in die eerste gedig van die mikrokosmos van Johannesburg. Is dit ook wat "Inkommers" vir jou beteken? Is dit van hierdie stad se helder prente wat jy geskryf het?

Skoenlappers in die stad is nie vreemd nie, maar die getalle, die rivier van wit vlinders wanneer hulle migreer, is merkwaardig en wél vreemd tussen sement en staal. In die bundel kom die ek-spreker se ambivalente verhouding met die stad meermale ter sprake. Ek stel belang in die vreemdelingskap van die migrant; ek ondersoek al vir jare die posisie van die buitestander – aan die hand van skrywers soos Camus, kunstenaars soos Helen Martins en ander randfigure. Maar ek stel ook besonder belang in die posisie van die persoon wat reik na ‘n sense of belonging en ‘n sense of community, dit dikwels vind en beleef en tóg nog na verwys word as ‘n inkommer. Die hele kwessie van herkoms en behoort boei my, asook die verskillende maniere waarop iemand of iets inkommers kan wees. As stadsbewoner wat nie in Johannesburg gebore is nie, was daar ‘n oomblik toe ek, die wit skoenlappers, die Malawiese, Somaliese en Zimbabwiese mense almal één vreemdeling was, en ek wou die gevoel weergee saam met die stadsbeeld en maatskaplike omstandighede en die skeppingsmite, toe selfs lig en donker inkommers was.

‘n Gedig soos "Mallemeule" – het dit werklik gebeur? Asof ‘n mens so iets oor ‘n gedig kan vra! Dalk wil jy iets van hierdie gedig ook sê.

Ja, dit het gebeur. Ek was al dikwels in ‘n situasie waar ons by ‘n motorongeluk stilhou om mediese hulp te verleen. Die eerste keer was in 1983 en daardie jongman het in die ambulans gesterf terwyl ek sy hand vashou. Ek begin nou eers oor hierdie dinge skryf; ek was nog altyd oorbewus van die etiese vertroulikheid, al is ek nie die medies opgeleide persoon nie. Die aand in die Kaap en die motorfietsryer het lank gelede gebeur en in die gedig “Mallemeule” het hy en sy dood die regte plek gekry waar ek kan begin praat. Dat ons werklik op pad was na ‘n kabaret en dat die alt daardie Brel-lied so wonderlik ontstellend vertolk het, is op my gemoed en in my herinneringe onuitwisbaar afgeëts. Ek hoop dat die toepassing en emosie in die gedig ook vir die leser iets wakker maak.

Kán ‘n mens agterna oor die skryfproses van ‘n gedig gesels? Is die skeppingsproses vir jou ‘n tydsame proses, of volg die een woord vir jou logieserwys op die volgende, ‘n rits dominoblokke wat netjies by mekaar inpas, op gereedheidsgrondslag?

Die skryfproses wissel. Sommige gedigte kom in een lang string woordgedagtes uit, ander gedigte ontstaan in sarsies reëls, met weke en selfs maande wat tussenin verloop. Enkele gedigte verskyn in die finale vorm en bly so staan. Die skryfproses is vir my nooit moeisaam nie, ongeag hoe dit verloop. Die redigeerproses is ‘n ander storie – dit neem langer, vra noukeurige, analitiese aandag en ek spandeer baie lang ure om ‘n oënskynlik netjiese rits dominoblokkies te bewerkstellig. ‘n Mens kan sekerlik agterna oor die hele geboorteproses praat, maar ‘n mens wil nie noodwendig nie!

Jou gedigte skets helder woordbeelde. Hoe ontstaan ‘n gedig gewoonlik vir jou? Of dalk kan jy van die ontstaansgeskiedenis van een van die gedigte vertel, as jy wil.

Ek het die helfte van hierdie vraag dalk nou reeds hier bo beantwoord. Ek kan byvoeg dat ek dikwels drome gebruik vir ‘n gedig-idee. Soms skryf ek die droom net so neer. Partykeer maak ‘n fliek of skildery of ‘n oomblik ‘n nuwe prentjie in my kop, en ek moet net die woorde vind wat daardie “breinfoto” kan weergee. In daardie stadium kan ek glad nie oor die gedig praat nie – dis nie ‘n rasionele fase nie; ek weet net wanneer die gevoel van die woorde op die gevoel van die prentjie begin pas, dan is idee mooi op pad.

Van wanneer af dig jy al?

Ek kan nie ’n tyd onthou voor gedigte nie. My vroegste herinneringe is kinderrympies, in veral Engels en Zoeloe. Soms het dit vir my as kleuter gevoel of die woorde my eie is. Vanselfsprekend moes ek eers leer lees en skryf voor ek gedigte op papier kon plaas. In graad 2 het ek ‘n tydskriffie se gedigkompetisie gewen en die versie oor ‘n wurm is gepubliseer. Al wat hierdie dinge vir my sê, is dat gedigte skryf vir my ‘n outomatiese manier van dink is en dit my plig is om onverpoosd aan die vakmanskap te werk.

My debuutbundel, Spoorsny, het ‘n tipe soeke weergegee, aan die hand van die labirint-argetipe. Terugskouend kan ek die saadjies sien van wat ek vandag doen, asook die vraagstukke waarmee ek steeds werk. Die natuurbeelding en belangstelling in die mistieke, asook die mens se psige is ook reeds daar verteenwoordig. Ek dink die spirale waarmee ek in die eerste bundel omgegaan het, het in my nuwe bundel effens anders gestalte gekry, maar die labirintmite sal altyd vir my beduidend wees as simbool van ‘n psigologiese reis.

My tweede bundel, in die niks al om, was ‘n tipe daarstelling van klein oomblikke of plekke van vrede en stilte wat ‘n mens help deur die oerwoud van wanorde en geweld wat jou omring. Die gedigte daarin is korter, gekonsentreerd en ‘n poging om uiteenlopende filosofieë te versoen in ‘n persoonlike perspektief.

Ek oorvereenvoudig natuurlik, maar oorsigtelik gee dit iets van die bundels weer. Albei bundels het uitverkoop, en ek kan lesers ongelukkig nie sê waar hulle eksemplare kan kry om die drie bundels as ‘n eenheid te probeer lees nie. Dalk tweedehandse winkels!

... En waarom?

Hierdie is sekerlik die vraag wat die uitdagendste is – die antwoord is vir my ewig ontwykend. Dit kan wees om te probeer sin maak; miskien is dit om te reageer op die omgewing en die lewe; dalk is dit om deel te neem aan ‘n oneindige, universele skeppingsdaad. Ek weet nie. Dit is vir my suiwer vreugde. Die spel met taal en klank is natuurlik ook ‘n heerlike intellektuele proses.

Van gedigte kan mens nie alleen lewe nie, nie in hierdie land nie. Hoe verdien jy jou daaglikse brood?

Ek vryskut die afgelope tien, twaalf jaar, met vertaalwerk en allerlei skryfaktiwiteite. Ek was voorheen vir baie lank betrokke by die bestuur van mediese praktyke en het die terminologie-ondervinding opgedoen, sodat ek in die gelukkige posisie is om bevoeg te wees in die vertaling van mediese dokumente en farmakologiese literatuur, soos die voubiljette in pillepakkies. As fotograaf verdien ek ook geld. Tans is ek betrokke by ‘n gemeenskapsprojek in die Tankwa, waar ons ook ‘n fotografiese argief opbou saam met narratiewe wat ons teëkom. My aandeel is in ‘n baie vroeë stadium; ek put ook uit my kollegas se ervaring. Ek sien gewoonlik kans vir nuwe uitdagings en ek hou daarvan om te leer.

Wat lees jy?

Outobiografieë, biografieë, poësie en niefiksie is my stapelvoedsel. Ek het vroeër jare baie meer fiksie gelees en was lief vir epiese stories soos wat Michener skryf, en ook die werk van Tolstoi of Zola . In die laaste dekade lees ek minder romans, maar geniet nog steeds die werk van byvoorbeeld Edward Rutherfurd. Hemingway bly ‘n gunsteling. En ek lees ook vriende se boeke wat op my pad kom. Ek gaan nou begin met Het suikervogeltje van Pauline Vijverberg.

Waaraan skryf jy op die oomblik?

Ek skryf nuwe gedigte, ‘n paar bevrug deur my besoeke aan die Tankwa. Maar ek is ook besig om bietjie vertaaltegnieke op te skerp, omdat ek in Oktober Nederland toe gaan, waar ek en ‘n paar ander digters sal saamwerk aan oor-en-weer-vertalings. Ek kan seker nog nie te veel hieroor uitlap nie, maar ek is opgewonde oor byvoorbeeld ‘n bekroonde Nederlandse digter met wie ek ‘n tafel gaan deel. Ek het reeds verskeie vertalings van Afrikaans na Engels gedoen en het onlangs begin oefen om van Engels na Afrikaans te vertaal. Ek worstel tans met ‘n wonderlike gedig van Czeslaw Milosz, waaraan ek graag my heel beste aandag wil gee.

 

The post Op die vingerpunte van die heelal: ’n onderhoud met René Bohnen appeared first on LitNet.

Early one Sunday morning I set out and discovered South Africa: an interview with Luke Alfred

$
0
0

Early one Sunday morning I set out and discovered South Africa
Luke Alfred

Publisher: Tafelberg
ISBN: 9780624075530

Authors on their new books: Luke Alfred on his book Early one Sunday morning I set out and discovered South Africa.

Hi Luke! You were a sports journalist; was walking your own personal sporting activity? Please tell our readers about your background. And maybe about walking.

No immediate relationship for me between walking and sport. Walking, in fact, was a way of escaping my past as a sports journalist and heading off in a new creative direction ...

I asked you about walking, because your book Early one Sunday morning ... is mostly about travels on foot. Or how would you describe this book?

It’s a meditation on contemporary South Africa; it’s literature and history, through the medium of 12 walks in a calendar year through the length and breadth of our breathtaking and sometimes stunningly frustrating country.

There are plenty of travel guides on some of the most well known walks in the country: the Otter Trail, the Hole in the Wall Trail, Blyde River Canyon ... but your book is different. The walks you discuss are not even necessarily nature trails! What inspired you, and what gave you the first idea to write something about various walks in this country?

I came from a walking and hiking family, so it’s a fairly natural activity for me. Walking gives you an interesting perspective into human time. I like its sense of scale and the activity’s meditativeness.

Why did you write Early one Sunday morning ..., and did you write this in one go, or did you put this book together after years of travelling?

I wrote it to tell people something different to the normal junk you find in newspapers. I wrote it because landscape provides inspiration, and I wanted to share my view of the world and the country. I wanted to do something different, face a different challenge and have some fun while doing it.

A journey on foot through the soul of the country. Please can you share some of the stories which crossed your path along the way?

On one walk, I walked with Philip Kgosana, who led an anti-pass book demonstration to parliament in 1960. It was a seminal moment in the history of anti-apartheid protest.

Is it safe to travel by foot in South Africa?

Yes, but don’t do anything stupid. Don’t walk in unsafe places at night, for example.

Can you recommend a specific walk (discussed in your book) to our readers – and why?

Walk on Table Mountain; walk in Soweto; don’t be hijacked by your fears. Create your own walk!

What have you discovered about this country’s past while travelling?

It’s interesting, contested, often full of incredible stories. There’s always some new fact or anecdote to roll back and discover for the first time. South Africa is a fountain of stories untold.

A practical question: Your book’s title refers to walks on a Sunday morning – can all the walks in this book be walked in one day?

Mostly, yes; one walk was planned for two days, but after walking for 25 kilometres on day one, we bailed. Walking isn’t a macho activity for me; you aren’t trying to beat anyone, you’re trying to discover things ...

Can you share maybe three of your favourite photographs from your travels with our readers?

I particularly like the photos of our two sons while walking in the Cederberg one late summer morning ...

A proud dad (middle) with sons, Sam (green T-shirt) and Jake (turquoise T-shirt) – walking in the Cederberg.

The long walk to reconciliation: Freedom Day walk at the foot of the Voortrekker Monument

Carling Black Label brigade: Vuka Tshabalala (centre) in Orlando Pirates tracksuit, with the peerless Bangomuzi Manyana (green Nedbank Cup hat) in the foreground

Photos: Provided

The post Early one Sunday morning I set out and discovered South Africa: an interview with Luke Alfred appeared first on LitNet.


The Fifth Mrs Brink: An interview with Karina Szczurek

$
0
0

The Fifth Mrs Brink
Karina Szczurek
Jonathan Ball Publishers
EAN: 9781868428045

Authors on their new books: Karina Szczurek talks to Naomi Meyer about Szczurek's book The Fifth Mrs Brink.

Karina, let me ask you about the title of your book: The Fifth Mrs Brink. Please elaborate on this.

After we got married in June 2006, André and I were interviewed by Erns Grundling for Insig. During the interview, I teased André that if I ever wrote a memoir, I would call it The Fifth Mrs Brink – since I was, indeed, André’s fifth wife. He found the title amusing, and we often mentioned it in the following years. It seemed only right to use it for the book. And, it feels magical that the photographer, Antonia Steyn, who took our pictures for the Insig interview in 2006, also took – ten years later – the portrait of me which features on the cover of the book.

You have written other books, as well. Why did you write this book?

I wanted to pay tribute to André and the ten years we had together. The stories I share from my life before I met André and after he died are only there to illuminate why that decade was so defining for me, why I will treasure it for as long as I live.

If you had to write this book again, what would you change?

Nothing.

Is this book about André Brink?

It is a book about André, the way I knew and loved him. It is definitely not an exhaustive biography or a critical assessment of his remarkable literary achievements. It is homage to the man I have had the honour of loving and being loved by.

Flame in the Snow was the book about the love letters between André Brink and Ingrid Jonker. Is this book your love letter to André?

No. The love letters I wrote to André he received while he was alive. André and I shared a love correspondence of ten months (between December 2004 and October 2005) before I moved permanently to South Africa. I have been asked whether I would be prepared to have our love letters published, and I said yes; I just do not know when this will happen and how to go about it. Initially, I thought that I would be a hypocrite to curate the publication of Flame in the Snow and then be somehow precious about or reluctant to do the same for our own letters, but, as a friend pointed out recently, there is a difference between the two publications. When it comes to our letters, one of the correspondents – I, myself – is still alive. It is something I am considering at the moment, and I do not have ready answers yet.

Photo: YouTube

Define yourself.

I am a woman who lives passionately and finds most meaning and beauty in people and words.

Are you the same person you were before you met André?

Definitely not. I have grown as a woman and a writer, and have been innerly enriched on many levels by knowing and loving André.

Are you the same person you were before his death? What changed?

Everything changed after André’s death. It reconfigured my entire existence in ways that I am only beginning to understand.

Talk to me about love.

Love is everything. It is the most precious thing that we are capable of as humans.

You met André when you went to pick him up from the airport in Vienna when he was visiting Austria for a symposium you co-organised at the University of Salzburg. Love at first sight. Why him, do you think?

Some things are meant to be. This is what our encounter felt like. But, we were both willing to take the risk, and we fought hard for what we recognised as that rare thing – true love, kind and unconditional.

Why did you decide to stay on in South Africa after his death?

This is now my home, and I hope that South Africa will never want me gone, because I love living here, despite the country’s many challenges.

André was well known in English circles, but his primary readership was Afrikaans readers. Do you agree?

 André’s work was translated into thirty-six languages. He had many faithful readers, not only in the English-speaking world, but also in Scandinavia and – especially – France. But, in South Africa, Afrikaans speakers formed André’s primary readership.

What are your favourite pastimes and hobbies?

Reading is the activity I engage in most. Writing will come second. I love walking and swimming, and I love watching others play rugby and tennis. I cannot imagine a life without music. And, everything is better when good friends and loved ones are there to share it.

Where is [your] home, and why?

An old Victorian house in Rosebank, Cape Town, where I live with our three cats, Glinka, Salieri and Mozart. It is the first time in my life that I am allowed to keep my home, that no one is taking it away from me. Until I moved here, I led a very migratory existence.

We all know how this book ends. Do we? Please elaborate.

It ends with light and hope for a kind future.

And now. Tell me about the future. (As if anybody can do this.)

No matter what it brings, I know that I want to learn from all the mistakes I have made in the past, before I met André and after his death, and I want to build on all the goodness and love that I experienced while I was married to André. If I make mistakes in the future, I want them to be new ones, and then I want to learn from them, too. I will continue writing; words give meaning to my existence. I promised André to live and love. I have failed in many respects in the last two and a half years, but I am not giving up hope that there will be unconditional joy in my life again. I owe it to myself and the people I love. Anything else would be a failure of the imagination.

What is the meaning of life?

Be kind, and if you are lucky, it will reveal itself.

The post The Fifth Mrs Brink: An interview with Karina Szczurek appeared first on LitNet.

Oorkant jou deur Juliana Coetzer: ’n onderhoud

$
0
0

Foto van Juliana Coetzer: Blits-leer van S-Leer (www.s-leer.co.za)

Oorkant jou
Juliana Coetzer
Jonathan Ball-uitgewers
ISBN: 9781868428151

Skrywers oor hulle nuwe boeke. Juliana Coetzer gesels met Naomi Meyer oor Juliana se boek Oorkant jou.

Juliana, baie geluk met die publikasie van Oorkant jou. Wat is die tema van die boek en hoekom het jy die boek geskryf?

Die tema is mense en hul stories en die rimpeleffek daarvan in hul eie lewens, maar ook in dié van  mense wat interaksie met hulle het. Soos die interaksie tussen die kliënt en die psigoterapeut. As psigoterapeut het my pad gekruis met dié van mense wat aan situasies blootgestel is waaroor niemand praat nie. Wanneer hulle wel begin praat, bring die besef dat daar ander mense is wat aan dieselfde omstandighede onderwerp is, ’n groot verligting. ’n Gevoel dat hulle ten minste nie alleen is nie. Genesing het dikwels tot gevolg dat mense hulle stories wíl vertel – om ’n getuie te hê en ook om ander in soortgelyke situasies te help of ten minste hoop te gee. ’n Geval van; “Ons was daar en hier is ons nou. Leer deur ons persoonlike ervaring.”

Baie van die hoofelemente van die stories wat in die boek beskryf word, het ek in my kantoor aangehoor. Sommige van hierdie stories wou my nie verlaat nie; dit het nes geskrop in my gewete. ’n Soort aanmaning dat wat met hulle gebeur het, nie vergeefs mag wees nie. Van my kliënte het gevra: Vertel my storie. Vertel sodat ander daaruit kan leer. So is die boek gebore.

Jy het as psigoterapeut betrokke joernalistiek bedryf. Jy het nie intieme tonele afgekyk nie (soos mense byvoorbeeld op die sosiale media doen); jy was dáár. Hulle het hul stukke lewens met jou gedeel. Hoe het jy die kwessie van vertroulikheid hanteer?

Dit is belangrik dat die leser die vrywaring op die eerste bladsy van die boek lees. “In hierdie boek is waarheid en verdigsel gekombineer sodat niemand herkenbaar is nie. Karakters en inhoud is aangepas, verander en gefabriseer. Onderwerpe is met groot omsigtigheid benader om vertroulikheid te verseker. Stories is na willekeur verander, maar waar die werklikheid behou is, is toestemming verkry.”

Daar is hooftemas in die boek. Dit is die feitelike deel. Maar die storie rondom die tema is fiksie. Karakters is inmekaar gevleg en nuut geskep. Geen storie is die volle waarheid nie. Die boek is ’n gelykop mengsel van fiksie en niefiksie – faction soos dit in Engels genoem word.

Vertroulikheid was vir my van kardinale belang. Ek sou nooit my kliënte of my beroep skade wou veroorsaak nie. Mense het my vertrou met die geheime wat hulle dra én om die storie openbaar te maak. Elke persoon wie se storie na aan die waarheid geskryf is, is in besonderhede met hom/haar bespreek. Ons het lang ure saam deurgebring om seker te maak dat niemand herkenbaar is of skade ly nie. Hierdie mense wil hulle storie vertel hê, nie ter wille van sensasie nie, maar sodat ander daaruit kan leer.

Wanneer ek ’n bepaalde onderwerp wou aanspreek, soos byvoorbeeld ’n vrou wat nie glo sy verdien ’n beter lewe nie, het ek ’n fiktiewe verhaal geskep waarin dit ’n tema is. Maar dit verwys na geen spesifieke geval nie.

By ’n paar mense uit my verre verlede wat nie bereikbaar was nie, het ek slegs skerwe van hul stories gebruik en in fragmente tussen karakters versprei en vermeng dat ek verbaas sal wees as hulle iets van hulself herken. Hier het ek spesifiek met groot omsigtigheid te werk gegaan.

Die enigste deel wat heeltemal die waarheid is, is my prosesse en wat in my gemoed gebeur tydens my interaksie met kliënte.

Wat sou gebeur as jou kliënte hulself in die stories herken? Jy het wel baie diskreet met die feite omgegaan, maar ek moet vra. Of wil mense van geweet wees, dink jy?

Die mense wat hulself sal herken, is diegene wie se stories na aan die waarheid geskryf is, maar dit is ook hulle wat betrokke was tydens die skryf van Oorkant jou. Onthou die stories is universeel en ek weet daar is baie mense in soortgelyke situasies, maar wat te skaam is om daaroor te praat. Dit sal goed wees as die leser met sommige kliënte of stories identifiseer, want dalk is daar ’n boodskap wat gehoor moet word.

Wil mense van geweet wees, soos Tiemie in Siener in die suburbs? Ja, seker. Wat ek by die mense van Oorkant jou ervaar, is ’n behoefte om gehóór te word, relevant te voel en ernstig opgeneem te word. Mense wat sê: “Ek het ’n storie en as jy dit lees en daardeur geraak word, was my ervaring nie verniet nie.”

Ek is bewus daarvan dat lesers kan spekuleer oor die identiteite van sekere karakters. Dit is nie my motief om geheime te ontbloot sodat die wêreld daarvan kan kennis neem nie, maar om mense ’n stem te gee.

’n Verhaal uit die binnekamer. Maar dis baie meer as een verhaal. Hoe sou jy die boek beskryf?

In die stories is die terapeut die gemeenskaplike faktor wat die ruimte skep (word) waarbinne mense hulself ontbloot met die doel om van hul stories bevry te word.

In die boek skryf ek die terapeutiese proses is meer as slim woorde, beginsels en tegnieke – die kliënt se binnewêreld word betree ter wille van sy groei en ontwikkeling. Omdat my eie persoonlike groei en ontwikkeling vir my belangrik is, kan ek nie onaangeraak bly nie. In die eerste hoofstuk vertel ek hoe ’n kliënt my, in slegs een sin, bewus gemaak het van my motiewe en dit bevraagteken het; my op die spoor van my eie identiteit gestuur het, sonder dat sy daarvan bewus was.

Ons tree as spieëls van mekaar op en leer van mekaar. Wat natuurlik nie kan gebeur as ons nie bereid is om onsself nederig te maak en van die ego-trone af te klim nie.

“’n Verhaal uit die binnekamer” dien as metafoor om die kelder van die psige te beskryf wat iemand bereid is om te besoek sodat heling kan plaasvind. Maar dit vertel ook van die binnekamers in huise waar geheime veilig bewaar word teen die oordeel van ander, asook die binnekamers waar gruweldade plaasvind en mense hulself en die oortreder beskerm deur nie te praat nie. Die boek nooi die leser ook in die terapeut se binnekamer in sodat hy ’n waarnemer word van die effek wat die kliënt se stories op hom het.

Wat ek met Oorkant jou poog, is om empatie te kweek vir alle mense. Vir my is dit die hooftema. Dit is nie ’n speurverhaal om die skuldige te vind en aan te kla nie, maar om begrip en deernis teenoor alle mense te ontwikkel. Elke mens kom van êrens af, het ’n agtergrond wat hom gevorm het. Ek hoop lesers sal dit in die lees van die boek ervaar.

Oorkant wie? Wie is die “jou” in die titel?

Ek het eers gedink aan Oorkant my, maar dan is dit eendimensioneel. Ek sit immers ook oorkant iemand. Dit probeer sê dat almal oorkant iemand is, dat ons betrokke is by mekaar se stories en daardeur geraak word, selfs onbewustelik. Die “jou” in die titel is ook die een wat die boek optel om te lees, dit maak hom deel van die storie, deel van mense se lewe sodat hy nie ’n objektiewe waarnemer is nie. Hy moet kan voel en empatie ontwikkel, ook teenoor die mense in sy lewe wat oorkant hóm staan.

Mens lees soms hoe ’n terapeut die kliënt se storie ervaar, en nie so dikwels van die mens as psigoterapeut nie, of die psigoterapeut as mens nie. Was dit vir jou terapeuties om hieroor te skryf?

Ek probeer niks anders wees as net ’n mens nie en dit ervaar ek ook by die meeste ander terapeute wat ek ken. Dit is die mense oorkant ons wat ons anders waarneem en soms op ’n troon plaas. Miskien dink hulle omdat ons met ander se psiges te doen het, is ons agtermekaar, of dan “uitgesorteer”. Na die verskyning van Bloedvreemd was ek oorval van nuwe kliënte en ek glo dis omdat ek geen geheim van my menslikheid gemaak het nie. Mense wil hulself kan wees en dit is moontlik slegs as hulle nie oorkant ’n supermens sit nie. Maar wat die kliënt nie weet nie, is die effek wat hy en sy storie op die terapeut het. Ek het nie daaroor geskryf terwille van terapeutiese waarde nie, maar noudat ek daaraan dink, was dit dalk nodig om van sommige ervarings ontslae te raak.

Jou boek laat mens voel. Pynlike ongemak, humor in situasies waar mens nie veronderstel is om te lag nie. Hoe luister ’n psigoterapeut met ’n neutrale gesigsuitdrukking na iets?

As die boek mense laat voel, is dit goed. Humor speel ’n belangrike rol in die boek om die onderwerpe ligter te maak.

Neutraal is nie altyd vir my moontlik nie. Ek vloek saam, lag kliphard en steek nie my verbasing weg nie. Soms verberg ek my gesig agter my hande om skok en afgryse in my eie privaatheid te voel. “Dit is verskriklik” is woorde wat ek myself dikwels hoor sê. Wanneer volwassenes my vertel hoe hulle as kinders mishandel of aan trauma blootgestel is, kan ek, tot my skaamte, trane in my oë kry. Dit is hoekom ek nie met jong kinders kan werk nie, dit raak my te diep.

Maar daar is tye wanneer ek op my tande moet byt omdat dit onvanpas sou wees om te lag of verbasing te wys.

Jou boek tree vir my op ’n manier in gesprek met Cees van der Waal se Winelands, wealth and work, in die besonder die hoofstuk waarin Lou-Marié Kruger skryf oor die stadige geweld van armoede. Kan jy oor die proses van jou terapie gesels? Of oor die neerskryf daarvan?

Êrens in die boek skryf ek: “Ek as terapeut en ek as mens staan nie onafhanklik van mekaar nie. As ek nie groei en ontwikkel nie, kan die terapeut nie grootword nie.” Ek het my lewe lank kennis nagejaag: nog ’n teorie onder die knie, nog ’n kursus, nog boeke, nog ’n sertifikaat. En dit is goed, want kennis is belangrik. Maar die laaste sewe jaar is ek vry van die gejaag na meer. Ek glo ek is ’n baie beter terapeut sedert ek besluit het om net real te wees en nie meer perfek nie. Vandat ek aandag begin gee het daaraan om mense met deernis te behandel en ek daarop fokus, het geen kliënt meer nodig om homself te verdedig nie. Hy kan die skanse laat sak en homself wees. Ek voel ek is dáár, deel van sy proses en nie in my kop besig om ’n lêer te soek wat ’n teorie of verduideliking probeer staaf nie of aannames maak nie. Kennis is nou ’n hulpmiddel wat ek gebruik om die kliënt veilig te laat voel en insig te gee, die taal te verskaf om homself te verstaan.

Dit was juis my bedoeling toe ek die boek geskryf het – om mense deel te maak, dáár te bring, te laat voel en empatie te ontwikkel. Ons oordeel so gou sonder dat ons al die feite ken of onsself in iemand se situasie indink.

Foto: Naomi Bruwer

Die vorige slag wat ek op LitNet met jou gesels het, was oor Bloedvreemd. Ek vra jou natuurlik waar jy tyd gekry het, want ek weet dat jou dogter siek is en baie sorg vereis. Wanneer het jy tyd gekry om hierdie boek te skryf?

Wanneer ek terugdink aan die afgelope agtien maande, is dit soos ’n waas. Ek wonder soms self hoe ek die manuskrip klaargekry het. Dit is asof my geheue daaroor êrens vassteek en ek dit nie kan bereik nie. Ja, my praktyk is baie besig en die ure lank en ek is Anneke se chauffeur, verpleër en slaansak. Maar as ek voel om te kla, onthou ek die vrouens wat vyfuur die taxi werk toe neem en saans seweuur in ’n huis instap waar kinders vir kos wag en huiswerk en strykwerk gedoen moet word. Ek is bevoorreg om ’n wederhelf te hê wat my in die kombuis met ’n glas wyn en ’n bord kos inwag wanneer die laaste kliënt saans die kantoor verlaat en niks daarvan sê dat hy naweke net my rug sien wanneer ek skryf nie.

Maar dit weet ek nou van my: vir skryf móét daar net eenvoudig tyd ingeruim word. En nie om een of ander vername filosofiese rede nie, eenvoudig net omdat dit my op die pad van emosionele welstand hou. Skryf hou my gefokus op die projek en pen my gedagtes vas sodat daar nie ’n gaping is vir onnodige dramas nie. My innerlike twyfel is in die agtergrond. Skryf daag my uit om dieper te dink en nuut te skep. En tyd word gemeet in terme van “hierdie oomblik”. Ek voel soos ’n beter mens wanneer ek skryf. Daarom is ek eintlik altyd besig in my kop met woorde en sinne.

Jou boek is opgedra aan jou ouers. Vertel my van hulle?

My ouers was Namakwalanders en sout-van-die-aarde-, goeie mense. My pa was ’n motorwerktuigkundige en my ma ’n verpleër. Hulle was 40 toe ek in hulle lewens gekom het. My broer is 11 jaar ouer as ek, so ek het eintlik alleen grootgeword. My pa se liefde vir my was geen geheim nie.

My ouers was diensbare mense wat baie gedoen het vir hul medemens sonder om enigiets terug te verwag.

Twaalf jaar gelede, toe ek 46 was, het ek uitgevind ek is as baba aangeneem. Baie dinge het sin gemaak. Maar toe is my pa al oorlede en ses maande daarna het my ma gesterf. Hulle het my nooit vertel nie, om my te beskerm.

Ek worstel met jammerte omdat ek nooit kon wys hoe dankbaar ek is vir al die geleenthede wat hulle my gebied het nie. As ek geweet het ek is aangeneem, kon ek ten minste dankie gesê het en nie net alles as vanselfsprekend aanvaar het nie.

Dit is hoekom die boek aan hulle opgedra is. Dis my manier om dankie te sê en erkenning te gee vir die invloed wat hulle op my gehad het.

Vertel my wie jy was nou nadat Bloedvreemd verskyn het tot pas, met die verskyning van Oorkant jou.

Beslis vryer. Nadat Anneke se storie uit my geskryf is, het ek ’n wonderlike verligting ervaar. Ek voel sterker en het minder vrese. Bloedvreemd het my gedwing om my vrese vir mislukking en die reaksie van mense in die oë te kyk. Dit was ’n goeie proses.

Miskien het dit niks met skryf te doen nie, of dalk help die een die ander een aan, maar as ek sou verander het, is dit ook omdat ek ingestel is daarop om aan myself te werk. Ek is genadiglik by die storm en drang verby en verkies harmonie in my lewe. In ons huis word gelag en geleef. Ek hou minder en minder van drama en kies ’n ongekompliseerde, maar buitengewone lewe.

Bloedvreemd was ’n topverkoper en ek was verbaas. Ek het ’n argeloosheid ten opsigte van sukses en laat my nie toe om veel daaroor te voel nie. Maar let wel, dit is nie ’n goeie eienskap nie en het niks met nederigheid te doen nie. Eerder ’n geaardheid wat die volgende ervaring in die visier het.

My vrae aan jou is baie persoonlik. Jou boeke is persoonlik. Jy nooi mense in jou binneste binnekamer in. Is dit wat jy doen?

Ja, dit is nogals vreemd, want eintlik is ek ’n privaat mens. Ek hou nie daarvan om mense te bemoei met my probleme nie en is ’n baie beter luisteraar as verteller. My man sê altyd ek weet alles van almal, maar niemand weet iets van my nie. Ek is baie gemaklik om in die publiek op te tree wanneer dit oor my vakgebied gaan, maar oor my persoonlik is dit ’n ander saak. Toe gaan publiseer ek twee boeke en maak my hart en binnekamer oop. Dit maak eintlik nie sin nie. Heeltemal paradoksaal. Dieselfde geld vir die humor in die boeke – ook dit is nie heeltemal hoe ek is nie.

Ek glo die heel meeste in die waarheid en aanvaar dit maklik; niks is vir my te erg nie.

Die persoon wat Bloedvreemd ook geproeflees het, het die opmerking gemaak dat dit ’n interessante genre is waarin ek skryf, waar daar so eerlik oor gedagtes en emosies omgegaan word. Dit is beslis makliker om daaroor te skryf as om daaroor te praat, alhoewel dit tog makliker raak. Ek moes ’n baie lang pad loop om te leer vertrou, maar die spin-off daarvan is dat ek in die proses ’n oop verhouding met myself ontwikkel het.

Het mense gedink hierdie boek is ’n opvolg van Bloedvreemd – ’n “hoe-gaan-dit-nou-met-Anneke?”-storie? En durf ek vra: Hóé gaan dit met Anneke?

Anneke word so twee keer genoem in die boek, maar dit is nie ’n opvolg nie. Mense vra dikwels hoe dit nou met haar gaan en ek waardeer werklik die belangstelling. Dit gaan oor die algemeen dieselfde. Daar is tye wat sy baie epileptiese aanvalle kry en dan vir ’n paar weke daarna is sy rustiger. Haar brein het mos eintlik nodig om ’n aanval te kry. Die psigose is die groot probleem. Daar is ’n stem in haar kop wat haar voorsê en soms so hard met haar baklei dat sy nie kan slaap nie. Hy het ’n naam: Sa. Hy vertel haar sy hoef nie pille te drink nie en dat sy geld uit my beursie mag vat. Die psigose is die gevolg van haar breintoestand en word onder bedwang gehou met medikasie, maar niks maak Sa se stem stil nie. Haar verstaan is baie swak en haar taalgebruik ook. Gelukkig lyk dit nou asof dit nie vererger nie.

Het jy die fliek Boyhood gesien? Elke gebeurtenis in mense se lewens is nie noodwendig aardskuddend nie; daar is nie altyd ’n uitkoms bekend nie; soms moet mens net staan en kyk. En soms gebéúr dinge net. Hoe ervaar jy dit, van buite gesien, met betrekking tot jou kliënte se lewens? En jou eie – jou lewe as ma van jou kind, vrou van jou man, ens?

Ek het ongelukkig nie die fliek gesien nie, maar weet waaroor dit gaan. Die grootste verandering wat ek moes aanbring, was om nie onmiddellik met ’n reddingspoging in te gryp in mense se lewens nie. Om letterlik op my hande te sit en nie ’n telefoon nader te trek nie. Dit was belangrik om te leer dat ’n mens wel soms net kan staan en kyk. Dat jy moet toelaat dat iemand rock-bottom slaan sodat hy met sy werklikheid gekonfronteer kan word. Dit raak vir my makliker omdat ek nou weet dat ingryp nie altyd die antwoord is nie. Dat ek nie die verantwoordelikheid van iemand kan wegneem om sy eie gevegte te veg nie, maar hom eerder moet aanmoedig om sy kragte te ontdek. Ek het deesdae vertroue dat die mens genoeg geleentheid kry om dit te doen. Maar dit kom ook maar met die opbou van vertroue dat jy as terapeut jou eie oordeel kan vertrou, want daar is tog tye wanneer daar ingegryp moet word om beheer te bring.

’n Sterk onderstroom binne my is om die lewe vir ander goed te maak. Dit is ’n te groot verantwoordelikheid. Ek wil ook nie daarvan ontslae raak nie, maar deesdae doen ek dit omdat ek wil, nie omdat ek moet nie. Nou het ek ’n keuse.

Dit is egter moeilik om afstand te behou as dit oor my gesin gaan. Ek is baie beskermend ingestel teenoor my man en kinders en klim maklik op ’n vliegtuig om dinge te gaan uitsorteer. Om dán net te staan en kyk, is dan ’n perd van ’n ander kleur.

En tog kan jou eie gesin jou dankbaar wees: jy deel persoonlik diskreet min oor hulle mee, praat nie namens hulle nie en is baie versigtig oor jou gesin – jy hou jou man en kinders uit die verhaal. Dis gesprekke uit jóú binnekamer. Stem jy saam?

Ja, ek dink hulle was genoeg blootgestel in Bloedvreemd. Die proses in Oorkant jou is baie meer gefokus op die ervarings van die mense wat my pad kruis en die groei binne my. ’n Gesprek uit my professionele binnekamer.

Kruisbestuiwing is seker onvermydelik. Ek skryf in die boek hoe ’n ervaring van my een seun my gehelp het ten opsigte van die aanvaarding van ’n kliënt se situasie. En toe ek, ná ek ’n blik gekry het op die kwesbaarheid van mense wat in parke en onder brûe slaap, die opmerking maak: “There is safety in numbers”, het my ander seun geantwoord: “Ek dink nie 10 miljoen Jode sal met ma saamstem nie.” Dit is so – ons vryf af op mekaar. Al word ons op die agtergrond gehou.

Die grootste trefkrag van jou boek is hoe betrokke jy die leser laat raak by jou kliënte. En baie kere breek stories stomp af – wat het gewórd van x, y en z? Die probleem is, nou voel mens saam met jou vir al die mense wat in jou spreekkamer beland. Wat maak mens?

As dit empatie ontlok, het die boek in sy doel geslaag.

Daardie stories wat stomp afbreek, bring ’n soort onafgehandeldheid na vore wat my eerstens oor my vermoëns laat twyfel. Ek wonder altyd of dit my skuld is en of ek iets verkeerd gedoen het dat die mense net wegbly of nie met terapie wil voortgaan nie. Dit is ook frustrerend, omdat daar nie ’n afsluiting kan plaasvind nie – dit voel onaf. Maar dan is daar ook kliënte met wie behoorlik afgesluit is en waar hulle weggaan ’n gevoel van verlies bring. Veral wanneer jy baie vir die kliënt omgee en sy belange op jou hart dra. Ek dink baie keer aan mense wat my pad gekruis het. Ek wonder hoe dit met hulle gaan en ek wens ek kan weet of hulle oukei is. Na sommige van hulle verlang ek selfs. Maar ek voel ook gelukkig dat party konneksies net tydelik is en daar ’n tyd is om weg te gaan sodat daar weer plek is vir ’n ander een.

As die leser saam met my voel, beteken dit hy is ook dáár en deel van die een oorkant my se proses. Deernis is iets wat ontwikkel wanneer ’n mens jou toelaat om te voel. As die leser met onafgehandelde gevoelens gelaat word en gefrustreerd is omdat hy meer van die kliënt wil weet, sê ek dankie jy gee om. In vandag se lewe is dit iets wat min mense werklik doen. Ons is te haastig om om te gee.

Wat is die sin van die lewe?

Elke mens sal seker ’n ander antwoord hierop gee. Ek weet nie eens of vandag se antwoord môre dieselfde sal wees nie. Vir my hét die lewe sin, want ek maak dit vir my sinvol. Ja, natuurlik is alles nie maanskyn nie, en die dinge wat ander ontstel, krap my ook om, maar eerlikwaar, ek is gelukkig. Ek het die lewe lief. Toe die waarheid oor my herkoms uitgekom het, het ek gesê dit maak nie saak wie se baarmoeder my in die lewe gebring het nie. Solank ek net hier kan wees.

Miskien beantwoord ek nie die vraag nie. Ek tob nie veel daaroor nie, want ek weet dit is nie die lewe se verantwoordelikheid om sin aan my bestaan te gee nie. Ek moet dit self doen en ek voel ek slaag daarin.

The post Oorkant jou deur Juliana Coetzer: ’n onderhoud appeared first on LitNet.

Hilda Smits: ’n onderhoud met die wenner van die Ingrid Jonker-prys 2017

$
0
0

die bome reusagtig soos ons was
Hilda Smits
Protea Boekwinkel
ISBN: 9781485306405

Hilda Smits se digbundel die bome reusagtig soos ons was is die wenner van die Ingrid Jonker-prys vir 2017. Hilda vertel vir Naomi Meyer hoe dit voel om hierdie prys te wen.

Hilda, wie is jy (of: wie was jy, voorheen – kies ’n eie tydstip)?

Net myself, as ek nou moet eerlik wees. Dalk ’n pug of kaas in my vorige lewe.

Hilda Smits (foto verskaf)

Waarom skryf jy gedigte?

En aan die begin was daar rympies … Miskien ook omdat dit die naaste aan magic is wat ’n mens partykeer kan kom, al dan net vir ’n oomblik. ’n Manier om ’n oomblik soos ’n glipperige vis vas te vang & van nader te bekyk.

Die land waar jy nou woon. Of ’n vorige aangenome land. Brei uit daarop, asseblief.

Philadelphia. Ek werk in ’n metadoonkliniek, so ons bevind onsself kniediep in die opioïed-epidemie.

(Trump).

Ek krimp hom tussen hakies sodat hy nie ontsnap en elke mooi woord & hoop vernietig nie. Herfs & in die hoë lug & alles wat stil begin raak. Paul Klee soos my klein geheim in die museum. New York toe op die Megabus, ingepak soos sardientjies. My klein swart pug uitasem om die meer/vol refleksies. Drawwend in die aand wanneer die lig minder raak, visvangers met lang lui arms, ganse tydsaam oor die pad.

Die kleur of tekstuur as mens die dag ’n prys wen soos die Ingrid Jonker-prys; vertel asseblief.

Geel – ek dink baie aan my pa (wat eintlik kleurblind was). Tekstuur soos op ’n Daumier, jou oë besige voelers. My ma se pannekoek op reëndae.

Die sin van die lewe?

Ek het nie ’n benul nie. Ek leer so baie deur my werk as ’n psigoterapeut, en van mense. En van wat dit beteken om só diep te luister dat ek van myself vergeet. Vir my dan op die oomblik dalk iets te doene met om dáár, om present te wees, vir die stories van my mense.

 

 

The post Hilda Smits: ’n onderhoud met die wenner van die Ingrid Jonker-prys 2017 appeared first on LitNet.

Oor berge en dale, op reis met 'n monumentjagter: ’n onderhoud met Jackie Grobler

$
0
0

Oor berge en dale
Jackie Grobler
Jonathan Ball-uitgewers
ISBN: 9781868427826

Skrywers oor hul nuwe boeke. Jackie Grobler het rondom Erfenisdag 2017 met Naomi Meyer gesels oor Oor berge en dale, op reis met 'n monumentjagter.

Hallo Jackie, geluk met die verskyning van Oor berge en dale, op reis met ’n  monumentjagter. Het jy beplan om die boek te skryf, of het jy monumente gejag en toe spruit die skryf van die boek half natuurlik daaruit voort?

Beslis nie, maar die gedagte het mettertyd by my opgekom. Ek het eers gedink aan ’n baie formele boek oor die monumente. Daarbenewens het ek telkens vir vriende, kollegas en dies meer vertel van avonture terwyl ek en my vrou spesifieke monumente probeer opspoor het. Van hierdie persone het by my aanbeveel dat ek dit moet neerskryf want dit is “lekker stories”. Op ’n dag het ek met die uitgewer Jonathan Ball oor ’n ander boek sit en gesels en sonder enige bybedoelings aan hom vertel van my belewenisse met die opspoor van monumente. Sy onmiddellike reaksie was dat ek asseblief vir hom ’n boek met hierdie stories in moet skryf. Dit was die finale aanleiding tot die boek.

Wat beskou jy as ’n monument vir doeleindes van hierdie boek?

Die subtitel van die boek is beslis effe misleidend. Dit moes eerder “herinneringsplek aan die verlede” gewees het. As dit die maatstaf is, beteken dit dat monumente vir my veel meer as net formele herdenkingstrukture, soos die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein, insluit. Dit omvat ook gedenkterreine, historiese geboue, gedenkplate, gedenkstandbeelde, slagvelde, begraafplase en grafstene.  

Ons leef in ’n diverse land met ’n komplekse geskiedenis. Dit was vir my lekker om in jou boek te lees van die Anglo-Zoeloe-oorlog en gedenktekens wat hiermee saamhang. Hoe het jy bepaal watter monumente om te betrek?

Ek het my doelbewus daarop toegespits om gedenkplekke van al Suid-Afrika se uiteenlopende gemeenskappe in te sluit. Die uitgewer het my gevra om die boek in Afrikaans te skryf. Ek het so by myself gedink dat ek dan seker net monumente moet insluit wat vir die Afrikaanssprekende gemeenskap van belang sal wees. Dit het my nie bevredig nie. Te midde van al ons rondryery het ek en my vrou op ’n groot aantal besonderse, soms onverwagte monumente afgekom wat ek dan sou moes weglaat. My oplossing, wat later, terwyl ek aan die skryf was, my passie geword het, was dat ek die boek moes benut om Afrikaanse lesers in te lig oor die skat van wonderlike monumente wat daar al in ons land opgerig is om gebeure en persone wat tot die “ander” Suid-Afrikaanse gemeenskappe behoort, te gedenk. Dit klink sekerlik arrogant, maar ek glo die boek moet by wyse van spreke ’n opvoedingsrol vervul. Ongelukkig kon ek nie naastenby vir al die monumente wat ek wou invoeg, plek kry nie, want die uitgewer het ’n beperking op die omvang van die boek geplaas.

Wat van die monumente wat eenvoudig nie langs die pad aangedui word nie? En terloops: is dit algemeen dat besienswaardighede nie aangetoon word nie? Ek weet byvoorbeeld Tolkien is in Bloemfontein gebore, maar daar is nie eens meer ’n bordjie op die gebou se muur om dit aan te toon nie.

By verre die meeste van die monumente wat ons op ons reise besoek het, word nie met bordjies aangedui nie. In die meeste gevalle was ons van die bestaan van die monumente bewus en het ons daarna gaan soek. In ander, telkens meer opwindende gevalle, het ons absoluut toevallig afgekom op monumente waarvan ons nie bewus was nie, al het ek altyd voordat ons ’n “monumentale reis” aangepak het, indringend navorsing gedoen. Ek skryf in die boek oor party van hierdie monumente, soos die gedenkplaat vir Jan Smuts in Moordenaarspoort en die sogenaamde Volksmoordmonument buite Graaff-Reinet. Aan die ander kant was daar gevalle waar ons nie van monumente geweet het nie, maar deur bordjies langs die pad van hulle bestaan bewus gemaak is, soos die graf van Aia Jana buite Greytown.

Jackie Grobler staan hier voor die ou Laingsnek-spoorwegtonnel in KwaZulu-Natal, tussen Newcastle en Volksrust.

Is jou boek (ook) ’n reisgids?

Ongetwyfeld. Ek het my daarop toegespits om in die teks vir lesers aan te dui waar hulle na die monumente wat vermeld word, kan gaan soek. Agter in die boek word 18 bladsye afgestaan aan ’n lys van die meer as 400 monumente/gedenkplekke wat in die boek gemeld word, met hulle adresse, sowel as in die meeste gevalle die GPS-koördinate van hulle ligging.

Erfenisdag vind hierdie maand plaas. Kom ons praat gou oor wie se monumente is wie s’n. Of is dit ’n verkeerde beskouing? Anders gestel: dink jy mense redeneer nog so? En wat van jou boek en die klem wat hier gelê word?

Die Rhodes Must Fall-veldtog van minder as twee jaar gelede en die onlangse negatiewe reaksie op Helen Zille se onnadenkende uitspraak oor kolonialisme het by my die indruk geskep dat daar talle Suid-Afrikaners is wat geen ooghare vir nalatenskappe van die vervloë era van wit oorheersing oor Suider Afrika het nie. Terselfdertyd het ek, soos ek ook in die boek geskryf het, soms tydens my reise die indruk gekry dat 'n groot aantal Suid-Afrikaners nie juis waarde aan monumente heg nie. Alles is egter nie net negatief nie. Allermins. Ek het al telkens groepe skoliere en ook universiteitstudente uit die hele spektrum van ons Suid-Afrikaanse gemeenskappe op toere na herdenkingsplekke geneem en kry deurgaans die indruk dat hulle deur die bank, wanneer hulle weet waaroor ’n monument of gedenkplek gaan, bereid is om daarmee te assosieer en dit hulle eie te maak. In hierdie boek het ek sover as moontlik weg beweeg van ’n “ons versus hulle”-mentaliteit, want ek glo gedenkplekke is inherent aan alle Suid-Afrikaners se gedeelde verlede.    

Wat was vir jou met die navorsing van hierdie boek van die mees interessante ontdekkings wat monumente betref?

Ons het sommer ’n klomp interessante monumente en herinneringsplekke raakgeloop – indien ’n mens daarmee bedoel monumente wat ’n besondere indruk gemaak het. Ek het in die boek vertel van ons verbasing oor die gedenkplaat vir Aia Jana in Pietermaritzburg; die Stoelmonument vlak buite Middelburg in die Oos-Kaap waar Lötter en Wolfaart tydens die Anglo-Boereoorlog deur ’n Britse vuurpeleton doodgeskiet is; die monument langs Khumalostraat in Thokoza in Gauteng met sy duisende name op van die slagoffers van die geweld tussen die ANC en Inkatha in die aanloop tot die nuwe Suid-Afrika; en die unieke standbeeld by Howick in KwaZulu-Natal van Nelson Mandela wat van ver af soos ’n klomp verroeste ysterpale lyk, maar hom van ’n spesifieke punt af perfek uitbeeld. Ons is bevoorreg om talle interessante monumente in hierdie wye, droewe land van ons te hê. 

Jackie en Elize Grobler in die Montagupas bokant George

En langs die pad, wat was vir jou die mees interessante ontdekkings (niemonumente – natuur, eetplekke, ander dinge wat dalk nie eens in die boek genoem word nie)?

Dit was ’n fantastiese voorreg vir ons om tydens ons “monumentejag” die hele Suid-Afrika plat te ry en te loop. Ek het hier en daar in die boek geskryf oor die besonderse plekke wat ons in die proses gesien het, waaronder die steil bergreeks met sy klowe en waterval waaroor Louis Tregardt en sy metgeselle in 1837–38 met hulle ossewaens getrek het; die ongeskonde en bykans verlate heuwels en vlaktes van die Roggeveld- en die Nuweveldberge waardeur die ou koetspad tussen Sutherland en Fraserburg kronkel en waar Boer en Brit mekaar in 1899–1902 die stryd aangesê het; die groen weivelde in die gelyktes tussen die kranse van die Stormberge in die Oos-Kaap, waar ons een oggend op ’n swerm mahemme afgekom het; die dosyne uitgestrekte landelike nedersettings, waarvan sommige, soos Bochum in Limpopo, inderdaad eerder stede is en waarvan ons as Gautengse stadsjapies geensins bewus was nie. Vanselsprekend was daar vir ons in die proses talle wonderlike belewenisse waarvoor daar nie in die boek ruimte was nie, soos die lang wandelpad tussen die boomtoppe in die Mapungubwe Nasionale Park op die oewer van die Limpoporivier en die vars kreef wat ons in die kampeerterrein by Strandfontein gaargemaak en genuttig het.   

Is daar wat monumente betref “toeristelokvalle”, as dit uitgelig kan word – monumente wat hoog aangeskryf word, maar dalk dan teleurstel, om watter rede ook al?

Ons is wel by enkele geleenthede onkant gevang, en daarvan het ek hier en daar in die boek geskryf, maar werklike toeristelokvalle het ek nie raakgeloop nie. In die eertydse Transkei het ons naby die dorp Ludeke na die Oliver Tambo-geboortemonument gaan soek. Die nuutgeboude grondpad daarheen was ontstellend sleg en by die gedenkterrein self was daar talle strukture – alles net ’n paar jaar tevore opgerig – maar alles erg verwaarloos en deur onkruid oorgroei. By die hoog geroemde Mandela-museum by Qunu, óók in die eertydse Transkei, het ons net tyd gemors, want daar was werklik niks besonders om te sien nie. By die Schoemansdal-museum in Limpopo kon ons, ten spyte van herhaalde pogings, nie inkom nie. Toe verneem ons dit het kort voor ons besoek afgebrand en daar is buiten grafstene niks meer te sien nie. Pelgrimsrus was vir ons  ’n hartseer katastrofe. Al hierdie gevalle was eerder teleurstellings as lokvalle.

Vertel asseblief nog van jou agtergrond en waarom monumente, in die wydste sin van die woord, jou interesseer.

Ek het van kleins af ’n belangstelling in die verlede – moontlik omdat ek grootgeword het in ’n huis waar daar baie oor geskiedenis gepraat is en die boekrakke vol geskiedenisboeke was. As volwassene was ek my hele loopbaan lank as historikus werksaam, 40 jaar daarvan by die Universiteit van Pretoria. Tydens oorsese reise, waarvan ek die voorreg gehad het om ’n aantal te onderneem, het ek en my vrou graag plekke besoek wat met bekende figure soos Mozart, Napoleon en Shakespeare in verband gestaan het. Van ongeveer die jaar 2000 af het ons dit ook doelbewus in Suid-Afrika begin doen. My belangstelling het spoedig uitgebrei na alle monumente en gedenkplekke – oor prekoloniale Suid-Afrika, oor die VOC-tydperk, oor ons slawegeskiedenis (daar was twee slavinne uit Indië in die geledere van my ouma oor-oorgrootjies), oor die Groot Trek, oor die geskiedenis van die Zoeloes en ander inheemse gemeenskappe, oor die oorloë tussen Boer en Brit waarby bykans alle Suid-Afrikaners betrokke geraak het, oor die Wêreldoorloë en die Ossewatrek van 1938, oor ons struggle-geskiedenis – letterlik alle historiese monumente en gedenkplekke het vir my bekoring.   

Die belang van monumente – wat gedenk word, wat onthou word ... en behoort dit steeds te gebeur?

Monumente help ons om nie te vergeet nie. ’n Mens sonder ’n geheue is nie ’n mens nie. ’n Nasie sonder ’n geheue is nie ’n nasie nie, maar bloot ’n warboel van menslike wesens.

Noem jou top vyf monumente in die land, as jy kan.

As ek monumente kan beskou as gedenkplekke, sal my lysie die volgende insluit:

  • die Kompanjiestuin in Kaapstad
  • die Magersfontein-slagveld in die Noord-Kaap
  • die terrein van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein
  • die Bloedrivier-slagveldterrein met daarby ingeslote die Ncome-Museum in KwaZulu-Natal
  • die terrein van die Voortrekkermonument in Pretoria.

Jy skryf glad nie oor Bloedrivier in die boek nie. Is daar nog baie ander gedenkplekke waaroor jy nie geskryf het nie? Kan ons ’n opvolgboek verwag?

Daar is inderdaad nog baie. Ek moes kies, want een boek kan nie alles insluit nie. Daar is byvoorbeeld ook niks in hierdie boek oor die aangrypende vroeë geskiedenis van die Zoeloes, waaronder Shaka, van wie daar heelwat gedenkplekke is, nie. Daar is geen gedenkplekke van Engelstalige, swart of bruin skrywers in die boek nie. Geen Wêreldoorloë-gedenkplekke nie, niks oor Mahatma Gandhi nie. As ek ’n uitgewer kan kry, sal daar beslis ’n opvolgboek wees – mits hierdie een verkoop, natuurlik.

The post Oor berge en dale, op reis met 'n monumentjagter: ’n onderhoud met Jackie Grobler appeared first on LitNet.

Skrywersargiewe gaan landuit: ’n onderhoud met Fanie Olivier

$
0
0

Tydens 'n gesprek tussen Daniel Hugo en Yves T'Sjoen by die Tuin van Digters 2017 is internasionale betrokkenheid by Afrikaans bespreek. Die poësiesentrum in Gent bevat onder andere die Ernst van Heerden-versameling. Daar is in hierdie gesprek ook genoem dat Fanie Olivier sy boekery oorsee wil laat argiveer. Naomi Meyer het vir Fanie hieroor uitgevra.

Fanie, die nuus het ons bereik dat jy jou boekery en argief aan ’n sentrum in Gent geskenk het. Kan jy dalk bevestig of dit waar is?

Ja. Ek het ’n deel van my boekery aan die Universiteit Gent geskenk, daardie gedeelte waarin hulle belangstel. Soos almal weet, het die studie van Afrikaans daar ongelooflik gegroei, en dis nie net Afrikaanse letterkunde nie. Nou het die universiteit se bestuur ’n leerstoel vir Afrikaanse letterkunde, taalkunde en kultuurstudies ingestel, wat saam met die breë belangstelling in Afrika-studies aan Suid-Afrika nogal ’n prominente posisie in die universiteit se Fakulteit Lettere en Wysbegeerte gee.

Skrywers soos JM Coetzee se argief is ook landuit, maar hy is nie Afrikaans nie. Dink jy dis ’n teken van die Suid-Afrikaanse tye (ten opsigte van ’n regering wat dalk nie skryfwerk bewaar nie, of ’n persepsie dat dit so is)?

Dit is ’n moeilike vraag om te beantwoord, want Coetzee is kennelik iemand heeltemal anders en dit sou ’n eer wees vir enige instelling om sy dinge op te vang. En, kan ’n mens vra, is hy nog steeds ’n Suid-Afrikaanse skrywer? Vir my was dit gewoon ’n geval van ’n besluit om my lewe skraler te maak en om ’n tuiste te vind vir my goed. En dat dit vir Gent waardevol en nuttig gaan wees vir hulle nuwe studente, dosente wat moet klasgee en ook vir Suid-Afrikaners wat daar wil gaan studeer, was in daardie opsig deurslaggewend. Ek het wel hier navraag gedoen by instansies wat ek gedink het dit sou kon gebruik, maar hulle het nie nou belang gestel nie. Die studie van Afrikaanse letterkunde en taalkunde word hier al hoe kleiner bedryf – dink maar aan die instellings waar die studierigting heeltemal verdwyn het. Hierby kom ook die probleem na vore oor hoe veilig dinge op die oomblik in Suid-Afrika is. Boeke en papiere brand so lekker! (Moet egter nie vergeet dat dit die sg beskaafde Nederlanders was wat waardevolle – soms onvervangbare – geskrifte in die water gesmyt het nie.) Maar dit sou nogal naïef wees om te glo dat die huidige regime hier ter lande werklik dink dat boeke en skrywers belangrik is en geld gaan eenkant hou vir argivering. Die hele onsekerheid oor wat met Naln moet gebeur, is seker die duidelikste bewys hiervan. En Heine se waarskuwing moet ons onthou: waar hulle boeke brand, sal hulle uiteindelik mense ook brand. (Of het ons dit andersom aangepak?)

Wil jy dalk uitbrei op wat alles in jou argief gestoor word?

Daar is geen “argief” as sodanig ter sprake nie. Wat naas die boeke verstuur word, is op die oomblik baie jare se fotostate van boekresensies, en artikels oor en gesprekke met skrywers. Daar is ook enkele "plakboeke" oor insidente soos James Polley se Somerskool, die hofsake rondom Kennis van die aand en Okhela, die Magersfontein-fiasko's. Ek het getrou ook resensies agter in boeke gebêre – ek weet nie of die mense by Gent dit daar gaan hou nie. Dan is daar natuurlik ook tydskrifte rondom letterkunde en kultuurstudies. Korrespondensie is nog nie weg nie, want ek moet dit nog uit verskillende lêers bymekaar sit. Die manuskripte rondom my eerste vier bundels is by Naln, maar ek is nie seker of die dinge daarna nog daar tereg gaan kom nie. Ek is ook nie seker of Gent daarin sou belangstel nie. Daar is ook dinge wat ek hoop om nog af te handel, soos die geskiedenis van die Afrikaanse PEN-vereniging – die dokumente daarvan is dus nog hier.

Soos ’n mens sou verwag, is boeke wat te make het met die Afrikaanse taal, letterkunde en kultuur (lg so wyd soos die Heer se genade, natuurlik), Suid-Afrikaanse politiek en die Suid-Afrikaanse Engelse letterkunde die dinge waarin Gent belangstel. Daar is ook ’n aantal "agtergrondboeke", soos Obie Oberholzer se fotoboeke en sulke verwante koffietafelboeke wat studente in Vlaandere sal help om te verstaan hoe lyk ons land van bietjie grond en baie klip. Ander wêreldletterkundes moet dus maar hier tuis bly, soos ook ’n akademiese leeftyd se boeke rondom die literatuurwetenskap en literatuurgeskiedenis. Dit is dus nie my hele boekery wat die see gevat het nie, maar dinge wat spesifiek met die vakgroep in Gent te make het. Aanvanklik was die idee van die skenking dat dit die volledige boekery sou wees, maar ek vermoed dat die koste aan die verskeping en die ontsluiting [ook eventuele fisiese ruimte] tot ’n ander versoek aanleiding gegee het. Ek het ook digby 100 DVD's saamgestuur wat die hele spektrum van die Suid-Afrikaanse filmwêreld en -geskiedenis verteenwoordig.

Daar is ’n magdom getekende eksemplare, bibliofiele uitgawes en Africana (heelwat was vroeër in my pa se boekery) – my studentemaat en latere sportskrywer en nog latere boekman, Lappe Laubscher, het nog voor sy hartseer dood my hart laat stilstaan toe hy my vertel het wat die boekery werd sou wees. Maar ek het besluit dat ek nie gaan begin uitsoek nie, maar alles Gent toe sal laat gaan. Miskien kry ons darem ’n vliegtuigkaartjie daarvoor in ruil!

Dalk kan jy iets sê oor nalatenskap: van ’n digter, ’n skrywer en ’n taal. Lê dit opgesluit in ’n konkrete argief alleen?

Wat is ’n skrywer se nalatenskap? Waarskynlik net haar of sy werk, en ook dit word mettertyd minder beduidend. Daar is gewoon te veel dinge wat gebeur en wat die kollektiewe geheue al hoe swakker maak. Waarvan leer ons kinders op skool? Het ons hoegenaamd iemand wat lus is of in staat is om die groot en veeleisende biografieë van Kannemeyer en Steyn voort te sit? Of uitgewers wat daarvoor kans sal sien? Hennie van Coller se Perspektief en profiel is op die oomblik ons enigste troos, maar vir hoe lank? Maar waar is die studie oor Johannes Meintjies byvoorbeeld? Het iemand al werklik Johan van Wyk se bydrae tot die Suid-Afrikaanse letterkunde bekyk? Miskien moet iemand iewers besluit om elke kwartaal/seisoen ’n spesifieke skrywersfiguur te kies en hom of haar op verskillende platforms onder die aandag te bring.

Jy het in ander lande gewoon en dit bied ’n soort perspektief: hierdie land is nie die middelpunt van die heelal nie. Of hoe? Het jou buitelandse verblyf dalk ’n rol in jou besluit gespeel?

Enigiemand wat vir ’n paar jaar elders gewoon het, kry beslis ’n ander perspektief op ons en die werklikheid en die wêreld. (Dit geld trouens ook vir die mense rondom die Wes-Kaap wat ook nie weet hoe dit elders in Suid-Afrika lyk nie, behalwe Johannesburg se lughawe, dalk.) Ja, Suid-Afrika is nie die beste en die mooiste en die enigste nie en ek het moeite met mense wat dweep rondom patriotisme en nasionalisme. Wat vir my wel uniek is oor ons stukkie wêreld, is Afrikaans en die werklik verstommende letterkunde wat ons taalgemeenskap oplewer. Daarom is al daardie groter sentra buite ons grense waar mense hulle met oorgawe besig hou rondom Afrikaans, onvoorwaardelik kosbaar. En akademici en navorsers, ook in kleiner kring. En as ’n universiteit, en dan een met die status van Gent, in die jaar 2017 ’n nuwe leerstoel rondom Afrikaans instel, wil ek graag op my manier help dat dit die beeld van ons taal en letterkunde lewend kan hou.

Wil jy dalk iets skryf oor wat ’n argief deesdae is – ’n tasbare plek, maar hoe dan met betrekking tot virtuele argiewe en die internet? Waarom argiveer – en hoe?

Natuurlik moet ’n argief ook ’n tasbare plek wees, waar mense kan ruik en voel en sien hoe dinge lyk (ook Fanie Olivier se boekery wat vertel van ’n dak wat gelek het, gekko's en muise en vismotte en baie stof). Ook destyds se boeke en dinge. Hoe ’n snerttydskrif soos Huisgenoot destyds as Die Huisgenoot ons letterkunde en skrywers inderdaad huisgenote en gespreksgenote gemaak het. Hoe daar agt, nege resensies in koerante oor ’n boek verskyn het. Eers met hierdie soort bekendstelling verdwyn kitsinligting (hier klik-klik en daar klik-klik en woerts in die vergeetvullisblik) en ontstaan daar iets van kennis en respek en begrip. Daar is iets ontstellend waardevol in so ’n soort blootstelling: “kennismaking” is ’n goeie woord. Natuurlik moet alle waardevolle dokumente ook gedigitaliseer word, om baie praktiese redes. Argiewe van skrywers help om hulle as mense te onthou, ook diegene wat nie glansganse is nie. Die dood is, nog steeds, die groot gelykmaker.

Dink jy Suid-Afrikaanse skrywers hét nog ’n plek om te argiveer? En Afrikaanse skrywers?

Dit is onwaarskynlik dat ons ooit ’n Suid-Afrikaanse skrywersargiefplek sou kon kry. Die aard van ons gemeenskap gaan dit net nie toelaat nie. Wat weet ons politici in ieder geval van skrywers? Ek weet nie mooi wat daardie pragtige nuwe gebou van Nelm in Grahamstad gaan inhou nie, maar ek hoop dat hulle so ’n funksie sal kan vervul vir Engelstalige skrywers uit ons kontreie. Dit sou wonderlik wees as dorpe ’n plek kan inruim vir hulle skrywers, maar wie gee die geld en wie versorg dit later? Gaan kyk maar hoe lyk begraafplase op die platteland ... En soos die demografie verander, word skrywers in ieder geval irrelevant. Dorpsbiblioteke soek nie eers skenkings nie. Vir die Afrikaanse skrywers (of sommiges) was daar darem altyd Bloemfontein se Naln, maar die bestaanstoekoms en die bedryfstoekoms daarvan word skynbaar steeds onsekerder. Die staat voel hieroor duidelik nie veel nie, en die Lotto het ook net soveel speelkans. Waar is al daardie skatskatryk mense met hulle miljardes? Jy kan immers net sóveel geld verwerk, jou kinders net sóveel hanteer, en jy kan niks met jou saamneem nie. Hoekom nie iewers ’n projek begin (alleen of as ’n groep) om die toekoms van hierdie dinge in ’n dokumentasiesentrum te verseker nie?

Wat dan van die universiteite? vra iemand my. Waar is daar ’n universiteit, antwoord ek, waar ’n mens kan glo dat ’n Afrikaanse skrywersargief met piëteit en sorg bestuur, ontwikkel en uitgebrei sal word? Waar, trouens, een wat regtig oor Afrikaans self gaan omgee?

Waarom die sentrum in Gent, spesifiek?

Ek dink ek het dit reeds beantwoord. Bo en behalwe dat hulle regtig omgee vir Afrikaans, behoort daar iewers in Vlaandere ’n instelling te wees waar mense toegang tot die Afrikaanse leefwêreld sal kan kry. Die Poëziecentrum in Gent het reeds ’n uitsonderlike versameling Afrikaanse poësie waarby my skenking sal kan inskakel om daardie deur op Afrikaans wyd oop te hou. En veilig, glo ek. En, buitendien, dit is so ’n pragtige stad daarby.

The post Skrywersargiewe gaan landuit: ’n onderhoud met Fanie Olivier appeared first on LitNet.

Viewing all 800 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>