Quantcast
Channel: Skrywersonderhoude - LitNet
Viewing all 793 articles
Browse latest View live

Video: Daniel Hugo in gesprek met Cas Wepener oor Die Slaghuis


Video: Kaapstad-bekendstelling van The last hunt deur Deon Meyer

$
0
0

Op Dinsdag 12 November 2019 is Deon Meyer se The last hunt by die Book Lounge in Kaapstad bekendgestel. The last hunt is die Engelse vertaling van Prooi. Die radio-omroeper, John Maytham, het met Deon gesels. Kyk hier na die gesprek:

............

Title: The Last Hunt
Author: Deon Meyer
Publisher: Jonathan Ball 
ISBN: 9781473614468

A cold case for Captain Benny Griessel and Vaughn Cupido of the Hawks elite police unit – not what they were looking for. And a difficult case, too.

The body of Johnson Johnson, ex-cop, has been found beside a railway line. He appears to have jumped from South Africa’s – perhaps the world’s – most luxurious train, and two suspicious characters seen with him have disappeared into thin air. The regular police have already failed to make progress and others are intent on muddying the waters.

Meanwhile in Bordeaux, Daniel Darret is settled in a new life on a different continent. A quiet life.

But his skills as an international hit-man are required one more time, and Daniel is given no choice in the matter. He must hunt again – his prey the corrupt president of his homeland.

Three strands of the same story become entwined in a ferocious race against time – for the Hawks to work out what lies behind the death of Johnson, for Daniel to evade the relentless Russian agents tracking him, for Benny Griessel to survive long enough to take another huge step in his efforts to piece together again the life he nearly destroyed – and finally ask Alexa Bernard to marry him.

  • Available in Afrikaans as Prooi.

............

Deon gesels met John Maytham

The last hunt is in Afrikaans beskikbaar as Prooi.

John in gesprek met Deon

Die Book Lounge in Kaapstad

  • Video en foto’s: Cliffordene Norton

The post Video: Kaapstad-bekendstelling van <i>The last hunt</i> deur Deon Meyer appeared first on LitNet.

Toyota US Woordfees-kortverhaalbundel 2020: ’n Onderhoud met Cliffordene Norton

$
0
0

Cliffordene Norton, redaksielid by LitNet, vertel vir Remona Voges van Cliffordene se kortverhaal wat volgende jaar in die Toyota US Woordfees se kortverhaalbundel opgeneem word.

Cliffordene, hartlik geluk met jou kortverhaal in die Woordfeesbundel!

Hoe voel dit om een van die 266 skrywers te wees wat gekies is om in dié bundel opgeneem te word? Het jy dit verwag?

Onwerklik. Dit was baie vreemd toe Naomi Meyer my Dinsdag bel. Ek wag nog heeltyd dat iemand vir my sê: “Jammer, ons het ’n fout gemaak.” Ek het drie keer vir die Woordfeesbundel ingeskryf en verlede jaar het ek besluit om nie deel te neem nie, want ek het gevoel: Oukei, genoeg rejection vir eers. Hierdie jaar het ek die storie geskryf, gestuur, daarvan vergeet, en toe bam!

Wat was die inspirasie vir jou kortverhaal?

Dit was ’n verhaal hierdie wat ek in die middel van die nag geskryf het. Ek het gedroom van ’n alledaagse oomblik tydens my eerste jaar op universiteit. Ek weet nie hoeveel is droom en hoeveel is ’n herinnering nie. In my droom stap ek en ’n maat klas toe, en sy vertel my van haar grootwordjare. Haar ma was ’n huishulp, en na haar ma se dood is sy deur die gesin aangeneem. Ek het begin wonder: Wat sou gebeur het as die ma nie gesterf het nie, maar steeds haar kind moes “opgee”? Wat dan?

Watter temas word in die kortverhaal belig?

Dit gaan oor hoe ’n ma voel wat haar kind in ’n sekere sin moet “weggee” om vir haar ’n beter lewe te skep. Wat eis dit van ’n ma? Ek weet ongelukkig van ’n paar gevalle waar die ma aangemoedig word om haar kind vir die pa se familie / ander mense te gee, want hulle kan beter vir die kind sorg. Ek het altyd gewonder hoe voel so ’n vrou. Ek is nie ’n ma nie, maar ek glo jy wil die beste vir jou kind hê. Maar wat voel jy?

Wat is jou skryfdissipline? Kan jy ons deur jou kreatiewe proses neem?

Ek het vir byna agt maande nie ’n dooie woord geskryf nie. Ek sou voor my laptop sit en presies weet wat ek wil skryf, maar niks wou uitkom nie. Ek het begin oplees oor hoe groot skrywers hul skrywersblok verbreek, maar niks het regtig gehelp nie. In Julie het ek Marina Keegan se The opposite of loneliness raakgelees. Daarin is ’n staaltjie oor hoe Marina nie aanvaar is deur ’n secret society nie. Sy het egter nie in sak en as gaan sit nie; sy het besluit om die tyd (twaalf uur per week) wat sy sou gewy het aan ’n secret society te gebruik om te skryf. Ek wou haar na-aap en het besluit om twaalf uur per week aan my skryfwerk af te staan. Dit werk glad nie, maar ek probeer elke dag skryf, al is dit net ’n sin of twee. Ek is nou ’n volgeling van die use or lose it­-dissipline.

Na watter items sien jy uit by volgende jaar se Woordfees?

Dit is die eerste Woordfees wat ek sal bywoon, en ek sien uit na alles! Een van my vorige kollegas het altyd met wonder oor die fees gepraat, so ek sien daarna uit om dit te beleef. Ek wil beslis die “A woman’s war”-gesprek, sowel as Ivor Price en Dana Snyman se gesprekke bywoon.

Toyota US Woordfees-kortverhaalbundel 2020: ’n Onderhoud met Naomi Meyer

The post Toyota US Woordfees-kortverhaalbundel 2020: ’n Onderhoud met Cliffordene Norton appeared first on LitNet.

Toyota US Woordfees-kortverhaalbundel 2020: ’n Onderhoud met Naomi Meyer

$
0
0

Naomi Meyer, inhoudsbestuurder van LitNet, vertel vir Remona Voges van Naomi se kortverhaal wat volgende jaar in die Toyota US Woordfees se kortverhaalbundel opgeneem word.

Hallo Naomi! Baie, baie geluk met die verskyning van jou kortverhaal in volgende jaar se Woordfeesbundel! 

Hoe voel dit om een van die 26 skrywers te wees wat gekies is om in dié bundel opgeneem te word? Het jy dit verwag?

Dankie, Remona. Ek is verras en baie bly. Ek het die Woordfees se programbekendstellingsfunksie in my hoedanigheid as redaksielid/inhoudsbestuurder van LitNet bygewoon, en eers van my inskrywing onthou toe Marlise Serfontein op die verhoog stap om die lys van skrywers wat die bundel gehaal het, voor te lees. Ek was oortuig daarvan dat ek nie ’n kans staan nie. Ek het nog so baie om te leer. Ek het agterna gedink ek het dalk gedroom dat sy my naam gelees het.

Wat was die inspirasie vir jou kortverhaal?

Inspirasie is ’n vonk én dis ’n stadige vuur ook. Vir my was die vinnige vonk en ruimte vir die inspirasie die skoolrevue wat onlangs by my kinders se laerskool plaasgevind het.

Ek was aan die een kant net ’n ma wat die vertonings bygewoon het, maar ek was ook op die kantlyn betrokke in dié opsig dat ek saans my seun se viool daar moes stem. Ek was elke aand vroeg reeds daar: ek het die grimering beleef, die kostuums, die afrigting. Die antisipasie van op die verhoog stap. Ek is self baie lief vir die teater met al sy onvoorspelbaarheid en drama, en speel al jare lank viool en in orkeste. Dit was vir my ’n vreugde om ’n week lank agter die skerms in die greep van die revue vasgevang te wees: ek het dit saam met my kinders beleef en geleef.

Die ware skoolrevue verskil wel radikaal van die droom-verbeelde-fiktiewe revue van my storie. Die ware skoolrevue was uiters professioneel, wil ek beklemtoon: Winnie Nel het dit by die skool op die planke gebring en dit was ’n toneelstuk wat my as volwassene ook aangegryp het. Ek kan amper nie daaroor uitgepraat raak nie. Op ’n positiewe manier!

Die storie-revue was iets anders. Daar was iets van die skoonheid van dít wat ek werklik beleef het, maar daar was ook ’n nagmerrie-komponent betrokke. Om die waarheid te sê, toe ek eers ordentlik besef met watter storie ek besig is (want toe het ek nou al ’n spul aantekeninge gemaak en die storie het al ’n ent ver organies ontwikkel), het ek besef dis ’n hartverskeurende verhaal en ek kan dit eintlik nie waag om dit te skryf nie. En juis daarom het ek dit gedoen.

Die stadige vuur was ouerskap; iets wat jare lank met my saamkom, vandat my kinders gebore is. ’n Ander manier om dit te stel, is dat die skoolrevue die doek was waarop die storie geskilder is en die kunsmateriaal wat gebruik is, was die karakters wat deel was van die storie. En beslis ook een afwesige karakter, dalk die hoofkarakter, wie se afwesigheid so allesomvattend is dat hy die spil is waarom die storie draai. Ek weet nie of mens dit inspirasie kan noem nie, maar die hitte wat die storie aangevuur het (die storie se titel is ook “Hitte”) is dalk maar vrees en die onvermoë om lewe en dood te kan beheer. Vonke is ook kooltjies wat wegspat van die vuur af, heel onverwags. Dis goeters wat in my kop was wat neerslag gevind het in die verhaal toe ek dit nie so beplan het nie.

Soos onverwerkte trauma, die verlies van vriende of familie wat mens nie besef jy eintlik met jou saamdra sonder om genoeg daaraan aandag te gee nie.

Dalk is die skryfproses soos ’n onlogiese droom. Want sowaar, hierdie storie is nie my eie storie nie. En tog was ek daar, en het ek dit beleef, so warm en werklik dat dit my baie ontstel.

Watter temas word in die kortverhaal belig?

Dalk is die hooftema van die storie verlies en outsiderskap. Hierby sluit aan die problematiek en noodsaak van veeltaligheid op universiteitsvlak, en die ongelykheid in die samelewing en skole. Ouerskap. Kuns. Die woud as storieruimte.

Wat is jou skryfdissipline? Kan jy ons deur jou kreatiewe proses neem?

Kom ek praat net oor hierdie storie en die proses van die skryf daarvan. Ek het tydens die revue al aantekeninge gemaak van dinge wat my opval: of dit nou iets is wat vir my uniek is, of dit iets is wat op die een of ander manier vir my uitstaan en of dit vir my snaaks is. Maar dit was nog nie ’n storie nie. Dit was net die detail.

Die skryfdissipline was om te skryf wanneer ek ook al kon. Ek het omtrent twee weke lank my aantekeninge verwerk en die kern van die storie het my een aand getref toe ek te moeg was om die hele verhaal helder neer te skryf. Daar was één idee. Ek het dit neergeskryf sodat ek dit nie vergeet nie. As ek daardie een idee/konsep moet neerskryf, gee ek weg waaroor die storie gaan. En dis eers iets wat die leser in die helfte van die storie rond besef (wanneer sy/hy nou al besef die karakter met wie hulle te doen het, is werklik eienaardig en wat soek sy nou juis by hierdie revue?). Een oggend, moontlik 'n Saterdag, was my man en seun nie tuis nie en het daar maats by my dogtertjie gespeel. Hulle Barbies en die Barbies se vriendinne het die onderste verdieping van ons huis oorgeneem. Ek het onverwags twee of drie ure gehad waartydens ek ononderbroke kon skryf. Ek het die storie daardie oggend klaargemaak en die volgende oggend, toe almal slaap, die teks oorgekyk. Dit was my skryfproses: gryp die tyd aan wat ek het.

Na watter items sien jy uit by volgende jaar se Woordfees?

Ek het by die Woordfeesbekendstellingsfunksie gedink hier’s al klaar weer te veel op volgende jaar se program wat ek wil bywoon as wat ek sal kán bywoon. Na die Penseel-item waarby jy betrokke is, Remona! En ek noem gou ’n paar items, uit die vuis, maar ek weet dat ek dinge vergeet. Maar hiervan neem ek reeds kennis. Liza Joubert op die klavier as sy saam met stilfilms speel. Die US-koor. Kinderteater: Jakkals en wolf Onbeperk. Huppelkind. Films soos Die verhaal van Racheltjie de Beer en Poppie Nongena. Teater soos Kamphoer en In Slavenhuis 39, Die dinge van ’n kind. Daar is etlike boekgesprekke wat ek wil bywoon, en taalgesprekke ook, soos die gesprek oor die Boere op die aardsdrempel. Remona, jou vraag gaan veroorsaak dat ek die Woordfees se programboekie nadertrek en mooier kyk. Vra my weer nader aan die Woordfees!

Toyota US Woordfees-kortverhaalbundel 2020: ’n Onderhoud met Cliffordene Norton

The post Toyota US Woordfees-kortverhaalbundel 2020: ’n Onderhoud met Naomi Meyer appeared first on LitNet.

Toyota US Woordfees 2019: Onderhoud met Remona Voges oor Penseel & Kie

$
0
0

Naomi Meyer het met Remona Voges gepraat oor die produksie Penseel & Kie waarby Remona en ander digters by volgende jaar se Woordfees betrokke is. 


Remona, jy is volgende jaar op die Woordfeesprogram by ’n Penseel-item. Wat is Penseel?

Penseel is 'n studentebundel wat deur die US Departement Afrikaans en Nederlands se VER[ras] (Vereniging vir Afrikaansstudente) saamgestel word uit gedigte en vonkfiksie wat vooraf deur 'n paneel literêre kenners gekeur is. Dit word jaarliks vrygestel. Hier is 'n resensie van Penseel 2019. 

Die voorblad van Penseel 2019

Vir hierdie geleentheid moet jy ’n gedig skryf (wat sekerlik nog ’n geheim is). Miskien kan jy van jou ander gedigte of werk deel?

Ja, die gedigte vir die vertoning is op hierdie stadium nog in wording. Ek deel egter graag 'n gedig wat in Penseel 2014 opgeneem is:

Die geboorte van Frida Kahlo
Na "My birth" deur Frida Kahlo (1932) 

Die kind met ’n mond gebore
donkerblou en dig soos
die Asteekse Tlazolteotl se
afspriet beurend na die lig terwyl
die Maagd van Verdriet roep
druk haar terug!
Klein godin van sonde
rou en gapend soos ’n wond of vis
’n dogter, lewend in
’n vloedsluis van bloed.

Hoe beïnvloed jou musiekagtergrond jou skryfwerk en omgekeerd?

Wanneer 'n mens musiek studeer, leer mens in die proses 'n heel bepaalde dissipline aan. Die meeste mense kan byvoorbeeld nie 'n musiekeksamen wing nie. Dit is nie soos om 'n toetslokaal onvoorbereid binne te stap en te gaan sit en antwoorde gorrel nie. Néé, jy gaan sit op jou klavierstoel of wat ookal en as jy nie jou note ken nie, gáán jy jouself voor 'n saal vol wêreldklas musici belaglik maak. Dit is nie 'n mite dat musiekstudie met baie ure se bloedsweet en trane, laat aande en baie liters wyn (vir die alomteenwoordige pyn!) gepaard gaan nie. 'n Mens het nie 'n ander keuse as om te leer om jou tyd op die doeltreffendste manier moontlik te bestuur nie. As jy oorweldig is en dit voel asof daar nie tyd is om by alles uit te kom nie, máák jy tyd. Dit is maar dieselfde met skryfwerk. Ek is nie iemand wat deur 'n muse opgeraap en weggevoer word na 'n plek waar woorde soos 'n vloedsluis uit my pen op papier stort nie. Skryf verg dinkwerk. 'n Mens moet dikwels maande rondspeel met 'n idee voor die woorde inmekaar begin pas en 'n gedig tot stand kom. Dit is oefen, oefen, en nogmaals oefen. Die sukses van 'n gedig hang (soos enigiets anders!) uiteindelik af van die eindelose vermoë om moeite daarmee te doen. Groot dele van die skryfproses en musiekmaakproses is banaal en onromanties, maar wanneer jy uiteindelik daardie godsonmoontlike Chopin-etude baasraak of met 'n mooi sonnet in jou hande staan, is die gevoel van nuutskepping of herskepping van onskatbare waarde. Niks is beter as daai "aha!" gevoel nie. So dis alles eintlik vreeslik egoïsties, is dit nie Naomi?

Vertel asseblief nog meer van die Penseel-item waarby jy betrokke is en die ander skrywers/digters wat saam met jou daar optree?

Penseel & Kie word aangebied deur die US Departement Afrikaans en Nederlands met Mercy Kannemeyer as aanbieder. Die vertoning behels voorlesings van nuwe werk deur alumnidigters van Penseel, onder wie Danie Marais, Bibi Slippers, Herschelle Benjamin, Danie Botha en Franco Bassi. Die opdrag sentreer rondom gedigte met Stellenbosch as tema. Daar tree ook nuwe, jong stemme op wat onlangs in Penseel gedebuteer het.

Herschelle Benjamin, Danie Marais en Bibi Slippers is van die US alumnidigters wat by Penseel & Kie optree

Waarna sien jy (nog) uit op volgende jaar se Woordfeesprogram?

Volgende jaar se program het soveel opwindende items, ek weet eerlikwaar nie waar om te begin nie. Daar is fantastiese items by die boeketent te sien – te veel om hier te noem. Dieselfde geld vir die visuelekunsprogram.

Ek is baie lief vir die teater en daar is 'n magdom produksies waarna ek vreeslik baie uitsien. Debuutproduksies sluit in Die dinge van 'n kind, wat op Marita van der Vyver se roman gebaseer is, met Cintaine Schutte in die hoofrol. Valsrivier, ook 'n debuutproduksie, is deur Saartjie Botha vir die verhoog verwerk en het 'n stellar cast met onder meer Anna-Mart van der Merwe, Tinarie van Wyk Loots en Stian Bam. Ek het verlede jaar tot my groot teleurstelling In slavenhuis 39 en Tienduisend ton misgeloop – dit is beide beslis op my lysie vir 2020. Ek sien ook uit na Nico Scheepers se nuwe produksie, Die engel by die dam.

Wat musiek betref, is daar ook vele hoogtepunte, maar ek sien veral uit na die internasionaal bekende pianis Mariam Batsashvili se klaviersolokonsert in die Endler, en natuurlik die US Koor se konsert. Die talentvolle violis David Bester en kitaarspeler James Grace doen 'n show, Paganini tot Piazolla, wat beloof om baie spesiaal te wees.

Nadat ek onlangs Nataniël se pragtige memoir, Kyk na my, onder oë gehad het, sal ek hom graag op die verhoog wil sien. En ek het 'n soft spot vir Jan Blohm met sy lieflike, sad oë en songs. Vir hom gaan ek definitief luister.

Lees ook:

Resensie: Penseel-studentebundel 2019

The post Toyota US Woordfees 2019: Onderhoud met Remona Voges oor <em>Penseel & Kie</em> appeared first on LitNet.

Innie shadows: ’n onderhoud met Olivia M Coetzee

$
0
0

Innie shadows
Olivia M Coetzee
Modjaji
ISBN: 978-1-928215-92-9

Naomi Meyer vra vir Olivia Coetzee oor Olivia se boek Innie Shadows. 

Olivia, baie geluk met jou roman Innie Shadows. Jy skryf al lankal rubrieke vir LitNet, maar wanneer was die dag wat jy besluit het: Nou skryf ek 'n boek?

Baie dankie, Naomi. Dis ʼn lekke gevoel om oo Innie Shadows te kan praat met jou.

Ek het met poems begin, toe ek nog kind was. Maa nooit kon ek gedroem het dat ek eendag sal praat oo ʼn boek wat ek geskryf hettie, nie ommat ek nie lief was vi skryfie, maa ommat hoe ek opgegroei het was boek skryf en lies nie deel van my toekomsie. In my twiede jaar op universiteit stel een van my vriende voo dat ek ansoek doen om ʼn Creative Writing Elective in my dêre jaar te vat. Dis waa dit begin het vi my, om vêder myself te sien as skrywer, en daai idee was vêder vas gesement toe ek anvaar wôd om my meestersgraad in Creative Writing by UCT te doen.

En kan jy die inspirasie vir Innie Shadows onthou, wat die verhaal laat vorm aanneem het?

In die middel van 2015 het ek gelee van David Olyn, ʼn jong man wat wreed vemoor was ommat hy gay was. Die storie was een te veel vi my, wan ek het gewêk in die Human Rights Sector vi meeran vyf jaa, en daai storie van hoe mense doodgemaak wôd ommat vi wie hulle lief is, anners is, het nog net altyd by my gebly, en dit gemix met die homophobia wat ek in die kêk en in my gemeenskappe deumaak het, was die klei van waa Innie Shadows van uitgedruk is. Dis ʼn daaglikse baklei met godsdiens, mense, en communities om net jouself te kan wies. En as djy jouself is dan kan mense dittie vattie, en hulle ienigste way of dinge bieter te maak is om jou af te druk of dood te maak in die naam van “godsdiens”, because it starts there for me, that prejudice, and homophobia starts there.

Dalk kan jy iets van jouself vertel?

Ek dink ek was maa nog net altyd ʼn dreamer, altyd uitgekyk by die klaskame se vênstes, wou altyd meedere hê van myself en die liewe. Ek is die oudste van vier dogtes, my ma was ʼn soort van ‘n enkelouer innie sense van my pa was daa maa oekie daa nie, en ʼn antie van drie klein niggies, en een klein nefie. Ek is die cool antie, wan ek speel nog games met hulle (nou dis Xbox), modderkoekies iet, en die lis gan an.

But growing up het baie challenges gehad, en dit het sy eie letsels gelos. Toe ek skool klaa maak toe begin wêk ek by Diskom, en ʼn paa maane daana toe wôd ek angestel by Pick n Pay as kitchen assistant, ek en antie May (Mavis Cleophas) moes elke dag kos maak vi die staff en merchandiser van die winkel. Dit het my baie gelee van op ʼn stage staan, #LMK. Ek kan haa nog hoo lag, en praat. Antie May het my gelee van fokus hou in die gesig van “honger” oë, en ek dink daai lesse het ek onbewus saam my gedra, tot vedag toe.

En iets van jou omstandighede waaronder jy die storie geskryf het: Was dit maklik, was die pad vol hobbels en bulte?

Innie Shadows was my meestersgraad manuscript, dis waa dit begin het. Maa dis glattie mee die Innie Shadows wat ek in 2015 begin hettie. Soe toe ek begin skryf het, was ek op universiteitveblyf. Die eeste draft was die maklikste; dit was die ooskryf wat my soms onnegekry het.

Guy Fawkes se fireworks

Wat was die soet en die suur terwyl jy aan die boek geskryf het?

Dit was net lekke om die niewe wêreld te skep, om die mense van Shadow Heights te lee ken. Gershwin met sy lus vi die liewe, en sy groot droeme. Sara wat die Shadow Heights sien as haa anker, en altyd die mooi in die liewe dophou. Nique wat finally haaself kan wies na haa operasie, en hoe dit haa liewe bieter gemaak het. Dit was net lekke om te kan skryf.

Terwyl ek geskryf het, moes ek warrie oo die admin, oo die logistics, wan die rent wat moes betaal wôd, en die beursgeld wattie kop uitstiekie. Net everyday things wat ek nettie wou doenie, maa moes, wan dit was lekkerder om te skryf dan om grown-up te speel.

Dis oek in die tyd wat ek getrek het Ceres toe. Ek het daa die eeste draft in Kaaps beginte skryf. Die energie van die berge en omgewing van Ceres het plek-plek oek deel geraak van Innie Shadows.

Maa dit was daagliks ek en my kat Nonna wat maa gewêk het an Innie Shadows.

Is die boek outobiografies?

Nee, dit gannie oo my liewe nie. Maa ek dink dat skrywers en artists in general represent die tye. Daa is ʼn quote wat dit sê: “Art is a reflection on society and the times.” Hierie konsep was an my voogestel deu ʼn lecturer. En dis oek Nina Simone wat sê dat dit die artist se “duty” is dat hulle wêk die “society reflect”.

Skryf is vi my ‘n natuurlike proses Dis swaa, maa dit vloei. Like ʼn sense van God, en my voo’ouers wat die storie guide. Soe met allie stories wat ek daagliks optel, en die mense wat ek onmoet, en die dinge wat vi my nie sense maakie, is daa soes die accumulation van die stories wat dan deu my geguide wôd. Dit voel rêrig spiritual vi my.

Dis in die boek The artist’s way wat Julia Cameron praat oo hoe as artist mens die waterput vol maak, en dan van daa af create. Op ʼn manier lat ek die storie deu my vloei, en dit kan moeilik raak, wan soms wil die “ego” of ʼn mens se kop oovat. En hopefully speel my ego nie te ‘n groot rol in Innie Shadows nie. Ek dink ʼn mens se kop is belangrik vi wanne dit kom by die editing proses. En an die anne kant kan ek klein stukkies van myself sien in different karakters. My liefde vi computers wat Gershwin geërf het, om nie te veel te veklap nie, maa ek dink dis nie moonlik om ʼn mens se self uit die skryf uit te haalie.

“Ex unitate vires”

Jy skryf so treffend oor Dood, dat sy 'n vrou is. Praat met my oor die shadows.

I think that death is such a big thing for all of us, something that we fear daily. Ek dink die vrees van Dood keer ôs om rêrig die liewe te liewe, wan ôs is bang om vi Dood te meet. En Dood in Shadow Heights is like iets wat altyd daa is, dis altyd voo jou, djy ruik dit, djy proe dit, soms kan djy dit voel, an dit raak, you know, it plays on all of your senses. En wat interesant was vi my, is om te sien hoe Carl kind-of vi Dood invite om te kô sit, of eeder anvaar dat, you know, Dood is hie, en daai’s okay. Ek dink wat vi Carl dit makliker gemaakit en wat Carl try om te sê is dat Dood is net nog iémand, something not too fear.

Carl sê in die boek: “Imagine Dood het ʼn hond gehad met die naam Snowy.”

I mean come on ... lol! Voo Carl kon ek nog nooit soe an Dood gedink hettie. Dink jou in dat Dood maa net nog iets of iemand is.

Jy skryf soos wat jy praat. En as jy dink aan die Afrikaans wat jy op skool geleer het: Was dit moeilik om 'n Afrikaans te leer anders as die taal wat jy by die huis praat? Of net anders?

Op skool was dit baie weird vi my om altyd te sien dat my punte vi Engels was altyd hoër as Afrikaans. En dit het my altyd confuse, en lat sleg voel, want ek práát dan Afrikaans, kaantie-penaantie was dit nooit soe nie. By Prince Albert Leesfees 2019 vroeg in November het ek vi Innie Shadows gan voostel. En dit was soe cool vi my om te praat met ʼn gehoor wat die meederheid jongmense van kleur was.

En al is die boek nie rêrig geskik vi ienige iemand onne die ouderdom van 18 nie, was dit cool om daai jongmense daa te hê, wan hulle wou wiet van hulle taal, en hoekô hulle taalie deel is van hulle skoolliewe nie. Hulle wou wiet maa hoekô kan hulle nie in hulle eie taal in hulle skoolwêk doenie. En ek het meedere vrae gehad as antwoore, because Kaaps is tog nie Afrikaansie. En selfs dit bevraagteken ek nog, wan hoe sê ʼn mens. Hoekô “Afrikaaps”, Hoekô ʼn variasie van Afrikaans? Dan kan dit mos maa net soe ʼn variasie van Hollands is? Maa die taal is tog meedere dan net die “missing R’s” soes Jan Raap my remind op LitNet. Wil net sê, Jan Raap, I recognise your racism, friend. Maa daa is nog soe klomp vrae vi my om te antwoord wanner dit kô by die taal van my, but I love writing in it. Dis vryheid vi my om te kan skryf in my taal.

Ek was nog altyd lief gewies vi Engels, en het my Bachelor’s- en Honours-grade in Engels geskryf, en oek my gedigte en alle anne skryfwêk voo ek begin skryf het vi LitNet, en dan Innie Shadows was in Engels. Die eeste draft van Innie Shadows was in Engels, en ek was somme straight gesê deu my supervisor: “Djy kan nie in Engels skryfie.” En miskien moes sy dit vi my sê lat ek my eie stem kon vind, lat ek kon skryf soes ek die liewe sien, en anvat. En op selle wyse was Etienne van Heerden net soe ʼn groot invloed op die taal waa’in ek skryf vedag. Is like daai different mense wat in my liewe in gekommit om te sê, dis okay, skryf soes djy wil.

Ôs ly an ’n Mandela-kompleks, askies Afrika!

Wie is jou ideale leser van hierdie boek?

I went against everything I was taught: Find a genre, write for that genre, find an age group, write for that age group, en ek het dittie met opset gedoenie. Ek het geskryf wan daai storie moes uitkom.

Dis ʼn storie wat oek mense wat al deu die kêk en die godsdiens gedissapoint was, raak. Dit sal jongmense raak wat deal met droeme, en elke dag se liewe in Suid-Afrika. Ek dink daa is meer en meer ʼn Shadow Heights om elke draai. Dissie net siekere mense wat tik, of wat velang om anvaar te wôtie.

Soe “ideale leser”? Mense wat Kaaps vestaan en lees, of wat Afrikaans vestaan en lees. Mense boe die ouderdom van 18. Ek dink die donker wat die boek oo praat is miskien ʼn bietjie te donker vi kinnes onner 18. Ek dink nou hie an Fettie en wat met hom gebee. Die taalgebruik, en ʼn paa scenes van geweld, en seks.

Wie in die storie is jou gunstelingkarakter en vir wie word jy kwaad?

Ek hettie net een nie – I never have one favourite of anything, LOL. Hulle amal is cool, selfs Fettie en Dood.

Maa Rose en Pastor Richard maak my die moer in. Just who they are as humans and what they represent in the “real” world. Maa ek kry vi Rose jamme, wan die donker wat sy elke dag moet saam liewe, en hoe godsdiens of die kêk wat moes die lig wies, daai donker begin gebruik het vi die vekeere riedes. There is a very fine line between doing God’s work, and abusing power within churches. It no longer is about what God should be and is to people, but how people use God to further themselves. En dit maak my seer. I am still a believer, en ek sal altyd ʼn kind van God bly, en Rose en Richard vi my represent die “shadows” in die kêk en godsdiens.

Die GEC Revolution

 Is jy lief vir jou karakters?

Ek wens ek kon Shadow Heights vêder develop vi TV, om te wys net hoe complicated, wonnerlik, intelligent, vol liewe, en vol dryfkrag hulle amal is. Dis hoe lief ek vi hulle is. Soes ek hie sit en jou vraag beantwoord, hoo ek vi Rose in die toekoms, en wie sy kô raakit. Daa is soe baie van wie hulle is waavoo daa nie genoeg tyd en space en resources was om oor te skryfie.

 Wil jy hulle verander, of dinge wat hulle doen, ook verander?

Dis maklik om hulle te veanner, maa die veannering kan net gebee as dit deel is van die storie, soe ek wil miskien hê dat hulle moet veanner en ek kan miskien try om hulle te veanner, maa as dit nie in die storie pas nie, dan pas dittie. Soms klink dittie reg om soe te praat van ʼn storie of karakters wat ek opgemaakit nie, want die storie kan change, en ek kan die storie change, maa die change moet inpas, om die experience vi die reader ʼn lekke een te maak. En oek om truthful te wies oo die karakter.

Mansmense

Die kerk speel 'n groot rol in die storie. Mens kan sê dis 'n karakter op sy eie. In die naam van godsdiens word daar goeie goed gedoen. En grusame dinge. Wat is jou gedagtes daaroor?

In die naam van God, godsdiens, wôd daa baie dinge gedoen, soes djy sê, maa dit trek vi my meedere en meedere na die donker kant toe. I mean, you have your churches met toe deure, en sjebeens met oep deure; djy het jou pastors wat mense in afskuwelike dinge lat gloe, en afskuwelike dinge doen. It breaks me from within wanne djy kyk hoe rêrig nodig die gemeenskap God nodig het. Die “kêk” gebruik en misbruik God; people aren’t true anymore.

En miskien is dit nou nie allie kêke wat dinge soe doenie, maa hoekô is gemeenskappe soe afgebriek when on every other corner you have spaces like churches available where people can come to be healed?

Rose en Richard is deel van “Die Velossing”, soes hulle dit noem, en hulle portray daai donker in die kêke wat ek daagliks sien.

I think God is crying in their hand, because of what people are doing in the name of God.

Job 1: Bybel in Kaaps

Waar het jy die tyd gekry om hierdie storie te skryf, so tussen jou LitNet-rubrieke deur?

Soe Innie Shadows het mos nou begin as ʼn universiteitsprojek, en dit was maa basies elke dag se skryf vi vie tot vyf ure, depending op hoe die gies gevoelit. En die rework was maa stadig, en die moeilikste, wan dit was my eeste groot skryf, en daa was dinge wat baie moeilik was om te change. Maa one thing that I appreciate en wat ek mal oo was in die eeste skryf, is my supervisor, Sonja Loots, en die vryheid wat sy my gegie het om te skryf soes ek dit voel en sien. Haa input was oo die taal, dit was om die gate te sien. Ek dink ek was nog altyd in ʼn akademiese frame of mind, en het altyd vewag dat sy moet my sê hoe die storie nie wêk, of dit is vekeerd, of dat is vekeerd, maa sy’t my die space gegie om te skryf soes ek moes. You know, it was about the technicalities for her, die taalgebruik. Ommat Kaaps soe min in geskryf wôd, was daa baie goed om oo te dink, like om konstant te wies met taalgebruik. En gloe dit, selfs met die sewende edit was daa nog steeds taalsgewys dinge wat uit place uit was, of wat reg moes gemaak was.

En hoe het jy dit op koers gehou, die skryf van hierdie storie?

Soms het my time management gesuck, maa dit het gegan vi my oo my daaglikse schedule en die antal woorde wat ek moet skryf per dag. Ek dink boekskryf is mos nou ʼn kreatiewe ding, maa djy kan rêrig suksesvol wies om ʼn boek in ʼn maand te skryf as djy hou by daai 5 000 woorde ʼn dag skryf. En honestly, dis moonlik, maa dit help om vinnig te tik, lol, en ʼn quiet space te het om te skryf. Ek kan wêk in ʼn semi-quiet space. Like my earphones/headphones in/op my ore en I’m good to go.

Ek hou van in die oggend skryf, my middae is maa stadig, like ek dink ek moet slaap in die middag, wan alles raak stadiger by die middag, en dis die heel beste om van soe drie-uur in die oggent af te beginne skryf. I love the quiet and the freedom wat daai tyd in die oggene my bring.

Wie is jou gunstelingskrywer en by wie het jy die meeste geleer wat skryfwerk betref (as skrywer, of as mentor – dit hoef nie iemand te wees wat jy ken nie).

My gunstelingskrywers? Hulle range van Kabelo “Sello” Duiker, Toni Morrison en Chimamanda Ngozi Adichie tot JK Rowling en Deon Meyer.

Ek is a huge Harry Potter fan, nie net ommat dit gan oo witches en magic nie, maa just to imagine what it took from her to create those stories en karakters. Insane! LOL. JK Rowling. She’s a master of this craft! Ek is ʼn huge fantasy/sci-fi genre fan.

I wanna be like Deon Meyer, #LMK. I love his work. I am just amazed at the type of stories he tells, dark, but there’s always a glimmer of hope, en dis local. Ek is ʼn bietjie starstruck, maa die crazyste van alles is, ek het hom gemeet by een van my meestersgraadseminaars, en net daai spesifieke dag toe is ek siek en by die huis. En ʼn paa maane daana is wat ek die man se wêk beginte lies. Ek kon myself geskoppit. Lol. My gunstelingboek van Deon Meyer is Koors.

Vertel my van jou kat!

Ai, ôs se Nonna. Toe ek haa sien die oggend wat Daylene haa huis toe bring, toe doep ek haa met die naam Oem Jan, wan sy’t sulke lang wit snorre gehad. Ek raak nog steeds hartseer wanner ek dink an haa. Sy’s lankalie mee met ôsie, maa ek dra haa nog elke dag met my. Sy was ʼn klein katjie toe ek biesag was om vi Innie Shadows te skryf annie begin. En haa plek was altyd op my skoot of op my skouer. Sy’t daa grootgeraak. Dit was ôs twie allien daagliks by die huis. Ek het na haa gekyk, en sy’t my company gehou. She was great, en playful. Once gan sit ek en meditate, #LMK, en ek sit nog soe op die grond, voo die kês, met hanne wat oep lê op my skoot, en hier voel ek net hoe sy vannie kooi tot boe-op my kop spring, en daa sit Nonna boe-op my kop biesag om te meditate. #LMK. That was the best meditation session wat ek nog gehad het, al was dit soe kôt, wan ek konnie ophou laggie, en toe wôd die lag in ʼn gespelery met haa.

Dink jy dat daar genoeg mense in hierdie land omgee vir mekaar?

Ek dink ôs is maa nog lekke bang vi mekaa hie in Suid-Afrika, en met vrees kô daa mos allerande onnodige goed saam.

Dis baie moeilik om kallid mense se stories te kry in boekvorm. En daa is stories, maa daa is soeveel meer stories wat nog vetel moet wôd. En op dit kan ek jou dan antwoord – dat soes ek dit sien, wôd daa maa baie min mense se stories na geluiste. Of baie min mense se stories wôd geskryf. En daa is baie min skrywers van kleur – which wel biesag is om te change, en dis lekke om te kan deel wies van die change.

En oek op dit net in general: Mense van kleur het noggie genoeg literatuur, of media daa buite lat ôs kinnes hulleself kan sien as net die veliede nie. Boeke, of stories, kan goeie voorbeelde wies vi amal. Soe ôs het beslis meedere stories nodig wat kan gemainstream wôd.

Het jy raad vir enigiemand anders wat 'n boek wil skryf, wat daarvan droom, maar wat dit dalk nie kan bekostig of weet waar om te begin nie?

Ek dink dat elke pesoon kan dit bekostig om hulle storie te skryf, en te vetel in die niewe wêreld wat ôs in liewe. Daa issie mee ʼn veskoning om te sê maa ek hettie dié, of ek hettie dáái nie. Google is soe ʼn groot resource wat mense kan gebruik, en dit kos maa min data om goed op die internet te lies.

As djy wil skryf, en dit krap nou al heeltyd binne-in jou om te skryf, dan moet djy skryf. As djy nie ʼn laptop of computer hettie, vat ʼn pen en ʼn cheap hardcover boek wat Pep of Shoprite vekoep en knyp elke oggend een uur van jou dag af om te skryf. Al moet djy ʼn uur vroeër opstaan, doen dit. Of gebruik jou smartphone en laai vi jou ʼn app af waa’op djy kan skryf, en begin met jou eeste karakter of jou eeste twie karakters, en gan met dit. Luiste na die storie, en skryf die storie.

En onthou, onthou, onthou, die eeste skryf is net dit, die eeste skryf. Boek skryf, storie skryf, poems skryf, ienige iets wat skryf betref, gannie oo dit wat djy eeste skryfie. Djy moet oo, en oo, en oo skryf. Jou storie mag goed wies met jou eeste draft, maa dit bieter dan goed wies op jou dêre draft.

En lies, mense, lies! Gedurende die skryf van Innie Shadows het ekkie fiction geliesie, wan wat gebeer as ʼn mens lies, en djy skryf daana, is jou skryfstem ge-influence deu die fiksie wat djy lies, which I love, when it comes to just practising writing, but wat oek bieter is en belangrik gewies het vi my, was om deu my eie stem te skryf. But lies baie fiksie. As djy nie can travelie, that’s what books do – hulle vat jou na soe baie different plekke toe.

Ek gan van volgene jaar af skryfworkshops anbied vi beginners, soe as djy voel djy hulp nodig het op daai aspek, kô volg my Facebook blad, of my Twitter of hou my website dop vi updates.

Wat is die sin van die lewe?

Djy’s nooit te oud om iets niets te try nie, en in dit liewe my hoep dat daa is altyd ʼn way, daa is altyd ʼn pad om vorentoe te stap.

Baie dankie Naomi, en LitNet, en amal wat my onnersteun op LitNet en oek op anner plekke.

Lees Olivia se LitNet-rubrieke hier.

 

The post <em>Innie shadows</em>: ’n onderhoud met Olivia M Coetzee appeared first on LitNet.

Fotogalery: Stellenbosch-bekendstelling van Etienne van Heerden se roman Die biblioteek aan die einde van die wêreld

$
0
0
Die biblioteek aan die einde van die wêreld
Etienne van Heerden
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624089216
 
Izak de Vries het foto’s geneem by die Stellenbosch-bekendstelling van Etienne van Heerden se Die biblioteek aan die einde van die wêreld. Die bekendstelling het op 19 November 2019 in Stellenbosch Hotel plaasgevind.
 
Izak meen dat sommige van die foto’s se invalshoeke vreemd is. Hy skryf: "Hoe sou dit gelyk het as NB-Uitgewers ’n klompie spioenasiekameras sou versteek het? Op onverwagse plekke? Agter Etienne – om mense dop te hou terwyl hy praat? Van bo? Die kiekies word dus speels geneem en die hoeke is vreemd.
 
"Loerbroer is orals. Loerbroer loer waar jy nie dit verwag nie.
 
"Deur die kamerahoek te verander en met ’n baie wye hoek te skiet (soos die geval is met baie spioenasiekameras) kry ’n mens ’n ander gevoel. Dalk sluit dit losweg aan by sekere van die temas in die boek."
 
Hier onder is Izak se foto’s van die geleentheid.
 
 

Marga Stoffer van NB-Uitgewers

Etienne van Heerden

Etienne van Heerden en Etienne Bloemhof

Chris van der Merwe

Jean Oosthuizen

Sona Lamprechts, Etienne van Heerden en Chris van der Merwe

Remona Voges

Karin Brynard, Hettie Scholtz en Susan Bloemhof

Bernard Odendaal

Antoinette Louw

Piet Bormann, Jaco (Jack) Kooy en Etienne van Heerden

Susan Bloemhof

Kaia van Heerden (links voor) en John Skotnes (regs voor)

Deon Meyer, Marianne Vorster-Meyer en Etienne van Heerden

Johan Kotze

John Skotnes, Marga Stoffer, Etienne Bloemhof en Carolyn Meads

Willie Breytenbach en Etienne van Heerden

André Kruger en Chris van der Merwe in die gehoor

Menán van Heerden

Eben Pienaar, Deon Meyer, Marianne Vorster-Meyer, Ina Genade en Lize Vorster (heel regs)

The post Fotogalery: Stellenbosch-bekendstelling van Etienne van Heerden se roman <em>Die biblioteek aan die einde van die wêreld</em> appeared first on LitNet.

Bibi Babbelbek praat tot sy blou word: ’n lesersindruk en ’n onderhoud met die skrywer

$
0
0

Titel: Bibi Babbelbek praat tot sy blou word
Skrywer: Louise Viljoen

Uitgewer: Naledi
ISBN 9781928426882

Lesersindruk

Klein Bibi Babbelbek woon by haar bedlêende ouma in ’n afgesonderde kliphuisie teen die berg. “Hulle twee pas mekaar op” (1). “Ouma Lollie is oud en sieklik. Sy kan ook glad nie meer sien nie. Sy lê net heeldag op haar bed. Bibi kyk graag by die kamervenster uit oor die dorp doer onder in die vallei” (1). “Woorde is al wat sy het. Sy kan nie soos ander kinders heeldag buite rondhardloop en speel nie. Sy is haar ouma se oë en ore” (11). Dié hartseer en eensame omstandighede word verdoesel deur die positiewe karakter wat geskep word in Bibi wat “gelukkig [...] vreeslik baie van praat” hou (2). “Sy is Bibi Babbelbek en sy gesels land en sand aanmekaar. Dis wat sy doen, en sy is goed daarmee! Haar kop is vol woorde en dit borrel oor haar lippe. Sy is ’n koerant op twee bene. ’n Nuushond van formaat” (7).

Die agtergrond en die ruimte waarin dié aangrypende kinderverhaal afspeel, word onmiddellik en bekwaam geskets. Die leser word van die begin af emosioneel betrek en op ’n onvergeetlike reis geneem. Die skrywer maak nie net aanspraak op die denkwêreld van die kind nie, maar neem ook suksesvol besit van die volwassene se bewussyn.

Die hoofkaraktertjie, Bibi Babbelbek, “praat tot sy blou word”, en dit dui natuurlik daarop dat sy vergeefs praat. Of dalk nie? Met ’n sterk idiomatiese invalshoek en stelling as titel, Bibi Babbelbek praat tot sy blou word, skep Viljoen ruimte vir denke en interpretasie, veral deur die ontwikkelende kind. Die leser besef spoedig met die ontvouing van die verhaal en karakters dat dié nie ’n storie sonder intrige is met ’n voorspelbare gelukkige einde nie. Viljoen weet presies hoe om die verhaal te ontvou.

Bibi Babbelbek raak ’n paar bogstories kwyt en die hele dorp draai teen haar. Ja, Bibi het gejok, maar wat was haar beweegrede? Waarom jok kinders? Sal die leser begrip hê vir Bibi se omstandighede? Die negatiewe en afkeurende reaksie van die dorpenaars en ’n geselsie met ouma Lollie laat Bibi haar fout insien. Sy leer dan ook die les dat verkeerde dade gevolge inhou; nie net vir haar nie, maar ook vir al die ander wat daardeur geraak word. Die dorpenaars se aanvanklike groepsmentaliteit word nou ’n versoenende klimaat van wedersydse empatie en begrip tussen hulle en Bibi. Sterk karakterontwikkeling word hierdeur bewerkstellig en ’n welkome morele les is vir seker in dié besondere verhaal te leer.

Bibi Babbelbek praat tot sy blou word bied veel meer as net ’n mooi kinderverhaal. Viljoen se verteltrant omsluit pragtige woordkeuses en -spelings wat met vernuf aangewend word en dus ook die interpretasiemoontlikhede vir ’n groter ouderdomsgroep daarstel. Sy skep deurgaans pittige beelde en die verstaanbare metaforiek sal kinders laat krul van plesier (en waarskynlik óók aanmoedig om keurig met taal om te gaan). Die kinderleser word subtiel blootgestel – sonder dat dit na ’n leerproses voel – aan die vaslegging van klanke, alliterasie, assonansie, personifikasie en deurgaanse suiwer taalgebruik. Beeld, assosiasie en oordragtelike taalgebruik is kenmerkend van die boek. “Die wind pluk hard aan Bibi se hare en wil haar pootjie ... (11). “Hierdie bietjie wind is sommer net ’n skrikmakertjie. Dit sal nou-nou gaan lê” (16). “Die wind huil en dit blaas. Dit loei en dit raas. Die mense moet net vashou of die wind waai hulle rond en bont en onderstebo!” (19).

Sterk newekarakters met kenmerkende eienskappe (Mevrou Posseël, Mevrou Snob, Meneer Velskoen, Karina Ballerina, Manie Motoris, Sarel Spietkop, ens) dra by tot ’n moreel verantwoordbare ontknoping. Die onderliggende tema van die verhaal beklemtoon die vernietigende krag van leuens teenoor waarheid. Die inhoud is relevant en nodig in ’n snelgroeiende moderne mark wat soveel uitdagings aan die skrywers van kinderverhale bied. Viljoen slaag daarin om die denkwêreld van die kind só te betree dat dit kompleet vir die volwasse leser voel asof hy of sy self weer in dié ontwikkelingsfase is!

Die sjarmante volkleurillustrasies deur Erna van der Merwe beeld die verhaal uitstekend uit en sorg dat die leser op ’n onvergeetlike verbeeldingstog geneem word. Bibi Babbelbek praat tot sy blou word word voorgeskryf vir kinders tussen 5 en 9 jaar oud (dus voorlees én selflees), alhoewel jonger en ouer lesers ook daarvan sal hou. Die boek is geskik om in groepe of individueel gelees te word.

Bibi Babbelbek praat tot sy blou word verdien ’n spesiale ruimte in die biblioteek van elke omgee-ouer.

Oor die skrywer

As boekresensent is Louise Viljoen ’n huishoudelike naam, veral onder lesers van Maroela Media, LitNet, Twitter, Facebook en ander platforms. Sy is ’n gereelde gas op Radio Kaapse Kansel waar sy haar lesersindrukke met luisteraars deel. Sy werk al vir etlike jare vryskut as taalversorger en spookskrywer. Meer as 300 artikels, talle kortverhale, ’n geestelike roman en ’n wetenskapsfiksie-verhaal, asook honderde boekresensies, het al uit haar pen verskyn. Sy is getroud, woon op Jeffreysbaai, en versorg haar moeder wat aan demensie ly. Louise dra Bibi Babbelbek praat tot sy blou word op aan haar suster, Annatjie, wat ’n moedige stryd teen kanker voer.

Onderhoud

As skrywer van kortverhale, draaiboeke, ’n geestelike roman en ook ’n wetenskapfiksie-verhaal konsentreer jy op verskillende genres. Wat het jou geïnspireer om ’n kinderboek te skryf?

Ek sien myself graag as ’n veelsydige skrywer en het daarom myself uitgedaag om in soveel moontlik genres te publiseer. Ek dokter heeldag en aldag kliënte se manuskripte en het gevolglik baie min tyd oor om aan my eie skryfwerk te spandeer. Ek het (verkeerdelik!) gereken dis maklik en vinnig om ’n kinderboek te skryf. Ek is mal oor die kultuurskat wat ons in idiome het en vind dit ’n groot jammerte dat soveel wonderlike idiome nie meer gebruik word nie. Ek het in my geestesoog ’n dogtertjie gesien wat blou word van vergeefs praat. Bettie Babbelbek is gebore. Gelukkig het professor Betsie van der Westhuizen vir my die goeie raad gegee om Bettie eerder die meer moderne “Bibi” te maak.

Jy maak in jou bio op die agterblad ’n interessante stelling met ’n diep strekking, nl “stories maak die lewe beter”. Dit vorm ook ’n integrale deel van die motief van jou boek. In watter mate dink jy kan die verdedigingsmeganisme volhoubaar wees, veral uit die perspektief van ’n kind?

Stories bring hoop, want dit “ontvoer” jou uit die hier en nou wat soms aaklig kan wees en neem jou op reis na dikwels wonderlike en magiese plekke waar dinge beter is. Saam met stories kom moontlikhede en ander wêrelde. ’n Kind kan in die mees armoedige omstandighede in ’n plakkershut woon, maar die aardbol en die heelal deurkruis as ’n skatryk koninklike. In Bibi Babbelbek se geval maak sy graag haar eie stories op wanneer sy vir haar siek, blinde ouma vertel wat buite aangaan. “Ouma Lollie maak staat op haar om al die nuus te hoor” (11). Soms reën dit, maar dan sal Bibi vertel hoe lekker die kinders in die parkie speel. Só het sy kleur aan ouma Lollie se saai bestaan gebring.

Bibi word opgedra aan jou suster, spesifiek vir haar vegtersgees en navolgingswaardige voorbeeld wat sy stel in haar stryd teen kanker. Kan jý met Bibi identifiseer? Indien wel, hoekom?

Ek versorg my ma wat aan demensie ly. Die situasie stel natuurlik eise waarvoor vriende en kennisse nie altyd begrip het nie. Ek kan byvoorbeeld nie op die ingewing van die oomblik saam met iemand gaan koffie drink nie. Al staar Bibi soms verlangend na die dorp onder in die vallei, is sy bitter lief vir haar ouma Lollie en sal sy haar vir niks op aarde verruil nie. Net so, al is daar baie dinge wat ek noodwendig moes prysgee (onder meer my vryheid om te kom en te gaan en te doen wat ek wil, wanneer ek wil), is ek baie lief vir my ma en sal ek haar bystaan vir so lank dit nodig is. Met Bibi Babbelbek praat tot sy blou word daag ek die leser uit om begrip te hê vir ander se omstandighede en om nie te vinnig te wees om te oordeel nie, maar om ’n helpende hand – al is dit in die vorm van ’n bemoedigende woord – uit te steek.

Bibi Babbelbek praat tot sy blou word is ’n heerlike storie vol avontuur en kompleet met ’n orkaan wat deur die dorp waai en amok maak. Tog is daar ook baie emosie tussen die lyne vasgevang. Bibi huil byvoorbeeld by ouma Lollie omdat die dorpenaar haar ignoreer en nie meer wil hoor wat sy te sê het nie. Hoe belangrik is die gebruik van emosies vir jou wanneer dit by die skryf van stories kom?

Ek glo dat wanneer skrywers hulle lesers se emosies aanraak, die lesers ’n band met die skrywers vorm deur middel van hulle werk. Lesers wat iets vóél wanneer hulle ’n boek lees, sal op die uitkyk wees vir nog skryfsels uit die skrywer se pen. Ek wil graag glo dat ek diep, menslike stories skryf – stories met hart.

Bestel Bibi Babbelbek praat tot sy blou word by Tertia Swart (tertia@naledi.online) of stuur ’n SMS na 078 648 8616. Dit is ook by boekhandelaars beskikbaar.

The post <em>Bibi Babbelbek praat tot sy blou word</em>: ’n lesersindruk en ’n onderhoud met die skrywer appeared first on LitNet.


Video: Stellenbosch-bekendstelling van Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden

$
0
0

Etienne van Heerden se Die biblioteek aan die einde van die wêreld is op Dinsdag, 19 November 2019, in die Stellenbosch Hotel bekendgestel. Etienne Bloemhof het met hom gesels. Kyk hier na die gesprek:

Etienne van Heerden en Etienne Bloemhof

Etienne se jongste roman, Die biblioteek aan die einde van die wêreld

............

Titel: Die biblioteek aan die einde van die wêreld
Skrywer: Etienne van Heerden
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624089216

Prokureur Ian Brand stuur ’n ondeurdagte twiet die kuberruim in en sy lewe word oornag pure hel. Thuli Khumalo, studenteaktivis op ’n kampus wat stink na petrol en traangas, moet kies tussen vaderverraad of haar beginsels versaak. En al hoe gereelder slaan ’n kruisboogmoordenaar in die Moederstad toe ... Dié tergend aktuele roman sê veel oor die tyd waarin ons lewe, waar “die waarheid” klaarblyklik ’n onhaalbare ideaal is.

............

  • Foto’s: Izak de Vries 
  • Video: Naomi Bruwer

Lees ook 

Fotogalery: Stellenbosch-bekendstelling van Etienne van Heerden se roman Die biblioteek aan die einde van die wêreld

The post Video: Stellenbosch-bekendstelling van <i>Die biblioteek aan die einde van die wêreld</i> deur Etienne van Heerden appeared first on LitNet.

Valda Jansen: ’n onderhoud rondom die 2020 Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs

$
0
0

Valda Jansen (foto voorsien)

Die Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs is onlangs aan Valda Jansen toegeken. Sy praat met Naomi Meyer hieroor.

Hallo Valda. Baie geluk met die ontvangs van die Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs! Hoe voel jy en het die besef hieromtrent al ingesink? 

Baie dankie! Al die gelukwensinge wat ek die afgelope tyd ontvang het, is ’n riem onder die hart.

Hierdie beurs is enige skrywer se droom en ek is ten volle bewus van die verantwoordelikheid wat daarmee gepaardgaan.  

Ek is baie dankbaar teenoor almal wat betrokke was by die toekenning van hierdie beurs. Dit is egter nie die einde van ’n pad nie, maar net die begin. Die harde werk begin nou eers.

Dit is bevrydend om vooruit te kan beplan. Daar is reeds ander stories wat begin broei.

Jy ken al die pad van skryf en Hy kom met die skoenlappers is bekroon. Mag ek vra waar jou idee(s) vir hierdie voorlegging vandaankom? Enige opmerkings oor jou voorgenome skryfprojek?

Die idee vir hierdie projek het so sewe jaar gelede reeds oor my pad gekom. Maar ek was besig: het as joernalis gewerk, my kind was nog klein. Mettertyd het die behoefte om te skryf begin oorneem.  Die tyd vir die nuwe projek was nog nie ryp nie; ek het dit eers op die lange baan geskuif, omdat Hy kom met die skoenlappers te hard gepraat het. Ek moes eers daardie boek van my af kry.

Wat die nuwe skryfprojek betref, volstaan ek by wat in die mediaverklaring staan. 

Om ’n voorlegging vir hierdie beurs te doen, is daar allerlei tegniese aspekte om aan aandag te gee. Teikens om te haal, ’n beplanning van die projek. Hoe lank voor die tyd het jy begin om aan jou voorlegging te werk?

Dit is beslis nie iets wat mens ’n aand of selfs ’n week voor die tyd begin doen nie. Soms neem ’n storie-idee ’n lang tyd om te ontkiem.

Twee jaar gelede het ek ook ingeskryf, maar dit nie gekry nie. Ek het dus gaan sit en ’n bestekopname gedoen en besluit om die projek van voor af te beplan en dit die keer deegliker te doen. Die vorige storie-idee het ek eers op ys gesit en ernstig aan die nuwe een begin werk.

Die feit dat ek sowat ses jaar gelede begin het om informeel navorsing doen oor ’n formidabele vrou wat sowat 200 jaar gelede in Suid-Afrika geleef het, het as ’n stewige basis vir die projekvoorstel gedien. Ek het genoeg materiaal gehad om die hele 2019 aan die projekvoorstel te werk, so tussen al my ander verpligtinge deur.

Onlangs (September) het ek aan die Week van de Afrikaanse Roman in Amsterdam deelgeneem, maar het oppad daarheen eers ’n draai in Duitsland gaan maak en weer met van haar afstammelinge gaan praat. Die vrou van die huis besit ’n indrukwekkende boekery oor die tema en ek kon ruimskoots daarvan gebruik maak.

Na ’n uitmergelend-besige Week in die Lae Lande het ek die oggend van 29 September in Kaapstad aangekom en volstoom aan die voltooiing van my projekvoorstel gewerk, net betyds vir die sluitingsdatum van 4 Oktober.

Om kreatief te wees is een ding, maar geld val darem ook nie uit die lug nie. Voel jy of jy nou ’n jaar lank sal kan asemhaal en nie bekommernis sal hê oor iets anders as jou skryfprojek nie, of dink jy ook die emosionele betekenis van so ’n toekenning (jou voorlegging het die sameroepers van die beurs beïndruk!) is ook sommer ’n erkenningsinspuiting? Wat beteken die beurs vir jou?

Die beurs is soveel meer as net ek, soveel meer as die skrywer aan wie dit toegeken word. Dis ’n erkenning, ’n ode aan die visie van twee groot kunstenaars van ons land wat aan eie lyf ervaar het hoe dit voel om van jou kunstenaarskap te leef. Hulle nalatenskap waarborg die geleentheid vir die skryf van boeke wat andersins dalk nooit die lig sou sien nie. Hierdie twee mense het onbaatsugtig geleef en elke boek wat uit hierdie beurs tevoorskyn kom, elke skrywer wie se lewe daardeur verander word, is ’n monument vir Jan Rabie en Marjorie Wallace.

As beurshouer is daar ook verpligtinge om na te kom met die Universiteit van Wes-Kaapland wat die beurs administreer. Ek beskou hierdie verbintenis met UWK as ’n groot voorreg. Veral omdat ek self as student destyds op soek was na rolmodelle. Dis belangrik vir studente om skrywers in hul midde te sien:  dat hulle net gewone mense is en nie verhewe bo die samelewing nie; dat skryf ’n ambag is wat met harde werk gepaardgaan; dat positiewe aanmoediging belangrik is.

Sedert die instelling van die beurs tien jaar gelede, is UWK die spil waarom hierdie beurs draai. Ek vertrou dat die positiewe invloed wat die beurs op die universiteit en studente uitoefen, net sal toeneem. Ons sal oor tien, twintig jaar van nou af ook met trots en dankbaarheid kan terugkyk na die vrugte wat die beurs opgelewer het. En ek dink dit is wat Marjorie Wallace en Jan Rabie voorsien het: dat hulle gebaar sal bydra tot ’n verryking van die Afrikaanse letterkunde wat tot ver in die toekoms sal weerklink.

Watter temas of dinge wat jou pad kruis, maak jou so passievol dat jy dit graag in jou voorgenome manuskrip wil inwerk? En hoe weet mens wat om in te werk en wat om te los, iets wat eerder vir persoonlike gebruik of werk in ’n ander manuskrip aan te wend is, eerder as die een waarvoor die beurs toegeken is? 

Ek was baie jonk toe ek die eerste keer ’n gedig geskryf het en onthou tot vandag toe hoe dit gevoel het:  dit was asof die gedig in die lug voor my hang; ek het die woorde gesien en geweet ek moes dit gryp. Dit was asof die gedig iewers op ’n ander plek reeds klaar geskryf was en tot by my gereis het waar ek dit kon sien sodat dit my taak geword het om dit neer te skryf.

Al my skryfwerk volg ’n soortgelyke pad: ek luister baie aandagtig na dit wat geskryf wil word; ek skryf instinktief; ontleed die teks eers agterna.

En ja, soos jy tereg noem, daar is allerhande idees wat uitspring en uiteindelik in verskeie gedaantes sal neerslag vind, nie noodwendig net in die boek wat uit hierdie beurs sal vloei nie.

Dalk is dit die uiteindelike doel van hierdie beurs: die voltooiing van ’n projek wat andersins baie langer sou neem om ’n boek te word en terselfdertyd ook die hupstoot om ’n ernstige skrywer te word.

Jan Rabie & Marjorie Wallace Skrywersbeurs vir 2020 toegeken aan Valda Jansen

Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs 2020: ’n onderhoud met Steward van Wyk

Jan Rabie & Marjorie Wallace-skrywersbeurs 2020

Valda Jansen (1965–)

Jan Rabie & Marjorie Wallace-lesing: Soos ’n koeipaal op die plaas

The post Valda Jansen: ’n onderhoud rondom die 2020 Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs appeared first on LitNet.

Video: Bekendstelling van Carel van der Merwe se Kansvatter

$
0
0

Carel van der Merwe se biografie van Ben Viljoen, Kansvatter, is Saterdag 30 November in Protea Boekwinkel op Stellenbosch bekendgestel. Albert Grundlingh het met hom gesels.

 

Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen

Carel van der Merwe

Ben Viljoen (1868-1917) was 'n prominente jonger generaal in die Anglo-Boereoorlog, maar ná die oorlog is hy nie opgeneem in die nuwe politieke elite van die Afrikaners nie. Nadat hy die eed van getrouheid op St. Helena onderteken het, het hy nooit weer permanent na Suid-Afrika teruggekeer nie.

Carel van der Merwe het besluit om Viljoen se spore te volg na Brittanje, Nederland, Mexiko en Amerika en te gaan uitvind hoe dit gebeur het dat dié Boereoorloggeneraal burgerskap van vier verskillende lande gehad het, die ster was van 'n Boereoorlogskouspel, aan 'n Mexikaanse revolusie deelgeneem het, as vredeskommissaris tussen die Yaqui-Indiane opgetree het en voor sy dood op die punt was om 'n film in Hollywood te vervaardig.

'n Prentjie van 'n komplekse persoonlikheid kom na vore wat herinner aan 'n deel van die huidige generasie Afrikaners – minder godvresend, gemaklik in verskillende kulture, en bereid om te emigreer wanneer hulle dink dit tot hul voordeel is.

Bron: https://www.graffitibooks.co.za/af/366157/Boeke

 

The post Video: Bekendstelling van Carel van der Merwe se <i>Kansvatter</i> appeared first on LitNet.

Skrywersonderhoud oor Suiker Britz: dossier van ’n speurbaas

$
0
0

Suiker Britz: dossier van ’n speurbaas het onlangs op die rakke verskyn. Remona Voges het met die skrywers, Anemari Jansen en Stefaans Coetzee, oor die boek gesels. 

Titel: Suiker Britz: dossier van ’n speurbaas.
Skrywer: Anemari Jansen en Stefaans Coetzee
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776094707

Hallo Anemari en Stefaans. Baie geluk met jul boek Suiker Britz: dossier van ’n speurbaas. Vertel ons asseblief ’n bietjie meer oor julself en jul onderskeie agtergronde. Vanwaar jul gemeenskaplike belangstelling in Suiker Britz? 

A: Stories en woorde is my passie. Ek het laat in my lewe begin skryf, moes seker eers lewensondervinding opdoen, en my debuutroman, Glipstroom is in 2014 deur Human & Rousseau gepubliseer. In 2015 verskyn Eugene de Kock: Sluipmoordenaar vir die Staat en Eugene de Kock: Assassin for the State.

My hart se punt is my drie kinders, Rohan, Christian en Carina. Ek glo persoonlike narratiewe en gesprek kan ’n versoenende rol in die huidige diskoers in Suid-Afrika speel. Ek wil graag in 2020 my volgende manuskrip voltooi en meer reis agter stories aan. Ek het ook ’n skryfterapie-kursus ontwerp, om mense te help om hulle lewensverhale te kan neerpen.

Suiker en Annatjie, sy vrou, het my tydens ’n boekgesprek oor Eugene de Kock: Sluipmoordenaar vir die Staat, ’n jaar of wat gelede, genader en gevra of ek sy biografie sal skryf. Ek wou die boek uit ’n ander hoek benader en het toe pas vir Stefaans ontmoet. Omdat hy ook ’n woordmens is en ’n heel ander perspektief kon bring, het ek hom gevra om saam te skryf.

S: Kortweg, ek is ’n voormalige verregse bomplanter en het met my vrylating bykans die helfte van my lewe in die tronk spandeer. Baie gelees. Baie geskryf. Ek doen sedert my vrylating liefdadigheidswerk en beywer my as ’n aktivis vir versoening om brûe te bou. Ek bied gereeld mannekampe aan en is diensbaar by #leefliefde.

Kan julle asseblief vir die wat nie weet nie kortliks ’n bietjie meer oor die legendariese Suiker Britz vertel?  Wie was hy en waarvoor staan hy bekend?

A: Karel Johannes Britz is op 3 Junie 1944 in Vredefort gebore. Van kleins af was die jong Karel vlug van begrip. Op skool was sy bynaam aanvanklik “Karel Kop” – juis omdat hy alles kon onthou nadat hy dit net een maal gehoor het. “Ek is toe in 1961 op sestienjarige ouderdom Polisiekollege toe,” vertel Suiker ons. Daai dae het elke speurder en lid van die Veiligheidstak wat sy sout werd was,’n safaripak, ’n welige snor en ’n kam in die kous gehad.

Die groot rede waarom Suiker by die Suid-Afrikaanse Polisie aangesluit het was omdat hy ’n speurder wou word, al van tienjarige ouderdom af.

Suiker was by die Moord- en Roof-eenhede betrokke waar dit sy taak was om moorde, gewapende rooftogte en verkragtings te ondersoek. Hy word bevorder tot die rang van kaptein en in Januarie 1980 word hy, met die rang van majoor, as bevelvoerder van die Pretoria Moord- en Roof-eenheid aangestel.

Suiker bly die bevelvoerder tot in 1991. Onder sy bevel bou die eenheid ’n reputasie op as die beste in die land. In dieselfde jaar word Suiker as nasionale bevelvoerder van alle Moord- en Roof-eenhede in Suid-Afrika aangestel, en hy verwerf die rang van brigadier. Ná die politieke verandering van 1994, word hy bevorder tot generaal-majoor en aangestel as nasionale bevelvoerder van die komponent Ernstige- en Geweldsmisdade.

Gedurende sy polisieloopbaan was Suiker betrokke by ’n magdom opspraakwekkende sake. Telkens tydens ons gesprekke beklemtoon hy egter dat speurwerk nooit ’n "eenmanvertoning" is nie. Hy het sy span speurders met die hand uitgesoek en het daarby volstaan dat dit ’n spanpoging verg om misdadigers suksesvol vas te trek.

Wat is vir julle van die mees fassinerende sake waarby Suiker Britz betrokke was? 

S: Ek wil graag sê al sy sake. Hy het regtig ’n rits hoë profiel sake oorsien. Selfs die wat nie in die boek bespreek word nie soos Robert McBride en die sluipmoord op Johan Heyns. Die Kerkstraat-bomontploffings van 19 Mei 1983 staan beslis uit, asook die Wit Wolwe, Barend Strydom en Hendrik Groenewald.

A: Van die stories wat Suiker na aan die hart gelê het was die stigting van die eenheid vir verkragtingslagoffers, asook ’n eenheid gemoeid met die aankeer van reeksmoordenaars. Suiker het ook met deernis die besonderse verhaal van die jong skoolseun, Natie Chinner, vertel.

Julle skryf in die boek nie net oor sake waarin Suiker ’n kernrol gespeel het nie, maar ook oor sake waar hy op periferie gestaan het. Hoekom het hierdie sake julle so geïnteresseer?

A & S: Naas die suksesverhale in Suiker Britz se roemryke loopbaan, was daar natuurlik ook polities sensitiewe sake waar oortreders dikwels nie aangekeer is nie – ’n aspek wat die skrywers van die boek veral geïnteresseer het. Suiker was in daardie opsig 'n produk van sy tyd en deel van die staatsmasjinerie van die apartheidsregering. Daarom fokus hierdie boek nie net op sake wat suksesvol afgehandel is nie, maar ook oor sake waar daar leemtes in die speurwerk was.

Dikwels word sake aan die bod gestel waar Suiker Britz ’n sentrale rol gespeel het, maar by ander gevalle wat in hierdie boek gedek word, het die baasspeurder dikwels ’n bydrae vanaf die periferie gelewer – hier, byvoorbeeld, sy toevallige ontmoeting en gesprek met Gert van Rooyen en sy kortstondige verbintenis met die pedofiel, Dirk Prinsloo, toe Prinsloo hom in 2003 gevra het om hom te help met ’n ondersoek, waar hyself en sy huismaat, Cezanne Visser, wat ook ’n advokaat is, op ’n aantal klagtes gearresteer in.

Julle het talle persoonlike onderhoude met Suiker gevoer voor sy dood in 2018. Wat was jul persoonlike ervaring van hom?

A & S: Kyk, Suiker het jou deeglik deurgekyk en hy het nie nonsens gevat nie. Die gesprekke met hom was altyd interessant, vanweë sy vertellings oor die magdom sake waarby hy betrokke was en die suksesse wat die moord- en roofeenheid onder sy bevel behaal het. Hy het groot respek vir die speurders wat saam met hom gewerk het, gehad. Annatjie het ons altyd getrakteer met koffie en eetgoed.

Hy was depressief oor sy liggaam wat hom toenemend in die steek gelaat het, asook persoonlike probleme met sy twee kinders. Ons het verkies om op sy loopbaan, eerder as die familieprobleme, te fokus.

Voor die publikasie van die boek het Suiker homself om die lewe gebring. Hoe moes julle verder met jul navorsing te werk gaan?

A & S: Reeds voor sy dood kon of wou Suiker nie al ons vrae beantwoord nie – en ná sy selfdood was ons aangewese op sy uitgebreide argief, wat bestaan uit lêers van elke saak waarby hy gedurende sy loopbaan betrokke was, asook plakboeke met koerantknipsels van sake ─ etlike honderde knipsels is ’n understatement.

Suiker het tydens sy loopbaan onder fel kritiek deurgeloop. Wat was die grootste redes vir die kritiek?

A & S: Die kritiek was as gevolg van polities sensitiewe sake wat nie opgelos is nie, waarvan die moorde op die mediese dokter en politieke aktivis, Fabian en sy eggenoot, Florence Ribeiro vir ons van die mees aangrypende was.

Wat baie mense nie weet nie is dat Suiker eintlik ’n voorstander van vroueregte was. Hy het byvoorbeeld ’n vroue-eenheid vir verkragtingslagoffers gestig.  Kan julle, in die lig van die huidige fokus op geslagsgeweld, ’n bietjie hieroor uitbrei?

A & S: Die stigting van die verkragtingseenheid was vir Suiker ’n trotse oomblik:

“Ek het daardie hele mandaat laat verander. Jy kan nou gaan vra – bel enige ou staatsaanklaer by die prokureur-generaal se kantoor, dan vra jy hom oor Suiker en sy verkragtingspan. Hulle het by die prokureur-generaal se kantoor onder mekaar baklei om ons dossiere deur die hof te sit, want hulle het geweet daar gaan nie fout wees nie,” vertel hy. “Jan d’Oliveira, prokureur-generaal van Transvaal, het een aand gesê as hulle in die hele Suid-Afrika net veertig Moord- en Roof-manne en vroue het soos wat Pretoria het, gaan ons nie weer ’n moord sien nie, want ons het hulle geskiet en ons het hulle gevang.”

Volgens Sharon Schutte, ’n lid van dié span, het Suiker besef dat die manier waarop verkragtingsake deur die polisie hanteer is, ver van ideaal was. Dit was nie ’n geval dat manlike speurders onbevoeg was om die sake te hanteer nie, maar ’n spesialiseenheid met polisievroue wat 24 uur per dag beskikbaar was, sou baie meer effektief wees.

Dié eenheid het 32 polisiestasies oor die hele Pretoria bedien, en werksaamhede het nou aangesluit by die pligte van die moord- en roof-speurders onder Suiker se bevel. Schutte verduidelik: “Die moord- en roof-ouens was altyd daar, hulle was altyd op die lug as jy bystand nodig gehad het. Ons werk was eintlik meer gefokus op die slagoffers.”

Stefaans, jy hoef nie te antwoord as jy nie wil nie. Jy was self betrokke by die berugte Wit Wolf-groep, waaraan ’n hoofstuk in die boek gewy word en jy self ook ’n boek geskryf het. Het jy ooit in hierdie tydperk self met Suiker te doen gehad? En indien wel, wil jy dalk iets daaroor vertel?

A: As ek namens Stefaans hier mag antwoord: Stefaans het my ongelooflik baie gehelp met die aanvanklike navorsing oor verregse groepe en die Israelvisie. Ons het egter besluit dat daardie gedeelte van Stefaans se lewe in sy biografie, Wit Wolf,  gedek is en met die skryf van ons boek oor Suiker Britz het dit ’n nuwe era in sy lewe ingelei, ’n paadjie weg van sy vorige lewe. Ons wil dus volstaan daarmee dat hierdie boek uit ’n nuwe perspektief geskryf is.

Is daar soortgelyke figure wat julle interesseer vind en wat julle in die toekoms ook graag in boekvorm tot lewe sal wil bring?

S: As jy wil weet watter speurders legendes is, vra gevangenes, hulle weet. Ek sou bitter graag Slang van Zyl of Mike Bolhuis in ’n boek tot lewe wou bring. Ek het ook tot dusvêr vir Marlon Appollis en Stephen Adams (sover as moontlik) gevolg; die twee is legendes.

A: Ek wil dalk eers wegfokus van polisie-aangeleenthede en wil my hand aan ’n ander skryfprojek waag.

The post Skrywersonderhoud oor <em>Suiker Britz: dossier van ’n speurbaas</em> appeared first on LitNet.

Video: Kaapstad-bekendstelling van Innie Shadows deur Olivia M Coetzee

$
0
0

Olivia M Coetzee se eerste boek, Innie Shadows, is Dinsdag, 3 Desember 2019, by The Book Lounge in Kaapstad bekendgestel. “Dis ’n donker, maar baie mooi storie,” het Barbara Boswell, gespreksleier, tydens die bekendstelling gesê. “En die taal is so delicious!”

“Ek het probeer om die boek in Engels te skryf, maar my manuskripleier het baie mooi vir my gesê ek kan nie in Engels skryf nie. Toe skryf ek dit soos ek praat en die taal het net gekom,” het Olivia gesê.

Kyk hier na die gesprek:

............

Titel: Innie Shadows 
Skrywer: Olivia M Coetzee 
Uitgewer: Modjaji Books 
ISBN: 9781928215929

Innie shadows wroeg met die duiwels van ’n gemeenskap wat gebuk gaan onder die maatskaplike euwels van dwelms, onverdraagsaamheid en homofobie, en waar paaie te midde van wrede brutaliteit kruis. Baanbrekersfiksie waarin die onteiendes uiteindelik hul eie stories vertel.

............

Olivia M Coetzee by The Book Lounge

Barbara Boswell het met Olivia gesels

Die jong dramaturg, Tasneem Daniels, met Innie Shadows

’n Uitstalling van Olivia se debuut, Innie Shadows

Jeremy Veary in die gehoor

Lueen Conning, skrywer van die toneelstuk, A Coloured Place

Innie Shadows

Lees ook

Innie shadows: ’n onderhoud met Olivia M Coetzee

The post Video: Kaapstad-bekendstelling van <i>Innie Shadows</i> deur Olivia M Coetzee appeared first on LitNet.

Internasionale erkenning vir kosblogger Ilse van der Merwe

$
0
0

Ilse van der Merwe se pragtige resepteboek, Cape Mediterranean, is onlangs gepubliseer en sy het reeds ’n internasionale prys daarvoor ingepalm (haar resepteboek, Cape Mediterranean, is aangewys as die Suid-Afrikaanse wenner in die Mediterreense kategorie by die Gourmand World Cookbook Awards). Remona Voges het met Ilse gesels. 

Ilse van der Merwe (foto's: verskaf)

Hallo Ilse. Jy is bekend as kosblogger. Hoe het The Food Fox tot stand gekom?

Ek het einde 2010 ’n groot begeerte gehad om van loopbaan te verander (vanaf musiekbestuur na iets in die koswêreld) en het die blog begin om hopelik ’n voet in die deur te kry met my gekombineerde liefde vir skryf en kook. My musiekbesprekingsagentskap se naam was al die jare Red Fox Events, so The Food Fox was so half ’n tong-in-die-kies uitvloeisel daarvan.

Jou resepteboek, Cape Mediterranean, is aangewys as die Suid-Afrikaanse wenner in die Mediterreense kategorie by die Gourmand World Cookbook Awards. Baie geluk daarmee! Kan jy ’n bietjie meer oor dié kompetisie vertel asseblief?

Ek moet eerlik wees ─ ek het geweet van die kompetisie, maar ek het nie eens geweet my uitgewer het die boek ingeskryf nie! Dit was vir my ’n reuse-verrassing. Al wat ek voorheen van die Gourmand toekennings geweet het is dat Suid Afrikaanse outeurs baie graag inskryf, want om op ’n globale vlak erkenning te kry is van groot waarde vir ons almal, en maak gewoonlik ’n daadwerklike verskil aan boekverkope. Nou ding my boek verder mee met ander lande se wenners in die Mediterreense kategorie (ek dink daar is in totaal 18 wenboeke in hierdie kategorie, van lande soos Turkye, Monaco, Griekeland, Frankryk, Portugal ens) om die titel vir beste Mediterreense kookboek in die wêreld, volgens die Gourmandtoekennings. Ek vier ELKE mylpaal vir hierdie boek, so al kom daar niks verder hiervan nie, is dit vir my reeds fantasties!

Wat is Kaaps-Mediterreense kos presies? En hoe verskil dit van tradisionele Mediterreense disse?

Kaaps-Mediterrreense kos is ’n natuurlike interpretasie van klassieke Mediterreense resepte en manier van eet/onthaal, maar al die bestanddele is eg aan die Wes-Kaap. Ons het mos ’n natuurlike Mediterreense klimaat hier, so alles wat jy in die Mediterreense streek kry, kry jy ook hier ─ en fantastiese kwaliteit as jy reg kies. Suid-Afrikaners eet steeds heelwat meer vleis as in die Med, en ons olyfolie-kultuur is nog jonk en relatief klein, maar mense omarm al hoe meer die klassieke Mediterreense leefstyl en manier van onthaal.

Vanwaar jou belangstelling in dié spesifieke kossoort?

Ek was maar nog altyd net baie diep aangetrokke tot Mediterreense kos! Alles, van pizza en pasta tot geroosterde groente, en tapas en mezze, en tzatziki en olyfolie, en focaccias en charcuterie, en goeie kaas ─ daai soort kos maak my grensloos gelukkig!

Fotografie deur Tasha Seccombe, stilering deur Ilse van der Merwe en Tasha Seccombe

Sal jy so gaaf wees om een van jou resepte in die boek met ons lesers te deel?

Alte graag! Hier is ’n maklike resep vir ’n krakerige, vars, groen slaai met baie min bestanddele, maar elke keer as ek dit maak dan smul die mense daaraan en vra die resep. Dis net seldery, groen appel en vars vinkelbolle wat jy baie fyn sny (’n mandoliensnyer of voedselverwerker werk beste) en dan bedruip met ’n slaaisous van olyfolie, vars suurlemoensap, heelkorrelmosterd en ’n bietjie heuning. Hemels saam met vis of hoender op ’n warm somersdag!

VINKEL-, SELDERY- EN GROENAPPELSLAAI:

Fotografie deur Tasha Seccombe, stilering deur Ilse van der Merwe en Tasha Seccombe

Bestanddele: (bedien 6 as ’n bykos)

  • 2 groot vinkelbolle, afgespoel
  • 2 lang stingels seldery
  • 1 groot Granny Smith-appel
  • ongeveer 15 ml (1 eetlepel) vars suurlemoensap
  • 30 ml (2 eetlepels) ekstra suiwer olyfolie
  • 10 ml (2 teelepels) heelkorrelmosterd
  • sout en peper na smaak

Metode:

Sny die vinkelbolle en ’n bietjie van die vinkelfraaiings baie fyn met ’n mandoliensnyer en plaas in ’n mengbak. Sny die seldery ook baie fyn en voeg by. Sny die appel in fyn strokies en voeg by (sonder die skil). Gooi dadelik die suurlemoensap, olyfolie en mosterd by, en meng dit saam tot dit oraloor goed nat is. Geur met sout en peper. Bedien dadelik, of binne ’n uur (of twee) vir beste resultaat.

The post Internasionale erkenning vir kosblogger Ilse van der Merwe appeared first on LitNet.

Skrywersonderhoud: Kobus van der Westhuyzen oor Landbouweekblad: Hart tot hart

$
0
0

Kobus van der Westhuyzen praat met Naomi Meyer oor sy grootdrukboek, Landbouweekblad: Hart tot hart.

Titel: Landbouweekblad: Hart tot hart
Skrywer: Kobus van der Westhuyzen
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796321916

Kobus, die boek is geestelike bepeinsinge vir elke dag van die jaar. Is die boek net vir boere bedoel, of wie het jy in gedagte gehad toe jy die boek geskryf het?

Ek het aanvanklik met die ander boeke wat dit vooraf gegaan het, Die aarde nuut en vry en Daar is geen einde aan sy liefde nie, gefokus op die boere, want dis stukkies wat ook in Landbouweekblad verskyn het. Die groter leserstal is mos maar boere. Toe was daar so ’n goeie reaksie van mense wat nie boere is nie, maar met ’n sterk boere-agtergrond. Dit is vir my opvallend as jy met mense gesels, jy gesels nie lank nie dan sien jy daar is ’n boere-agtergrond. Toe besluit ek om dit oop te maak. ’n Boer se behoeftes is baie keer ook ’n ander mens se behoeftes. Toe ek hierdie boek geskryf het, het ek nie net aan boere gedink nie. Ek het meer gedink aan aktuele aangeleenthede wat ons almal raak. Wat vir my, soos ek ouer geword het, al hoe meer geraak het.

Wat dink jy lê boere die naaste aan die hart? Mens sou amper kon dink dat ’n mens nie ’n boer sou kon wees sonder om geloof te hê nie, of hoe? Waaroor bekommer hulle hulle die meeste, na jou mening? Is dit grondhervorming, droogte, of siekte of gevare weens isolasie op ’n plaas, of geld? Of wat is alles in hulle gedagtes, as jy dink aan gesprekke wat jy met boere het? 

Die groot ding wat maar die afgelope paar jaar die boere vasdruk, is die droogte-kwessie. Ek dink ook ’n bietjie die grondkwessie tot ’n mate. Hoewel die ingeligte boer besef hulle kan nie té rof aangaan met die grond nie, want die grond moet kos gee vir die land. Ek dink hulle besef dit. Grondhervorming is nie in my ervaring so ’n groot bekommernis by boere nie, maar jy kan nie baklei teen die natuur nie. Jy moet vandag heeltemal ’n nuwe denkwyse oor die boerdery hê as jy wil aanhou boer. Tewens, as jy kyk hoeveel naweekboere daar is – dit is mense wat lankal besef het hulle kan nie op die boerdery alleen leef nie. Daar is mense wat dink dit is ’n lekker betalende beroep, maar boerdery is nie vir sussies nie. Die boere kry swaar. Die kleiner plasies is al met die jare uitverkoop. As jy nie vandag op grootskaal boer nie, dan moet jy tweekeer dink oor boer. Jy kan gaan speel as jy die geld het, maar jy moenie dink jy gaan lewe daaruit nie.

As ek met boere praat, en ek het familie en ’n seun wat boer, en ek sien wat hulle moet spandeer om net die diere aan die gang te hou. Dis nie meer soos in die ou dae waar ’n skaap is ’n skaap en ’n bok is ’n bok nie. Die mense werk deesdae met kwaliteit vee. Asjy daardie goed verloor wat deur ’n geslag opgebou is, waar gaan jy dit weer kry? So die boere besef jy moet die goed aan die gang hou en maar kos koop en as daar nie geld is nie, moet jy skuld maak. Jy kan ook net tot op ’n sekere punt skuld maak, dan wil die ouens ook nie meer vir jou geld leen nie. Dit is ’n ander vorm van lyding waarmee hulle te doen het. Hoe staan ek vanoggend op? Hoe gaan slaap ek vanaand as ek nie weet hoe gaan 1 000 of meer skape, ooie en bokke kos kry as jy dit nie het nie? Dit is ’n diere-bekommernis en ek dink daar is baie boere wat vandag hulle grond sal verkoop as hulle net ’n ordentlike prys daarvoor sal kry. 

Ek kom al hoe meer agter die ouens boer omdat dit vir hulle ’n liefhebbery is. Hulle kan nie loskom nie, hulle is verslaaf daaraan. Dit is amper soos ’n diamantdelwer. Jy kry dalk nie vandag ’n diamant nie, maar dan gaan jy maar more weer terug en dan sif jy maar weer deur daardie grond, want jy leef in die hoop dat jy dit eendag gaan kry. 

“Die groot reën kom nog,” is die gesegde waarmee boere mekaar moed in praat. “Toemaar, die groot reën kom nog.”

Landbouweekblad is 100 jaar oud. Wat dink jy het oor die jare verander en wat het dieselfde gebly? In boere se lewens, en as dit kom by geestelike sake?

As ek nou terugkyk op my eie lewe, wat nou ook al ’n klompie jare strek en ek kom ook self van ’n plaas af, ken ek die soet en die suur van ’n plaas. Baie boere se seuns het nie verder gaan studeer nie en die pa het nie altyd besef dat hy nie die plaas, wat reeds nie ’n groot ekonomiese eenheid is nie, gaan verdeel nie. Dan maak dit dit onmoontlik vir die kinders om te boer. Dit het nie altyd gebeur nie. So jy het op baie plekke gekry dat plasies klein was, dit was onekonomies en daar was nie kans om te ontwikkel en groot te gaan nie. Vandag is dit nie meer so nie. Vandag boer boere dikwels as deel van ’n groter eenheid.

Ook die kinders wat gaan boer, moenie dink hulle kan net plaas toe gaan, op ’n trekker klim en boer nie. Hulle moet kundig wees, Boerdery is vandag ’n wetenskap en as jy nie gewillig is om te leer nie en die beste metodes te vorm en die beste keuses te maak nie, dan gaan jy dit nie maak nie. Boerderye het gemoderniseer. Daar het wonderlike aanpassing plaasgevind. Ons het goeie boere in Suid-Afrika, regtig.

Rakende wat dieselfde gebly het kry ek by boere daardie sterk geloof. Jy kan nie boer as jy nie glo nie. Daar is sekeres wat nie so dink nie, maar die meerderheid is wel. Hulle is nie net aardsgebonde nie, hulle is ook Godsgebonde. 

Is daar verskillende temas ter sprake (boek se indeling)? Of hoe is hierdie boek saamgestel?

Ek het maar stukkies geselekteer wat ek gedink het aktueel is vir alle mense om te lees. Tog as jy oplettend lees sal jy op herhalende temas afkom. Daar was dinge wat my sterk aangespreek het, hoe ouer ek geword het. As iets jou innerlik aanspreek is daar die geneigdheid dat dit uitkom op ’n manier. Ek het die wonderlike voorreg gehad, wat Landbouweekblad my gegee het, om daardie dinge ook in hierdie rubriek te laat uitkom. 

Een ding was die swak bestuur van die planeet aarde wat God vir ons gegee het. Of jy nou glo in die skeppingsverhaal of nie, dit is ’n belangrike punt dat toe die Here die mens gemaak het, het Hy hulle totaal anders gemaak as enige ander skepping. Hy het vir die mens ’n redelike en ’n sedelike bewussyn gegee. Hy kan onderskei tussen reg en verkeerd. Hy het vir die mens ’n Godsbewussyn gegee en vir hom gesê dat die mens anders gemaak word. Hy het vir die mens ’n opdrag gegee en dit is dat die mens Sy verteenwoordiger op die aarde is. Jy kan in Genesis daaroor lees. God gee aan ons bestuurskap. Hy gee dit nie aan die primate of ander diere nie, maar die mens. Dit is ’n besonderse verantwoordelikheid en as ek nou vandag moet punte gee aan my geslag, my Homo sapiens, vir hoe hulle hierdie opdrag uitgevoer het, jong, dan gee ek hom ’n baie lae punt. Ons het werklik swak gedoen in ons verhouding tot die natuur. Ons het soveel verkeerde besluite geneem wat die aarde verniel het. As jy kyk hoe lyk ons riviere, hoe ons ontbos, ons water is besmet, ons grond is verspoel. Ek dink die Here huil as hy sien wat ons aangevang het. Dit is beslis ’n tema in die boek.

’n Ander ding wat jy ook sal optel wanneer jy die boek lees, is ons soeke na ’n oplossing vir ons probleme in Suid-Afrika. Ons het ’n land wat geweldige wonderlike potensiaal het, maar ons het ’n land wat so swak bestuur word dat ons nie by die werklike oplossing uitkom nie. Dit het vir my duidelik geword in my roeping as predikant, wat ten nouste met die opvoeding en onderwys saamgehang het. Ek was my lewe lank daarby betrokke en ek kan nie verstaan, en ek verstaan al minder, dat ons nie kan besef waar die probleem in ons land lê nie. Ons wil hier van bo af met mekaar baklei en waaroor? Ons baklei nie oor beginsels nie. Ons baklei oor belange. Ons politiek is belangepolitiek. Nou kom ons en ons soek na oplossings. Kyk hoe lyk ons onderwys. Ek kry ons kinders so jammer. Dit verbaas my nie dat hulle baie dinge aanvang wat my hare laat rys nie. 

Ek sê dit nie sonder my waardering vir die talle onderwysers wat wonderlike werk doen nie, maar daar is leerkragte wat nie eens betyds opdaag om vir die kinders skool te gee nie. Skole wat laat begin, mense wat nie ’n kundige op hulle vakgebied is nie, want onderwys is tog die oordra van die kundige tot die nie-kundige. As jy dit nie het nie, hoe dra jy dit dan oor? As jy gaan kyk na die statistieke, is dit absoluut skokkend. Dit is ’n tema wat jy ook sal raaklees. 

’n Laaste ding, wat my in my eie bediening soos ’n mislukking laat voel het en steeds voel, is hoe spreek jy die tema van lyding aan. Lyding is ’n werklikheid en dit verskil. Ander se lyding is dalk groter. Baie mense dink dominees moet die antwoorde hê en dalk moes ons die antwoorde beter gehad het. Ek het dit blykbaar nie goed gehad nie, want ek het so skuldig gevoel wanneer iemand na jou kom en vertel wat met hulle of hulle kinders gebeur het. Ek hoef nie eers stories te vertel nie. Jy kan net die koerant oopmaak dan kan jy sien die verskriklike goed wat met klein, onskuldige kindertjies gebeur. Dan kom mense na jou toe en hulle dink jy kan hulle help. Dan vra hulle jou: “Dominee, waar was God? Hoekom het Hy dit toegelaat?”

En dan moet jy antwoorde kry en jy het dit nie. Ek behandel dit ook in hierdie stukkies – nie dat ek ’n antwoord het nie, maar om te bely dat ek wel nie het nie. Ek weet nou nog nie. Miskien sal dit een van die eerste vrae wees wat ek eendag vir die Here sal vra wanneer ons van aangesig tot aangesig kom.

Wat is jou agtergrond en wat was jou betrokkenheid by boere en by die Landbouweekblad oor die jare?

Ek het ’n boere-agtergrond. Ek kom van ’n plaas wat ses geslagte in die familie was. Ek is gebore en grootgemaak op daardie plaas. My eerste twee gemeentes was ook plattelandse gemeentes. So ek het van kleins af met boere te doen gehad. Ek het nie net vir hulle gepreek nie, maar ek was saam met hulle in die veld.  Ek het saam met hulle gejag en baie dinge gedoen wat ons verhouding op ’n ander vlak geplaas het omdat ek self iets van boerdery geweet het. Ek het as student ’n kursus in graangradering voltooi en vakansies het ek gaan werk en dan werk jy met boere. Op ons eie plaas kon jy as student vakansie hou, maar jy moes deel hê aan die boerdery. Jy moes soggens die koeie gaan melk en ons het nie masjiene gehad nie. Met sulke en etlike ander dinge het ek ’n nou verhouding met boere gehad.

Boere sou my, byvoorbeeld, soggens vroeg bel terwyl ek nog slaap net om te sê hulle het ’n lekker reëntjie gehad. Dan wil hy praat, want hy is bly. Ek dink ek kan oor die boere praat omdat ek met hulle gepraat het en saam met hulle geleef het en toe ek die kans kry om vir Landbouweekblad die Hart tot hart-rubriek te behartig. Toe het die destydse redakteur vir my baie uitdruklik gesê ek moet tot die boere se harte praat sodat hulle my kan verstaan. Ek moenie vir hulle ingewikkelde preke gee nie. Hulle is nie lus daarvoor nie. Hulle wil uit die hart praat. Dit was ’n wonderlike voorreg wat Landbouweekblad vir my gegee het en die stuk of agt redakteurs met wie ek gewerk het. Dit het my gemeente seker die grootste in Suid-Afrika gemaak. Ek het mense leer ken al het ek hulle nooit gesien nie, maar ons het met mekaar gesels asof ons ou vriende is, want ons het dieslfde taal gepraat, letterlik en figuurlik. 

Wat is die vreugdes van boerdery en die belangrikheid daarvan in Suid-Afrika?

Die vreugdes sal elke boer seker vir jou kan sê – dis mooi as jy ’n land gesaai het en dit staan pragtig, en as die sybokkies uit die diptenk gejaag word en hulle begin hardloop. Dit is ’n mooi gesig wanneer die veld groen is en die skape gaan uit en hulle speel wanneer die son ondergaan. Dan gaan staan ek daar om vir ’n tyd lank net die skouspel te aanskou. Dis mooi dinge van die boerdery.

Oor die belangrikheid van boerdery kan ek nie vir jou genoeg sê nie. ’n Land, veral soos ons s’n wat gebuk gaan onder armoede, gaan moeilik bestaan as mense nie iets kan eet wat hulle self produseer nie of as dit nie op ’n billike manier aan hulle verskaf word nie. Suid-Afrika het ’n besondere sterk behoefte aan ’n sterk landbou-sektor. Ons kan nie baklei oor grondhervorming en al sulke goed as ons nie eers seker maak dat daar genoeg kos vir die mense is nie.

Enige mens moet kan sien hoe belangrik boerdery is en die regering gee en doen bitter min. As jy sien hoe hulle in ander lande die boerderye subsideer, veral in moeilike tye. By ons is daar min daarvan.

Waarom vandag, in 2019, boer en ook elke oggend of elke dag ’n dagstukkie lees en daaroor nadink?

’n Mens kan nie lewe sonder voedsel nie. Daar is die voedsel wat ons almal ken en dis die kos wat jy eet. Maar daar is ook ander voedsel, daar is ook geestelike voedsel. As jy nie daardie voedsel kry nie, gaan jy swaar kry en nie weet waarnatoe nie. Elke mens soek ’n adres om by te gaan sê “help my” as jy voel jy gaan sink. Die stukkies in die boek het daarvan kennis geneem. Partykeer was dit net ’n geroep saam met die boere om te sê “Here, ons is in die nood, help ons”. Ek het ook baie wonderlike, waarderende reaksie van mense gekry, wat gesê het hulle was tot teen die grond gedruk en het nie geweet waarnatoe om te gaan nie. Toe maak hulle ’n Landbouweekblad oop en lees die stukkie wat ek geskryf het en kon weer opstaan en weet hulle het ’n God wat lewe en Hy sal hulle dra. Ek dink Landbouweekblad het op hulle eie manier ’n wonderlike bydrae gemaak om ons boere in tye van nood by te staan en aan te moedig. 

Moed, mense, hou moed:
Die kwaad sal verander in goed -
Die môrelig kom uit die duister!” 
 – C Louis Leipoldt (1980)

Wat is vir jou die diepere betekenis en sin van die lewe?

Ek dink dit word vir ons baie mooi weergegee in die samevatting van die Wet. Jy moet God liefhê bo alles en almal en jou naaste liefhê soos jouself. As ons dit doen, sal ons ’n wonderlike wêreld hê. Die liefde is so diep, dat jy jou lewe vir iemand anders sal gee. Ek kan niks beter kry as dit nie en dit was en is my strewe om te lewe volgens die eise wat die Here vir my stel en om iets vir my medemens te beteken. Om ’n verskil in iemand anders se lewe te maak omdat my Skepper ’n verskil in my lewe gemaak het. Dat mense kan sê, hy het iets beteken, hy het ’n verskil gemaak, hy het iets probeer skep, hy het probeer heelmaak wat ander gebreek het, hy het probeer versoen waar ander kwaad gestook het. Ek kon niks dieper as dit kry nie. Jou menswees moet kwaliteit wees en die standaard van daardie kwaliteit gee Hy vir ons in sy Woord. Hy sê vir ons hoe om te lewe. Dan sal jy sien hoe dit van jou werklik die mens maak wat God wil hê jy moet wees.

The post Skrywersonderhoud: Kobus van der Westhuyzen oor <em>Landbouweekblad: Hart tot hart</em> appeared first on LitNet.


For the love of the land: ’n onderhoud met Ivor Price en Kobus Louwrens

$
0
0

Ivor Price, links (foto verskaf) en Kobus Louwrens, regs (foto-erkenning: Winelands Photography)

Title: For the love of the land – being a farmer in South Africa today
Author: Ivor Price and Kobus Louwrens 
Publisher: Tafelberg 
ISBN: 9780624088998

For the love of the land: Ivor Price en Kobus Louwrens praat met Naomi Meyer oor hulle boek.

Ivor, ek het nou die dag jou fassinerende gesprek met Anita Visser op RSG oor hierdie boek gehoor. Jy het genoem dat die hele landskap van boerdery verander het. Wil jy dalk vertel van jou ontdekkings rondom plase en landbou en Suid-Afrikaanse boere?

Ek skrik nog elke keer wanneer ek by sommige boekwinkels instap en For the love of the land tussen die boerderyboeke vind. Dit is ’n boek oor boere, ja, maar bowenal is dit ’n boek wat hopelik nuwe lig werp op van die grootste politieke brandpunte van ons tyd, soos grondhervorming. Ons praat daagliks met landbouers as deel van ons opwindende Food For Mzansi-platform. En die een ding wat ek geleer het, is dat die gronddebat in Suid-Afrika eintlik oor waardigheid en gelykheid gaan – nie die Grondwet nie. Ons het besef ons ervaring van boere strook nie met sommige van ons politici se dom uitsprake oor veral wit, kommersiële boere nie. En aan die ander kant het ons besef dat die meeste mense nie eens besef dat die meeste boere in hierdie land swart is nie. Trouens, as jy vandag vir die meeste mense vra hoe die tipiese Suid-Afrikaanse boer lyk, sal hulle waarskynlik ’n prentjie van ’n wit, Afrikaanse man sien. Alles dui daarop dat die toekomstige boer in hierdie land waarskynlik ’n swart vrou gaan wees. Dis waarheen die meeste van die regerings- en ander ontwikkelingspogings tans gaan.

Toe skryf ons ’n boek wat die skone diversiteit van landbou wys; wat met die mense praat wat elke liewe dag help om voedselsekerheid in Suid-Afrika te help in stand hou. Ons wou hulle absolute toewyding tot die land dokumenteer. Hoe boere plattelandse gemeenskappe aan die lewe hou. Hoe hulle inspring waar die plaaslikeregeringstrukture mense in die steek gelaat het. Hoe hulle huise, skole, klinieke en hospitale bou en paaie regmaak. Dit is verhale wat gereeld onder die mat gevee word, omdat dit makliker is om te glo dat die enigste goeie boer ’n dooie boer is, soos my oorlede oupa altyd gesê het. Dalk is ek en Kobus naïef, maar ons glo dat landbou die mag het om sosiale samehorigheid te bewerkstellig in hierdie pragtige dog gebroke land van ons. Ons wou ’n boek skryf wat die debat van “Give back the land” se geykte retoriek na “Vir die liefde van die land” kon verskuif.

Kobus, wat is jou agtergrond?

Ek is ‘n plattelander van die Oos-Kaap. Die naaste wat ek kleintyd aan die landbou gekom het, was partytjies op plase. Maar ek dink soos die meeste Afrikaanse mense het ek altyd in ‘n mate deel van die landbou gevoel, al was dit dalk net ‘n nostalgiese illusie. Ek sê altyd ons Afrikaners kry ‘n warm gevoel as Laurika Rauch sing: “Seën my pa en seën my ma, en my oom op sy plaas in Afrika”, al het jy nog nooit aan ‘n bees gevat nie.

As ‘n voormalige omgewingsjoernalis is ek ook baie bewus van kwessies oor voedselsekerheid, so ek het die sektor altyd met belangstelling dopgehou.

Ivor, hoe het jou en Kobus se verskillende aanslagte tot die skryfproses die boek help vorm?

Dit is nie maklik om ’n boek met 30 verskillende boere van regoor Suid-Afrika te baar nie. Ons spertye was ook redelik knap, maar ek dink die feit dat ek en Kobus al 20 jaar boesemvriende is, het dinge baie vergemaklik. Ons kon ’n stelsel uitwerk wat op albei se sterk punte inspeel. Hier is ‘n voorbeeld: Van al die dinge wat ek doen, beskou ek myself eerstens as ’n skrywer, hoewel dit nie ’n etiket is waarmee Kobus maklik kan identifiseer nie. Ek wou ’n boek met literêre waarde help skep – iets wat met mense se verbeeldings kon toor. Kobus, daarenteen, was meer aangetrokke tot feite, plekke, datums, daai soort ding. Die uiteindelike kombinasie was ’n wenner.

Kobus, farming is one of the hot topics of the year, but why did you write For the love of the land?

It is a continuation of our collaboration on the agriculture news and lifestyle website Food For Mzansi, which in turn flowed from a realisation of how differently South Africans of different ethnic backgrounds feel towards farming and farmers, how diametrically opposed attitudes and perceptions on this topic are.

At the same time we noticed how negative the coverage of agriculture in the mainstream media was: all disaster and abuses. The stories of farmers going out of their way to support a collapsing platteland is nowhere to be seen, nor the ones of the everyday bravery of large- and small-scale farmers who keep working against the odds to produce our food.

The website was born to tell these unrepresented stories. Also, since agriculture is such a nexus of the fault lines along which South Africa is divided – race, gender, economic exclusion, you name it – we believe that the sector could be a powerful point to actually start building social cohesion, literally from the ground up. The book is an extension of these mandates.

Ivor, ons almal het ons eie idees oor plase. Ek het aangeneem dat ‘n boek oor landbou en plase in Afrikaans sou wees, omdat ek gedink het die meeste boere is Afrikaanssprekend. Waarom het julle die boek in Engels geskryf?

Ons wou ’n boek vir gewone Suid-Afrikaners skryf. Die mense wat bedags by radiostasies inskakel omdat hulle omgee oor wat in die politiek en die ekonomie gebeur. Die mense wat so dikwels in die slaggat val om in lelike Twitter- en Facebook-gevegte oor landbou en grond betrokke te raak. Baie van hulle is mense wat nogtans daartoe verbind is om aan ’n beter Suid-Afrika te help bou. Is dit ’n landbouboek? Ja, dalk tog. Is dit ’n politieke boek? Ek glo so. Kan die boek gemaklik lewe langs ander plaaslike niefiksie boeke? Ja. Dit is dus veral ’n boek vir mense wat nie noodwendig tans in landbou belangstel nie, maar tog ’n belang het by die vooruitgang van Suid-Afrika.

Kobus, from your perspective, why did you choose to write this book in English? And for whom did you write it - who is your ideal reader?

As Ivor would probably say, he travelled the country for the TV show Landbouweekliks, meeting 52 exceptional farmers, three of whom made it into the book, because we were struck by their personal stories of growth and their unique perspective on the past and future.

Some of the other farmers we encountered through Food For Mzansi and enjoyed the opportunity to explore their stories in more depth for the book.

Lastly we identified some farmers that we didn’t know because we felt their stories could touch on themes or issues we felt were important. The idea for me was to create a kind of mosaic of stories that are fairly representative of the diversity of farmers that we’ve discovered out there, and that would touch on some of the main issues agriculture is facing at the moment. We were also careful to include multiple perspectives on land ownership and land reform, hoping to help the reader understand the thinking and emotion behind different stances on the contentious topic.

Our website, Food For Mzansi, is notable for being the only agricultural media platform in South Africa that does not have farmers or the industry as its primary or only target audience. We strive to find stories in agriculture and tell them in such a way that they interest ordinary urbanites, and perhaps get them to look differently at the hands that grow the food and clothing they consume. To be honest, we didn’t even consider doing the book in Afrikaans first. We needed it to be accessible to the people who feel the most alienated from or shunned by agriculture.

Ivor, neem julle standpunt oor grondhervorming en onteiening sonder vergoeding in?

Nee, as ’n joernalis probeer ek om nie my eie opinies oor enigiets te ernstig op te neem nie. Ek het dus nie ’n formele posisie oor grondhervorming en onteiening nie. Wat ek eerder kan bied, is die baie persoonlike ervarings wat ek met boere gehad het. Ek het nog nie ’n enkele wit boer ontmoet wat teen grondhervorming gekant is nie. Almal vra net die regering om dit op ’n sinvolle, verantwoordelike manier te hanteer wat nie ons voedselsekerheid sal bedreig nie, en ook nie die toekoms van ons plaaswerkers in gevaar sal stel nie.

Ek glo egter dat die regering eers moet kyk na verlate grond, plase met hopelose skuldvlakke, grond wat uitsluitlik vir spekulatiewe doeleindes gehou word, grond wat deur staatsondernemings gehou word en nie benut word nie, grond verkry deur kriminele aktiwiteite, grond wat reeds bewoon is en deur huurarbeiders gebruik word, geboue in die middestad met afwesige eienaars, grondskenkings en planne vir ekwiteit. As ’n buitestander tot landbou maak dit vir my meer sin dat die regering eerder bestaande eiendomsreg beskerm terwyl hulle hard werk om vir mense huise, elektrisiteit en werk te gee.

Kobus, complete the sentence: Being a farmer in South Africa means ... 

… so much more than most of us think. It means you have a special connection with the land and feel privileged to be able to do hard, risky, often unrewarding work with (on the commercial side) no protection from government, or (on the up-and-coming side) receiving badly managed support that often sets you up for failure. Despite this, I’ve met some of the brightest and best South African in this industry.

Ivor, watter stories staan vir jou uit?

Ek hoop dat Siviwe Tikana, ’n jong melkboer van Oos-Londen, my sal vergewe, maar sy politieke sieninge sal waarskynlik die meeste mense afskrik. En hulle sal in die proses heelwat verkeerde aannames oor hom maak ... Hy is egter ’n dinamiese man wat saam met sy ma boer op grond wat hulle van die regering ontvang het. Maar sy lewensverhaal is waarlik Suid-Afrikaans. Hy was op Hoërskool Grens, het sy hart vir Afrikaans gegee, sy pa was ’n motorwerktuigkundige en sy oupa het die land bewerk. En die een ding wat my van Siviwe se storie ontroer het, was hoe die Tikanas steeds sukkel om die persepsie dat hulle tenderpreneurs is, af te skud. Dat hulle nie ware boere is nie, maar slegs regeringsgeld melk, terwyl die teendeel eintlik waar is. Hulle moet baie hard werk om die ligte aan te hou, maar hulle kan staatmaak op die ondersteuning van hul wit bure wat hulle bystaan wanneer niemand anders wil nie.

Die verhaal van Ritha-Theresa du Plessis van der Mescht is ook baie aangrypend. Hoewel sy op ’n plaas gebore is, wou sy altyd ’n haarkapster word. Maar die lewe is nie ’n sprokie nie en sy is ook nie ’n prinses nie, so nadat haar pa skielik siek geword het, moes sy op die plaas voorvat. En soos die meeste Suid-Afrikaners het sy eenvoudig gedoen wat sy moes doen. Sy was nogal senuweeagtig oor hoe die werkers daarop sou reageer dat sy skielik as ’n vrou die septer swaai, maar hulle het haar gehelp om een van Mpumalanga se voorste boere te word.

En dan het Wadea Jappie en Pieter Oosthuizen, boere van onderskeidelik die Kaapse Vlakte en Queenstown, my heeltemal uitgeboul. Hulle kan nie méér verskillend van mekaar wees nie, maar hulle liefde vir hierdie land is ongelooflik. Wadea breek as ’n redelik konserwatiewe Moslemvrou allerhande stereotipes oor die “gesig van boere” af, en Pieter se besonderse verhouding met sy werkers en die plaaslike Xhosa-gemeenskap is een vir die boeke.

Die Prinsloos is self al twee keer onder die vorige bedeling van hul grond onteien. Dit het hulle nie bitter gemaak nie, maar eerder ’n seldsame deernis en verstaan gegee van die belangrikheid van verantwoordelike grondhervorming en die bemagtiging van mense. 

En vir jou, Kobus?

One of my favourites as a piece of writing is Malixole Gwatyu’s “The day I cried for Bertie”. He tells the story of his childhood as a farm worker’s son and his friendship with the farm owner’s son. He writes very understatedly and subtly, but somehow manages to evoke so much of the socio-political universe that doomed the two little boys’ friendship from the start.

Kobus, kom ons praat oor die droogte, grondhervorming en oor misdaad op plase. Wat dink jy oor hierdie kwessies?

Droogte: Dis ‘n skande dat die regering nog nie ingegryp het nie. Dit getuig van ‘n gebrek aan insig in die blootgestelde posisie van landbouers en onbegrip van die lewensbelangrike diens wat hulle lewer. Dieselfde met landelike misdaad en geweld. Net soos met dienslewering en instandhouding van lewensnoodsaaklike infrastruktuur soos paaie, is landelike gemeenskappe dikwels heeltemal oorgelewer. Dis maklik om die gevoel te kry dat die staat glad nie vir hulle omgee nie.

Grondhervorming: Die regering is uitgevang nadat hulle dekades lank god’s water oor god’s akker laat loop het wat betref (broodnodige) grondhervorming. In hulle verswakte toestand het hulle hul in ‘n hoek laat verf deur populiste en nou is dit skaakmat – die Grondwet moet verander. Die ironie is dat in die landbou die grootste behoefte nie bykomende grond is nie. Kleinboere kort eers betroubare, weldeurdagte en goedgekoördineerde steun om hul ondernemings te laat groei tot hulle kommersiële skaal bereik en die aansig van Suid-Afrikaanse kommersiële landbou kan help verander.

Kobus, your book has a positive focus. How can one stay positive in the midst of loadshedding, of economic problems, of animals dying in the heat? What did you hear from the farmers?

It is definitely not easy to stay positive against such overwhelming odds, even for people who have often seemed to have optimism in their DNA. Farming is such a fundamentally optimistic thing to do: Farmers throw a dice every season in hope and faith that climate, politics and the international economy will combine to allow them success, and they do this with the patience to keep building for generations. Like Oom Nick Serfontein says in the book: They plant trees they know they will never enjoy the shade of. To hear of farmers driven to despair and to give up, or worse, is truly, truly tragic.

Kobus, we started this conversation about farming perceptions and prejudices. How did this change or how were you influenced by what you discovered during your research? Looking back: Did the writing of this book change you, as people?

Writing and compiling this book, as well as working on Food For Mzansi for almost two years now, has been one of the most personally rewarding experiences of my life and career. I’ve met so many people of goodwill from such a diversity of backgrounds and places in South Africa. Ivor and I have been good friends for 20 years, and we both are old-school, 1990s vintage, Rainbow Nation-believing idealists! Meeting so many farmers has strengthened my belief that we can all understand one another if we listen and talk and if we intentionally ignore the differences and emphasise the commonalities.

Ek onthou naby aan die begin van die proses wat later Food For Mzansi en die boek sou teweegbring, het ons die megalandbouskou Nampo besoek om ons idealistiese nasiebou-idee met boere en agri-ondernemings te toets. Wat my toe opgeval het, was die dag-en-nag-verskil ten opsigte van die laegraadse rasse-oorlog en katastrofering wat op Twitter gewoed het, terwyl Suid-Afrikaners van verskillende kleure en stande in die werklike lewe mekaar met soveel oopheid, medemenslikheid en humor in die oë kyk. Die reaksie op die boek en die gesprekke wat ons al daaroor gehad het met lesers en boere, laat my voel asof dit ons gehelp het om Suid-Afrikaners mekaar te help raaksien.

Ivor, anything you wish to add?

We still can’t believe the immense success of Food For Mzansi, our little agriculture news and lifestyle platform. In one year we’ve smashed digital records and won two international prizes. It is now Africa’s Best Digital News Start-up and also the runners-up in the category for Best Social Media Strategy on the continent. We will continue saluting the unsung heroes of agriculture through great heart-centred journalism. We believe that many South Africans are quite gatvol of some of the political rhetoric surrounding farmers and the agricultural sector who often get entangled in the bigger debates about land reform. So, we’ll continue challenging stereotypes and authorities with facts and figures and stories of actual people doing their bit to make Mzansi one of the most food-secured nations on the continent.

The post <em>For the love of the land</em>: ’n onderhoud met Ivor Price en Kobus Louwrens appeared first on LitNet.

Raaiselster: ’n onderhoud met Troula Goosen

$
0
0

Foto van Troula Goosen: verskaf

Raaiselster
Troula Goosen
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798178976

Naomi Meyer vrae vir Troula Goosen oor Troula se boek Raaiselster, ’n jeugroman wat in 2019 verskyn het.

Troula, baie geluk met Raaiselster – ’n historiese-gruwel-riller-jeugroman, soos wat die agterblad van die boek dit beskryf. Of hoe sou jy die boek se genre in jou eie woorde verduidelik?  

Met Raaiselster daag ek die jong leser (10–12) uit om op ’n tydsreis te gaan! Wanneer hulle die boek oopmaak, is hulle skielik in die Kaap van 120 jaar gelede – ’n vreemde wêreld, half-bekend en tog ook opwindend anders. Die leser beleef naelbytavonture, ontmoet fantastiese karakters en raak ’n bietjie verlief ook. Die belangrikste is egter ’n tergende geheim, ’n raaisel wat hulle móét oplos om te oorleef ...

Alhoewel jou beskrywing in die kol is, sal ek Raaiselster sommer as ’n raaiselstorie beskryf. Om die waarheid te sê, dit is die tweede boek in ’n reeks waarvan Raaiselklip (2018) die eerste was. Raaiselsee, die derde boek, verskyn in 2020. Al drie stories speel in die negentiende eeu in die Kaap en omgewing af.

As kind was ek mal oor oudtydse stories en aangesien daar tans nie veel historiese jeugromans in Afrikaans beskikbaar is nie, het ek besluit om my hand daaraan te waag.

Die tydperk en omgewing waarteen jy jou boek laat afspeel, is interessant. Dis die tyd van die Diamantstormloop, mense begin in die res van die land praat van elektrisiteit (dis amper so ‘n groot gesprek soos wat elektrisiteit op die oomblik in die land is). Daar is ’n seun wat sy ouers verloor het, en ook ’n oerding wat hom bang maak. Wat was vir jou die inspirasie vir die storie? 

Gewoonlik besluit ek heel eerste wáár ’n storie gaan afspeel. Daarna skep ek die karakters en besluit dan wat met hulle gaan gebeur. Met Raaiselster was my inspirasie die tolhuis in Michellspas. Die huisie lê my na aan die hart omdat my pa, JP Venter, in 1971 die hoof van Laerskool Gericke, hom daartoe beywer het om dit tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar te kry. Vandag is dit die enigste van Ceres se ou geboue wat bewaar gebly het.

Die tolhuis is opgerig kort nadat Michellspas in 1848 deur Andrew Geddes Bain en 240 gevangenis voltooi is. Na die ontdekking van diamante was dit op die hoofroete van die Kaap, deur Ceres en tot in Kimberley. Vinnige poskoetse met hul vars perde en swaargelaaide togwaens het dus hier deur die tol gegaan op pad verby Ceres en deur die gevaarlike Tankwa-Karoo wat met wit doodsbeendere besaai lê.

Watter heerlike, avontuurlike tyd vir ’n storie om af te speel! Ek het besluit die jaar 1880 is nommerpas en was verras om te lees dat daar juis in daardie jaar ’n groot diamantroof by die poskantoor in die Kaap plaasgevind het. Al dié lekker brokkies geskiedenis het ’n plek in die storie gekry.

Die hoofkarakter is die veertienjarige Leopold, skatryk, aantreklik en gewild. Toe sterf sy ma aan tering en kom hy agter dat daar niks oor is van die geld waarop hulle so rojaal geleef het nie. Oom Barend, ’n boggelrugtogryer met sy hond, Asem, bied aan dat hy saam met hom na die Diamantvelde reis om sy fortuin te maak. Leopold aanvaar die aanbod en pak die gevaarlike tog aan. Sy enigste geselskap op pad is die bitsige touleiertjie, Sarel. Maar is Sarel regtig wie hy voorgee om te wees?

In Michellspas gaan hulle deur die tol en maak hy kennis met die geheimsinnige tollenaar, oom Arius. Op Ceres gekom, laat die beeldskone Emily sy hart vinniger klop, al kan hy nie help om te wonder of sy nie dalk ’n spook is nie.

Maar dan begin alles verkeerd loop ...

Ek het ’n hele paar van Raaiselster se karakters “ontmoet” toe ek by die Tolhus Bistro aan roosterkoek gesmul het. Cathy, een van die baksters, het my vertel van die vreemde verskynsels wat daar rondhang. Van die man in die swart jas wat soms inkom en voor die vuurherd gaan staan. Van die blonde vrou/meisie met haar wit hondjie wat uit die bloute verskyn en verdwyn. En van die skrikwekkende gesig wat ’n personeellid eendag op ’n klip agter die huis gesien het, iets tussen ’n mens en ’n bobbejaan.

Wat is vir jou lekker daaraan om boeke vir jong lesers te skryf – en wat is uitdagend?

Alhoewel baie mense kinder-en jeugboeke as minderwaardig teenoor volwasse lektuur beskou, sien ek dit as is ongelooflik belangrik. Ek sal die boeke wat ek as kind gelees het, net nooit vergeet nie. Dit speel só ’n belangrike rol in die vorming van jong lewens en kweek die lesers van die toekoms. Maar dis veral kinders se wonderlike verbeelding wat my fassineer. In ’n jeugboek is alles moontlik!

Wat vir my uitdagend is, is die feit dat die wêreld waarin die kinders van vandag leef hemelsbreed verskil van die een waarin ek grootgeword het.

Jou boek handel oor die Diamantstormloop, maar daar is ook ’n stuk geskiedenis waaroor jy skryf waarvan meer mense behoort te lees. Ek praat van die sterrereën en van ontdekkings in die Bokkeveld. Hoe het jy jou navorsing hieromtrent gedoen? En wil jy hierop uitbrei, sonder om te veel van die storie te verklap?

Die meeste van my storieidees het ek tydens ’n besoek aan die Togryersmuseum op Ceres gekry. Daar het ek gesien hoe oom Barend se bokwa en juffrou Estrelita se lykswa lyk. Daar het ek gelees van die sterrereën en van die rooi hand van Sara se voormense wat so ’n belangrike rol in die ontrafeling van die geheim speel. Verder het my man ’n heerlike versameling ou boeke en is hy altyd behulpsaam om relevante inligting te soek.

Vir skole wat Raaiselster wil gebruik, is daar talle fassinerende feite wat nagevors kan word. (In 2020 gaan daar ook ’n gratis onderwysgids beskikbaar gestel word.) Sommige feite is in die kol – soos byvoorbeeld die diamantroof wat ek beskryf nes dit gebeur het, ander bewimpel ek effens om die storie te pas. Ek impliseer byvoorbeeld dat die meteoriet in die nag geval het deur van ’n sterrereën te praat, maar volgens wat ek kon navors, het dit in die dag gebeur.

Raaiselster is ’n boek wat vir my hadel oor hoe die mense van hierdie land dalk tog ’n geskiedenis en ’n verlede deel. Hoe het die skeppingsproses daarvan vir jou gewerk? Baie geluk daarmee, en met die manier hoe al die drade geknoop het.

Deur my Raaiselstories wil ek die kinders van ons land inspireer om Suid-Afrika lief te hê, om te voel hulle behóórt – aan ons land én aan mekaar. Ons deel ’n geskiedenis en ’n toekoms. In ons geskiedenis was baie trane, maar saam kan ons ’n nuwe, positiewe toekoms bou.

Ek doen wel vooraf beplanning. Ek weet byvoorbeeld waar die storie gaan afspeel, wie die karakters gaan wees en breedweg hoe die storie gaan verloop - die navorsing wat ek doen, speel ook ’n rol hierin – maar hierdie beplanning beslaan gewoonlik nie meer as ’n bladsy nie. Wanneer ek begin skryf, is daar ook organiese ontwikkeling.

Dit het my so ses maande geneem om Raaiselster te skryf.

The post <em>Raaiselster</em>: ’n onderhoud met Troula Goosen appeared first on LitNet.

"Halala Suid-Afrika": ’n onderhoud met Michael le Cordeur

$
0
0

Menán van Heerden gesels met Michael le Cordeur oor sy nuutste boek, Halala Suid-Afrika (Naledi, 2019). 

Michael le Cordeur (Foto: Izak de Vries)

 Michael, Halala Suid-Afrika is ’n versameling van 60 van jou artikels wat die afgelope 25 jaar in die media gepubliseer is. Is daar een of meer artikels wat jou bybly?

Beslis die twee oor werkloosheid. Dit is ongetwyfeld ons land se grootste probleem, en ek het dit al voorheen gesê. “Meneer ek soek werk” is die noodkreet van ’n man van Kayamandi wat graag vir sy gesin wil sorg, maar nie in staat is nie, omdat hy werkloos is. Ek het hom dopgehou en die hoop gesien elke keer as hy hoop iemand laai hom op en bied hom werk aan vir ’n dag. En dan sien hoe sy gesig verander in wanhoop.

Daarteenoor vertel “Krismisboks vir Platkep” die verhaal van ’n man wat sy vaardighede as sweiser gebruik om self werk te skep en so vir sy gesin te sorg. Hy was ook werkloos, maar soos hy self sê, hy wil nie handouts hê nie, hy wil werk. Dit is die oplossing vir Suid-Afrika se werkloosheidsprobleem. ’n Klein bietjie opleiding tesame met ’n bietjie inisiatief is die verskil tussen ’n bedelaar en ’n broodwinner.

Jy sê in jou boek: “Taal is die kern van SA se onderwyskrisis.” Wat het na jou mening die afgelope 25 jaar verbeter/versleg mbt die onderwys?

As dinge so sleg is soos wat dit was in 1994, kan dit beswaarlik slegter gaan. Die groot teleurstelling is die onvermoë van die ANC-regering om die geleenthede wat daar was, en steeds is, om te sit in positiewe uitsette in die onderwys. Die oormatige klem op die matriekuitslae is ’n rookskerm om die werklike probleme in onderwys te systap. Ek dink ook die huidige minister van nasionale onderwys is te lank in haar pos. Sy het niks meer om te bied nie.

Jy skryf baie oor sosiale geregtigheid. Hoe kan geleenthede vir die volgende generasie geskep word?

Deur die basiese dinge reg te doen en voortdurend reg te doen. Allereers moet die onderwysstelsel tot sy reg kom, omdat dit die sleutel is tot ’n suksesvolle land, soos ek hier bo aangedui het. Onderwysers moet elke dag op hul pos wees en klasgee. Dit sal ’n goeie begin wees. Dan is daar baie aksies wat die burgerlike samelewing kan doen en reeds doen.

………..

“Ek skryf lankal nie meer net oor Afrikaans nie. Daardie debat lei na nêrens. Intussen is daar so baie ander aspekte wat oopgeskryf moet word, en baie mense verval in ’n groef sonder om die groter prentjie te sien.”

………..

Die regering behoort hierdie aksies te ondersteun, omdat dit eintlik werk is wat hulle as regering behoort te doen, maar versuim om te doen. Onlangs het ek twee artikels in Die Burger geskryf oor twee goeie voorbeelde: Die een was oor ’n gewone vrou wat honderde haweloses voed sonder enige staatshulp. Die tweede is die rol wat die klopse kan speel in jeugontwikkeling. Daar’s baie ander voorbeelde.

Een van jou artikels stel die vraag: “Afrikaans in bruin hande: Regtig?” Wil jy uitbrei?

Afrikaans was nog altyd die taal van die meeste bruin mense. Maar dit is geïgnoreer, nie net deur die regering nie, maar ook en veral ook deur Afrikaanse instellings soos die media en Afrikaanse organisasies. Dikwels word die menings van sogenaamde kenners gevra, ook oor onderwys, en word bruin kenners nie geraadpleeg nie.

Bruin mense is byvoorbeeld nie geken in die vasstelling van Standaardafrikaans nie, en Kaaps word steeds misken. Ons kan dus nie verkwalik word as ons dink bruin mense word net geken as die wit man en sy taal in die moeilikheid is en dan moet ons kom help nie. As dit goed gaan, word ons geïgnoreer.

Jou boek belig onder andere Kaaps, Krotoa, die Kaapse Klopse, die Bo-Kaap, die Rieldans en huldeblyke aan byvoorbeeld Adam Small. Watter aspekte van Afrikaanse erfenis voel jy moet meer aandag geniet in geskiedenisboeke / die media / die onderwys?

Al die bogenoemde aspekte. Ek skryf lankal nie meer net oor Afrikaans nie.

………..

“Ons kan dus nie verkwalik word as ons dink bruin mense word net geken as die wit man en sy taal in die moeilikheid is en dan moet ons kom help nie. As dit goed gaan, word ons geïgnoreer.”

………..

Daardie debat lei na nêrens. Intussen is daar so baie ander aspekte wat oopgeskryf moet word, en baie mense verval in ’n groef sonder om die groter prentjie te sien. 

“Halala Suid-Afrika. Ewig is ons Suid-Afrika.” Hoe lyk die pad vorentoe vir Afrikaans en Suid-Afrika?

Presies soos wat ek met Halala bedoel. Afrikaans is vir ewig. Net omdat dit op die US afgeskaal word, beteken dit nie die taal gaan môre uitsterf nie. Afrikaans is diep gewortel in die psige van mense se politiek, godsdiens, kultuur, sport en die breë samelewing. Ons sing, skryf, dig, rap en dans soos die klopse in Afrikaans.

Diegene wat huil oor die dood van Afrikaans, huil dus by die verkeerde begrafnis. Afrikaans gaan nêrens heen nie en ek ook nie. Daarom het ek my twee kinders Afrikaans grootgemaak en in Afrikaanse skole gesit. Dis meer as wat sommige wat my kritiseer, kan sê.

The post "Halala Suid-Afrika": ’n onderhoud met Michael le Cordeur appeared first on LitNet.

Skrywersonderhoud: Bun Booyens oor 50 jaar met Fred

$
0
0

Naomi Meyer gesels met Bun Booyens oor 50 jaar met Fred, Fred Mouton se beste spotprente.

Titel: 50 jaar met Fred, Fred Mouton se beste spotprente
Samesteller: Bun Booyens
Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 9781868429721

Hallo Bun, ons is aan die begin van ’n nuwe dekade en ek dink dis gepas om ook terug te kyk ─ ek kyk na die boek wat jy saamgestel het: 50 jaar met Fred, Fred Mouton se beste spotprente. Wat was vir jou die hoofdoel van hierdie boek?

Dit het eintlik nie as ’n boek begin nie. Ek wou aanvanklik net so veel as moontlik van Fred se oorspronklike prente skandeer sodat dit digitaal behoue kan bly, want baie van Die Burger se vorige twee spotprentkunstenaars se oorspronklike sketse het oor die dekades verlore geraak. DC Boonzaier, die koerant se eerste kunstenaar, het byvoorbeeld baie van sy sketse verkoop. Ek het toe ’n stuk of vierduisend van Fred se sketse laat skandeer en geïndekseer. Dit het ’n goeie ses maande geneem en toe dit klaar was, het ek gedog ek kan nou maar net sowel deurdruk en ’n boek saamstel.

As ’n mens probeer om ’n strookprent-geskiedenis van die land oor die afgelope vyf dekades saam te stel, waar begin ’n mens se navorsing? Hoe weet mens wat om te vat en wat om te los, wat om in te sluit en wat om uit te laat? Die geskiedenis is immers ’n onderwerp wat voortdurend herbekyk en as 't ware oorgeskryf word. Wat is die belangrikste gebeure? Of handel dit oor wat word die beste of op die mees gevatte wyse uitgebeeld?

Ek het begin met Fred se eerste sketse vir Die Burger, sodat ek kon sien hoe sy styl oor die jare verander het. Maar op die ou end was dit moeilik om die prente vir die boek te kies. Ek is tans besig om ’n seleksie vir ’n Fred-uitstalling by die Woordfees saam te stel en kyk weer deur alles en daar is waarskynlik genoeg goeie prente vir nog twee of drie boeke. Ek het maar net probeer om die vloei van die nuusgebeure min of meer te behou. Dit is wel makliker om ’n spotprentboek saam te stel as ’n konvensionele geskiedenisboek, want spotprente is in hul wese nie objektief of gebalanseerd nie. ’n Goeie spotprent is altyd effens moedswillig en impulsief. Net ’n enkele ding word elke dag geteken. Dis amper soos ’n koorspennetjie waarmee jy meet wat op daardie spesifieke dag voor op mense se gemoed is. Saam gesien vorm dit dan ’n eiesoortige storielyn.

Vanuit jou eie perspektief en omvangryke betrokkenheid by die koerantwese: wat het vir jou verander aan spotprente oor die jare en wat het dieselfde gebly, as mens so ’n vraag kan beantwoord?

Interessante vraag. Fred het onder sewe van die tien redakteurs in Die Burger se geskiedenis gewerk en jy kan beslis elk van hulle se hand in sy sketse sien. Jy kan ook die skadu van Die Burger se twee vorige spotprenttekenaars sien. Elders in die wêreld is bobbejane of ape byvoorbeeld ’n simbool van onnoselheid. By Die Burger het die bobbejaan van meet af in 1915 ’n verhewe status gekry. In Boonzaier se sketse was die bobbejaan die simbool van Suid-Afrika self – ’n werfbobbejan, vasgeketting en verneder deur Brittanje. Plattelanders kon hulself weer herken in TO Honiball se bobbejaanfamilie, Adoons-hulle. Wat het oor die jare verander? Die politieke situasie onder pres Zuma het geverg dat Suid-Afrikaanse spotprente meer onbeskof raak. Aan die einde van sy bewind was daar geen simpatie of genade oor nie.

Was daar spotprente van Fred Mouton wat vir jou uitgestaan het of wat jy dadelik onthou het terwyl jy met hierdie projek besig was?

Ek onthou ’n hele klomp uit my kinderdae. Dit wys jou net hoe sterk visuele indruk ’n spotprent kan laat. Die beste prente bly dié wat so ondubbelsinnig is dat geen woorde nodig is nie. Dit gesê, Fred is ook fyn met woordspeling.

Wat is die belang van spotprente in die joernalistiek, dink jy? Dink jy dat ek oorvereenvoudig om te meen dit was ’n vroeë voorloper tot multimedia-aanbiedings: video's, en ander aanlyn-inhoud?

’n Spotprent is ’n hoogs doeltreffende politieke wapen, soms ’n knuppel, soms ’n skalpel. Reeds in 1916 is daar in Die Burger geskryf van “die haas onweerstaanbare mag van ’n spotprent”. Politici is gewoond aan konflik, trouens vir hulle is dit dikwels ’n middel tot ’n doel, maar hulle is diep ongemaklik daarmee om die skyf van spot te wees. Hulle is liggeraak en kwesbaar daarvoor. Kyk maar na hoeveel miljoene rande se lastereise Jacob Zuma teen Zapiro ingestel het. Hy kon dit nie verdra dat iemand die spot met hom dryf nie. Ek dink Suid-Afrika se spotprenttekenaars het ’n baie groot bydrae gelewer om van Zuma ontslae te raak. Dit is ook moeiliker om ’n spotprentkunstenaar aan laster skuldig te bevind as ’n skrywende joernalis, dus skep visuele satire ’n bietjie meer beweegruimte. Die tweede deel van jou vraag: Ek dink nie spotprente was ’n voorloper van die digitale milieu nie. Dit het wel twee, drie eeue hand aan hand met die geskrewe joernalistiek geloop. Fotografie is waarskynlik eerder die voorouer van die hedendaagse digitale media.

The post Skrywersonderhoud: Bun Booyens oor <em>50 jaar met Fred</em> appeared first on LitNet.

Skrywersonderhoud: Carina Stander oor Die Wonderwese

$
0
0

Remona Voges praat met Carina Stander oor haar boek Die Wonderwese.

Titel: Die Wonderwese
Skrywer: Carina Stander
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485310136

Ek het onlangs foto’s van die bekendstellings van Die Wonderwese gesien en ek moet sê, dit het skouspelagtig gelyk! Ek was sommer jaloers dat ek dit nie self kon bywoon nie. Kan jy ’n bietjie oor die geleenthede vertel? En hoe die tema van die aand by jou boek aansluit?

“Ek glo omtrent soveel in wonderwerke as wat ek in vuurwerke glo: Mens hoef nie te verstaan hoe plofstof werk om die lig en krag daarvan te herken nie.” So word daar gepraat in Die Bergengel. Natuurlik het dit vir my soos ’n vuurwerk-wonderwerk gevoel toe die bestuurderes van die eeu oue Kleinkaap-boektiekhotel in Pretoria my uit die bloute nader gewink het vir ’n Wonderwese-boekpartytjie. Want sien, wat sy nie geweet het nie, wat niemand behalwe my man geweet het nie, is dat Kleinkaap die enigste venue in die wye Gauteng is wat ek ses maande tevore gegoogle het met die oog op ’n boekbekendstelling! Ek het die webwerf nog vir Gerrit gewys met ’n: “Kyk dié plek! ’n Geskiedkundige ou huis, bome vol liggies. Dit lyk soos ’n toneel uit my boek." Ek het Kleinkaap egter nie gekontak nie, omdat ek eers doodseker wou maak van my publikasiedatum. Toe hulle my vanjaar uit hulle eie nooi, het ek eers versigtig-verbaas probeer uitvis of hulle perdalks kon sien dat ek die webwerf ses maande tevore besoek het. Nie ’n manier nie, het die vasvattter-bestuurderes gelag. Ek het nie ’n televisie nie, maar Kleinkaap is glo waar die program Hotel verfilm word en daar is gereeld musiekoptredes. Sy het die verskillende dele van die venue met my bespreek, maar voordat ek kon vertel van die boomreuse met liggies op hulle webwerf waarvan ek so baie hou, vonkpos sy vir my ’n foto: “Ek het nog nie jou boeke gelees nie, maar ek dink dit sal by die bome pas.” Sy het uitgevra oor die boekkarakters en toe sy hoor die groot skurk is ’n steltstapper en vuurblaser, het sy summier ’n steltstapper en ’n vuurblaser vir die bekendstellingsaand gereël.

Vuurwerke by die bekendstelling van Die Wonderwese (Foto: verskaf)

Die eienares van Kleinkaap het glo voor die tyd Die Wonderwese vir haar personeel gegee om te lees, sodat hulle die atmosfeer van die storie kon vasvang vir die aand – van die bebaarde handyman wat die koperpotte en feetjieligte gehang het tot die event manager (haar werkbeskrywing is “miracle worker”). Die sjef het wragtiewaar gewone bestanddele gebruik om die vreemde disse uit my boek vir die gaste op te tower: gekookte skilpadeiers, pou toegedraai in spek, takboktong-geweek-in-wyn. Dit alles is met aanhalings uit die boek voorgesit, sodat die gaste kon weet waar in die storie hulle hulle bevind. Kleinkaap het uitgevind na watter musiek ek geluister het terwyl ek aan Die Bergengel en Die Wonderwese geskryf het en dit oor die luidsprekers gespeel. Die kelners en kelnerinne se gesigte is geverf om by die Steampunk-era te pas. Van die honderdtal gaste (wat te midde van November se swetterjoel funksies en eksamens hulle weg kon oopsien om saam te fees) het aangetrek soos karakter uit my boeke en daar was vlerke, skermbrille, hoede, korsette, beblomde rokke, tjalies, mantels, staalarms en veremaskers. Een boekklub van Pretoria het dit sommer hulle afskeidsfunksie van die jaar gemaak en ’n ander boekklub het 300 km van die Bosveld af gery om te kom saamspeel. Iemand het vir my ’n botteltjie walvistraan present gegee, iemand anders ’n ring wat soos ’n blaar lyk. Die onderhoud met vriend en filmman Matthys Boshoff was meer soos ’n rustige rusbankkuier. Dit was lag-lag een van die spesiaalste aande van my lewe saam met die feestelike lesers.

Een van die vermaaklikheidskunstenaars en Carina deel ’n ligte oomblik (Foto: verskaf)

In Desember het ek nog drie boekbekendstellings gehou: by ’n boekklub in die Bosveld, in ’n wonderlike kunsgalery op die Tuinroete en in ’n ou kerkie in die Kaap. Wat ’n voorreg om in Gordonsbaai se historiese kerkie op te tree saam met die begaafde Joshua na die Reën. Al het ons mekaar nog net een keer tevore vinnig ontmoet, jare tevore, was dit ’n ou droom om saam ’n projek aan te pak, aangesien ons werk op soveel vlakke oorvleuel. Sy broer het my inksketse van tonele uit Die Bergengel en Die Wonderwese enorm groot geprojekteer teen die muur van die kerkie terwyl ek twaalf gedeeltes uit my boeke voorlees en hy twaalf liede sing. Van die mense het ook aangetrek soos karakters uit die boeke. Die vrou wat die konsert georganiseer het, het my verras met ’n takkroon vol vogeltjies wat sy vir die aand gemaak het en vere vir my skouers. Vir Jacques het sy ’n mantel met geborduurde swaeltjies gemaak soos wat die digter Anav Elanov in Die Wonderwese dra. Toe die kragonderbreking ons tref (en voordat die kragopwekker aangeskakel is) het Jacques in die donker voor die klavier ingeskuif en gesing dat sy stem deur die donker kerkie weergalm. Dit was een van daardie oomblikke wanneer die alledaagse toweragtig voel. ’n Aand musiek en woord, berg en see, siel en gees, volmaan en wind. Magic!

Carina Stander en Joshua na die Reën (Foto: verskaf)

Die Wonderwese is al deur resensente beskryf as van die beste fantasieliteratuur in Afrikaans. Dit is ’n groot pluimpie! Baie geluk daarmee. Was jy nog altyd geïnteresseerd in hierdie genre? En uit watter skrywers se werk put jy die meeste inspirasie?

Baie dankie – ek het groot waardering vir die pluimpie. Toe lesers Die Bergengel vir die eerste keer fantasie genoem het, het ek my egter disnis geskrik: Ek het nooit kon raai dat my werklikheidsbelewenis vir ander mense soos fantasie klink nie! 🙂 Ek moet bieg dat ek geen kenner van die fantastiegenre is nie. My leeservaring wat fantasie betref, is beperk tot Narnia, The inheritance cycle en The Lord of the Rings – en dit alles het ek gelees eers nadat ek reeds ’n paar jaar besig was met die skryf van die trilogie. Dat daar in resensies ’n verband getrek word tussen my trilogie en dié van Tolkien, is ’n enorme kompliment wat ek hoop om eendag werd te wees. Tolkien skryf met ’n liriese stembuiging; hy ontgin sekere oerbeginsels. Maar anders as met sy suiwer fantasie, is daar geen elwe, trolle of drake in Die Bergengel nie, en eers in Die Wonderwese maak ’n ewigheidswese haar verskyning. ’n Fantasie-avontuur soos Life of Pi van Yann Martel waarin die jong held ’n epiese reis onderneem, The alchemist van Paulo Coelho wat neig na magiese realisme of ’n reismistiek en verhalende gedig soos Dante se Heilige Komedie het die begeerte in my wakker geroep om ’n hoofkarakter op ’n lang reis te stuur. My grootste inspirasie vir die trilogie kom egter nie uit die letterkunde nie, maar uit my dagboekinskrywings tydens reise op die bergreekse van twee dosyn lande. Op ’n tegniese vlak streef ek na die digterlike prosa van Anne Micheals (Fugitive pieces) of Sigrid Undset se verstommende Kristin Lavransdatter, wat ook in drie dele vertel is en van ’n geskiedkundige tydsgleuf gebruik maak. Fantasie, allegorie, spekulatiewe fiksie, magiese realisme, faerie bildungsroman, liriese prosa? Ek is gewillig om dit alles met ope arms te aanvaar indien dit lesers help om ’n vashouplek in my vreemde werklikheid te vind.

Jy is ook ’n digter. As jy móét kies: Verkies jy om poësie of prosa te skryf? En hoekom? En beïnvloed die feit dat jy gedigte skryf ook jou prosaskryfstyl?

Van my heel vroegste indrukke as kind was ingekleur deur metafore. Die digterlike sintuig bepaal alles wat ek skep; alles vloei daaruit. Dat Die Bergengel-trilogie ’n allegorie is, is waar. Dat ’n allegorie ’n uitgebreide metafoor is, is ook waar. So gesien, is die trilogie een baie lang verhalende gedig.

Kan jy ons ’n bietjie oor die Wonderwese vertel? Wie of wat is dit presies?

Sal jy my vergewe as ek die boek se voorwoord aanhaal?

“Vanaf die vroegste tye verlang die mens na ’n tydlose staat waar verlede, hede en toekoms versmelt. In die soeke na dié bo-tyd-ruimtelikheid is daar dikwels ’n bewuswording van die ewigheid, en ewigheidswesens soos engele, meerminne, drake en duiwels maak hul verskyning in petrogliewe en volksverhale regoor die wêreld. Sekerlik een van die mees ontwykende ewigheidswesens is die Wonderwese van die Gabriëlliese mitologie. Volgens mondelinge oorlewering en opskrywings in Die Boek van Bergengele is die Wonderwese slegs sigbaar vir dié met ’n sogenaamde gawe van ‘helder sienkrag’, daarom staan dié wese in algemene spreektaal ook bekend as die deursigtige Teenwoordigheid of die Fladdering. In Bagterstam se Leksikon word ‘Wonderwese’ as volg toegelig: oervlerceia [urflærsia] snw (1) in Gabriëlliese opskrywings die geskenk van die Helder Een aan die eerste Bergengel, die Heilige Jared (2) ’n vrylewende voëltjie wat deur die eeue oorgedra is van Bergengel na Bergengel, maar slegs twee of drie keer in ’n Bergengelbewind van twintig jaar verskyn (3) die mistieke verteenwoordiger van die Helder Een wie se nabyheid tot oerheimlike vermoëns en verstommende wonders lei.

“Gedurende die ampstermyn van elke Bergengel wat ooit die land Gabriëllië gedien het, was daar lewensgevaarlike situasies waarin geen lewenslesse van die Geseëndes en geen natuurlike gawes of talente ’n Bergengel van die dood kon red nie. In sulke tye het die Wonderwese verskyn, waterskeidingsoomblikke wat later in die geskiedenis bekend sou staan as mîkal’lî, oftewel suiwer mirakels.”

Die boek vorm deel van ’n trilogie waarvan Die Bergengel die eerste boek is. Vir diegene wat ’n eksemplaar van Die Wonderwese in hul Kerskous gehad het, maar nog nie die eerste boek gelees het nie: Het ’n mens nodig om die boeke in volgorde te lees of funksioneer Die Wonderwese ook selfstandig?

Die Wonderwese staan op eie voet, maar die leesplesier sal beslis groter wees as jy verstaan waar die hoofkarakter Eron Verberger vanaand kom. Hy ondergaan so ’n geweldige karakterontwikkeling, dis byna ’n karakteromwenteling tussen boek een en boek twee.

Hoe gaan ’n mens met die skryf van ’n trilogie te werk en hoe besluit mens om ’n verhaal uiteindelik in dele te vertel? Weet jy al vooraf hoe die verhaal gaan verloop of ontvou dit soos wat jy daaraan skryf? Voor watter uitdagings en beperkings kom mens te staan? Of sou jy sê dat ’n mens met die skryf van ’n trilogie eintlik meer vryheid tydens die skryfproses het?

Toe ek so halfpad met Die Bergengel was, het ek besef die verhaal is te wydreikend om in een boek te vertel en dat ek dit oor drie boeke sal moet uitsprei. Ek het toe die verhaallyn tot in die fynste besonderhede uitgewerk en aan my redakteur gestuur, waarna ek die addendum tot my kontrak met die uitgewer onderteken het waarin ek beloof om drie boeke te lewer. Jy vra oor die uitdagings? Om stamina te behou, want die boeke in die reeks volg vinnig op mekaar, hoogstens 2,5 jaar, dus is daar nie rustyd nie. Die groter uitdaging is om finansieel te oorleef terwyl ek heeltyds boekskryf. In die verlede het ek vir minstens ’n jaar lank joernalistieke werk gedoen of kuns gemaak om sodoende vir myself tyd vir boekskryf te kon loskoop, maar met die trilogie is daar eenvoudig nie tyd vir ander werk nie. Oor jou vraag oor of mens meer vryheid tydens die skryfproses van ’n trilogie het? Nee. Ek het my tyd geneem om die verhaallyn sedert 2002 te deurdink en sedert 2016 met my boekeredakteur te bespreek. As ek eers weet in watter rigting ek ’n storie wil laat vloei, vat dit omtrent ’n aardbewing om my anders te oortuig – maar ek ís oop vir oortuiging. Karakters kan lekker eiewillig wees.

Jou vertelstyl is baie beeldend en beskrywend. Jy is inderdaad ook ’n visuele kunstenaar – ’n eienskap wat moontlik tot jou treffende visuele waarnemings bydra. Die kunswerk op die voorblad van Die Wondewese is ook een van jou eie. Kan jy ’n bietjie meer oor jou kunsagtergrond vertel? Wat het eerste gekom: om te skryf of te skilder? En van watter medium maak jy die graagste gebruik in jou kunswerke?

Ek het van kindsbeen af geweet dat ek albei wil doen – kuns en skryf. Ek het eers my honneursgraad in visuele kuns by Tuks voltooi voordat ek die meestersgraad in kreatiewe skryfwerk by Ikeys aangedurf het. Al was my nagraads in beeldhou, het ek die afgelope jare aan tekenkuns gewy. Dis minder tydrowend as beeldhou (siende dat ek ’n ma van twee seuns is) en konseptueel pas ink op papier goed by skryf. Ek is ontsaglik dankbaar vir uitgewers wat my die vryheid gun om self my voorblaaie te teken. Die voorblaaie van albei my digbundels en die trilogie is my eie kuns.

Wie is van jou gunsteling- visuele kunstenaars? En wat is van die interessantste kuns wat jy al in lewende lywe gesien het? 

Toe ek 19 jaar oud was, het ek in die skrootwerwe van Pretoria gaan rondkrap vir afvalmetaal waaruit ek bronsbeelde kon giet. Met die geld wat ek uit die bronsbeelde verdien het, het ek vir drie weke deur Duitsland gereis – my eerste oorsese reis. In München het ek vir die eerste keer die werk van die surrealis Rene Magritte in lewende lywe aanskou, en veral sy beeldhouwerk was vir my pragtig.

Die kunstenaars wie se werk my die meeste ontroer, werk almal met die verhalende. Hulle werk is grepe uit langvergete verhale, of soms skep hulle ’n eie mitologie of simboletaal, ’n droomsfeer. My gunsteling- Suid-Afrikaanse kunstenaar het toevallig saam met my by Tuks studeer – die skilder Angela Banks. Ek is aangetrokke tot die magiese realisme van skilders soos Andrea Kowch wat die skoonheid en waansin van plattelandse Amerika uitbeeld, of Brad Kunkle, wie se werk ’n spirituele ondertoon het. Ook die Vlaamse skilder Eddy Stevens. Al vier hierdie kunstenaars se werk het tematies sterk ooreenkomste met my skryfwerk: die spel tussen natuur en bonatuur, onheil en onskuld, wakker en slaap, mens en dier, werklikheid en bowerklikheid.

In Carina se gunstelingkunswerke word die "spel tussen natuur en bonatuur, onheil en onskuld, wakker en slaap, mens en dier, werklikheid en bowerklikheid" vooropgestel (Grafika: verskaf)

Wat baie lesers miskien nie weet nie, is dat jy vir Die Bergengel en Die Wonderwese gelyknamige kunsuitstallings gehou het. Kan jy ons van jou onlangse uitstalling by die Knyna Fine Arts Gallery vertel?

Deur die jare het ek elk van my digbundels en romans met ’n kunsuitstalling bekendgestel – ’n visueelmaking van karakters en tonele uit die boeke. Vir my digdebuut, die vloedbos sal weer vlieg, het ek ’n private uitstalling gehou. Die tweede digbundel, woud van nege en negentig vlerke, se meegaande kuns is uitgestal by die Breytenbachsentrum. My eerstelingroman, Wildvreemd, is bekendgestel by Signature Gallery in Pretoria en by Lanzerac in Stellenbosch. Die Bergengel by Tina Skukan-galery in Pretoria en die Breytenbachsentrum. Ek voel baie bevoorreg om my Wonderwese-kunsuitstalling by Knysna Fine Arts Gallery te kon hou. Dis ’n praggalery wat behoort aan ’n doyen in die kunsbedryf, Trent Read. Die bekwame kurator Corlie de Kock is aan die stuur. Ek het 27 splinternuwe inksketse op Fabriano-papier uitgestal en die titels was aanhalings uit die boek. Vroeg in 2020 gaan ek, soos met my vorige uitstalling, ’n baie beperkte uitgawe van twaalf afdrukke per inkskets maak en via Facebook verkwansel. Sodoende kan ek hopelik my gebotterde broodjie koop terwyl ek aan die laaste boek in die trilogie, Die Waterplek, skryf.

Voorbeelde van Carina se kunswerke (Grafika: verskaf)

The post Skrywersonderhoud: Carina Stander oor <em>Die Wonderwese</em> appeared first on LitNet.

Viewing all 793 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>