Quantcast
Channel: Skrywersonderhoude - LitNet
Viewing all 790 articles
Browse latest View live

US Woordfees 2018: Irna van Zyl gesels oor Gifbeker

$
0
0

Irna van Zyl (© Joanne Olivier)

Hallo Irna, baie geluk met die verskyning van Gifbeker. Wil jy dalk iets van die titel vertel?

Baie dankie, ja, die titel Gifbeker verwys na die giftigste sampioen in Suid-Afrika. Sy Latynse naam is Amanita phalloides en hy is verleidelik mooi, smaak glo heerlik, maar binne ses ure nadat jy dit geëet het – blykbaar selfs net ’n klein happie – besef jy iets is verkeerd. Dit is gewoonlik te laat teen die tyd dat jy mediese hulp gaan soek en binne ses dae gee jou organe in en sal jy sterf.

Natuurlik sinspeel die woord gifbeker ook op meer as net sampioene. Iemand moet ook figuurlik uit die “poison chalice” drink en hoekom en waarom is die vrae wat ter sprake is.

Dis ’n spanningsroman en hier verbind jy dit, deur middel van die titel, met spys en drank. Mens dink dadelik aan Daisy de Melker. Is dit ook vir haar wat jy in gedagte gehad het, of waar het jou inspirasie vandaan gekom?

Die storie het eintlik by kos en restaurante begin en nie by gif nie. Natuurlik moes ek ’n manier kry waarop die moordenaar sy slagoffers om die lewe kon bring en die toenemende gewildheid van sampioenversameling was die inspirasie daarvoor.

 Een van New Media (waarvan ek een van die stigtersdirekteure was) se bekendste publikasies is www.eatout.co.za en ek het toe ek in 2016 aan Gifbeker begin werk het, ’n rukkie lank ’n restaurantrubriek vir die webwerf geskryf. Eat Out het ook ’n jaarlikse prysfunksie waartydens die beste chefs in die land geëer word. Die storie is amper op ’n skinkbord vir my aangebied deurdat ek so baie van die kossterre of celebrities in aksie gesien het, asook natuurlik die kosresensente en bloggers, wat amper net so beroemd (en sommige berug) is as die chefs.

Wat kan jy van die komplot van Gifbeker verklap?

Die boek begin toe die mees berugte kosblogger in die land dood neerslaan in sjef Zeb Tswalo se deftige restaurant in die Hemel-en-Aarde Vallei buite Hermanus. Speuradjudant Storm van der Merwe eet in die restaurant saam met haar beste vriendin Kat Vermaak, wat ook die redakteur is van ’n koswebwerf, fooddotcom. Later die aand blyk dit dat giftige sampioene moontlik die blogger se dood veroorsaak het. Intussen word Storm se oudkollega Andreas Moerdyk uit die polisie geskop en kom soek hy ’n heenkome by haar op Hermanus. Sy is glad nie lus om vir ou Moerdyk op te piep nie terwyl sy aan ’n moordondersoek werk en boonop moet cope met ’n nuwe baas en ander dinge wat in haar persoonlike lewe gebeur nie.

Waarom skryf jy misdaadromans?

Ek dink ek was een van Deon Meyer se eerste “fans”! Nee, meer ernstig, ekself lees graag misdaadromans vir ontvlugting en ontspanning en omdat ek ’n joernalis was wat onder meer ook misdaad as my “beat” gehad het, is dit seker ’n logiese keuse. Dis wel ’n genre waarmee ek lank gesukkel het en steeds vind ek dit uiters kompleks en letterlik vol slaggate, veral soos wat dit al hoe meer mededingend word en mens nogal regtig oorspronklik moet dink oor jou storie en karakters.

Die item op die Woordfeesprogram, "Die restaurant as misdaadtoneel" verwys na nog meer romans wat 'n eetplek as ruimte vir misdaad aanwend. Wil jy iets hieromtrent sê? Of oor wie saam met jou gaan gesels?

Natuurlik is kos nie ’n oorspronklike tema in romans nie, selfs nie in die misdaadgenre nie. In onlangse voorbeelde hiervan in Suid-Afrika skitter Sally Andrew veral. Kerneels Breytenbach gesels met my en Schalk Schoombie. Schalk se satiriese roman Rooi haring het verlede jaar verskyn en speel ook in ’n restaurant af. Ons is op Vrydagoggend, 9 Maart om 11:30 aan die woord in die Drostdy-teater op die Stellenbosse Woordfees.

Hoe skryf jy 'n roman? Beplan jy vooraf, ontwikkel die verhaal organies?

Ai, met hierdie boek het ek so mooi vir myself belowe ek gaan meer beplanning doen as met die eerste, en ek hét. Hoewel ek destyds ook gedink het ek het baie beplan aan Moordvis, maar steeds neem die storie sy eie loop. So dit is maar ’n kombinasie van beplanning en organiese ontwikkeling. Wat dit natuurlik lekker en kreatief maak terwyl jy skryf.

Het jy 'n vaste skryfroetine en wanneer kry jy of maak jy die tyd?

Omdat ek drie jaar gelede al vroeg afgetree het en wel nou en dan nog vryskut skryf vir publikasies – meer eintlik as in die afgelope tien jaar – het ek steeds nogal tyd op hande. Ek hou daarvan om teen soggens sesuur in my studeerkamer te wees met ’n breuk tussenin om met die honde te gaan stap en al om die tweede dag gym toe te gaan. Gewoonlik rus ek bietjie ná middagete en hervat dan weer teen laatmiddag tot so agtuur saans. Partykeer neem die skryfwerk my naweke en sogenaamde vakansies oor en met Gifbeker het ek selfs ’n jaar gelede op Kersoggend gesit en skryf.

Wat lees jy?

Amper enigiets: dit kan misdaad, nie-fiksie en letterkunde insluit. Onlangs het ek Redi Tlhabi se Kwezi-boek gelees. Tans is ek besig met Chris Karsten se skitterende Die koms van die motman. Vroeër in Desember was dit die pragtige en interessante Little Fires Everywhere van Celeste Ng en Michael Robotham se The Secrets She Keeps, waar hy nogal afwyk van sy gewone karaters en opnuut ’n baie goeie spanningsroman geskryf het.

Ek het vroeër vanjaar met Etienne van Heerden en SJ Naudé onderhoude gedoen by Open Book in Kaapstad oor hulle skitterende boeke, Die wêreld van Charlie Oeng en Die derde spoel onderskeidelik. Dit was heerlik en verrykend om ernstige Afrikaanse letterkunde te lees, veral twee sulke goeie boeke. Ek dink natuurlik Etienne se boek behoort in Engels uitgegee te word sodat hy die Statebonds- en Man Booker-pryse kan wen, want hy verdien beslis daardie internasionale erkenning.

Ek was ook verlede jaar ’n beoordelaar van die nie-fiksie boeke vir die ATKV en het so onder meer Elsabé Brits se gewilde Emily Hobhouse-boek gelees.

Enigiets anders wat jy geniet om te doen, behalwe skryf?

Ek is ’n gholfspeler. Nie dat ek nou eintlik ’n voorgee het om op trots te wees nie, maar ek geniet dit om een keer ’n week in die Paarl of op Hermanus te speel. Gholf is bietjie soos skryf. Jy is net so goed soos jou bleddie laaste hou. Elke keer begin jy van heel voor af en nes jy dink jy het iets goed gedoen, hap hy jou. Dit hou jou beslis nederig.

Ek hou ook baie van reis en het pas teruggekom van twee weke in die Maldives en probeer een keer ’n jaar in die bosveld en/of in Europa uitkom.  Verlede jaar was ons in Griekeland waar ons een van Frederik de Jager en Douw Steyn se kursusse bygewoon het (’n kunskursus deur Michèle Nigrini) en dit was “lewensveranderend”, om nou ’n cliché te gebruik.

Ek gaan ook vir die eerste keer in my lewe binnekort druiwe oes en help wyn maak en het onlangs ’n branderry-les gedoen, maar ek dink nie dis heeltemal vir my nie.

Die lekkerste deel van my dag is soggens kort ná agt wanneer ek en my metgesel, Bridget, met ons twee honde, Oscar en Jake, gaan stap.

Waarna sien jy uit op vanjaar se Woordfeesprogram? Gaan jy tyd kry om nog produksies by te woon?

Jissie, ek het vir so baie goed bespreek! Hoofsaaklik die boekdinge. Ek gaan na die Elsa Joubert-sessie Maandagoggend, die vyfde, wanneer Ena Jansen se onderhoud met haar gespeel word, beplan om die Franz Marx-onderhoud daarna by te woon en Woensdag gaan ek na Antjie Krog, Eben Venter en SJ Naudé luister. Donderdag wil ek Jolyn Phillips se Tjieng tjang tjerries bywoon en Vrydagoggend Marlene van Niekerk voor my en Schalk se sessie met Kerneels. Die middag is dit Marita van der Vyver wat met Gerda Taljaard praat. Tussendeur hoop ek om Karin Hougaard se show en miskien Ingrid Winterbach se Freaks te kan sien. En dan praat ek en Marita, Marion Holm en Errieda du Toit Donderdagaand by Neethlingshof oor ons jare – die stormagtige einde van die sewentigs en begin van die tagtigs – op Stellenbosch.

 

The post US Woordfees 2018: Irna van Zyl gesels oor <em>Gifbeker</em> appeared first on LitNet.


US Woordfees 2018: ’n Onderhoud oor Kalmte in die malle gejaag

$
0
0

Jan van Dyk Instagram @jantalisman

Kalmte in die malle gejaag
Johannes Bertus de Villiers
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798175883

Johannes Bertus de Villiers gesels met Naomi Meyer oor Kalmte in die malle gejaag.

Is vrede die teenoorgestelde van oorlog? Is kalmte die teenoorgestelde van chaos? Brei asseblief uit op daardie stil plek in die oog van die storm.

Dankie vir die geleentheid vir ’n geselsie. Mindfulness (of bewustelikheid soos ons dit in die boek op Afrikaans noem) is ’n baie rare ding – dit werk eintlik heel anders as wat mense verwag. Mense maak dikwels die aanname dat jy “kalmte” en bewustelikheid net kan ontgin as jy met ’n vreedsame uitdrukking op jou gesig rondsit - verkieslik op ’n strand of in ’n groen woud, soos iets ’n sjampoe-advertensie. Maar bitter min van ons gaan onsself ooit in sulke omstandighede bevind; buiten vir ’n kort vakansie hier en daar. ’n Veel nuttiger kuns is om iets van kalmte en tevredenheid  in jou alledaagse, holderstebolder lewe te kan beoefen. 

Hoewel mense in bewustelikheidswerk aangemoedig word om daagliks iewers ’n tydjie alleen te kry waar jy kan leer om jou gedagtes dop te hou en jou kalmte te vind, is die doel daarvan nie om jou te lank van die wêreld weg te keer nie, maar juis sodat jy kan leer om daardie kalmte in jou gemoed te vind selfs wanneer jy by die werk of tussen jou gesin of by ’n kuierplek deur geraas en chaos omring word. Dis die kuns om tydens chaos ’n oomblik stil te staan en te besef hoewel die chaos rondom jou gebeur, hoef dit nie binne jou ook te gebeur nie. Daar is tegnieke wat mens kan aanleer om te keer dat die geraas rondom jou oorspoel en ’n geraas binne jou kop word.

In ons toenemend gejaagde en besige wêreld is dit waarskynlik die een vaardigheid wat toenemend van kritieke belang word vir mens se sielkundige welsyn: om te weet hoe jy ’n besige lewe kan navigeer sonder dat jou gedagtes self waansinnig begin raak. ’n Helder kop in ’n mal wêreld.

Wat veroorsaak al die nie-kalmte, dink jy? Is dit die groter bereikbaarheid van ons almal (byvoorbeeld weens sosiale media en selfone), omdat ons almal heeltyd beskikbaar moet wees?

As jy in die geskiedenis terug gaan, sal jy sien in antieke Indië en die vroeë Christelike kerk was daar al talle wysgere wat gemaan het dat mense deur die geraas in hul koppe heen en weer gepluk word, en dat mense moet leer om weer kalmte en helderheid binne hulself te vind. Die Boeddha het 400 vC al gesê elke mens het ’n mal aap in sy kop. So dis nie ’n probleem wat eie aan die 21ste eeu is nie. 

Die nuwe kontemplatiewe neurowetenskap help ons deesdae om te verstaan dat die mens se brein maar so bedraad is om vinnig met ’n ding op hol te wil gaan en dikwels op negatiewe dinge te wil fikseer. In prehistoriese tye het dit mense help oorleef as hulle altyd op die uitkyk was vir moontlike gevare en probleme soos roofdiere en vyandige stamme.

Ek vermoed wel dat die dinge vererger word in ons era deur die oormaat van media in ons kontemporêre wêreld. Studies het al getoon hoe die nuusdekking in koerante en in uitsaaimedia oor die laaste 40 jaar stelselmatig al meer swartgallig geword het en al meer op die negatiewe fokus. Dis moeilik om deesdae die nuus te volg sonder om woedend of verontwaardig te voel. 

Ons koppe is soos masjiene wat van tyd tot tyd ’n blaaskans moet kry sodat dit kan bedaar en insette kan verwerk. Maar met die 24 uur-nuussiklus word ons konstant met inligting gebombardeer en ons word al meer senuagtig sonder dat ons dit ooit kan verwerk. Daardie tipe dinge het uiteraard ’n geweldige impak op mense se geesteswelsyn.

Jy is 'n joernalis, Johannes. Is dit dalk jou werk waaruit dit spruit, die gevoel dat alles al gister moes klaar wees? Hoor jy dit by ander mense ook?

Ek is eintlik ’n oudjoernalis. Joernaliste is berug daarvoor dat hulle onder hoë stres werk en dikwels knak – dis waar die ou cliché vandaan kom van joernaliste wat te veel drink; in die ou dae was dit maar mense se manier om met die geraas in hul kop te probeer omgaan.

Maar dis nie iets wat eie is aan joernaliste nie. Jy kan in enige beroep staan en jou kop kan met jou op hol gaan. Trouens, jy kan op ’n koppie in die middel van die Karoo gaan sit om jou af te sonder en vind dat jy steeds in jou gedagtes heeltyd met kollegas of familielede of nuusfigure baklei. Dis verstommend hoeveel huisvroue en afgetredenes met angssteurnisse sukkel. Verreweg die meeste van ons sukkel om daardie “af”-skakelaar te vind. 

Johannes Bertus de Villiers (foto: Facebook)

Ons praat nog heeltyd oor jou boek Kalmte in die malle gejaag. Waar kom die inspirasie vandaan, hoe is hierdie boek gebore?

Die idee van die boek kom van Annake Müller, my uitgewer by Human & Rousseau. Die uitgewers doen gereeld vooruitskattings oor goed wat die wêreld aan die praat het en kry dan iemand om daaroor te skryf. Tans is daar ’n geweldige belangstelling in mindfulness en H&R het gemeen Afrikaanse mense wil saam gesels.

Hulle het my gevra om dit te skryf, want benewens oudjoernalis, het ek ook 18 jaar se ervaring van die indiepte-studie van meditasie en bewustelikheid. Ek help lei soms retraites namens die organisasie The Dharma Centre, waar ons mense leer om stil te sit, bewus te raak van die geraas in hul koppe en stadig die leisels van hul eie gedagtewêreld weer terug te neem. So, hoewel ek die boek binne ’n paar maande geskryf het, sê ek vir mense ek werk eintlik al sedert die jaar 2000 daaraan, want baie van die ervarings en stories wat ek in die deur jare se meditasie-werk in Suid-Afrika, Amerika en Asië opgetel het, het in die boek ingevloei.

Dit was ook vir my ’n goeie geleentheid om ander mense se stories te vertel. Jy sal sien die boek se formaat is grotendeels dat ek vertel hoe ander mense (oorwegend Suid-Afrikaners) met behulp van bewustelikheid geleer het om helderder, sagter en meer goedhartig te lewe. 

Jy eet spesiale kos. Of nie? Eet die res van ons dalk die spesiale en verwerkte goeters? Praat bietjie met my oor kos en of dit impakteer op daardie kalmte waarna ons almal strewe.

Ek eet nie juis spesiale kos nie, als wat op my bord is kom van Checkers. Ek eet wel geen vleis of diereprodukte nie uit etiese oorwegings.

As mens mindfulness en meditasie beoefen, raak jy baie helder. Dit wil sê jy let al meer op wat rondom jou aan die gebeur is, maar jy raak ook bewus van wat binne jou gebeur, hoe jou lyf voel, hoe jou gesondheid op sekere dinge reageer. So dit raak bietjie moeiliker om jou lyf vol ongesonde dinge te prop as jou aandag baie skerp is en jy kan voel wat dit als aan jou ingewande en gemoed doen.

As jy baie ure insit om jou gedagtes helder te kry, is dit ook bietjie sinneloos om baie kafeïen en alkohol te drink, wat net weer jou gedagtes gaan omkrap; so ek probeer om nie te veel van daardie substansies in te neem nie.

Joga. Nog 'n aktiwiteit waarby jy betrokke is. Vertel bietjie.

Ek besit ’n joga-ateljee op Stellenbosch. Ek bestuur dit sedert ek die joernalistiek einde 2016 verlaat het. 

Ons bied daar meditasie-byeenkomste aan en dis vir my nogal lekker om te sien hoe mense uit allerlei agtergronde reageer as hulle kom leer om hul asem dop te hou en hul oë oop te maak vir die wêreld rondom hulle. 

In jou boek deel jy ook ander mense se stories. Hoe het hulle jou pad gekruis, enigiemand se verhaal wat jy wil uitsonder?

Ek is sedert 2001 student van ’n Zen-sentrum, The Dharma Centre. Ons is in die dorp Robertson gesetel en my leermeester daar is Heila Downey SSN, ’n voormalige student van die Koreaanse Zen-meester Seung Sahn. Party mense dink Zen is baie weird, maar dis eintlik net ’n Japanese woord wat “meditasie” beteken. So ons kom gereeld daar bymekaar om vir tydperke van twee tot tien dae doodstil te sit en saam te mediteer. Soms werk ons bietjie stil in die tuin of maak saam kos, dis waar ons bewustelikheidsvaardighede inoefen wat ons dan in die res van ons lewens kan toepas. 

Baie van die mense wie se stories ek in die boek vertel, is mense wat ek deur The Dharma Centre of verwante netwerke ontmoet het, sielkundiges, sakelui, ouers, kinders, misdadigers, predikante, studente, wat ook nog als. Ek hoop mense wat die boek lees sal iets by al hierdie mense kan leer.

Twee stories uit die boek wat my veral sal bybly, is dié van twee mense wat nabydood-ervarings gehad het. Die een het in die sneeu in ’n berg in Amerika vasgeval en byna gesterf, die ander het wel ’n paar tellings klinies gesterf ná ’n operasie wat skeefgeloop het. Albei van hulle het deur daardie ervaring besef hoe ontsettend kosbaar die lewe is en hoe spyt hulle is dat hulle so baie van hul eie lewens misgeloop het, hul gedagtes ver weg. Nou weet hulle elke oomblik is heilig – selfs as hul kinders met hulle baklei of die bure se grassnyer raas, dan is hulle verheug dat hulle hier kan wees om dit te beleef. Hul stories vorm die begin en einde van die boek en ek hoop dit sal lesers net soveel aangryp as wat dit my geroer het.

Wat lees jy, wat doen jy in die algemeen sommer net vir die lekker?

Ek bedryf my eie onderneming, gee klas aan die Universiteit van Stellenbosch, studeer en het nou ’n boek wat pas verskyn het, so daar is nie regtig veel vrye tyd in my lewe nie. Ek gebruik die vaardighede wat ek uit bewustelikheid en meditasie geleer het om bietjie ruimte in my besige tye te bring en daar magic te vind. As ek in spitsverkeer sit, kyk ek met aandag na die mense rondom my en probeer iets oor hul stories verstaan. As ek met iemand vergader, probeer ek van hul stem bewus bly en om hulle in die oë te kyk. As ek met die sypaadjie afstap, herinner ek myself daaraan om na voëlgeluide te luister en na die goggas teen boomstamme te kyk. 

My aanvanklike voorstel vir ’n naam vir die boek was “’n Tikkie magic waar jy ook al gaan”. Die uitgewer het nie baie van die naam gehou nie, maar ek probeer dit nogtans so bietjie van ’n persoonlike leuse maak. Jy hoef nie na Mauritius of Thailand te gaan om iets lekker te doen nie; jy kan op enige tydstip gaan stilstaan en vir jouself vra: “Waar is die magic in hierdie oomblik?” en jy sal waarskynlik iets kry.

Wat gaan jy als by die Woordfees bywoon? Jy kan sommer ook vertel van die item op die program wat jy MOET bywoon, naamlik jou boekbekendstelling.

Ek dink nie dis tegnies ’n “bekendstelling” nie, net ’n boekbespreking. My boek word bespreek op ’n geleentheid in die Botaniese Tuin. Ek gaan eers saam met die gehoor ’n mindfulness-oefening doen, waarna ek en die joernalis Erns Grundling oor die boek gaan gesels. Die kaartjies was uitverkoop, maar daar is ‘n paar ekstra kaartjies deur die Woordfeeskantoor beskikbaar gestel.

Ek gaan ook na ’n bespreking van Carina Stander se roman Die Bergengel. Dis die mooiste boek wat in baie jare in Afrikaans verskyn het, ’n ouwêreldse fantasie vir volwassenes wat mens nogal aan Ursula le Guin se Earthsea-boeke herinner.

The post US Woordfees 2018: ’n Onderhoud oor <em>Kalmte in die malle gejaag</em> appeared first on LitNet.

US Woordfees 2018: Vlaamse skrywer Tom Lanoye

$
0
0

Menán van Heerden en Naomi Meyer het met Vlaamse skrywer Tom Lanoye gesels oor sy Maart 2018 besoek.

Tom Lanoye (Foto: Arthur Los Fotografie)

Suid-Afrikaners kan jou vanjaar by die US Woordfees sien. Jy tree gewoonlik saam met Antjie Krog op, maar nie vanjaar nie. Wat kan mense wat na jou kom luister, verwag om te hoor?

Ek sal net praat oor Sprakeloos en die fliek, wat daarvan gemaak is en op die Woordfees vertoon word. Miskien ook ’n bietjie oor my laaste, nog nie vertaalde roman nie, Z/Suivering.

In jou eie land is jy min of meer ’n popster, maar vertel asseblief vir Suid-Afrikaners wat dalk oningelig mag wees van jou oeuvre: wat jy skryf, wat jou interesseer en waarom. 

Wat ’n maklike vraag! Ek skryf so ’n bietjie alles: toneel, gedigte, verhale, essays, rubrieke, romans … En ek staan ook self baie op die verhoog om my werk óf te lees óf te “speel” – ek dink literatuur behoort ook ’n orale kunsvorm te wees. As daar een sleutel is om my werk te open, en om te sien waar ek verskil met die meeste van my kollegas, dan is dit: teater. Alles wat ek skryf, moet ook lekker klink as jy dit hardop sê; en my romans het strukture en build-ups wat aan tipiese teatertegnieke refereer.

Suid-Afrika is ’n land ver verwyderd van joune. Sien jy raakpunte? Of verskille? Ook betreffende die leeskultuur.

Raakpunte: taal word ook in België geproblematiseer en gepolitiseer. Ook teenoor Holland – ek beskou myself as iemand wat in sy beroep “tweetalig” moet wees: ek woon in Antwerpen, my uitgewer in Amsterdam. Daar is, emosioneel en idiomaties, nog altyd verskille tussen Hollandse Nederlands en Vlaamse Nederlands. Wat maak, dink ek, dat Vlaminge meer bewus is van dalk subtiele byklanke van taal. Ook al omdat Frans in België ’n invloed bly uitoefen. Dis nie ’n probleem nie, mind you. Dis meer ’n wins.

Jy het Suid-Afrika al baie besoek. Het jou ervaring van Suid-Afrika deur die jare verander vanaf jou eerste besoek? Is daar enkele hoogtepunte van jou reise na Suid-Afrika?

Natuurlik het my beeld, na 25 jaar, verskuif; en dit het ook intenser geraak. Die eerste jaar het ek gedink: “Ek weet alles; só en só is die land en sy mense.” Vandag weet ek ek sal nooit heeltemal Suid-Afrika verstaan nie – dis altyd méér ingewikkeld as wat jy dink dit is. Hoogtepunte: so baie! Die laaste een: ons het in Dar es Salaam (!) die maiden SONA van oom Cyril gesien en gehoor. En die laaste toespraak van Zuma in ons huis in Kaapstad. Fantastiese, aangrypende teater!

Is daar enigiets anders wat jy vanjaar by die Woordfees sal wil bywoon?

Ja, die gesprek van Deon Meyer met Kluun. En, soos altyd: Antjie Krog en Marianne Thamm, my Moederstad-boeties in literary crime.

The post US Woordfees 2018: Vlaamse skrywer Tom Lanoye appeared first on LitNet.

US Woordfees 2018: Nederlandse skrywer Ray Kluun

$
0
0

Menán van Heerden en Naomi Meyer het met Nederlandse skrywer Ray Kluun gesels oor sy Maart 2018 besoek.

Ray Kluun (Foto: Krimidoedel Dr. Jost Hindersmann (Eie werk) [GFDL of CC BY 3.0], via Wikimedia Commons)

Suid-Afrikaners kan jou vanjaar by die US Woordfees sien. Het jy Suid-Afrika al vantevore besoek? Vertel asseblief vir ons van jou vorige besoeke, indien enige, of enkele hoogtepunte.

Ik ben nog nooit in Zuid-Afrika geweest en kijk er enorm naar uit. Ik krijg de ene na de andere tip van vrienden die Zuid-Afrika kennen. Zo moet ik absoluut gaan eten bij de Potluck club, heb ik begrepen, en aangezien ik een volgzaam type ben doe ik dat dan maar. 

Verder vond ik het al buitengewoon lollig om onze talen op elkaar te zien lijken, toen ik de vertaling van Komt een vrouw bij de dokter in het Zuid-Afrikaans zag. Naar de gesprekken kijk ik dus ook uit. 

In jou eie land is jy min of meer ’n popster, maar vertel asseblief vir Suid-Afrikaners wat dalk oningelig mag wees van jou oeuvre: wat jy skryf, wat jou interesseer en waarom.

Na de eerste twee boeken te hebben geschreven over de ziekte en dood van en rouw over Judith, mijn aan kanker overleden vrouw, heb ik als schrijver van alles gedaan. Ik heb een satirisch boek geschreven over zwangerschap, een roman over de marketingwereld van gebakken lucht, een boek over waarom het Nederlands voetbalelftal nooit wereldkampioen is geworden (ook niet in 2010 in Zuid Afrika…). 

Wil jy dalk van een van jou onlangse publikasies vertel? 

Mijn laatste roman gaat over een dj die in een seksschandaal belandt en van de ene op de andere dag zijn hele reputatie in elkaar ziet vallen. Momenteel ben ik bezig aan de voorbereiding van een familieroman. Een zoektocht naar de grondvesten van mijn karakter, via dat van mijn ouders en mijn grootouders.

Jou boek Komt een vrouw bij de dokter is in 2009 verfilm. Wat was jou ervaring van die roman-tot-film-verwerking?

Ik was zeer tevreden met de verfilming van Komt een vrouw bij de dokter. Ik wilde een verhaal voor een groot publiek vertellen en ik wilde dat de film dat ook zou doen. Het boek verkocht in zes jaar tijd 1 miljoen exemplaren in NEDERLAND. De film haalde 1 miljoen bezoekers in zes weken. Lezers vinden altijd het boek beter, maar ik vind de film erg geslaagd en ben er trots op. Een van de beste scènes in de film zit zelfs niet in het boek…

Beïnvloed die filmverwerking enigsins die persepsie van die roman?

De film heeft ervoor gezorgd dat het verhaal zich als een klassieker in Nederland heeft gemanifesteerd. Wat wil je nog meer, als de schrijver van dat verhaal.

Suid-Afrika is ’n land ver verwyderd van joune. Sien jy raakpunte? Of verskille? Ook betreffende die leeskultuur.

Wat dacht je van de taal? De leescultuur ken ik niet, we gaan het meemaken! De mensen lijken me wel aardig 🙂

Is daar enigiets anders wat jy vanjaar by die Woordfees sal wil bywoon?

Jazeker! Ik hou van toneel en muziek, vooral rap en hiphop, ben fan van Die Antwoord en Cooler as ekke van Jack Parow is een van mijn favorieten. Ik ga lekker overal heen wat me leuk lijkt! 

The post US Woordfees 2018: Nederlandse skrywer Ray Kluun appeared first on LitNet.

Verhoudings onder druk: ’n onderhoud met Ronel du Toit

$
0
0

Naomi Meyer gesels met Ronel du Toit oor Verhoudings onder druk: 13 beginsels wat maak dat verhoudings slaag of misluk.

Ronel, vertel asseblief meer van jouself en jou agtergrond, en hoe dit gekom het dat jy oor hierdie onderwerp skryf.

Ek het groot geword op ’n plaas in die Oos-Vrystaat en was vir lank die enigste kind. Saam met my Sotho-maatjies het ons die dae op die plaas op allerhande kreatiewe maniere aangedurf. So was my beste maat se ouma ’n sangoma en is ons toegelaat om haar te sien “werk”. Ek was diep betower en ingetrek in daardie magiese sirkel van interaksie, dieper kyk, voorspelling en genesing, soos net daardie “dokters” kan doen. In retrospek sal mens kon sê dat my belangstelling in die sielkunde alreeds daar vlam gevat het. Maar op die klein dorpie (Senekal) waar ek gematrikuleer het, was iets soos beroepstoetsing ’n vreemde konsep – en so ook die beroep, sielkunde. Ek bekwaam my na matriek as verpleegkundige aan die Universiteit van die Vrystaat en werk daarna in kardio-torakale eenhede vir ongeveer 10 jaar. In dié taakgerigte en tegnologiese omgewing het ek meer en meer verlang na ’n beroep met groter mensgerigtheid en interaksie. Ek luister toe na daardie binnestem en studeer verder nagraads in sielkunde en behaal my MA Voorligtingsielkundegraad aan die Universiteit van Pretoria. Daarna begin ek by die universiteit se afdeling, Studente-ondersteuning, as sielkundige.

In my eie aanloop tot die skryf van die boek was die skryf ook vir my ’n persoonlike reis en soektog om menslike gedrag en die breë spektrum van verhoudings waarin ons betrokke is, beter te begryp, sodat ek begrippe waarna mense streef ten einde effektiewe verhoudings te kan beleef, beter aan hulle kan verduidelik. Ek is bekendgestel aan die Internasionale Kommunikasiemodel van wyle prof Charl Vorster en het ook verskeie werkswinkels van hom bygewoon. Kyk mens na die ontwikkeling binne die vakgebied van die sielkunde vanaf Freud se tyd, waar die fokus hoofsaaklik intra-psigies was (wat binne jou kop aangaan – om die onbewuste tot bewussyn te bring), het daar oor die jare ’n paradigmaskuif plaasgevind en word daar nou ook gekyk na wat interpsigies, of wat tussen mense gebeur. Dit wil sê dat die oorsprong van psigologiese probleme baie dikwels van interpersoonlike aard is. Dit bring my by die kern van my boek dat die kwaliteit van mens se verhoudings afhang van die kwaliteit van jou kommunikasie en dat dit soos ’n naelstring aan jou gemoedstoestand gekoppel is. So gesien kan mens geesteswelsyn bevorder deur effektiewer verhoudings te hê. Vier jaar gelede, toe ek met navorsing vir dié boek begin het, het twee van my seuns ook tegelykertyd besluit om te trou. Dit is toe dat ek myself afvra: “Is hulle toegerus vir dié groot stap? Die ouerhuis is immers ’n soort ‘laboratorium in die kleine’ vir die volwasse lewe.”

Met die boek, Verhoudings onder druk - 13 Beginsels wat maak dat verhoudings slaag of misluk, kyk ek na wat tussen mense gebeur wanneer hulle kommunikeer en na die impak van die interpersoonlike maneuvers waarvan mense gebruik maak. Hierdie “impakte” hou psigologiese konsekwensies in wat tot gevolg kan hê dat mense by sielkundiges kan aanklop met aanmeldingsklagtes soos ’n gevoel van leegheid, betekenisloosheid, teneergedruktheid, ongelukkigheid en angs; ja, selfs in liggaamskwale. Jou vermoë om effektiewe verhoudings te skep is nie aangebore nie. Boonop moet jy daagliks jou verhoudings onderhou en by nuwe situasies aanpas. Dit kos vaardighede waarmee mens nie altyd ewe effektief toegerus word nie. As sielkundige is my werk nie net om ongemak en simptome te verlig nie, soms is dit nodig om kliënte toe te rus met die nodige lewensvaardighede wat hulle mag kortkom om hul lewens en verhoudings beter te bestuur en te leef. Dit is hier waar ek die leemte in die leesstof geïdentifiseer het en vir my werk psigo-opvoedkundige nota’s saamgestel het. Dit het spontaan gelei tot die skryf van die boek.

Daar is bepaalde beginsels, veranderlikes of rigtingwysers wat vir alle verhoudings geld. Elkeen van hierdie 13 beginsels word in die boek verduidelik en in daaglikse situasies toegepas. Deur van die volgende beginsels bewus te raak kan jy meer voorbereid op die reis na volhoubare verhoudings wees. Ek kry dikwels die vraag: “Hoe sal mens weet wanneer een van hierdie 13 beginsel ’n probleem raak in ’n verhouding?” Die kort antwoord daarop is dat jy die impak op ’n emosionele vlak sal voel. Dit kan verskeie emosionele reaksies ontlok soos byvoorbeeld: woede, frustrasie, angstigheid, terneergedruktheid, vernedering of selfs opstandigheid en rebelse reaksies.

Wat is die 13 beginsels waaraan jy in die boek aandag gee?

·          Die kuns van logiese, duidelike en verstaanbare kommunikasie dra daartoe by dat boodskappe optimaal en effektief oorgedra word. Dink net aan al die baie redes waarom ons met mekaar kommunikeer soos onder meer om: ons emosies en bekommernisse of probleme met mekaar te deel; inligting oor te dra; menings uit te ruil oor hoe ons dinge sien en beleef; standpunte te stel; ons behoeftes te verwoord of versoeke te rig en die vreugde van gesprekvoering te ervaar. Oneffektiewe kommunikasie kelder al bogenoemde uitkomste van gesprekvoering.

·          ’n Empatiese ingesteldheid, of gewone medemenslikheid behels ’n opregte begeerte om mekaar se wêrelde te verstaan en sensitief te wees vir die ervarings van ander en na hulle te kan uitreik. Dit verwys na die behoefte wat ons as mense ervaar om na geluister en verstaan en aanvaar te word. Jy wil hoor dat jy verstaan word. So ’n luisterende houding bewerkstellig ’n spesiale konneksie van begrip en gevoel van tevredenheid tussen verhoudingsmaats.

·          Inherent aan alle verhoudings is die bepaling van die rol wat ons in die verhouding inneem, met ander woorde jou plek in ’n verhouding. Is jy die leier of moet jy volg; is jy in ’n gelyke verhouding of gaan die verhouding met ’n magstryd gepaard. Is jy gemaklik met hoe die verhouding daar uitsien. Dikwels ontstaan ’n magstryd tussen verhoudingsgenote. So ’n “magstryd” kan inherent deel van ’n verhouding vorm indien daar mededinging om leierskap in die verhouding is. Daar is voortdurend ’n dinamiese maneuvrering tussen verhoudingsgenote om te bepaal of die een of die ander persoon die leiding sal neem. (Maneuvrering verwys na die manier waarop ’n mens sake hanteer om iets te kan bereik, dikwels deur taktiese of manipulerende gedrag te gebruik.) Verhoudingsgenote kan in ’n magstryd gewikkel bly oor wie die leiding moet neem, of hulle kan tot ’n vergelyk kom om die mag te deel en in ’n gelyke verhouding te funksioneer. Wanneer verhoudingsgenote met mekaar saamstem oor die “plek” wat hulle in definisie van die verhouding inneem, bring dit stabiliteit in die verhouding. ’n Praktiese voorbeeld: Die onderwyseres praat met haar man en beheer hom soos wat sy met haar leerders doen. Hy kom in verset teen haar pogings tot beheer en remediëring – hy het genoeg gehad! - en ’n magstryd tussen hulle volg.  

·          ’n Mens se kommunikasiestyl het ’n invloed op ander mense. (Kweek ’n bewustheid en aanvoeling vir die impak wat jou kommunikasiestyl op jou verhoudingsgenote het. Jy kan mense na jou toe aantrek met ’n empatiese en toeganklike styl, of jy kan hulle van jou wegstoot deur ’n aggressiewe, beherende en kritiese styl.) Jou unieke kommunikasiestyl kan aanvaarding of verwerping van verhoudingsgenote of die omgewing ontlok. Indien ’n mens ’n bewustheid aankweek dat jou kommunikasie, bepaalde styl en gedrag ’n effek of impak op ander mense het, kan dit jou bemagtig om meer effektief te kommunikeer, wat die rigting van die kommunikasie kan beïnvloed. Dink daaroor, verhoudings en die gesprekke wat jy voer kan jou: goed laat voel oor jouself of minderwaardig laat voel; inspireer of frustreer; bemoedig of bangmaak; opbou of verneder en afbreek; veilig laat voel of onveilig en angstig maak; hoop gee of tot wanhoop dryf. Jy mag dalk dink dat jy iemand beïndruk, terwyl jou pogings net die teenoorgestelde effek mag hê.

·          Kommunikasie vind binne konteks plaas en nooit in ’n vakuum nie. Konteks dra by tot betekenisvorming wanneer boodskappe oorgedra word. Deur tyd en geduld daaraan te bestee om eers konteks (of agtergrond) te skep voordat boodskappe geformuleer en oorgedra word, word misverstande voorkom en kan individue mekaar beter verstaan. Die konteks word so ’n medebepaler vir die betekenis van die boodskappe wat tussen verhoudingsgenote uitgeruil word. Ons is dikwels lui om genoegsaam konteks te skep. Veral met die persone wat die naaste aan ons is.

·          Die emosionele afstand, dit wil sê hoe naby of hoe ver verhoudingsgenote van mekaar funksioneer, kan ’n impak op die kwaliteit van die verhouding hê. Waar die een verhoudingsgenoot meer nabyheid verlang kan die ander een weer groter afstand of vryheid verlang. Konflik kan hieroor ontwikkel. Hier gaan dit oor intimiteit en nabyheid in die verhouding. Wanneer die distansie in ’n verhouding baie groot is, is dit vir individue moeilik om mekaar te leer ken en te ondersteun en verloor dit sy interafhanklike karakter. Verhoudingsmaats kan daarom ervaar dat hulle alleen en geïsoleerd is of deur niemand verstaan word nie.

·          Elke verhoudingsgenoot moet sy of haar aandeel in en bydrae tot die instandhouding van die verhouding raaksien en erken. (Dit verwys na die sirkulêre of wedersydse aard van kommunikasie en die proses waartydens beide verhoudingsgenote hul aandeel in die verhouding erken en nie die ander blameer en kritiseer vir alles wat verkeerd loop nie.)

·          Verhoudingsmaats kan aanleer om hulle behoeftes duidelik aan mekaar oor te dra sonder om voorskrywend of veeleisend te wees. (Die besef moet duidelik deurkom dat geen mens gedagtes kan lees nie.) Behoeftes wat op ’n effektiewe wyse aan mekaar gestel word, kan tot betekenisvolle onderhandeling tussen twee verhoudingsgenote lei. As ’n mens nie leer om jou eie behoeftes te identifiseer en aan verhoudingsmaats te kommunikeer nie, gaan jou eie behoeftes verlore en maak dit jou weerloos in die verhouding. Pasop vir verwagtings en idees van hoe dinge “behoort” te wees. Stel jou verwagtings altyd as ’n behoefte aan jou maat.

·          Die rol van erkenning in menslike gedrag is mobiliserend, motiverend en geweldig belangrik vir die verhouding en mens se selfbeeld. Deur erkenning aan mekaar te gee, byvoorbeeld in die vorm van ’n dankie, ’n kompliment of ’n opbouende aanmerking, help verhoudingsgenote mekaar om te begryp dat hulle “goed genoeg” is.

·          Elke individu kan daarby baat (en behoort daarna te streef) om self verantwoordelikheid vir sy of haar lewe en die interaksie met die omgewing en verhoudingsgenote te aanvaar – selfbestuur. Jy kan óf in beheer van jou omgewing en verhoudings wees óf kies om ’n slagoffer daarvan te word. ’n Mens moet gevolglik leer om jou hulpeloosheid te verwoord en te verhoed dat jy in ’n negatiewe spiraal van passiewe magteloosheid verval. Jy kry maar een lewe: neem beheer daarvan!

·          Aanpasbaarheid of buigsaamheid is die kapasiteit waaroor ’n mens beskik om nuwe inligting te oorweeg en jou eie begripsraamwerk te kan uitbrei. Dit behels verder die aanpasbaarheid om gedragstoepaslik by veranderde kontekste aan te pas. ’n Rigiede styl kan ’n geweldige groot struikelblok word wanneer konflik opgelos moet word of ’n verhouding by nuwe eise moet aanpas. Mens kan voel asof jy eenvoudig nie tot jou gespreksgenoot kan deurdring nie. Dit kan jou magteloos en gefrustreerd laat voel.

·          Emosionele, pynlike ervarings en trauma word deur die brein gememoriseer en kan ’n invloed op toekomstige gedrag uitoefen. Dikwels kortwiek verhoudingsmaats se emosionele bagasie hul kommunikasie. Opgekropte emosies kom in ongetemperde outomatiese reaksies tot uiting, wat die basis skep vir misverstande, konflik en interpersoonlike afstand. Uiteindelik kan dit tot die verbrokkeling van ’n verhouding lei. Mens moet leer om emosioneel intelligent te raak. Die Griekse wysgeer en wetenskaplike Aristoteles het emosionele intelligensie bykans 380 jaar vC raak beskryf toe hy gesê het: “Anyone can become angry – that is easy, but to be angry with the right person, to the right degree, at the right time, for the right purpose, and the right way – that is not easy.”

·          Aangeleerde probleemoplossingsvaardighede help ons om konflik te kan hanteer en op te los. Die vaardigheid van meta-kommunikasie (om oor die kommunikasie self te kan praat) is onontbeerlik vir ’n harmonieuse verhouding. “Unfinished business” is een van die groot sondebokke wat mettertyd soveel afstand in die verhouding veroorsaak dat die verhouding kan sneuwel. Ons moet leer om so van mekaar te verskil dat ons mekaar nie bedreig, beheer, verneder of vernietig nie. Ons moet leer om te onderhandel, toegewings te maak en saam na maniere te soek om die konflik op te los. Ons benader nog te dikwels verskille soos in ’n hofsaak met litigasie waar ons mekaar aankla en met die nodige argumente en bewyse verpletter. Jy kan die hofsaak wen, maar die verhouding verloor.

Waarom is beginsels in enige verhouding belangrik, dink jy?

Beginsels help ondermeer om –      

 ’n bewustheid te kweek van die kommunikasie-detail en die impak daarvan (nie net wat gesê word nie, maar ook hoe dit gesê word), byvoorbeeld stemtoon of liggaamshouding (vingerwysing of gevoude arms), sowel as die manier waarop die gespreks‑ of verhoudingsgenoot hierdie boodskap ontvang;

·              jou effektiewer en meer suksesvol in ’n gesprek te laat kommunikeer, aangesien dit jou bewus maak van die aspekte waarvoor jy op die uitkyk moet wees, waarvoor jy versigtig moet wees en waaraan jy aandag moet gee – wanneer jy jou manier van praat (kommunikasiestyl) verander, word ’n nuwe subjektiewe ervaring by jou verhoudingsgenoot ontlok;

·              ’n  bewustheid  kweek vir hoe verhoudingsgenote hulself in jou teenwoordigheid beleef en te leer om interafhanklik te beleef – byvoorbeeld: “Dit is hoe ek dit sien. Vertel my hoe jy dit sien.” Jy besef dat dit nie jou bedoeling is wat ’n impak op jou gespreksgenoot het nie, maar wel die impak van “wat” jy sê en “hoe” jy dit sê;

·              die oorsaak te vind vir problematiese ervarings, haakplekke of belewenisse in verhoudings, byvoorbeeld eensaamheid, verwerping, angs, irritasie of aanhoudende gevegte en vetes. Byvoorbeeld: mense vermy in reaksie op jou negatiewe, kritiese en veroordelende styl;

·              gespreksgenote met groter respek met mekaar te laat kommunikeer in die wete dat alle mense broos en breekbaar in verhoudings kan voel;

·              die basis vir probleemoplossingsvaardighede te ontwikkel om daaglikse probleme, argumente of konflik effektief te kan hanteer;

·              insig te bekom in die voorspelbaarheid van verhoudings wat met aangeleerde kommunikasiepatrone of ‑gewoontes te make het en wanneer die nodige insig bekom is, afgeleer kan word, maar nie maklik afgeleer kan word nie; en

·              verhoudingsmaats bewus te maak daarvan dat namate ’n mens meer aan alledaagse gesprekke deelneem, jy deel van mense en hulle gesprekke sal voel, wat vereensaming, isolasie en stagnasie sal teëwerk. (Daarby is dit ’n basiese menslike behoefte om sekuriteit binne betekenisvolle verhoudings te kan ervaar.)

Kan jy 'n voorbeeld gee van die toepassing van een van die beginsels wat jy in die boek bespreek?

  • Die beginsel van nabyheid en afstand

Jy en jou verhoudingsmaat moet kan ooreenstem oor hoe ver of naby julle van mekaar wil funksioneer. Terwyl die een verhoudingsgenoot ’n groter behoefte aan nabyheid (interafhanklikheid) het, kan die ander een dalk meer afstand (onafhanklikheid) of vryheid verlang. Konflik kan so ontwikkel. Indien die distansie in ’n verhouding baie groot is soos waar min intieme persoonlike detail eerlik en kwesbaar met mekaar gedeel word, kan ’n nabye emosionele verhouding moeilik verkry word. Die partner kan geïsoleerd, eensaam, misverstaan en ongeondersteund voel. Aan die ander kant kan te veel nabyheid as “versmorend” ervaar word. Dis ironies dat hoe meer mens dan maneuvreer vir nabyheid, hoe meer die partner kan wegskram. Ekstreme isolasie kan tot ’n psigologiese ineenstorting lei. Mens het mense nodig vir terugvoer en dit het belangrike konsekwensies vir jou realiteitstoetsing. 

Wat dink jy kan probleme in 'n verhouding veroorsaak?

Wanneer partners nie kan ooreenstem nie oor die mate van nabyheid of afstand wat hulle in ’n verhouding verlang, kan dit tot ’n verhoudingstryd lei. Hierdie “stryd” lê op ’n spektrum van onafhanklikheid aan die een kant en interafhanklikheid en afhanklikheid aan die ander kant. Jy is ’n drukkie-mens wat graag alles saam met jou maat wil doen. Jy wil weet wat in sy lewe aangaan en hom ondersteun. Jy hou van gereelde kontak en blyke van liefde. As hy jou nie ten minste drie keer per dag SMS nie, wonder jy of hy nog lief is vir jou. Hy weer voel versmoor en oorweldig. Die persoon wat meer nabyheid verlang kan allerhande pogings aanwend om meer nabyheid te skep, wat die teenoorgesteld effek op die partner kan hê. Hoe closer sy wil dans hoe meer los (onafhanklik) wil hy dans.

Wanneer wéét mens iets is ’n probleem?

Kyk na jou emosionele belewenisse. Alle kommunikasie of interaksie  lei tot ’n bepaalde ervaring.

Jy het ’n behoefte aan meer nabyheid. Hy wil meer onafhanklik funksioneer. Dit ontlok angstigheid en onsekerheid by jou. Jy wonder of hy werklik lief is vir jou en omgee. Waarom wil hy nie meer dinge saam met jou doen nie? Hoekom laat hoor hy nie meer van hom nie? Doen meer moeite met die verhouding nie? Jy word bang dat jy die mens waarvoor jy so lief is, kan verloor. Jaloesie mag selfs ontwikkel as jy sien hy is close met byvoorbeeld ’n vriend, sy ma of skoolvriendin (jaloesie is dikwels ’n behoefte aan nabyheid).

Jou verhoudingsgenoot (partner) kan die situasie as emosioneel versmorend ervaar. Wil net wegkom en sy eie ding doen. Hy voel: Te veel betrokkenheid, ondersteuning, versorging en inmenging. Voel asof hy individualiteit en vryheid verloor.

Hoe manifesteer 'n probleem prakties in 'n verhouding, dink jy?

Sy beleef haar partner se afstand as volg:

Hy doen sy eie ding. Verkies om onafhanklik te funksioneer. Hou nie van inmenging en ander se betrokkenheid nie.

Hy maak min kontak. Praat min oor sy emosies en deel nie maklik baie persoonlike issues nie.

Hy is baie doel- en taakgerig. Nie plek vir emosies nie.

Baie onafhanklik – kom voor asof hy niks van niemand nodig het nie.

Baie min betrokkenheid en ondersteuning – nie baie teenwoordig in haar lewe nie. Verhoudingsgenote weet nie wat in mekaar se lewens aangaan nie.

Hoe kan dit opgelos word?

Spreek jou behoefte aan meer interafhanklikheid uit. Spreek jou behoefte aan meer betrokkenheid, versorging en ondersteuning van hom uit. Luister ook na sy behoeftes en probeer ’n goue middeweg vind. Dit kan oor iets wees soos hoeveel SMS’e geliefdes mekaar in die dag sal stuur, hoeveel bevestigings van liefde, aanraking, ens ...

Gee vir hom terugvoer oor die impak van sy onbetrokkenheid in julle verhouding. Doen dit so dat hy empatie en insig ontwikkel. Moet nie verwyt en blameer  nie. Jy kan sê: “Wanneer jy so sterk en onafhanklik jou eie ding doen, voel dit vir my asof ek nie meer vir jou saak maak nie. Ek begin selfs te dink dat jy my nie meer lief het nie. Dit sal my baie gelukkig maak as ons meer tyd maak vir mekaar. Jy maak vir my saak en ek wil graag op hoogte bly met jou lewe. Dit sal my ingesluit en nader aan jou laat voel.”

Luister baie mooi na mekaar sodat julle bewus kan word van mekaar se behoeftes. Jy kan dalk in jou verhouding na meer nabyheid soek deur gesprekvoering, terwyl hy na meer nabyheid soek deur seks. Beide is geldig.

The post <em>Verhoudings onder druk</em>: ’n onderhoud met Ronel du Toit appeared first on LitNet.

Somer deur Jaco Fouché: ’n onderhoud

$
0
0

Somer
Jaco Fouché

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798175340

Jaco, is Somer ’n jeugroman? En, indien wel: hoekom ’n jeugroman skryf? Werk dit verskillend van die skryf van ’n roman vir volwassenes? Indien nie: watter soort roman is Somer?

Ja, Somer is ’n jeugroman, hoewel ek dink ouer mense mag ook daarvan hou. My belangstelling in jeugfiksie is iets wat weer opgevlam het toe ek met Lorraine getroud is. Sy gee Afrikaans by die Hoërskool Hermanus en het my baie van die kinders vertel. Ek het ook van die voorgeskrewe boeke nadergetrek. Veral iets soos Krismis van Map Jacobs van Adam Small het ’n groot indruk op my gemaak. Ook het ek van my eie gunstelinge uit my kinderjare weer bekyk. En wat gewoonlik gebeur, is dat die lees van ’n goeie boek my lus maak om my eie een te probeer skryf.

Skryf vir die jeug is anders in die sin dat ek meen ek eerliker skryf. Of miskien moet ek sê meer reguit. Daar is minder suggestie en woordspelings en liriese sinne en ’n mens ondergrawe nie dinge soos jy in volwassene-fiksie maak nie. Dis ’n terugkeer na ’n tyd toe ’n mens nie so sinies was nie.

Somer kan ’n vrolike titel wees, ’n seisoen om na uit te sien. ’n Vakansie, in hierdie halfrond. Maar die voorblad is nie net vrolik of selfs net nostalgies nie. Vertel iets van die titel, as jy wil.

Ja, somer is vakansietyd. Dan is jy as skoolleerder klaar met die jaar en kan (hopelik) doen wat jy wil vir ’n paar weke. Dis die tyd om mense te leer ken en dinge te waag. Dis ook die tyd vir besef die jaar wat verby is, kom nooit weer nie. Die voorblad het so ’n iets van kindertyd wat verby is. Dis die soort beeld wat ’n mens op ’n ou foto sien en dan wonder jy meteens: Waar is daardie meisie deesdae? Of hoe is dit dat jy nie meer vir jou groot vriend sien nie?

Wie is jou karakters? En wat is hulle stories?

Maison is die verteller. Hy is ’n bruin matriekseun wat van rugby hou en nie van die akademie nie. André is dieselfde, maar meer welaf en wit. Hulle tree aanvanklik in konflik met mekaar, maar word vriende wat saam die somer geniet. Albei ervaar frustrasie en hartseer in hulle gesinslewens en reik uit na ’n vriend. Dis iets wat ek van my eie jong jare onthou, dat ’n mens in ’n mate jou gesin verloën om jou vriende aan te hang. Vir my het dit soms skuldig en verward laat voel, want my vriende was ontsettend belangrik vir my en ek besef vandag ek het te veel van hulle verwag.

En somer gaan altyd verby. Daar is ’n bewustheid hiervan in die boek. Is hier ’n tema van verganklikheid en onsekerheid, of hoe sou jy dit beskryf?

Daar is natuurlik iets hartseer aan die begrip somer. Vir my is dit dat die vrugte begin oorryp raak en van die bome val, dat die afwagting van die lente verby is, dat ’n mens moet inspring en werk. Dis ook die seisoen van mense wat buite is, op die strande, in die boorde, op die boupersele. Jy brand jou gaar in die son en onthou dan daardie spreekwoord: van vrolikheid kom olikheid. Dis ’n volwasse seisoen en terselfdertyd verkneukel jongmense hulle daarin – al die ure in die water; warm, laat aande met braai en die wyn wat hulle ontdek kort voor hulle moet gaan studeer of werk. Dis vir my ’n tyd wat hartseer voorafgaan.

Jy woon in die Hermanus-omgewing. Is somer en somervakansie ’n deurlopende bewustheid waar jy bly, en ’n noodwendige invloed op hierdie verhaal?

Ek het hier skoolgegaan en dis daardie jare wat ek mis. Deesdae se Hermanus is vir my vreemd. Ek sien nie meer kans om alleen in die berg te gaan stap soos ek so graag op skool gedoen het nie. En by die see onthou ek net weer skooldae en dis nie altyd ’n goeie nostalgie nie, want hoe moet ’n mens nou daardie dae terugkry? Jy kan dit net in ’n mate deur skryfwerk doen. Daarby het omstandighede in die dorp verander. Hier is nou baie wagte, in die woonbuurte ook, met fiets en radio. En op die kuspaadjies kom jy hulle ook teë. Ook hier loop die duiwel deesdae rond, soos in die res van die land. Die strande besoek ek eerder in die herfs of winter wanneer dit stil en koel is.

Jy gee erkenning aan kinders van die Hoërskool Hermanus. Was hulle vir jou ’n inspirasie?

Beslis. Die storie het ontstaan toe Lorraine my vertel van ’n vriendskap tussen ’n wit en ’n bruin seun. My swaer het ook eendag aan my gesê dat ek in Hermanus bly maar nooit daaroor skryf nie. Die kinders aan wie ek erkenning gee, het die episode in hoofstuk 13 beleef toe ’n toeris na hulle verwys as ’n “mixed breed”. Die twee was baie ontsteld daaroor. Tersia Smit, ’n onderwyseres, het my daarvan vertel en dit het my getref op ’n wyse wat my skaam gemaak het. Ek bedoel, ’n mens ry verby Hawston en Mount Pleasant en wat jy gewoonlik dink, is dat dit swaar moet gaan hier en wat het jy met die Chris Rea-CD gemaak? Maar daar woon mense daar en wonderlike mense ook. Ek het met ander skoolkinders ook te doen gekry, soos eendag toe Lorraine hekdiens by die rugby doen saam met twee bruin kinders en ek vir hulle koeldrank bring en ons ’n bietjie gesels. En ek het al in die skoolbussie gery saam met kinders, en na ’n uur vergeet hulle van die oom wat net voor hom sit en uitstaar en te skaam is om iets te sê en dan begin die stories oor hulle lewens vertel word. Daar is baie sulke voorvalle, miskien op hulle eie te klein om oor te vertel, en tog tel hulle op tot ’n geheelindruk.

Wat het verdere inspirasie gebied tot die skryf van hierdie storie?

Die idee van werk staan my aan. Op skool het van my skoolpelle in tuine gewerk, huise geverf en hout gesaag vir sakgeld. Ek self het ook naweke en vakansies gewerk, meestal aflewering en rakke pak by ’n besigheid. En nog altyd wou ek daardie dae herroep en ek wou nie eintlik oor my eie werk skryf nie, want om met ’n kettingsaag te werk is darem baie aantrekliker vir ’n leser as ’n ou wat produkte rondgestoot en afgelewer het, hoewel ek darem self ’n paar voorvalle beleef het wat besonders was en seker nog iewers neergeskryf kan word. Verder het ek ook baie tyd in die biblioteek en die dorp se boekwinkel deurgebring. By die boekwinkel het ’n tannie my boeke op haar rekening laat koop omdat sy afslag gekry het. By die biblioteek kon ’n mens ’n middag laat verbygaan en jy het gemeen dis ’n baie vrugbare besoek wanneer jy met jou drie boeke daar uitloop. Die bibliotekaris was ’n eksentrieke man wat kaalbolyf op straat verskyn het en my een vriend van rare boeke voorsien het wat hy maar kon hou. Daar was puik leesstof, sulke stokou uitgawes wat soms self uitgegee en glad nie goed versorg was nie. Een van daardie boeke is deur ’n De Villiers geskryf en het oor die ruimte gegaan. Dis gebaseer op sy dekade lange amateurwaarnemings vanuit sy agterplaas waar ek een aand was om deur die teleskope te kyk. Op ’n keer het daar ’n nuwe bibliotekaresse by die biblioteek begin werk en al die wonderlike ou boeke uitgewerk sodat daar plek kan wees vir nuwe publikasies. De Villiers se boek is ook weggemaak. Dit was erg, maar seker net nog ’n les oor die tydelikheid van alles.

Wat kom na die somer vir jou karakters?

Ek dink nogal aan ’n opvolg, maar dit sal afhang van die verkope van die boek. Ek sal daarvan hou as Maison ’n welaf jong man word en ’n soort filantroop.

Wat kom vir jou na die somer? Anders gestel: Is jy besig om aan ’n volgende storie te skryf?

Ek het in Januarie aan nog ’n kinderverhaal begin skryf wat toe ’n somber sprokie geword het wat kinders seker nie van sal hou nie. Miskien verskyn dit weldra en dan vir volwassenes. Ek is nogal in my skik daarmee, want ek het heelwat moeite met die styl gedoen. Maar hier brag ek al weer.

Wat was jou gunstelingboeke as jong volwassene?

My gunstelingboeke was werk van Stephen King, Wilbur Smith, James Clavell en Eric van Lustbader. My gunstelingjeugboeke was SE Hinton se verstommende stories. Sy is bekend daarvoor dat sy die Young Adult-genre omtrent op haar eie gevestig het met The Outsiders. Ek het dit twee jaar gelede weer gelees en erg terugverlang skool toe. Ek het ook van die Just William-boeke van Richmal Crompton gehou. Dit aan oor ’n elfjarige seun, maar ek het dit tot matriek nog gelees en vier jaar gelede weer een van hulle aangeskaf. Dan was daar Huckleberry Finn wat ek die eerste keer in die Afrikaanse vertaling gelees het. Dis vandag omstrede weens die rastema, maar dís nou ’n grootse boek as ek al een gelees het.

The post <i>Somer</i> deur Jaco Fouché: ’n onderhoud appeared first on LitNet.

Groot Romanwedstryd 2018: Jaco Fouché

$
0
0

Jaco Fouché (Foto: Christine Cronjé)

Jaco Fouché het pas tweede prys ontvang in die Groot Romanwedstryd 2018. Hy gesels met Naomi Meyer oor sy wenverhaal.

Jaco, baie geluk met die groot toekenning! Jy is aanspreeklik vir Die aanspreeklike. Vertel asseblief iets hiervan. Van jou karakter(s) en jou storie.

Baie dankie, Naomi! ’n Mens weet eenvoudig nie of jou maaksel iets beteken tot jy die stempel van goedkeuring kry nie en dit het ek nou gewis. Die boek word in die eerste persoon vertel deur ’n skrywer met ’n verlede en ’n paar ongure neigings. Die verhaal gaan oor hoe sy lewe in die dorp Hermanus tot ’n einde kom en dan in Somerset-Wes, Bellville en Kaapstad voortgaan, altyd teen die agtergrond van spanning en konflik. Dit beeld sy gesukkel om homself as skrywer te hervestig uit, en ook daardie ongure neigings, waaroor hy soms skuldig voel, dikwels nie. Die temas waarvan hy bewus is, is wetteloosheid, immoraliteit, bloedlus, maar ook kreatiwiteit en ondernemingsgees. En dis hopelik snaaks hier en daar.

Die keurders verwys na jou ongebruiklike buitestander-hoofkarakter. Dink jý hy is ongebruiklik? Of wil jy iets van hom vertel, van hoe jy hom sien, of vanuit sy vel, as jy daarin ingeklim het, hoe hy die wêreld beskou?

Ek het bekommerd gevoel dat ’n verteller wat so swig onder die druk van sy omgewing dalk nie simpatie by die leser sal wek nie, maar die commendatio by die prys stel my meer gerus dat die uitbeelding werk. Ongebruiklik? Miskien, as jy hom as ’n ordentlike en goedaangepaste burger wil sien. Maar dit is hy nie. Hy is die produk van onrus en geweld en vrees in die nag dat hy doodgeslaan of verneuk gaan word en van wantroue in sy medemens. Hy is ’n wrak en ’n geweldenaar en gefolter deur die verlede. Praat van vel – Graham Greene het gemeen ’n skrywer moet in staat wees om hom in die vel van die kommunis en die ongelowige te plaas. Dit is hoe ek onder die hoofkarakter se vel beland het. Ek moet seker droogweg bysê dat nóg kommuniste nóg ongelowiges vandag juis buitestanders is, but you know what I mean.

Ek het jou baie onlangs oor jou jongste jeugroman (vir vroeë volwassenes) uitgevra. Wanneer het hiérdie boek dan gebeur? Hoe, hoekom? Het jy die een boek klaargemaak en dadelik met die ander een ingespring, of was dit ’n proses met twee (dalk meer) parallelle skryfprosesse langs mekaar?

Die jeugroman het ek al so vier jaar terug begin skryf, maar dit wou eers nie vlot nie en toe laat staan ek dit vir ’n ruk. So ’n jaar gelede was dit klaar. Natuurlik moet ’n manuskrip in ’n ry inval om uitgegee te word en dit help nie ’n mens is haastig nie. In Februarie verlede jaar het ek aan my inskrywing vir die romanwedstryd begin skryf en dit vroeg in Mei gepos. Dit het dus so drie maande geneem om te skryf, alhoewel ek omtrent 20 000 woorde uit ’n ou geskrif gaan haal het om aan te pas en by te voeg. Ek werk nie vreeslik metodies aan ’n boek nie en sit met baie notas en fragmente en paragrawe wat dalk nooit gepubliseer sal word nie. Sommige werk wel iewers – ek meet en pas en dwing maar in. Ongelukkig beteken so ’n deurmekaar werkwyse dat ek partykeer ’n hele dokument liewer sal oorskryf as om verder met die kraaines te sukkel. Kon nog nooit heeltemal die probleem oplos nie. Ek kan ook byvoeg dat die boek die produk is van die hol kol op ’n mens se maag in die middel van die nag wanneer jy dink daar is iemand by die deur en vannag is dit jou beurt om deur te loop. Miskien is dit onvanpas om pas na so ’n persoonlike vreugde soos die prys oor landsake te mor, maar dis deesdae asof daar geen ander sake hoegenaamd is nie en dis op ’n manier die kern van die boek, al is die uitgangspunt dan so persoonlik.

The post Groot Romanwedstryd 2018: Jaco Fouché appeared first on LitNet.

Groot Romanwedstryd 2018: Debbie Loots

$
0
0

Debbie Loots (foto: Ruvan Boshoff)

Debbie Loots het pas die derde prys in die Groot Romanwedstryd 2018 ontvang. Sy gesels met Naomi Meyer oor haar wenverhaal.

Debbie, baie geluk met die groot toekenning! Vertel my asseblief van hierdie gelukkige einde. En ook van die werkstitel (“Die boek van gelukkige eindes”), die karakters en elkeen se einde?

Baie dankie, Naomi! Omdat daar meer as een hoofkarakter is, is daar meer as een einde, maar hoe gelukkig of ongelukkig hierdie eindes gaan wees, is ek nog nie oor seker nie. Die tweede weergawe van die boek, waaraan ek nou werk, is besig om heel anders uit te werk as die eerste weergawe. Daarom is dit moeilik om die tweede deel van jou vraag te beantwoord, want ek weet self nog nie wat “die fokus op die eindes” gaan wees nie, of hoe elkeen se lewe gaan verloop nie.

Die keurders verwys na 'n “introspektiewe sielkundige” as verteller in jou boek. Wil jy iets vertel van hoe die wêreld vanuit sy posisie lyk, jou karakter s'n, as jy vanuit sy perspektief na haar kliënte en na sy eie lewe kyk?

Die sielkundige bekyk die wêreld maar uit ’n baie siniese oogpunt. Hy het self nog ’n aantal persoonlike kwessies om op te los en eksistensiële vrae om te probeer beantwoord, en sy vriende en verskillende pasiënte se probleme help nie veel nie. Ek dink in die storie, soos in die lewe, help mense mekaar, en leer hulle belangrike lesse op 'n onderbewustelike vlak.

Hoe beïnvloed jou grafiese kuns, en jou visuele oog, jou skryfwerk? Of andersom?

Ek werk voltyds as tydskrifredakteur, wat tyd aan my boekskryf min en kosbaar maak, om nie van kunsmaak te praat nie. Maar tog is dit amper natuurlik om my skryfwerk uit ’n visuele oogpunt te benader, nie net as gevolg van my kunsagtergrond nie, maar ook uit die aard van my werk.

NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2018: Wenners aangekondig

Groot Romanwedstryd 2018: Ingrid Winterbach

Groot Romanwedstryd 2018: Jaco Fouché

Groot Romanwedstryd 2018: Gerhard Greyvensteyn

The post Groot Romanwedstryd 2018: Debbie Loots appeared first on LitNet.


Vandag wil ek my blou skoene dra: ’n onderhoud met Koos Kombuis

$
0
0

Vandag wil ek my blou skoene dra
Koos Kombuis

Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928426080

Skrywers oor hul nuwe boeke: Koos Kombuis gesels met Naomi Meyer oor Vandag wil ek my blou skoene dra.

Vandag wil ek my blou skoene dra is jou eerste digbundel in ’n paar jaar. Baie geluk daarmee, Koos! Wil jy iets vertel van die ontstaansproses van een of twee van die gedigte? Dalk ook uitbrei op die titel van die bundel?

Ek het die laaste paar jaar ’n soort “ontwaking” beleef en dit het neerslag gevind in ’n paar albums, onder andere my “geestelike” album getiteld dertien en ook die laaste album saam met David Kramer, Langpad na Lekkersing. In hierdie tyd het ek ook so nou en dan ’n gediggie geskryf. Dit was merendeels gelukkige gedigte met ’n vrolike of speelse inslag. Die skryf van die gedigte was slegs vir myself bedoel – ek het nooit op enige stadium publikasie in boekvorm oorweeg nie, hoewel ek sommige daarvan op LitNet en in Ons Klyntji gepubliseer het, en ook ’n sekere groepie daarvan in die virtuele bundeltjie rock ’n roll-karoo. ’n Klompie van hierdie gedigte, wat vir my saam gehoort het in terme van beelde en trant, het ek lukraak in een manuskrip saamgegooi en aan Naledi-uitgewers gestuur. Ek het egter dadelik na ek die manuskrip gestuur het, daarvan vergeet en nooit in my wildste drome verwag het dat hulle dit sou aanvaar nie!

As jy ’n gedig skryf, is dit vir jou anders as die skryf van ’n liedjie se lirieke? Dink jy dat jy al jou gedigte sou kon sing, of al jou liedjies se woorde sonder musikale begeleiding sou kon voordra, byvoorbeeld? Of hoe verskil die skeppingsproses vir jou?

Toe ek begin sing het, het ek op ’n stadium dié bogsinnetjie kwytgeraak: “Woorde is alles, musiek fokkol.” Die saak is in werklikheid natuurlik nie so eenvoudig nie, en gedigte is uiteraard ook meer as slegs liedjies sonder wysies. Die tipiese liedjie – myne altans – het ’n voorspelbare kedoenks-kedoenks-ritme en eenvoudige paarrym. In poësie is eindrym skaarser en maak mens gebruik van allerhande vorme van binnerym en klankpatrone. Dis ’n ander tegniek. Daarom leen slegs enkele van hierdie gedigte hulleself tot toonsetting, en dan slegs as ’n aardigheid – ek glo nie ek sou sulke toonsettings ooit op ’n musiekalbum gebruik nie. Dit is hoogstens om nou en dan op die verhoog te sing. Dalk as promosie vir die bundel! 

Daar het baie dinge in jou lewe verander sedert die ontstaan van jou heel eerste skryfwerk. Wat was vir jou die mees waterskeidende gebeurtenisse, as jy ’n paar kan uitsonder, en hoe het dit in jou skryfwerk neerslag gevind? Ook: as wat? (Rubrieke, gedigte, liedjies, romans?)

Ek is minder kwaad as toe ek ’n jong skrywer was. Ek is hopelik ook ’n bietjie minder selfbehep. Daar was ’n tyd toe feitlik al my publikasies outobiografies van aard was – sommige mense het dit selfs gesê van The secret diary of God! Een rede vir hierdie getorring met die self was die eenvoudige feit dat ek baie lank geworstel het met ’n swaar vrag persoonlike bagasie en pyn wat ek opgegaar het sedert my ontsettend traumatiese kinderjare. Vir my het Vandag wil ek my blou skoene dra gevoel soos ’n bevryding van daardie ou klomp pyn. Dit was soos om jou ore oop te gaap as jy afkom van ’n bergpas.  Dis ’n dun bundeltjie, met redelik eenvoudige en toeganklike verse, maar dit spreek vir my van ’n soort verligting, ’n nuwe loslit en vryer omgang met die lewe. Ek voel asof hierdie groter "losheid" ook begin deurslag vind in my ander werk, selfs my rubrieke. Dis hoog tyd!

Skryf jy oor mense naby aan jou, en indien wel, hoe en oor wie?

In hierdie bundel is daar gedigte wat ek geskryf het oor my vrou, oor vriende, en selfs oor my gunstelingskoene: ’n aaklige paar blou Crocs wat seker die lekkerste en gemaklikste skoene is wat ek nog ooit besit het. Daar is ook ’n gedig oor Samsung-fone – dalk sien hulle dit raak en bied my ’n borgskap aan!

Ek het ook die onderhoud op Versindaba gelees, waar René Bohnen met jou gesels het. Hoe persoonlik of hoe verwyderd is hierdie bundel van jou, as mens, sonder ’n skuilnaam?

Ek kan een naam hê of baie, dit verander nie aan wie ek essensieel is nie. Ek het nou ’n sterker gevoel van wie ek eintlik is. Ook wie ek is wanneer ek nie op die verhoog is of besig met ’n onderhoud nie. Dis ongelooflik dat dit my so lank geneem het om by hierdie punt uit te kom! Daar is mense wat van geboorte af hulleself is en nooit deur so ’n lang soektog hoef te gaan nie. Sulkes is so fokken lucky ...   

Raak jy gefrustreerd as jy nie skryf nie? Anders gestel: Is jy altyd besig om aan iets te werk, op een of ander manier?

Om eerlik te wees, ek is op my gelukkigste wanneer ek writer’s block het, dws wanneer ek nie skryf nie. Dan kan ek al my aandag gee aan my gesin, my vriende en my troeteldiere (sien foto’s). Maar so elke nou en dan gryp ’n idee my … hetsy vir ’n gedig, ’n liedjie, ’n storie, ’n rubriek of selfs net ’n prentjie. Dan sonder ek myself af tot dit klaar is. Op ’n manier is dit ook lekker. Ander ouens kyk krieket of vang vis. Ek foeter met woorde. Dis nou maar my ding. 

 

Nog een van jou kunsgedaantes is die shows waarby jy betrokke is, soos nou weer by die Suidoosterfees (saam met Stef Bos – Stef en Koos: Suidoos). Waarna kan mense hier uitsien? Waaroor gaan jy en Stef praat en sing? 

Ek en Stef is min of meer in dieselfde fases van ons lewens; ons is albei gelukkig getroud, het gesinne begin, en is besig met ’n proses van afskaal en vereenvoudig. Dit beteken nie ons stagneer nie; hierdie show gaan heelwat anders wees as ons vorige collaborations. Dit gaan uit die aard van die saak ook baie fokus op die Kaap, want ons is albei Kapenaars – ek is hier gebore en hy het hom hier gevestig vanuit Nederland. Dit gaan dalk meer ’n gemaklike tweegesprek wees as ’n show, met omtrent ewe veel insette deur elkeen.

Van Kaapstad en die Suidoosterfees gepraat, hoe voel jy oor die toekoms hier? Of hoe voel jy oor vandag?

Ek is baie positief oor Suid-Afrika op die oomblik, baie meer as selfs nog ’n jaar gelede. Ek dink mense wroeg te veel. Ons is nog ’n jong land, ons nasiebewussyn is pas besig om te ontluik, en hoewel ons nog broos voel na die verskriklike lyding van apartheid en die geweld en korrupsie van die eerste dekade van hierdie eeu, is dit asof daar nou eindelik hoop is, die begin van ’n proses van selfontdekking, ’n ontdek van mekaar. Ek hoop regtig die ergste kak is nou verby, want die hemel weet, ons het genoeg kak gehad.

Is daar enigiets anders wat vir jou interessant lyk op die Suidoosterfees se program?

O, daar is so baie, dis onmoontlik om te kies … Katlego Maboe, Jack Parow, soveel musikante, soveel temas wat ontgin word in teater, tot Ingrid Jonker en Adam Small – te min tyd om alles te sien! En dan moet ons nog rehearse ook!

Dalk kan jy ten slotte een van die gedigte uit jou nuwe bundel met ons lesers deel? Of, dalk een wat nie die bundel gehaal het nie?

Hier is enetjie wat nie die paal gehaal het as “hidden track” op my laaste album nie omdat dit ’n rapsie te sentimenteel was. Ek het dit later oorweeg vir die bundel, maar die rym is baie voorspelbaar. Dis ’n swak werk, ek weet, maar fok, dit het uit my hart gekom! Kyk daarna soos na ’n poskaart met ’n kitsch foto'tjie op:

Verjaarsdagliedjie
(geskryf op my 60ste)

ek sien die sonskyn deur die ruit
ek hoor die koffiekan wat fluit
ek weet nou hoe my siel kan rus
ek weet nou wie ek is

ek voel die laaste nagkombers
my toevou soos ’n liefdesvers
my trane het nou opgedroog
daar’s ’n glinster in my oog

ek kan nie meer die pyn onthou
die nagmerries is weg en nou
wil ek die universe bedank
en die voëltjies op die vensterbank

my littekens is lank vergeet
ek wil nie meer van woede weet
ek is weg uit daardie wildernis
ek weet nou wie ek is.

Ns. As iemand die bundel wil koop en te lui is om na die boekwinkel te ry, SMS slegs die woord “blou” na 41199 en kyk wat gebeur! Dankie vir die belangstelling!

The post <i>Vandag wil ek my blou skoene dra</i>: ’n onderhoud met Koos Kombuis appeared first on LitNet.

Groot Romanwedstryd 2018: Ingrid Winterbach

$
0
0

Foto: Naomi Bruwer

Ingrid Winterbach het pas die eerste prys in die Groot Romanwedstryd 2018 verower. Sy gesels met Naomi Meyer oor haar wenverhaal.

Ingrid, baie geluk met die groot toekenning! Vertel my iets van “Die troebel tyd”, asseblief. Van jou karakters, waar hulle hul bevind, of van die storie se plot.

Magrieta Prinsloo, ’n dierkundige, se kop haak uit op die verkeerde antidepressant. Sy bedank haar werk by die universiteit en aanvaar ’n betrekking by die Buro vir Voortgesette Onderwys. Sy moet met mense (“agente”) hier en elders in die Wes- en Oos-Kaap skakel. Op ’n dag verdwyn Markus Potsdam, haar baas. Haar Buro-opdragte bring Magrieta in aanraking met onder meer ’n sg meganiese eend, ’n uitgespoelde walvis, en ’n vrou wat vir haarself ’n tent in die wingerd opgeslaan het.

Die absurditeit van die alledaagse is iets wat die beoordelaars in jou teks beklemtoon. Is die lewe iets waaroor jy lag, waaroor jy huil, of watter ander skakerings wil jy uitlig?

Ek vind dat daar altyd genoeg is om oor te lag, maar ook om oor te huil, en genoeg waaroor mens net in stomme verbystering kan staan. Trouens, niks wat ek kan uitdink, kan meeding met sommige van die absurditeite van die Suid-Afrikaanse lewe nie.

'n Paar maande gelede was jou grafiese kuns op uitstalling, 'n paar weke gelede 'n teaterteks wat jy geskryf het te siene by die Woordfees (en nou weer, by die KKNK). Wanneer het die roman gebeur? En hoe kruisbestuif al jou verskillende kunstalente mekaar?

Daar was miskien ’n mate van kruisbestuiwing tussen die roman-in-wording en sommige van die tekeninge wat ek in 2016 gemaak het – maar niks regtig noemenswaardigs nie. Die idee wat uiteindelik tot die Freaks-dramateks gelei het, het al in die laat ’90’s ontstaan, en daaruit voortspruitend het ek ’n reeks tekeninge gemaak, gebaseer op ’n voorstelling van Saartjie Baartman. Hierdie “portret” van Saartjie duik trouens nou nog in my tekeninge op.

NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2018: Wenners aangekondig

Groot Romanwedstryd 2018: Jaco Fouché

Groot Romanwedstryd 2018: Debbie Loots

Groot Romanwedstryd 2018: Gerhard Greyvensteyn

The post Groot Romanwedstryd 2018: Ingrid Winterbach appeared first on LitNet.

Groot Romanwedstryd 2018: Gerhard Greyvensteyn

$
0
0

Gerhard Greyvensteyn het pas die debuutprys ontvang in die Groot Romanwedstryd 2018. Hy gesels met Naomi Meyer oor sy wenverhaal.

Vertel my van “Die Seepunt-insident”, asseblief. Van jou karakters, van die storie se plot en van jou inspirasie. 

Dis ’n misdaadroman, niks ambisieus nie, veronderstel om lekkerlees-ontvlugting te wees. Daar is ’n ongeluk wat dalk ’n moord was. Daar is ’n speurder. Daar is ’n klompie verdagtes. 

My inspirasie is The Famous Five van Enid Blyton, Agatha Christie, Robert B Parker en John D MacDonald.

Jou verhaal speel af in verskillende dele van die wêreld, onder andere in die Ooste, verklap die beoordelaars se verslag. Hoe beïnvloed waar jy bly jou verhaal? Wil jy iets van jou alledaagse lewe vertel?

Die storie speel meestal in Kaapstad af. Van die karakters kom van elders, of reis oorsee. Dis om die storie bietjie interessanter te maak!

En hoe beïnvloed jou werk, jou skoolhou en daaglikse arbeid, jou skryfwerk? Wat lees jy daar waar jy bly, en skryf jy ook reeds aan iets anders?

Ek is die afgelope vier jaar ’n Engels-onderwyser in Sjanghai. Ek gee klas vir volwassenes. Ek werk lekker hier en ontmoet interessante mense. Elkeen het ’n storie. Dit inspireer my. 

Ek lees deesdae heelwat wetenskapfiksie en fantasie. Probeer ook tred hou met nuwe internasionale treffers. 

[Vir ’n kykie agter die skerm en nog foto's van my lewe in Sjina, kyk gerus na my Instagram gerhard_official.]

Lees ook:

NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2018: Wenners aangekondig

Groot Romanwedstryd 2018: Debbie Loots

Groot Romanwedstryd 2018: Ingrid Winterbach

Groot Romanwedstryd 2018: Jaco Fouché

The post Groot Romanwedstryd 2018: Gerhard Greyvensteyn appeared first on LitNet.

Video: Vandag wil ek my blou skoene dra word bekendgestel

Maalvleis deur Karen Hart: ’n Onderhoud

$
0
0

Maalvleis
Karen Hart
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798175692

Naomi Meyer vra vir Karin Hart oor haar kookboek, Maalvleis.

Hallo Karen! Daar is baie kookboeke op die mark. Hoekom sal mens 'n hele boek aan maalvleisresepte kan wy?

Ek stem saam met jou. Wanneer dit by kookboeke kom, is ek 'n versamelaar. Elkeen het 'n spesiale plekkie en ek lees hulle soos storieboeke. Ek is self nie 'n voorstander van enkelbestanddeel- of enkeltemakookboeke nie, maar in die geval van hoender, met my eerste boek, Toor met hoender, en toe met maalvleis, het ek nie 'n oomblik getwyfel nie. Dis twee bestanddele waarmee ek baie gereeld werk – dis bekostigbaar en veelsydig. My manier van kook is om laag op laag geur in 'n gereg in te bou – of dit nou 'n sop, bredie, selfs 'n slaai is. En met maalvleis kan jy toor.

Maalvleis is, soos jy sê, 'n veelsydige vleisproduk. Maar bestaan daar genoeg resepte met maalvleis as die sterbestanddeel om 'n hele boek vol te maak? Het jy geweet daar is soveel resepte toe jy met die projek begin het?

Ek hou van uitdagings, maar ek glo nie daarin om 'n ding te forseer nie. Ek het van die begin af geweet dit gaan nie moeilik wees om 'n boek vol te skryf nie. Trouens, ek het al etlike nuwe maalvleisgeregte geskep nadat ek die manuskrip ingehandig het.

Maalvleis is waarskynlik ook gewild omdat mens dit kan rek wanneer mens dit voorberei. Waarmee kan mens dit rek? Noem 'n paar van jou gunstelinge?

Ek eksperimenteer telkens met nuwe kombinasies – koeskoes, kekerertjies, rys, growwebrood, selfs piesangbrood. Maar my gunstelingrekkers bly Mediterreense groente: murgpampoentjie, soetrissies, eiervrug ...

Watter soorte maalvleis kry mens en waarvoor is die verskillende soorte die meeste geskik?

Jy kry jou verskillende beesvleismengsels en 'n mens moet maar noukeurig op die pakkie lees om seker te maak die bestanddele hou by jou eie kosfilosofie van so natuurlik moontlik. Ek skop 'n bietjie vas teen die sogenaamde maalvleismengsels wat sommige supermarkte opdis. Maar volstruismaalvleis werk nogal goed in kombinasie met bees. Die moontlikhede met beesvleissmaalvleis is eindeloos. Suiwer volstruismaalvleis sal ek af en toe in 'n vleiskoekie vir 'n burgercgebruik. Baie mense vind lamsmaalvleis byna te ryk, maar vir my is dit lekker in Mediterreense vleisgeregte soos koftas en moussaka. Maar jy kan dit ewe goed met bees vervang. Ek is mal oor varkmaalvleis in southapppiefrikkadelle. Dan kry jy natuurlik ook vismaalvleis en hoendermaalvleis wat ook hul gebruike het – 'n visbobotie is heerlik en hoenderfrikkadelle is die allerlekkerste padkos.

Wil jy dalk uitbrei oor maalvleis en voorbereidingstyd in 'n era waarin ons almal haastig is om 'n ete vinnig voor te berei?

Ek gesels baie met die vroue wat die kasregisters in supermarkte beman. Hulle staan vroeg op en kom laat by die huis. Hulle werk heeldag en het dan nog 'n gesin om te versorg. Op hul af dae maak hulle huis skoon en was wasgoed. Dis nou die uiterste voorbeelde, maar ook onder my vriende hoor ek heeldag hoe min tyd hulle het. My lewe en werk is kosmaak, maar ook ek moet die horlosie dophou en moes al baie keer 'n hele maaltyd vir 'n tafel vol mense in minder as 'n uur voorberei.

Wat is die mees ongewone resepte wat jy ontdek het?

Dis moeilik om te sê, want wat vir die een mens ongewoon is, is vir 'n ander stapelvoedsel. Ek hou van eksperimenteer met nuwe bestanddele, maar wat my die meeste fassineer, is eenvoud – daarin lê vir my die alchemie van die kospotte. Jy neem 'n bietjie olyfolie, 'n paar mollige knoffeltoontjies, sonryp tamaties en een of twee basiliekruidblare en tower die mees onvergeetlike pastasous op. Maar as ek nou die een gereg moet uitsonder ... Ek het my eenkeer, in my dae as vermaaklikheidsjoernalis, by 'n deftige ete wat een van die groot TV-verspreiders in Los Angeles aangebied het, verwonder aan die groot bak kapokaartappel wat die kelnerin voor my op die tafel kom neerplak het. Gelukkig het ek haar die woord “kreef” hoor prewel. (Ek sou in elk geval weggelê het – kapokaartappel is mý trooskos.) Die gereg was veerligte kapokaartappel, so subtiel gegeur met onder andere lemmetjieskil en die heel stukke ferm kreef binne-in weggesteek. Ek het onmiddellik op die internet gaan soek en uitgevind dis 'n ou resep uit die ou Suide van Amerika. En toe die kreefseisoen aanbreek, het ek dit spesiaal vir die man in my lewe gemaak. Regte liefdeskos.

Wat is ou staatmakers wat jy self gereeld voorberei?

Ek is baie lief vir sop en bredies kook en ek maak graag frikkadelle in verskillende variasies. Ek hou daarvan om ou, ou resepte op te spoor en dit nuwe lewe te gee. Ek hou daarvan om met kruie- en speserymengsels te eksperimenteer en maak my eie mengsels. Ek het in die kaneelwoude van Sri Lanka leer kerrie kook en dis maklik een van my gunstelinge, met 'n kerriepoeier wat ek self aanmaak.

Het jy 'n gunstelingresep in die boek?

Sjoe! Dis moeilik. Maar ek dink die moussaka, veral met die mooi herinneringe wat ek daarmee opgekook het. Dit was die laaste gereg wat ek vir my pa, kort vóór sy onverwagse dood, gemaak het.

En as iemand 'n vegetariër is? Het jy alternatiewe om in plaas van maalvleis te gebruik?

Dis nie 'n vraag wat jy vir 'n meisie wat in die Karoo grootgeword het, moet vra nie. Soja en lensies is seker die mees algemene plaasvervangers. Jy kan seker ook meer groente gebruik en 'n bietjie kaas of eiers bysit om te vergoed vir vleis wat jy weggelaat het. Maar as jy 'n vegetariër is en jy soek resepte in 'n boek soos Maalvleis, het jy nog lank nie van jou vleistande ontslae geraak nie.

Wie sal die meeste baat vind by hierdie boek?

Hierdie boek is, soos Toor met hoender, vir almal. Ek het myself leer kook en ken al die slaggate – as my vullisblik kon praat ... Vir my was die wonderlikste toe iemand wat glad nie kan kook nie, my met trots kom vertel van die resep wat sy uit my boek gemaak en hoeveel selfvertroue dit haar gegee het. As ek net so 'n bietjie van die passie en liefde vir kook kan deel, is ek op my gelukkigste. Die kombuis is my veilige plek - dis ongelooflik terapeuties. En, soos nou, met my kat wat dood is, rou ek oor my kospotte en vind ek troos in krui en spesery.

The post <em>Maalvleis</em> deur Karen Hart: ’n Onderhoud appeared first on LitNet.

Bloed/Blut: ’n onderhoud met Coreen Erasmus-Bezuidenhout

$
0
0

Bloed/Blut
Coreen Erasmus-Bezuidenhout

Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928426059

Van advokaat na romanskrywer! Interessant. Is dit iets wat jy nog altyd wou doen? Vertel meer?

Advokaat-wees het my in ’n groot mate toegerus met mensekennis asook kennis van menslike intriges! Ek was van kleintyd af lief om stories en opstelle te skryf. My pa, ’n regter, was ’n bobaasskrywer en storieverteller en ek glo dat ek my liefde vir storievertel by hom geërf het. Advokaat-wees het ’n groot deel van my lewe in beslag geneem, sodat ek nou eers werklik die tyd en geleentheid ontdek het om my eie storie te vertel.


Hoe het die idee ontstaan vir hierdie roman en hoe lank het jy daaraan geskryf?

My belangstelling in en kennis van die reg asook sekere wette en my belangstelling in die Joodse volk, asook my navorsing ivm die lewensomstandighede van die Jode voor 1939, het alles daartoe bygedra om ’n storie te kan skryf.

Ek het ongeveer twee jaar aan die verhaal geskryf. Daar was baie invloede! Duits was my geliefkoosde vak op skool. Ek het graag na televisiereekse soos die bekende World at war gekyk en Joodse buurkindertjies was my kleintydmaatjies. Dikwels het ek my vergaap aan hulle interessante godsdienstige gebruike en toewyding. Beide my ouers het in 1936 die Olimpiese Spele in Berlyn bygewoon en ek het aan hul lippe gehang wanneer hulle vertel het hoe naby hulle aan Hitler op die pawiljoen gesit het, en die tekens wat hulle reeds daar van die onderdrukking van die Jode gesien het.

Ek het Israel reeds sewe keer besoek. Vertellinge van Jode met my besoeke daar het my gefassineer en my onder die indruk gebring van die feit dat onderdrukking van een groep deur ’n ander groep nog steeds in ons tyd en dae plaasvind. Ek het begin lees en navorsing doen oor die geskiedenis van die Jode.

Bloed/Blut speel af in Duitsland. Volgens die resensent JB Roux is jou navorsing bo verdenking. Vertel ons daarvan?

Ek het wyd en syd betroubare bronne bestudeer oor die agtergrond, geskiedenis en gebruike van die Joodse sowel as die Duitse volke. Verder het ek dikwels Europa asook die Midde-Ooste en Amerika besoek. Jerusalem veral lê my na aan die hart. Plekke soos Yad Vashem (die Holocaust-museum in Jerusalem), die konsentrasiekampe in Duitsland soos Dachau, die berugte doodskamp in Pole, naamlik Auschwitz, en Praag se konsentrasiekamp, Theresienstadt, is maar ’n paar plekke wat ek kan uitsonder. Ek het ook gereeld op versoek van Lééf-tydskrif die Suid-Afrikaanse toeriste toegespreek oor die Holocaust in Jerusalem terwyl ons toere daar onderneem het. Die bronnelys aan die einde van my boek is weliswaar nog nie volledig nie en ek lees talle nuwe boeke wat steeds oor hierdie geskiedenis verskyn.

Dit het my gebring by die liefdesverhaal van Rut en Helmut – ironies, ’n Jodin en ’n Duitser – moontlik met die idee in my agterkop om deur ’n eenvoudige verhaal van verbode liefde die idee van vergifnis en versoening oor te dra.

Het jy enige bande met Duitsers of Jode uit die Tweede Wêreldoorlog?

Nee, ongelukkig het ek nog geen direkte oorlewendes uit die Tweede Wêreldoorlog ontmoet nie, maar wel naasbestaandes van vermoorde Jode en kinders van Duitsers wat na hul ouers se vertellinge oor die oorlog geluister het en belangrike feite aan my meegedeel het.

Aan watter kant het jou sentimente gelê met die skryf hiervan? Karakters het mos ’n wil van hulle eie?

My sentiment spreek duidelik uit die verhaal van Rut en haar familie. Ek het ’n “sagte plek” vir die Joodse volk – respek, jammerte, deernis ... Ek het ’n droom: dat ons nooit ons oë sal sluit vir enige wreedhede wat teenoor enige nasie gepleeg word nie.

Is hierdie die begin van ’n skryfloopbaan? Is jy reeds besig met ’n volgende storie?

Ja, ek sou graag meer wou skryf. Ek het soveel inligting en inspirasie uit my navorsing geput dat ek stof vir ’n volgende boek (en dalk nog ’n volgende) versamel het. Ek is dus tans besig aan ’n opvolg van Rut se verhaal.

Wat sou jy nog graag wou beantwoord wat ek nie gevra het nie? Voeg asseblief die antwoord by!

Daar is baie, baie min geskryf in Afrikaans (indien enigiets) oor die lot van gay persone en hul vervolging gedurende die Holocaust deur die gevreesde Gestapo. Ek wou vir die leser ook hiervan in my boek vertel.

  • Foto van Coreen Erasmus-Bezuidenhout: Facebook

The post <i>Bloed/Blut</i>: ’n onderhoud met Coreen Erasmus-Bezuidenhout appeared first on LitNet.

Video: openbare domein word bekendgestel


Video: Launch of The land is ours by Tembeka Ngcukaitobi

$
0
0

Tembeka Ngcukaitobi's historical book The land is ours: South Africa's first black lawyers and the birth of constitutionalism was launched at Protea Bookshop Stellenbosch on 19 April 2018. Ngcukaitobi was interviewed by Hermann Giliomee and Albert Grundlingh.

 

The land is ours: South Africa's first black lawyers and the birth of constitutionalism

 
The land is ours tells the story of South Africa’s first black lawyers, who operated in the late nineteenth and early twentieth centuries. In an age of aggressive colonial expansion, land dispossession and forced labour, these men believed in a constitutional system that respected individual rights and freedoms, and they used the law as an instrument against injustice.
 
The book follows the lives, ideas and careers of Henry Sylvester Williams, Alfred Mangena, Richard Msimang, Pixley ka Isaka Seme, Ngcubu Poswayo and George Montsioa, who were all members of the ANC. It analyses the legal cases they took on, explores how they reconciled the law with the political upheavals of the day, and considers how they sustained their fidelity to the law when legal victories were undermined by politics.
 
The land is ours shows that these lawyers developed the concept of a Bill of Rights, which is now an international norm. The book is particularly relevant in light of current calls to scrap the Constitution and its protections of individual rights: it clearly demonstrates that, from the beginning, the struggle for freedom was based on the idea of the rule of law.
 
ISBN: 9781776092857
Format: Paperback
Recommended price: R280.00
 
 

The post Video: Launch of <i>The land is ours</i> by Tembeka Ngcukaitobi appeared first on LitNet.

Video en foto's: Bekendstelling van Ingrid Jonker – ’n biografie deur Petrovna Metelerkamp

$
0
0

Petrovna Metelerkamp se omvattende biografie van Ingrid Jonker is by die Suidoosterfees bekendgestel. Suzette Kotzé-Myburgh het met haar gesels oor die nuwe onthullings wat in die boek na vore kom.

Petrovna Metelerkamp en Suzette Kotzé-Myburgh

Petrovna Metelerkamp

Ingrid se dogter, Simone, het vir Petrovna bedank vir die werk wat sy gedoen het.

 

Ingrid Jonker – ’n biografie

Uitgewer: Penguin

Oor die boek op www.penguinrandomhouse.co.za:

Ingrid Jonker, begaafde jong digter, loop op 19 Julie 1965 die see in by Drieankerbaai en verdrink. Sy laat haar familie en vriende agter met meer vrae as antwoorde. Gedurende die afgelope 50 jaar het sy ’n ikoon van die Afrikaanse en Suid- Afrikaanse letterkunde geword. In so ’n mate, dat haar lewe en veral haar dood soms haar werk en die belangrike bydrae wat sy tot die literêre beweging van die Sestigers gemaak het, oorskadu.

 
Haar politieke sieninge, soos uitgedruk in haar poësie en haar passie en die droefheid van haar onstuimige liefdesverhoudings met onder andere Jack Cope en André P Brink het al tot baie besprekings gelei. Sy het weer onder die publieke oog gekom toe oudpresident Nelson Mandela in sy inhuldigingsrede in 1994 in die Parlement een van haar gedigte aangehaal het. Hy het haar gedig: “Die kind” voorgelees en gesê: “Sy was beide ’n digter en ’n Suid-Afrikaner.” Sedert haar dood is daar vele bespiegelings oor haar lewe en tragiese einde. Van dié vrae word beantwoord in hierdie eerste omvattende biografie. Petrovna Metelerkamp doen al jare navorsing oor Jonker. Sy neem die leser saam deur Ingrid se grootwordjare, digterslewe, liefdesverhoudings en die laaste paar jaar van haar lewe.
 
Metelerkamp bring nuwe inligting aan die lig wat sy neem uit onbekende nuwe briewe en dagboekinskrywings, onder meer uit die dagboeke van Jack Cope. Talle nuwe onderhoude met mense wat Jonker geken het, word in die biografie opgeneem. Sy weerlê ook die beeld van Jonker as ’n ongebalanseerde kunstenaar wat haar houvas op die werklikheid verloor het in hierdie toeganklike biografie oor een van Suid-Afrika se aangrypendste kunstenaars.

The post Video en foto's: Bekendstelling van <i>Ingrid Jonker – ’n biografie</i> deur Petrovna Metelerkamp appeared first on LitNet.

Keur 3 deur Helene de Kock: ’n skrywersonderhoud

$
0
0

Keur 3
Helene de Kock
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798177504

Helene de Kock gesels met Naomi Meyer oor haar skryfwerk en ook oor die heruitgawe van Helene de Kock, Keur 3.

Helene, ek het 'n versameling van jou verhale hier op my lessenaar: Keur 3. Hierdie bundel bestaan uit verhale van jou wat herdruk is en bevat stories van jou wat in die vroeë negentigerjare geskryf is: Vuurvliegie, Sewende somer en Windspoor. Kan jy elkeen van hulle nog onthou, al het daar so baie tyd verloop sedert die skryf daarvan? Of enige van die karakters?

Ja, Naomi, ek kan hulle baie goed onthou. Die karakter van Alfons in Vuurvliegie en ook Zach in Sewende somer onthou ek by name goed. Moontlik omdat hulle albei geheimsinnige karakters is. En ek onthou die verhale helder.

Wat was die inspirasie vir die skryf van elkeen van die verhale, of die snellers daarvan? Kan jy nog enigiets hiervan herroep?

Naomi, ek onthou dit baie goed. Ek weet byvoorbeeld dat ek Windspoor geskryf het toe ons nog op Bethlehem gewoon het. Die inspirasie vir die roman was die jaarlikse lugballonvaart wat daar plaasvind. Die roman is, soos die ander twee romans in Keur 3, so ’n mengsel van ’n spanningsverhaal en ’n liefdesverhaal. Daardie jare (1989–1990) was daar nie so ’n streng skeiding tussen genres nie en spanningsverhale het op sigself amper nie bestaan nie. Vuurvliegie is eweneens ’n spanningsverhaal met ’n sterk liefdeselement en het sy beslag gekry tydens ’n vakansie op Nature’s Valley toe ons in ’n strandhuis tuisgegaan het waar mense vroeër soms vir die veiligheidspolisie weggekruip het. Sewende somer is ’n moordstorie – ook met ’n liefdesverhaal verweef. Die sneller daarvoor was ’n ou herehuis op ’n verlate Vrystaatse dorpie. Dit was om die een of ander rede die impetus van dié verhaal.

Die negentigerjare voel glad nie so lank gelede nie, maar tog het sekere praktiese dinge sedertdien in die samelewing verander: selfone en die internet byvoorbeeld. Hoe dink jy het dit jou verhaalgegewens beïnvloed, indien enigsins?

Alhoewel ek ook eietydse romans skryf, soos Kruispad vir Kara wat Junie by CUM verskyn waarin hedendaagse tegnologie natuurlik ’n rol speel, reken ek verhale wat in vorige dekades geskryf is, moet net so bly. Lesers behoort ook bewus te raak van ander tye, ander vorme van tydgees en werklikheidsbeeld. Dis altyd verrykend om kennis te neem van sogenaamde ander tye. Lesers behoort dan te sien dat universele, basiese dinge nie werklik verander nie, maar dat sieninge wel mense se optredes kan swaai. Daarom het ek die verhale wat nou vir die derde maal verskyn, net so gelos.

Om my argument te staaf: my generasie het byvoorbeeld drie vorme van tydgees of werklikheidsbeeld beleef: die moderne, die postmoderne en nou die neiging na die post-postmoderne. Moontlik is ons (dié wat nie verstar het nie) die generasie wat vorme van werklikheidsbeeld die beste verstaan, omdat ons dit beleef en beleef het. Daarom vind ek dit goed dat lesers soms insae kry in hoe dinge wás.

Wat beskou jy as die uitdagings van die skryf van 'n liefdesverhaal? En wat is vir jou lekker daarvan?

Ek skryf eintlik verhoudingsverhale omdat dit my standpunt is dat mense nie in ’n vakuum liefkry nie. Daar is altyd ander verhoudings met ouers, familie en vriende betrokke. En dit is juis die uitdaging: om die liefde te integreer in die alledaagse lewe en die eise wat dit stel.

Daarby het ek steeds die geneigdheid om ’n stywe spanningslyn te probeer behou. My laaste twee romans vir Human & Rousseau byvoorbeeld is historiese romans met ’n sterk spanningslyn. Debora en seuns en Debora gaan huis toe is ’n tweeluik wat handel oor die veertigerjare van die vorige eeu en ook die sestigerjare. Wat ek toe in ag moes neem, is dat die Afrikaans van toe heel anders geklink het as die Afrikaans wat vandag gebesig word. Ook die sestigerjare se taalgebruik verskil natuurlik heelwat van die huidige neiging om Engfrikaans te besig. Dit was nie te moeilik nie, aangesien ek ’n student was tydens die sestigerjare en ek baie goed onthou hoe Afrikaans toe geklink het.

Vertel my asseblief van skryfprojekte waarmee jy nou besig is?

Ek werk aan ’n historiese roman wat tydens die Tweede Wêreldoorlog afspeel. Ek doen natuurlik navorsing en sorg dat feite korrek weergegee word, maar moet ligloop vir te veel inligting wat lesers paragrawe sal laat oorslaan. Die inligting moet geheel en al geïntegreer wees met die res van die teks. Die leser behoort eers agterna te besef dat hy of sy iets daaruit geleer het. Dis wat ek hoop sal gebeur.

The post <em>Keur 3</em> deur Helene de Kock: ’n skrywersonderhoud appeared first on LitNet.

Chanette Paul oor Uit die bloute en reise deur haar skrywersloopbaan

$
0
0

Uit die bloute
Chanette Paul
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799388947

Chanette Paul se 44ste boek, Uit die bloute, het pas verskyn. Die 44 sluit nie vertalings, omnibusse en duette in nie. Sy het ook al talle pryse gewen met haar uiteenlopende genres en voer ’n openhartige skrywersgesprek met Org Potgieter.

Jy het nege skole bygewoon, al in sewe provinsies gewoon en aan vyf universiteite gestudeer. Daar moet goeie rede wees wat nie wanderlust insluit nie?

My pa was die een met die swerflus en het altyd geglo die gras is groener aan die ander kant van die draad. Soms was dit, merendeels nie. Teen die tyd dat ek 16 was, het my ouers al 35 keer verhuis.

Hoewel dit vir my as kind baie ontwrigtend was, is ek nou nie spyt daaroor nie. Dit het my blootgestel aan ’n wye verskeidenheid ervarings. Ons het nie net op verskillende plekke gebly nie, maar ook in verskillende soorte behuising. Ons het onder andere in ’n woonwa gebly, asook in ’n residensiële hotel, in ’n omskepte stal (waar die een helfte bewoon is deur spiritiste), ’n rondawel met ’n kleinhuisie buite, in woonstelle, meenthuise en af en toe selfs in ’n huis. Ek is blootgestel aan stadslewe, plaaslewe, maplotterlewe, dorpslewe en een keer half per ongeluk aan wat bevoorregte mense seker ’n white trash-lewe sou kon noem.

In ’n huwelik van 22 jaar het dit nie veel beter gegaan wat die trekkery betref nie. My eerste huweliksjaar het ek deurgebring in ’n woonwa in die Venda-gebied – ’n klipgooi van die Limpopo en 80 km van die naaste foon af. Daarna het ons ook dikwels verhuis. Gedurende dié tyd is ek nou weer bootgestel aan die welvarende sy van die lewe.

Hierdie ervarings het my geleer dat nie net mense en hulle lewensbeskouings nie, maar ook atmosfeer van plek tot plek verskil. Ek dink dis seker waarom fisieke en kognitiewe ruimte altyd ’n belangrike rol in my boeke speel.

Dis net altyd vir my moeilik om te antwoord op die vraag: Waar kom jy oorspronklik vandaan? Ek het geen sinvolle antwoord daarop nie. Ek het nie ’n vandaan nie.

Het jy in jou “skewe huisie” op die oewer van die Kleinerivier in die Overberg nou uiteindelik rus gekry waar jy in volslae afsondering skryf?

Aanvanklik was dit vir my hemels om vir die eerste keer in my lewe net op een plek te bly in ’n huis wat ek my eie kan noem. Dit was wonderlik om in beheer te wees van waar ek bly en mense behoorlik te leer ken. Hier ná sewe jaar het ek egter onrustig geword. Bietjie soos Vianne van Chocolat-faam.

Die oplossing was om ’n erf op ’n bankrotveiling te koop naby die suidste punt van Afrika en later vir my ’n skryfplekkie daar te bou. Tans pendel ek tussen die twee plekke. In my skryfplekkie skryf ek waarlik in volslae afsondering; in Stanford is ek min of meer deel van die dorp, al word ek as ietwat van ’n kluisenaar beskou. Gelukkig is Blom, die man in my lewe, baie meer sosiaal as ek en trek my gereeld uit my dop uit.

Jy het al talle genres met sukses aangedurf. Hoe ontstaan jou idees vir ’n boek?

Elkeen is anders, maar meesal is daar eers die karakters, dan ’n prikkel en daarna ’n ruimte. Maar ander kere is die volgorde omgekeerd. Of dit gebeur heel anders.

Uit die bloute byvoorbeeld. Nadat ek Paaiboelie geskryf het, het ek geweet ek en Jojo Richter het nog ’n pad om te stap. Ons was albei vies vir die regter wat in Paaiboelie oneties opgetree het. Toe besluit ons om hom te vermoor. Ek het ook gewonder wat regtig van Irene Richter se suster Diana geword het. En kort vantevore het ek weer iets oor Elizabeth Klarer raakgelees – die vrou wat in die vyftigs beweer het sy het ’n buiteruimtelike geliefde en het ’n seun by dié.

Ek het gaan wyer oplees oor VVV's – iets wat al baie lankal my belangstelling prikkel – en was verras oor hoeveel voorvalle in Suider-Afrika opgeteken is.

Dit was die pit van die storie en hieruit het die boom gegroei.

En hoe skryf jy hom dan? Met rusposes of in een lang bevlieging wat weke of maande duur?

As organiese skrywer beplan ek nie veel voor ek begin skryf nie. Eers as ek die karakters beter leer ken, beplan ek entjies vooruit – terwyl ek skryf en veral saans as ek bestek opneem van wat ek die dag uitgerig het. En selfs dié soort lukrake beplanning werk meesal nie baie goed nie. Dit gebeur dikwels dat ’n karakter uit die bloute my storie te bowe val of dat een wat ek gedink het ’n goody is, toe eintlik ’n baddy in skaapsklere is.

Ek wens ek kon ’n manuskrip net in een bevlieging skryf, maar dis prakties onmoontlik. My boeke is dik en die storielyne verweef, en die lewe is geneig om mens se planne te onderbreek. Ek doen ook manuskripontwikkeling vir my uitgewers – deesdae darem net so 1–2 manuskripte per maand. Dit onderbreek uiteraard my eie skryfsiklus. Soms is dit frustrerend, maar dis gewoonlik ’n goeie ding. As ek daarna weer my storie vat, kyk ek met ’n varser oog daarna.

Die manuskripontwikkeling doen ek wanneer ek in Stanford is. My skryfplekkie hou ek net vir my eie skryfwerk. Daar konsentreer ek net op my eie storie. Dis so half en half my kapsule waaruit ek een keer ’n maand kom om weer die lewe en werklikheid in die oë te kyk. Ek bly gewoonlik so tussen twee en drie weke op ’n slag daar en so ’n week tot twee weke op ’n slag in Stanford, afhangende van my keerdatums, bekendstellings en dies meer.

Chanette Paul (Foto: verskaf)

Jou genres strek omtrent oor die hele spektrum: liefdesverhale, rillers, speurverhale, met temas van heldersiendheid en psigiese en psigotiese karakters en die bonatuurlike, soos dooie mense wat verskyn. Jou verwysingsveld moet dus baie wyd wees?

Elke boek wat ek geskryf het, in welke genre ook al, het gehelp om my as skrywer te vorm – my inderwaarheid leer skryf. Die romanses net soveel as die ernstiger verhale, net op ander maniere.

Daar is geweldig baie dinge in die lewe wat my boei en ek lees nog veel wyer as wat ek skryf. Ek is weetgierig en nuuskierig van nature. Enige misterie gryp my aan. Ek wil dinge verstaan. Of ten minste probeer.

My gunstelinggenre as leser is spanningsfiksie in enige gedaante. Die redes waarom een mens ’n ander wil doodmaak, die punt waartoe hulle gedryf word tot hulle dit uiteindelik doen, fassineer my. Ook hoe hulle uiteindelik die moord pleeg en wat die gevolge is – nie net vir die moordenaar nie, maar veral vir ander mense wat deur die moord geraak word.

Maar die maniere waarop mense liefkry, hoe liefde ontspring, al kwyn dit dikwels weer, is ook vir my ’n baie groot deel van die lewe se geheimenisse. Daarom hou ek as skrywer daarvan om spanning en liefde in dieselfde stoompot te gooi, dit met ander onverstaanbaarhede en verborgenhede te geur, en te sien wat daar uitkom.

Ek glo in uitdagings. Ek voel ’n mens moet jou grense voortdurend ondersoek. Grense is daar om oorgesteek te word as jy ’n paspoort kan kry – en soms selfs sonder een. ’n Limiet is tydelik en deursigtig, hoogstens ’n dun membraan. Gelukkig is ek in goeie geselskap, daar is nou wêreldwyd ’n sterk neiging na “genre bending”. Dit pas my uitstekend.

Hoe voel jy oor die gebruik van toeval? Toeval is deel van die lewe. Dis dikwels ’n nuttige toevlug vir die skrywers van spanningsverhale, maar dit moet darem ook in fiksie oortuigend wees. In een van die resensies oor Offerlam – en daar was baie gloeiendes – word jy uitgetrap oor die rol wat toeval in die boek speel.

In die lewe gebeur daar dinge wat mens kan toeskryf aan toeval of sinchronisiteit of noodlot of waaraan mens ook al wil. Daar gebeur goed wat ons nie lekker kan verklaar nie of nie weet hoe de hel dit moontlik is nie. In fiksie is toeval ’n no-no. In fiksie moet alles gemotiveer wees en is die gebruik van toeval om iets te laat gebeur of te verklaar of ’n wending aan die verhaal te gee, veral om ’n oplossing te bied, lui dinkwerk. Hieroor voel ek baie sterk, en daarom is dit ironies dat ek daaroor uitgetrap is.

Die betrokke resensent se een punt van kritiek in hierdie opsig was dat dit te toevallig is dat Caz en Luc by dieselfde straatkafee beland. Hoewel die kritiek geldig sou wees as dit elders plaasgevind het, is Damme ’n piepklein dorpie en alle straatkafees is nie altyd op dieselfde tydstip oop nie. Die meeste van hulle is ook in een straat. Toe ek die eerste keer daar was, was net die een straatkafee met onderdak oop. Ek het dit gebruik as Caz en Luc se ontmoetingsplek. Hoewel mens seker ’n mate van toeval daaraan kan toedig, is dit baie moontlik dat dit kon gebeur het soos ek dit beskryf het. Waar ek die fout gemaak het, is om nie aan die leser te laat blyk hoe moontlik dit eintlik is nie. Die resensent is dus wel reg in haar kritiek, maar slegs omdat dit nie uit die teks geblyk het dat dit nie blote toeval is nie, maar die gevolg van die spesifieke ruimte waar die toneel afspeel.

Ook op die ander twee gevalle wat vir die resensent te toevallig was, kan ek antwoorde gee, maar dis nie hier van belang nie. Dis egter hierdie soort kritiek wat vir my baie waardevol is en waaruit ek leer.

Die einste Offerlam speel af in België, Europa, Noord-Afrika, Sentraal-Afrika. Dit moes heelwat navorsing geverg het. Maak jy baie van navorsing gebruik?

Ek dink soms ek bestee meer tyd aan navorsing as aan die skryf van die manuskrip. Navorsing is vir my ontsettend belangrik vir my boeke, maar ek geniet dit ook geweldig. Dis baie lekkerder en makliker as skryf!

Vir die Offer-tweeluik het ek nog meer navorsing gedoen as vir enige ander boeke. In Offerlam het ek vir die eerste keer ’n Europese land as ’n groot deel van die agtergrond gebruik. Om daardie land, België, te verstaan, het ek ’n maand lank daar gaan bly en navorsing gedoen, en vir die tweede boek, Offerande, weer twee weke. Ek het oorweeg om DRK toe te gaan, maar is sterk afgeraai en dit sou ook net vir my te duur gewees het.

Vir die huidige DRK het ek staatgemaak op YouTube en het boeke met die DRK, Zaïre en die Belgiese Kongo as agtergrond gelees – fiksie en niefiksie. Ek was ook gelukkig genoeg om met die professor wat die kommissie van ondersoek na Patrice Lumumba se moord gelei het oor die Belgiese Kongo te gesels. En ek het die geleentheid gehad om die toenmalige president van die grootste diamantbeurs in Antwerpen te ontmoet. Hy het my self toegelaat om ongeslypte diamante te bevoel en te bewonder – en natuurlik te begeer – en verduidelik hoe diamante uit die Kongo van ander verskil.

Dié soort in situ-navorsing is egter ’n duur spulletjie, dus plaas ek nou weer merendeels my stories hier te lande.

Omdat my stories nogal verwikkeld is, verg feitlik al my boeke baie navorsing, maar party nog meer as ander. Sommige boeke verg praktiese navorsing en met ander kan ek grotendeels van die internet en skriftelike bronne gebruik maak.

Met Uit die bloute kon ek byvoorbeeld vir my navorsing oor die VVV-gegewe op boeke daaroor en op die internet steun. Wat die handskrifontleding betref, het ek die ontleding van my eie handskrif as basis gebruik – en was verras! – en ook kontak gemaak met ’n grafoloog wat gaaf genoeg was om vir my inligting te gee, onder meer oor sogenaamd lelike handskrif.

’n Resensent het een van jou boeke verdoem nadat hy 100 van die 500 bladsye gelees het. Mense steur hulle hopelik nie aan so ’n resensie nie, maar het jy al iets geleer uit resensies? Jy het laat blyk dat jy hulle wel lees.

Ja, ek lees resensies. Ek moet weet wat van my boeke gesê word – of dit nou negatiewe kritiek is of lof. Uit die negatiewe kritiek leer ek as ek voel dis geldig en gemotiveer. Uit die lof leer ek veel minder, maar dis lekker om dit te lees! Dis ook vir my interessant hoe resensente my boeke interpreteer. Soms sien hulle dinge raak wat geldig is, maar waarvan ek nie eens bewus was nie. En soms sien hulle iets wat ek bedoel het om gesien te word, nie raak nie.

Ongelukkig steur mense hulle wel aan verdoemende resensies. Daar is boeke, vernaamlik van debuutskrywers, wat al gekelder is as gevolg daarvan en daar is ook skrywers wat al ophou skryf het ná so ’n resensie.

Of die betrokke resensent die hele boek gelees het, weet ek nie, maar ek was gelukkig in die opsig dat ek wonderlike, lojale lesers het. Hulle het dadelik ingesien dat daardie sogenaamde resensie ’n persoonlike aanval was eerder as ’n opinie oor die boek.

Ek het nie ’n probleem met kritiek nie en dit ontstel my selde. ’n Skrywer moet ’n dik vel ontwikkel as jy wil aanhou skryf. Jou werk gaan deur baie hande om die beste moontlik teks daar te stel en dit sluit uiteraard kritiek in.

Hierdie resensie het my egter wel ontstel. Veral omdat daar nie behoorlike motivering vir die kritiek gegee is nie en ook omdat die opvolg sommer afgeskiet is voor dit nog klaar geskryf was, laat staan deur die resensent gelees is. Dit was egter nie net die resensie wat my ontstel het nie. Die reaksies op die resensie en die polemiek wat daaruit ontstaan het, het in sommige gevalle bitter baie soos schadenfreude geklink. Dit was vir my eintlik veel erger as die resensie self.

Uit hierdie resensie en uit die reaksie daarop uit sekere geledere het ek geleer dat my stories en boeke ’n saak tussen my en my lesers is. Ek skryf vir húlle, nie vir kritici nie. Ek het ook geleer dat die oorgrote meerderheid van my medeskrywers, veral dié wat ook ontspanningsfiksie skryf, ongelooflik ondersteunend is.

Die meeste ander resensies waar foute uitgewys word met motivering, help my egter om te probeer beter skryf.

Klink my mens raak geheg aan ’n reeks en karakters. Die Sweedse skrywer Henning Mankel sê oor sy speurder, Kurt Wallander, dat hy nie van hom hou nie, maar so verlang het dat hy nog ’n avontuur met hom aangepak het.

Oor jou Davel-reeks oor vroue sê jy die sewe boeke was een van jou lekkerste skryfervarings. En: "Ek het Davels geëet, gedrink, gedroom, ge-alles. En begin huil toe ek Fleur, die laaste in die reeks, na my uitgewer toe gestuur het."

Duidelik raak jy geheg aan sommige karakters – soos ’n skilder aan ’n skildery wat hy dan moet verkoop?

Ek raak baie geheg aan sekere karakters. Ek hoor ook dikwels van my lesers dat ook hulle swaar afskeid neem.

Aan die Daveltjies het ek besonder geheg geraak. Ek het ses van die sewe boeke in die reeks binne ’n jaar geskryf. Die karakters was vir my baie werklik. Maar dit was ook vir my moeilik om afskeid te neem van Gys Niemand ná vyf boeke waarin hy ’n sekondêre, maar belangrike rol gespeel het. En die Calitze van die Maanschijnbaai-tweeluik het ook besonder diep in my hart gekruip. Tans is ek en Jojo Richter in ’n baie hegte verhouding.

Soms is daar selfs newekarakters wat my bybly lank nadat die storie geskryf is. Soos San Badenhorst wat in twee van die Gyse opduik. En ook Rose-Anne Lockwood van Boheem.

Gelukkig gaan my “skildery” nie weg uit die oog soos ’n skilder s’n nie. My karakters leef voort in my kop, al is hulle tyd in my storie of reeks uitgedien. En soms keer daar selfs weer een of twee terug in latere boeke waar hulle ’n klein rol speel. Soos in Uit die bloute, waar Xanthe van Fortuin en Faan Fortuin wat in die hele Gys Niemand-reeks gefigureer het, weer hulle toetrede maak.

Self is ek dol oor reekse met herhalende karakters wat naderhand soos ou bekendes voel. Jou Gys Niemand-reeks het jou seker ook baie genot verskaf?

Ek het nooit gedink ek sou reekse skryf nie. Ek het ook my vorige reekse nooit as reekse beplan nie. My uitgewer het my gevra om ’n opvolg te skryf vir Tamara wat voorheen uitgegee was as Bittersoet wals. Dis waar die Daveltjies hulle ontstaan gehad het, want ek kon nie ophou by een opvolg nie en die reeks bestaan toe uiteindelik uit sewe boeke.

Toe ek Springgety geskryf het, wou ek bloot hê dit moet Lily Reynecke, die kuise tert, se storie wees. Maar moorde is geneig om speurders te lok. En so het Gys Niemand teen my sin die boek binnegedring. Vir Fortuin het hy weer opgedaag vir roll call. Ek het probeer keer. Hom ’n angina-aanval gegee en in die hospitaal gestop, maar Gys het net vasgeklou. Toe ek Boheem begin skryf het, het ek besef Gys wil ook sy en Gertjie se storie vertel hê. Waar ek hom aanvanklik verduur het, het hy later baie diep in my hart gekruip en dit was baie moeilik om van hom afskeid te neem.

Met Jojo Richter het min of meer dieselfde gebeur. Ek het iemand nodig gehad om vir Cara (Siende blind) te help. Jojo was byderhand. Ek het dadelik besef sy het ook ’n storie om te vertel, maar snaaks genoeg was sy sku in die tweede boek waarin sy ’n rol speel (Raaiselspieël). Maar toe ek aan Ewebeeld begin skryf het, het sy pens en pootjies in die storie beland en dit ook haar storie gemaak.

Sy het haar klaarblyklik vreeslik gewip toe ek die Offer-tweeluik daarna geskryf het, want toe ek begin skryf aan Paaiboelie het sy feitlik oorgeneem en in Uit die bloute weer so gemaak. Ek moes net keer of sy het die hoofkarakter geword.

Daarteenoor was die Offer-tweeluik aanvanklik bedoel om ’n drieluik te wees, maar dit het nie so gebeur nie. Die Maanschijnbaai-tweeluik het nou weer ontstaan uit wat veronderstel was om net ’n romanse te wees.

Tans skryf ek aan ’n beplande drieluik. Ons sal maar moet sien of dit so gaan uitwerk.

Jy sê iewers: "Boeke is soos vye en turksvye. Ek skryf vye." En daai vyeboom gaan seker nog baie dragte hê?

My vyeboom dra nog goed. Ek hoop dit sal in die toekoms ook vrugbaar bly en vye-eters voed. Die turksvye laat ek aan ander oor. Elke voël sing mos maar soos hy gebek is.

The post Chanette Paul oor <i>Uit die bloute</i> en reise deur haar skrywersloopbaan appeared first on LitNet.

Die dao van Daan van der Walt – en die dao van Lodewyk G du Plessis

$
0
0

Die dao van Daan van der Walt
Lodewyk G du Plessis
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624082521

Die dao van Daan van der Walt is deur Lodewyk G du Plessis geskryf.  Naomi Meyer probeer by hom uitvind wie hy is.

Hallo Lodewyk. Jy is al gevra waarom jy die boek onder 'n skuilnaam geskryf het. Kan jy dalk, sonder om dan jou naam te verklap, vertel wie jy is?

Hallo Naomi, ek gaan ’n paar van my belangstellings met jou deel wat terselfdertyd ’n bietjie agtergrond gee vir my boek Die Dao van Daan van der Walt. Ek stuur ook vir jou ’n paar foto’s wat jy dalk tussenin kan gebruik as ek te lank praat.

Ek is lief vir reis.

Na my aftrede het ek ’n paar jaar in Asië gewoon. Ek sê meer oor dié tyd in my lewe wanneer ek hierna ander van jou vrae antwoord.

Ek is lief vir lees.

Verlede week het ek Lila deur Marilynne Robinson gelees, die laaste in die trilogie oor die predikant John Ames en sy mense. Die ander twee boeke is Gilead en Home.

Oor die jare versamel ’n mens met lees pêrels wat jy met jou saamdra. In Gilead, wat ek lank gelede gelees het, het Robinson my weer laat besef hoe belangrik die eerste paar sinne en bladsye in ’n roman is. Ek gaan keer op keer terug na die eerste vier bladsye van Gilead om te sien hoe briljant en met groot insig in die karakter van John Ames sy die leser inlei in die geheimenisse van haar roman. Daan was natuurlik beïndruk met die ou predikant wat sy storie vir sy jong seuntjie in ’n lang brief neergepen het.

Onlangs het ek Shusako Endo se The samurai gelees. Soos in sy vroeëre boek, Silence, wat ek gedurende die skryf van Daan se storie gelees het, gaan dit oor sendingwerk in Japan vroeg in die 17de eeu. Die Japannese het alle sending in Japan verbied omdat die Christelike boodskap in stryd was met hulle kultuur en hulle het Christene en sendelinge in die see aan kruise vasgemaak sodat hulle stadig met hoogwater, soos die golwe oor hulle spoel, verdrink. (In die Filippyne was dit weer die sendelinge wat Chinese mans wat by mans geslaap het, op brandstapels verbrand het.)

Hoe ouer ek word hoe minder fiksie lees ek. Van my tydgenote vertel my dat dit ook hulle ondervinding is. (In die Maart-uitgawe van Literary Review is daar 47 resensies, waarvan sewe misdaadromans dek en net agt fiksie. Wat sê dit vir ’n mens van die stand van fiksie in die Verenigde Koninkryk! En elders?) In my studeerkamer lê ses boeke waaraan ek tans lees oor mitologie, die Griekse, Romeine en Middeleeuse geskiedenis. Ek lees selfs fiksie stuk-stuk. Elsa Joubert en Cecile Celliers se onlangse boeke was ’n uitsondering. Twee boeke wat ek nie kon neersit nie.

Ek is lief vir kos.

Ek en Daan hou van Boerekos. Pampoenkoekies, souskluitjies en pannekoek. Al drie het kaneel in.

In Kuala Lumpur eet ek beef rendang en assam prawns, tamaryngarnale by Madam Kwan op die sesde verdieping in die dubbeltoringgebou in KLCC. (Tamaryn word ook suurdadels genoem.) In China smaak Chinese kos heeltemal anders as die kos in Suid-Afrika en dis wenslik om uit te vind wát jy eet vóór jy dit eet. Ek hou van hairy crabs. Moet net nooit vra in watter water die krappe geteel word nie. Of dalk moet jy dit reeds vra. Ek het nog nie virgin boy-eiers probeer eet nie.

Ek is lief vir musiek.

Met die uitsondering van die hartseertonele in Die Dao van Daan van der Walt het ek nie na musiek geluister gedurende die skryf van die roman nie. By dié dele het ek soms geluister na Forever young gesing deur Alphaville, Gregorio Allegri se Miserere mei, Parce mihi Domine gespeel deur die saksofoonspeler Jan Garbarek en na die Tibettaanse sangeres Jiangyang Zhuoma (Jamyang Dolma). Een middag het ek in die dorpie in China waar ek tai ji geleer het, in ’n straat by ’n winkel verbygeloop toe ek die stem van dié sangeres hoor. Ek is by die winkel in, hulle het haar naam op ’n stukkie papier geskryf en ’n Chinese vriend het uiteindelik vir my haar CD, Golden Glory, in die hande gekry. Sy is ’n kind uit ’n arm boeregesin. In ’n kroeg waar sy as kelner – en sanger? – gewerk het, is haar sangstem ontdek. Wanneer ek na haar luister, sien ek die uitgestrektheid van die Tibettaanse landskap in my verbeelding. Luister hoe sing Jiangyang Zhuoma “Hulunbuir grassland” en “The night on the grassland is beautiful”.

Agtien maande gelede het ek die twee uitvoerings van die ballet Moon water deur die Cloud Gate-geselskap in die Guangzhou-operahuis in China gesien. Ja, daar was net twee uitvoerings. ’n Onbeskryflike ondervinding. Ek het spesiaal die vier uur lange vlug van Singapoer na Guangzhou toe onderneem om die ballet te gaan kyk. Die eerste aand het ek in die middel van die ouditorium gesit en kon ’n geheelbeeld vorm. Die volgende aand, drie rye van die verhoog af, kon ek die detail waarneem. Moon water is die ballet waaroor Daan skoon liries raak in die roman. ’n Onderhoud met die uittredende Lin Hwai-min, die stigter en direkteur van Cloud Gate-dansteater, gee die leser ’n idee van hoe intensief die voorbereiding van die dansers is. En hoe hulle dans. Lin gee ’n veel beter weergawe daarvan as my poging in die boek.

Die Guangzhou-operahuis waarin ek die ballet gesien het, is deur die Irakse argitek Zaha Hadid ontwerp. (Sy is oorlede ’n paar maande voor my besoek aan die teater.) Google gerus “Guangzhou Opera House” om dié argitektoniese wonderwerk te aanskou.

In Singapoer daardie tyd het ek die voorreg – dit wás ’n voorreg! – gehad om te luister hoe András Schiff Bach se Goldberg-variasies speel …

Kom ons gaan liewer na jou volgende vraag, anders gaan my lofuitinge nie end kry nie. Frederik de Jager onthou dan glad hoe Schiff dieselfde werk jare gelede as jong man in Stellenbosch gespeel het.

Borobudur (foto verskaf deur die skrywer)

Praat met my oor die grense tussen waarheid en fiksie. As dit Daan van der Walt se dao is, is dit ook joune? Waar is die raakpunte, waar sny hierdie swaard aan by jou eie persoonlike lewe?

Soos ek in die Nabetragting agter in die boek sê, is die boek fiksie. Dis nie outobiografies nie. Van die tonele in die boek, veral in China, put uit my eie ondervindings daar, soos uit my antwoorde op jou vorige vraag blyk. Hier is nog ’n voorbeelde: in dié land met sy miljoene der miljoene mense word vlugte dikwels vertraag of, erger nog, gekanselleer soos ek met my eerste besoek daar self ondervind het, en dan is daar ’n stormloop vir ’n ander vlug of kaartjie soos in die boek beskryf. Ek het geen You Mei aan my sy gehad om my in my moedertaal aan te moedig nie. Toe ek begin tai ji leer doen het, is ek volgens die gewoonte daar eenvoudig in ’n klas ingedruk en moes sien en kom klaar. Toe ek dreig om my goed te vat en te loop, is ’n privaat instrukteur soggens aan my toegesê. Die beskrywing van Daan se eerste ete saam met die ander tai ji-studente is ook op my eie ondervinding gebaseer, maar geen gong fu-instrukteur het daardie eerste keer sy hand op my arm gesit en my geleer hoe om die stokkies vas te hou nie, nog minder my met sy stokkies brokkies kos gevoer.

’n Feestelike optog ter ere van die Boeddha (foto verskaf deur die skrywer)

Was daar ’n spesifieke sneller vir die skryf van die verhaal? Wat het dit geïnspireer?

Ongeveer 20 jaar gelede het ek, terwyl ek in my tandarts se spreekkamer gesit het, in ’n tydskrif op ’n brief aan die troostante afgekom waarin ’n wewenaar raad vra. Hy het met ’n gawe weduwee bevriend geraak. Een aand, na hulle gaan uiteet het, het hulle in haar woonstel gaan koffie drink. Hy is badkamer toe en toe hy uitkom, sit sy nakend op die rusbank. Hy wou weet wat is fout met haar. Met dié gegewe het ek my hand aan ’n kortverhaal gewaag wat in ’n laai beland het.

Ek wonder lankal oor getroude mans wat laat in hul huwelike ontdek of erken dat hulle tot ’n man aangetrokke voel en dan skei en by ’n man intrek. Waarom het so ’n man met ’n vrou getrou? In China lees ek ’n berig dat miljoene vroue wat met gay mans getroud is, daar in opstand kom. In dié land móét mans trou en ’n seun verwek. Konfusianisme en hul kultuur skryf dit vir hulle voor, soos die kerk en sosiale druk oor die jare hier by ons, behalwe as jy bereid was om jou lewe seksloos te slyt en as ’n oujongkêrel in die samelewing bekend te staan. Seks, die sondige ding, bly maar die slang tussen die blare. Vader Pedro Velasco in Endo se boek The samurai, waarna ek hier bo verwys, het saans met sy hande aanmekaar vasgebind gaan slaap en was, soos die Heilige Augustinus, sondebesmet na ’n nagtelike saadstorting. Wanneer die mooimaakgoedjies en die skraps onderkleertjies niks help om hul gay mans aan die gang te kry nie, wonder die arme Chinese vrou: wat is dan die fout met my?

Die kortverhaal in die laai het oor die jare gegroei tot die roman wat nou gepubliseer is.

Gebedestokkies (foto verskaf deur die skrywer)

Grepe Groen soos die hemel daarbo, grepe Charlie Oeng, grepe Spertyd, so skryf 'n resensent onlangs oor jou boek. Hoe sou jy dit self beskryf?

Al drie die boeke waarna die resensent verwys, is gepubliseer ná Die Dao van Daan klaar geskryf was. My boek gaan wel oor die problematiek van die ouer wordende mens, die kerk se opvatting en die Bybelse voorskrifte oor homoseksualiteit en ’n oumens se lewe in ’n volksvreemde land soos China. Natuurlik ook oor ander onderwerpe en probleme wat Daan op sy pad teëkom en by Winnie-the-Pooh-of-Tao hulp soek.

Jou boek is dalk die teenoorgestelde van 'n bildungsroman, of hoe? Dis 'n terugblik, dis bestekopname. Of is dit 'n boek oor sterflikheid? Al bogenoemde?

Vir dié strikvraag om die boek in ’n blik te druk met ’n naam-etiket op die deksel, is ek skrikkerig. Die boek het vir seker te doen met Daan se sielkundige, morele en godsdienstige groei in die aangesig van die dood. Die terugblik en bestekopname waarna jy verwys, noop Daan om sy agtergrond, soos die stuk steenkool waaruit die vlamme moet breek, te konfronteer. Die leser moet besluit of ek daarin geslaag het om aan te toon of dié groeiproses dit vir hom moontlik gemaak het om verby vervreemding, verlies en verwerping en die latere verwarring te beweeg in die rigting van nuwe insigte oor die sin van die lewe en die liefde en die dood met ’n gevolglike aanvaarding van wie hy, die man met die vele name, is. Sou dit van Daan gesê kon word dat hy aan die einde van die roman die essensie van sy lewe kon vasvang in paar woorde soos dié van ’n Japannees in sy doodsgedig?

Dit alles klink nou vreeslik ernstig. Daan konfronteer die stuk steenkool darem met ’n eiesinnige sin vir humor. Ek het verneem dat daar lesers is wat die boek so tussen die stukke hartseer deur heel komies vind.

Halongbaai in die eerste strale van die son (foto verskaf deur die skrywer)

Het jy al dikwels in die Ooste gereis? Watter reisbestemmings spreek tot jou?

Nie net gereis nie, ook tydelik daar gewoon. Dié nasies se onderskeie kulture, hul geskiedenis en vertrapping deur die groot Westerse moondhede spreek tot my.

Ek sal vertel hoe dit gekom het dat ek in die Ooste begin reis het. ’n Baie interessante man, Tiziano Terzani (aan die einde van sy lewe bekend as Anam – letterlik “die een sonder ’n naam”) se boek A fortune-teller told me was een van die redes dat my lewe ’n totaal nuwe en wonderlike rigting ingeslaan het. ’n Fortuinverteller het Terzani, Der Spiegel en verskeie Italiaanse koerante en tydskrifte se verteenwoordiger in Hongkong gewaarsku: “Pasop! Jy loop die gevaar om in 1993 te sterf. Moenie vlieg nie. Nie eers een keer nie.” Terzani het die waarskuwing ter harte geneem en daardie jaar te voet, per motor, bus, trein en boot Suidoos-Asië en China deurkruis en diep onder die indruk gekom hoe die Amerikaanse popkultuur die eeue oue Oosterse beskawings so korrupteer dat daar uiteindelik weinig daarvan gaan oorbly. Van sy ondervinding daardie jaar sê Terzani: “I was marked for death, and instead I was reborn.” En ja, Terzani sou waarskynlik op die vliegtuig gewees het wat daardie jaar in dié wêreld verongeluk het.

Na ek die boek gelees het, het ek besluit om vir ’n week in Phuket, aan die weskus van Thailand, te gaan vakansie hou. In plaas daarvan om aan die einde van die week terug te keer Suid-Afrika toe, het ek daarvandaan na Bangkok toe gevlieg en van daar noordwaarts gereis deur Chiangmai en Chiangrai tot by die samevloeiing van die Ruak- en Mekongriviere waar Thailand, Mianmar en Laos aan mekaar grens en die Goue Driehoek vorm, een van die wêreld se grootste opiumproduserende gebiede. Per boot is ek toe met Mekongrivier stroomaf na die suide tot in Luang Prabang, die ou hoofstad van Laos, en van daar na die tempels in Angkor in Kambodja. Op ’n latere vlug tussen Bangkok en Luang Prabang lees ek in die vlugtydskrif van ’n tai ji-skool in China en toe is ek soontoe en het tai ji leer doen. Dit was die begin. Maleisië, Singapoer, Viëtnam, Hongkong, Taiwan, die Filippyne en Indonesië het daarop gevolg.

Bestemmings wat tot my spreek, vra jy? Te veel om op te noem. Wat van die 9de-eeuse Borobudur-Boeddhiste-tempel op die eiland Java naby die stad Jogjakarta in sig van die vuurspuwende berg Merapi? Of Taiwan, waar ek so groot soos ’n mier gevoel het tussen die skrikwekkend hoë berge aan die ooskus? En daar is Halongbaai aan die ooskus van Viëtnam en die berg Huangshan waar die bergtoppe met sonsopkoms in die mis dryf en Chinese die tonele al vir duisende jare skilder. Ek beveel ’n tweede wittebrood vir oudgetroudes aan in die omgewing van die kusdorp El Nido (Die Nes) op die Filippynse eiland Palawan noord van Borneo. My kleinerige hotel het elke oggend ’n boot en bootman aan elke gas beskikbaar gestel om na ’n ander strand op ’n ander eiland te vaar en die dag daar piekniek te hou, vér weg van ander toeriste. Die see en berge is onbeskryflik mooi daar. Google “El Nido Palawan” en kyk self.

In Laos het ek geleer arm mense steel nie. Hulle hoenders slaap snags in die straat onder ’n gevlegte bamboesklok; in Singapoer en Maleisië kyk die inwoners sonder verwyt terug na die voordele wat kolonisasie vir hul lande gebring het; die Viëtnamese haat nie Amerikaners en Franse nie; Chinese werk tot 16 uur per dag, sewe dae per week vir hulleself. Die regering daar help tans arm boere met geld en deskundige raad en die boere kweek orgideë vir medisyne en sampioene wat binne 2 u4ur gereed is vir die mark en teel kakkerlakke om afval te verorber en word ryk.

En ek het gesien hoe oorbevolking en toerisme die mooi plekke op die aarde vernietig.

Hoenders slaap saans in die strate, selfs vegtende hane (foto verskaf deur die skrywer)

Met wie veg Daan van der Walt? Of wat kap hy af met sy mes (ek sien 'n dao is ook 'n swaard met net een snykant)? 

Ek dink hier het ’n misverstand oor die betekenis van Chinese woorde ingeglip. Die karakter (teken) in Chinees vir dao wat “weg” of “pad” beteken, verskil van die karakter vir dao (op ’n ander toonhoogte uitgespreek) wat “mes” beteken. Twee heeltemal verskillende woorde met heeltemal verskillende betekenisse. In die tweede brief aan Magrieta (bl 43) verduidelik Daan die diakritiese tekens wat die toonhoogte aantoon waarop woorde met dieselfde klank maar verskillende betekenisse in Chinees uitgespreek word en in die Nabetragting verduidelik ek die Pinjin-metode om Chinese karakters te translitereer/romaniseer sodat hulle klank in die Romeinse alfabet weergegee kan word.

’n Ryding vir ’n monnik (foto verskaf deur die skrywer)

In jou onderhoud met Frederik de Jager verwys jy na die liefde in al sy gedaantes: vir 'n vrou, vir 'n kind, vir 'n ander man. Watter aspekte van die verskillende gedaantes van die liefde is die mees intense, of die mees komplekse? Dalk kan jy in hierdie antwoord skryf oor die liefde. In watter gedaante ook al.

As ek geweet het wat die liefde is, het ek waarskynlik nie die roman geskryf nie. Wat is die aard van die liefde tussen Gilgamesj en Enkidu, keiser Ai en sy howeling Dong Xian? Om nie eers te praat van die liefde tussen Dawid en Jonatan nie. Ons moet ook onthou dat Daan dit op die eerste bladsy duidelik maak dat hy nie na liefde gesoek het toe hy die Opsitkers-briewe aan die weduwees en geskeide vrou gerig het. Hy het daardie ander dinge wat vir hom so lekker was, soos melktert en koeksisters op ’n Sondagmiddag op sy plaashuis se voorstoep saam met ’n koppie koffie, in gedagte gehad. Het hy dit gekry? Of dalk iets heel anders?

Om nou by jou vraag te kom: Die twee mees intense liefdes in die roman is sekerlik die liefde wat onbeantwoord is aan die een kant en aan die ander kant die geheime liefde, die liefde waaroor nie gepraat of aan uiting gegee mag word nie, dié een wat nie sy naam durf sê nie – en ook die onuitspreeklike hartseer by die verlies van hierdie liefde waarvan niemand weet nie en daar dus niemand is met wie jy jou pyn oor die verlies kan deel nie.

Het jy al vantevore geskryf? Gepubliseer? Indien wel, hoe het dit verskil van hierdie roman wat jy nou aangedurf het, die werk saam met ’n uitgewer?

Ek het nog nooit fiksie gepubliseer nie. Nie onder my eie of ’n skuilnaam nie.

As jy weer sou skryf, sal dit onder jou eie naam wees? En noudat die boek so baie aandag kry: Is jy spyt dat dit nie onder jou eie naam was nie?

As ek weer skryf, sal dit onder dieselfde skuilnaam wees. Ek is glad nie spyt dat die boek nie onder my eie naam geskryf is nie. Kom ons vergeet van die naam van die skrywer en lees die roman en luister na die pragtige opname wat Nic de Jager van drie uittreksels uit die boek gemaak het.

 

 

 

The post <em>Die dao van Daan van der Walt</em> – en die dao van Lodewyk G du Plessis appeared first on LitNet.

Viewing all 790 articles
Browse latest View live