In haar eerste maandelikse podsending gesels Lidia Rauch met die skrywer (Die verlore seun vannie Gaatjie, Lux Verbi 2020) en jeugdominee Ivor Swartz.
The post Wys my jou Waarheid met Lidia: ’n onderhoud met Ivor Swartz appeared first on LitNet.
In haar eerste maandelikse podsending gesels Lidia Rauch met die skrywer (Die verlore seun vannie Gaatjie, Lux Verbi 2020) en jeugdominee Ivor Swartz.
The post Wys my jou Waarheid met Lidia: ’n onderhoud met Ivor Swartz appeared first on LitNet.
Nanette van Rooyen het die 2020-ATKV-Woordveertjie verower in die Selfleeskategorie: Graad 8–10 met haar roman Die 17de veer (LAPA Uitgewers). Izak de Vries het met haar gesels.
Nanette, is dit nie gepas dat ’n boek oor vere die ATKV-Woordveertjie wen nie?
Dat ek nou wragtag ’n boek oor 17 vere moes skryf om ’n Veertjie te verdien. Ek loop nou nog op die wolke.
Die 17de veer was ook ’n naaswenner in die 2018-LAPA-Jeugromanwedstryd, is ek reg?
Ja, dis korrek.
Daar is 16 voëls se vere in die boek; elkeen het te doen met Lara se soeke na haarself. Ek wil nie die storie verklap nie, so ek gaan eerder vra: Hoe het jy op elk van die vere afgekom in jou soektog na ’n storie?
Ek gee my liefmoeder alle eer. Sy het my van kleins af op die spoor van vere gehou. Vir my gesê vere is boodskappe van die engele. Ek loop tot vandag toe nog nie verby ’n veer nie. Toe die liefmoeder oorlede is, moes ek haar huis gaan oppak. En wat vind ek? Glasflesse vol vere. Agter die Maizena in die koskas. Agter die streng-gestrykte linne. Tussen die koekblikke. Selfs in die medisynekas. Dit het my so geraak, want elke veer het beteken sy het wye paaie geloop. ’n Baie goeie vriend van my is ’n ornitoloog. Hy het ook my oë oopgemaak vir die voëlryk.
Alex, die jongman in die verhaal, is ’n uilliefhebber. Jy sou dus ook oor hierdie pragtige roofvoëls moes navorsing doen – selfs oor hoe hulle soms mishandel word?
Ja, ’n uil roer my. Ten tye van die skryf van die boek het ’n uiltjie op die boonste tiptoppie van ’n sipres oorkant my huis kom sit. Ek en daai uiltjie het ’n verhouding ontwikkel. Die simbool van wysheid. Vir sommige die doodsvoël. Die mitologie omtrent uile het my so gefassineer. Dit is internasionaal ’n gelade simbool, die uil.
'n Gevlekte ooruil (Foto: Izak de Vries)
En die musiek ... die boek het sommer ’n klankbaan van sy eie. In jou vorige boek, Ek was hier, speel musiek net so ’n belangrike rol. Wil jy iets daaroor sê?
Ek skryf nie een woord sonder musiek nie. En ek kies die musiek na die toonaard van die boek se grein. Chinchilla was vol Fado en verlate musiek. Met Ek was hier het ek Vrydae vir Sabina sit en wag terwyl sy baskitaarles gehad het; dit het ’n rol gespeel. Omdat beide my kinders musikaal is, help dit ook om my bekend te stel aan “nuwe” musiek. Die 17de veer het ’n klap van die steampunk gekry. Ai, En Eddie Vedder se Long nights en Wolf het my op ’n ander planeet neergesit.
Die boek is op ouer kinders, eintlik al jong volwassenes, gerig. Die karakters in jou boek is ook baie volwasse in hulle optrede, net soos dit die geval was in Ek was hier. Beide romans handel oor gewone mense, in dié geval jongmense. Hoe so?
Ek hou my kinders dop. Ek luister hulle af. Ek probeer kyk deur hulle oë. Ek sal dit nie sommer aan hulle erken nie, want dan staan hulle bakhand vir tantième.
Ek wil weer iets vra oor gewone mense. In hierdie kategorie is dit lesers van graad 8 tot 10 wat self die wenners aanwys. Lara kom uit ’n doodgewone, taamlik disfunksionele huishouding. Alex het in ’n kinderhuis grootgeword. Albei werk om iets te verdien. Albei ken ryk kinders wat skynbaar baie het. Dié twee is dus doodnormale, alledaagse mense. Is jy bly dat regte lesers jou karakters genoeg geniet het om ’n prys daaraan toe te ken?
Ek wawiel oor die maan. Dit is die grootste kompliment tot dusver. Vir elkeen van daardie jongmense wat hulle stemme laat geld het: Hier is vir jou ’n veer. Met dank.
Tannie Flori in geel, heel regs, en tannie Koelsom langs haar. Kort na hierdie foto geneem is, het Nanette aan elkeen van hulle ’n getekende kopie van die boek oorhandig.
Die 17de veer is ’n Kaapse roman. ’n Mens kan gaan koffie drink waar Alex werk; jy kan die roete ry wat Lara met haar bromfiets ry. Jy het selfs vir tannie Koelsoem Kamalie en tannie Flori Schrikker ’n kamee gegee in jou boek. Aan die einde van verlede jaar, tydens hul tweede laaste optrede, het jy ’n boek aan elkeen van hulle oorhandig. Ek was hier speel ook op bekende plekke af. Waarom dié spel tussen feit en fiksie?
Ek moet die omgewing ken waarin my skryfsels afspeel. Ek loop sit aspris in daardie ruimte. Weet jy hoeveel Resurrection-koffies ek by Truth moes gaan drink met die skryf van Die 17de veer? Nee, jy wil nie weet nie.
Jong lesers: Nicholas Hanlon resenseer Ek was hier deur Nanette van Rooyen
The post Verskeie voëls en <em>Die 17de veer</em>: ’n gesprek met Nanette van Rooyen appeared first on LitNet.
Engela Duvenage is ’n vryskutjoernalis wat spesialiseer in artikels oor die wetenskap en navorsing. Sy het pas ’n dik boek oor Suid-Afrikaners se verbintenis met die wetenskap en tegnologie uitgegee. Daarin vertel sy selfs oor die vyf mans wat in Suid-Afrika grootgeword en sedertdien ’n Nobelprys in die wetenskappe gewen het. Uiters gevorderde navorsing word op ’n eenvoudige wyse aan jongmense oorgedra op so ’n manier dat selfs oumense dit kan verstaan.
Die boek is Saterdag 14 November op Wellington bekendgestel.
Izak de Vries het met haar gesels oor Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika (LAPA).
Die boek bevat 102 stories. Van die mense oor wie geskryf is, kon die geleentheid bywoon. Hier is Boeing-vlieënier Fatima Jakoet, skrywer Engela Duvenage, Eugene Marinus, die kurator van die Hantam Nasionale Botaniese Tuin by Nieuwoudtville na wie ’n langtongvlieg vernoem is, fossielkundige Anusuya Chinsamy-Turan van die Universiteit van Kaapstad, uitgewer Shawna-Leze Meiring en Rose Kransdorff wat die voedsame e'Pap saam met haar man, wyle Basil Kransdorff ontwikkel het. Nie op die foto nie is ingenieur Thinus Booysen van die Universiteit Stellenbosch, wat maniere ontwerp het hoe mense en skole self hul eie krag en watergebruik kan meet en sodoende kan spaar. (Foto: Renee Scott)
Engela, geluk. Dit is min dat ’n boek my kinderlik opgewonde kan maak. Dié een het dit reggekry.
Dankie – mens is dankbaar as andere ook so saam opgewonde raak oor iets wat eintlik maar vir lank net jou eie mal idee was. Ek het dikwels in die skryfproses gewonder hoekom ek ooit gesê het ek gaan 100 stories doen, maar noudat die bielie hier is, sien ek hoedat dit wel werk. Dis ’n boek wat ek eenvoudig net wou skryf (soos die uitdrukking sê, skryf die boek wat jy nêrens te lese kry nie), seker al vir vyf jaar lank. Ek is dankbaar dat LAPA vroeg in 2018 kans gesien het om dit saam met my aan te pak, nadat twee ander uitgewers aanvanklik nee gesê het.
Thinus Booysen van die Stellenbosch University wat elektrisiteits- en watermonitors ontwikkel het met sy dogter, die outeur en Rose Kransdorff, wat e'Pap help ontwikkel het. (Foto: Nadine Petrick)
Waar kom jou liefde vir die wetenskap vandaan?
Ek dink dis eerder ’n geval dat ek van feite en geskiedenis hou, van stories en mense. Ek hou daarvan om ’n bietjie oor baie dinge te weet. ’n Skoolvriend het destyds al gesê ek het ’n brein soos ’n Chappies-papiertjie. My man, Louis, sê weer ek’s nuuskierig, maar op ’n goeie manier, nie in die skinderige sin nie, maar eerder nuuskierig oor wat in die wêreld om my aangaan, hoe dinge by mekaar inpas, en te kan verwonderd wees oor die besonderhede van byvoorbeeld die natuur. My ma vertel hoe ek van kleins af smiddae gesit en koerant lees het. Ek ag myself gelukkig om al die afgelope twee dekades in die omgewings- en die breë wetenskapswêreld te werk, en oor mense te mag skryf wat elke dag deur hul werk ’n verskil probeer maak. Ek kry kans om vrae te vrae aan van die slimste mense, totdat ek self ’n bietjie meer verstaan oor hul navorsingsveld. Hulle kry beslis nie genoeg erkenning vir wat hulle doen nie!
Engela Duvenage was in gesprek met Marina Joubert van die Universiteit Stellenbosch, ’n kundige oor wetenskapkommunikasie. (Foto: Renee Scott)
Jy gebruik groot wetenskaplike woorde, maar verduidelik hulle dan. Hier is ’n voorbeeld: Bongani Mayosi se navorsing oor aritmogeniese regterventrikelkardioniopatie (ARVC) word só verduidelik: “Doef-doef-Doef-doef-DOEF-DOEF-DOEF-doef / DOEEEFFF- DOEEEFF”. En nog ’n paar doefe. Wow. Selfs ek kan dit verstaan, maar ek sou andersins nooit ’n artikel oor daardie groot woord gelees het nie.
En dis natuurlik nie al groot woord nie. Regdeur die boek gebruik jy wetenskaplike name en terme. En dit in ’n boek gemik op kinders. Hoekom hulle blootstel aan wetenskaptaal?
Hoekom dan nou nie? Dit brei kinders se woordeskat uit, daag hulle uit, en help hulle om die wêreld om hulle te verstaan. Ek dink daar’s baie kinders wat gefrustreerd is met die inhoud wat hulle op skool leer, en hierdie is dalk net die regte kos vir die leesgieriges onder hulle. Ek’t inligtingsblokkies by elke storie gebruik om talle wetenskaplike konsepte wat in die verhale voorkom verder te verduidelik. Ek lê ook byvoorbeeld woorde soos kardioloog en kardiovaskulêr uit, hoedat dit met die hart te doen het, en dat die kardio-deel sy basis in die Griekse woord kardia het. Hopelik herken hulle dan volgende keer die woord wanneer hul ouers in “kodetaal” of “grootmenstaal” daaroor gesels dat hul oupa of ouma ’n kardioloog moet besoek, en word hulle nie deur “groot woorde” dronk gepraat nie. My ma, Eleanor Botes, het op haar dag Latyn gegee. Sy’t altyd kleintyd (eintlik nou nog!) so vir ons woorde uitgelê, en ons gehelp om die basis en betekenis daarvan te verstaan. Vir die boek het sy ook gehelp om al die spesiename wat voorkom om te sit in foneties-Afrikaanse uitspraak sodat dit makliker op die oog en tong is.
Die seremoniemeester was Elena Duvenage (14), oudste dogter van die skrywer. (Foto: Renee Scott)
My geliefde is ’n medikus en besig met navorsing. Toe ek die boek langs haar neersit, het sy gesê: “Desember.” ’n Paar minute later het sy “gou-gou” oor Bongani Mayosi gelees, want sy het hom geken. Toe “gou-gou” oor André van der Merwe, want hulle was saam in die klas. En “gou-gou” oor James Barry, want sy het baanbrekerswerk vir vroue gedoen ... Ek dink dit sê iets oor jou boek. Het ander volwassenes al terugvoer gegee daaroor?
Ek is soms bang die volwassenes geniet dit meer as die kinders! Maar dan is dit ook oukei, en kan hulle weer die stories aan hul kinders oordra. Een leser, vir wie ek glad nie ken nie, het op Facebook die volgende laat weet: “Kyk, nou en dan maak ’n kinderboek my so opgewonde dat ek en my kinders stry oor wie hom eerste kan lees. Gelukkig is hierdie een ’n feiteboek wat stuk-stuk gelees en geniet kan word. Hy lê dus hier in die sitkamer waar almal deur hom kan blaai en in bietjies geniet.”
Ek het ook reeds werklik positiewe terugvoer ontvang van onderwysers en bibliotekaresses wat die opvoedkundige waarde daarin raaksien. By die bekendstelling Saterdag by die Breytenbachsentrum het een gas oa gesê dat hy reken die boek doen wondere vir die uitbou van Afrikaans as ’n wetenskapstaal – dit was vir my beslis ’n voorreg om dit eerste in my moedertaal te kon skryf!
Akteur Chris van Niekerk het uit die boek voorgelees. (Foto: Renee Scott)
André van der Merwe het die wêreld se eerste penisoorplanting gedoen. Jy skryf oor geslagsorgane: “Dis ’n ongemaklike, persoonlike saak waaroor moeilik gepraat word!” En tog, jy bied dit aan; jy skryf selfs oor die besnydenisrituele. Waarom?
Ons leef nie in ’n maklike land nie, en dit sou naïef gewees het om nie sogenaamde moeilike onderwerpe soos Vigs, watertekorte en klimaatsverandering in die boek in te sluit nie. Dit was vir my belangrik om ’n wye spektrum van onderwerpe te dek, oor verhale, mense en gebeure te vertel wat nie noodwendig in die kurrikulum behandel word nie, en wat selfs ’n bietjie uitdaag. So leer ons by mekaar, en van mekaar, en oor mekaar.
’n Vriendin en haar dogters het besluit hulle spring sommer weg met die lees van professor Andre se storie, wat ek glo ek met die grootste moontlike sensitiwiteit geskryf het. Sy’t laat weet dat hul grootste indruk was oor hoeveel mans se penisse jaarliks beseer word of hulle hulle penisse verloor. Hulle het nooit besef hoekom so ’n operasie nodig is nie; dis nie iets waaroor mens sommer dink nie, maar vir die ou met wie dit gebeur, is dit ’n ongemaklike, harde werklikheid. Ja, dis baie makliker om oor die wêreld se eerste hartoorplanting of 3D-gedrukte oorbeentjie-inplanting te lees. Die penisoperasie is egter beslis ’n eerste waarop ons in Suid-Afrika kan trots wees, en ook deel van ons wetenskapsgeskiedenis, en daarom skryf ek daaroor. Dit het hoop gebring vir ’n klomp mans wat met so ’n verlies saamleef.
Eugene Marinus, na wie ’n langtongvlieg vernoem is, met sy storie in die boek. (Foto: Nadine Petrick)
Ons lewe in ’n tyd waarin wêreldleiers feite ontken of afmaak; daar is alternatiewe waarhede wat deur bedenklike webruimtes aan goedgelowige mense opgedis word. Jy raak nie betrokke nie, maar stel feite, soos die geval is met Edmund February se navorsing oor die sederbome wat daarop dui dat aardverwarming ’n gegewe is. Hoop jy om weer ’n nuuskierige generasie te kweek wat feite interessant sal vind?
Ek wéét daar ís reeds so ’n nuuskierige generasie – kinders (en hul ouers) wat meer wil weet oor die wêreld om hulle en opreg nuuskierig is daaroor. Die belangrike is om vir hulle genoeg bronne (in hul eie taal) te kan aanbied waaruit hulle kan leer, en goeie inhoud vir hulle toeganklik te maak. Dis so dat sommige kinders bloot meer ingestel is op feite as op storieboeke – die verhale in hierdie boek is ’n goeie middeweg. Ek wou ook vir kinders wys watter beroepe alles moontlik is, en dat hulle ’n loopbaan uit hul belangstelling in byvoorbeeld halfedelgesteentes, spinnekoppe of plante kan maak.
Vlieënier, Fatima Jakoet, en skrywer Engela Duvenage. (Foto: Renee Scott)
Jy skram nooit weg van moeilike onderwerpe, soos vooroordeel teen vroue of selfs die moeilike paaie van swart mense in Suid-Afrika nie. Tog fokus jy op die positiewe en vertel stories van dit wat mense reggekry het. Hoe het jy die balans gehou?
Ek het gehoop om met die aanbied van stukkies geskiedenis vir kinders ’n bietjie konteks te gee oor die uitdagings wat baie mense oor die jare moes hanteer, en hoe dinge dikwels ten goede verander het.
Ek kies beslis doelbewus om op die positiewe in my land te fokus; dis vir my ’n lewenswyse. Soos my vriendin Jeanine sê: “You see what you look for.” Daar is hóévele passievolle, vindingryke mense en goeie dinge in ons land wat eenvoudig nie genoeg gevier of raakgesien word binne die groter prentjie nie. Ons het elkeen van hulle nodig om die wêreld ’n beter plek te maak, maar hulle het ook die ondersteuning nodig om te kan aanhou daarmee. Die positiewe is selfs te vind in negatiewe onderwerpe soos Vigs of klimaatsverandering as mens byvoorbeeld kyk na die magdom wetenskaplikes en medici wat saam soek na oplossings. Daar is mense in die boek wat nooit skool klaargemaak het nie, weens die Depressiejare, apartheid of die Tweede Wêreldoorlog byvoorbeeld. Hulle het hulle nie deur hul kinderjare laat keer om hul merk te maak nie. Elkeen van die verhale bied op een of ander manier hoop of ’n rolmodel. Ek wil subtiel daardeur vir kinders wys wat gedoen kan word as mens net genoeg deursettingsvermoë, passie en breinkrag aan die dag lê, skouer aan die wiel sit en nie deur die eerste teleurstelling of uitdaging uitgeboul word nie.
Een van my gunstelingstories is dié van die Kapenaar Allan Cormack wat aanvanklik nie sy doktorsgraad kon behaal nie, ten spyte van ’n paar jaar se studie aan Oxford-universiteit. Weldra het hy die Nobelprys gewen vir die ontwikkeling van die CAT-skandeerder – aanhouer wen. ’n Fisikus, Buyisiwe Sondezi, wou haar hele lewe een of ander eerste doen (byvoorbeeld om eerste in matriek te kon staan, wat sy nie bereik het nie) en het uiteindelik die eerste vrou in Afrika geword wat in ’n veld van eksperimentele fisika haar doktorsgraad gekry het. So kan ek aangaan.
Skrywer Engela Duvenage saam met twee jong lesers, Mia Burger en Lara de Waal. (Foto: Renee Scott)
Tumi K Steyn se illustrasies dra by tot die sukses van die boek, dink ek. Hoe voel jy oor hulle?
Die terugvoer is net positief, en ek is dankbaar vir haar skoon, sensitiewe aanslag. Ek dink die gebruik van illustrasies eerder as stywe foto’s maak die boek met die eerste oogopslag ook makliker vir kinders om op te tel en te begin lees. Die voorblad is ontwerp deur Zinelda McDonald, en ek dink sy‘t ook ’n formidabele stuk werk gedoen. Dit vang beslis die oog! Ek het eers agterna gehoor dat sy, soos ek, op Wellington woon, en dit het die voorblad vir my selfs meer spesiaal gemaak.
Zinelda McDonald, wat die voorblad ontwerp het, en die uitgewer Shawna-Leze Meiring. (Foto: Renee Scott)
Die boek is ondersteun deur die Akademie van Wetenskap en Kuns, en uitgegee deur LAPA. Nou wil jy dit ook in Braille beskikbaar stel. Is daar planne vir vertalings in ander tale?
Ek werk aan die Engelse vertaling, wat teen 2021 deur Penguin uitgegee gaan word. Van die begin af was my droom dat die boek in alle Suid-Afrikaanse tale en by alle skole beskikbaar sal wees. Hoe prakties dit is, weet ek nie, want ek besef daar’s groot finansiële koste aan so iets verbonde. Ek hoop iewers sal ’n befondser na vore kom wat ’n uitgewer met so ’n projek kan help, sodat ’n boek vol wetenskapstaal en positiewe rolmodelle in soveel moontlik tale aangebied kan word vir skoolkinders (en hul ouers!).
Uittreksel: Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika deur Engela Duvenage
The post Engela Duvenage, skrywer van <em>Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika</em>, ’n onderhoud appeared first on LitNet.
Tobi Jooste met sy nuutste boek in die hand. (Foto verskaf)
"Als is ’n f*kop."
Klink dit dalk soos die eggo van jou eie gedagtes? Of jou vriende se woorde om die braaivleisvuur? In hierdie geval is dit nie een van genoemdes nie. Dit is die ongewone titel van Tobi Jooste se boek oor die ongewone tyd waarin ons ons bevind. Dit was reeds ’n deurmekaar tyd waarin ons leef en toe tref Covid ons ook.
"Die boek gaan nie oor COVID-19 nie, alhoewel die virus die mat onder my voete uitgeruk het, nes by die mense in die res van die wêreld," vertel Tobi. "Ek kon nog met van die inperkingsreëls (hoe belaglik dit soms ook is,) saamleef, maar wat my bekommer, is die emosionele impak wat die pandemie op mense het."
Volgens die persverklaring is dit ’n boek waarin Tobi daardie jakkalsies wat tussen ons en ons geluk staan, kaalvuis aanpak. Die skrywer het begin navorsing doen, boeke lees en mense bel.
"Gedurende die navorsing het ek ’n goue draad gevind wat deur almal se stories geloop het: Ons humeure is kort; ons is bitter; ons bekommer ons oor die toekoms. Ons is bang," sê hy. Volgens Tobi is die oorsprong van al die spanning en onsekerheid die "onbekende". "Ons kan nie meer beplan en dieselfde dinge doen soos ons dit voorheen gedoen het nie," meen hy. "Ons is onseker en die brein weet nie mooi wat om met die onsekerhede te doen nie,"
Geweld teen vroue en kinders, selfdood en depressie is van die sake wat onder die vergrootglas geplaas is. "Die mensdom is goed met fisieke aanpassing," sê hy, "maar die meeste van ons sukkel met emosionele aanpassing. Ons brein hou van roetine."
Tobi verwys ook na die tuisvideo’s wat aan die begin van die pandemie die ronde gedoen het en waarvoor almal lekker gelag het. "Dis nou maar in ’n Suid-Afrikaner se bloed," meen hy. "Gaan dit moeilik, dan lag ons vir onsself. Maar die grappies het gou flou geword." Volgens hom is ons vermoë om dinge te beheer van ons weggeneem. Gevolglik het depressie toegeneem.
"Die onsekerheid en onbekende van wat kom, bring emosies uit wat ons nie ken nie. Dit help egter nie dat ons ons hande elke uur ontsmet, maar vergeet om ons emosionele welstand skoon te hou nie," meeen hy.
Steve Hofmeyr, wat die boek se voorwoord geskryf het, sluit hierby aan. "Die tema van kwesbaarheid verdien om bespreek te word, nou meer as ooit. In verstaanbare taal," skryf Hofmeyr. "Niks meer of minder sal help nie. Dit verdien meer as ’n braaivleis en ’n twiet. Dit eis meer as die rou statistiek van ylende politici. Dit verdien 2020-visie. Meer eenvoud sal ’n vervlakking wees van empatie en dalk ook ’n onderskatting van ons pyn. Meer hoogdrawendheid sal pretensieus wees. En daarvoor het niemand meer tyd nie.
"Tobi Jooste omskryf ons tameletjie en lei ons daardeur met ’n deernis eie aan hom," skryf Hofmeyr voorts. "Hy wil hê gewone mense moet die Abraham Lincoln in hulself gaan vind."
Vra jy uit oor die titel, antwoord Tobi dat die inspirasie daarvoor van ’n bejaarde man kom. Laasgenoemde sou sê dat dit voel of hy homself nie meer ken nie en vir niks lus het nie; ook dat almal hom vergeet het. Sy slotsom is dus: Alles is deesdae net ’n f*kop.
Die boek is nog kraakvars. Dit sal by alle boekwinkels in die land beskikbaar wees en Naledi-uitgewers kan ook gekontak word.
Benewens skrywer wees, is die talentvolle boorling van die Karoo ook sanger, TV-aanbieder en sakeman. Nie net is Tobi direkteur van sy eie maatskappy nie, maar hy is ook ’n man met ’n passie vir reis en kook. Tans is hy die boeke- en kosredakteur van die tydskrif Bloss. Tobi inspireer ook graag mense met sy sang en motiveringspraatjies tydens geleenthede.
The post <em>Als is ’n f*kop</em>: ’n gesprek met Tobi Jooste appeared first on LitNet.
Beskut teen vrese
Cas Vos
Naledi
Cas Vos praat met Naomi Meyer oor Cas se Beskut teen vrese.
Cas, ek sien jou naam elke paar maande opduik; dan is daar weer ’n digbundel. Waar het jou liefde vir gedigte ontstaan? En van wanneer af skryf jy?
Naomi, ek het reeds ’n ander digbundel voltooi, toe Beskut teen vrese aan my deur kom klop. Dit was nagdonker en ek moes die deur oopmaak. En wie staan daar? Corona met ’n opdrag: skryf oor my en my bondgenote. Mense is wêreldwyd oorval met vrese. En die rede? Mense is nie opgewasse teen my nie. Onder die omstandighede moes ek net gedigte oor al die vrese wat mense snags wakker maak, skryf. Ek skryf al gedigte van my hoërskooldae af. En glo my, dit is lank gelede. Ek was altyd lief vir die woord en die beelde wat woorde oproep. Onderwysers het my van kleintyd af aangemoedig om gedigte te skryf.
Voorin jou jongste bundel, Beskut teen vrese, staan: “Corona dra die kroon. Wie kan hom onttroon?” In 2020 maak mens nogal maklik afleidings as mens die woord “korona” sien, maar wil jy dalk hierop uitbrei?
Ek weet die Taalkommissie het dit goedgekeur dat Korona met ’n K gespel moet word. Maar ek het die C verkies omdat dit verband hou met Latyn. Hiermee word Corona ook ’n wêreldverskynsel. Ons ganse wêreld gaan mank aan Corona. Corona maak mense vreesbevange, onseker, magteloos, wanhopig en eensaam. Ek moet in gedigte teen Corona skryf, want die verse beoog om die lesers teen vrese af te skerm. Mozart se Towerfluit word aangewend om mense teen Corona te beskerm. Ek keer die rolle van Papageno en Tamino om. Ons is tans in die kou waar Corona ons benoud gevange hou. Daarom word Papageno versoek om hom na ons kou te haas en ons te bevry.
Tamino, mag jou towerfluit se soet melodieë
Corona verskrik en hom spoedig verpletter.
Gedigte kan immers uit die chaos tot stand kom. Dit is sprankies lig “totdat ons die sterre weer sien”. Corona dwing ons om te vra: “Waar is God in dié tyd?” Dít is die vraag waarmee gedigte in die bundel worstel. Die heel laaste gedig laat die lig deurskemer.
Maar wees bedag: daar wag ’n her-skepping.
“Die bruid van Beiroet” (32) help ons ook om in die Corona-tyd te sien en te leer wat regtig saak maak. Op haar troudag word Beiroet deur ’n ontploffing geskud. Wat doen die bruid? Vlug sy saam met haar beminde? Nee, sy buk en help, as dokter, die verminktes en lydendes. Is daar vir haar ’n uitsig? Ja!
Sy sal opstaan en na haar beminde gaan
en na elders reis waar liefde nooit sal taan.
Jou eerste gedig in Beskut teen vrese is “Die verse is my herder”. Deur al die jare weet ek ook van jou boek oor Job, jou skryfwerk wat vervleg is met Bybelse verwysings. Vertel my van jou teologiese agtergrond, asseblief.
Naomi, dit is ’n sinvolle vraag (nie dat jou ander vrae nie sinvol is nie!). In my elf digbundels kom die intertekstualiteit met Psalm 23 vier keer voor. Elke keer word dit egter op ’n ander wyse aan my gedigte verbind. Dit kry dan ’n ander en nuwe betekenis. In hier die bundel is die verse die beskerming teen die Corona-vrese. My opleiding as teoloog het my met die taalkleed omhang. Ek moes Hebreeus, Grieks en Latyn studeer. En mag ek byvoeg: Dit was vir my heerlik. Op hierdie manier het ek met die antieke en Bybelse wêrelde in aanraking gekom. Dit is vir my ’n ryk bron om te ontgin. Die Griekse skrikgodinne, Magaera, Alecto en Tisifone, het my tot die insig gebring dat Corona ’n moderne skrikgodin is.
Die pes is van antieke tye af al aan die mens bekend. Ek sien dadelik in die tweede afdeling, Verse teen vrese, jou verwysings na die Tien Plae. Het jy vanjaar inspirasie geput uit wat ons in die wêreld beleef het? Het jy vrees ervaar? Dink jy pyn en vrees is juis belangrik om nuut te kan skep?
Naomi, ek moet net eers iets oor die Tien Plae in die tweede afdeling skryf. Sommige lesers het die plae as die tien Egiptiese plae gelees en verstaan. O, nee! Dit handel in dié afdeling nie oor God se straf soos in die Eksodus-vertelling nie. Dit gaan in dié afdeling oor die bedreigdes. Mense van ons dag wat deur Corona en sy meelopers bedreig word. Die bedreiginge word dus eietyds verstaan. Dit is deel van die oerchaos. En dit laat ons sug:
As die dae en nagte van lewe sonder hoop
tog maar wil sterf en ons weer vry kan loop.
Naomi, ek het ook vrees ervaar. Wie skrik nie vir Corona nie? Pyn en vrees laat my een met alle mense voel. Deur die gedigte soek ek na die sin en die onsin van pyn en vrees. Wie met pyn leef, het deernis met ander se pyn. En dit is wat ons as mense nodig het: deernis met en omgee vir ander mense. Theodore Roethke het geskryf: “Love is not love until love’s vulnerable.” Dit is wat vrees en pyn aan ons doen. Uit vrese en pyn kom daar deernis vir ander.
Ek sien ook vir Job en vir Habakuk – “al sou die vyeboom nie bot nie”. Daar was baie rampe en ellendes waarvan in die Bybel geskryf word. Watter van hierdie stories gryp jou verbeelding die meeste aan en waarom?
Naomi, jy het fyn gelees. Daar is inderdaad talryke vertellings van rampe en ellende in die Bybel. Hierdie droewe geskiedenis kan nie anders as om my verbeelding aan te gryp nie. Hiervan is Job ’n voortreflike voorbeeld. Job op die ashoop van ellende en ontnugtering. Die mens se geskiedenis is dwarsdeur die eeue een van rampe en ellende. En dit het nie opgehou nie. Oorloë, terrorisme, korrupsie en orkane duur voort – om net ’n paar ellendes te noem. Dit alles vind neerslag in gedigte. En die rede hiervoor? Om ’n sprankie lig te laat deurskemer. Nie net digters nie, maar ook skrywers skryf oor al die ellendes. Ek dink aan Albert Camus se La Peste en Karl Schoeman se Hierdie lewe.
Daar is ook haikoes, tankas en ander, langer gedigte. Hoe werk jou inspirasie? Skryf jy neer wanneer jy geïnspireerd voel? Baie gedigte op een slag? Of werk jy gedissiplineerd en skryf jy totdat die inspirasie opdaag – laat jy dit dus opgedaag?
Die skeppingsproses kan nie in formules vasgevang word nie. Woorde stryk op papier neer en dan vra hulle om georden en gerangskik te word. Om gedigte te skryf, is doodgewoon toegewyde en harde werk. Soms daag ’n gedig uit die bloute op, maar ander kere moet ek maar wag en waag.
Jy skryf gedigte oor die liefde, oor kuns en oor die Griekse en Romeinse mitologie. Waar kom al jou belangstellings vandaan?
Liefde is die een groot wonder van menswees. Maar die liefde kan ’n mens ook ontglip. As jy dit nie troetel en versorg nie. Liefde gee sin aan die lewe. Liefde is ’n geskenk en daarom moet ons dit ook aan ander mense skenk. Kuns het my nog altyd bekoor. Michelangelo, Van Gogh, Rembrandt, Marlene Dumas en vele ander. Om die verbeelding deur ’n skildery op doek te skep, lei my op verbeeldingstogte en gedigmaak. Deur my opleiding is ek blootgestel aan die Griekse en Romeinse mitologie. Die handelinge van gode het my verbeelding geprikkel. En dan is daar die wonderlike Griekse digters: Homerus, Sappho en Simonides.
Jy het ’n gedig in Kaapse Afrikaans geskryf, het ek gesien, op versoek van Melt Myburgh en Danie Marais. Die gedig is deur Anastasia de Vries versorg. Wil jy praat oor die skryf hiervan, hoe mens te werk gaan as Kaaps nie die variëteit van Afrikaans is wat mens se huistaal is nie?
Die Adam Small-gedig is deel van ’n huldiging aan hom. Dit was heerlik om Small se wonnelike reis hystoe digterlik in Kaapse Afrikaans te beskryf. Anastasia de Vries het die gedig uitmuntend in Kaapse Afrikaans versorg.
Waaraan skryf jy nou?
’n Digbundel, Onder die vlerke van jou liefde, is tans by die uitgewer, Naledi. Hierin het ek Hooglied as eietydse gedigte vertaal. Ek gee ook aantekeninge om Hooglied te verklaar en te verstaan. Daarby is ’n hele aantal van my eie liefdesgedigte. Ek is ook besig om Dante se magistrale Inferno te vertaal.
Hoe het vanjaar se virus en die inperking jou lewe op praktiese vlak beïnvloed? Dit kan tog nie alles inspirasie wees nie; daar is tog velerlei uitdagings. Sal jy asseblief hierop uitbrei?
Naomi, dit is gepas dat jy jou vrae met ’n tiende vraag afsluit. Tien het mos ’n simboliese betekenis. Dit dui onder andere op volheid, voltooidheid. Gelukkig was daar inspirasie. En talryke uitdagings. Soms het ek behoefte om met familie en vriende te praat. Maar dit was nie moontlik nie. Die grootste uitdaging is om in ’n eensame wêreld jou weg te vind. Lees en nogmaals lees, het my verryk. Gelukkig het ek en my vrou, Lida, die eensame pad saam geloop. Téén die donker in.
The post <em>Beskut teen vrese</em>: ’n onderhoud met Cas Vos appeared first on LitNet.
Eleanor Cornelius se Gewone taal: ’n Oorsig het vroeër vanjaar by African Sun Media verskyn. Die boek betrek skryf- en leesprobleme op woord-, sins- en teksvlak. Dit fokus merendeels, maar nie uitsluitlik nie, op regstekste, omdat hierdie tekstipes berug is vir hul ontoeganklikheid en ondeursigtigheid, veral vir niespesialislesers. Gewone taal: ’n Oorsig het dit ten doel om gewone mense te bemagtig en sodoende hulle basiese reg op toegang tot inligting te verwesenlik. Amanda Marais het met Eleanor gesels.
Eleanor Cornelius se Gewone taal: ’n Oorsig is vanjaar deur African Sun Media gepubliseer. (Foto's: verskaf)
Eleanor, wat presies is gewone taal? En waar kom hierdie begrip vandaan – internasionaal en dan ook in Suid-Afrika?
Kom ek begin met die tweede gedeelte van die vraag.
Hoewel daar maklik gedink kan word dat gewone taal ’n moderne verskynsel in die inligtingsera is, is daar alreeds in die orale kulture van die Grieke en die Romeine oproepe gedoen vir die gebruik van taal wat verstaanbaar is. In die meer moderne geskiedenis word alom aanvaar dat gewone taal in 1953 pertinent in die kollig gekom het toe Stuart Chase die “goobledygook” wat in tekste gebruik word, in sy boek The power of words sterk gekritiseer het. In die tweede helfte van die 20ste eeu, veral vanaf 1960, het die sogenaamde gewonetaalbeweging wêreldwyd in plekke soos die VSA, Kanada, Brittanje, Australië, Nieu-Seeland, Europa, Indië, Singapoer en Hongkong vlam gevat.
Suid-Afrika het eers bykans drie dekades later tot hierdie beweging toegetree, toe die land in 1994 ’n demokrasie geword het. Voor 1994 was gewone taal nie ’n prioriteit in byvoorbeeld regspleging, die gesondheidsorgsektor of die finansiëledienstesektor nie. Die Grondwet en die demokratiese ideale daarvan het ’n teelaarde geskep vir die herevaluering van die regering se taalbeleid en die wyse waarop daar met kwesbare landsburgers gekommunikeer word. Ander belangrike wetgewing wat net voor die Grondwet in werking getree het, is reeds ooreenkomstig gewonetaalbeginsels opgestel. Ek dink hier aan die Wet op Arbeidsverhoudinge. Internasionale kundiges het die Grondwetlike Vergadering van advies bedien oor die bewoording van die finale Grondwet, wat ook in veel meer toeganklike taal geskryf is as wat gewoonlik in wetgewing die geval is, of was. Mag ek net noem dat Suid-Afrika se omskrywing van gewone taal in die Nasionale Kredietwet van 2005 en die Wet op Verbruikersbeskerming van 2008 wyd geloof word – veral internasionaal – vir die omvattendheid daarvan.
Goed, wat is gewone taal dan? Daar is ’n magdom omskrywings daarvan, maar as ek dit kortliks moet saamvat, is gewone taal duidelike en helder taal wat min kognitiewe inspanning van die leser (of hoorder) vereis en wat dadelik verstaanbaar is by die eerste lees (of aanhoor) daarvan. Dit neem die opvoedingspeil en ervaring van die leser (of hoorder) te alle tye in ag.
Vertel vir ons hoe werk gewone taal. Is dit net makliker en eenvoudiger woorde wat ingespan word, of word ander vlakke van taal ook betrek? Kan jy dalk ook vir ons voorbeelde gee van gewone taal in aksie?
Gewone taal werk op alle taalvlakke: woordvlak, sinsvlak, teksvlak en tipografiese vlak. Van hier af aan fokus ek op geskrewe tekste in my antwoorde.
Ek begin met woorde. Natuurlik is die gebruik van kernwoordeskat – teenoor randwoordeskat – ’n belangrike vereiste. Dit hou in dat woorde wat ’n hoër gebruiksfrekwensie het, verkies word bo woorde met ’n laer gebruiksfrekwensie, byvoorbeeld nuttig eerder as dienstig. Tegniese woordeskat (en dit sluit Latynse of vreemdetaalterme in) moet óf vermy word óf verduidelik word. Ek verkies die laasgenoemde opsie, want dit bemagtig die leser vir die toekoms. As die tegniese term vir die leser toeganklik gemaak word, kan sy dit die volgende keer verstaan en self ook gebruik.
Ek het in ’n dokument wat ek herskryf het, die volgende tegniese terme teëgekom:
Enige verslapping, toegewing of tydverlenging wat deur die kredietgewer aan die kredietopnemer toegestaan word, word nie geag ’n novasie of afstanddoening van die kredietgewer se regte ingevolge hierdie gebruiksvoorwaardes uit te maak nie en dit sal ook nie aanleiding gee tot die uitwerking van estoppel teenoor die kredietgewer nie.
Die gebruik van persoonlike voornaamwoorde (ons en u) het my in staat gestel om die laefrekwensiewoorde kredietgewer en kredietopnemer te vermy. Die regsterme novasie en afstanddoening kon ek vermy deur te verduidelik wat dit behels. Ek het ’n meer toeganklike sinoniem vir estoppel gebruik (wanvoorstelling), maar ook ’n omskrywing van estoppel voorsien.
Indien ons enige bepaling van hierdie ooreenkoms verslap, ’n toegewing maak of aan u uitstel gee, beteken dit nie dat ons afstand doen van ons regte ingevolge hierdie ooreenkoms nie. U sal ook nie kan beweer dat u hierdie ooreenkoms gesluit het op grond van ’n wanvoorstelling nie (sien die omskrywing van “estoppel”* in die woordomskrywing op bladsy 5).
* Estoppel is waar ’n lid beweer dat hy/sy ’n ooreenkoms op ’n wanvoorstelling gesluit het, sodoende skade gely het en XXX dan by sodanige wanvoorstelling wil hou.
Op woordvlak moet die gebruik van komplekse voorsetsels en voorsetselgroepe ook vermy word, omdat hulle dikwels vaagheid in die hand werk. Daar is dikwels ’n simplekse voorsetsel soos in of van wat ’n komplekse voorstelgroep kan vervang. In plaas daarvan om ten behoewe van te gebruik, kan gewoon vir gebruik word. Ruimtebeperkings laat my nie toe om woordvlakkwessies verder te hanteer nie.
Op sinsvlak wil ek net kortliks noem dat dit nie net suiwer daaroor gaan om korter sinne te gebruik nie. Dit veroorsaak dikwels dat die samehang van die teks daaronder ly. Sinslengte moet in ag neem word, maar nie in isolasie van sinskompleksiteit nie. Ander sinskwessies wat aandag moet kry, is byvoorbeeld die lang aanlope wat gereeld in regs- en wettekste voorkom, nominaalkonstruksies, die weglaat van betreklike voornaamwoorde in betreklike konstruksies (wat uitermate inspanning kan veroorsaak) en veelvuldige negativering.
Ek gee een voorbeeld van hoe ’n lang én komplekse sin herskryf kan word.
In terme van die kredietgewer se beskermingskema aanvaar die kredietopnemer dat hy teenoor die kredietgewer aanspreeklik sal wees vir enige betalings wat deur die kredietgewer gedoen is of wat die kredietgewer verplig is om te doen ten opsigte van of voortspruitend uit enige gebruik van die kaart voordat die kredietgewer redelikerwys in staat is om op te tree na aanleiding van die kennisgewing of voor ontvangs van die skriftelike bekragtiging soos na verwys in klousule 3.2.
Voordat ek wys hoe ek die sin herskryf het, wil ek net daarop wys dat die teksredigeerder tydens herskrywing nie net aan een taalvlak aandag kan gee nie. Dit is sinloos om die uitermate sinslengte te probeer hanteer sonder om ook aan woordeskat- en ander kwessies aandag te gee. Die teksredigeerder werk dus gelyktydig op veelvuldige vlakke.
U is aanspreeklik vir enige betalings vir transaksies met u kaart totdat u ons skriftelik in kennis stel dat u kaart weggeraak het, gesteel is of ongemagtig gebruik is of word en ons dan in staat is om op te tree.
Dit is vir my moeiliker om hier te demonstreer hoe daar op teksvlak te werk gaan, omdat ruimte beperk is. Ek kan bloot noem dat die teksredigeerder op hierdie vlak – die makrostrukturele teksvlak – daaraan moet dink om inhoudsopgawes en oorsigte (of opsommings) vir langer tekste te voorsien, om ’n woordomskrywingsgedeelte in te sluit, om beskrywende titels en opskrifte te gebruik, om aandag te gee aan die inhoudelike struktuur van paragrawe, om inligting logies te plaas, om voorbeelde te verskaf wat die leser help om ’n abstraktheid te snap, om nommering te gebruik wat eenvoud en helderheid in ’n teks verhoog, om items wat gelys word, vertikaal aan te bied, en om kruisverwysing sover moontlik te vermy.
Wat die tipografiese vlak betref, moet lettertipe, lettergrootte, reëllengte, interlinies (die vertikale afstand tussen reëls), en die gebruik van justering (geblokte teks) en oop ruimte op die bladsy in ag geneem word. Ons moet onthou dat lesers nie net sukkel met ontoeganklike taal nie; die leesbaarheid van ’n teks word ook beïnvloed wanneer té klein letters of lettertipes wat moeilik lees – en dekodering bemoeilik – gebruik word.
Dit is ongelukkig so dat Afrikaans haar hoëfunksietaalstatus in verskeie kontekste grootliks verloor het. Kan gewone taal help om hierdie situasie te verbeter?
Afrikaans is ongelukkig inderdaad haar status as hoëfunksietaal grootliks kwyt. Ons moet wel onthou dat Afrikaans steeds die derde grootste huistaal is wat deur 12,2% van die bevolking gepraat word. 9,7% van die bevolking praat Afrikaans buite die huis. Die taal word in ’n mindere of meerdere mate deur alle bevolkingsgroepe gebruik. Afrikaans word gereeld in die howe gebruik, veral waar getuies en beskuldigdes byvoorbeeld nie Engels (goed) magtig is nie. Hierbenewens is Afrikaans ook ’n gevestigde wetenskapstaal. Ons moet dus nie vergeet of ontken dat Afrikaans tog steeds wyd gebruik word nie.
Hoewel Afrikaans al hoe minder vir hoër funksies gebruik word, kan die gebruik van gewone taal wel ’n groot bydrae lewer tot die verdere wyer gebruik van die taal. Indien daar met Afrikaanssprekendes gekommunikeer word in taal wat hulle geredelik kan verstaan, en konstruksies gebruik word wat nie uitermate kognitiewe inspanning vereis nie, sal al hoe meer mense geneig wees om belangrike dokumente te lees wat hulle lewens en lewenskeuses kan beïnvloed. Dit sal dan meebring dat hulle ingeligte besluite kan neem oor hulle en hulle kinders se lewens, en dalk ook dié van hulle bejaarde ouers; dat hulle meer geneig sal wees om aan demokratiese en politieke prosesse deel te neem; en dat hulle voel dat hulle ingesluit word. Dit is dus belangrik dat mense hulle taalregte moet opeis – taalregte wat in die Grondwet verskans word – en nie bloot aanvaar dat alles in Engels moet wees nie. Afrikaanssprekendes is gelukkig gewoonlik nogal gesteld op hulle taalreg!
Steven Pinker spreek in sy boek The sense of style: The thinking person’s guide to writing in the 21st century skerp kritiek uit teen ontoeganklike taalgebruik, wat hy onder meer “academese”, “bureaucratese” en “legalese” noem. Hy meen dat ontoeganklike taalgebruik dikwels ’n manier is om die feit te verdoesel dat jy nie juis iets te sê het nie: Jy klínk so (onverstaanbaar) geleerd dat niemand dit waag om jou te bevraagteken nie. Dink jy dat gewone taal die teenmiddel vir hierdie probleem van ’n kaal keiser is?
Hierdie vraag hou verband met die kritiek wat gereeld teen die gebruik van gewone taal geopper word. Die kritiek kom gereeld vanuit regsgeledere. Regsgeleerdes staan gereeld daarop dat regstaal is wat dit is, omdat die reg presies en ondubbelsinnig moet wees; derhalwe die noodsaak om tradisionele style en regsjargon te gebruik. My siening hiervan verskil: Die gebruik van gewone taal werk juis vaagheid en ondubbelsinnigheid teë.
Ek sien gereeld in my werk as dosent hoe mense van ontoeganklike taal gebruik maak, en die redes hiervoor is wyd uiteenlopend. Ek ervaar hoe studente van hoër registers in hulle skryfwerk gebruik maak: eerstens omdat hulle glo dat dit is wat van hulle verwag word, maar tweedens – en meer gereeld – omdat hulle self nie seker is van dit wat hulle probeer oordra nie. Dit is moontlik om deur jou verhewe taalgebruik jou eie onkunde te versteek en vaagheid by jou leser te veroorsaak. Gewone taal is duidelik, helder, ondubbelsinnig en verstaanbaar – daar is weinig geleentheid om iets weg te steek.
In my navorsing het ek al kontrakte gesien wat geweldig lank is en klousules bevat wat teenstrydig is. Die rede hiervoor is dat daar dikwels klousules bygevoeg word sonder om bestaande klousules wat dalk uitgedien of verouderd is, te verwyder. Dit is dus duidelik dat sulke kontrakte nié ondubbelsinnig is nie, en die argument oor akkuraatheid, duidelikheid en ondubbelsinnigheid hou dus nie steek nie.
In die literatuur word daar dikwels onderskei tussen leesbaarheid en verstaanbaarheid. Wat is hierdie twee begrippe presies, en hoe kan gewone taal veral verstaanbaarheid aanhelp?
Twee konsepte wat van belang is vir gewone taal is leesbaarheid (Engels: readability) en verstaanbaarheid (Engels: comprehensibility). Ek onderskei soos volg tussen die twee. Ander navorsers mag moontlik met my verskil.
Leesbaarheid het te make met hoe maklik of moeilik dit vir ’n leser is om ’n teks te dekodeer; met ander woorde dit wat lesers gewoonlik met onder-na-bo-prosessering inneem. Die leser kan die letters onderskei en die woorde herken – en probeer om op hierdie manier betekenis van die teks te vorm. Ongesofistikeerde of ondoeltreffende lesers lees gewoonlik so. Hulle neem dít in wat op papier (of die skerm) aan hulle aangebied word, stukkie vir stukkie in. Die leesproses is egter sodanig dat sulke lesers nie die groter prentjie van die teks kan sien nie en dus sukkel om die teks in die geheel te verstaan. Dit herinner aan hoe jong kinders leer lees: Hulle vorm die klanke en volg die teks met die vinger, van een letter na die volgende letter totdat hulle die woord kan herken. Maar dikwels as hulle gevra word wat hulle gelees het, kan hulle nie sê nie, want hulle het al hulle kognitiewe energie vir dekodering gebruik.
Verstaanbaarheid word geassosieer met interpretasie. Prosessering in hierdie geval is van bo na onder. Dit beteken die leser bring haar voorkennis, domeinkennis en verwagtinge na die teks en hierdie kennis word dan in verband gebring met dit wat in die teks aangebied word. Die teks self dra nie betekenis nie, maar die leser lei betekenis uit die teks af. Die leser lees nie woord vir woord nie, maar vinnig en doeltreffend. Sy reageer op wenke in die teks en vorm hipoteses oor wat verder in die teks gaan volg. Bo-na-onder-prosessering kenmerk die leesproses van vaardige en doeltreffende lesers wat die groter prentjie van die teks, en die boodskap wat in die teks oorgedra word, verstaan. Hulle spandeer min kognitiewe energie aan dekodering, wat meer as genoeg hulpbronne beskikbaar laat om betekenis van die teks te vorm.
Teksredigeerders moet van hierdie belangrike onderskeid kennis neem. Die tekste wat hulle redigeer, moet genoegsaam wenke gee wat selfs die ongesofistikeerde lesers se moontlik gebrekkige voorkennis kan aktiveer (deur eksplisiete inligting in die teks aan te bied) – dit kan help met begripsvorming wat nie net op dekodering neerkom nie.
Kan gewone taal help om mense te bemagtig, en indien wel, hoe sal dit gebeur?
Die grootste voordeel van die gebruik van gewone taal is die bemagtiging wat dit meebring. Met gewonetaalgebruik word ’n besondere sosiale agenda nagestreef wat aan alle landsburgers, maar veral ook die kwesbares onder ons, agentskap gee om aktiewe deelnemers te word in sake wat hulle raak, op alle vlakke van die samelewing. Hulle is dus nie passiewe toeskouers op die rand van die samelewing nie. Dit hou in dat hulle ingeligte besluite kan neem oor belangrike aangeleenthede wat hulle lewens regstreeks raak. Ons moet nooit vergeet dat toegang tot inligting ’n basiese mensereg is wat in die Grondwet verskans is nie – ons demokrasie berus daarop.
Vertel ons asseblief hoe jy dink die boek gebruik moet word; met ander woorde, wat sou vir verskillende groepe lesers die beste manier wees om die boek te ontsluit?
Amanda, hoe die leser die boek gaan gebruik, gaan baie afhang van haar doel. Die boek het ’n wye lesersgehoor, wat insluit voor- en nagraadse studente, akademici/navorsers, taalpraktisyns wat in taalkantore in diens is, vryskutters, regspraktisyns, skryfinstrukteurs en skrywers. Uit die aard van die saak sal dit goed wees as die gebruiker die boek van begin tot einde deurlees. Maar ek gee toe: Die boek is lywig en omvattend. Nie almal stel noodwendig belang in die historiese ontwikkeling van die gewonetaalbeweging plaaslik en elders nie, of in die verhouding tussen gewone taal en vertaling nie. Hierdie temas word in die eerste deel van die boek behandel. Die eerste deel van die boek bevat wel ’n nuttige kontrolelys vir gewone taal en ontwerp; dit word in hoofstuk 5 aangebied en gee aan die gebruiker van die boek praktiese leiding hoe om die gewonetaalprojek aan te pak. Dit is ’n onontbeerlike hulpbron wat elke gebruiker wat haar hand aan gewone taal wil waag, móét raadpleeg. Die tweede deel van die boek het ’n sterk teoretiese inslag. In hierdie deel verduidelik ek waarom mense soms leesprobleme ervaar en watter metodes gebruik kan word om tekskwaliteit en leesbaarheid te bepaal. Ek bespreek ook watter probleme op verskillende vlakke kan voorkom: op woord-, sins- en teksvlak (wat tipografie insluit). Indien die gebruiker van die boek nie daarin belangstel om te verstaan watter konstruksies en konvensies vir lekelesers probleme veroorsaak nie, sal sy dit moeilik vind om nie te verval in geykte maniere van skryf nie. Die grootste waarde van die boek is in die baie toepassings wat in die derde deel voorkom. Ek maak gebruik van outentieke tekste, of uittreksels uit tekste, en demonstreer dan aan die hand hiervan hoe die beginsels van gewone taal toegepas kan word: weer op woord-, sins-, teks- en tipografiese vlak. Gebruikers van die boek sou dus reeds baie waarde uit die boek kry as hulle net die laaste deel bestudeer.
Eleanor, waar kom jou belangstelling in gewone taal vandaan – wat was die aanvanklike prikkel wat jou hierdie terrein laat betree het?
As jongmens het ek vir ’n paar jaar as vertaler van regstekste vir die staat gewerk. Ek het min ervaring van hierdie soort tekste gehad en dus maar baie gesukkel met die vertaling daarvan, omdat die taalgebruik in die brontekste so geweldig eiesoortig en vreemd was. My mentor, Tom MacLachlan, het telkens my werk nagegaan. Gereeld was my hele vertaling vol merkies, strepies, pyltjies, invoegings en weglatings, wat my natuurlik verleë laat voel het! Maar gou het ek agtergekom dat regstaal eintlik baie voorspelbaar, resepmatig en formuleagtig is – en as jy eers die "kode" gesnap het, is dit makliker om ’n goeie doelteks te lewer. Met verloop van tyd was daar al minder en minder strepies, pyltjies en merkies in my vertalings. Volgehoue blootstelling aan die oënskynlike vreemdheid en eiesoortigheid van regstaal het my myself die vraag laat afvra: As ek, met al my goeie opleiding en kwalifikasies, vir so lank gesukkel het met die vertaling van hierdie ekstreme variëteit, hoeveel te meer sal die breë bevolking nie begripsprobleme met sulke tekste ervaar nie? Dit was goed 25 jaar gelede. En steeds is dit ’n studieveld wat ek nog nie by benadering met my navorsing uitgeput het nie.
As navorser lewer jy ’n belangrike bydrae tot die teoretiese onderbou van gewone taal. Vertel ons dus asseblief meer oor jou akademiese benadering tot hierdie terrein?
Ek het eenkeer, in ’n heel ander konteks, ’n werkswinkel oor gewone taal bygewoon. Ons moes kort teksgedeeltes herskryf deur van makliker woorde en korter sinne gebruik te maak. Aan die einde van die werkswinkel het ons ’n lysie van konstruksies gekry wat aanbeveel word: Gebruik makliker woorde, skryf in die aktiewe vorm, vermy die passiefkonstruksie en gebruik aksiewoorde. Ek het die lysie in die asblik gegooi, omdat dit geen teoretiese onderbou gehad het nie en geen verduidelikings gebied het vir waarom hierdie konstruksies aanbeveel word nie. As jy die frase “plain language” gaan naslaan op Google, sal jy afkom op resepte vir duidelik skryf. Selfs van die boeke wat in die buiteland, en plaaslik, oor die onderwerp uitgegee word, is baie prakties, maar daar is min akademies-teoretiese begronding vir die uitsprake wat gemaak word en die riglyne wat gegee word. Ek het in my doktorale navorsing ’n teoretiese raamwerk gebruik wat sterk op die tekslinguistiek berus en kon ’n akademiese tuiste vir gewone taal in hierdie veld uitgrawe. In die buiteland en hier plaaslik is gewone taal baie bepaald ’n praktiese toepassingsgebied en daar is mense wat ongelooflike werk doen. My bydrae is om aan gewone taal ’n teoreties-akademiese inslag te gee wat dit verder ontwikkel as ’n veld wat waardig is van robuuste navorsing vanuit verskillende perspektiewe. Toenemend begin nagraadse studente hierdie veld betree. Dit is vir my goed, want dit beteken meer mense kan toetree tot diskoerse op hoër intellektuele vlakke oor lees, skryf, begrip, agentskap, toegang tot inligting, en alles wat met gewone taal verband hou.
In watter domeine is die gebruik van gewone taal die nodigste?
My eerste antwoord is: in alle domeine. Dit sluit in die gesondheidsorgsektor (wat die farmaseutiese bedryf insluit), die regspleging en natuurlik die howe, die finansiëledienstesektor, die onderwys, die kerk, die staat (elke enkele staatsdepartement moet duidelik en ondubbelsinnig met die bevolking kommunikeer), die toerismebedryf, die bemarkingswese, wetenskapsbeoefening (veral waar die bevindinge van belangrike navorsing aan leke gekommunikeer word) en die media. Die lysie is sekerlik nie volledig nie. Enigiemand wat vir ander skryf, moet die beoogde leser in gedagte hou en belangrike vrae vra oor die leser se opvoedingspeil, motivering om die teks te wil lees, haar voorkennis oor die onderwerp, die doel waarmee sy moontlik lees, haar taalkundige en leesvermoë, en selfs die gemoedstoestand waarin sy moontlik kan wees wanneer sy die teks lees. ’n Omvattende profiel van die beoogde leser is van wesenlike belang vir die suksesvolle gebruik van gewone taal.
Lees ook die volgende interessante artikels deur Eleanor Cornelius:
In LitNet Akademies: “Sinskonstruksies kenmerkend van Afrikaanse regstaal”.
“Die benutting van leserskommentaar by die herskryf van ’n verbruikersdokument in gewone Afrikaans”.
Haar bydrae tot ons Vierde Nywerheidsrewolusie-seminaar: “Wat sou die impak van die Vierde Nywerheidsrewolusie op vertaling en tolking kon wees?”
The post Gewone taal, asseblief, sodat kwesbares ook verstaan appeared first on LitNet.
Annelie Botes se nuwe boek, Voetstoots, bundel van haar beste rubrieke oor dekades heen. Dit is duidelik dat sy, soos Bart Nel nog hý was, nog steeds sý is, hierdie lesersliefling. Sy lok allerweë bewondering uit vir die prontuit manier waarop sy ʼn spyker op die kop slaan, die helderheid van haar skrywes. Sy noem ’n graaf ’n bleddie graaf. Die wag voor haar mond is AWOL en sy skroom nie om haarself in al haar onvolmaakte menslikheid te wys nie, soos haar destydse dobbelverslawing. Sy was al in die moeilikheid oor ’n onbesonne politieke uitlating, maar deesdae kners sy op haar tande en skryf oor die dinge rondom haar. Sy is orrelis van formaat. Ons was al saam met haar deur casino’s, bloedskande, sabbatsreis en ’n bargvaart, onder andere. Altyd plaas sy ’n mens vierkantig in die raam.
Sy beantwoord vrae met haar kenmerkende gebrek aan skroomvalligheid en voorgee.
Deborah Steinmair het die onderhoud gevoer.
Jy het geskryf jou ouers het hoë eise aan jou gestel en jy het daarom nooit geleer hoe om te verloor nie. Het jy intussen geleer, of was dit nie nodig nie?
Niémand hou daarvan om te verloor nie. Dis afbrekend vir die psige. Wat ek dubbeld en dwars geleer het, is om, alhoewel teësinnig, te aanvaar wanneer ek verloor. Maar ek moet die innerlike sekerheid hê dat ek nooit my eie beginsels mag verloor nie.
Jy skryf dat jy nie van vrouebidure hou nie omdat daar altyd geskinder word. Dink jy mans skinder minder?
Dalk nie minder nie, maar mans skinder oor ander dinge. Politiek, rugby, vroumense, geld, karre. Maar hulle geskinder, as jy dit so kan noem, is minder giftig.
Jy skryf oor “opskeploerders”, spongers, parasiete. Dink jy mense herken hulleself soms in jou skrywes? Dit lyk nie asof dit lesers afskrik nie.
Ek dink tog so. Maar dit skrik hulle nie af nie, want in die oë van sulke bloedsuiers is dit altyd iemand anders wat buite orde is. Nooit húlle nie.
Jy skryf baie oor die Gryse. Is daar ooit reperkussies van mense oor wie jy skryf en indien wel, hoe hanteer jy dit?
Die Gryse wil my gereeld hof toe sleep. Maar hy weet hy sal die regskoste moet betaal, so hy los dit eerder. Omdat ek oor ware mense en ware situasies skryf, en dié mense meesal by hulle regte name noem, hoor ek nogal gereeld van lesers wat ook vir sus en so ken. Of wat teenwoordig was toe dit of dat gebeur het. Maar in al die lange jare het niemand my nog ooit uitgedinges daaroor nie. Dalk wóú hulle, maar omdat dit feitelik korrek is, weet hulle dat hulle nie regtig ’n redenasie het nie.
Vertel van die Rio Abajo Rio, die rivier onder die rivier uit Women who run with the wolves en hoe jy daarby uitkom?
Each woman has potential access to Rio Abajo Rio, this river beneath the river. She arrives there through deep meditation, dance, writing, painting, prayermaking, singing, drumming, active imagination, or any activity which requires an intense altered consciousness. A woman arrives in this world-between-worlds through yearning and by seeking something she can see just out of the corner of her eye. She arrives there by deeply creative acts, through intentional solitude, and by practice of any of the arts. (Clarissa Pinkola Estés)
Die Engelse aanhaling sê alles. Die tragedie is dat vroue, én mans, soms verbasend onbewus is van die bestaan van so ’n innerlike rivier. Nog minder is hulle bewus dat hulle riviermond verstop is, en dan drink en drink hulle maar weer en weer die vergiftigde waters. En hulle word sieker en sieker. In ’n poging om gesond te word, vang hulle groter nonsens aan. Drink dit weg. Eet hande vol pille. Het affairs. Maak skuld. Speel sosiale vlinder. Vorm klieks. Word buitensporig-oppervlakkige bekeerdes. Dis nié die oplossings of antwoorde in die mens se tye van donker dale nie. Om die innerlike rivier skoon te kry van slik en rietgroeisels en dooie visse is eindelose harde werk. Dis moeilikste deel daarvan is selfeerlikheid. Dáárvoor sien hulle nie kans nie.
Jy noem ʼn ding by die naam, soos jou pisbuis waarop die predikant staan toe hy siekbedbesoek in die hospitaal doen. Kry jy ooit klagtes oor sulke woorde, of is mense verlig dat jy dinge namens hulle verwoord?
Ja, daar was oor die jare heen hier en daar mense wat gekla het. Maar dis dun gesaai. Solank ék voel die woord is in konteks gebruik, probeer ek om sonder pretensies te skryf. Daardie asprisgat-predikant het my bloed gesoek, en hy het vir my ’n brandende pyn veroorsaak. My gemoedstoestand was ontstoke. Ek wóú hom skok, sodat hy kan padgee.
Jou rubrieke is dikwels uitwysend (dit druk die vinger op die sweer) eerder as opbeurend. Is dit jou missie?
Dis nooit opbeurend om aan ’n pitsweer te druk nie. Inteendeel, dis pynlik. Maar omdat ek nie ’n vrou is wie se oggend- en aandpraatjies verskil nie, staan ek soms verstom oor hoe mense se lewensreëls en oortuiginge kan wipplank ry. Dan wonder ek hoe kry hulle snags sonder gewetenslas geslaap. My hoofmissie is om sélf rustig te kan slaap.
Hoe op aarde kry jy jaar na jaar soveel om te sê?
’n Mens moet oplettend wees oor wat rondom jou gebeur. Elke dag het sy eie klein tablo’s wat op sypaadjies, in winkeltoue, by restauranttafels, in die verkeer afspeel. As jy dit nie raaksien nie, en ook nie daaroor nadink nie, sal jy niks hê om oor te skryf nie.
Rubrieke is ook soos gedigte: Jy het ʼn enkele helder beeld of metafoor nodig, dan loop dit, lyk dit my. Soos die geheue wat soos ʼn konsertinasoetkys is. Wanneer val die idees jou gewoonlik by?
As iets my emosioneel aanraak, word dit soos die gedrup van ’n lekkende dak in my kop. Hetsy vreugde, woede, frustrasie, verdriet, skok of walging. Wanneer ek emosioneel afstandelik staan van iets, skryf ek bitter moeilik daaroor.
Ek lees van Hermaans wat moes buk vir die poets met die kat se stert. Is jy steeds ʼn poetsbakker?
Ek sal nie daarop roem dat ek ’n wafferse poetsbakker is nie. Maar ek hou van lag en stout en ondeund wees.
Hoe het dit gekom dat jou dogter ʼn swart pop gehad het?
Ons het daardie tyd nog in Bedford gebly en is kort voor Kersfees Port Elizabeth toe vir Krismiskoop. Toe is al die Germaanse slaappoppe uitverkoop. Toe kry sy ’n Xhosa-babatjie genaamd Beauty. Want in haar onleesbare briefie aan Vader Krismis het sy ’n pop geteken. Ek kon die kind mos nie teleurstel nie.
Ek sien jy het einde verlede jaar nog die poskantoor gebruik om boeke te versend. Doen jy dit nog?
Net vir oorsese pakkies. Sedert die inperking begin het, gebruik ek net Aramex-koeriers, wat op lesers se voorstoepe aflewer. Hulle diens is betroubaar en blitsig.
Jy hou van aanhalings uit ou Afrikaanse gedigte. Het jy dit gememoriseer, is dit deel van jou binnegesprek?
Daar is ’n musikaliteit in ou Afrikaanse gedigte. Dis selde dat ek ’n volle gedig memoriseer, maar sedert my hoërskooljare kan ek talle grepe in my slaap opsê. Alhoewel ek nie ’n kerkmens is nie, kan ek ewe veel Bybelgrepe resiteer. Op ’n keer wou ek by die Gryse geld leen. Toe sê hy botweg nee. En net daar in die kombuis slaan ek oor na die Klaagliedere van Jeremia (4:3) en sê vir hom: “Selfs ’n jakkals gee vir sy kleintjie die speen en laat hom drink ...” Toe leen hy maar die geld vir my.
Jy huiwer nie om jouself te beswadder nie. Dink jy dit is deel van jou gewildheid, dat mense kan identifiseer omdat dit eg is?
Of ek gewild is, kan ek nie sê nie. Baie mense hou nie van my nie, omdat ek nie iets soos grysland ken nie. En omdat ek gladweg in bleddie ongeskikte tale kan praat. Maar ek is nie blind vir my eie foute nie, en erken dit sonder skroom. Om jou eie swakhede te verbloem, is ’n las wat jy op jou skof laai. Ek dink mense hou daarvan om te sien die aarde hou nie op met draai as jy ’n fout begaan nie.
Leen jy nog boeke uit?
Ja, maar nie aan enige Jan Rap en sy maat nie. En ek teken aan wat ek uitleen. En ook die datum waarop dit terug moet wees, soos bepaal.
Lees jy ander mense se rubrieke en wat maak ʼn rubriek volgens jou geslaagd?
Ja, ek lees gereeld ander mense se rubrieke. Maar rubrieke wat vir my geen prentjie teken nie, en in stywe akademiese taal geskryf is, verveel my tot die dood. So, wat myself aanbetref, glo ek uitbeelding en leesbaarheid maak ’n rubriek geslaagd.
Wanneer skryf jy – het jy ʼn vaste roetine?
By Hettie Scholtz het ek báie geleer, en een van die dinge was: “Not a day without a word.” Maar ek het geen vaste roetine nie. My vrugbaarste skryftyd is in die nag, want dan is daar min onderbrekings en my gedagtes kan vloei. Ek hou van die knusheid van my lessenaarlamp en my sagte vlieskamerjas, en om in die donker van die kleinnag te gaan melkkoffie drink op ons stoepie.
Dit lyk nie asof jy jou veel uitspreek oor die regering en die stand van sake in die land nie. Is dit moeilik om stil te bly?
Hel moeilik. Soms jeuk ek soos iemand wat rooihond het. Maar ek weerhou my. Want as ek afblaas, kan dit ’n groot stoombol afgee. Deesdae lag ek in my mou oor iets wat doer in 2012 gebeur het. Swart op wit, wat seker beskryf kan word as ’n politieke boek, is daardie tyd afgekeur vir publikasie by Tafelberg. In die eerste draft van die boek het ek iets geskryf oor die buitelandse pers wat Jacob Zuma beskryf as ’n nar. Toe sê die keurder in die uiters negatiewe keurverslag: “... boonop praat sy sleg van meneer Zuma.” Vandag wonder ek stilletjies of hy wens hy kan daardie woorde terugtrek.
Jy laat jouself geld, maar is sekerlik nie ʼn feminis nie. Soms voel dit vir my asof jy ʼn ongeduld, ʼn geïrriteerdheid met vroue het – jy het byvoorbeeld ʼn koerantberiggie bewaar van ʼn Algerynse man wat tronkstraf verkies het bo huisarres saam met sy praatsieke vrou. Is dit waar, die ongeduld/geïrriteerdheid?
Ek is geïrriteerd met énige mens wat lieg, bevark, grootpraat en ’n gebrek aan basiese waardes het. Wat my die meeste irriteer van spesifiek vroue, is wat in die reeds genoemde Women who run with the Wolves beskryf word as “overladylikeness”. Die pruilmond. Die oordrewe uitspreek van woorde. Die allerheilige plastiekmondering.
My ma het altyd gesê: “Soos die ma is, só sal die huis en die kinders wees.” Ek raak sielsongeduldig met vroue wat dink hulle kinders is engeltjies met sjiffonvlerke, maar kennelik leer sy hulle nie wat is goeie maniere nie.
My volgende irritasie is met vroue wat in verkleinwoordjies praat. Soos: “Mooi daggie vir jou”; “Ek het vir die arme mensie in die hospitaal ’n bossie rosies geneem”; “Geniet die nawekie ...”
Ek raak ook erg krapperig met vroue wat oor niks anders as hulle mans se siekte en hulle opvreetbare hondjie en winkel specials en al hulle operasies en pille kan praat nie.
Maar in dieselfde asem het ek groot meelewing en deernis met vroue wat probéér, al kry hulle nie die Victrix Ludorum nie. Daar is min dinge so aangrypend soos ’n vrou wat haar opdraandes met ’n regop rug stap.
Die Bybel en ʼn woordeboek het jou lief gemaak vir lees, skryf jy. Watter boeke sal jy gryp as jou huis afbrand?
Ons het ’n A4-hardebandboek in onse huis, kompleet met inhoudsopgawe. Ons noem dit ons Lewensboek. Dit word áltyd op dieselfde plek gebêre, en daarin word alle belangrike inligting aangeteken. Bankbesonderhede. Polisse. Administratiewe telefoonnommers, adresse en e-pos-adresse. Besonderhede van ons mediese en pensioenfonds. Waardasies. Geplakte afskrifte van ons ID-kaarte, paspoorte, bankkaarte, motorpapiere, testament, kaart en transport van ons huis. Ons kinders se lewensdinge. Ek sal ons Lewensboek gryp.
The post Annelie Botes en Deborah Steinmair gesels oor <em>Voetstoots</em> appeared first on LitNet.
Titel: Skepsel
Skrywer: Willem Anker
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795802171
Willem Anker antwoord Naomi Meyer se vrae oor Willem se jongste boek, Skepsel.
Willem, Skepsel is vir my ’n boek wat handel oor die verhouding van alle skepsels met mekaar. Die mens in die kosmos, die kosmos met die mens, en die mens as skepsel en sy verhouding met mensgemaakte skepsels. Wat sou jou beskrywing wees as ek jou die konvensionele vraag sou vra: Waaroor handel hierdie boek van jou?
Vir my het dit in die eerste plek gegaan oor drie mense in verhoudings wat hul menswees op verskillende wyses uitdaag. Ek wou hulle bestudeer, en dan wou ek in-zoom en uit-zoom.
Waarheen neem jy ons doodgewone, organiese, vlees-en-bloed-skepsels met jou jongste Skepsel? Hierdie is die plekke waarheen jy my geneem het: ’n wêreld waar ek, die leser, wonder of ek self die kamera is in sekere verfilmbare tonele (die tweedepersoonverteller), waar ek besef alles in jou Rebecca-karakter (die derdepersoon) se lewe is eintlik nie so verbasend ongewoon nie (die voorskriftelike GPS, selfs die slimhuis), en ook iewers buitelands en buitewêrelds: die yswêreld van jou eerstepersoonverteller.
Dit sal wonderlik wees as die boek lesers na plekke kan neem. Terwyl ek geskryf het, moes ek soms ver weg gaan, en soms baie naby kom.
Het die stories almal gelyk by jou opgedaag? Het jy vooruit geweet wat gaan gebeur? Hoe werk jou beplanning en jou roetine?
My werkgewer, US se Departement Afrikaans en Nederlands, het my heelwat navorsingsverlof gegun, so ek kon groot dele van die boek voltyds skryf. Ek het probeer om vyf of ses dae ’n week nege tot vyf te werk, in ’n kantoor wat ek by my buurman gehuur het. Aanvanklik was dit net ’n gelees en notas maak, toe ’n gelees en vingeroefeninge doen, en toenemend het die skryf by die lees oorgeneem soos ek die karakters leer ken het. Daar was talle weergawes wat die een die ander verdring het en later inmekaar gegroei het. Die storie was vooruit beplan, maar planne is daar om van af te wyk. In die agtergrond was daar altyd ’n gated community, vreemde bedolwe goed en ’n olietenker, maar dit was toe Rebecca met haar dooie hande en voete en haar sterwende pa hul verskyning gemaak het dat die ander stukke hulle plek begin vind het.
Selfs die eerste sin in die boek, "vir my ma en vir my pa", lees nou al vir my dubbelsinnig. Wie het wie geskep, wie is die oerteks en wie is wat? Wie is jou karakters, Willem? Praat met my oor al drie die hoofkarakters, asseblief.
Rebecca Maas se verhaal is een van ’n kind wat moet afskeid neem van haar ouers. Sy kom Suid-Afrika toe om te kom omsien na haar pa wat in die laaste fase van kanker is. Hulle verhouding is nie goed nie; sy het nie eens geweet hy is siek nie. Haar ma se dood was ’n keerpunt in haar en haar pa se lewens en ook in hulle verhouding. Haar pa bou vir homself ’n spookhuis.
Fotobron van Svalbard: https://en.wikipedia.org/wiki/Svalbard
’n Argeoloog gaan saam met haar kollega en minnaar, Howard, na Svalbard om te help met die opgrawing van vreemde voorwerpe. Howard verdwyn spoorloos in die poolnag. Terwyl sy en haar ander kollegas probeer sin maak van die vonds wat hulle elke dag minder en minder verstaan, probeer sy ook sin maak van sy verdwyning, hulle verhouding en die verhouding met haar man wat by die huis vir haar wag.
Sulla is ’n kunstenaar wat moeg daarvoor is om in ’n sak vleis vasgekeer te wees. Sulla wil die grense van menswees verken en dan verder gaan. Sulla die cyborg trou met ’n olietenkskip en maak ’n dokumentêr van alles wat die twee op hul wittebroodreis met mekaar aanvang.
Jou newekarakters bied ook heelwat stof tot gesprek. Ek verwys na byvoorbeeld ’n boot, ’n half-mens-half-masjien, ’n potplant, en die beendere van die voorgeslagte. Ek verwys na die swygende aarde wat smelt. Praat met my oor enigeen van hierdie karakters op wie jy wil uitbrei.
’n Olietenkskip is massief en vuil en banaal en asemrowend. Daar is min dinge so konkreet. Daarom het die VLCC Kraken vir my gewerk as karakter. Dit is ’n enorme stuk drywende, voortstuwende metaal wat miljoene liter versapte fossiele oor die see aandra om in motors en vliegtuie en tenks en ander olietenkskepe gepomp te word. Dit is grasieus in dit se onstuitbaarheid. Dit is ’n seemonster. Dit is onweerstaanbaar.
Misdaad in Suid-Afrika: Ons sien dit nie eens meer raak nie, juis omdat dit voortdurend om ons is. Dis genormaliseer. In jou boek, met jou as skrywer (met jou belangstelling/navorsing in mens-masjien-verhoudinge), weet ek jy is bewus van die verhouding wat ons mense met tegnologie het. So nou weet ek ’n GPS is nie net ’n GPS nie, ’n slimfoon nie sommer net ’n slimfoon nie. Dis sosiale kommentaar op alles wat ons nie raaksien nie en moontlikhede van dinge wat nog kom. Is alle boeke deesdae nie dus wetenskapfiksie nie?
Tegnologie is al deel van ons; ons is almal al lankal kuborgs. Soos die wetenskapfiksieskrywer William Gibson tereg gesê het: "The future has arrived — it’s just not evenly distributed yet." Maar die distribusie, die verspreiding van die toekoms is ook belangrik. Vir sommige mense in ons land is misdaad en die toekoms beide die norm, vir ander net misdaad.
Terwyl ek Skepsel gelees het, het ek Samsa-masjien in die teater helder onthou. Waar begin ’n fassinasie – joune met die verhouding tussen mens en masjien – kan jy dit verwoord?
Om oor menswees te dink moet ’n mens dalk ook wyer dink as die menslike – masjinerie, insekte, planete, honde en Styrofoam. Dit is alles deel van die prentjie.
Die “grense van menswees” en insekwording in Willem Anker se Samsa-masjien (2015)
Ek wil jou vra oor die verskillende vertellers. Die tweedepersoonvertelling word selde gebruik. Ek bly by jou betrokkenheid by die teater, want terwyl ek hierdie perspektief lees, het ek gevoel of ek – soms ongemaklik en konfronterend – deel gemaak word van die storie as karakter. Wat was jou doel met spesifiek die tweedepersoonverteller?
Daar is ’n mate van aandadigheid wat die tweedepersoon by die leser skep waarvan ek hou. Ek dink ook dit is hoe Sulla sal praat oor sigself. Dit was boonop ’n maklike manier om dit onnodig te maak om Sulla se geslag te noem in die teks. Daar is vir my verder ’n afstandelikheid in die tweedepersoon wat vir my gepas het by die karakter, asof die karakter sigself waarneem deur ’n lens.
Praat asseblief met my ook oor jou eerste- en derdepersoonverteller-gebruik. Aanvanklik was dit vir my iets om aan gewoond te raak as ek oorskakel van een karakter na die volgende. Later het dit doodgewoon gebeur. Ek het dit as normaal begin ervaar, soos die beweeg van mens en masjien en die ander skepsels onder en tussen mekaar. Maar sekerlik het jy ’n doelbewuste besluit hieroor geneem. Waarom die gegewe soort verteller by elke karakter?
Sulla moes ’n tweedepersoonverteller wees. Rebecca het, as gevolg van die aanvanklik verwyderde (gemedikeerde) manier waarop sy dinge beleef, ook ’n afstandelikheid nodig gehad – vandaar die derdepersoon, maar dan iets nader as Sulla, ’n baie nabye derdepersoon. Die eerstepersoon het sin gemaak vir die argeoloog se innerlike monoloog. Dit was ’n lekker eksperiment en hopelik goed vir die balans van die boek om die vertellers dan in die eerste, tweede en derde persoon te laat vertel.
Jou boek lewer kommentaar op elke aspek van skepsel-wees. Kos wat energie verskaf, verwysing na smaaklike disse. Die teenoorgestelde: maagkanker. Opmerkings en gedagtes van jou karakters wat nadink oor hoe dit sal wees om ’n Boeing te wees, of dalk ’n plant. Jou karakters dink hulle dikwels in die ander/Ander se ervaring in. Natuurlik is daar ook die konvensionele Other: diegene van ’n ander ras, geslag of oriëntasie as die karakter of die leser. Is dit vir jou ook ’n vraag terwyl jy geskryf het – hoe dit is om so anders te wees, en ook: Wie is dan anders, of meer absurd as die ander?
Definitief. Vir my is een van die lekker goed van skryf die verkenning van ander maniere van wees. Om jouself in iemand (of iets) anders se spreekwoordelike skoene te verbeel (want dikwels dra die a/Ander nie skoene nie). Ek dink die verbeelding speel ’n belangrike rol in die vorming van empatie met andersheid van watter aard ook al. ’n Mens moet natuurlik sogenaamde andersheid op ’n verantwoordelike wyse verbeel en probeer om die andersheid van dit en dié wat anders is as jyself te behou, om selfbewus te wees wanneer jy iets van daardie andersheid verken. Ek dink dit is Michel Foucault wat gesê het hy skryf om anders te word. Dis miskien nie die enigste rede nie, maar dis ’n goeie rede.
Ek wil jou vra oor jou karakter "halfpad tussen Noorweë en die Noordpool". Jy was daar, reg? Dink jy jy as skrywer moet jou navorsing gaan doen daar waar die storie is? Hoe het jy geweet om die storie juis daar te gaan soek?
Navorsing is belangrik – om te lees en te kyk wat jy in die hande kan kry, te verbeel, maar indien jy kan, ook die plekke te besoek waaroor jy skryf. ’n Mens kry ’n gevoel vir ’n plek wanneer jy daar is wat jy nie in ’n boek of op ’n dokumentêr kry nie. Ek kon ongelukkig nie by al die plekke waar die boek afspeel, uitkom nie. Pripjat was byvoorbeeld ’n bietjie ver. Soms moet ’n mens maar foto’s en dokumentêre kyk of soos Rebecca in die Google Maps-karretjie klim.
Toe ek Svalbard toe was vir ’n konferensie, het ek nog nie geweet die verhaallyn sou daar afspeel nie. Toe ek vyf dae later daar weg is, kon dit op geen ander plek afspeel nie.
"Ons was ’n span van ag-en-sestig wetenskaplikes, joernaliste en handearbeiders, wat ’n reusagtige en onmoontlike objek, of objekte, ondersoek; nou is ons sewe-en-sestig." Hier is dus ’n doodgewone raaisel. Waar is die een wat weggeraak het? Maar opvallend: Net een individu gee om vir hom wat wegraak. Ook hier keer jy die gewone "die een wat wegraak"-storie op sy kop. Net een gee aanvanklik om as iemand wegraak. Ek sien weer die teaterskrywer aan die werk. Jy het die leser weer ’n karakter in die storie gemaak, want nou gee die leser ook om waar die persoon is wat weggeraak het. Die leser wil soos ’n kind in die teater skree: "Kyk agter jou, daar staan die heks!" Want die akteur op die verhoog sien nie die heks raak nie. Weet nie eens van haar nie. Ek is onseker hoe om hierdie ’n vraag te maak. Lees ek te veel hierin? In hierdie andersoortige raaisel in die boek?
In so ’n vreemde kamp vol mense wat afsonderlike pligte vervul om onverstaanbare goed uit te grou, elkeen reeds vervreemd, sal dit die een die naaste aan jou wees wat jou die eerste mis. Ek het probeer om myself die afgryslikheid daarvan te probeer indink van om in ’n donker, ysige plek te wees, omring deur mense, maar skielik alleen. ’n Nagmerrie waar niemand jou hoor skree nie.
Foto van olietenkskip: Pexels.com
Nog sosiale kommentaar, en hier word die mens-masjien wat getroud is met die masjien se verhouding nogal uiters menslik: "Om getroud te wees, sê jy, beteken nie dat julle mekaar besit nie. Maar dis nie te sê julle is nie besittings nie." Hoeveel voel ’n masjien, en hoeveel ’n mens? Oplaas: Is die intellek of die gevoel enigiets wat mekaar van die ander onderskei? Wat maak ons anders as masjiene, as daar dan so baie ooreenkomste is?
Droom androïede van elektriese skape? het Philip K Dick gevra. Hoe meer wetenskaplike kennis vorder, hoe meer vervaag die ou grense tussen mense, diere, potplante en masjiene. Miskien sal dit lei na ’n ander etiek en politiek sou ons meer op die ooreenkomste as die verskille begin fokus.
Aardverwarming is ’n tema. Daar is ’n kyk na die verlede se beendere en ’n toekomsblik – die amper-futuristiese van tegnologie, en wat daarmee verband hou: wat die menslike skepsel aan die aarde aangevang het. Het jou eie opgrawings en navorsing jou nie diep ontredderd laat voel nie?
Vir seker. Dan het ek geweet ek is op die regte pad. Maar ook op pad na ’n ander kant uit. Ek hou van onder andere Timothy Morton se idees rondom hoe om te leef ná die einde van die wêreld, wyses van om in die gemors voort te leef: iets melankolies en speels.
Kan ’n mens so goed sien dat die aarde smelt soos wat mens kan hoor as ’n plant jou aanspreek en met jou gesels in die taal wat jou menslike oor verstaan? Het jy dit so beplan, of wat was jou gedagte agter die plant wat nie net passief toekyk nie?
Ek het gehou van die absurditeit van daardie uitvindsel. (Die pratende plantpot is geskoei op ’n bestaande patent.) Daar was ’n paar redes hoekom die kletsende potplant daar moes wees, maar miskien veral vir ’n bietjie comic relief in ’n huis vol siekte en spoke.
"Dit is ’n koel dag vir Januarie. Daar is 17 mense dood aan die virus, 550 geïnfekteer. Wuhan in kwarantyn, geen vlugte of treine in en uit nie." En toe kom Covid. Mens-dier-verhoudings, soos mens-plant-verhoudings. Hoe spesies oorkruis met mekaar verbind is, as ’t ware, hoe ons nie aan mekaar kan ontkom nie, hoe ons verbintenis met mekaar ’n wêreld tot stilstand kan bring. So die ding is: Die skepsels weet nog maar niks nie. Of hoe?
Hoe meer ons uitvind, hoe minder weet ons, behalwe dat (mens, dier, ding en kiem) onlosmaaklik verbind is aan mekaar.
Het jy District Nine gekyk en aanklank gevind? Het jy as kind Beyond 2000 gekyk en as volwassene besef hoe anders lyk die toekoms as wat eens gevisualiseer is? Onthou jy Buck Rogers in die jaar 1987 met sy wentelbaan om die aarde? Is ons almal, eintlik lewenslank en in populêre kultuur soveel soos in ons alledaagse lewe, deel van ’n roman getiteld Skepsel? Het jy kleintydherinneringe wat jy wil deel?
As ek reg onthou was daar in die middel-’80’s drie programme op TV wat ons Sondagmiddae gekyk het: The world at war, Ter wille van oorlewing en Beyond 2000. Ja, dít is nie die toekoms wat ons belowe is nie. 2020 was baie anders in die 1980’s.
Wie is jy, Willem?
790203*******.
Wat is die sin van die lewe?
42.
Lees ook:
Skepsel deur Willem Anker: ’n LitNet Akademies-resensie-essay
The post <em>Skepsel</em>: ’n onderhoud met Willem Anker appeared first on LitNet.
In 2019 het Deon Wiggett se reeks podsendings waarin hy die vermeende pedofiel wat hom as tiener gemolesteer het, ontmasker, die wêreld aangegryp. Wiggett het ’n internasionale toekenning ontvang nadat die podsendings deur News24 uitgesaai is. Onlangs het sy boek oor dié dramatiese gebeure by Penguin Random House verskyn – in Afrikaans as ’n Enkele verhaal, en in Engels as My only story.
Melt Myburgh het Deon uitgevra oor sy ervarings tydens en sedert die verskyning van die boeke.
Deon Wiggett, skrywer van die opspraakwekkende ’n Enkele verhaal (Foto’s: verskaf)
Aan die einde van die onlangse Carte Blanche-onderhoud oor jou boek sê jy dat jy nou eers, ná veertig, die Deon Wiggett kan wees wat jy nog altyd wou wees. Wie is Deon Wiggett nou? Kon jy daardie skoonheid waarvan jy in jou jeug beroof is, terugwen?
Ja, maar … Dis ongelukkig nie so eenvoudig nie. Ek hou meer van myself as wat ek het, maar net soms. Die skryf van die boeke was ’n literêre sowel as ’n terapeutiese proses, maar dis nie asof ’n teks ’n magic wand is nie. Maar ek dink die boek is mooi, en op daardie wyse kon ek ’n stukkie skoonheid terugwen. Genoeg skoonheid? It is too soon to tell.
Die dood van jou pa in 2017 was ’n waterskeidingmoment wat daartoe gelei het dat jy die trauma wat jy as kind ervaar het, kon opvolg met die ontmaskering van die persoon wat jou leed aangedoen het. Vertel asseblief hoe die verlies van jou vader tot dié gebeure aanleiding gegee het.
Mens kan nie onthou wat jy vergeet het nie – dis soos die omgekeerde van daai Laurika Rauch song, “Vergeet om my te vergeet”. Maar wanneer jou wêreld skielik in duie stort, flap elke herinnering in die wind en jy moet probeer uitwerk hoe om alles brutaal te herrangskik. Dit is dan wanneer jy begin dink aan goed wat jou brein elders weggebêre het.
Jou podsendings, wat die wêreld in 2019 regop laat sit het, was in Engels. Nou vertel jy die volle verhaal in ’n boek wat gelyktydig in Afrikaans en Engels verskyn. Het die verhaal vir jou op ander maniere betekenis gekry toe jy dit in Afrikaans geskryf het as wat die geval met die Engels was? Was die medium van die Engels ’n buffer tussen jou as verteller en die inhoud van die verhaal?
Dit was bes moontlik ’n rookie error om die boeke onmiddellik na mekaar te skryf. Emosioneel was die Afrikaanse boek bitter moeilik. In die Engels kan mens amper antropologies omgaan met Afrikaansheid, wat die prosa ’n dissosiatiewe narratiewe posisie gee, wat my goed pas.
Maar dit was nie ’n opsie wat geredelik in Afrikaans beskikbaar was nie – dis nou nie asof jy Afrikaanse mense kan vertel hoe Bloemfontein is nie. So die narratiewe fokus in die Afrikaanse teks is twee stappe nader – it moves from the universal to the peculiar. Die Afrikaanse boek is ’n baie ander skepsel as die Engels; dis een van die redes waarom dit ’n Enkele verhaal genoem word.
In die podsendings was daar ’n spanningslyn wat opgebou het tot die onthulling van beweerde oortreder se identiteit. Met die skryf van die boek was sy identiteit reeds geopenbaar. Hoe het dié gegewe die manier waarop jy die boek aangepak het, beïnvloed?
Ingrypend. Die boek se spanningslyn werk uiteraard anders – maar na my mening is dit niks minder spannend nie. Die storie van die podcast is nie eers die eerste helfte van die boek nie – en op baie maniere is skolestelsel die boek se ultimate villain. As jy dink jy ken die storie van die podcast af, you don’t. Die podcast was ’n exposé; die boek is meer ’n investigative Bildungsmemoir.
’n Enkele verhaal takel die kultuur van aandadigheid wat ons samelewing ondermyn, en veral in ons skole ten opsigte van kindermolestering. Hoe omvangryk is hierdie probleem vandag nog? En hoe sien jy die rol wat jou boek speel om die situasie te help verander?
Die boek fokus op vergrype uit die negentigs, maar die ondersoek het my na allerlei onverwagse plekke gelei, woerts, tot in 2020. Dit is nie waaroor ’n Enkele verhaal gaan nie, maar ek het baie geïnteresseerd geraak in seunskole. Die toksiese kultuur by die skole lei tot seksuele brutalisering op allerlei maniere.
Ek gaan volgende jaar ’n aantal spogskole nooi om saam met my te werk in my nuwe ondersoek; ek dink hul reaksies sal ons baie nader bring aan ’n soliede antwoord op jou vraag. Dit is my instink om die euwel in volle omvang te openbaar. Goeie onderwysers kan die boek gebruik as ’n morele en praktiese handleiding; bose onderwysers kan dit maar sien as ’n dreigement.
Sedert jy as kind die prooi van ’n pedofiel was, het die wêreld dramaties verander – wat is jou ervaring hiervan? Lewe ons vandag in ’n beter wêreld wat sake soos hierdie betref, of is ons nog bitter ver van ’n samelewing waarin ons kinders veilig en vry van die aanslag van predatore is?
Pedofiele gaan altyd daar wees; daar gaan nooit ’n tyd kom waar ouers nie op die uitkyk hoef te wees nie. Dit was vir my belangrik om deur die boek vir ouers en volwassenes praktiese maniere te gee om ’n oog te hou. I can tell you for free dat die booswigte selde vreemde mans met lekkergoed in bakkies is.
In ’n Enkele verhaal stel jy ’n model saam waarvolgens mense pedofiele kan identifiseer. Is dit nie ’n gevaarlike onderneming nie?
Almiskie. Ek agiteer nie vir neighbourhood bonfires vir vermeende pedofiele nie. Daar is darem ’n hengse groot stuk grond tussen vigilance en vigilantism. Die meeste mense verstaan nie hoe pedofiele werk nie, maar daar ís gevaartekens om dop te hou. Dit gaan daaroor om mense toe te rus om kinders se verhoudings met volwassenes te evalueer. Daar trek amper altyd ’n rokie – mense moet dit net raaksien.
Pedofilie en die predatoriese optrede van volwassenes teenoor kinders is ongelukkig nie iets nuuts nie; dit kom deur die mensdom se ganse geskiedenis aan. Waaraan skryf jy dit toe dat volwassenes seksueel deur kinders geprikkel word?
Man, dit is grootliks psigopatie. Psychopaths beget psychopaths – ek gaan in die boek diep daarop in. Tensy ons ’n etiese manier vind om Minority Report toe te pas, sal hierdie dose met ons wees soos kokkerotte en belasting.
Wat is jou boodskap aan kinders wat hulle in ’n molesteringsituasie bevind? En waarop moet ouers, onderwysers en skoolhoofde bedag wees?
Almal behoort te leer hoe sexual grooming werk – jy hoef nie die boek te koop nie, jy kan dit op die internet gaan lees. Maak seker jou kind verstaan hoe dit werk. LitNet is straks nie die ideale plek vir my om iets aan kinders te sê nie, en ek is nie ’n pedagoog nie. Maar ek verstaan hoe onmoontlik dit vir kinders is om ’n molesteringsituasie te verstaan. Ons verhoed dat kinders karre bestuur of met messe goël; dit is waarom kinders voogde nodig het. Dit is volwassenes se taak om kinders veilig te hou – onder meer deur te verstaan wie hulle wil vang.
Vertel asseblief van die terugvoering wat jy sedert die verskyning van ’n Enkele verhaal ontvang het. Ek neem aan mense salueer jou vir die moed wat jy aan die dag lê? Maar kry jy ook negatiewe reaksie van mense wat nie die situasie ten volle begryp nie?
People have been very kind. Ek doen geen moeite om enige trolling op te spoor nie – for all I know, there’s an interactive Deon Wiggett voodoo doll; ek het die afgelope paar dae ’n vreemde pyn in my regternek.
Hoe het jou man Riaan die uitdagende tydperk waarin jy die trauma van jou verlede moes verwerk, ervaar? Dit kon sekerlik nie maklik vir hom gewees het nie?
Riaan is alles.
The post Om alles brutaal te herrangskik – Deon Wiggett oor <i>’n Enkele verhaal</i> appeared first on LitNet.
Louis Jansen van Vuuren se Amper Frans is die ideale medisyne vir lesers wat 2020-sat is. (Foto’s: verskaf)
Met die verskyning van Louis Jansen van Vuuren se Amper Frans word mens opnuut herinner aan die skynbaar eindelose veelsydigheid en vernuf van dié kunstenaar-skrywer. Amper Frans is ’n hoogs vermaaklike terugblik op die avonture van Louis en Hardy Olivier, sy lewensmaat met wie hy in 2013 getroud is. Dié twee is veral bekend vir hoe hulle La Creuzette, ’n vervalle château op die Franse platteland, met sorg en deursettingsvermoë in ’n boetiekhotel omskep het.
As kunstenaar het Louis Jansen van Vuuren wyd sukses behaal, en sy werke word in galerye in die Franse hoofstad uitgestal waar dit soos soetkoek verkoop. As skrywer het hy ’n rits boeke op sy kerfstok, onder andere die digbundel Tempermes wat in 2010 met lof deur kritici ontvang is.
“Ek is passievol oor uiteenlopende dinge,” vertel Louis. “Vir die skeptiese bitterbek bly ek ’n jack of all trades … maar daaraan stuur ek my nou nie meer nie. Die lewe is doodgewoon te kort om met lelike mans te dans.”
Uit Louis se kwas: Delft on my mind (Foto: verskaf)
Bedags doen Louis ’n “two-step tussen die atelier en die skryftafel”. Skryf is deel van die daaglikse roetine soos tandeborsel en vlos. “As ek skryf en verf, dink ek darem so ’n bietjie. Skryf en skilder loop reeds van my kinderdae af saam. Van my skool- en studente-krabbels is, met knip en snoei, in Tempermes opgeneem.” Louis het aanvanklik nie daaraan gedink om sy gedigte te publiseer nie, maar Riana Scheepers het hom aangemoedig om dié “wilde sprong” te neem. “Om die waarheid te sê, sy het my ’n stampie gegee. En my broek bewe nou nog. Ek werk graag aan gedigte laat in die nag wanneer dit donker en stil is en ek my hart kan hoor klop.”
En al het Louis al die 70-mylpaal verbygesteek, knaag die senuwees nog elke keer wanneer ’n nuwe boek verskyn of wanneer ’n tentoonstelling geopen word. “Ek is al amper honderd en dit voel steeds soos die eerste keer.”
Louis se Vermeer vir minder (Foto: verskaf)
Gewone sterflinge kyk met verwondering na Louis en Hardy se lewe in Frankryk. En Amper Frans is die beste medisyne vir mense wat sat is vir 2020 se uitdagings. Die boek is ’n vrolike, inspirerende ontsnappingsmeganisme uit die COVID-realiteit na ’n ander wêreld waar drome bewaarheid word. Trouens, as skoolseun in Middelburg (in die ou Transvaal) het Louis al visioene gehad oor ’n lewe in Frankryk. In Amper Frans vertel hy hoe ’n joernalis destyds haar neus opgetrek het vir ’n skildery met ’n Franse titel wat in sy skooltentoonstelling ingesluit was. Daardie einste skildery was ’n uitdrukking van die droom wat hy vroeg reeds gekoester het. En hóé het Louis se droom van ’n lewe tussen die Galliërs nie waar geword nie!
Maar Louis ondermyn enigiets wat “glamorous” mag klink met ’n kwinkslag: “Ek knyp myself elke nou en dan net om seker te maak alles is nie ’n hokus-pokus-affêre nie. Toeval, waagmoed en domastrantheid is die argitekte van my lewe. En miskien, vir dié wat daaraan glo, ’n flerts goeie karma.”
Al lyk dinge soms van ver af blinkgepoets, was daar oomblikke van mislukking wat Louis en Hardy se harte ’n paar keer byna laat staan het. “Ons is van die oortuiging dat niks onmoontlik is nie. Dit is miskien naïef en ’n raps kinderlik, maar dis ons baldadigheid wat ons gebring het waar ons vandag is.”
En moenie dink Louis rus op sy louere terwyl hy teug aan die heuningsmaak van materiële en ander sukses nie. Hy stort al jare lank sy energie in die ontwikkeling van jong kunstenaars. “Mense het my gehelp toe ek ’n kêskuiken was. Ek wil graag, waar ek kan, die stokkie aangee.” Elke jaar stel Louis ’n groepstentoonstelling met gevestigde en nuwe kunstenaars saam ten bate van nagraadse kunsstudente aan die Universiteit Stellenbosch. “Dié beursinsamelingsinisiatief neem my maande om bymekaar te sit. Die vreugde lê daarin dat ons reeds nagenoeg 18 nagraadse studente kon help sodat hulle hul studies kon voltooi.” In Maart 2021 maak hulle weer so.
Jonk en roekeloos mooi – Louis saam met medestudente in sy Matie-dae (Foto: verskaf)
In sy Franse studio bied Louis ’n mentorskapprojek aan waarby jong kunstenaars soos Nhlanhla Nhlapo, Klara-Marie den Heijer en Ruan Huisamen al gebaat het. Dié opkomende talent kry geleentheid om saam met Louis te kan tentoonstel. Verder is hy besig met ’n aanlyn opleidingsprojek waardeur hy ’n jong kunstenaar van die Prins Albert-gemeenskapstrust (PACT), Alcado Blom, ondersteun en slyp vir sy eerste tentoonstelling in die nabye toekoms.
La Creuzette is steeds die spil waarom Louis en Hardy se lewe draai, al het hulle dié gesogte woning vier jaar gelede aan vriende verkoop. “Ons het vir 15 jaar in La Creuzette op die boonste verdieping gewoon,” vertel Louis. “Met die honde in die kelder. Dit het ál minder privaat geword met die vloed gaste wat weekliks kom en gaan. Ons koop toe ’n kleiner huisie op die rand van die dorp. Hardy wou nie meer in die ‘kantoor’ woon nie. Dit is net die eerste keer snaaks as jy met jou adamspak aan in gaste vasloop wat koffie soek.”
Hardy en Louis is steeds die kuratore van dié fabelagtige bestemming, en hulle het nou ook ’n bestuurder wat op die perseel woon. “Ons kook, skilder, skryf en kuier steeds saam met die gaste, maar ná ete gaan ons huis toe. Huis is ’n ou jagpaviljoen op die rand van ’n 75 hektaar-woud 19 kilometer buite Boussac.”
Amper Frans se subtitel, ’n Lewe van fanfare en faux pas, bevestig die humoristiese aanslag in Louis se narratief. Oomblikke van uitbundig lag is volop, veral omdat Louis nie skaam is om dinge ten koste van homself te vertel nie. “Ek lag dikwels hardop vir myself,” sê hy, “want ek kan soms simpel en hardkoppig wees. Lag, soos al ons oumas gesê het, is die heel beste antidoot vir styfhoofdigheid en ander hardnekkige nukke. Humor is vir my net so belangrik soos dankie en asseblief.”
In Amper Frans word daar heerlik draak gesteek met die Franse se reputasie vir sosiale etiket en hul obsessie met die korrekte toepassing daarvan. Louis se beskrywings van dié gewoontes en die vele faux pas wat hy as boerseun uit Middelburg al begaan het, is skreeusnaaks. Maar raak hy nie soms gatvol vir die Franse se maniertjies nie?
“Gatvol is ’n understatement. Ek kan partykeer iets oorkom wanneer die Franse so vol aansit en fiemies raak. Een van die dinge wat my nou nog dwars in die krop steek is wanneer jy by ’n Franse uithangete aankom, en almal moet wag tot die laaste gas opdaag voordat ’n kurk skiet of getrek word. Al is ’n gas veertig minute laat. Jy bly droëbek sit tot sy sonder verskoning opdaag. Nie eens ’n slukkie Perrier of pomwater nie.
“By die huis maak ons na dese ’n vinnige partytjie-toe-gaan-dop voordat ons die pad vat.”
Beskrywings van kos en allerlei geregte in Amper Frans laat die mond water. Louis en Hardy se hande staan natuurlik vir niks verkeerd wanneer dit by die kospotte en onthaal kom nie. En wie, volgens Louis, is die beter sjef van die twee?
Kunstenaar in die kombuis: Louis verf kos op gaste se borde. (Foto: verskaf)
“Hardy en ek is teenoorgesteldes in die kombuis. Hy kook rustig en instinktief. Al geselsend, met ’n glas wyn in die hand. Hy werskaf terwyl die gaste om hom saamdrom. Hy verduidelik tussen elke sluk wyn iets oulik van die resep wat hy maak. Wanneer iets skeefloop, soos ’n ligte aanbrandsel van ’n béchamelsous, lag hy dit gewoon af en begin van voor af.
“Ek beplan weer dae voor die tyd. Prep alles soos vir ’n hartoperasie. My glas wyn staan uit die pad op ’n rak in die hoek van die kombuis. Die gaste sit by die tafel en wag terwyl ek en my trawante die disse een vir een tafel toe bring. Met wit handskoene en al. Ek hou van ’n show.”
En raak Louis soms lus vir ’n sny brood met grondboontjiebotter en stroop?
“Grondboontjiebotter op neutbrood is my gunsteling-snack. En wanneer niemand kyk nie, sit ek ’n marshmallow bo-op. Ons kry nie goue stroop hier nie.”
In Amper Frans bring Louis hulde aan Annette de Villiers, ’n vriendin, nou ter siele, wat hom gehelp het om opgang in Franse sosiale kringe te maak. Wanneer hy vertel van die mense wat hy ontmoet het, klink dit maklik na “name-dropping”, maar alles behalwe. Skeptici mag dit dalk as oppervlakkig beskou, maar iémand moet skouers skuur met wêreldberoemdes. Só het Louis al met Philippe Junot, prinses Caroline van Monaco se eerste wederhelf, praatjies gemaak.
“Dis bitter jammer dat Annette nie meer met ons is nie. Sy was die goue sleutel tot die Franse who’s who. Ongelukkig het nie een van die hoë holle wat ek saam met haar ontmoet het, my op speed dial nie,” vertel Louis. “Ek moet nou tevrede wees met die eentand hertog en ’n brandarm gravin wat in ’n half kaal château oorleef. Meeste van die tapisserieë en Louis IV-meubels is reeds verpand.”
En soos dit ’n avonturier betaam, hou Louis se voornemens om hom tydens “grênd geleenthede” te gedra, nooit lank nie. “Ek probeer gewoonlik my bes om ordentlik te wees, maar met ’n aksent soos myne hou die charade nie lank nie. Dan word ek stout en moedswillig. My nek is gewoonlik teen daai tyd uit lit uit van al die rondkyk sodat ek niks misloop nie.”
Louis in aksie in sy studio (Foto: verskaf)
Graaf Hubert James Marcel Taffin de Givenchy, die modeontwerper wat mense soos Audrey Hepburn en Jacqueline Bouvier Kennedy uitgedos het, is maar een van die vele beroemdes met wie Louis paaie gekruis het. “Hy het my beïndruk met die vriendelike en natuurlike manier waarmee hy met lightweights soos ek verkeer. Dit was wel sý partytjie, maar hy het heel rustig met my gestaan en skerts. Sy oë natuurlik die heeltyd op my mooi vriendin gerig.”
Louis se verbintenis met Suid-Afrika en Afrikaans staan sterk soos altyd, en hy sien uit na ’n besoek aan die Weskus aan die einde van die jaar. “As ek in Frankryk is, dan is ek dáár en as ek in Suid-Afrika is, dan is ek hiér. Ek verlang selde na die een of die ander. Wat ek wel soms mis, is sekere smake. Soos pain au chocolat as ek op die Weskus na iets soet soek, en roosterkoek as ek in Boussac na iets sout soek.”
Dit het byna 21 jaar geneem om werklik tuis te raak in Frankryk, vandaar die boek se titel. Volgens Louis knipoog die opvolg reeds op die tekenbord met “Uiteindelik Frans” as werkstitel.
Dis nie aldag dat jy skrywers of kunstenaars kry wat finansieel welvarend soos Louis is nie. Wat is die geheim van sy sukses? Moet ’n mens ryk erf, of het jy ’n eks-bankier soos Hardy as lewensmaat nodig om die geldwa deur die drif te trek? Louis lag lekker wanneer hy verduidelik: “As skrywer sukkel-sukkel ek ook maar. As prentjiemaker gaan dit effe beter. Dis miskien goed om die illusie van welvaart so effe te besweer, alhoewel ek die make-believe aantreklik vind.
“Ek het 26 jaar se universiteitspensioen, en Hardy al sy bankbêregeld, ingeklok vir ’n rammelkas-château in Frankryk. Om die finale betaling te kon bybring, moes ek vóór oordrag ’n blitstentoonstelling in Kaapstad hou. Die bankwolf was toe vir eers van die kasteeldeur af weg.”
Louis vertel dat hy en Hardy “ewe arm” in Frankryk aangekom het. “Maar dit help baie as jou lewensmaat ’n bankier was. Hy het my spandabelrigheid so gesnoei en ingeperk dat ek dit nou amper geheel en al afgeleer het.” Om sy “boek- en prentjieverkope” aan te vul, het Louis ’n “smouswinkeltjie in die dorp” oopgemaak, en hulle dop ook die euro’s en rande ’n paar keer om voordat hulle dit oor ’n toonbank skuif. “Ryk erf was in ons geval nooit ’n opsie nie. Hoe sê die Franse? Tant pis (never mind).”
Die enigste meevaller was “harde werk, rêrige harde werk, met ’n duidelike droombeeld op die horison”.
Louis en Hardy voor La Creuzette (Foto: verskaf)
En nou, met die 70-kerf verbygesteek, geniet Louis die vrugte van sy arbeid. Van pyne en skete is daar min sprake, want hy het in sy laat sestigs net plante begin eet. “Ek weet vir seker dat sommige mense nou hulle oë gaan rol. Dit het, glo my as jy wil, ’n paar van die meer gewigtige kwinte en kwale laat kwyn. Ek vermy opsetlik die vegan-woord omdat dit soos iets uit die Boek van Openbaringe klink, maar groen is my nuwe swart. My kombuistuin is my gunstelingplek. Jare gelede was dit Angelina’s in Parys, maar nou is ek op my gelukkigste tussen my rape, tamaties en pampoene. Die meeste van ons kos kom nou uit die tuin, wat ek – hold your horses – met damwater self natlei.”
Maar elke week steek Hardy ’n braaivleisvuur aan, en dan rol Louis sý oë. Vir Hardy en die twee honde is die weeklikse braaivleis ’n hoogtepunt op “die werf se kalender”.
“Ek probeer om in die nou te leef asof daar geen môre is nie,” sê Louis. “Soms steek daar ’n ligte paniekaanvalletjie sy kop uit wanneer ek wankelrig voel. Veral laatnag ná ’n Netflix-binge. Dan sukkel ek om uit die diep rusbank op te kom. Maar ’n boerseun maak ’n plan: My oë is gerig op twee La-Z-Boy-stoele in die dorp se meubelwinkelvenster.”
Louis verwys na Hardy as sy “lewensmaat” omdat hulle “bowenalles sewe sakke sout en wavragte baguettes saam verorber” het. Lank verby is die dae toe Louis ’n kannetjie in Middelburg was en dit nog “sonde” was om gay te wees. “Dit was inderdaad ’n moerse sonde om in daardie dae jou buurman óf sy seun te begeer. Genadiglik is dinge nou makliker as toentertyd,” sê hy.
“Die dorpsmense het nie veel van ’n oog geknip toe ons La Creuzette gekoop het nie. Ons is uit die staanspoor saam uitgenooi as meneer en meneer. Wat agter die hortjies gesê is, weet ons tot vandag toe nie.”
La Creuzette in die winter (Foto: verskaf)
Mense wat vir Louis ken, kan dit nie verhelp om hom in rojale terme te beskryf nie. Riana Scheepers vat dit raak wanneer sy vertel hoe Louis mense met sy “vreeslose, verbysterende tuimeling die onbekende in” op nuwe avonture meesleep. Leonie Scholtz beskryf Louis as volg: “Hy is nie snoep met sy talente nie en hy strooi dit soos pêrels ruimhartig en wyd, meelewend uit, na ons almal wat gretig hunker om ’n stukkie van hierdie uitsonderlinge skoonheid in ons eie bestaan vas te vang … en om dit soos ’n kosbare halssnoer om ons nek te dra, en trots uit te stal vir dié wat na skoonheid smag, die middelmatige wil besweer, en die felheid van die verganklikheid wil verdoof.”
Maar wat sien Louis Jansen van Vuuren wanneer hy soggens voor die badkamerspieël staan?
“Die spieël-kyk-ding is nie elke slag dieselfde nie. In die oggend wanneer ek tande borsel (en vlos) sien ek gewoonlik my slaapkepe en deurmekaar hare raak. In die oggendlig is die sakkies onder my oë en die voue om my mond heeltemal aanvaarbaar.”
Maar meeste van die tyd staan daar ’n man voor hom: “Jonk en driftig en net ’n klein bietjie bang.”
Vir Louis lê skoonheid in kuns en die gawe om te skep, en natuurlik in die oog van die waarnemer. “Daar is skoonheid in die ongerekende werksproses. Die saamsnoer van kleur en vorm. Om ’n prentjie uit ’n denkbeeldige impuls te skep.
“Soos woorde wat soms sinne word.”
* Amper Frans het onlangs by Jonathan Ball verskyn en is in Engels beskikbaar as Almost French.
The post <i>Amper Frans</i> – die perfekte antidoot teen styfhoofdigheid appeared first on LitNet.
Titel: Koerant
Outeur: Hennie van Deventer
Uitgewer: De Novo Boeke, Langebaan
Nadat hy 20 boeke sedert sy aftrede as koerantman geskryf het – en seker miljoene woorde in sy lang loopbaan in die perswese – gee skryf en kommunikeer vir Hennie van Deventer sin in die lewe. Skryf bly vir hom ’n passie en daarsonder sal hy opgeskeep wees met homself, het hy aan Sarel Venter, ’n oudkollega, gesê.
Aan die vooraand van sy 80ste verjaardag het nog ’n boek van Van Deventer verskyn. Dit sy twintigste in die byna 24 jaar sedert sy aftrede as hoof: koerante van Naspers, en nadat hy onder meer 12 jaar redakteur van Volksblad was.
Sy boeke handel oor ’n verskeidenheid temas: van outobiografiese werk en koerantsake tot mense, humor, diere en reiservarings.
Om saam te val met sy naderende verjaardag (3 Januarie 2021) verskyn ’n gedenkboek, Koerant. Dit is ’n selfpublikasie met voorlopig ’n beperkte oplaag, versorg deur De Novo Boeke, wat dit ook as e-boek aanbied.
In die boek van 215 bladsye is die rou oor Volksblad se lot – die einde daarvan as gedrukte koerant – nog vars. Hy probeer nie sy hartseer verbloem nie. Dit bied die kapstok vir die boek. Die rou is ’n vlammetjie wat ’n groter vuur aansteek. In sowat 50 essays skryf hy nie net met hartseer nie, maar ook met hartstog en humor. Talryke eie herinneringe en anekdotes is in hierdie terugblik opgeteken – oor Volksblad, maar ook oor mense, kollegas, ander koerante en die koerantwese in die algemeen.
Hoekom woel hy nog so op 80?
Eenvoudig omdat “kommunikeer” die lewe vir my sin gee. Ek sit maklik agt uur per dag voor die rekenaar. Ek skryf twee blogs, deel gedagtes op Facebook, werk tussenin aan artikels en boeke. Wat anders? Daarsonder sal ek opgeskeep wees met myself. Ek pak nie veel ander dinge aan nie. My hande is dom. Maar my geprese “geesdrif” soek ’n uitlaatklep. Daardie uitlaatklep is skryf, debatteer, saamgesels, tred hou met die nuus, kommentaar lewer …
’n Fokus in hierdie boek?
My groot passie en eerste liefde: die koerant in al sy dinamiese fasette. Ook onvergeetlike karakters agter die skerms. En hope humor. Sonder ’n sin vir humor sal ’n koerantmens moeilik oorleef.
Geliefkoosde nuusonderwerpe?
Alles wat nuus is. Versot op politiek, op sport (buiten skopboks), op menslike stories (“human interest”), en op elke ander nuusonderwerp.
Sy hebbelikhede?
Ander moet liewer oordeel. Ek self is bewus van ’n kort lont. Altyd agterna jammer en verleë as ek ’n vloermoer gegooi het. Lief vir humor/kwinkslae/rympies.
Sy voorliefdes?
Ek het drie groot passies: koerant, die bos, reis (veral vaar). Ek borg die woord “koerant” eksklusief by die WAT. Minstens vyf van my boeke het koerantonderwerpe.
Die bos?
Ek is gek na Sabiepark, waar ek ’n boshuis net langs die Krugerwildtuin het. Verkies selfs – tot die verbystering van vriende – die hitte van die somerbos (Desember–Januarie) bo die “Kaapse Dokter”. My nuwe bosboek (Mei 2021) sal die sesde oor dié onderwerp wees.
Reis?
’n Interessante reis was in Rusland in Gorbatsjof se tyd. In my Niemanjaar by Harvard het ons Amerika platgery. In die laaste jare het ek verslaaf geraak aan vaar. Onvergeetlike vaarte was met die Queen Mary ll na Sydney en met die MSC Musica langs die ooskus van Afrika tot in Venesië. (Dis alles in my boek Na verre hawens. Jare gelede het ek ook ’n humorboek oor reis geskryf: Oos, Wes – Reismoles).
Hy het ’n vierde voorliefde: musiek, alle musiek, buiten kletsrym en Afrikaanse oornag-treffers (“bokkie,sokkie,frokkie”). Tien jaar lank het hy vir vriende vir Kersfees CD’s geskenk met temas soos die liefde, tuine, voëls, reise op ver paaie, ens. Hy en Tokkie het die snitte saam uitgesoek.
Sy renonse?
Ek haat moderne brabbel-Afrikaans, en kastige “ondersoekende joernaliste” wat ’n “nuwe Suid-Afrikaanse geskiedenis” uit hul duime suig. Moet ook nie dink ek sal afval eet en simpel TV-sepies en -storietjies kyk nie.
Hoogtepunte in sy lewe?
Die redakteurskap van Volksblad op 39 in 1980. Dit het ’n ambisie verwesenlik wat ek van my eerste dag by die koerant gehad het.
Teleurstellings
Die keldering van Volksblad as gedrukte koerant. (In Koerant brei ek uit op die tema). Nog ’n teleurstelling was die latere besluit om Volksblad se Kunsmark nek-om te draai.
Ten slotte ’n paar dinge waarvan hy die vader is
Pendoringprys vir Afrikaanse advertensies die hoog aangeskrewe Nat Nakasa-prys vir joernaliste (toegeken aan joernaliste wat oor COVID-19 geskryf het); die Matrieknooiwedstryd, die Kunsmark en die Bloemfonteiner van die Jaar-wedstryd.
Drukmedia SA het sy verering van Van Deventer so gemotiveer: "Hennie van Deventer holds a reputation of great stature both within the local industry and within the newspaper publishing fraternity across the globe. He is recognised for his wisdom, his diplomacy and naturally for his contribution to print media in South Africa over a considerable number of years."
The post <em>Koerant</em> deur Hennie van Deventer: ’n lesersindruk en gesprek appeared first on LitNet.
Anoeschka von Meck (foto: verskaf)
Titel: Die heelal op my tong
Skrywer: Anoeschka von Meck
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781485904106
Anoeschka von Meck praat met Naomi Meyer en Liné Loff oor Anoeschka se Die heelal op my tong.
NM: Anoeschka, Die heelal op my tong is opgedra aan jou pa, en dan volg die aanhaling uit Spreuke. Vertel my van die rol van jou pa én van die Bybel in jou lewe.
Hierdie is twee afsonderlike vrae.
Ek sou graag by die boek wou hou eerder as oor my eie persoonlike lewe praat, hoewel ’n skrywer sonder twyfel nie anders kan as om uit hul eie verwysingsraamwerk te skryf nie. Dit sal ek wel verduidelik. Na my pa sy liggaam verlaat het, het ek net daar by sy hospitaalbed bly sit en ek kon hom steeds nie groet nie. Ek het net oor en oor bly sê "Oukei, Pa. Dis alles oukei." Sou ek iets meer wou sê, was ek bang Vloog Theron word net daar wakker met "Goets, hou tog op om so dramaties te wees! Dis net ’n lyf. Is hier melk?"
Die saluut voor in die boek voel asof ek iewers op ’n krans staan en teenoor my, op ’n ander krans – net naby genoeg dat ons nog vir mekaar kan waai – sit Pa op sy perd. Dis die naaste aan koebaai wat ek seker ooit sal kom.
Die aanhaling uit Spreuke gaan oor die skeppende krag van ons gedagtes en wat ons uitspreek. Klank is energie. Elke woord wat ons só bemagtig, is saad wat in die geestelike ruim geplant word en een of ander tyd kom daai oes in ons lewe op. Die boek is voltooi in die Joodse jaar 5780, die Jaar van die Mond. En dink maar daaraan – maskers wat ons monde toesnoer, wette wat verbied dat ons sing as ons die Skepper aanbid, oneindige politiese uitsprake, verwarring, George Floyd se "I can’t breathe." Wat gaan elkeen van ons maak met hierdie ontsettende verantwoordelikheid? Watter realiteit en toekoms is ons besig om opinie vir opinie te skep?
NM: Vertel asseblief ook hoe die titel van die boek oor jou pad gekom het.
Die boek was vir jare bekend as Delete, maar voor ek dit kon klaar maak, verskyn daar toe ’n pornografiese boek oorsee met ’n soortgelyke titel. Ek was bitterlik teleurgesteld dat ek my titel kwyt was. Daarna het die boek verskeie titels gehad, onder meer Vir wie die jas pas, Dollarboer, Lewe in ’n lucky packet, ’n Kluis, kaas en die kosmos. Elke keer het die titel net ’n rukkie gehou, want ek het gevoel die klem val nie presies waar ek dit wou hê nie. ’n Vriendin van Paternoster, Marina Enslin, het my herinner aan ’n droom wat ek in standerd 6 in die koshuis gehad het. Iets wat ek al vir dekades lank vergeet het. Uit daai gesprek is hierdie titel gebore en toe ek dit het, was alle twyfel summier weg. Dis nou die tipe vriende wat wraggies goud werd is!
NM: Hoekom het jy die boek geskryf? En hoekom nou?
In my navorsing vir my PhD het ek begin vies raak oor hoe vetsugtige karakters oor die algemeen uitgebeeld word – absoluut stereotipies! Dit het my laat besluit om te probeer om my eie vetfiksie, met ’n outentieke hoofkarater, te probeer skryf. Boonop was ek al lankal lus om ’n lekker boek te skryf oor ’n faktap lewe, maar dit moes nie ’n treurmare wees nie. ’n Boek wat ek self sou geniet om te lees. Ek skryf al jare nou en dan aan hierdie boek, maar die spertye van my graad het my gedwing om uiteindelik klaar te maak. Hiervoor is ek baie dankbaar. (Lyk my as oudjoernalis kom ek aan die gang eers as daar genoegsame druk en ’n afsnypunt is!)
LL: Jou storie se storielyn is nie chronologies nie. Hoe het die skryfproses vir jou gewerk?
Daar is ’n ou gesegde dat alles in ’n sirkel beweeg en dat nes die seisoene, die meeste dinge daardie eienskap besit. Ek hou daarvan om te dink ek skryf in spirale waarvan die een op die ander bou. Die chronologiese verloop van ons lewens is in elk geval ’n tipe illusie. As jy voor ’n baie lang trein staan en wag, sien jy net die trokke verbybeweeg, maar nie die voorpunt of einde van die trein nie. Jy ervaar jou lewe blokkig. Een ding volg op ’n ander. Sou jy hoog die lug in opgaan, sou jy egter die hele trein kon sien: die begin, sowel as die einde. Sou jy nóg hoër opstyg, sou jy ontdek waar die spoor loop en dat dit in ’n reusepatroon weer met alle punte konnekteer. Dit is hoe ek die Skrif verstaan wat sê dat God die einde van die begin af roep – alles is reeds daar: gelyktydig. ’n Chronologiese ervaring van ons lewe bestaan moontlik sodat ons die Beminde daarin kan nooi om "terug in tyd" vir ons restourasie te bring in situasies waar ons beseer, ontnugter, gewond, teleurgestel, in die steek gelaat of getraumatiseer is. Dis is genade.
LL: Is daar te min vet hoofkarakters in die letterkunde, of selfs vet newekarakters wat nié belaglik is of die voorwerp van spot of minagting is nie? Hoekom het jy besluit om juis uit daardie perspektief te skryf?
Ja, beslis. Ek sou graag ander Suid-Afrikaanse skrywers wou aanmoedig om egte karakters in vetfiksie te skep.
LL: Daar is ironie aan ’n opmerking wat jy in die roman maak, naamlik dat jy vir die samelewing toenemend onsigbaar raak hoe groter jou lyf word. Hoekom is dit die geval? En is dieselfde waar vir diegene aan die ander kant van die spektrum wat maerder word juis met die doel om uiteindelik heeltemal te verdwyn?
Dit blyk ’n algemene menslike verskynsel te wees dat mense só seer, magteloos of oorweldig in hul eie lewens voel dat hulle net exit. Daar is ’n magdom maniere waarop mense dit doen – vir sommige is dit om jou in ’n ander lyf in te dink. Dink, ja, en nie eet / ophou eet nie, want voor ons dít doen wat ons oorspronklike voorkoms sodanig verander, was die saad (van verwerping, selfhaat, disassosiasie ens) iets wat lankal reeds in ons emosionele landskap opgekom het. Jy voel/dink aan jouself as verstote en verwerplik lang jare voor jy dit na buite begin manifesteer. Jou liggaam gehoorsaam wie ook al die sterkste binne jou praat, naamlik jou siel, of jou gees.
Ek het eens iemand se dagboek gesien wat in ’n rehab was, wat ek nooit kon vergeet nie omdat dit met soveel pyn gekrap was. Sy het blaaie vol geskryf van net één sin: "I am unlovable. I am unlovable. I am unlovable." Hoeveel van ons is nie heimlik oortuig dit is ook waar van ons nie?
LL: Voel jy jy het met die skryf van Die heelal op my tong jou eie ervarings in ’n nuwe vorm gegiet, soos die spreker in die roman haar gees in ’n nuwe liggaam wil giet? Het jy in die proses sekere waarhede en die verlede vir jouself oopgeskryf?
Ek geniet dit dat sommige lesers oortuig is hierdie is wel my outobiografie, en het besluit om dit as ’n kompliment te beskou. Hierdie is die ervaringe van karakters wat ek geskep het en as ek hul so oortuigend kon aanbied dat mense daaroor wonder, is ek in my skrywersnoppies! Ja, sommige is deur werklike mense geïnspireer, maar daarna het hul ’n bestaan van hul eie gekry. Soos reeds in ander onderhoude genoem, is die aanloop tot my pa se dood en sy eienaardige begrafnis wel gebaseer op ware gebeure wat ek "versprokie" het. ’n Herinnering wat hom wel aangemeld het tydens die skryfproses, was die feit dat ek twee keer op laerskool ontvoer was. Ek het dit vergeet. Nie omdat dit onderdrukte trauma was nie, maar omdat dit heel moontlik net nie genoeg saak gemaak het om te onthou nie. In die werklike lewe is my een broer saam met my ontvoer en ons is ongeskonde na ’n paar uur weer afgelaai.
LL: Jy lewer baie kommentaar op die menslike toestand en lesers gaan hulle waarskynlik geweldig met dit wat jy sê, kan vereenselwig. Honger en eet is natuurlik geweldig universeel. Wil jy miskien iets sê oor fisieke en geestelike honger en die pogings om daardie honger te stil.
Die meeste van ons op Planeet Kindergarten leer nog ons kwyllappies en doeke beman. Ons het geen benul wie ons regtig is nie, maar in elkeen hunker daar konstant iets wat ons soekend na Waarheid maak. Party mense hou hulself geweldig besig om juis hierdie hunkering te onderdruk ten alle koste. Soms bevredig ’n geloofstelsel, verhouding of ons indrukwekkende werk- en gym-skedule ons vir ’n ruk, maar die oomblik wat dit bedreig word of ons wêreld begin gek en onverklaarbaar raak, is ons terug by daai flipping vraagteken. Maak nie saak hoeveel sterrevoorspellings ons lees, of geposeerde foto’s op FB wys hoe ons die lewe geniet nie, om oortuigend ons kwansuise self te bly is harde werk. Dit veroorsaak ’n onversadigde innerlike leegte – juis agter daai ewig glimlaggende cocktail selfies, want binne-in elke wese is ’n kompas wat aan ’n oorspronklike en Goddelike bloudruk en herkoms herinner. En heng, is ons nie skytbang om te ontdek ons is moontlik soveel méér as wat die wêreld-matrix ons van probeer oortuig nie!
Lawa (foto: Pixabay.com)
NM: Nie net vetsug het een kant nie. So ook positiwiteit – dit kon jou krag gee én jou uitput. Vulkaniese energie, die onversadigbare behoefte aan erkenning, so baie energie wat hy uitstort en wat hy ook absorbeer, dis wat ek van hom lees. So as hy weg is, het jy ’n ander keuse gehad as om oor hom te skryf?
Weer eens: Daar is my biologiese pa en dan is daar die pa-karakter. Hulle oorvleuel beslis, maar dit is ook nie one and the same nie. Ek is al dikwels gevra om oor my pa te skryf, maar ek het geen behoefte om dit te doen nie. Om ’n verhaal op te dis waar daar ’n karakter is wat op hom geskoei is, maar tog ook verwyderd van die realiteit is, was vir my ’n uitdaging wat ek geniet het.
Afhangende van op watter vlak mens die verhaal betree, lê die klem nie noodwendig op die pa of selfs die dogter nie. Vir my is die Rooiseeloper wat die dogter se lewensbestemming keer op keer weer in die korrekte wentelbaan moet stuur, die kragbron van die verhaal. Willemien het egter steeds haar eie vrye wil, en wat sy kies sal bepaal of haar paaie met dié van die Onbekende Man sal kruis of nie.
NM: Sou jy hierdie storie kon geskryf het terwyl jou pa nog geleef het?
Dankie vir hierdie vraag! Dit is oorspronklik en die eerste keer wat iemand my dit vra. Nee, ek dink nie so nie. Tipies sou my pa vas geglo het die boek ís oor hom en sou hy die filmregte onmiddellik wou verkoop het terwyl hy aandring dat Tom Cruise die pa-karakter vertolk. Pa sou wel goed gewees het vir verkope, want ek kan nogal insien dat hy bakkievragte van die boek sou opkoop en dan met sý handtekening voor in, nuut sou verkwansel. Red my!
NM: Om die pa te bel wat oorlede is – sy praat hieroor met die suster wat nie bestaan nie. Wat in jou boek is waar, wat is fiksie? (Ek sien die sibbe is nie werklik die susters in jou storie nie, skryf jy in die bedankings en opmerkings agterna.)
Hierdie boek is nie net vetfiksie nie, maar ook bisarofiksie. Deel van die lekkerte van hierdie verhaal is dalk juis om te kan bespiegel wat is waar en wat nie. Ek meen ek het al genoeg hieroor gesê.
Ek is die oudste van ses en het agterin spesiaal vir my broers en suster verseker hulle is nie in die boek nie.
NM: Van jou ma hoor ons min. Net van haar gebede – dat sy jou "balls weggebid het". Vertel my van haar.
Heeltemal reg – my ma is nie in die boek nie. Daar is wel ’n ma-karakter. Sy het ’n komplekse verhouding met kos en weens haar natuurlike skoonheid ervaar sy dat haar man en die samelewing haar oordeel volgens hoe sy lyk. Uiteindelik maak dit haar rebels. Dit sluit in hoeveel sy weeg, en hoe meer sy nie gebeure in haar huwelik kan beredder nie, hoe meer probeer sy haar en haar dogter se gewig beheer. Die ma-karakter het ’n maniese vrees om nie vet te word nie en verkeer in ’n erge worsteling oor haar oudste dogter se toenemende gewig.
NM: As jou mond vol is, kan jy nie so baie praat nie. Op ’n manier ook terug by "die heelal op my tong". Waaroor is jy spyt dat jy dit gesê het? Noudat die boek uit is?
Goeie vraag, maar dit maak weer eens die aanname dat hierdie boek mý lewe is. Of verstaan ek jou verkeerd? In my eie lewe buite die boek het ek deesdae ’n baie ernstige besef dat elke enkele woord wat ek al ooit buite Vader se liefde uitgespreek het – teenoor myself én ander, asook ons land – ydel is en dat ek moet besef ek gaan verantwoording daarvan doen. Dit is my keuse om daarmee aan te hou en dus ook aan te hou dieselfde realiteit oor en oor vir myself te skep. Of ek kan ophou en nuut leer skep.
Die manuskrip is met 32 000 woorde gesny, dus het Willemien nog heelwat te sê gehad!
NM: Begin en eindig hierdie storie oplaas by die pa, nadat ’n volledige transformasie plaasgevind het? Is sy vry?
Weer eens, wat is die leser se invalshoek? Die pa-dogter-verhouding is wat bolangs aangaan. Daar is soveel meer. Die boek begin vir my by iemand wat soekend is (Willemien voor die hek van die verbode Area 51) en probeer vastrapplek kry in hierdie wêreld, en dit eindig by die Een wat die sonnestelsels soos klokkies aan die soom van Sy kleed dra. Dit eindig by ’n besluit. Willemien moet besluit gaan sy in die vrees van haar ego en vorige ervaringe van verwerping bly (haar pa, mans) of gaan sy nuut kies en die ontmoeting met die Onbekende Man toelaat?
Willemien – en ons – is elkeen so vry soos wat ons die Waarheid toelaat om ons te oortuig en te verander. Dít is per slot van rekening wat ons vry maak.
Lees ook:
LitNet Akademies-resensie-essay: Die heelal op my tong deur Anoeschka von Meck
The post <em>Die heelal op my tong</em>: ’n onderhoud met Anoeschka von Meck appeared first on LitNet.
Ouma Hester en die Getaway-kar
Janie Oosthuysen, Alex van Houwelingen, Alistair Ackermann
Human & Rousseau
ISBN: 9780798180726
Janie Oosthuysen praat met Naomi Meyer oor Ouma Hester en die Getaway-kar – en oor die volgende Ouma Hester-boeke in die reeks.
Hallo Janie, baie geluk met jou baie geslaagde Ouma Hester-reeks! My tienjarige dogtertjie lees lekker aan Ouma Hester en die Getaway-kar. Waar het jou idee vir die storie begin?
Hallo Naomi, baie dankie vir die goeie wense en bly om te hoor die storie werk vir jou dogter en dat sy dit geniet – dis heerlik om dit te hoor. Sê asseblief vir haar sy is boaan my lys van gunstelinglesers! Maar ek hoop sy deel daardie plek gou met duisende ander lesers.
Ouma Hester is so min of meer op my eie ouma gebaseer. Sy was ’n Karookind wat bloots perdgery en graag boerseep gekook het. Die ouma in die boeke is natuurlik nie so outyds nie. Sy is modern, maar nie spoggerig nie, effens dik, maar tog lekker lewendig, iemand wat kan wip en spring. En sy is glad nie prekerig nie.
Die stories speel af binne ’n moderne wêreld waarin vreeslike dinge gebeur waarby Tian, Lisa en Ouma kop oor stert betrokke raak. Ek geniet dit om lekker lawwe, maar ook spannende stories te skryf wat bang maak én laat lag. Verder het die skryf van fiksie my geleer om nie alles net te aanvaar nie, maar die slang in die gras te soek. In elke boek kry Tian, Lisa en Ouma dus met gemene skurke te doen wat onderduimse planne het. En dit lei tot wilde, lewensbedreigende avonture. Maar wees gerus, ’n ware kinderboek het altyd ’n gelukkige einde, dus so ook die vyf Ouma Hester-stories. Dis nou mits ek die stories reg onthou …
Kinders wat gedwing word om rekenaarspeletjies uit te dink ... Maar dit klink dan soos groot pret! En tog word die kinders in hierdie verhaal vasgeketting om sulke speletjies te ontwerp. Wil jy dalk nog 'n paar aspekte van die storie uitlig, sodat ouers en kinders weet wat op hulle wag as hulle hierdie storie sou lees?
Ja, dit klink dalk heerlik – maar nie wanneer jy gedwing word nie. Kinders wil baie graag hulle eie baas wees en die idee dat jy aangehou word, sekere dinge oor en oor móét doen en heeltyd verskree en met ’n tamaai groot versapper gedreig word, is enige kind se nagmerrie. Gelukkig vir die arme kinders by Veri Happi Kidz is redding op pad, naamlik Tian, Lisa, Ouma Hester en die Getaway-kar – want die bou van wonderbaarlike voertuie met talle geheime wapens en ander verrassings is waarin ouma Hester uitblink.
Die gevaar bestaan natuurlik dat so ’n ouma kan oorneem en die verhaal oorheers – wat iets is wat jong lesers nie sal geniet nie. Maar Ouma Hester is nie perfek nie en maak kort-kort ’n gruwelike fout Gelukkig is Tian en Lisa daar om in te gryp en almal uit die penarie te red. Nie dat dit ooit maklik is nie.
Ek het die humor baie geniet: Die kind wie se naaldwerkspeletjie afgekeur word (watter aksie kan daar immers wees ten opsigte van naaldwerk en 'n videospeletjie?) en die ouma wat die kinders wat van die bus afklim, nie as haar kleinkinders eien nie! Hoe doen jy navorsing en waar kry jy jou idees?
Ek het baie navorsing gedoen vir die volgende drie stories – hulle handel onderskeidelik oor renosterstropery, mediese eksperimente en aliens. Die Getaway-kar kom egter alles uit my kop – dis net ’n mal avontuur waaruit die ander boeke gegroei het. Boek 5, die laaste een in die reeks, is ook meer van ’n mal fantasie.
My dogtertjie wou weet hoe oud is die karakters, en waar kom hulle vandaan? Dit klink of Ouma Hester op die platteland woon (in Soutpanshoop). Waar kom die kinders vandaan? Dit moes hulle seker baie verbaas het om hulle ouma se wêreld te leer ken toe sy hulle moes oppas net omdat hulle ma Mauritius toe wou gaan?
Die kinders is min of meer so oud soos die lesers. Vir my is Lisa so agt of nege en Tian so 10 of 11. Daar rond, dalk selfs ’n bietjie ouer as dit. Hulle is stadsjapies en hulle ma is vol aanstellings. Hulle pa is sagter, en sy vrou oorheers hom. En ja, Ouma is ’n plattelander en ook ’n entrepreneur met ’n sterk aanvoeling vir ingenieurswese en IT-goeters.
Vertel ons ‘n bietjie van Zany Zack, die sanger wat die kinders so goed in die storie ken?
Zany Zack is ’n suksesvolle popster, maar die geld wat hy daaruit verdien, is nie vir hom genoeg nie. Hy begin dus ’n videospeletjiefabriek wat hy Veri Happi Kidz noem. Want wie anders as kinders sal die beste speletjies uitdink?
Vir wie skryf jy jou stories? Het jy 'n spesifieke leser in gedagte?
Seker maar vir die kind binne-in myself. En dan vir almal wat uit die alledaagse wil ontsnap en bereid is om die realiteit ’n bietjie op te skort en saam met ons drie helde op ’n wilde avontuur te vertrek.
Watter boeke het jy geniet om te lees toe jy 'n kind was?
Ek was ’n boekvraat, ek het alles gelees wat te lese was. My pa was in die onderwys en het ’n enorme versameling boeke gehad – alle genres – en my oupa het gehou van moordstories, wat ek almal verslind het. Alles in Afrikaans. Ek het op Swellendam grootgeword en Engels was vir ons klomp maats ’n vreemde taal. Ek het eers op hoërskool begin om Engels te lees. Ek kan nie enige spesifieke gunstelinge uitsonder nie – alle boeke was vir my soos kos. Daardie wye blootstelling aan Afrikaans in allerhande gedaantes het die grondslag gelê van my taalbeheersing.
Ouma Hester en die arnosterfant is nog 'n boek in die reeks. Kan jy iets hiervan ook vertel?
Boek 2 (met die Arnosterfant-lugskip) is ontsettend aksiebelaai met talle wendings – nes die leser dink alles is oor, dan gebeur daar nog iets vreesliks en dan is almal weer gespanne.
In boek 3 (met die amfibiese Dreadnought) word Tian en Lisa ontvoer (ná ’n vreesaanjaende jaagtog op kamele) en na ’n laboratorium geneem waar doktor Lewendkerwen en suster Hokus en suster Pokus op hulle wag.
Boek 4 (met die ruimtewesens en die Superkomeet) is baie snaaks, maar ook lekker skrikwekkend. Die driestuks word aangehou binne-in ’n kunsduin en moet twee grillerige aliens terugkry op Planeet Molluskië – of ánders ...
Boek 5 (Ouma Hester en die Exxo-skelet) is nogal iets anders. Dubbelgangers is betrokke en Tian, Lisa en Ouma word geframe en die tronk wag op hulle … Maar ek wil nie te veel geheime verklap nie, behalwe dat dit ook antwoorde op ’n paar vrae verskaf, soos hoekom die kinders nie hulle ouma ken nie en waarom dit altyd so moeilik was om haar in die hande te kry.
The post <em>Ouma Hester en die Getaway-kar</em>: ’n onderhoud met Janie Oosthuysen appeared first on LitNet.
Donkerdrif
Deon Meyer
Tafelberg
ISBN: 9780798181662
Deon Meyer beantwoord Naomi Meyer se vrae oor Deon se Donkerdrif, wat verlede jaar die topverkoper onder Afrikaanse boeke op Nielsen se boekverkopelys was.
Deon, baie geluk – jou jongste roman, Donkerdrif, was die topverkoper op Nielsen se 2020-boekverkopelys. Ek verstaan hoekom: Die boek lees baie lekker; mens sukkel om dit neer te sit. Die storie speel af in Stellenbosch. Een van die prominente karakters in die verhaal klink asof dit geskoei is op ’n belangrike sakeman wat onlangs in die nuus was. En dan is daar ’n wending in die verhaal wat die leser laat besef: Die storie is fiksie en nie ware nuusgebeure nie. Wil jy dalk uitbrei op hoe mens werklike nuusgebeure in fiksie aanwend?
Baie dankie vir jou ruimhartige opmerkings oor Donkerdrif.
Hoe wend mens werklike nuusgebeure in fiksie aan? Die kort antwoord sou wees: Net soos dit die storie pas.
Ek het geen formule of spesifieke filosofie daaroor nie. As skrywer is ek voortdurend op soek na storie-idees. Dit kom na jou toe aan in vele vorme, ook soms deur die gebeure van die dag. En met alles speel ’n mens die speletjie van "wat sou gebeur as ..." Hierin lê juis die veronderstelling dat die nuus nie die storie word nie, maar bloot die eerste vonk is wat die vuur aan die brand kry, want daar is mos geen raaisel of intrige wanneer die leser reeds weet wat in die werklikheid gebeur het nie.
Boonop is die werklikheid dikwels eienaardiger as fiksie, maar meestal nie geskik vir veral die spannings-/speurroman se dramatiese struktuur en ander konvensies nie. Jy gebruik dus net daardie enkele dinge wat jou eie, fiktiewe storie pas, dikwels (soos ek ook met Sewe dae en Prooi probeer het) net breë agtergrondkwashale wat die doek voorberei vir jou eie prentjie.
Ek geniet ook baie die proses van karakters van nuuts af skep. Daarom leen ek soms net ’n buitelyn – ’n beroep, ’n posisie, ’n titel – uit die werklikheid en vul die res aan uit my verbeelding. Ek doen dit nie dikwels nie. Die meeste van my karakters is suiwer fiksie.
’n Mens het as leser sekere begeertes van wat die uitkoms van ’n storie moet wees. Lesers sit ook met ’n komplekse vraag oor wat mens wil hê moes gebeur het en of mens dan bly kan wees oor iets wat inderdaad wel gebeur, hoe onverwags ook al. Jou roman behoort mens as leser nogal ernstige morele selfondersoek te laat doen! Hoe neem mens – as skrywer – ’n verantwoordelike besluit oor wat alles in ’n verhaal gebeur?
My grootste verantwoordelikheid en my hoofdoel is om ’n lekker storie te skryf, met die hoop dat ek vir die leser ’n boeiende ervaring en waarde vir haar tyd en geld kan verskaf. Alles is hieraan ondergeskik.
Hoe lyk ’n lekker storie? Ek kan nie ’n resep van bestanddele en metode verskaf nie; dit is ’n kwessie van oordeel wat oor vyftig jaar van lees en nogmaals lees en opgebou is – en veertig jaar se skryfervaring. En dan hoop jy dat jou oordeel jou nie in die proses van kreatiewe besluitneming in die steek sal laat nie.
Ek het nog altyd as leser van boeke gehou wat my met ’n morele dilemma laat, veral die konflik tussen die regsproses en regverdigheid. Ek hoop dan ook dat lesers dit net so interessant sal vind.
Net só met die einde van Donkerdrif. Ek geniet boeke wat my met ’n paar interessante vrae laat, waar die skrywer my uitdaag om te wonder oor die finale uitkoms. Soms doen ek dieselfde.
In Donkerdrif is een vroulike karakter in die besonder baie belangrik. En baie oortuigend geskryf en uitgebeeld daarby. Hoe was dit vir jou, as man, om jou in haar skoene in te dink? En hoe het jy jou huiswerk gedoen (oor haar as mens, en oor haar beroep)?
Die huiswerk oor karakters van ’n ander geslag of kultuur of etnisiteit het amper dertig jaar gelede begin, en duur steeds voort. Dit bly maar ’n skrywer se grootste uitdaging om dit met oortuiging buite sy of haar ervaringsveld te waag. Daarom sal ek voortdurend in gesprekke met al wat leef en beef vra, of nalees waar ek kan, en voortdurend nadink, om insig te probeer kry.
In die geval van Sandra Steenberg het ek met verskeie eiendomsagente gesels, maar ook meer spesifiek gaan soek na ’n vrou van haar ouderdom wat as eiendomsagent werk, en was gelukkig genoeg om ’n paar insiggewende onderhoude te kon voer.
Die res is verbeelding, en my vrou Marianne, my agent Isobel Dixon en uitgewer Etienne Bloemhof se raad en oordeel nadat hulle gelees het.
Deon Meyer
Hoe werk die skryfproses vir jou? Beplan jy eers die storie, en dan skryf jy dit neer?
Dit bly vir ’n moeilike vraag om eerlik te beantwoord, omdat dit hoofsaaklik ’n gedagteproses is. Met ander woorde, ek beplan nie op papier nie, maar net in my kop. Dalk omdat ek juis die skryfproses se vryheid om ander rigtings in te slaan, nie wil beduiwel nie.
Maar laat ek probeer, aan die hand van Donkerdrif: Toe ek en Marianne so tien jaar gelede begin huis soek het op Stellenbosch, was dit interessant om te luister na eiendomsagente se stories van mededinging en wrywing in hul bedryf. Daar was storiepotensiaal daarin wat mens in jou agterkop hou vir eendag wanneer jy die ander stukkie van die legkaart kry. Dié het sewe jaar later gekom met die sosio-ekonomiese gevolge wat die Steinhoff-sage op Stellenbosch as gemeenskap gehad het.
Dan begin mens maar dink oor storiemoontlikhede – die “wat sou gebeur het as”-speletjie – tot jy ’n breë, vae buitelyn van ‘n storie het wat jy dink boeiend kan wees. Daarna begin die navorsingsproses, want navorsing vermenigvuldig ’n mens se kreatiewe keuses eksponensieel. Die navorsing behels hoofsaaklik persoonlike onderhoude (in Donkerdrif se geval met Stellenbosch-speurders en senior polisie-offisiere, eiendomsagente, sakemense, koshuisinwoners van die universiteit, die US se kampussekuriteit ...), maar ook baie lees van koerante, tydskrifte, boeke, en so meer.
Wanneer ek meen ek het genoeg materiaal, begin die skryfwerk, steeds met net ’n vae eindbestemming, want die boek en die storie moet sy eie pad vind, elke dag, bladsy vir bladsy.
En dan hou mens maar aan met skryf tot die muse die hele ding aan jou blootgelê het.
Skryf is een lang proses van kreatiewe besluitneming. Daar is nie regte of verkeerde besluite nie, net die implikasies van elke besluit waarmee jy en jou storie moet saamleef. Die skryfproses is vir my magies en onverstaanbaar en wonderlik (en soms frustrerend en vrek moeilik). En dit is hoe dit hoort.
Donkerdrif lees glad en egalig. Hoe weet jy, met jare se skryfondervinding en -suksesse, watter gedeeltes van ’n storie om te behou, waar om uit te brei, wat om te snoei en wat om uit te laat?
Dankie! Ek dink ons is gelyktydig skrywer én leser wanneer ons skryf. Dit is die leser in ons wat die oordeel moet vel oor dit wat die skrywer pleeg. Juis daarom dat my eerste raad aan voornemende skrywers is om fanaties te lees. Hoe meer jy die leser in jou kan opvoed, hoe beter is haar oordeel. Dit voel na instink en aanvoeling, maar jy kan dit ontwikkel net as jy jou gereeld en voortdurend blootstel aan die beste skryfwerk waarop jy jou oë kan lê.
Wat verskaf vir jou die grootste vreugde van skryf? En wat is vir jou die grootste kopseer?
Daar is baie vreugdes: die klein dink-deurbraak met ’n storieprobleem; die skielike nuwe storiewending wat jou onderbewussyn aan jou voorstel en jy weet dit is baie beter as die een wat jy beplan het; ’n interessante navorsingsonderhoud met ’n uitsonderlike mens; my agent of redakteur wat laat weet hulle dink die boek werk; ’n petroljoggie by Leeu-Gamka wat jou herken en sê hy geniet jou boeke; daardie laaste sin om die boek klaar te maak ná maande en maande van selfvertwyfeling ...
En as ek doodeerlik moet wees, is daar nie in die skryfproses vir my groot kopsere nie. Ek geniet die stoei met ’n storieprobleem, die gesukkel om die regte woord of frase of stukkie dialoog te vind, die herskryf van iets wat net nie wil werk nie. Eskom se kragonderbrekings is ’n groot kopseer, want ondanks jou beste voorsorgmaatreëls is daar altyd die kans dat jy jou laaste paar bladsye kan verloor as die rugsteun die dag ingee.
Lees ook:
The post <em>Donkerdrif</em>: ’n onderhoud met Deon Meyer appeared first on LitNet.
Antjie Krog se Met die oog op môre het onlangs by Protea Boekhuis verskyn. Dié versdrama laat die kollig val op die verhouding tussen koning Moshoeshoe I en die sendeling Eugène Casalis. Oor ’n tydperk van dekades kom dié karakters te staan voor talle uitdagings vir saamwerk en saamleef met die oog op ’n voorspoedige toekoms. Melt Myburgh het vir Antjie Krog oor die publikasie uitgevra.
(Omslag: Protea Boekhuis; Skrywersfoto: verskaf)
Jy het in 1999 met die opvoering van Waarom is dié wat voor toyi-toyi altyd so vet? vir Gert Coetzee vertel: “Ek het altyd gedink as ek weer ’n toneelstuk aanpak, sou dit ’n versdrama wees. Maar soms is ’n mens kreatief vasgekeer en sê jy ja vir iets. Dan pluk dit jou uit.” Hoe het die pad sedertdien geloop tot by Met die oog op môre, en hoe het die verhaal van koning Moshoeshoe en die sendeling Eugène Casalis as gegewe aangemeld?
Na universiteitstudie van die versdramas van TS Eliot, Auden, Isherwood en Fry, het ek in my vroeë dertigs ’n eenvrou-versdrama oor Susanna Smith geskryf en dit vir Fred le Roux, wat my ma se redakteur was en intiem betrokke was by Opperman se Periandros van Korinthe se uiteindelike opvoering, gestuur. Hy het ’n vernietigende kritiek gegee (of dis soos ek dit onthou) en basies gesê: Hou jou by jou lees. So, Susanna Smith het deel van Otters in bronslaai geword en vir baie jare al hou ek my netjies by my lees.
Na Begging to be black, waarin Moshoeshoe ’n belangrike gegewe is, het Saartjie Botha op ’n dag vir my gesê: Die Moshoeshoe-storie moet ’n drama word. Ek het onmiddellik geweet dit is waar! Dit moet, maar nie deur my nie.
Intussen het die vertalings van Tom Lanoye se versdramas Mamma Medea en Koningin Lear gebeur en my ontságlik baie geleer oor tegniek, oor watter grense van die klassieke versdrama gebreek, watter geskuif en watter absoluut gehoorsaam moet word, hoe vyfvoetige jambes werk in ’n Germaanse taal, ensovoorts. Maar nog steeds, ’n wit mens kan nie ’n stuk oor swart mense doen nie. Dis appropriasie. Dis imposisie. Dis vir my nie bloot selfsensuur en gedienstige gehoorsaamheid aan politieke korrektheid nie; ek self is oortuig dat wanneer ’n wit mens oor ’n swart mens skryf, gee sy/hy bloot ’n weergawe van haar/homself. Om mekaar oor hierdie vreeslike grens van ras te verbeel moet jy jare en jare se intensiewe navorsing en saamleef doen. Dis ons morele plig om mekaar te verbeel, maar dit moet met baie meer selfondersoek gepaard gaan as bloot “ek verbeel my ek is swart”. So nee. Iemand anders moet.
Toe kry ek in 2019 ’n maand lange skrywersverblyf in Amsterdam waarin ek beplan het om ’n bundel klaar te maak. In die lieflike liggevulde vertrek gaan sit ek die eerste oggend en op die bladsy van ’n gedig waaraan ek wou werk, begin ek, asof in ’n dwaal, asof ek oor ’n groot skeur in die grond spring, die drama skryf. Dis die eerste keer dat so iets my oorkom. Ek dink my denkende, kritiese self het in ’n beswyming gegaan sodat my kreatiewe self uiteindelik kon oorneem. Die feit dat ek ook uit my land was, vryer gevoel het om kreatiewer paaie te volg, het waarskynlik alles gehelp.
Die aand was ek baie opgewonde en ontsteld oor wat ek besig is om te doen en myself gehamer met kritiek. En toe besluit ek dit sal net wit mense wees wat óór Moshoeshoe praat, hy self sal die Groot Afwesige wees. Maar ja, hier by toneel 3 kom hy gewoonweg op in suiwer Afrikaans.
Waar kom hierdie stukkie grafika vandaan wat op die titelblad verskyn?
Ja, dis wonderlik, nè! Dit kom uit die fantastiese PhD-tesis van Peter Seboni: Moshweshwe’s diplomatic relations with the indigenous chiefs of Southern Africa 1822–1870.
Het Afrikaanse versdramas van weleer in jou kop gesit toe jy Met die oog op môre aangepak het? Ek dink byvoorbeeld spesifiek aan Van Wyk Louw en Opperman se werk. Moes jy in jou kop deal met die “tradisie” van Afrikaanse versdramas soos Germanicus en Periandros van Korinthe?
Dit was goeie sterk stukke wat mens twee dinge laat besef het: dat albei diep westers gesetel is, Romeins en Grieks, klassiek in vorm, en ook dat niemand dit ooit weer opgevoer of dit deesdae eers as voorgeskrewe materiaal aanbied nie. Ek kon in reaksie ’n tema gebruik wat in Suider-Afrika gesetel is, wou dit minder klassiek doen en moes ook besef die lewe van ’n versdrama in Afrikaans is net ’n asem lank.
Die geskiedenis van Moshoeshoe is geweldig interessant, en jy verduidelik in ’n nota agterin hoe jy jou verbeelding en inligting uit bronne moes laat saamwerk om Met die oog op môre te skep. Ek neem aan dit is ’n komplekse storie om met die bronne oor ’n figuur soos Moshoeshoe om te gaan? Hoe vind ’n mens balans tussen die geskiedenis van die koning wat desjare gelede deur wit sendelinge opgeteken is, en die publikasies deur meer onlangse swart skrywers oor Moshoeshoe? Mens moet seker teen wit koloniale verdigsels waak wanneer jy so ’n onderneming aanpak?
In daardie wonderlike boek van David Attwell, JM Coetzee and the life of writing: Face to face with time, beskryf hy hoe Coetzee soggens in die donker al begin skryf het, maar dan die aand alles wat hy geskryf het, in sy dagboek aangeval en bevraagteken het. Dis ’n natuurlike deel van die kreatiewe proses, so ondanks die momentele gevoel van kreatiewe vryheid, was die vrae aan myself deurentyd ’n onophoudelike stroom van kritiek, en dit verg nogal iets enorms om desondanks aan te gaan.
Voorstellings van Moshoeshoe (Illustrasies: verskaf)
Tom Lanoye was, dank vader, my groothartige gids. As ek kwel oor Moshoeshoe Afrikaans praat, sal mens sy dele in Sesotho laat vertaal, sê hy, dit maak nie uit: Romeo en Juliet het Italiaans gepraat, Hamlet was van Denemarke … Dan wonder ek waar mens ooit swart akteurs sal kry wat so ’n stuk wíl doen, dan sê hy dis nie waarmee jy jou moet besig hou nie. Ek en hy het die derde draft ook saam gelees en toe’t hy gewaarsku: te veel feite. Jy moet tonele flits. Sny! En jou hoofkarakter moet reg van die begin af kragtig op die verhoog wees, moenie wag tot toneel 3 nie!
Ek het ook op ’n stadium met ’n kort gedeelte uit die stuk, vertaal in Engels, aan William Kentridge se “Less good idea”-werkswinkel deelgeneem, waar hy meedoënloos alle polities korrekte kwellinge van die tafel gevee en slegs gefokus het op wat visueel kon wees. Dit was eintlik asof ek by die twee kon hoor hoe boeie van my polse losklik. My lees van Moshoeshoe is hoofsaaklik op swart bronne gegrond en, uiteraard, Casalis s’n op wit mense … Maar ek wil later hierop terugkom.
Moshoeshoe was ’n uitnemende diplomaat. Aan die begin van die versdrama sê hy vredesoffers aan verskillende groeperings en nasies toe ten einde vreedsame naasbestaan te verseker. Selfs Shaka kry “’n vrag glinsterende vere, volstruisvere wat ooppluim, vir ’n koning wat altyd alleen sit”. Wat is jou indruk van Moshoeshoe se staatsmanskap, en wat kan politici – en veral Afrikaanse mense – vandag uit sy nalatenskap leer?
Moshoeshoe was in feitlik alle opsigte Nelson Mandela se voorloper. Al die diplomasie in die stuk kom net so uit Seboni se tesis. Maar ag, ons verkies mos Shaka. Ons respekteer mos wraak. Ons raak opgewonde oor haat.
Natuurlik loop daar ook foutlyne deur Moshoeshoe se karakter, wat van hom ’n tragiese held maak. Hy is verantwoordelik vir verskeie mense se dood, onder andere sy vrou Mamohatho. En sy karakter wankel ietwat onder die kolonialistiese aanslag van die sendelinge. Hoe het jy dié gebreke in sy karakter benader ten opsigte van die skryfwerk?
Aanvanklik het hy nie wat ek sou beskou “tekortkominge” gehad nie. Sy “fout” was dat hy intelligent en nuuskierig was, ’n filosofie van verweefdheid gehad het en gedink het dat ’n vriendskap met wittes op ’n gelyke vlak moontlik is. Net om seker te maak, skryf ek aan die Franse vrou, Marie-Claude Barbier, wat ’n biografie oor Casalis geskryf het, om te vra wat die sendelinge Parys toe geskryf het oor die dood van Mamohatho. Sy vra haar navorser en na ’n week kom die antwoord terug dat dit nooit aangemeld is nie! Nou ja, dit was ’n ding. Dit moes in! Maar hoe? Wie se plan was dit? Wat was die waarheid?
Wat was jou indrukke van en gevoel oor Eugène Casalis as historiese sendeling-figuur terwyl jy hom as karakter vir die versdrama “verwerk” het?
Die afgebrande sendingstasie van Eugène Casalis (regs). (Foto’s: verskaf)
Al die jare was ek eintlik verlief op Casalis. Sy volkome oorgawe en oopstel van homself aan dit wat anders as hyself was, sy kapasiteit om die diep waardevolle in ’n ander gemeenskap te peil, sy wonderlike uitdrukkingsvermoë, sy jeugdige geesdrif, die openlikheid waarmee hy Moshoeshoe se fisiese prag beskryf het … Dit het my altyd eindeloos hartseer gemaak dat die twee mense wat ’n vriendskap oor grense heen tot stand sóú kon bring, dit uiteindelik nooit kon doen nie vanweë die aansprake van hulle onderskeie groepe binne ’n meedoënloos vernietigende tydsgewrig.
Die vrouefigure wat met die hoofkarakters geassosieer word, Mamohatho en Sarah Casalis, is telkens die stem van rede teenoor hul mans. Mamohatho konfronteer byvoorbeeld vir Moshoeshoe oor sy gedienstigheid aan die sendelinge, en Mevrou Casalis roskam vir Eugène oor die narsissisme wat sy sendelingmissie onderlê. Is dié kritiese ingesteldheid van die vrouefigure histories juis, of het dit saam met die kreatiewe verbeelding gekom?
Is die vroue noodwendig die stem van rede? Is hulle nie dalk twee mense wat nie verby die tradisionele horisonne kon kyk en sien iets buitengewoon belangriks is hier aan die gebeur nie? Aan die ander kant het hulle beide dalk juis verder as die horison gekyk en besef dat die tydsgewrig swart gemeenskappe gaan vernietig en dat ’n prekêre vriendskap tussen twee mans totaal onbelangrik is. Maar dit is my verbeelding. Van Mevrou Casalis is daar nie veel om op te gaan nie. Mamohatho word wel genoem as sou sy verskyn as ’n voormoeder om te waarsku dat die sendelinge die voorvaders kwaad maak. Maar ek vind dit interessant dat albei mans sulke sterk metgeselle gekies het en dat hulle mekaar se vrouens so gerespekteer het. Casalis skryf baie mooi oor die lang, waardige Mamohatho en Moshoeshoe was geweldig hartseer toe Mevrou Casalis oorlede is.
Die kannibalisme-gegewe loop soos ’n motief deur Met die oog op môre. ’n Aangrypende toneel is wanneer Moorosi en ’n jongman namens Moshoeshoe voedsel neem vir ’n uitgestote gemeenskap aan die rand van die koninkryk. Die rede vir die groepie se buitestanderskap is dat hulle tydens ’n hongersnood een van Moshoeshoe se voorsate geëet het. Ek neem aan dié gegewe is gegrond op historiese feite?
Ja, dit is, en word altyd vertel om die enigma van Moshoeshoe uit te beeld: Die kannibale vang jou oupa, jou oupa wat verantwoordelik was daarvoor dat jy van filosofie en leierskap onder Mohlomi kon leer. Die soldate vang die kannibale en bring hulle voor Moshoeshoe, wagtend dat hy wraak neem en die doodsbevel oor hulle moet gee. Maar in plaas daarvan laat hy ’n begrafnisritueel oor hulle geskied, omdat hulle nou die graf van sy oupa is.
Hulle het dan ook naby die paleis gebly en is vir die res van hulle lewens van kos voorsien sodat hulle kan ophou om mense te eet. Op ’n manier is dit nie ’n enigma nie, maar ’n ongelooflike tablo van interverbondenheid: Selfs die moordenaars, die diewe, is deel van ons en ons moet sorg dat hulle sodanig deel vorm van ons gemeenskap dat hulle nooit weer terugval in hulle afskuwelikhede nie.
Dié toneel se impak is juis oorweldigend omdat die kannibalisme-insident vertel word met byna terloopse verwysings na die besonderhede rondom die tragiese gebeure in die dialoog – “Toe gryp ons die agterste een”, “Ons het gedink sy gehuil hou daardie dag nooit op nie” – en dan staan die pot waarin hulle die ou man gekook het ook aandadig eenkant. Vertel asseblief van die uitdagings en oplossings waarmee jy as dramaturg worstel wanneer jy ’n toneel soos dié skep, waarin geskiedenis en verbeelding bymekaarkom. Dit moet bepaald bevredigend wees om ’n toneel soos hierdie te laat wérk binne die drama?
Dit is eintlik iets onverduidelikbaars, Melt. Ek ken die verskeie tekste oor hierdie onderwerp verskriklik goed, maar as jy skryf: “Toneel 3.2, Moshoeshoe se werf”, of “Casalis se huis”, dan moet jy ’n prent sien. Wat doen hulle? Wie gaan praat? Hoe word hierdie informasie ’n tablo of ’n boeiende gesprek waarin die een karakter nie bloot luister nie? En die vreeslikste, oftewel die gevaarlikste, is dat jy die oomblik wat jy met jou hart in jou keel jou verbeelding-mode instap, skielik voel hoe jy Casalis kan sien, sy concern oor Moshoeshoe, en nog erger, dat jy nie ’n oomblik huiwer om Moshoeshoe se psigiese spasie in te gaan nie, sy woede, sy magteloosheid, sy plesier. Dis natuurlik tydens hierdie momente wat mens op jou mees kritiese en waaksame moet wees; dis hier waar jy al die oortredings begaan waarteen jou analitiese self so waarsku. Maar nou ja, hier is dit, ek kan ook nie anders nie.
Het jy tydens die skryfwerk bewustelik omgegaan met die beperkinge wat veral plaaslike verhoogproduksies (met klein begrotings vir min akteurs en beperkte stelle) in die gesig staar? Van die karakters in Met die oog op môre word onder meer in die spreekkoor opgeneem om manne/vrouekrag te “spaar”. Of het jy net laat waai?
Dis ’n goeie vraag. Onlangs in Amsterdam sit ons so ’n klomp mense om ’n tafel in ’n teater en ’n man, ’n regisseur, begin vertel: Om hierdie einste tafel het ons keer op keer gesit en saam met Tom Lanoye sy drafts vir Koningin Lear deurgewerk. Ek en ’n paar akteurs, hier het ons elke versie hardop deurgelees en voorstelle bespreek. Toe dag ek: wat ’n wonderlike luukse! Jy kon hoor die woord geld, artistieke ervaring en toerusting was ’n gegewe.
Tom Lanoy (Foto: Arthur Los Fotografie)
Na my eie tiende draft het ek tog wel ’n lekker groot ete gekook en my kinders gevra om saam met my te lees en was verstom oor hoe ’n verskil dit maak om werklik verskillende stemme te hoor en hoe jy agterkom sekere dinge is nie uitgewerk nie, een van jou kleiner karakters word nie afgesluit nie, ensovoorts. Ek kon gelukkig ook staatmaak op die goeie advies van die oop hart van Marthinus Basson en ook op dié van Willem Anker. Hulle noem net iets, of vra iets, en jy besef oombliklik hoe dit moet verander.
Die Afrikaanse toneel is tans op sy eie opwindende en moeilike pad. Ek het geen verwagting dat die stuk ooit meer as teks op papier sal wees nie, maar dit is op sigself al vir my wonderlik. Min teatertekste word uiteraard gepubliseer.
Min Afrikaanse mense weet meer as jy van die pryslied. Jy het ons immers met jou werk in Met woorde soos met kerse en jou vertaling van die Nelson Mandela-pryslied ingelei tot dié lieflike genre. En natuurlik is daar ’n imbongi aan die woord in Met die oog op môre. Is daar nuanse-verskille tussen die Basotho-pryslied en byvoorbeeld dié in isiXhosa en isiZulu?
Nie wat ek kon agterkom nie. isiXhosa se top imbongi, SEK Mqhayi, kon beleef dat sy werk opgeteken word en daarna het iemand soos Jeff Opland geweldig navorsing oor die pryslied gedoen. Die isiZulu-prysliedere oor Shaka is ook al jare gelede opgeteken. Dit is dalk dat formidabele kenners hulle nog nie tot hierdie mate toegespits het op die Sesotho-pryslied nie, maar verkies het om te fokus op Difela – die reisliedere/prysliedere van mense op pad na die myne. Dit was vir my interessant om die ritmes te breek tussen die pryslied en die vyfvoetige jambe. Ek meen, hoe sal ’n pryslied op Afrikaans klink? Net na ’n stuk jambes?
Jy het ook ’n lied wat Casalis as sendeling vir sy “gemeente” geskryf het, uit Sesotho vertaal en dit word deur die koor uitgevoer in die versdrama. Was dit algemene gebruik onder sendelinge destyds om liedere te skryf vir die mense wat hulle probeer kersten het?
Casalis het verskeie liedere vir sy gemeente geskryf. Dit was redelik standaard gebruik, want wat laat jy jou gemeente sing wat jy nie as “heidens” beskou nie? Dus het hulle gewoonlik bekende kerkmelodieë gebruik en daarvoor woorde geskryf in die inheemse taal.
Moshoeshoe en sy raadsmanne (Afbeelding: verskaf)
Die tydsverloop in Met die oog op môre strek oor dekades heen tot en met die dood van Moshoeshoe. Was dié tydsraamwerk van die begin af in jou visie van die eindproduk?
Daar is vir my sleutelmomente in Moshoeshoe se lewe: een is die dood van sy oupa, die ander is sy probleme rondom sy doop. Al die sendelinge het aangegee dat hy homself tog uiteindelik laat doop het; die Basotho-bronne sê hy het juis NIE. Dit is nog iets wat deurgaan as ’n enigma, maar wat eintlik met ’n versugting na verweefdheid verband hou. Dit was belangrik as einde omdat hy tot met sy sterfte nie werklik verstaan is nie.
Wanneer ’n skrywer ’n versdrama soos Met die oog op môre aanpak, werk jy natuurlik nie alleen as dramaturg nie, jy arbei ook as digter en vertaler, en dan is daar die historiese gegewe wat ook ingebed word by jou skepping. Hoe hou ’n mens kop met alles?
Oor en oor en oor deurgaan. Hardop. In my files sien ek draft 17 is uiteindelik aan die uitgewer gestuur en hierna het nog talle, talle veranderinge, verstellinge, verskuiwings gebeur. Elke keer wat jy deurlees, kom jy op ’n ritme af wat nie werk nie, ’n beeld wat loshang, ’n subtiliteit wat effe krag moet kry, ’n “darling”-frase of -beeld wat uiteindelik kan waai, en so meer.
In die bedankingsnota van die publikasie verwys jy na die ondersteuning van formidabele mense soos Willem Anker, Marthinus Basson, Tom Lanoye (met wie jy al ’n laaaaang pad kom), Johan Lenake, Tsepiso Mothibi en Chris Swanepoel. Wil jy miskien uitbrei oor die belangrikheid daarvan om mense soos dié om jou te hê wanneer jy ’n projek soos Met die oog op môre takel?
In hierdie COVID-tye was hulle onontbeerlike, onverdiende, dog vrygewige gidse. Met die groot vertalingsprojek uit inheemse tale waarmee ek die afgelope vyf jaar by UWK gewerk het, het ek op ’n dag afgekom op ’n toneelstuk deur B Khaketla, Moshoeshoe le baruti (Moshoeshoe en die sendelinge), en kon ek gelukkig geld in die hande kry om dit deur Chris Swanepoel in Afrikaans te laat vertaal. Hierin verbeel ’n swart dramaturg hom hy is ’n wit sendelingvrou! Johann Lenake, ’n vreeslose aanhitser van my drama-projek, en Tsepiso Mothibi was in my vertalingspan vir die inheemse letterkunde en hulle het my baie bygestaan met kulturele en emosionele gebruike en gelowe. Hierdie drie het ook my Sesotho gekontroleer. Professor Lenake was ook die vertaler van die drama Senkatana waaruit ek veral die filosofiese argumentering van leierskap binne ’n net van verweefdheid geput het.
Jy wou nog terugkom na die struktuur en die kwessie van wit mense wat oor swart mense skryf …
Ek wil net terugkeer na dit wat basies die struktuur van die stuk bepaal het: Mag ’n wit mens oor ’n swart mens skryf? Ek het veral gaan kyk na hoe iemand soos John Coetzee hieroor dink. Hy verstaan op ’n baie diep en intieme vlak hoe om eties gedryf te wees om te skryf oor die gemarginaliseerdes, en hy erken in sy dagboeke dat die gaping tussen ’n wit middelklaslewe en ’n gemarginaliseerde onoorbrugbaar is. “It is an unbridgeable gap (and must be so with all comfortable liberal whites), and the best one can do is not to leave it out but to represent it as a gap” (my kursief, JM Coetzee and the life of writing: Face to face with time).
Dit was vir my ’n ongelooflike insig en opdrag. Dit beteken dat mens êrens in die teks self die leser bewus moet maak: Ek, die skrywer, besef maar al te goed dat hierdie ’n verbeelde voorstelling is, ek doen my bes, maar jy, leser, moet in gedagte hou dat die teks nie voorgee om die Waarheid te wees nie, dit is niks meer nie as ’n wanhopige, onmoontlike poging wat met nederige eerlikheid, en ja, hoe anders, foutiewe aannames, geskied. Daarom is die verhoogaanwysings van ’n raamwerk asook die uitbreek uit die teks van Moshoeshoe self ’n poging om die gehoor bewus te maak van die “unbridgeable gap” … Hoe dit ookal sy, uiteindelik gaan hierdie stuk NIE oor swart nie, maar is ’n verkenning en ondersoekspoging na die moontlikheid van vriendskap, begrip en selfs liefde oor rasgrense heen teen ’n agtergrond van geweldige onreg.
Maak enige fees of produksiehuis al geluide oor ’n moontlike opvoering van die versdrama?
COVID en die feeste met borge stel ontsettende eise aan Afrikaanse toneel, en nadat ek gehoor het hoe desperaat daar om fondse geveg is vir Koningin Lear, ten spyte van Vlaamse hulp, en hoe verskriklik die hele crew moes spartel om in die kort tyd en begroting in te pas, aanvaar ek die dae van sulke soort produksies is verby.
The post Antjie se oog op môre appeared first on LitNet.
Titel: Kanaän
Skrywer: Sophia Kapp
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799399462
Sophia Kapp praat met Naomi Meyer oor Sophia se Kanaän, wat verlede jaar die naasbeste verkoper op Nielsen se boekverkopelys was.
Sophia, baie geluk: Jou roman Kanaän was verlede jaar die naasbeste verkoper op Nielsen se boekverkopelys. Het jy nog altyd geweet dat jy wou skryf? Wanneer het jy tot die besef gekom dat jy ’n skrywer is?
Skryf was nog altyd vir my lekker – die enigste ding wat ek op skool geniet het, was opstel skryf – maar ek kon myself vir die eerste keer as ’n skrywer beskou toe ek my debuutroman vasgehou het. Daardie gevoel dat ’n mens iets voltooi het, dat jy iets geskep het wat in die kosmos in is en nooit gaan terugkom nie, dit is ’n vrede wat nooit vervaag nie.
Kanaän en Kanaän: Was die naam van jou roman, met alles wat dit ontsluit – die beloofde land, en dan die reis na die plaas en die grond – dadelik vir jou daar? Het die uitverkore volk op pad na die land van melk en heuning ook hiermee te doen gehad? Was die plaas se naam van die begin af ook titel van die boek?
Ja, ek het dit doelbewus so gekies, want dit gaan hier, soos in al my boeke, oor die idee dat ’n mens iewers hoort. Dat ’n mens aan mense en aan ’n plek behoort. Dis natuurlik dieselfde narratief wat die hele grondkwessie in die land onderlê: Dit gaan nie oor aan wie van ons die grond behoort nie, dit gaan oor wie van ons aan die grond behoort. In die storie is al die gesinne deur onteiening en ontheemding bedreig, en ’n mens herken in almal die wrokkigheid wat kom as hulle van hulle oerplek, hulle heimat, vervreem word.
Maar ek het ook doelbewus ’n plaas as milieu gekies omdat dit in ouer liefdesromans (dié wat ek op skool onder die bank gelees het) so verromantiseer is. Dis ook ’n doelbewuste keuse om ’n stereotipe in die genre anders te skryf. Die plaas word in hierdie storie ’n mikrosamelewing, en die spanning tussen die karakters is eintlik ’n opsomming van die spanning wat nou nog tussen Suid-Afrikaners bestaan.
Wat was die sneller van die verhaal – hoe het jy geweet, op ’n dag, dat jy hierdie boek moes skryf? En hoe lank het dit jou geneem?
Ek het ná Kantelpunt geweet ek is nou moeg vir ’n militante vrou en ’n lamsakkige man; ek het nou ’n behoefte aan ’n mooi meisie en ’n held in die ware sin van die woord. Chrisjan was die eerste karakter wat ek geskep het, en ek het Katryn letterlik vir hom gemaak. Ek het vir almal in Kanaän ’n sagte plek, maar ou Chrisjan is maar my gunsteling. Maar die sneller vir hierdie storie was die opkoms van Donald Trump en sy moderne weergawe van nasionaal-sosialisme. Mense se onvermoë, of onwilligheid, om die verbande tussen moderne nasionalistiese retoriek en Nazisme raak te sien, maak my bang.
Vertel my van die distrik Senekal, die grond in die Vrystaat. Dis die omgewing waar jou pa vandaan kom. Het jy daar grootgeword, en het jy dit ook in jou geestesoog of geheue gesien terwyl jy die storie geskryf het? Vertel my van die betekenis van die verskillende grondgebiede en omgewings in jou storie.
Ek is tot in die murg van my gebeente ’n stadsmens. Ek het in Durban in KZN grootgeword, en ek raak benoud as ek buite Sixty60 se aflewersone beweeg. My ma het altyd gesê ek kan met baie min klaarkom, maar ek kan nie sonder die luxuries nie.
My pa was ’n Vrystater, en Kanaän is geheel en al geskep uit sy vertellings van sy oupa se plaas. Hy het as ’n jong skoolseun vakansies daar gaan kuier, maar sy oupa is oorlede toe hy 10 was, en ek het nooit die plaas te siene gehad nie. Ek moes dus staatmaak op wat hy kon onthou, en ek het, toe ek Kanaän begin skryf het, een vakansie hom oor alles op die plaas uitgevra. Die goed in die huis, of daar water en elektrisiteit was, of daar ’n foon was, en die opset met die opstal en die stalle kom dus uit sy vertellings, maar die res bestaan net in my kop.
Maar kom ek verklap hier so ’n bietjie van ’n skrywer se geheime: Dit is nie nodig om vir ’n leser vreeslik baie besonderhede oor ’n omgewing te gee nie. Dis genoeg om een of twee goed oor die omgewing te sê wat ’n bepaalde indruk skep, en die res aan die leser oor te laat. Die lekkerste stories is trouens dié waarin ’n skrywer net genoeg inligting gee dat die leser self die prentjie kan inkleur, want op dié manier raak die leser by die storie betrokke. As ’n mens ’n lysie sou maak oor wat in die boek oor die plaas en die plek geskryf staan, sal jy sien die werklike beskrywings is min. Daardie prentjie in jou kop het jy self gemaak.
Dit is ’n skryftegniek, soos ek gesê het, maar dit was vir my veral in hierdie verhaal belangrik dat die leser haar eie belewing en haar eie prentjie van die plek moes skep. Ons het almal iewers in ons verlede ’n Kanaän, en ons moet almal daardie plek gaan besoek, sodat ons kan erken wat daar gebeur het en kan gaan versoening soek met die mense wat nou nog daar is.
Kanaän is ’n historiese roman. Stel jy belang in daardie tydperk rondom die Tweede Wêreldoorlog? Hoe het jy jou navorsing gedoen? Behalwe vir die reise na verskillende grondgebiede: Hoe reis mens terug na ’n ander tyd? Hoe vind mens uit hoe dit in daardie dae was en hoe stel mens vas hoe mense destyds was, in daardie tydsgees?
Ja, dis vir my gewoon lekker om oor die geskiedenis te lees, maar ek glo ook onwrikbaar dat alles wat ons nou is onlosmaaklik met die verlede verweef is. Ons raak die spoor byster as ons die verlede ontken of wil herskryf. En ek gee nou nie om of jy pienk of pers of links of regs is nie, as jy jou politiek of filosofie in die verlede inskryf, knoei jy. Dis vir my as Afrikaner belangrik om die verlede in die oë te kyk en te erken wat my mense gedoen het, maar dis ook belangrik om te sê hulle is my mense. Ek is die nasaat van boere en Boere, met alles wat dit inhou. Ek moet weet hulle was by tye verkeerd, maar ek gaan my nou ook nie skaam vir die feit dat ek ’n Afrikaner is nie. Ek gaan dit ook nie ontken nie.
Die tyd waarin hierdie verhaal afspeel is ook versigtig gekies. Ons vergeet dat Nazisme nie in daardie tyd as ’n afgryslikheid beskou is nie. Ons vergeet ook dat Nazisme gegaan het oor die opheffing van die eie, oor ’n volksidentiteit en ’n beskerming van daardie identiteit deur die staat. Dit was ’n lofwaardige ideaal, en in daardie tyd vir Afrikaners baie aantreklik. Ons wil dit nie weet nie, maar apartheid was bloot ’n Suid-Afrikaanse weergawe van nasionaal-sosialisme. "Make America great again" is ’n moderne weergawe daarvan. Dis vir ons vandag maklik om Nazisme te veroordeel, want ons assosieer dit met die uitwissingskampe, maar ons besef nie hoe gevaarlik die filosofie self is nie, en dit maak my onrustig om hierdie idees weer oral in die wêreld te sien kop uitsteek. Dis presies hoekom ek die aanhaling van Primo Levi voor in die boek gekies het – as ’n ding gebeur het, kan dit weer gebeur.
"Met die simpel oorlog in Europa, gaan ons nie gou ’n Dior in Suid-Afrika sien nie," sê een van jou karakters op ’n stadium. Het jy hierdie boek geskryf toe die COVID-19-virus al ontstaan het? Voor die impak daarvan, soos ’n oorlog, die hele wêreld getref het? En tog lees mens die boek en besef: Mense is al deur verskillende rampe en ellendes. Dink jy hierdie virus gaan ook die letterkunde aanraak en die agtergrond bied waarteen heelwat skilderwerke op die doek verskyn?
COVID het nog nie bestaan toe ek Kanaän begin skryf het nie, en dit was ook nog net ’n Chinese krisis teen die tyd dat dit na die uitgewer toe is. Natuurlik sal dit die letterkunde beïnvloed – dit moet. Enige ding wat die wêreldpsige op hierdie skaal beïnvloed, moet in die letterkunde neerslag vind, maar ons is nog nie deur COVID nie. Ons kan nog nie terugskouend daarna kyk en die volle koste daarvan verreken nie. Ons betaal nog die prys; ons kan nie nou al ons leed en ons emosionele skade losskryf nie.
Ek bly by COVID-19: Hoe beïnvloed die virus jou gemoed en jou kreatiwiteit? Skryf jy meer en makliker, het jy meer tyd? Hoe sien jy die siekte in die samelewing manifesteer? En mense se reaksies daarop?
Ek sukkel om aan die skryf te kom. Deels omdat my gewone werk my besiger hou nou met COVID, maar ook omdat ek erg aan Weltschmerz ly. Ek wil nie meer uit my huis uit gaan nie, want die swaarkry om my bedruk my. My psige voel belas, my hele syn voel tam en swaar. En omdat dit nog nie verby is nie, kan ’n mens nie daaraan begin verwerk nie. Dis soos egskeiding of dood – ’n mens kan eers daaroor skryf as jy daardeur is en jy afstand gekry het, anders is alles wat jy skryf net ’n lament.
Terug by Kanaän: ’n Prominente tema is die wrywing tussen Boer en Brit, Afrikaans en Engels. "Al waarvoor die Afrikaner goed is, is om in die myne te werk of te boer." Ek dink aan die ontmoeting van Chrisjan en Katryn – al die wedersydse idees en stereotipes oor Engels en Afrikaans, ook oor swart en wit. Hoeveel het daardie idees werklik, 80 jaar later, verander?
Veel minder as wat dit moes. Ons het natuurlik heeltemal te lank nog met apartheid in hierdie land voortgeploeter, wat veroorsaak het dat ons normalisering van verhoudings heeltemal te laat begin het. Toe Europa en selfs die res van die British Empire begin verreken het aan die skade wat kolonialisme en stereotipering aan menseverhoudings gedoen het, het Suid-Afrika teen sy eie mense oorlog verklaar om daardie stereotipering in stand te hou. Dit gebeur nie sonder ernstige breinspoeling nie, en ons sit vandag nog met die gebakte pere. Ek kan sien die jonger geslag probeer, maar ek kan ook sien hoe die vooroordeel en die onverdraagsaamheid van my geslag nog deursyfer. Dit maak my moerig, maar al waarmee ek dit kan teenwerk, is stories soos dié in Kantelpunt en Kanaän, waarin ’n mens probeer uitbeeld watter skade dit kan doen.
Jy plaas heelwat hindernisse in jou manlike en vroulike hoofkarakters se paaie sodat hulle nie by mekaar kan uitkom nie. Hoe beplan jy dit? Skryf jy vir jouself neer wat in elke hoofstuk moet gebeur? Hoe werk die skryfproses vir jou?
Ek moes noukeurig beplan aan Kanaän se verloop, want die gebeure in Europa het ’n direkte impak op wat op die plaas gebeur. Grazzianu Bruno se vertrek terug Italië toe moes op ’n baie bepaalde tydstip plaasvind, net soos die ontsetting van Auschwitz direk verband hou met Ferdinand Pfeiffer se besef van sy aandadigheid. As ’n mens gebeure so verweef, kan jy nie net agter ’n gevoel aanskryf nie, dan moet jy beplan. Ek het vir Kanaän ’n tydlyn geskep, eintlik van Chrisjan se ouers se tyd af tot by die hede, wanneer Giacomo en Gabriella oor die verlede gesels. Maar ’n mens trou nou ook nie met jou beplanning nie. Jy beplan, maar losweg sodat die storie sy loop loop, en sodat jy karakters soos ta' Miem en oom Gert, en die Jablonski's, en selfs klein Wilhelm en Elke, behoorlik kan ontgin.
Jou boek lewer kommentaar op die wrywing en idees van verskillende heterogene groepe oor mekaar. Maar dan is daar ook Afrikaanse mense se idees oor Afrikaanse mense. ’n Karakter in jou boek sê op ’n stadium: "Jou Afrikaans is onbesproke. Maar jy is nie Afrikaans nie." Dink jy dis ’n stelling van daardie tyd, of dalk ook steeds van toepassing op vandag?
O, my volk, my volk. Ek het dit elders ook al gesê: Ons is ’n nasie van dwarstrekkers. En soveel hoofde, soveel sinne. Deel van my pa se vertelling oor die plaas op Senekal, was die storie van die twee NG Kerke in Winburg – een vir die Natte en een vir die Sappe. Dis ’n opsomming van wie en wat ons is. Ek het dit in my eie familie ervaar – elkeen het sy eie idee oor wat Afrikanerskap behels, en elkeen glo hy of sy is reg. Intussen is Afrikanerskap presies wat elkeen daarvan maak. Ek kan met vrymoedigheid sê ek is ’n Afrikaner, en steeds in niemand se boksie pas nie. Maar dit het my 55 jaar geneem om dit te leer, en ek weet nie of die jonger geslag genoeg geduld of tyd het om dit te doen nie.
Ek het nog ’n tema opgemerk, wat ook in jou ander boeke opduik: Die kerk onderdruk en dwing reëls af. Maar die kerk kan ook ’n veilige hawe bied, en goed doen. Daar is nie ’n absolute swart-en-wit-situasie aanwesig nie. Die kerk in die tydperk wat Kanaän afspeel, vervul wel ’n uiters belangrike rol in die dorp. Wil jy iets skryf oor die kerke en godsdiens in jou stories – of dan net in Kanaän?
Ek is nie aldag seker oor hoe ek oor die kerk of oor georganiseerde religie voel nie. Ek het grootgeword in ’n gemeente waar Afrikanernasionalisme in plaas van die evangelie van die kansel af verkondig is. Ek moes (onlangs) in ’n werksplek luister hoe ’n kollega in ’n gebed God bedank vir die feit dat die Afrikaner die uitverkore volk is. Ek is uit die NG Kerk omdat ek nie met ’n homofobiese organisasie wil vereenselwig nie. Maar ek weet ook dat geloof vir mense en gesinne en gemeenskappe ’n anker is in ’n storm, en dat mense wat werklik deernis het, groot verandering kan bewerkstellig. Ek weet dus nie of ek werklik ’n tema oor die kerk het nie, buiten dat ’n mens ook na die kerk as instelling moet kyk en bereid moet wees om te erken dat daar groot foute begaan is.
En die Sotho-wêreld, destyds en vandag. Hoe skryf mens daardie storie as mens wit is? Hoe skryf mens ’n storie geloofwaardig, soos dit is, maar ook bewus van mens se eie beperkinge om ’n verhaal te vertel waartoe mens net gedeeltelik toegang het? Of kan ek dit ook vra as mens as vrou oor ’n manlike karakter skryf?
Ek kan nie die Sotho-storie skryf nie, gewoon omdat ek nie genoeg daarvan weet nie. Ek het ook nie Esau of Lerato se storie geskryf nie, ek het Katryn en Chrisjan se belewing van Esau en Lerato se storie geskryf. Dis wat ek myself veroorloof het. Ek het ’n bietjie meer vrymoedigheid gehad om Chrisjan se storie te skryf, al is ek ’n vrou, omdat ek Afrikanermans darem so ’n bietjie beter ken. Maar dis waar ’n skrywer se werk lê: om seker te maak die skryfwerk is eerlik, die karakters is geloofwaardig, die belewing van die situasie waarin jy hulle plaas, is eg. As ek ooit ’n bruin of swart karakter moet skryf, sal ek dit beslis net doen met ’n bruin of swart medeskrywer se hulp. Nie oor politieke korrektheid nie, maar omdat my eerlikheid as skrywer van my vereis om my karakters tot in die murg van hulle gebeentes te ken.
Jou daaglikse werk is met woorde. Wanneer skryf jy? En is jou werk vir jou ’n hulpmiddel – om so soepel met woorde om te gaan soos wat die geval is – of staan dit soms in jou pad, omdat jy nadink of jy die regte woorde in ’n sin gebruik?
Nee, woorde is my wêreld. Maar dis waarvoor ons woorde het: om stories te maak. Ek is besonder bevoorreg dat ek heel dag (en nag en naweek) met woorde kan werk. Ek het nog nooit my werk as ’n hindernis beskou nie, buiten dat dit baie uit my tap, en dat ek nie genoeg tyd het om al die stories te skryf wat in my kop sit nie.
Wat lees jy graag?
Gewone mense se vertellings op Facebook oor goed wat met hulle gebeur, want ’n mens kom baie keer daar by die rou kant van die lewe uit. ’n Mens sien daar wat die snellers is vir groot leed, en wat vreugde bring. So uiteenlopend as wat mense kan wees, deel ons hierdie reaksies. Dit is vir my fassinerend dat ons so kan verskil en baklei en afstig, en dan in ons gebeente eintlik maar dieselfde is.
Waaruit put jy vreugde, of wat is die dinge wat vir jou sin en betekenis gee?
My kind. My werk. My honde. My vriende. My huis wat ook my hawe is. Om ’n stoep te hê waar ek die hele dag in my pajamas kan sit en werk. Om sjerrie uit my oumagrootjie se kristalglase te drink. Om saam met my kind opera te luister. My herinneringe aan my kinderdae en aan mense wat vir my lief was. Die vooruitsig om eendag weer te kan reis en die goed op my kluitklaplys te doen. Om te kan leef in die hier en nou en te weet dis goed, en nie te sit en hoop dat anderdag beter sal wees nie. Want ek was al daar ook, en dis afgryslik.
Lees ook:
The post <em>Kanaän</em>: ’n onderhoud met Sophia Kapp appeared first on LitNet.
Titel: Toekomsmens
Skrywer: Isa Konrad
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780639605234
Pretoria, 2057. Dertig jaar ná Johannesburg in ’n spookstad verander het, word die Nuwe Republiek van Suid-Afrika deur die Toekomsparty en ’n Raad van Twaalf regeer. Kel de Jong werk as ’n programmeerder in die Intelligensieburo. Sy geordende lewe word in chaos gedompel wanneer ’n militêre observasiesatelliet ’n jong kind op die verlate N1 tussen Pretoria en Johannesburg ontdek. Op dieselfde dag word In-Grid, die Intelligensieburo se sentrale kunsmatige intelligensie, in ’n aanval vernietig. In die chaos wat volg, aktiveer Kel In-Grid se prototipe en ontdek dat dit die herinneringe van Agnes Baumer bevat, ’n vroulike spioen in Duitsland gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Met behulp van tydreise ontdek Kel in die verre verlede die waarheid agter die gebeure in sy hede.
Cliffordene Norton gesels met Isa Konrad oor Toekomsmens.
Foto: verskaf
Wat was vir jou die inspirasie vir hierdie storie, en kan jy onthou op watter dag jy besef het: Dit is die tema en hierdie is die karakters wat hierdie storie gaan vertel? Of ontwikkel ’n boek vir jou op ’n meer organiese wyse?
Ek wou nog altyd ’n wetenskapfiksieroman skryf. Dit is vir my die genre met ’n paar van die beste boeke, en ’n sondvloed van die swakstes, wat ek nog in my lewe gelees het. As mens die dag aan jou skryftalent twyfel, hoef jy net Bram Stoker se Lair of the white worm te lees om jou selfvertroue terug te kry!
Die rede hoekom wetenskapfiksie my fassineer, is dat daar skrywers is wat met suiwer verbeelding storiewêrelde kan skep wat glad nie in die werklikheid bestaan nie. Die beste wetenskapfiksie daag die leser uit om jou realiteit opnuut in oënskou te neem deur jou ’n alternatiewe realiteit aan te bied. Mens kan dit seker as sinlose bespiegeling afmaak, maar goeie wetenskapfiksie – deur outeurs soos Ursula K Le Guin, George Orwell of Liu Cixin – laat my nadink oor my eie wêreld: waar ons vandaan kom, waarheen ons op pad is, en ons plek in die kosmos. Dit gee my ook ’n nuwe waardering vir my wêreld, vir die wonderlike planeet waarop ons leef. Ek wil amper sê dat ek wetenskapfiksie lees omdat dit my terugbring aarde toe.
Toekomsmens was aanvanklik net ’n baie vae idee in my kop dat ek ’n boek wou skryf wat temas soos emosie, siel en bewussyn in die konteks van kunsmatige intelligensie in die toekoms aanroer. Dis nie vreeslik oorspronklik nie, want dit is alles temas wat herhaaldelik in wetenskapfiksie voorkom, maar ek wou dit graag in die konteks van die verre toekoms sowel as die verre verlede skryf. Ek het gehoop dat ’n toekomswêreld meer toeganklik vir die leser sou wees as ek dit met geskiedenis waarmee die meeste mense vertroud is, kombineer. Dit is beslis ’n organiese proses, want as ek die boek regtig moes beplan het, sou ek moedeloos geraak het lank voordat die regte werk begin het.
Ek kan amper nie meer onthou waar die karakters vandaan gekom het nie, net dat ek twee hoofkarakters wou skep waarvan die een ’n mens is wat soos ’n masjien dink, en die ander een ’n masjien met ’n menslike bewussyn. En dan lê en droom mens maar net snags in jou bed totdat die idees duidelik genoeg word dat jy wil waag om dit te begin neerskryf. Dis groot pret, maar regtig so ’n deurmekaar proses dat ek altyd vir myself onnosel klink wanneer ek dit probeer verwoord.
Ek weet, weens my vorige uitgewersposisie by LAPA Uitgewers, dat jy hierdie boek in 2016 die eerste keer voltooi het. Hoeveel van die boek moes jy herskryf, veral in ag genome die COVID-19-pandemie?
Ek wou Toekomsmens aanvanklik as ’n reeks skryf. Ek dink nie ons het wetenskapfiksie-reekse in Afrikaans nie en ek het gedink dit sou ’n interessante projek wees. Maar soos gewoonlik was ek hopeloos naïef en ooroptimisties oor die hele ding. Die manuskrip wat ek in 2016 ingedien het, was die “eerste boek” in die reeks. Dit het omtrent tot daar getrek waar Kel se tydreise begin. Al die gebeure tot op daardie punt was net baie meer omslagtig. Oftewel langdradig.
Cecilia Britz was daardie tyd my uitgewer. Sy het my op die gaafste wyse denkbaar tot die insig gebring dat die idee vir Toekomsmens as ’n wetenskapfiksiereeks twak is. Ek moes die storie in een boek inpas sodat die leser dit van begin tot einde kon lees, en klaar.
..........
..........
Dis wat ek toe gedoen het. Ek het ’n opsomming van die eerste manuskrip se hooftrekke gemaak, die res weggesmyt en van voor af begin. Dit was die beste raad wat ek nog gekry het. Cecilia is ongelukkig oorlede voordat sy die finale manuskrip kon sien. Ek dink nie ek kan ooit ophou hartseer wees oor haar nie, maar ek is haar so dankbaar vir alles wat sy my geleer het en dat ek die voorreg gehad het om so ’n besonderse mens te ken.
Ek het die nuwe manuskrip vir Toekomsmens einde Februarie 2020 ingedien. Twee weke later is die eerste Covid-noodtoestand hier in Switserland uitgeroep en teen die tyd dat Madri Victor, my huidige uitgewer, en die skrywer Chanette Paul daarna gekyk het, het die siekte in Suid-Afrika ook uitgebreek. Chanette en Madri het my albei aangeraai om nog een keer aan die manuskrip te werk en die pandemie in die geskiedenis van ’n toekomstige Suid-Afrika in te werk. Dit is immers geskiedenis wat ons tans leef. Ek het die veranderinge aangebring en toe is die boek darem eindelik klaar.
Hoe neem jou karakters vorm aan? Wie het jou die meeste verras of onkant gevang? Het een of twee ter elfder ure ingeglip, of beplan jy alles haarfyn?
Ek beplan die karakters en gebeure in ’n storie nooit haarfyn nie. As ek aan ’n begin, middel en einde vir ’n storie kan dink, voel ek dis die moeite werd om te waag. As ek ’n idee nie tot by ’n moontlike einde kan dink nie, los ek dit liewer, al is ek hóé opgewonde daaroor.
Karakters begin vir my as stemme in my kop vir wie ek eers net dialoë in die konteks van ’n moontlike storielyn uitdink. En dan luister ek maar net of ’n vrou of ’n man die beter karakter vir ’n sekere rol is. Wanneer die stemme eers daar is, word dit makliker om die karakters en gebeure meer soos ’n rolprent in mens se gedagtes te sien. Wanneer ek ernstig aan die storie begin skryf, leer ek hul agtergrond en persoonlikhede beter ken. Soos mens hulle beter leer ken, pas jy gedurig die manuskrip aan.
Kel se suster, Adri, was die karakter wat ek nie aanvanklik beplan het nie. Sy het omtrent halfpad deur die storie saam met die idee van verledemense ontstaan. Die Nuwe Orde klassifiseer verledemense as geestesversteurd. Hulle het nie dieselfde regte as ander volksgenote nie. Inderwaarheid is verledemense egter die verstandiges in ’n samelewing wat met dogma gemanipuleer word om die verdraaide utopie wat die Nuwe Orde vir hulle geskep het, onvoorwaardelik te aanvaar. Maar alles het ’n prys en verledemense besef dat die prys van perfekte orde mense se menswees is. Hul siele.
Toe Kel se lewe begin uitmekaarval, is Adri daar om hom te vang. Kel is die held en Agnes die heldin van die verhaal, maar Adri is hulle albei se verlosser.
Soos sy samelewing, onderdruk die hoofkarakter Kel sy emosies. Was dit moeilik of maklik om hierdie karakter te skep? Verkies jy om meer emosiegedrewe karakters soos sy suster Adri te skep? Of het jy geen voorkeure nie?
Kel was ’n interessante skryfervaring omdat hy in die eerste helfte van die boek sterk teen my instink as skrywer indruis. Emosie is so ’n absolute móét vir storiekarakters dat mens amper nie weet waar om te begin met ’n karakter wat deur sy samelewing geprogrammeer is om emosie te verwerp nie. Toe ek aan hom begin werk het, het ek egter gou besef dat hy – net soos al die ander volksgenote wie se lewens om produktiwiteit en gehoorsaamheid aan die Nuwe Orde draai – bo alles ’n eensame bestaan voer. Ek hoop iets daarvan skemer deur in die boek.
Om hierdie aanvanklik eendimensionele karakter ’n pad deur tyd en ruimte te laat stap waarop hy die diepste menslike lief en leed teëkom, en homself uiteindelik vind, was van die mees bevredigende skryfwerk wat ek nog gedoen het. Hoe verder hy ontwikkel het, hoe meer was daar op die spel vir hom. Dit was vir my spannend en teen die einde ook baie emosioneel. ’n Wonderlike skryfervaring. Ek wil dit net nooit weer doen nie!
Die ander hoofkarakter, Agnes Baumer, is ’n interessante maar tragiese karakter. Sy gee ook die leser insig in die daaglikse struikelblokke wat ’n vrou tydens ’n oorlog in die gesig staar. Wat of wie was die inspirasie vir haar?
Agnes se rol in die verhaal was vir my van die begin af duidelik. Sy leef in ’n ander tyd, maar in ’n wêreld wat sekere parallelle met Kel se wêreld vertoon – parallelle wat daartoe lei dat hy uiteindelik die dogma waarmee hy grootgeword het, begin bevraagteken.
Een boek wat ek vir agtergrond gelees het terwyl ek aan Toekomsmens gewerk het, hét my baie gehelp om beter in haar gedagtewêreld in te kom, empatie vir haar te ontwikkel en ’n sterker karakter van haar te maak. Dit was Eine Frau in Berlin, waarvan daar ook ’n Engelse vertaling, A woman in Berlin, beskikbaar is.
Die outeur is ’n anonieme skryfster, ’n jong vrou van Berlyn wat ’n joernalis was voordat die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het. Sy is eers in 2003 as die joernalis Marta Hillers geïdentifiseer.
Marta Hillers was in Berlyn toe die Russe die hoofstad teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog binnegeval en oorgeneem het en duisende vroue verkrag het om wraak te neem op Duitsland. Sy was self ’n slagoffer, en Eine Frau in Berlin is haar dagboek van daardie maande. Dit beskryf onvoorstelbare swaarkry, hongersnood en alles wat met ’n absoluut haglike situasie gepaardgegaan het.
Ten spyte van alles wat sy deurgemaak het, is die skryfster se werk ongelooflik mooi. Haar krag, haar hoop, die manier waarop sy steeds skoonheid, selfs blydskap in haar nagmerriewêreld raaksien. Hoe sy haar gevoelens en belewenisse verwoord. Die boek het my asem weggeslaan, my so baie as skrywer geleer, en ek dink daardie leeservaring het Agnes se karakter verryk.
Die begrafnisseremonie wat in 2057 vir die hoogste range van die samelewing gehou is, is besonder mooi. Wat het dit geïnspireer?
Biomassaontbinding is ’n gekontroleerde stadige proses in die kapsule waarvan die byproduk lig is. Elke volksgenoot wat in die muur geplaas word se sterwenslig sal honderd jaar in hierdie saal skyn. Tot dusver is daar sewe ligkapsules in die muur. Die kapsules gloei in individuele pastelkleure. Elke tree deur die saal tot by die helde se laaste rusplekke is in ligstrale vasgelê. Die strale verrys soos dun pilare uit die waterhelder glasvloer oor die senotaaf op en simboliseer die gestorwenes se lewenspad. Wanneer die muur eendag vol is, sal die saal in ’n reënboogsee van lig verspoel. (Toekomsmens, bladsy 124)
Die universiteit van Bath in Engeland het in 2016 ’n kompetisie gehou vir argitekte om begraafplase vir ’n meer omgewingsbewuste toekoms te ontwerp. Benewens die besoedeling wat lykbalsem in die grond, of verassing in die lug veroorsaak, gaan dit ook daaroor dat die spasie in Europa besig is om op te raak. Hier in Switserland word grafte byvoorbeeld herbenut. Dit beteken lyke word ná 25 jaar opgegrawe sodat iemand anders in dieselfde graf gesit kan word. Mens wil liewer nie te diep daaroor nadink nie ...
In elk geval, die ontwerp wat Bath-universiteit se kompetisie gewen het, visualiseer begraafplase in mensgemaakte woude, met kapsules in die bome se takke waarin biomassaontbinding plaasvind. Die kapsules word só ontwerp dat die natuurlike ontbindingsproses lig as ’n byproduk vrystel. Die idee van ’n woud, mense se laaste rusplek saam met voëls in hul neste hoog in die bome, vry van die aarde, hul sterwenslig wat in die bome gloei, is vir my nogal poëties.
Watter soort navorsing doen jy en hoeveel tyd bestee jy aan navorsing voordat jy met ’n boek begin?
Ek doen gewoonlik navorsing terwyl ek aan boeke werk, nie voordat ek begin nie. Geen storie-idee word vir my eg voordat ek daaraan begin skryf nie. Dit is hoekom ek nie veel verder as ’n begin, middel en einde beplan nie. Eers wanneer ek skryf, kan ek sien wat ek nodig het en watter inligting die storie gaan dien.
Soms het mens spesifieke inligting nodig. Vir Toekomsmens moes ek byvoorbeeld baie versigtig oor genetiese ingryping gaan nalees en die werk verstaan voordat ek die hoofstukke wat daaroor handel, kon waag.
Maar regte navorsing gaan vir my meer daaroor dat ek elke middel tot my beskikking gebruik om myself in die storiewêreld te verloor. Gedurende die jare wat ek aan Toekomsmens gewerk het, het ek omtrent uitsluitlik boeke oor fisika, geskiedenis en tegnologie gelees. Op treine, in die bed of wanneer ek gaan stap en iewers in die veld sit om te rus. Ek het ook al die klassieke werke in wetenskapfiksie wat ek nog nie geken het nie, gelees. (Maar ek het nie naastenby by almal uitgekom nie, daar is so baie.) Ek het wetenskapfiksiefilms en dokumentêre films oor die bomaanvalle op Berlyn, Lebensborn en spioenasie gedurende die Tweede Wêreldoorlog gekyk. Alles saam wakker my verbeelding aan om die omgewing waarin die storie afspeel, in my kop te begin sien.
Nog iets wat ’n storiewêreld vir my lewend maak, is musiek. Ek het ’n speellys vir Kel se wêreld en ’n speellys vir Agnes se wêreld op my musiekspeler. Ek het ook ’n speellys vir my Karibib-boeke – en nog steeds die een wat ek vir Diva gebruik het. Dit is vir my ’n onontbeerlike skryfinstrument.
Wat was vir jou die moeilikste of uitdagendste dele van die skryfproses?
Die kort antwoord is: Elke dag.
Dit geld vir elke boek. Ek kan nie vir jou sê hoe moeilik dit vir my is om soggens voor my rekenaar te gaan sit en myself wys te maak dat ek dit vandag gaan regkry om iets te skryf wat iemand sal wil lees nie.
..........
..........
As skrywer wil mens graag glo dat jy vernuwend dink, anders dink as ander skrywers. “Uit die boks,” soos mense sê. En soos die meeste ander mense wil jy nie ’n etiket om jou nek hê nie.
Maar hier is die ding van skryfwerk (en die lewe, vermoed ek): Mens is altyd in die boks. Of jy dit wil weet of nie.
Waarom is die wetenskapfiksie-/fantasie-genre in Afrikaans steeds so klein? Veral in ag genome hoe gewild dit wêreldwyd is?
Dis so klein in Afrikaans omdat die oorgrote meerderheid van boeke in dié genre absolute snert is. Ek blameer die Amerikaners en Britte. Wetenskapfiksie het as pulpliteratuur begin – dit was spotgoedkoop leesmateriaal en enige aap met ’n ooraktiewe verbeelding kon hul werk in pulptydskrifte publiseer. Werke soos Mary Shelley se Frankenstein of Bram Stoker se Dracula was meer ’n gelukslag as iets anders. Nie een van dié twee skrywers het ooit weer iets geskryf wat die moeite werd is om te lees nie.
Ek dink nogtans wetenskapfiksie is wonderlik, want daar is hierdie massiewe oeuvre van die wildste skryfwerk wat mens kan beleef. Dit is so baie pret om daarin rond te krap.
Skrywers soos HG Wells, Philip K Dick, George Orwell, Ursula K Le Guin, Doris Lessing, later Margaret Atwood en selfs Douglas Adams met sy Hitchhiker’s guide to the galaxy het die wetenskapfiksie genre tot ’n groot mate hervorm. Catherynne M Valente se Space opera wat in 2018 verskyn het, was die snaaksste, briljantste boek wat ek in ’n lang tyd gelees het. Daar is wonderlike literatuur as mens net vasbyt met die genre.
Maar wie wil nou vasbyt met ’n genre terwyl ander genres soos misdaad en romanse so baie goeie boeke bevat dat mens amper nie kan hoop om in een leeftyd deur meer as ’n druppel in die emmer te kom nie? Boeke is ook te duur dat mens dit kan bekostig om ’n stapel wetenskapfiksie te gaan koop met die wete dat driekwart daarvan vir jou nul leesbevrediging gaan inhou. Dit is vir my totaal te verstane.
Maar omdat mense dan nie baie wetenskapfiksie of fantasie lees nie, kom Afrikaanse skrywers nie op die idee om in daardie genres te skryf nie. Wanneer jy dit wel doen, moet jy ook uit die staanspoor besef dat baie van jou lesers nie gaan belangstel om jou boek te lees nie, want hulle vertrou nie die genre nie. Die feit dat dit so is, beteken egter nie dat ons as skrywers die genre eenvoudig moet afskryf nie. Dit moet ons eerder aanspoor om ons beste te gee in watter genre ons ook al skryf, sodat lesers nooit ingeloop sal voel wanneer hulle geld op ’n boek spandeer nie. Ek kan nie wag om te sien wat van wetenskapfiksie in Afrikaans gaan word nie.
Tydens die laaste hoofstukke ontdek Kel dat Agnes haar familie in Namibië van hom (die toekomsmens) vertel het. Hul ontmoeting en verhouding het familielegende geword. Beplan jy ’n boek oor die Baumer-familie voor Kel en Anri by hulle in 2057 opdaag?
Wat ’n interessante idee! Ek het nie so iets beplan nie, maar ’n boek oor die Baumer-familie sou dalk ’n interessante projek wees. Of een oor Kel en Adri se kinderjare. Dit is beslis iets om in gedagte te hou.
Die boek se slot vereis ’n opvolg. Is jy tans besig om dit te skryf? Wanneer sal die opvolg verskyn? Kan jy ons asseblief ’n proestukkie van die opvolg gee?
Ek weet die boek se einde voel miskien of daar ’n opvolg moet wees, maar ek beplan dit nie. Ek het die einde ’n bietjie oop gelos omdat dit andersins net tragies vir Agnes kon eindig, as jy daaroor nadink. Ek kan die onvermydelike uitstel deur ’n vervolg te skryf, maar dit sou dan ook net daardie een finale einde kon hê. In plaas van ’n tragedie wou ek eerder hê dat die leser die boek met hoop en nuuskierigheid oor die toekoms kan neersit.
"Om siele vir die Here te wen" – die pastorale rol in tye van kunsmatige intelligensie
The post <i>Toekomsmens</i> deur Isa Konrad: ’n onderhoud appeared first on LitNet.
Rachelle Greeff (Foto: Karin Brynard)
Rachelle Greeff het oor jare heen vir haarself naam gemaak as ’n gerekende mentor vir opkomende skrywers. In 2020 is LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se eerste Kommadagga-slypskool onder haar leiding aangebied. Tydens dié slypskool is die talent van ses nuwelingskrywers wat hulle met die kortkuns besig hou, vir drie weke lank in Somerset-Oos verfyn.
Die laaste sewe jaar was Rachelle betrokke by die Breytenbach Sentrum se skryfskool in Wellington, en vanjaar sit sy haar begeleiding van belowende skrywers onafhanklik voort in ’n kleiner, intieme formaat. Dit was juis tydens die 2020-Kommadagga-slypskool dat sy opnuut onder die indruk gekom het van die “toegevoegde waarde” wat interaksie met kleiner groepe studente bring. “Hoe kleiner die groep, hoe gouer kry ek ’n idee van elke kreatiewe stem, en kan ek gouer en skerper daarop reageer. Hoe minder beginner-storiemakers voor jou sit op die eerste dag, hoe gouer ontdek jy elkeen se kinkels en knope.”
As skrywer wat self groot hoogtes met veral kortverhale en dramas bereik het, is Rachelle sensitief vir skeppende siele se broosheid in die aansig van ontluikende talent. En juis daarom is die “tandem-oefensessies” wat sy saam met haar studente hou, gerusstellend vir beginners. “Studente se onsekerheid en vrees oor hul eie werk is die grootste gemeenskaplike deler,” sê sy. “Baie (nie almal nie) voel veilig as jy hulle vir eers in die holte van jou hand hou. Hulle kreatiewe sappe begin vloei sodra hulle sien ek erken hul weerloosheid omdat ek my eie weerloosheid ken en aanvaar. Mens moet dus aanspoor en ondersteun sonder om met ’n babateelepel te voer.”
Om skreiend eerlik te wees, is uiteraard belangrik, en dit is dikwels heluit moeilik. “Maar hier kom jy nie verby nie. As jy net gouestroop smeer, mors jy jou tyd en die student se geld. Humor help. My studente skater dikwels. Seker oor ek maklik vir myself kan lag,” sê sy.
Rachelle beplan om in 2021 ses studente vir ’n tydperk van ses maande in te neem. Groepsessies sal een keer per maand op ’n Saterdag van 09:00 tot 16:00 gehou word. Aansoeke sluit op 5 Maart, en belangstellendes kan haar by rageltjieg@gmail.com kontak vir besonderhede. Voornemende studente moet ’n kort motivering indien oor hoekom hulle die mentorskapprogram wil deurloop, en ook ’n voorbeeld van hul skryfwerk – maksimum 300 woorde – instuur.
Kortverhale, rubrieke en essays is Rachelle se forte, maar sy pas graag aan by die behoeftes van voornemende studente. “’n Paar van my studente het reeds as romansiers gedebuteer. Wanneer ek met ’n ander mens se roman werk, is ek helder.” Studente kan hulle regmaak vir harde, prettige werk, en “skeppende spronge wat hulle nie sou kon vooruitsien nie”.
“Ons werk vanuit die staanspoor met die oog op publikasie en studente word van heel vroeg aan lede van die uitgewersbedryf en suksesvolle skrywers voorgestel,” vertel Rachelle. “Hulle moet weet hoe die groter boekewêreld lyk, nie illusies hê nie, en weet waarvoor hulle hul inlaat.
“Skryf is allenig, nie glamorous nie en jy bestee uiteindelik meer tyd aan herskryf as aan die neersit van die oorspronklike storie.” Gevestigde skrywers wat al ’n ent pad geloop het, sal hierdie stelling uit een mond beaam. “En ek deel net so openhartig die bloed en blapse van my afgelope veertig jaar in die skryfbedryf. Ek het begin as angsbevange verslaggewertjie wat nie geweet het hoe om ’n onderskrif by ’n koerantfoto te skryf nie. Maar ’n mens leer veral uit jou foute. Hiersonder is jy futloos.”
Prominente gaste uit die skrywers- en uitgewerswêreld sal hul kennis met studente deel. Mense soos Deon Meyer, Jan van Tonder, Karin Brynard en Ingrid Winterbach was in die verlede al stergaste van Rachelle se skryfprogram. “Wyle Margot Luyt het kom vertel hoe om ’n radiodrama te skryf. Ek het verlede jaar vir die eerste keer ’n filmmaker betrek. Sy het ’n mini-werkwinkel gehou oor die skryf van ’n kortfilm. Dit was erg gewild en ek herhaal dit vanjaar as genoeg studente hierin belangstel.
“Piet Grobler het uit Portugal met ons gepraat oor die maak van kinderboeke. Chase Rhys, dramaturg en rubriekskrywer vir Rapport, het ook via Skype by ons gekuier.” Hierdie hutspot van mense en menings is vir Rachelle van onskatbare waarde: “Dis my verantwoordelikheid om studente die kans te gee om so wyd as moontlik te sien, hoor en leer.”
Enkele van die publikasies wat onder Rachelle se leiding ontwikkel is, is Jean-Pierre de Kock se roman Die daggaboer en Willem Krog se Alleen onder die maan. Brian Fredericks se kortverhaalbundel, As die Cape Flats kon praat, het by Human & Rousseau verskyn, en die ontvangs was besonder goed. In die jare wat Rachelle met Brian saamgewerk het, het hy ook twee maal die gesogte jaarlikse Woordfees-kortverhaalbundel gehaal. Fredericks sê: “Rachelle lees jou werk met valkoë. Sy’t my ook geleer die duiwel is inni detail.”
Ander eertydse studente wat hul kniebuiging in die Woordfeesbundel gemaak het, is Natie Engelbrecht, Jean-Pierre de Kock en Stefanie Hefer. Nog ’n oudstudent, Elisha Zeeman, was in 2017 ’n wenner van PEN Afrikaans se New Voices-slypskool met die storie “Die Mystic en die vlieg”.
Misdaadskrywer en mediapersoonlikheid Irna van Zyl beskryf Rachelle in haar Bloedsteen, wat verlede jaar by Penguin verskyn het, as die “briljante juffrou van die skryfskool”. Albert Maritz, die akteur, regisseur en dramaturg, getuig dat Rachelle se skryfwerkwinkels “’n groot én klein wêreld” vir hom oopgemaak het. “Die groot wêreld is die een van genre, tegniek en styl, en die klein wêreld die detail van sig, kleur en geur.”
Theltom Masimila, draaiboekskrywer en vervaardiger van die TV-reeks Arendsvlei, het in 2016 sy tande by Rachelle gaan slyp. Hy het agterna as skrywer by Suidooster en 7de Laan ingeval. “Ek het geleer om my stories te ‘interrogate’ en het weggestap met die selfvertroue om my werk aan kykNET voor te lê,” vertel hy.
Lize Albertyn-du Toit, wat in 2020 aangewys is as wenner van die South African Literary Awards se Afrikaanse kategorie vir ’n debuutskrywer, se Die kinders van Spookwerwe, is ook deur Rachelle se mentorhande. “Ek is ’n boervrou,” vertel Lize. “Eers was ek skrikkerig oor die deel van my werk met ’n klomp onbekende mense. Maar toe ek sien die skryfsessies is sonder bedreiging of veroordeling, het my kreatiewe sluise oopgemaak.”
Rachelle Greeff verkies om eerder van ’n “mentorhart” as van “mentorhande” te praat. Soos Hennie Aucamp is sy hartstogtelik oor die aangee van skryfkennis.
Vanselfsprekend sal alle COVID-19-protokol tydens die mentorskapsessies geld. “Natuurlik, dis nóg ’n rede hoekom ek die groep klein wil hou,” sê sy. “En as die pandemie weer ons groepsessies in die wiele ry, soos vir etlike maande laas jaar, bied ek dit weer aanlyn aan.”
The post Rachelle Greeff se mentorhart oop vir nuwelingskrywers appeared first on LitNet.
Hoephoepieland
Ronél van der Watt
Naledi
2020
ISBN: 9781928518877
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.
“Elke kind het ’n uitdaging, is ’n ster met potsensiaal, het ’n naam en ’n stem” ̶ Ronél van der Watt
Konteks
Die outeur, Ronél van der Watt, het die bundel stories binne die multikulturele Suid-Afrikaanse konteks saamgestel, gebaseer op 34 jaar praktykervaring as kliniese sielkundige.
Binne dié konteks is daar baie uitdagings wat aan volwassenes en kinders gestel word. Op alle terreine – polities, ekonomies, sosio-ekononomies, maatskaplik en psigologies, word veral die jonger ontwikkelde kind blootgestel aan vraagstukke wat in baie gevalle nie aangespreek word, of aangespreek kán word nie.
Kan hierdie leemtes toegeskryf word aan vooropgestelde sienings, gebrekkige kennis en ook ’n veranderende samelewing wat as gevolg van stereotipes, die konteks van verandering nie maklik (wil) interpreteer of kan assimileer in ’n gevestigde verwysingsraamwerk nie?
Hoe dit aangespreek móét word om ’n gebroke samelewing te verbeeld waarin gedrag, houdings, tendense en diversiteit die hoof te bied, is nie in ’n A tot Z-handleiding vir kinders beskikbaar nie. Eerder dan die suggestie van die werklikheid as fiksie; in dié geval dan ’n fiktiewe verbeelding van ’n bundel fiktiewe kortverhale wat die kwessies direk en objektief aanspreek uit die oogpunt van ’n kenner.
’n Kinderboek uit ’n vertellersperspektief wat kennis, substansie en objektiwiteit binne die Suid-Afrikaanse konteks weerspieël en sonder politiese korrektheid tot álmal spreek, was lankal nodig.
Voorblad
Die voorblad illustreer dan ook elf vrolike kinders verteenwoordigend van diverse groepe en verskillende afkomste. Dit wil voorkom asof elke kind vrolik en sorgvry is. Tog weerspieël die een karakter ’n jong glimlaggende kind in ’n rolstoel met beperkte fisiese mobiliteit, waarskynlik as gevolg van serebrale gestremdheid. Is sy werklik gelukkig? Hoe kan sy gelukkig wees ten spyte van haar omstandighede? Die voorblad en ook die subtiele inhoudelike illustrasies, een wat elke verhaal voorafgaan, is gedoen deur die grafiese kunstenaar, Mandré du Plessis. Du Plessis gebruik waterverf as medium om sagtheid te verleen aan die skreiende werklikheid.
Die simboliek rondom die Hoep-hoep en die titel
Die titel, Hoephoepieland. Tien omgeestories met ’n hart, fokus op vriendskap en empatie. Die eerste deel van die titel verwys na die hoep-hoep, lid van die voëlfamilie Upidae, ’n kleurryke kuifkopvoël wat dwarsoor die wêreld voorkom. In die Afrika-konteks is die hoep-hoep ’n simboliese boodskapper van vriendskap of ’n besoeker.
Volgens oorlewering, as jy die voël “hoep-hoep, hoep-hoep” hoor sing, gaan jy ’n belangrike kuiergas ontvang wat groot voorspoed vir jou familie gaan bring en jou nag en dag, deur swaarkry en vreugde, sal bystaan. In die Afrika-konteks word die koringbierkleur van die hoep-hoep met feesvieringe geassosieer, terwyl die wit en swart ’n suggestie van swaarkry is.
Die tweede deel van die titel, Tien omgeestories met hart, weerspieël die positiewe karakterisering en ontwikkeling waarin volharding, empatie, deernis, sensitiwiteit en veral hoop aan die leser gegee word. Van der Watt slaag ook uitstekend daarin om volwassenes deur die oë van ’n kind hul eie leefwêreld te herevalueer en te luister na hul belewenis daarvan.
Die Afrika hoep-hoep word sterk verteenwoordig in elk van die tien stories.
Die agterblad
Op die agterblad word aangedui dat die boek geskik is vir voor- en selflees, 5 tot 9 jaar. As leser glo ek dat wie ook al die agterplatteks geskryf het, die omvang van die boek en die lesersmark met die stelling beperk en onderskat. Dié boek het ’n sterk sosiale gewete en die kwessie wat aangespreek word, kan uiters relevant wees vir wyer ouderdomsgroepe. Kinders by wie ’n sosiale gewete gekweek is, sal die boek individueel en selfstandig kan lees en sonder moeite van toepassing kan maak op uitdagings en hindernisse in die daaglikse lewe.
Die inhoud: Deel 1
Die boek bestaan uit twee dele waarvan die die eerste deel, bladsy 7–128, verteenwoordigend is van die tien verhale wat elk ’n bewussyn kweek ten opsigte van die lewe self en hoe ’n kind emosioneel moet en kan oorleef, ten spyte van tekortkominge en hindernisse.
Van der Watt spreek in dié verhale situasies aan soos trauma, vreemdelingehaat, geweld in gesinsverband, mediese toestande, serebrale gestremdheid, kinders met kardiovaskulêre defekte, longsiektes en ook gesinsamestellingskwessies — kwessies wat ’n inklusiewe benadering vereis, maar nie altyd na wense hanteer word nie. Hierdie insig is nodig om stereotipes te sloop en ook om diegene wat wél empatie en begrip het vir andersheid, diversiteit in totaliteit te integreer uit ’n meer ingeligte raamwerk. Soos in die voorwoord vermeld, maak die boek kinders bewus van ander se lewensomstandighede en help sodoende om ’n kapasiteit vir empatie te ontwikkel.
In die eerste van die tien verhale “Die nuwe juffrou en die hoep-hoep”, is dit juffrou Ansie se eerste werksdag by Hoephoepieland. Juffrou Ansie voel self onseker; dit is immers haar eerste werksdag by die skooltjie (7).
Van der Watt maak seker dat sy soveel elemente as moontlik in die eerste verhaal integreer, nie net om die ruimte en plek geloofwaardig te skets nie, maar ook om hierdie literêre boustene te inkorporeer in die res van die boek: die skewe, groen hekkie, die Kareeboom, die klaskamer se groen deur wat afdop en sukkel om oop te maak, die stowwerige reuk van die klaskamer … dié elemente skets aanvanklik ’n gevoel van somberheid, tot sy die karakters ontmoet – Samuel, Joshua, Tom, Nina, Fatima, Sebete, Rachel, Rachel se sussie, Tumelo —elk met ’n unieke karakter. Elke kind ontvang ’n naamkaartjie en die dag word met oefeninge begin “om ons kriewels uit te kry” (9). Vryheid van beperking word deur die oefeninge gesimboliseer: “Flap julle hande. Julle is voëltjies wat vlieg.” Die kinders giggel. Hulle maak asof hulle in die lug sweef. (10). Nina vlieg na ouma Beatrice en Joshua vlieg oor die berge. ‘n Hoep-hoep met ’n reguit kuif maak sy opwagting en word as “honger en alleen” beskryf.
Twee van die kinders, Tumelo en Sebete hardloop uit die klas in ’n poging om die voëltjie te vang en juffrou Ansie gryp Tumelo net betyds aan die kraag om ’n tref-en-trap-ongeluk voor ’n verbygaande taxi te verhoed (11). Die eerste reaksie van Tumelo was ’n gevoel van vrees, vrees vir geweld: “Gaan Juffrou ons nou pakgee?” (12). Die reaksie van Juffrou Ansie is egter anders as verwag, “Nee, Tumelo. Voëltjies wat skrik, vlieg weg” (12).
Juffrou Ansie skets dan die gedrag van die hoep-hoep en vergelyk dit met die behoeftes van die mens “Net soos mense wil hoep-hoepe ook maatjies hê. Hoep-hoepe sing as hulle alleen voel. Juffrou begin saggies sing” (13).
Dit is juis hierdie fyn metaforiese woordspeling wat die leser tot stilstand bring omdat die menslike faktor in elke lewende of nie-lewende objek élke verhaal in die boek substantiveer en motiveer, hetsy as persoon, emosie, gedrag of die modifikasie daarvan. En is dit nie juis hierdie behoeftes ten opsigte van die self en ook ander wat die sinvolheid van groei, gedrag en uiteindelik aanvaarding bepaal nie?
Die eerste verhaal kompromiseer geensins die motief soos aanvanklik geantisipeer (mag) word deur die leser nie nie; dit is eerder aanvullend en dien as stimulus vir ’n wêreld, ’n verwysingsraamwerk bekend aan baie, maar nog nooit so ontbloot nie.
Van der Watt teiken in die tweede verhaal die weerloosheid van kinders wat geboelie word, die psigologiese impak daarvan en ook die uitkoms deur ’n benadering van positiewe versterking.
In die derde verhaal word vreemdelingehaat (xenofobie) aangespreek en met fyn humor benader. In “Sebete en die taxi-ongeluk”, die vierde verhaal, word die kwessie van vervoer van en na skole aangespreek. Die taxi wat Sebete en Lerato as vervoermiddel gebruik, ontaard in ’n nagmerrie —’n taxi-ongeluk.
Materiële verlies, ’n huis wat afbrand, die konteks waarin die verwoesting plaasvind en gesinsgeweld is die motief vir die vyfde en sesde verhaal.
“Samuel se mammas”, die sewende verhaal, skets die verwysingsraamwerk asook die emotiewe invloed wat ’n aangenome kind ervaar.
Dat aanneemkinders verwerping, selfwaarde, identiteitsvorming en verlies daaraan ervaar, word soms oorvereenvoudig. In sekere gesinstrukture waar die aangenome kind van geboorte as ’n eie kind binne ’n familieopset grootgemaak word, met kennis van sy/haar herkoms op die regte en gegewe tyd, bestaan die waarskynlikheid dat geen of min stoornisse sal voorkom. Trauma onstaan wel wanneer ’n lid binne die gesin, soms met opset, die aangenome broer/suster (wat die beweegrede ook al wees), uitsonder op grond van herkoms. Indien inligting omtrent die biologiese herkoms weerhou word en die kind eers op ’n latere ouderdom daarvan te hore kom, kan die gevolge verwoestend wees.
In hierdie verhaal neem Van der Watt as kindersielkundige en outeur die leidende rol as ’n verskuilde eksterne fokalisator. Haar kennis en hantering van die situasie en ook verloop, klimaks en ontknoping van die verhaal, dui op haar kennis van gedragswetenskappe en die toepassing daarvan.
In “Tom wil ook ‘n pa hê”, die agste verhaal, lees ons nie net van die vaderfiguur wat afwesig is nie, maar die status en impak van ’n kind wat sonder ’n pa grootword, hoe dit aangespreek (moet) word en die afleibare impak wat so ’n situasie op adolessente kan hê.
In die voorlaaste verhaal, “Rachel se sussie word siek”, word die verhaal vertel van Rachel se sussie wat ’n bakteriële longinfeksie opdoen. Haar naamlose identiteit word dan ook na die ontknoping van die verhaal deur haarself bekend gemaak.
In die laaste van die tien verhale, “Joshua, sy sussie en die konsert” (119) word daar terugverwys na die elemente wat tydens die eerste verhaal (en ook deurgaans) geskets word, maar in dié verhaal word die leitmotiv ontknoop en al die betonmure van eksklusiwiteit word afgebreek. Die mens word in wese gestroop van alle vooroordeel en die wêreld, soos wat dit is, word ervaar deur die oë van ’n kind.
In dié verhaal kom die leser in kontak met Katryn, ’n serebraal gestremde kind. Selfpersepsies wat waarskynlik deel kan wees van die individu se leef- en dinkwêreld, die wyse waarop die individu die samelewing ervaar, die fisiese impak op die individu, persepsies, familieverhoudings, funksionering binne ’n skoolsisteem wat voorsiening maak vir leerders met spesiale behoeftes, waarskynlike subjektiewe belewing en dan die realiteit wat kundig en met omsigtigheid as ’n fiktiewe verhaal aangebied word, word die monument van selfoorlewing, aanvaarding, vryheid, selfverwesenliking en die vryheid “om te kan wees”, sonder voorbehoud.
Dit laat my onwillekeurig dink aan die woorde van Lloyd De Mause: “The evolution of culture is ultimately determined by the amount of love, understanding and freedom experienced by children … every abandonment, every betrayal, every hateful act towards children returns tenfold a few decades later upon the historical stage, while empathic act that helps a child become what he or she wants to become, every expression of love toward children heals society and moves in unexpected, wondrous new directions.”
Elke storie is selfstandig, maar integreer in geheel met mekaar. Die herhaling van die skewe groen hekkie, houtbankie, kareeboom, kriewels en hoep-hoep gee vastigheid en ritme. Die fokus bly gevestig op hoop, deernis en empatie deur die herhaaldelike verwysings na die wit en swart vere van die hoep-hoep.
Die bundel begin met “Die hoep-hoep pik-pik vir kos … hy lyk honger en alleen en vlieg weg. Dit eindig met die hoep-hoep wat na hulle toe vlieg. “Daar is ’n ster in my bek.” Dis asof die leser wil vra, “En toe?”
Die groen skewe hekkie staan oop …
Deel 2
Die tweede deel van die boek, bladsy 129-146, bevat agtergrondinligting oor die verhale. Dit dien as ’n uitsekende gids met vrae om oor die temas te gesels en gevolgtrekkings te maak. Die tema sal baie nuttig gebruik kan word deur terapeute, opvoeders, ouers en ook kinders in ’n veranderende samelewing met uitdagende lewensomstandighede. Die boek van 146 bladsye is geset in 15 op 15pt Poppins en sal maklik leesbaar wees vir alle lesers.
Meer oor die skrywer
Die outeur, Ronél van der Watt, is ’n kliniese sielkundige. Sy het haar PhD (met spesialisasie in kindersielkunde en aanverwante terreine) aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) verwerf. Die bundel stories is gebaseer op haar praktykervaring van bykans 34 jaar waarvan sewe jaar as dosent aan UV. Haar vorige publikasies was akademies van aard en hou verband met die opleiding van kindersielkundiges, ’n lewensvaardigheidsprogram vir die puberteitsjare, ouer,-kind-en portuurgroepverhoudinge, kongenitale hartdefekte, boelie-gedrag (primêre skool) en die aanpassing van eerstejaar studente op universiteit. Sy en haar man, Gideon, is afgetree en woon in Bloemfontein.
Hieronder vra Berdéhan Brand vir Ronél van der Watt ’n paar vrae oor die boek:
Ronél, kenmerkend van die boek is die karakters wat uiters lewensgetrou geskets word. Die leser wonder of die karakters fiktief is en/of verhale geskryf is rondom gebeure waar dié karaters geskep is om ’n waardetoevoeging te maak tot die motief van die boek?
Die karakters is fiktief, die gebeure is elke dag ’n werklikheid in ons land. Daar is kinderboeke oor byvoorbeeld egskeiding, maar ek dink daar is ’n groot behoefte aan kinderlektuur oor die soort trauma wat eie aan ons gebroke gemeenskappe is: gesinsgeweld, vreemdelinge haat, ’n taxi-ongeluk, ’n aansteeklike siekte, afwesige vaders. Maar dan nie as abstrakte verskynsels nie-—.die stemme van hoe kinders dit beleef moet gehoor word, hulle broosheid, maar ook hulle humor en hoop.
Hoewel jy die outeur van die boek is en elke verhaal/situasie met deernis hanteer, ervaar ek tog jou teenwoordigheid in die boek; byna asof jy die alomteenwoordige onsigbare eksterne fokalisator is. Waar/hoe sien jy jouself in die boek, die boek wat ek byna as ’n ervaringsjoernaal wil beskryf?
As skrywer sien ek myself as die skewe groen hekkie, waar kinders verbykom en waardeur hulle hopelik ’n weg na ’n veiliger ruimte vind. Ek het my egter in verskillende vertelposisies bevind, naamlik as skrywer, sielkundige, dosent, self kind ... Die vraag oor wat is die behoefte van hierdie spesifieke kind in hierdie spesifieke storie is, het dan rigting gegee. Daarom en in aansluiting by die tema van die boek – om deur die oë van ’n kind na die realiteit te kyk, het ek elke storie vanuit die oogpunt van die kind probeer vertel. As die storie geskuif het na die tema, naamlik vriendskap en daadwerklike omgee met hart, het ek en juffrou Ansie onder die kareeboom op die houtbankie sit en gesels. Met verwysing na ’n ervaringsjoernaal; die weerloosheid wat ek in kinders se lyftaal, tekeninge en gesinsinteraksie beleef het asook tydens supervisiesessies (insluitend studente) het die temas van Hoephoepieland motiveer.
As sielkundige en kenner van gedragswetenskappe, glo ek dat deel van jou motief, die gevolge van onsimpatieke oningeligte wêreld in gedagte gehad het toe jy die boek geskryf het. Die boek is ook meer as ’n bundel verhale vir kinders. Wie almal wil jy met die boek bereik en wat is jou motief daarvoor?
Eerstens, dit is ’n storieboek vir kinders en volwassenes wat in uitdagende lewensomstandighede leef en werk. Storievertel is ’n praktiese, meer bekostigbare hulpmiddel met terapeutiese waarde. In die stories kan karakters, ’n situasie of gebeure geskep word waarmee kinders kan identifiseer. Stories kan kinders se emosies reflekteer, woorde gee vir dit wat hul ervaar en hulle ondersteun om hul gedagtes en gevoelens aktief te deel. Die karakters kan oplossings bied vir die situasie waarin kinders hulself bevind.
Tweedens, dis ook bedoel om kinders wat nie direk dié lewensomstandighede beleef nie, daaroor in te lig en hul kapasiteit vir empatie te ontwikkel. Stories kan kinders se kennis van en respek vir verskillende kulture en lewensomstandighede bevorder. Só kan ons mekaar leer ken, vertrou en verhoudinge bou.
Derdens, die stories is terselfdertyd gerig op volwassenes, naamlik om hulle bewus te maak van hoe belangrik dit is om deur die oë van kinders na hul leefwêreld te kyk en na hul belewenis daarvan te luister. Kinders het ’n behoefte dat daar na hulle geluister word.
Ek wil graag die stelling maak dat die boek relevante leesstof is en ek glo jy sal daarmee saamstem. Met relevansie in gedagte; hoe sien jy jouself in die toekoms as skrywer?
Ons het ’n verantwoordelikheid teenoor kinders wat in uitdagende lewensomstandighede grootword en leef. Veral in hierdie mooi, maar gebroke land van ons. Hoephoepieland is my eerste boek om in hierdie verband ’n bydrae te lewer. Ek sal graag daarmee wil voortgaan, as ek kan. Maar nou lê die Engelse vertaling eers voor.
Hoephoepieland Tien omgeestories met hart, kan bestel word by www.naledi.online
Die boek is ook landswyd beskikbaar in toonaangewende boekwinkels.
The post <em>Hoephoepieland</em> deur Ronél van der Watt: indrukke en ’n onderhoud appeared first on LitNet.
An island
Karen Jennings
Karavan Press
https://karavanpress.com/2020/11/25/karavan-press-title-an-island-by-karen-jennings/
An island is the story of Samuel, an aged man who lives alone on a small island off the southern African coast as the lighthouse keeper. His is a quiet and isolated existence until a young man, in all likelihood a refugee from a neighbouring country, washes up on the shore. Samuel reluctantly takes him in, all the while viewing him as an interloper. Through their interactions, Samuel is confronted with aspects of his own past and what has brought him to the island and made him into the man that he is today.
Joanne Hichens interviews Karen Jennings on Karen’s book:
An island, as bleak as the rocky setting itself, is indeed a terrifying novel. I read it in one sitting, riveted by the intensity. Would you call it a fable for our times?
I didn’t set out to write a fable – or, rather, I did not think about it explicitly in those terms – yet I believe that the description is an apt one, to a certain extent. I wanted to explore certain complexities relating to the history of the African continent and how that history continues to influence the lives of individuals to this day. Because that history is such a multifaceted one that is shared, to varying degrees, by numerous African countries, I wanted to reduce the narrative to a small location, with few characters, and by those means amplify the key concerns.
One of those concerns is examining the life of an ordinary individual. There is nothing special about Samuel. He is not heroic, intelligent, skilled or wealthy. He is very much an everyman – an everyman who has experienced aspects of colonisation, of being made to flee his home, of poverty, of the fight for independence, of torture and imprisonment under a dictatorship, and of trying to find his place in all of that chaos and horror. What does a man like Samuel have? How does he feel? What will he do in order to protect his home?
Is Samuel, now in his seventies, a sort of composite of men who have been ruthlessly exploited by politics in its various forms?
Absolutely. On the island, he is free from politics. He is the ruler there, and he is terrified of losing that power. Samuel is bitter and very much afraid.
The start of the novel is intriguing. We soon learn that life has become so worthless that abandoned bodies float in the sea and are not valued enough to be collected or identified, and Samuel has resorted to burying at least 32 in the walls fortifying the island. Does Samuel do this to fortify the island for himself? Is there any honouring of the bodies?
He wants to keep himself and his home safe, but more than that, he wants to keep others out. There is no honouring of the dead in making them a part of the fortifications. Rather, I suppose, there is a spiritual or mystical element here of his own making. In using the corpses as additions to the walls surrounding the island, he is warning outsiders to stay away. They are not welcome. Yet, the corpses keep coming, and it is, in fact, by the process of including them in the fortifications that Samuel is unwittingly making space for them on the island, making them a part of it.
When the young refugee is beached on the island, at first presumed dead, and then revives himself and lives, Samuel is at first suspicious, then accepting, especially as the refugee helps around the dwelling. However, the paranoia that this man is a threat persists. During the four days that follow, Samuel remembers his life, what has led him to this point in time. Violence comes out strongly as a theme, the word itself used to chilling effect midway through, when we get a sense of how desensitised Samuel has become throughout his life. Humiliation is also a theme. Do violence and humiliation go hand in hand? Which comes first?
Violence begets violence. Samuel has been exposed to it from a young age through the different stages that his country has gone through politically, and through the effects of those changes on him and those around him. His first experience of this violence was when the colonisers chased his family and their many neighbours away from the valley in which they lived, killing those who did not go fast enough. This is the legacy left by the colonisers when they eventually leave the country: a legacy of blood, exploitation, torture and murder. It is difficult to move beyond that.
Furthermore, violence is a way to humiliate, to subjugate others. When Samuel’s father rose up in order to fight for his nation’s independence, he was crippled in the protest. What disgusts Samuel is that his father believes he was part of something great and good, yet the majority of those who rose up continued to live in filth and poverty, begging, scraping by, while the new independent leaders, such as the president, filled their coffers and forgot the everyday citizens who had put them in power and to whom they had promised the world. Humiliation again. It is a relentless cycle.
The novel also brings into the picture a loss of values, an escalating stupidity and a lack of ethics by leaders and, indeed, the “people” themselves. Does this all reflect a current situation, too?
Yes and no. Certainly, we have seen a large number of corrupt leaders in African nations recently. But it is nothing new. That corruption and lack of ethics cannot be put at the feet of African leaders alone. When we were colonies, we were ruled by corrupt and unethical institutions. This is part of that legacy, part of the nightmare that Africa needs to awaken from. (And, of course, the same thing can be seen across the globe – this, sadly, is one of the great failings of democracy and is one of the driving forces behind the increasing support for right wing politics.)
Another word is used to great effect: the culling – a chilling word which conjures the xenophobic purges we’ve seen in South Africa. As a South African writer, are you particularly speaking to our specific xenophobic history? Or is this a conglomerate of the cycles we’ve seen generally in Africa – colonisation, independence, dictatorship, resulting chaos, but also a way of being that is a recycling of the corrupt enslaving the poor?
It is a conglomerate, but was certainly influenced in part by the xenophobic attacks that happened in South Africa. I wanted to understand what might lead people to take part in attacks of that nature. What kind of hatred, resentment, desperation, anger, failure of government or incitement by leaders could provoke a mass attack on neighbours and friends?
We see flashes in Samuel’s personality of what he understands as weakness, but to me, to the reader, it is really a clue to his humanity which he does not allow, his inability to murder. His hesitance to kill. Is this what you intended?
Yes, I don’t believe that anyone is born a killer. I wanted to explore what might drive an ordinary human being to violent acts, such as murder. Because of outside influences throughout his life, Samuel, as you say, views his humanity as a weakness. But for the reader, we are holding on to that aspect of him, hoping that he will choose “weakness” over “strength”, and that this choice will be his salvation in the end.
He holds in his mind the memory of cradling his newborn son, Lesi, and we have a sense, if not of love, then at least of an ignition of how precious this small life is, an inkling of how Samuel would like to be a father and to provide for his child, or ensure a future for his child. Is this struggle of a fledgling humanity, simply overwhelmed by poverty and cruelty, by the politics of men who continue to be so corrupt that they are never able to inspire humanity?
Sadly, yes. I will take South Africa as an example, though the situation is by no means limited to our country. We came out of apartheid into a time of freedom and hope for people of all races and classes. It was a new dawn. But where are we now, where are the poor and desperate? Forgotten by the people whom they fought alongside against oppression, forgotten by the leaders who made promises to them about how good their lives would be post-1994. Look at the corruption that has been on display, flagrantly so in the Zuma years. How can anything improve when people like these are the rulers of our country and are protected by their cronies? (I would like to add that I am not at all anti-ANC. I take issue with Zuma and what he was allowed to get away with. I cannot say that there is any political party in South Africa that I support, but I have felt generally satisfied – and certainly hopeful – with Cyril Ramaphosa as president, though it is a crying shame that he has been hamstrung by certain members of his party.)
On the island, Samuel does however manage to bond with a little red hen, protecting her when she comes under attack from other chickens. Do we catch a glimpse of his compassion here?
The little red hen is a simple device. It represents Samuel, old and vulnerable, but also, as you say, shows the type of man he can be: kind, generous, caring. Unfortunately, when the man eventually threatens the hen, Samuel sees this act as an attempt on his own life – he views it as what will happen to him if he allows the man to stay on the island.
The man – the refugee – remains a shadow figure, not that I expected him to gain fleshy solidity. But I’m interested to know why you did not give him more of a voice?
This was a conscious choice on my part from the moment that I first had the idea for the novel. Firstly, there have been numerous successful narratives told from the point of view of refugees. They are important stories and should continue to be written. However, I was more interested in looking at the other side – the xenophobic side. What is it that makes people embrace that intolerance?
Additionally, I felt that it was crucial to highlight the difficulty that arises from lack of communication and when individuals are viewed as no more than objects. Because Samuel knows nothing about the man – not where he came from, not what his story is – it is much easier to hate him. This is, I believe, a part of what drives xenophobia. You see only the other. They are nothing more, and certainly nothing like you.
Throughout this flooding of memory, interlaced with the four days described on the island, we have this sense of foreboding, that something is going to happen. Is this the mood you intended to create?
Yes. From his very arrival, Samuel works hard to get rid of the smother weed that he found covering the island. Yet, regularly, that weed comes back, invading his perfectly curated space. I can only say that I wanted there to be a sense of relentlessness, so that the reader would feel trapped, wanting to escape, but be guided by an irresistible compulsion to read on and on to the very end. That, I think, is assisted by the book being a short one. It can be read in one sitting.
The effect of the novel is a certain hopelessness, although the flashes of humanity come through in various slivers of Samuel’s memory and his real actions. Is there some hope to hold on to?
I would describe my writing as a type of social realism. I don’t want false happy endings. That is not to say that there are not happy moments in the real world, but in this case, where Samuel represents the effects of the general political history of an entire continent, a continent which has been exploited for generations, then it becomes impossible for me to write a happy ending. My job as a writer is to hold a mirror up to these realities, but it is not within my abilities to suggest solutions.
In general, are these the stories you are drawn to telling? I’m thinking of your other novels, also intensely focused on exposing human frailty.
I am drawn to stories about ordinary, everyday people and how they attempt to navigate a world that can be cruel and rife with injustice. What makes up their days, their relationships, their thoughts and feelings? And, yes, their frailties, too. In my first novel, Finding Soutbek, I explored the challenges faced by individuals in an impoverished fishing village on the west coast of South Africa. In Upturned earth, I looked at the dire conditions in the copper mining town of Springbokfontein in 1886, commenting, too, on the history of commercial mining in South Africa and the exploitation that continues to this day.
Of course, we want to know what’s next on the agenda.
Well, I have a manuscript that I completed towards the end of 2019, but I haven’t got an idea of if or when that will be published. The pandemic has been a crushing blow to the publishing industry. Beyond that, I have no immediate plans. I have a half-written manuscript in a cupboard. I am starting a PhD in history this year. I think that will be my only writing for a while. But let’s see how the year goes.
You can read more here: https://www.facebook.com/karen.jennings.7355079.
The post <em>An island</em> by Karen Jennings: an interview appeared first on LitNet.